Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 9
DEEL 1

VERBINTENIS MET HOËRSKOOL
LYTTELTON/VERWOERDBURG/CENTURION

Inhoudsopgawe

  1. INLEIDING
  2. HOËRSKOOL VERWOERDBURG

    Die verhaal van Hoërskool Verwoerdburg

  3. ENKELE VOORSITTERSREDES

    3.1  Altyd jeugjaar (1978)
    3.2  'n Skool (1981)
    3.3  Die Bestuursraad 1987
    3.4  Die Hoërskool Verwoerdburg : Een eeu oud

  4. UIT BESONDERE JAARBOEKE

    4.1  Eerste Jaarboek 1959 : Die geskiedenis van ons skool
    4.2  Jaarblad 1979 : Ons mondige skool
    4.3  25 Jaar!
    4.4  Jaarblad 1988 : Dertig vrugbare jare
    4.5  Opmerking

  5. GEWAARDEERDE BEDANKINGSBRIEWE

    5.1  Elize Ehlers
    5.2  Mev M J Oberholzer

  6. DIE WAARNEMENDE ADMINISTRATEUR, MNR D S V D M BRINK
  7. ONS NEEM AFSKEID VAN MNR VAN DYK
  8. DIE W A LANDMAN - RAADSAAL
  9. JAARBLAD : OPGEDRA AAN PROF W A LANDMAN


VERBINTENIS MET HOËRSKOOL
LYTTELTON/VERWOERDBURG/CENTURION

1963 - 1988

  1. INLEIDEND

    Al vier Landman-kinders het aan die Hoërskool Lyttelton/Verwoerdburg/Centurion gematrikuleer:

    • Jacobus Cornelius (1966): is tans Departementshoof Academic Support Unit aan Mangusutho Technikon Natal, en tree op as spesialis Dacum-metodiek (Kanada)

    • Petrus Hendrik (1969): was met sy oorlye, Julie 1988, tegnoloog te M-Net.

    • Christina (1973): met vyf onderskeidings in Matriek, is tans vol professor aan die Instituut vir Teologiese Navorsing, Universiteit van Suid-Afrika. Sy beskik oor die kwalifikasies B.A., B.D, B.A(Hons) Latyn, M.A (Grieks) DTh, met 'n groot aantal publikasies.

    • Willem Adolf Landman (Jnr) (1978): BSc (UP), MSc (UP), Phd (U.Wits), Post doc-dipl California. Hy is tans senior spesialis wetenskaplike, Suid-Afrikaanse Weerdiens, met 5 artikels in internasionale weerkundige tydskrifte.

    Ek (Willem Adolf Senior) was vir 25 jaar lid van die Hoërskool se Beheerraad, waarvan 14 jaar as voorsitter. Die leerlingraadlokaal is in 1986 die W A Landman Raadsaal genoem en die Jaarblad van 1988, is aan my opgedra. Ek is skenker van twee trofeë: Vir beste prestasie in Graad twaalf Biologie en vir beste prestasie in die Natuurwetenskap-gedeelte van die Huishoudkunde-kursus (Graad Elf).

  2. HOëRSKOOL VERWOERDBURG

    Die verhaal van Hoërskool Verwoerdburg

    In die area van die Pretoria-Suid Gebiedskomitee was daar in 1950 geen hoërskole nie. Twee parallelmediumlaerskole, Irene en Lyttelton, het die laerskoolkinders geakkommodeer, maar die groter kinders moes ver vervoer word na skole in Pretoria.

    Toe Lyttelton dorpsgebied egter in 1950 sy eie Gesondheidskomitee verkry, het dinge baie vinniger begin gebeur. Die bevolking het met ongeveer 11% per jaar gegroei en daar was 'n behoefte aan 'n hoërskool vir die gebied.

    Die leiding vir 'n hoërskool is geneem deur mense wat verbonde was aan die Laerskool Lyttelton (later Laerskool Louis Leipoldt). Mnr Daan Malan, die skoolhoof, en mnr Van Tonder, het in 1950 die skoolraad gaan spreek oor die moontlikheid van 'n hoërskool vir Lyttelton. Hierin is hulle baie sterk gesteun deur ds D A (Daan) Louw, predikant van die NG Gemeente Lyttelton en skoolkomiteelid van die laerskool.

