KOLLEGEGESKIEDENIS TOT 1990
Die opleidingsbeleid van die ou Unie Verdedigingsmag het tot die ontstaan van die Kollege gelei.
Gedurende die vroeë en middel 1930's is jong manne vir 1 jaar in die Spesiale Diensbataljon (SDB) vir militêre opleiding opgeneem. Hierdie opleidingstelsel het tot 'n mate 'n oplossing gebied vir die grootskaalse werkloosheid wat geheers het danksy die nagevolge van die depressiejare.
Teen die einde van 1936 is SDB-lede toegelaat om, na 6 maande militêre opleiding, permanent aan te sluit by die Unie Verdedigingsmag (veral die Lugmag) onderhewig aan 'n kontraksluiting van 7 jaar. Daar is toe 'n aanvang geneem om hierdie vrywilligers in al die moontlike ambagsdissiplines intensiewe basiese opleiding te gee. Hierdie basiese opleiding het ook as 'n metode gedien om die aanleg van die vakleerlinge te toets en om hulle sodoende in die ambag waarvoor hulle die beste aanleg getoon het, verder op te lei vir die verskillende eenhede van die Verdedigingsmag.
Die Unie Verdedigingsmag het reeds gou besef dat die ontwikkeling van elke lid tot sy volle potensiaal, met die klem op volle paraatheid ooreenkomstig die behoeftes van die Verdedigingsmag, deeglike opleiding verg. In hierdie gees het die Verdedigingsmag, ten spyte van 'n geldgebrek veroorsaak deur die depressiejare, sy vakleerlinge deeglik opgelei en laat oplei.
In 1937 rig die Verdedigingsmag 'n versoek tot die Pretoriase Tegniese Kollege om onderwysers na Roberts Heights te stuur om klas te gee aangesien die Verdedigingsmag velerlei probleme ondervind het met vragmotors, parkering en die vervoer van die vakleerlinge na die middestad van Pretoria. Die Verdedigingsmag sou die nodige lesinglokale voorsien.
Hierdie versoek van die Verdedigingsmag is toegestaan. Bykomstige leerkragte is deur die Kollege aangestel wat onder beheer van mnr R A Powell begin onderrig gee het vir die destydse Skool vir Tegniese Opleiding wat gestig is as deel van die ou 'Aircraft and Artillery Depot'. Laasgenoemde was toe onder die bevel van Luitenant-kolonel (later brigadier) H C Daniel. Die Skool vir Tegniese Opleiding was onder bevel van kaptein (later luitenant-kolonel) R H (Bob) Preller.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 is daar gevoel dat die enger militêre onderrig en die groter getalle lede wat opleiding vir oorlogvoering moes ontvang, genoegsaam rede is dat die burgerlike element van die Skool vir Tegniese Opleiding met 'n suiwer militêre organisasie vervang moes word. Die Skool vir Tegniese Opleiding is in Oktober 1939 omskep in 'n militêre eenheid. Mobilisasie van Verdedigingsmaglede is begin en die aanbied van teoretiese klasse word in November 1939 gestaak.
Na die vredesverklaring aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945, demobilisasie van Verdedigingsmaglede en die terugkeer na 'normale' toestande, is van die onbenutte militêre geboue te TEK-basis, Verwoerdburg, vir die Pretoriase Tegniese Kollege beskikbaar gestel om voort te gaan met die onderrig wat in November 1939 gestaak is. Meeste van die onbenutte geboue was opslaangeboue van sink wat as woonkwartiere vir die 'Women's Auxilliary Forces (WAF's), gedien het. Die perseel is gedoop tot die Suid-Afrikaanse Weermag Basiese Opleidingsentrum. Tans is die Kollege nog steeds op dieselfde perseel en word bykans al die ou bestaande baksteen- en opslaangeboue ook nog steeds gebruik.
In 1947 het die SA Weermag 'n ooreenkoms met die Pretoriase Tegniese Kollege aangegaan om ook praktiese werkwinkelopleiding vir hulle te behartig. Die opleiding word steeds vandag verskaf. Nadat organisatoriese probleme uitgestryk is, is mnr George Wood as die eerste departementshoof aangestel aangesien die SAW Basiese Opleidingsentrum op daardie stadium 'n volwaardige departement van die Pretoriase Tegniese Kollege was.
