Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 7

VERBINTENIS MET
HOËRSKOOL GOEDEHOOP, GERMISTON

Inhoudsopgawe

  1. 'n Rigting-veranderende telegram.
  2. Die Voorgeskiedenis van ons Skool : C H Venter.
  3. Van C.N.O. na Goewermentskool.
  4. Skoolhoofde en ander bekendes 1910 - 1932.
  5. 'n Besondere kollega : Mnr J D Krige.
  6. 1956 : Getuigskrif : Mnr C H Venter (Skoolhoof).
  7. Sportafrigting:

    7.1  Krieket
    7.2  Korfbal

  8. 'n Aantal Goedehoop-ervarings


VERBINTENIS MET HOËRSKOOL GOEDEHOOP, GERMISTON

  1. 'n RIGTING-VERANDERENDE TELEGRAM

    28.1116
    Lyttelton 3.2.55

    W A Landman
    Laerskool Lyttelton

    Departement het besluit u te sekondeer na Goedehoop Hoërskool Germiston in pos van Biologie. Moet diens aanvaar op 7 Februarie 1955.

    Transed.

    Ek was weer 'n treinreisiger. Dié keer tussen Lytteltonstasie en Germistonstasie! Die Transvaalse Onderwysdepartement het die treinkaartjie voorsien.

  2. DIE VOORGESKIEDENIS VAN ONS SKOOL
    HOËRSKOOL GOEDEHOOP, FEESUITGAWE
    JAARBLAD 1907-1957

    Nog voor die ontstaan van die myndorp Germiston, toe die plek nog bekend gestaan het as die plaas Elandsfontein, distrik Pretoria, het hier reeds in 1882 'n regeringsondersteunde plaasskooltjie met een onderwyser en dertien leerlinge bestaan. Die onderwyser was mnr A P J du Preez. Hoelank hierdie skooltjie bestaan het en waar hy geleë was, is ongelukkig nie bekend nie.

    Die eerste skool in die myndorp Germiston is in 1890 geopen. Dit was gehuisves in 'n steen- en sinkgeboutjie wat deur die bemoeiing van ds Pearson van die Presbiteriaanse Kerk, Boksburg, vir kerk- en skooldoeleindes op die hoek van President- en Churchstrate opgerig is, waar die winkel van die firma Ward en Salmons vandag staan. Dit was 'n regeringsgesubsidieërde skool met 'n mnr Berthoud, wat van Switserland afkomstig was, as hoof en mejj Chrissie Holtzhausen en Minnie Paterson as assistente.

    Mnr Berthoud word egter teen omtrent 1892 na Boksburg verplaas en die skooltjie verhuis na 'n nuwe gebou, hierdie keer op die hoek van President- en Simmerstrate, dieselfde terrein waar die huidige Germiston-Hotel geleë is. Die nuwe hoof is mnr Bosman wat spoedig weer deur mnr T A Dönges, die latere hoof van die Heidelbergse Normaalkollege en nog later Senator, opgevolg word.

    Teen hierdie tyd word die gemeente Boksburg van die NH of G Kerk afgestig van die gemeente Johannesburg, en die eerste leraar, ds Pieter Stofberg, stel besonder belang in die opvoeding van die Boerekinders, ook op Germiston. Toe mnr Dönges teen die end van 1894 vertrek, beweeg ds Stofberg 'n jong onderwyser, mnr Jozua F Naudé van Riebeeck-Wes, KP, om die hoofskap van die skool op hom te neem, en hy aanvaar diens in April 1895. Hierdie mnr Naudé het hier op Germiston en later ook op Randfontein 'n belangrike rol in die onderwys aan die Boerekinders gespeel. Hy het later die bekende ds J F Naudé van Graaff-Reinet geword, die beroemde stryder vir die Afrikaanse taal, onderwys en kultuur.

    Onder leiding van ds Stofberg koop die wyk Germiston van die gemeente Boksburg al spoedig vir hulle 'n stuk grond op die hoek van President- en Jackstrate waar hulle 'n kerksaal en 'n sierlike skoolgebou oprig, sodat mnr Naudé met sy skool in 1896 hierdie nuwe gebou, reg voor die huidige Hotel Alexander, in gebruik neem.

    Op hierdie tydstip was daar omtrent 150 leerlinge in die skool.