    Die Onderwysdepartement was van voorneme om binne sewe jaar 'n parallelmedium skool tussen die twee grootste dorpsgebiede, Irene en Lyttelton op te rig. Hiermee was die mense van Lyttelton nie tevrede nie en hulle onderhandel in 1953 met die eienaars van Lyttelton Townships, die firma Glover en Dyer, om 10 morg teen £10 000 beskikbaar te stel. Uiteindelik word daar in Februarie 1957 goedkeuring verleen dat die skool in Januarie 1958 in die ou geboue van Hoërskool Langenhoven op die hoek van Potgieter en Pretoriusstraat sou open.

    Die eerste hoërskool in die suide van Pretoria moes noodwendig sterk in die militêre omgewing gewortel wees. Baie van die kinders het uit militêre huise gekom, die omgewing het 'n lang militêre tradisie en van die land se belangrikste militêre instellings was daar gesetel.

    Lord Roberts het na die besetting van Pretoria in 1900 besluit dat 'n militêre tentdorp op die koppie suid-wes van die Fonteinedal gevestig sou word. Tussen hierdie gebied, wat later Roberts Heights genoem sou word, en die spoorlyn na Pretoria was daar talle Britse militêre kampe. Sedert 1900 sou duisende boere vroue en kinders na 'n konsentrasiekamp geneem word digby waar in 1902 die dorpie Irene gestig is.

    Die bevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika na die Anglo-Boereoorlog was Generaal Neville Lyttelton. 'n Spoorwegstasie na hom vernoem het ook die naam geword van 'n dorpie wat in 1908 rondom die stasie gestig is naamlik Lyttelton Manor. Die gebied tussen Lyttelton-stasie en die militêre "kantonment" op Roberts Heights het die kern van die land se militêre bedrywighede geword.

    'n Nuwe militêre dimensie is toegevoeg toe Swartkop Lugmagbasis in 1920 en Waterkloof Lugmagbasis, tydens die Tweede Wêreldoorlog, die opleidingseenhede vir vegvlieëniers geword het. Industrieë, soos Lyttelton Ingenieurswerke (LIW), wat aan wapenvervaardiging gekoppel is kom ook in die gebied voor.

    'n Skool stewig gevestig in die militêre omgewing sou ook talle simbole, rituele en gebruike daaruit oorgeneem het. Eerstens het die skool die naam gekry van die dorpsgebied waarin dit geleë is. Vernoem dus na Generaal Neville Lyttelton, die destydse bevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika.

    Die skoolwapen is ontwerp deur Lt Van Rhyn, 'n heraldikus van die Leër. Die sentrale motief is die van 'n handgranaat. In die ronding van die granaat is 'n oop boek, met ander woorde latente krag geleë in kennis. Aan die bokant van die handgranaat is 'n vlam. Weerskante van hierdie samestelling is uitgestrekte vleuels. Heel onder is 'n lint waarop die leuse "Steeds Hoër" aangebring is. Bo aan die hartvormmige skild waarin die motief geplaas is, is die naam van die skool.

    Die skoollied eggo die militêre simboliek:

    "Ons kom vanwaar die silwervoël die lug in repe skeur,
    en skel die boodskap uitbassuin, dat ons steeds hoër beur."

    Die lied is geskryf deur mnr J du T Retief, wat in 1959 as onderwyser aangestel is vir die onderrig van Afrikaans. Die musiek is geskryf deur een van die personeellede naamlik mev J T U Dönges.

    Die skool het 'n Christelike karakter en sy mense sou deurgaans die christelike lewens- en wêreldbeskouing huldig. Nie net sou al die hoofde deur die jare hierdie gebondenheid aan God vestig nie, maar ook in die verhouding met ouerhuis en kerk sou dit neerslag vind. Die Christen Studente Vereniging (CSV) bestaan sedert die stigting van die skool en het, in samewerking met predikante uit die omgewing, aan 'n groot behoefte by die leerlinge voldoen. Ds Daan Louw is in 1959 as die eerste voorsitter van die ouerkomitee gekies. Dit onderstreep die verhouding tussen skool, ouerhuis en kerk.

