Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 15
DEEL 4

VERBINTENIS MET
DIE UNIVERSITEIT VAN
PRETORIA


  1. 1997 - EREDOKTORSGRAAD (D.Ed-Honoris Causa)


    1997
    Die dekaan, Prof M J Bondesio, prof W A Landman en
    die Rektor, Prof Johan van Zyl


  2. 1997 : MOTIVERING VIR ERE-DOKTORSGRAAD
    UNIVERSITEIT VAN PRETORIA : 1 DESEMBER 1997
    Reeds vir byna drie dekades is prof Landman ongetwyfeld een van die toonaangewende wetenskaplikes op die terrein van die Opvoedkunde in Suid-Afrika. 28 doktorandi het onder sy leiding gepromoveer van wie elf mettertyd self professore geword het.

    Met die toekenning van die graad D.Ed (Honoris causa) aan W A Landman, vereer die Universiteit van Pretoria 'n buitengewone presteerder op die gebied van navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens.

  3. 1997 : GRADEPLEGTIGHEID: 1 DESEMBER 1997 : DANKWOORD

    Dankwoord deur Prof W A Landman tydens die Gradeplegtigheid : UP, gehou op 1 Desember 1997

    Geagte Mnr die Rektor, dames en here,

    Dit is vir my 'n voorreg om namens die pasgedoktoreerdes, enkele woorde van dank tot die Universiteit van Pretoria te rig:

    • Dankie vir die universiteitseël op die graadsertifikaat wat aan die nasionale en internasionale gemeenskap van geleerdes die waarborg gee dat daar in die lig van die eise van die wetenskap en akademiese voortreflikheid gehandel is;
    • Dankie aan die Universiteitsenaat wat as doeltreffende beskermer van standaarde steeds sal toesien dat geen kompromieë oor standaarde aangegaan sal word nie.
    • Dankie aan die Universiteitsraad wat ten spyte van soms moeilike omstandighede met sukses sorg vir 'n funksionerende infrastruktuur waar navorsing kan gedy.
    • Dankie aan die Dekaan en die Fakulteitsraad Opvoedkunde wat 'n navorsings- en tublikasiebeleid het wat vereis dat relevante navorsing onderneem moet word wat voldoen aan hedendaagse navorsingsmetodologiese kriteria.
    • Dankie aan promotors vir skerp en wetenskaplik-verantwoorde studieleiding. U is die gewaardeerde ankers in die akademiese operasionele gebied. Dankie dat u nooit moedeloos geword het nie.

    Wat my persoonlik betref, mnr die Rektor, my opregte dank aan die Fakulteit, Senaat en Raad wat die toekenning van die eregraad moontlik gemaak het. Komende van my Alma Mater is dit die hoogtepunt in my akademiese lewe. Die feit dat u persoonlik die toekenning aan my bekend gemaak het, is vir my 'n besondere glanspunt.

    Mnr Die Rektor, laastens maar terselfdertyd ook eerstens ons pasgedoktureerdes se dank aan ons Hemelse Vader wat aan ons besondere gawes en geleenthede geskenk het. Mag ons altyd sy Naam waardig wees!

    Ek dank u
    W A LANDMAN

  4. WILLEM LANDMAN (JNR) SE MSc-GRADEPLEGTIGHEID



    Ek hang MSc Band om Willem (Jnr) (met lof)


  5. CHRISTINA LANDMAN SE BA (HONS)-GRADEPLEGTIGHEID



    Ek hang die BA (Hons) band om Christina


  6. NA-GRAADSE STUDENTE : ENKELE ERVARINGS

    1. Een B.Ed-student aan 'n ander: Prof Landman koop nie meer boeke nie, as hy een nodig het, skryf hy gou een.

    2. Vraag aan student insake navorsingsmetodologie en statistiese metode. "Hoe lyk dit meneer, begryp jy al waaroor alles gaan." Student: "Prof, ek begin nou al u grappies verstaan." WAL: "Mooi so meneer, jy is op die regte pad. Hou net moed."