    In 1898 het die skoolkommissie bestaan uit die here C J van Niekerk, voorsitter; J F Naudé (die hoof), sekretaris; J W Raath, penningmeester; A J Rossouw, J J van Niekerk, G H Gravett (die latere Assistent Kommandantgeneraal van die Republikeinse magte) en Theunis Holtzhausen. In hierdie jare was die hoof onder andere deur die volgende personeellede bygestaan: Mnr J C Knöbel (later 'n sendeling en vader van die bekende Louis en Rocco Knöbel en hulle broers); mejj J D (Hannie) Fourie (later die eggenote van genoemde mnr J C Knöbel); Susie van Eyssen, Cora Human, Lettie Jankowitz, Kitty van Blerk, Maria de Kock en Maria Krige.

    Op 10 Julie 1899 word hier 'n jong dame in die persoon van mej Annie Loubser van Stellenbosch op die personeel aangestel wat bestem was om gedurende die daaropvolgende oorlogsjare 'n uiters belangrike rol in die skool se geskiedenis te speel. Toe die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 uitbreek, is die hoof slagveld toe, mnr Knöbel het in Springs 'n steenkoolsaak van genl Gravett gaan waarneem, en 'n aantal onderwyseresse het voorlopig nog op hul pos gebly tot die Engelse magte Germiston binnegeval het. Toe het almal gevlug behalwe mej Annie Loubser wat 'n lang ruk vingeralleen met die skool voortgegaan het en die kinders onder die moeilike omstandighede so goed moontlik besig gehou het teen 'n vergoeding van 3d per week van elke ouer wat dit kon bekostig! Later in die oorlogsjare is sy deur 'n sekere mej Van Wyk van Elsburg bygestaan, aangesien die kinders vanuit die Elsburgse skool toe ook hierdie skool besoek het.

    So het mej Annie Loubser sorg gedra dat die voortbestaan van die skool dwarsdeur die oorlogsjare nooit onderbreek is nie. Sy is later met mnr Charles Raath van Germiston getroud en woon vandag in Johannesburg by haar dogter in wat met dr P W Hattingh getroud is.

    Na die oorlog het die Kerkraad van die gemeente Germiston, wat in 1899 van Boksburg afgestig is, onder leiding van ds P R McClachlan, 'n sterk stryder vir die behoud van die Christelike en nasionale opvoeding van die Afrikanerkind, daartoe oorgegaan om die beheer van die skool en die aanstelling en besoldiging van die personeel vir eie rekening te neem. En so word die skool 'n CNO-skool.

    Die Kerkraad is egter na die oorlog weens finansiële druk verplig om sy eiendom op die hoek van President- en Jackstraat te verkoop en koop 'n goedkoper terrein aan op die hoek van Willow- (die huidige Voortrekker-) en Gardenweë wat vandag nog die terrein van die gemeentelike eiendomme is. Hier word eers maar net 'n ruim saal gebou waarin daar Sondae kerk en in die week skool gehou kan word. Dit bring mee dat ons skooltjie nogeens verhuis: die keer na die genoemde saal van die Kerk.

    Die Hoof van hierdie CNO-skool is mnr P J van der Walt, en mejj Susie Faure, Dora Holtzhausen en Elsine Mulder is sy assistentes. Min ander gegewens oor hierdie skool is beskikbaar, behalwe dat dit vir die Kerk, met sy deur die oorlog verarmde lidmate, bitter swaar gegaan het om sy geldelike verpligtinge teenoor die skool na te kom.

    Vanaf die begin van die tweede kwartaal in 1907, t.w. 9 April 1907, is die skool nou 'n regeringskool met die naam "Germiston Good Hope School" en het hy weer terugverhuis na die ou skoolgebou in Jackstraat wat na die oorlog deur die regering van die Kerk aangekoop is.

    Soos uit die voorgaande duidelik blyk, is ons skool dus maar nog dieselfde skool wat in 1890 as die eerste skool van die dorp Germiston tot stand gekom het; want alhoewel hierdie skool dikwels van terrein en personeel en meermale van beheer en naam verander het, is dit tog dieselfde skool wat sonder enige onderbreking van sy kontinuïteit en sy identiteit deur al die jare vir die Afrikanerkinders van Germiston nog voortbestaan het.

  3. VAN CNO NA GOEWERMENTSKOOL: HOËRSKOOL GOEDEHOOP
    FEESUITGAWE JAARBLAD
    1907 tot 1957, bladsye 25 en 26

    "This school was opened on the 9th April 1907 as a government school, previously it was upheld by the Dutch Reformed Church of Germiston as a CNO school ...." so lui die eerste inskrywing in die "Log Book" van die "Germiston Good Hope School."