    Tweedens was daar 'n deurlopende ideaal om goeie onderrig te gee vir Afrikanerkinders. Die bewusmaking van 'n nasionale trots geanker in 'n positiewe verlede het die personeel en leerlinge gerig. Uit die skoollied weerklink dit:

    "Die monument, herinnering van trots en dapper voorgeslag,
    besiel ons om ons deel te bring ...."

    Hierdie bewusmaking van die volkseie en die beklemtoning van nasionalisme het soos 'n goue draad deur die skoolgebeure geloop. Die talle republiekdagvierings, die vlaghysingseremonie en die lees van die Stem, huldeblyke aan staatshoofde in die jaarblad en die trots van jong kadette in uniform, is alles bewyse van die belangrikheid wat aan hierdie saak gegee is.

    Die stigting van die nuwe skool het groot opwinding veroorsaak in Lyttelton. Die skool het amptelik op 15 Januarie 1958 geopen in die ou Westeinde skoolgebou, waar ook die Hoërskool Langenhoven eers gehuisves was. Hierdie gebou bestaan steeds op die hoek van Potgieter- en Pretoriusstrate in Pretoria.

    Deel van die pret was dat die meeste leerlinge daagliks met die trein vanaf die stasies Lyttelton, Irene en Kloofsig na die stad moes reis. Boonop was daar net standerd sesse - 'n hele 205 op die eerste dag en uiteindelik het die skool gesluit met 261 leerlinge.

    Die waarnemende hoof was mnr P J Maree, voorheen skoolhoof op Lydenburg. Hy het die span van 12 tydelike personeellede gelei. Hulle het die standaard vakke vir st 6 leerlinge aangebied en behalwe vir 'n houtwerk- en huishoudkundesentrum was die geriewe voldoende.

    'n Skoolkomitee, uit ouers verkies, het onder leiding van Ds Daan Louw die taak gehad om skoolkleure en klere vas te stel. Daar is besluit op 'n grys drag vir beide seuns en dogters. Die skoolbaadjie het 'n wynrooi agtergrond met 'n ligblou en liggrys strepie.

    Die onderhoude vir permanente aanstellings is gehou en verder het die leerlinge die geleentheid gehad om aan verskillende buitemuurse aktiwiteite deel te neem. Gedurende die stigtingsjaar is dus in velerlei opsig 'n fondament gelê onder die ervare en voortreflike leiding van mnr Piet Maree.

    In sy toespraak het dr Du Preez van Wyk baie uitgebrei oor die nuwe tipe skoolgebou wat 'n mylpaal vir die onderwys in Transvaal is. Die gebou voldoen aan die vereistes van die dag maar dit is ook so ontwerp om tred te hou met die toekoms. Hy verwys na die plasing van die werkswinkels, gimnastieksaal en huishoudkundeklasse aan die een kant van die skool, sodat daar stilte kan wees in die kantore, biblioteek en die ander klaskamers. In hierdie skool is daar soveel wat die ouer skole nie het nie: 'n groot saal, pakkamers en wasbakke in gewone klaskamers, verskeie groot veeldoelige klaskamers, 'n woonstel in die huishoudkundesentrum en 'n gimnastieksaal. Alhoewel hierdie skool baie ekstra vertrekke bevat is die totale oppervlakte kleiner omdat onnodige gange, ingangsportale en mure weggelaat is. Hierdie 'voordeel' sou later met die verhoogde getalle eerder 'n 'nagmerrie' word om leerlinge ordelik deur die skool te laat beweeg.

    Die trek na die nuwe gebou het gedurende die Julievakansie plaasgevind. Die 764 leerlinge kon net nie meer in die ou 'Langenhovenskool' inpas nie en toe almal op 2 Augustus opgewonde by die nuwe skool aanmeld, is elke hoekie en plekkie van nader ondersoek. Toe het die groot uitpak en intrek begin. Die saal het veral aandag gekry - stoele, gordyne en 'n Bösendorfer-vleuelklavier - want die groot inwydingsfeeste lê voor.

    Die aand na die amptelike inwyding is 'n kunskonsert van hoogstaande gehalte aangebied. Die inwydingsprogram sou nog vier opeenvolgende naweke duur met 'n volkspele-aand onder leiding van die Van Drimmelens, 'n bioskoopvertoning in die saal, 'n verskeidenheidskonsert deur die leerlinge en ten slotte 'n opvoering van 'Die Vonkel in haar oë', deur die personeel.