    3. Voorstel aan B.Ed-student wat klaarblyklik nie goed genoeg voorberei het nie: "Meneer, dink u nie u moet voordat ek vir jou kwaad word of jy vir my kwaad word, liewer loop nie?" "Professor, ek dink dis 'n goeie voorstel."

    4. Definisie van fenomenologie:
      "Fenomenologie is wanneer jy jou skerp indink en inleef in die opvoedingswerklikheid en dan die essensies sien wat Landman gesien het." (M.Ed-student).

    5. Bel magister- en doktorale studente ongeveer half-twaalf snags om vas te stel of hulle werk en ook of daar probleme is wat ek kan oplos. Ek staak daarmee nadat een van die studente my meegedeel het dat hulle vroeg gaan slaap en dan die wekker stel om net voor 11:30 te lui.

    6. 'n Onseker student: een van die M.Ed-kandidate was briljant maar met min selfvertroue. Een aand bel ek hom en sê: "D, lees vir my daardie paragraaf wat jy nou net doodgekrap het!" Dit was toe netso maar ek kon hom die versekering gee dat daardie paragraaf goed is. Tot vandag toe glo hy nog dat ek heldersiende is.

    7. Aan onderwysstudente: "Wees beskeie veral in die lig daarvan dat die muggie voor jou geskape is en dat van die leerders wat aan jou voete mag sit, minstens die helfte intelligenter as jy is." (WAL).

    8. Prof C K Oberholzer was die interne eksaminator (B.Ed. Filosofie van die Opvoeding. 'n Kandidaat wat duidelik onder standaard is, verskyn. Hy merk op teenoor die eksterne eksaminator: "Kollega, hy sal seker nie Langeveld van sy troon af stoot nie!"

    9. 'n Student dra die volgende oor: 'n Kollega vertel hom dat 'n sekere dosent van 'n ander Universiteit 'n B.Ed-klas die volgende opmerking gemaak het. (Na die verskyning van Leesboek vir die Christenopvoeder): "Julle moet versigtig wees as julle Landman lees. Hy het een oog op die Bybel en die ander oog op die duiwel. (Hy redeneer Fenomenoloë = eksistensialiste = ateiste.) WAL antwoord: "Dit is nog beter as daardie dosent wat albei sy oë op die dieretuin het (verwysende na sy naturalisme)."

    10. Ek sê min of meer een week vooraf presies aan 'n B.Ed-dame wat ek vir haar in die tentamen gaan vra. Sy leer toe die betrokke paragrawe uit haar kop uit en sê dit toe ook woordeliks op toe ek haar daarna vra. Groot was haar ontnugtering egter toe ek aan haar sê: "Kom ons begin nou rustig van vooraf en sê vir my in jou eie woorde wat jy begryp het."

    11. 'n Damesstudent vir die doktorale eksamen kom in met 'n opvallende mooi sakdoekie wat sy vanaf die eerste vraag begin frommel. Die einde van die eksamen asook die einde van die sakdoekie het saam geval.

    12. 'n B.Ed-student het al sy vakke geslaag behalwe statistiese metodes wat vir hom 'n halwe vak is. Minstens drie pogings om te slaag het misluk. Ek stel toe aan hom dat ek hom weer 'n kans sal gee. Dit was op 'n Maandagoggend en uit sy oë kon ek aflei dat hy die hele naweek intensief studeer het. Ek gee toe aan hom 'n pak foliopapier en sê daar is net een opdrag: Skryf alles neer wat jy van statistiese metodes weet. Ek gee jou drie ure tyd. Na drie uur het hy 'n hele aantal bladsye vol geskryf. Ek neem die bladsye en sê: "As jy my nou hier plegtig belowe dat jy jou nooit sal bemoei met enigiets wat met statistiese metodes te doen het nie, gaan jy slaag." Hy belowe toe plegtig en met erns. Ek neem toe die papier waarop hy geskryf het en gooi dit in die snippermandjie en verklaar: "Jy het geslaag!" Ek het van hom 'n mooi dankbrief gekry waarin hy ook sy plegtige belofte herhaal het!

