Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 15
DEEL 2

VERBINTENIS MET
DIE UNIVERSITEIT VAN
PRETORIA

  1. WAAR HET DIT ALLES BEGIN?

    Teen Europese standaarde is die Universiteit van Pretoria nog betreklik jonk: Hy het sy volwaardige universiteitstatus pas in 1930 gekry. Maar sy geskiedenis begin darem 'n paar dekades vroeër, in 1908. Dit het so gebeur:

    In 1903 is Transvaal se eerste tersiêre opvoedingsinrigting, die Transvaal Technical Institute, in Johannesburg gestig. In 1906 het dit die Transvaal University College (TUK) geword. (Nog later die Universiteit van die Witwatersrand).

    Intussen was daar in Pretoriase kringe al jare lank pogings om 'n hoër opvoedingsinrigting te kry. Toe genl Jan Christiaan Smuts in 1907 Koloniale Sekretaris in die Botha-kabinet word, het hy hom daarvoor beywer om die letterkundige vakke en wis- en natuurwetenskappe van die TUK na Pretoria oor te plaas.

    Ten spyte van sterk teenkanting het Smuts sy planne eiehandig deurgevoer. Op 10 Februarie 1908 het die Pretoria Centre of the Transvaal University College (TUK) tot stand gekom, met vier professore, 3 lektore en 32 studente. Sy eerste "kampus" was die woonhuis Kya Rosa in Skinnerstraat, tans oorgeplaas na die Tukkie-kampus.

    Die volgende jaar is 'n stuk grond oos van die middestad aan die TUK toegeken en in 1911 is die nuwe kampus betrek. Dit is hier waar die huidige hoofkampus van die Universiteit vandag staan - binne maklike bereik van die middestad, voorstede, hoofpaaie en spoorverbindings.

    Sedertdien het die universiteit wyd vertak. Sy akademiese bedrywighede is tans versprei oor verskillende dienspunte in en om Groter Pretoria.

    Met die aanname van Wet nr 13 van 1930 is die TUK opgeneem in die volwaardige Universiteit van Pretoria. Twee jaar later is Afrikaans as medium van onderrig ingevoer, sodat die Universiteit vanaf sy vroegste jare 'n sterk Afrikaanse gees geadem het. Vandag, selfs met 'n aansienlike persentasie andertalige studente, het die UP steeds 'n besondere plig teenoor die Afrikanergemeenskap waaruit hy gebore is.
    (Geneem uit 'n Inligtingslêer)

  2. MY STUDIES AAN DIE UNIVERSITEIT VAN PRETORIA IN BEELD


B.Ed. 1952
Links agter by mikrofoon is
die Dekaan, Prof B F Nel



MEd 1954
Met my Ouers


MEd
10 April 1954



DEd
24 Maart 1962



DPhil
1970


    5.5  Nagraadse studie: Verdere besonderhede

    BEd-studie

    Gedurende 1948/49 het daar by my 'n sterk hunkering ontstaan om verder te studeer. Daar was vir my twee moontlikhede baie aantreklik: MSc (Dierkunde) en BEd. Vir MSc-studie was daar nie geld nie aangesien dit eintlik voltyds aangepak moes word. In elk geval was ek op hierdie stadium van my lewe, weens onderwyservaring, liewer vir kinders as vir diere! Alhoewel ek sterk onder die indruk was van Goebbels (Hitler se propaganda-minister) se uitspraak: "Hoe meer ek met mense werk, hoe groter respek kry ek vir my hond."

    Ek registreer toe begin 1950 vir twee jaar deeltydse studie vir BEd met endossement Beroepsvoorligting. Spoedig het ek agtergekom dat ek bevoorreg was om 'n student te wees by Professor B F Nel en C K Oberholzer. Prof Nel het besonder beïndruk met sy sterk psigologiese perspektief op die opvoedingswerklikheid en met sy internasionale status. Daar is min lande van die Weste tot die Ooste waar hy nie bydraes kon lewer en ook kennis kon insamel waarby sy studente betekenisvol gebaat het. Sy vergelykende studie oor Kinderleidingsklinieke van die wêreld was van buitengewoon hoë gehalte. Hy het ook 'n ere-doktorsgraad van die Universiteit Ghent (België) ontvang waarop al sy studente en kollegas nogal trots was.