    Uit die notule van die Ned Herv of Geref gemeente van Germiston blyk dit dat hierdie instandhouding van die CNO-skool gepaard gegaan het met baie probleme en groot opofferings en dat slegs die finansiële laste wat die skool gelê het op mense, wat nog nie herstel het van die ramp van die Tweede Vryheidsoorlog nie, die Kerkraad later gedwing het om die skool oor te gee aan die regering.

    Die Kerkraad van die Ned Herv of Geref gemeente het nie slegs die skool in Germiston gehad om voor te sorg nie, maar ook in Elsburg, wat toe deel van die gemeente gevorm het, was daar 'n skooltjie wat uitgawes meegebring het.

    Uit die notule van 5 Oktober 1903 blyk dit dat die Kerkraad 'n lening "voor kerk en school doeleindes te Elsburg van £1 000.00 ...." aangegaan het. Op 22 Februarie 1904 besluit die Kerkraad weer op voorstel van B P van Niekerk, gesekondeer deur W H Gravett, "Dat de commissie van de school te Germiston van deze Gemeente gemachtigd worde ...... eene leening aan te gaan van £1 000 (een duizend pond) sterling...."

    By die £1 000 lening vir Elsburg en die £1 000 lening vir Germiston se skool het die Kerkraad nog £1 200 aan die gemeente Jeppestown geskuld. Geen wonder dat die Kerkraad swaar geleef het om hulle verpligtings na te kom nie. Dit was 'n stryd van leen en betaal en weer leen en betaal. So het die Kerkraad bv op 8 Mei 1905, na vergeefse pogings om geld in die hande te kry, die Elsburgskool-kommissie versoek "dat zy zoo vriendelyk moet zijn te wachten tot na het Bazaar."

    Die basaar en die daaropvolgende maande het egter geen uitkoms gebring nie. Die finansiële posisie het eerder versleg, soos blyk uit die notule van 'n buitengewone vergadering gehou 31 Januarie 1906. "Ter tafel komt verzoek van Schoolcommissie (Germiston) om machtiging tot leening op standplaatsen 36 x 12 groot £2 500". En op 4 Julie 1906 word die Kerkraad versoek om die skoolkommissie tegemoet te kom "met de opgeloopen schuld aan den Kerkraad."

    Die Kerkraad ag dit op hierdie stadium nodig om 'n kommissie aan te stel ten einde "een nauwkeurige onderzoek in te stellen naar den Financieëlen toestand der school ...." Op 13 Augustus 1906 lewer genoemde kommissie volledig verslag en beveel onder andere aan dat die skoolkommissie 'n afslag van £5 per maand kry op die huur van die kerksaal.

    Op 4 Februarie 1907 vind 'n gemeentevergadering plaas. "Ter tafel komt nu balansstaat ingehandig door den kassier der Schoolcommissie welk nie behoorlyk geauditeurd was .... Na heelwat bespreken werd besloten eene gemeente vergadering by een te roepen voor Maandag avond 25 Februarie ter einde dan finaal over de school te besluiten."

    Op die gemeentevergadering gehou 25 Februarie 1907 waarop omtrent 70 lede en belangstellendes teenwoordig is, spreek ds P R McLachlan dit as sy persoonlike gedagte uit "na heelwat over de zaak gedacht te hebben dat wy eene deputasie moeten zenden naar Generaals Botha en Smuts om van hen te verneemen wat of wy onder tegenwoordige omstandigheden doen moeten." 'n Deputasie bestaande uit Brs I W C van Wyk, C J van Niekerk en C P Raath word aangewys.

    Op 6 Maart 1907 rapporteer die deputasie. 'n Laaste poging word aangewend om die skool te red. W H Gravett: "geef aan de hand staande de vergadering inteekenings lysten te openen en uit opbrengst te zien of't financieel mogenlyk is school in stand te houden."

    Op dieselfde vergadering word aan die skoolkommissie opdrag gegee om in oorleg met generaals Botha en Smuts met die regering te onderhandel en aan die Kerkraad te rapporteer.

    Op 20 Maart 1907 vergader die Kerkraad en die skoolkommissie onder die voorsitterskap van die konsulent, ds P Nel.