    13. 'n D.Ed-kandidaat verklaar met die inhandiging van die eerste hoofstuk van sy proefskrif, vir nasien. "Professor u het my met die M.Ed-verhandeling so goed gevorm dat ek reken u gaan met hierdie hoofstuk min veranderinge voorstel. Dit blyk, met die nasienwerk van die eerste hoofstuk dat sy M.Ed-leer suksesvol was, maar dat sy breedsprakerigheid waarvoor hy bekend was, tog die oorhand gekry het en die hele hoofstuk oorheers het. Toe ek die hoofstuk aan hom teruggee merk ek op: "Wil jy dit nie oorweeg om hierdie hoofstuk vir Rooi Rose te stuur nie?"

    14. Vraag: "Wat het Sigmund Freud vir jong mense beteken?" Student se antwoord: "Hy het seks verbeter." Die korrekte antwoord: Hy het die idee van geslagsvoorligting bevorder. Ek het nie punte afgetrek vir die verkeerde antwoord nie.

    15. 'n M.Ed-kandidaat het swak gevorder met sy verhandeling alhoewel hy met studieverlof was en my dikwels kom spreek het. My oudste seun was weg met militêre diens dus was sy kamer beskikbaar. Ek laat die student daar intrek en elke dag is die opdrag dieselfde. Ek werk in my studeerkamer en elke uur op die kop moet hy kom wys wat hy uitgerig het. Hy het sy verhandeling betyds voltooi en verklaar: " Ek het nooit in my hele lewe so hard gewerk nie!"

    16. Teneinde sy studiebeurs te hou moes 'n M.Ed-student sy verhandeling net na Nuwejaarsdag inhandig. Net vir Kersdag vra hy of ek nie 'n verklaring sal onderteken dat hy 'byna klaar' is en net enkele dae uitstel nodig het. Ek wou toe nie aan sy versoek voldoen nie, aangesien ons tog met die nodige ywer betyds sal klaar kry. Tot by ou Kersaand was daar goeie vordering en ek gee hom 'n aantal opdragte en versoek hom om weer die oggend van die 27ste sy verskyning te maak. Daar was goeie vordering maar ons was oujaarsaand nog nie klaar nie, gevolglik was ons nog tot diep in oujaarsaand besig en ook 'n gedeelte van Nuwejaarsdag. Die verhandeling was voltooi en sy studiebeurs gered. Die kandidaat het later 'n Burgemeester geword en kon ek aan hom stel dat hy seker die enigste Burgemeester in die land was wat oujaarsdag-nag gewerk het.

    17. Enkele dekades gelede was dit vanselfsprekend dat 'n ordentlike man se hemp wit sal wees. Gekleurde hemde was reeds in gebruik toe 'n damestudent, sonder kommentaar, vir my 'n gekleurde hemp ('n pienk-pers) vir my verjaarsdag persent gee. Daarna was dit vir my maklik om self 'n paar gekleurde hemde aan te skaf sonder om skuldig te voel. (Die dame is vandag dr Sarah van Wyk.)

    18. M.Ed-studente en D.Ed-studente het nie as 'n groep formele onderrig (lesings) ontvang nie. Ek het van hulle wat belangstel op Woensdagaande saamgetrek by Krugerlaan 88, Lyttelton. Die onderneming was 'n groot sukses. Ons het die byeenkomste kollokwiums (Colloquia) genoem wat later aan die Universiteit voortgesit is toe die Dekaan (prof B F Nel) ons daarop attent gemaak het dat sulke onderrig binne die Universiteit moes plaasvind!.