    In 1961 bars die skool uit sy nate met 'n amptelike leerlingtal van 1 031. Talle tydelike klaskamers word opgerig, en verder kan 1961 gesien word as die jaar van terreinontwikkeling: drie tennisbane is gebou, drie rugbyvelde se gras is aangeplant, ses korfbalbane is aangelê, krieketnette is gebou, hokkieveld is voorberei, 'n atletiekbaan is in wording en 'n swembad word gebou. Aan die einde van die jaar verlaat 400 leerlinge die skool om die kern van die nuwe Hoërskool Voortrekkerhoogte te word. Die Lytteltonse Hoërskool moes afstig voordat die eerste leerlinge matriek bereik het.

    Die eerste matriekklas skryf aan die einde van 1962 die eindeksamen en al 96 leerlinge slaag. Van hierdie leerlinge het 52 Universiteitstoelating gekry en 16 van hulle Eerste Klas, waaronder die hoofseun en -dogter.

    Robert Lukey en Trudie Kilian is as standerd sewe leerlinge op die eerste leerlingraad verkies en is daarna elke jaar as hoofleiers aangewys tot in matriek. Leerlingleiers het die twee hulle ook 'n besondere plek en rol vervul in die vestiging van die skool. Leerlingleierskap sou deurgaans hoë prioriteit geniet.

    Op 14 Februarie 1975 verander die skool se naam na die Hoërskool Verwoerdburg. Die Munisipaliteit van groter Lyttelton het alreeds in 1967 Verwoerdburg as 'n sambreelnaam vir al die voorstede aanvaar. Die dorpsgebied Lyttelton het steeds bestaan en ook die Hoërskool Lyttelton wat in hierdie gebied geleë is.

    Die skoollied moes gewysig word met die nuwe naam en terselfdertyd word die geleentheid gebruik om die melodie ook te verander om dit meer singbaar vir die seuns te maak.

    Dit was ook tydens die veranderings met die 'Nuwe Suid-Afrika' dat die naam van die stadsgebied van Verwoerdburg verander is na Centurion, en die moontlikheid meegebring het van 'n derde naam vir die skool.

    Die fyn balans tussen die vyf hoofkomponente van leerlingbetrokkenheid naamlik akademie, sport, kultuur, leierskap en sosiaal het hoë prioriteit geniet.

    Dit was in die laaste 10 jaar dat die gelukbringertjie 'Groenie die Drakie' gereeld gebruik is. Hierdie naam is ook die bynaam wat die leerlinge vir Mnr Strydom gegee het vanweë sy voorliefde vir groen pakke klere en dit gekoppel het aan 'n karakter uit 'n televisieprogram.

    Balans tussen die skool se aktiwiteite het nog altyd voorkeur gekry. Daarom sou daar tussen sosiaal, sport en kultuuraktiwiteite altyd aan elkeen genoeg ruimte gebied word. Die jaarlikse hoogtepunt vir die uitvoerende kunste sou afgewissel word tusswen personeelkonserte, operettes, opvoerings van Shakespearestukke en 'n musiekblyspel of 'n revue.

    Vanaf 1959 af al is dit Drama-drama by die Lytteltonse Hoërskool met die opvoering van 'As Nefie kom Kuier'. Daarna volg onder andere 'Die Vissersmeisie', 'Deur die jare 'n lied', Ridders van die Swartwoud', 'Feule Marike' en 'Voorbladnooi'. In 1978 word 'Hamlet' opgevoer met Elzabe Zietsman ind ie rol van Polonius. Elsabe het ook na skool bekendheid verwerf as akteur.

    Meer onlangs was daar besondere opvoerings van 'Oklahoma', 'The King and I' en in 1996 word 'n hoogtepunt bereik met die revue 'Deel die Lewe'.

    Die kern van die skool se missie is onderrig en leer. Om elke leerling 'n akademise skoling te gee was die kern waarom alle bedrywighede elke dag gedraai het. Daarom was die st 10 uitslae jaar na jaar spoguitslae. Leerlinge kon hulle plek volstaan in die wêreld buite die skool. Ook in die akademiese wêreld buite die skool. Ook in die akademiese wêreld het talle oud-leerlinge presteer soos prof Christina Landman, prof George Annandale (hoofseun 1968) by die Randse Afrikaanse Universiteit en prof Hennie Kriek (Hoofseun 1973) by UNISA.