    Op dié stadium het ek geen besef gehad daarvan dat ek eendag beskore sal wees om:

    1. Prof Nel te hê as MEd-leier en mede-promotor by die DEd-proefskrif;

    2. buitengewoon bevoorreg te word om die B.F. Nel-gedenklesing te lewer. In die voordrag het ek my geroepe geag om waardering teenoor hom uit te spreek vir die wyse waarop hy ons ingelei het in die beoefening van kritiese denke, beide deur woord (teorie) en daad (voorbeeld).

    Prof C K Oberholzer was reeds aan my bekend as dosent aan die Pretoriase Normaalkollege (later Onderwyskollege) waar hy beïndruk het met sy kragvolle voordrag van goed voorbereide en deurdenkte lesings. As koshuisvader was hy ook vir my 'n vaderfiguur.

    Dit was toe glad nie in my gedagte dat ek hom weer sal ontmoet as

    1. voorbeeldstellende dosent in 'n Filosofie van die Opvoeding;

    2. hanteerder van tentamens op so 'n wyse dat 'n mens 'slimmer en geleerder' was as toe jy daar gekom het.

    3. leier by die MA-verhandeling in Wysbegeerte;

    4. Promotor by DEd-proefskrif is Wysbegeerte en les bes

    5. sy opvolger as Professor in Filosofie van die Opvoeding. Ek kon ook later (1967) een van my publikasies aan hom opdra, waarvoor hy opreg dankbaar is. Sy dankbrief is vandag een van my kosbaarste besittings.

    Die twee BEd-jare het sonder enige voorvalle verloop. Ek het nie 'n motor besit nie, maar my vriend Chris Visser, (onderhoof van Louis Leipoldt), het my opgelaai en ek het bygedra tot delging van sy brandstofkoste.

    Dit moet hier egter ook vermeld word dat tydens my Onderwyskollegejare, Dr C K Oberholzer my laat kennis maak het met die werking en denke van Prof Chris Coetzee van Potchefstroomse Universiteit vir Christelike en Hoër Onderwys. Ek was veral beïndruk met die kragtige werking van die onwegdinkbare en onweghandelbare werking van die lewensopvatting. Dit moes 'n rol speel by my latere funksionering van die idee van lewensopvatlike toelaatbaarheid van wetenskaplike handeling. Dit was ook my buitengewone voorreg om later versoek te word om die J. Chris Coetzee-gedenklesing te PU vir CHO te lewer. Ek kon nog hierdie lesing aan Prof Coetzee self voorlê vir kennisname voordat ek dit gelewer het. Hy was baie ingenome daarmee. My korrespondensie met 'Oom Chris' tel vandag nog onder my kosbare besittings. Hy het ook die Voorwoord geskryf van my 'Leesboek vir die Christen-opvoeder'. N G Kerkboekhandel, Pretoria, 1972.

    Wat die BEd-eksamen betref, het die volgende reëlings gegeld: Die dae waarop daar eksamens geskryf was, is as studieverlof toegestaan. Tussenin is daar met die skoolhou voortgegaan. Ek was dankbaar teenoor die skoolhoof, mnr D J Malan, toestemming gegee het dat ek agter in die klas kon 'leer' terwyl die kinders met een of ander werkstuk besig was!

    MEd-studie

    Prof B F Nel het dié onderwerp voorgestel : 'n Ondersoek na bepaalde praktiese vermoëns by domnormale seuns en seuns met hoër verstandspeile. 'n Vergelykende studie'. Ek was verstandig genoeg om die voorstel te aanvaar en het dadelik met die nodige leiding deur Prof Nel, aan die werk gespring. 25 domnormale seuns met intelligensie-kwosiënte tussen 80 en 90 uit die Aanpassingsklasse van 'n Pretoriase Hoërskool is 'getoets'. Hulle prestasies is vergelyk met die prestasies van 'n groep van 25 seuns met hoër verstanspeile. Ek was besonder dankbaar teenoor Dr Rautie Rautenbach, Hoof van Langenhoven Hoërskool wat die aanpassingsklasseuns tot my beskikking gestel het.