    19. Die Fundamentele Studiegroep was 'n groep studente wat reeds gedoktoreer het of op die punt gestaan het om dit te doen. Enkele skerp M.Ed-studente is ook uitgenooi om aan te sluit. Besprekings van die hoogste moontlike kwaliteit was nou moontlik. Heideggerse temas is toe geselekteer, voorgedra en bespreek, veral met die oog daarop om implikasie vir Opvoedkunde te ondersoek. In sy wese was die studiegroep eintlik 'n Heidegger-studiegroep. Nadat ses voordragte afgehandel is, is 'n Einführung deur Prof C J G Kilian geskryf en is elke opstel deur hom van 'n Duitse opsomming voorsien. Dit is gepubliseer met die titel 'Opstelle in die Fundamentele Pedagogiek', Deel 1, Pedagogiekstudies nr 76 1974. Twee eksemplare is aan prof Martin Heidegger (Freiburg) gestuur. Hy het 'n treffende bedankingsbrief geskryf.

    20. Ek is deur UNISA versoek om op te tree as arbiter. 'n M.Ed-kandidaat moes slegs sy verhandeling nog tegnies versorg toe sy studieleier skielik oorlede is. 'n Nuwe studieleier is aangewys wat gladnie die gedane werk aanvaar het en wat van die kandidaat verwag het om weer van voor af te begin. Vanselfsprekend was die kandidaat nie hiermee tevrede nie en hy het hom op die Universiteitsowerhede beroep. Ek het die verhandeling bestudeer en besluit dat alles in orde is en dat die kandidaat dit vir eksamineringsdoeleindes mag inhandig. Die kandidaat was so ingenome met my beslissing dat hy my later geraadpleeg het in verband met sy proefskrif. Ek het hom informeel enkele wenke gegee en hom daarop gewys dat hy hom geheel en al deur sy promotor moet laat lei. Daarna het hy my periodiek gebel en my opinie oor sekere kwessies gevra. Dit het ek geredelik gedoen alhoewel sommige aan die telefoniese gesprekke (vanaf Durban) soms vir meer as 'n uur geduur het. Die promotor (wat 'n oudstudent van my was, het snuf in die neus gekry toe sy my styl erken het. By navraag van my kant af het dit geblyk dat die kandidaat my gesprekke op band opgeneem het, dit oorgetik het en dan dit as sy bydrae ingehandig het. Hy het ook ander regulasies oortree en die Universiteit het sy studie gekanselleer.

  7. ENKELE ERVARINGS AS LID VAN 'N AANSTELLINGSKEURKOMITEE

    Dit is gebruiklik by Universiteite om met die aanstelling van veral professore, professore van ander universiteite op keurkomitees te betrek!

    1. Ek vra aan die kandidaat wat die titel van sy proefskrif is. Hy kon nie die vraag beantwoord nie, maar bel my ongeveer middernag dieselfde dag, met die woorde: "Professor ek kan nou u vraag beantwoord". Ek het hom die versekering gegee dat dit nou te laat is vir die Keurkomitee om 'n oorweging te neem.

    2. Ek het geweet dat die kandidaat goed onderlê is en het 'n aantal moeilike vrae voor berei. Eintlik het hy my koudgesit deur elke antwoord te begin met dié woorde: "Landman says in ......" met die korrekte interpretasie daarby!

    3. Die kandidaat was 'n briljante UP-gedoktoreerde en prof F vd Stoep en ek het hom gepeper met besonder ingewikkelde vrae. Die Rektor, wat teenwoordig was, was besonder beïndruk met sy antwoorde, so ook die Professor van een van die Kaapse Universiteite. Met sy vraagbeurt vra hy toe: "Ek verneem dat julle te Pretoria tans besig is met 'n uitleg van die verhouding ontologies-antropologies-pedagogies. Wat beteken dit?" Skielik sê hy egter, "Sal Prof Landman nie asseblief die vraag beantwoord nie?" Ek: "Mnr die Rektor, ek is nie die kandidaat nie, maar met plesier! En wat 'n plesier was dit toe nie!"