    Die beheerrade het as verteenwoordigers van die ouergemeenskap 'n sterk vennootskap met die skool gehad. Daar was veral drie voorsitters wat met lang diensjare en hulle betrokkenheid 'n groot rol gespeel het en daarvoor onthou sal word.

    Ds Daan Louw was betrokke met die stigting van die skool en hy het met die eerste opening die Skriflesing waargeneem en die groeteboodskap namens die ouers gelewer. Die pos van Voorsitter van die beheerraad het hy tot sy afsterwe in 1967 beklee.

    Prof Willem Landman, is vir die eerste keer op die beheerraad verkies in 1963. Hy is in 1974 verkies tot voorsitter, 'n pos wat hy sou beklee tot 1988. Hierdie dienstydperk beteken dat hy saam met al die eerste ses hoofde van die skool gewerk het. Prof Landman het sy aandeel gesien as die ondersteuning van die skoolhoof in sy professionele taak, maar ook om na die belange van die ouergemeenskap en die leerlinge om te sien.

    Dr Oppel Greeff is in 1989 verkies tot voorsitter. Hy sou saam met mnr Hendrik Strydom die skool deur die onstuimige jare van politieke verandering stuur. As ou inwoner wat as mediese dokter in die omgewing gepraktiseer het, is hy baie bemind en kon hy 'n groot rol speel om stabiliteit en rustigheid te bewerkstellig in hierdie jare.

    Die Hoërskool Verwoerdburg glo in opvoedende onderwys vir die kinders van sy gemeenskap. Daar sal 'n voortdurende strewe na gehalte onderwys wees, om getrou aan die leuse, steeds hoër te mik. Met 'n verlede wat gebou is op opvoedkundige beginsels en geanker in die Christelike geloof sal die skool steeds in diens wees van die gemeenskap.

  3. ENKELE VOORSITTERSREDES

    Ten einde 'n beeld te gee van wat die ouergemeenskap as wesenlik van die Hoërskool Verwoerdburg beskou, word vervolgens enkele voorsittersredes (Beheerraad) weergegee:

    3.1  Altyd Jeugjaar: (1978)

    Vir die Hoërskool Verwoerdburg is elke jaar jeugjaar en elke dag jeugdag. Dit is so omdat vir die hoof en die personeel die belange van die kinders wat aan hulle toevertrou is, altyd sentraal gestel word. Hiervoor is die ouergemeenskap dankbaar.

    In die Hoërskool Verwoerdburg word elke dag sekere beginsels verwerp en teengewerk. Die eerste is die lusbeginsel wat elkeen toelaat om te doen wat hy lus het en wat noodwendig moet lei tot 'n atmosfeer waarin opvoedingswerk nie kan gedy nie. Die revolusiebeginsel wat bestaande waardes en norme wil vernietig, word eweneens daagliks vernietig. Hiervoor eer die ouergemeenskap die hoof en sy personeel.

    Dag vir dag, daarenteen, word sekere beginsels gehandhaaf, versterk en uitgebou. Die prestasiebeginsel, wat van elke kind verwag om ooreenkomstig die talente wat hy/sy ontvang het, te presteer, word hoog aangeslaan. Die beginsel dat opvoedende onderrig Christelik van aard moet wees en 'n breë nasionale karakter moet vertoon (Wet 39 van 1967) loop soos 'n goue draad deur die skool se aktiwiteite. Die ouergemeenskap ondersteun graag die hoof en sy personeel hierin.

    Mag vir die Hoërskool Verwoerdburg steeds elke dag jeugdag wees, waarin daar voortgebou word op dit wat betekenisvol is uit die verlede met die oog ingestel op 'n sinvolle toekoms en die gebede gerig op die genadige Gewer van alles.

    W A LANDMAN
    VOORSITTER : BESTUURSRAAD

    Boodskap : Voorsitter Beheerraad (1980)

    Dit is 'n besondere voorreg om die jaar 1980 in oënskou te neem. Wat dié voorreg besonder maak, is die feit dat daar met dankbaarheid teruggekyk kan word.