    Die toetse het bestaan uit 4 apparate wat telkens per bus van die Universiteit af waar die toetse gestoor was en elke dageinde weer terugbesorg moes word, na die stasie vervoer wat aan die einde van Paul Krugerstraat geleë was. Dit was nogal 'n moeisame en vermoeiende proses. Die verhandeling (MEd met lof) is April 1955 gepubliseer as Opvoedkundige Studie nr 10.

    Dit moet vermeld word dat prof Nel besonder publikasiebewus was. Hy het buitengewone pogings aangewend om sy en sy studente se werk gepubliseer te kry. Hierby het die studente op 'n besondere wyse akademies gebaat.

    Die voorbereiding van die verhandeling het die volgende interessanthede opgelewer: Rachel het die wasvelle getik. Dit was besonder harde werk. Die aand en nag voordat die verhandeling by die boekbinder ingehandig moes word, is die afrolwerk in die skool se afrolkamer gedoen. Ek moes die papier en die ink voorsien en self die afrolwerk onderneem. Laat aand daag mnr Malan op met heerlike eetgoed en kon ons die res van die nag oorleef. Intussen het Jacobus (eersteling) onder die tafel op 'n mat aan die slaap geraak. Met hanekraai was die aantal eksemplare georden. Mnr Malan leen my toe sy motor om die volgende oggend betyds by die boekbinder te wees. Baie dankie.

    DEd-studie

    Die DEd-graad is later deur die Phd-graad vervang wat slegs 'n proefskrif en 'n eksamen oor die proefskrif vereis het. Die D.Ed-graad het 'n voortgaande eksamengedeelte bevat wat bestaan het uit 'n hoofvak en twee byvakke. Vir my was Beroepsvoorligting die hoofvak, met Indsutriële Sielkunde en Opvoedkundige Sielkunde as byvakke.

    Industriële Sielkunde het uit 2 dele bestaan, naamlik voorgeskrewe werke in die Industriële Sielkunde en Statistiese metodes. Statistiese metodes is aangebied deur die Fakulteit Ekonomie- en Staatswetenskappe. Dit het bestaan uit 3 lesings per week (een dubbel en een enkel). Aangesien ek aan die Oosrand werksaam was het hierdie byvak my een jaar geneem om af te lê, gelukkig met 'n A. Ek het per trein gereis. Met die dubbellesing het ek deurgery na Pretoria en na oorklim op die Rissiktrein uiteindelik by die Universiteit uitgekom. Rachel het op die stasie met 'n kospakkie gewag, met Jacobus (oudste seun) in 'n stootwaentjie. Met die enkellesing kon ek eers gou huistoe gaan om iets te eet. In albei gevalle het ek eers om 22h00 by die huis gekom. Die res van die dotorale eksamen is teen die einde van die volgende jaar met lof afgelê. (Prof J G Garbers was die eksterne eksaminator).

    Aangesien die proefskrif filosofies van aard was ('n Antropologies-pedagogiese beskouing van Beroepsoriëntering met Spesiale verwysing na die Personologies-etiese, het ek Woensdagaande prof C K Oberholzer se nagraadse klasse in Wysbegeerte en Etiek bygewoon.

    Die proefskrif (met lof) is November 1961 gepubliseer as Opvoedkundige Monografie van die Werkgemeenskap ter bevordering van die Pedagogiek, Nommer V, deur HAUM, Pretoria.