  8. DEMONSTRASIE VAN DIE FUNKSIONERING VAN KOLLOKWUIMS

    Een van die primêre take van 'n Filosofie van die Opvoeding Wysgerige Pedagogiek of Fundamentele Pedagogiek is om uit te lê wat met 'opvoeding' bedoel word. Dit is korrek maar vir die wetenskaplike heeltemal ontoereikend om te stel dat opvoeding hulpverlening en steungewing is op sy weg na behoorlike volwassenheid. Die opvoedkundige (Pedagogieker) wil weet hoe die struktuur van die pedagogiese situasie daaruitsien.

    In 1969 het die pedagogiese situasie (situasie waarin 'n pedagoog en 'n pedaea met mekaar verkeer, het soos volg bekend gewees:

    Pedagogiese verhoudinge
    (Opvoedingsverhoudinge)
    Vertrouensverhouding
    Kenverhouding
    Gesagsverhouding

    Pedagogiese verloop
    (verloop van die opvoedingsgebeure)
    Omgang

      
    Ontmoeting
      
    Pedagogiese ingryping
      
    Terugkeer na omgang

    Opvoedingsdoel


    Volwassenheid

    Met die bestudering van publikasies van onder andere M J Langeveld, N Perquin, B F Nel, en C K Oberholzer, kan die afleiding kon gemaak word dat bostaande goeie weergawes is van die stand van kennis aangaande die boustene (later essensies en strukture genoem) van die pedagogiese situasie.

    Metodes gevolg

    Daar is sterk sokraties/fenomenologies te werk gegaan. Skerp vrae is telkens gevra en die antwoorde is fenomonologies getoets. Om tyd te bespaar is slegs drie fenomonologiese denkstappe (verifikasiestappe) aangewend! Wegdink, weghandel en die stel van kontradiksies. 'n Essensie of struktuur wat weggedink kan word en opvoeding bestaan nog het nie essensiestatus nie. Insgelyks is 'n essensie ook onweghandelbaar. In die kollokiums was heelwat ervare onderwysers en hulle kon situasies in herinnering roep ten einde te bepaal of 'n bousteen (essensie) gerus maar weggedink kan word en dit sou geen verskil maak aan opvoeding nie. Insgelyks kon die kollokiumgangers kyk na situasies waarin een of ander essensie(s) ontbreek het, bv 'n situasie waarin kinders wat verwys is na die Kinderleidingskliniek van die Universiteit of wat deur die skoolhoof na die opvoedkundige sielkunde van die Onderwysdepartement verwys is. (Hierdeur wegdink en uitgehandel is deur Edmund Husserl) vrye variasie genoem - situasie word gevarieer tot 'n bepaalde essensie verdwyn en dan word bepaal of in daardie situasie nog van opvoeding sprake is. Ten einde die ondersoek nog verder te verskerp, is 'n derde denkstap bygevoeg: Die teenoorgestelde van 'n bousteen word gestel om te kyk of dit nie dalk geldig is nie.

    Byvoorbeeld : Vertroue tussen onderwyser en leerder word denkend (in die geheue) gevarieer totdat dit verdwyn. Is opvoeding nog moontlik? Werklike situasies (beskrywings deur die Kinderleidingkliniek verskaf) word op soortgelyke wyse bestudeer. Dan die kersie op die koek. Die stelling word gemaak dat opvoeding deur die opvoeder nog moontlik is as die kind (leerder) vertroue in hom het. Wat leer die ervaring?

    Met die kenverhouding word dieselfge gehandel, maar met die evaluering van die verhouding se opvoedingstatus blyk verder

    1. Die ken impliseer nie net kognitiewe (verstandelike kennis nie, maar ook kennis wat deur inleef en beleef bekom is. 'n Diepere benadering is dus nodig: begrypingsverhouding. Intussen word daar nog die verdere ontdekking gemaak. Dit gaan nie net om twee persone wat mekaar moet begryp nie, maar ook om die behoorlikheidseise (norme) in albei moet begryp.