    Namens die Beheerraad wil ek dan die volgende bedankings doen:

    1. aan die ouergemeenskap wat nog steeds hulle kinders op Bybelse grondslae opvoed, wat besef dat die gesinsopvoeding primêr is en wat onbaatsugtige ondersteuning aan die skool gegee het;

    2. aan die regterhand van die Beheerraad, die Oueronderwysersvereniging wat groot hoogtes bereik het in diens van die skool;

    3. aan die onderwysers(esse) wat ten spyte van talle probleme nooit ons kinders in die steek gelaat het nie, maar opvoedende onderwys van hoë gehalte aangebied het;

    4. aan die leerlingraad wat hulle op voortreflike wyse onderskei het deur die kwaliteit van die diens wat hulle aan medeleerlinge bewys het; en

    5. aan die leerlinge wat weer eens op velerlei terreine die naam van die Hoërskool Verwoerdburg in ere gehou het.

      W A LANDMAN
      VOORSITTER : BEHEERRAAD

    3.2  'n Skool: (1981)

    Skole is nie deur kinders gestig sodat ouers vir 'n gedeelte van die dag van hulle ontslae kan wees en sodat onderwysers nie werkloos sal wees nie. Ouers het skole gestig toe hulle raakgesien het dat daar meer deskundigheid nodig was om hulle kinders op te voed as dit waaroor hulle beskik het.

    Dit beteken dat ouers 'n besondere verantwoordelikheid het teenoor die skool. Hierdie verantwoordelikhede is onder andere die volgende :

    1. dat daar 'n toereikende aantal kinders beskikbaar sal wees wat deur die deskundige opvoedende onderwys van die skool gevorm kan word tot ruggraat van 'n Volk;

    2. dat daar genoeg geld beskikbaar gestel sal word vir die ontwikkelingsprogramme van die skool sodat die opvoeding van kinders ook langs daardie weg van die hoogs moontlike kwaliteit kan wees;

    3. dat daar 'n bereidheid moet wees om te werk en te veg vir die identiteit van die skool. Wat die Hoërskool Verwoerdburg betref, kom dit daarop neer dat daar duidelik en ondubbelsinnnig aan owerheidsinstansies te kenne gegee sal word:

      1. dat die Christelike en nasionale beginsels waarop die onderwys berus nooit prysgegee sal word nie, en dat hierdie feit duidelik in die Onderwyswetgewing gestel sal word; en

      2. dat daar niks gedoen sal word wat die blanke identiteit van die skool sal ondermyn nie.

    Die Beheerraad van die Hoërskool Verwoerdburg en ook die onderwysers is dankbaar daarvoor dat ons ouergemeenskap nie net sterk voel vir die sake wat hierbo genoem is nie, maar ook bereid sal wees om daarvoor 'n stryd te voer indien dit in die toekoms nodig mag word.

    Hiermee wil ons ook die ouers bedank vir geldelike en morele ondersteuning aan die Hoërskool Verwoerdburg die afgelope jaar.

    W A LANDMAN
    VOORSITTER : BEHEERRAAD

    3.3  Die Bestuursraad: 1987

    Die Bestuursraad van die Hoërskool Verwoerdburg is ingestel op die ordelike samewerking en gesonde onderlinge verhouding tussen die skoolhoof, die professionele personeellede, die bestuursraad as sodanig sowel as elke lid van die bestuursraad in die besonder, en enige ander persoon of liggaam wat die belange van die skool wil bevorder.

    Die bestuursraad erken dat onderwys 'n professionele funksie is wat gespesialiseerde, deskundige en unieke insette van die skoolhoof en sy professionele personeel vereis.

    Die Bestuursraad moet saam met die skoolhoof en sy personeel aanvullend en ondersteunend tot mekaar in diens van die opvoeding van die kinders wat aan die skool toevertrou is, staan.

    Die verbesondering van die karakter van die skool se onderwys berus by uitstek by die ouers (ook soos verteenwoordig in die bestuursraad) en die onderwyserskorps gesamentlik. Dit beteken dat daar doelmatige kommunikasiekanale beskikbaar moet wees. Daarom laat die bestuursraad toe dat behalwe die skoolhoof, wat 'n volwaardige lid van die bestuursraad is, ook die senior adjunkhoof en die ander adjunkhoofde bestuursraadvergaderings bywoon. Sommige van die vergaderings word ook deur departementshoofde bygewoon. Die bestuursraad het ook verteenwoordiging in die bestuur van die ouervereniging en individuele ouers is geregtig daarop om kontak te maak met bestuursraadslede.