    BA (Honneurs)-studie

    Om vanaf die Fakulteit Wis- en Natuurwetenskappe toelating te kry tot die Fakulteit Lettere- en Wysbegeerte, moes eers toestemming van die Fakulteitsraad en Senaat verkry word. Na intensiewe bemoeienis deur Prof C K Oberholzer en die versekering wat hy gegee het dat ek die nuwe studierigting sal kan behartig, is toestemming gegee met die voorwaarde dat vir die Honneustudie twee ekstra vraestelle gedoen moes word. Dit was twee vraestelle in die Geskiedenis van die Wysbegeerte. Volop literatuur was beskikbaar: Afrikaans, Engels, Nederlands en Duits. Aangesien ek geweet het dat my MA- en DPhil-studie baie Duitse leeswerk sou vereis, het ek begin deur my Duits op te knap. Ek het reeds oor matriekduits beskik wat my 'n mate van selfvertroue gegee het. Ek het dikwels gewonder wat my Duitse onderwyser, mnr J P van der Vyver van 'n Afrikaanse Hoërseunskool sou sê as hy geweet het ek kon werklik baat vind by sy onderrig en dat ek later geen probleem gehad het om moeilike Duitsliteratuur te bemeester nie. Ek het begin deur gelyktydig Victor Frankl se Der Unbewusste Gott en die Engelse vertaling The Unconscious God te bestudeer. Verder kon ek met behulp van woordeboeke my verlustig in Hans Meyer se Abendlandische Weltanschauning - 5 Bande. Ek het ook Sondae my Duitse Bybel saam kerk toe geneem om die Dominee se Afrikaans in Duits te volg.

    Magister-verhandeling

    Die Honneusstudie het ook behels teksstudie van Immanuel Kant se Kritik der Reinen Vernunft, wat op opvallend bekwame wyse deur prof P S Dreyer gedoen is. Dit was vir my besonder interessant dat Kant hierdie dik boek, 'n pamflet kon noem.

    Ek kon die Honneursstudie met lof aflê en het dadelik begin met die skryf van die MA-verhandeling. Ek het my verdiep in veral Edmund Husserl se Logische Untersuchungen en Martin Heidegger se Sein und Zeit gepaard met talle kommentare. Wat die moeilike Sein und Zeit betref, het ek die volgende interessante ervaring gehad: Ek het die Engelse vertaling Being and Time gekoop, maar kon nie bevredigende vordering daarmee maak nie. Ek het toe oorgeslaan na Sein und Zeit en die vordering was dadelik na wense. Broodnodige ondersteuning is ook gevind in die publikasies van Kocklemans en de Boer.

    Met die skryf van die MA-verhandeling was ek verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth waarin ons in 'n baie gerieflike woonstel gewoon het, wat tog nie bevorderlik was vir studie aangesien vrou en drie kinders ook aandag nodig gehad het. Ek het toe saans na ete teruggekeer na my kantoor op die Birdstraatkampus en het saans tot ongeveer 11 uur studeer.

    Die MA-verhandeling (met lof) is gedurende 1966 voltooi en is gepubliseer in die Universiteit van Port Elizabeth se Publikasiereeks as nommer 2. Die feit dat ek lid was van die Publikasiekomitee en dat daar in daardie stadium van UPE se ontwikkeling nie baie manuskripte beskikbaar was nie, het baie gehelp. (Titel: Enkele antropologies-ontologiese momente van die eerste lewensjaar met Prof C K Oberholzer as studie-leier).

    DPhil-eksamen

    Voorgeskryf was Wysgerige Antropologie en Etiek as hoofvak en as byvakke Fenomenologiese Filosofie en Fenomenologiese Metode en Prof Oberholzer was tevrede met die literatuurlys wat ek voorsien het. Ek het steeds die Woensdagaande se Wysbegeerte lesings bygewoon. Hierdie studie het in werklikheid neergekom op 'n verdiepte studie van De Bussy, N Hartmann en Martin Heidegger. Ek het my besonder toegelê op die ontleding en begryping van die stellings:

    1. Ontologie is slegs as fenomenologie moontlik;
    2. Fenomenologie is slegs as ontologie sinvol;
    3. Fenomenologiese denke is kategoriale denke, met uitbouing van die idee dat kriteria in werklikheid kategorieë-in-vraagvorm is.