    2. Dit is veral met die gesagsverhouding wat die kontradiktoriese metode sy waarde wys. Wat gebeur met gesagsontkenning, gesagsverwerping, gesagsloosheid. Langeveld reken dat daar nie van gesag sprake kan wees voordat die opvoedeling nie oor taal beskik nie (gesag = laatgesê) Die kollokkiumgangers was egter van opinie dat die roetine wat die babaversorging vereis, reeds die begin van die vestiging van gesag is. Die eerste glimlag van die kind is veral 'n beginnende openbaring van die vertrouensverhouding.

    3. Verdere versterking van die essensiestatus van verhoudinge is gevind in die uitspraak van 'n Wysgerige Antropoloog/Psigoloog/Fisioloog: die mens is nie iets met eienskappe nie, maar is 'n inisiatief van verhoudinge. (F J J Buitendijk.)

    4. Hierdie uitspraak verskyn in 'n aanhaling 'n titelblad in Van den Ber, J H en Lischoten, J (Red): Persoon en wêreld en is geneem uit 'n artikel : "Psychologie van de huisarts" wat gepubliseer is in Rooms-Katolieke Artsenblad, Des 1951. Hierdie artikel kon nie in Suid-Afrika opgespoor word nie. Ek plaas toe 'n bestelling by 'n Antikwariese-uitgewer in Nederland en hoop vir die beste. Tot my blydskap ontvang ek kort daarna twee kopieë waarvan ek een aan Prof C K Oberholzer skenk. Terselfdertyd ontvang ek 'n grammmefoonplaat met Martin Heidegger se stem daarop.

    5. In 1974 word raakgesien dat hierdie verhoudinge (wat intussen verhouding-strukture genoem is) 'n werklikheid voorwaardes is - om die saak nog verder te versterk in hulle moontlikheidsvoorwaardes genoem.

    6. Verdere vraag oor die opvoedingsverloop: Pedagogiese ingryping impliseer dat wanneer die opvoeder opmerk dat daar iets haper byvoorbeeld dat die kind nie 'n ooreenstemming met gestelde norme optree nie, hy die optrede moet laat ophou - hy gryp in. Na bespreking stem die kollokium saam dat daar baie positiewe dinge in die pedagogiese situasie kan gebeur, byvoorbeeld die kind tree opmerkbaar op in terme van aanvaarde norme. Dit noop die opvoeder om instemming te betuig met hierdie toedrag van sake - die essensie pedagogiese instemming maak sy verskyning. Pedagogiese instemming kan ook beskryf word as 'goedkeuring van die goedkeuringswaardige. Die essensiestatus daarvan kan geëvalueer word deur te kyk na kontra-diksies daarvan bv. Goedkeuring van die afkeuringswaardige bv die ouers keur hulle kinders se dwelmmisbruik goed. Afkeuring van die goedkeuringswaardige geld byvoorbeeld waar die kind graag aan sekere behoorlikheidseise wel voldoen deur aan te dring op eerlikheid (bv met huiswerk) en die ouers keur dit af. Dit is maklik om waar te neem dat goedkeuring van die afkeuringswaardige en afkeuring van die goedkeuringswaardige belemmerend kan inwerk op die kind se behoorlike selfstandigwording.

    7. Nog 'n vraag: Hierdie uiteensetttings van die opvoedingsverloop laat dit lyk of opvoeder en kind voortdurend in mekaar se teenwoordigheid (moet) verkeer. Is dit egter so in die alledaagse lewe? Die ervaring is dat die kind dikwels sy opvoeder se teenwoordigheid verlaat om dan later weer terug te keer - die essensie periodieke verlating het sy opwagting gemaak en terselfdertyd word twee essensies daarvan opgemerk - die afskeidingsgroet en die verwelkomingsgroet.