    Die bestuursraad beskou doeltreffende ouers as daardie ouers wat hulle geroepe ag om opvoedingswerk te verrig en om by die onderwys van hulle kinders betrokke te raak. Christen-ouers moet opvoeding en ouerbetrokkenheid daarby, sien as 'n Goddelike opdrag.

    Die skoolhoof en sy personeel moet werk met die bewussyn dat die huisgesin die beliggaming is van die liefde wat bind, van die versorging wat beskerm, van die orde wat verenig. Ouers is daarop geregtig om te eis dat hierdie liefde, beskerming en orde in die skool voortgesit sal word.

    W A LANDMAN
    VOORSITTER : BESTUURSRAAD

    3.4  Die Hoërskool Verwoerdburg: Een Eeu Oud

    Wanneer 'n besondere skool (in hierdie geval die Hoërskool Verwoerdburg), terugkyk op die geskiedenis van die honderdjarige bestaan van die Transvaalse Onderwysdepartement, word dit duidelik dat daardie geskiedenis ook sy geskiedenis is. So is die talryke hoogtepunte in die Onderwysdepartement se geskiedenis ook die hoogtepunte wat sy trots as skool dra en put hy steeds krag en inspirasie daaruit en streef hy voortdurend daarna om self hoogtepunt te wees en te bly.

    Die doelstellingse wat oor een honderd jaar se geskiedenis as hoogs waardevol raakgesien en uitgebou is, is nog steeds onmiskenbaar en die Hoërskool Verwoerdburg toon sy bewuswees daarvan dat hy deel van hierdie geskiedenis is, deur op entoesiastiese wyse te probeer om dag vir dag te werk aan die behoorlike en menswaardige volwassewording van die leerlinge wat aan hom toevertrou is en ook aan 'n sinvolle bestaan van hulle wat onderrig met die doel om op te voed.

    Aan die verhoudinge waaraan in die verloop van 'n eeu waarde geheg is, word nog steeds besondere waarde toegeken in die Hoërskool Verwoerdburg wat ook hierdeur sy verbondenheid met die geskiedenis van die Transvaalse Onderwysdepartement vertoon. So word daar deur die daaglikse arbeid gepoog om die begrypings-, vertrouens- en gesagsverhoudinge tussen onderwysers en leerlinge te versterk sodat op doeltreffende wyse aan en vir die toekoms gewerk kan word.

    Uit die een eeu geskiedenis van die Transvaalse Onderwysdepartement word die begeerte na 'n steeds doeltreffender organisasie en administrasie opgemerk. Die Hoërskool Verwoerdburg toon agting vir hierdie begeerte deur self doeltreffend te organiseer en te administreer. Dit word gedoen in belang van die bevordering van die opvoeding van die leerlinge wat aan sy sorg toevertrou is, maar ook om vir hulle wat bevoorreg is met die opvoedingstaak die beste moontlike werksomstandighede te skep.

    Soos 'n goue draad loop daar deur die geskiedenis van die Transvaalse Onderwysdepartement die geloof dat alles wat aangepak word, moet geskied op 'n wyse wat sal strek tot eer van God en in die lig van God se Woord, ter bevordering van die Vaderland. Die Christelike en die Nasionale gedagte as draad van gelouterde goud dien nog steeds as draende grond vir alle skoolse en naskoolse aktiwiteite van die Hoërskool Verwoerdburg.

    Die Hoërskool Verwoerdburg, in sy vervlegtheid met die geskiedenis van die Transvaalse Onderwysdepartement, se bede is dat hierdie geskiedenis steeds heilsgeskiedenis sal wees waarin die besturende Hand van God steeds sigbaar sal wees. Hierdie skool wil altyd binne die raamwerk van die opvoedingsbeleid van die Transvaalse Onderwysdepartement, sy arbeid verrig 'in nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van volkere.' (RSA Grondwet)

    W A LANDMAN
    VOORSITTER VAN DIE BEHEERRAAD

    Na Lyttelton, Deel 2