    Die DPhil-proefskrif

    Die hoofdoel van die proefskrif (behalwe om die D.Phil-graad te verwerf) was om 'n twaalftal kategorieë/kritieria d.m.v. beligtende denkmiddele/beligtende evalueringsmiddele te ontwerp en om daar die waarde en aanwendbaarheid daarvan te demonstreer. Eksterne eksaminator het opgemerk dat die syfer 12 baie verdag kantiaans lyk! Onderskeidingspunte is vir die proefskrif toegeken maar aangesien die Universiteit op hierdie stadium nie meer doktoraat met lof toegeken het nie, is die graad slegs toegeken.

    Dit het later geblyk dat hierdie kategorieë geneem vanuit pedagogiese perspektief besondere verwoordinge kan wees vir opvoedende bedrywighede in 'n opvoedingsituasie. Nog later is daar in 'n voordrag wat te Unisa gehou is, aangetoon dat opvoedingsituasie andragogiese situasie + pedagogiese situasie is. Dit beteken dat opvoeding 'n gebeure is wat geskied van die wieg tot die graf, terwyl die pedagogiese beperk is tot die volwasse-kind-verhouding.

    1. 1954 : GETUIGSKRIF : PROF B F NEL

      H.D.L.

      4 November 1954

      Mnr W A Landman is aan ondergetekende vir die afgelope vier jaar baie goed bekend. Gedurende hierdie tyd het hy reeds die B.Ed-graad en die M.Ed-graad met goeie gevolg afgelê - laasgenoemde graad met lof. Spesiale melding verdien die eksperimenteel-sielkundige "Ondersoek na Bepaalde Praktiese vermoëns by Domnormale seuns en seuns met hoër verstandspeile". Nie alleen is aan mnr Landman 'n M.Ed-graad met lof toegeken nie, maar is daar besluit om hierdie werk in sy geheel te publiseer. Die Publikasieskomitee van die Universiteit het die nodige geldelike ondersteuning verleen en die Werkgemeenskap ter Bevordering van die Pedagogiek as Wetenskap het besluit om hierdie werk as een van sy publikasies volgende jaar te beskou. Dit dien ook vermeld te word dat mnr Landman tans vir die D.Ed-graad ingeskryf is en onder leiding van ondergetekende aan 'n eksperimenteel-sielkundige onderwerp werk.

      Mnr Landman het 'n stilgeaardheid maar toon inisiatief en beslistheid in sy werk. Hy besit 'n aangename persoonlikheid en koester hoë ideale. Ondergetekende is oortuig daarvan dat mnr Landman met sy sterk opvoedkunde-sielkundige agtergrond 'n sukses as dosent in opvoedkundige sielkunde sal maak.

      B F NEL
      PROFESSOR IN OPVOEDKUNDE SIELKUNDE
      EN DEKAAN FAKULTEIT OPVOEDKUNDE

    2. 1967 : 'N GEWAARDEERDE BRIEF (GEDEELTE) VAN PROF C K OBERHOLZER

      4 Mei 1967

      Op hierdie stadium: My hartlike gelukwensing met die aanbeveling van die Fakulteitsraad en die goedkeuring van die Senaat dat jy as my opvolger benoem word. As alles slaag, hoop ek dat jy vreugde in die pos en wat daarmee saamgaan vir baie jare gaan belewe en dat jy iets moois daarvan gaan maak, iets mooier as waartoe ek in staat was. Dit is vir my nie maklik nie om my daaruit te moet losmaak, maar ek kan eenvoudig nie langer twee mense se werk doen nie. En soos ek vir Fanie en Piet van Zyl geskrywe en gesê het: ek het bepaalde voorwaardes vir die benoeming van my opvolger gestel, maar het summier geweier om 'n ranglys aan keusevoorkeure te maak. Ek het julle al drie eerste geplaas en my toe aan die vergadering onttrek. By veral julle drie wou ek geen onmin saai nie, want julle lê my baie na aan die hart.

      Stuur my asseblief nog drie eksemplare van jou M.A. verhandeling.

      Vriendelike groete ook aan mev Landman.

      C K OBERHOLZER

      Na Universiteit Pretoria, Deel 3