Mnr Wood is opgevolg deur mnr Freddy Meerkotter, wat op sy beurt deur mnr Bob Setterfield opgevolg is. Na mnr Setterfield het mnr Ted Chase die beheer uitgeoefen totdat mnr C V van Breda as departementshoof aangestel is. Selfs op hierdie stadium was mnr Van Breda se pos as departementshoof ondergeskik aan 'n hoof van etlike departemente van die Pretoriase Tegniese Kollege. Mnr JLC (Leon) du Plessis, later Adjunk-direkteur van die Technikon Pretoria, was die verantwoordelike hoof van die SAW Basiese Opleidingsentrum sedert die vroeë 1950's tot en met sy aftrede.
Uitbreidings by die SAW Basiese Opleidingsentrum het in die laat 1950's so toegeneem dat mnr M P Moll as die eerste Visehoof aangestel is. Hy was aanvanklik vir sowel die teoretiese onderrig as die werkwinkelopleiding verantwoordelik. In 1975 is mnr Moll tot Adjunkhoof bevorder, 'n pos wat hy beklee het tot sy skielike afsterwe op 17 Maart 1981.
In die begin van 1965 is mnr Neil Smuts aangestel as die eerste Visehoof vir werkwinkelopleiding. In 1968 word mnr Smuts bevorder tot 'n superintendent van onderwys by die Transvaalse Onderwysdepartement. Mnr Smuts is deur mnr F J (Frik) Potgieter, self 'n oud staandemaglid, opgevolg. Mnr Frik Potgieter het na bykans 30 jaar diens aan die Kollege as Adjunkprinsipaal (Werkwinkelopleiding: Motorafdeling) afgetree. In sy tydperk het hy ook etlike maande gewaardeerde diens as waarnemende Prinsipaal verrig.
In die 1960's onderneem die Opleidingsentrum gevorderde opleiding wat die naam Basiese Opleidingsentrum onvanpas maak. Gevolglik is die naam SAW Basiese Opleidingsentrum verander na die SAW Tegniese Opleidingsinstituut.
Die Pretoriase Tegniese Kollege het self naamsveranderinge ondergaan na die Pretoriase Kollege vir Gevorderde Tegniese Onderwys en later, met die implementering van die Wet op Technikons, na die Technikon Pretoria. Omdat die Wet op Technikons slegs voorsiening gemaak het vir tersiêre opleiding en die opleiding wat aan die Kollege gegee is buite hierdie wet geval het, moes daar 'n skeiding tussen die Technikon en die SAW Tegniese Opleidingsinstituut kom. Gedurende 1977 en 1978 is die nodige voorbereiding gedoen om die SAW Tegniese Opleidingsinstituut, toe nog 'n departement van die Technikon Pretoria, aan die Departement van Nasionale Opvoeding, later bekend as die Departement van Onderwys en Kultuur, Administrasie Volksraad en tans, die Departement van Onderwys en Kultuurdienste (ex Administrasie Volksraad) oor te dra. Mnr van Breda het die grootste deel van hierdie voorbereiding tot oorname meegemaak totdat ook hy op 16 Mei 1978 skielik oorlede is.
Op 1 Mei 1979 ontvang een van die grootste departemente van die Technikon Pretoria "outonome" status en is die SAW Tegniese Opleidingsinstituut begrawe en die SAW Tegniese Instituut met 'n eie Instituutraad gebore. Vlootkaptein (later admiraal) Ray Eberlein was die eerste Instituutraad voorsitter. Hy is later deur brig H Keyser opgevolg.
Met die inwerkingtreding en toepassing van nuwe departementele beleid, word die SAW Tegniese Instituut herdoop na die Tegniese Kollege Verwoerdburg, met as eerste prinsipaal, mnr J Smit, wat op 1 Januarie 1980 aangestel is. Onder sy bekwame leiding het die Kollege uitgebrei tot een van die grootste tegniese kolleges in die land wat nie net teoretiese tegniese onderrig en werkwinkelopleiding aanbied nie, maar ook seniorsertifikaat-, sekretariële en sakestudiekursusse, asook 'n wye verskeidenheid nie-formele beroepsgerigte en verrykingskursusse wat uitermate goed deur die gemeenskap van Verwoerdburg (nou Centurion) ondersteun word. Prof W A Landman, belese en wêreldbekende opvoedkundige en voormalige hoof van die Departement Fundamentele Pedagogiek aan die Universiteit van Pretoria, asook 'n bekende, beminde en jarelange inwoner van Centurion is as die eerste voorsitter van die Kollegeraad verkies.