    8. 'n Fenomenologiese bekyking van die skematiese voorstelling pedagogiese verhoudinge verloop van die pedagogiese - en dan skielik opvoedingsdoel, laat 'n mens dadelik vermoed dat daar 'n gaping moet wees. Die volgende vraag word gestel: Verkeer die opvoeders en opvoedelinge slegs in mekaar se teenwoordigheid en kan hierdie teenwoordigheid verdiep (ontmoeting) en kan dit gepaard gaan met ingryping en/of instemming of is dit so dat hulle saam werksaam raak. Hulle is vanselfsprekend werksaam met lesse (vakinhoude en vaardighede) maar dit lyk asof hierdie werksaamwees gedra word deur wat bedrywighede genoem kan word. Dit is moontlik om die vermoedens dat daar iets spesiaal aan die gang is in die pedagogiese situasie om ons die pedagogiese bedrywighede te identifiseer dit wil sê aan (in) die lig te laat kom.

    9. Ek gee vervolgens (later kollokwium) 'n voordrag oor die betekenis van 4 besondere aspekte van menswees wat deur die Wysgerige Antropologie ontdek (oopgedek) is:

      • In-betekeniswêreld-wees
      • Mede-syn
      • Temporaliteit
      • Self-iemand-wees.

      Daar word verder verduidelik dat essensie-openbaring van hierdie spesifieke wyses van menswees, lei tot die volgende beeld:

      • In betekeniswêreld-wees
      • Betekening (heg van betekenisse)
      • Inspanning
      • Gevormeerdheid

      Mede-syn

      • Waag
      • Dankbaarheid
      • Aanspreeklikheid

      Temporaliteit (Tydelikheid)

      • Hoop
      • Ontwerp
      • Vervulling

      Self-iemand-wees

      • Agting
      • Selfbegryping
      • Vryheid

    10. Daaropvolgende kollokiums konsentreer op die pedagogiese bewoording en die eind-uitkoms van die aanwending van fenomonologiese denkstappe veral met die oog op evaluering van kollokiumgangers se ervaring, lyk so:

      • Betekening met toenemende verantwoordelikheid
      • Geleidelike wegbreek van inspanningloosheid
      • Genormeerde voor- en nalewing
      • Opvoedende waag met mekaar
      • Dankbaarheid vir opvoedende geborgenheid
      • Toenemende aanspreeklikheid vir verhoudinge
      • Hoop op toekomstige volwassenheid
      • Ontwerp van moontlikhede tot volwassenheid
      • Geleidelike vervulling van bestemming
      • Toenemende agting vir menswaardigheid.
      • Volwassenheid deur toenemende selfbegryping
      • Verowering van vryheid tot verantwoordelikheid

    11. Vraag: Waartoe lei dit nou alles?

      Antwoord: Tot die bereiking van volwassenheid (as opvoedingsdoel).

      Een van die kollokiumgangers merk op dat hy in 'n landboupraatjie gehoor het 'n boer praat van sy volwasse bul. Van toe af is volwassenheid altyd gebruik met die byvoeglike naamwoord "behoorlike" - die bul doen sy werk sonder inagneming van behoorlikheidseise!

      Vervolgens ontstaan daar by kollokiumgangers 'n sterk hunkering daarna om 'volwassenheid' nader te ontleed. Op hierdie stadium was daar 'n hoogbloei van die psigiater/antropoloog Viktor E Frankl se uitsprake - die derde Weense Skool (Nel, Oberholzer, Schoeman, Sonnekus). Die proefskrif: 'n Antropologies-pedagogiese beskouing van Beroepsoriëntering met spesiale verwysing na die personologies (W A Landman Opvoedkundige Monografieë Nommer V), is sterk Frankiliaans en Oberholzeriaanse geïnspireer en dit was 'n voorreg om kollokiumgangers te oortuig dat die Franklse tipering van die 'geestesgesonde' volwasse persoon en Oberholzerse menswees as persoon wees geldig kan wees as essensies van behoorlike volwassenheid:

      • Sinvolheid van bestaan
      • Selfbeoordeling en selfbegrip
      • Menswaardigheid
      • Sedelik-selfstandige besluitvorming en handeling
      • Verantwoordelikheid
      • Normidentifikasie
      • Lewensopvatting

      (Vir verdere besonderhede kyk: Landman, W A Leesboek vir die Christen-opvoeder. N G Kerkboekhandel Transvaal 1974.)

Na Voorblad