    "De onderhandeling re overname der school besprekende, rapporteert Br C J van Niekerk dat het Departement gewillig is onze school over te nemen opgelyke termen als die van overeenkomst te beginen 1 April."

    "Op voorstel G H Holzhausen - E G Potgieter eenpariglyk besloten den school commissie op te dragen eene behoorlyke overeenkomste met het Departement aan te gaan en af te handelen."

    En so eindig die opdraande stryd vir die voortbestaan van die CNO skool te Germiston.

    HOëRSKOOL GOEDEHOOP, JAARBLAD 1967
    1892-1967

    Hoërskool Goedehoop
    Jaarblad 1967

  4. SKOOLHOOFDE EN ANDER BEKENDES

    1910-1932 - Mnr S Pauw

    Mnr J H Greijbe het in April 1912 assistent onder wyle mnr S Pauw geword. Gedurende sy dienstyd het die skool 'n begin gemaak met rugby. Sy maandelikse salaris was £12/10/00.

    5 Oktober 1932 - mnr Bezuidenhout aanvaar dienste as permanente hoof. (Aanplanting van dennebome om die terrein).

    18 April 1933 - mnr C H Venter begin permanent as visehoof (na hy kwartaal lank waargeneem het as hoof).

    31 Julie 1934 - mnr S Pauw (Jnr) later prof S Pauw van Universiteit van SA), tree in diens en bly tot 11 Desember 1936 onderwyser aan Goedehoop.

    Die skool se hoofingang
    verskuif gedurende 1954 na Spoorwegstraat

    22 Desember 1961 - Mnr C H Venter tree met pensioen uit die diens van die Departement nadat hy 35½ jaar aan hierdie skool verbonde was.

    1963-1965 - Mnr P J Lindeque oorlede (in diens) 23 Oktober 1965.

    16 Januarie 1951 - Skool is nou 'n Hoërskool. Inskrywing is st VI 225, VII 142, VIII 60.

    EERSTE JAARBLAD
    EINDE 1952

    Hoërskool Goedehoop
    Jaarblad 1952

    18 Oktober 1961 - W A Cruywagen

    Met groot trots kon Goedehoop aan Germiston sy eerste LV in die Republikeinse volksraad besorg in die persoon van mnr W A Cruywagen wat meer as 11 jaar aan die skool verbonde was.

    In die elf en 'n kwart jaar wat hy aan ons skool verbonde was - ses jaar as assistent en vyf en 'n kwart as vise-hoof - het hy op menige terrein kostelike werk gedoen en diep spore getrap wat die tyd nie maklik sal kan uitwis nie.

  5. 'N BESONDERE KOLLEGA : MNR J D KRIGE

    Die toegewyde onderwysman soek nooit as einddoel van sy taak in die openbaar erkenning vir sy dienste nie. Al kom dit hom ook in dubbele mate toe, sal hy daar ongelukkig bitter min van kry. Die erkenning en kompensasie moet maar gesoek word daar waar hy daagliks besig is om sy taak te volvoer. Dit word diep persoonlik ervaar en belewe as die resultaat van sy pogings sigbaar word - sigbaar word selfs in die geringste positiewe reaksie van die kant van die mensemateriaal waaraan hy besig is om vorm te gee.

    Dit is egter korrek en nodig, waar die geskikte geleentheid hom voordoen, om waardering te betuig vir en erkenning te verleen aan die dienste wat 'n persoon aan 'n skool en sodoende aan die onderwys gelewer het. Maar dit is verkeerd dat die getroue dienaar eers wanneer hy aftree vir die eerste keer 'n woord van erkentlikheid en waardering moet aanhoor. Dit moet ook gesê word lank voordat hy die laaste sooie van sy akker moet omkeer.

    Daarom is dit vir my so 'n mooi gebaar dat die 1966-uitgawe van u Jaarblad opgedra word aan mnr Japie Krige.

    In die eerste plek is dit besonder gepas om hom te vereer in die blad waarvan hy eintlik die stigter is. Dit was jare gelede my aangename voorreg om die aanvoorwerk vir die jaarblad saam met mnr Krige te doen. Die gloeiende entoesiasme waarmee hy die onderneming geloods het en die enorme hoeveelheid werk wat hy aan die poging bestee het, het verseker dat die Jaarblad goed weggespring het en hom sedertdien as 'n permanente instelling ingegrawe het.

    Oor die Jaarblad kan baie gesê word, maar beperkte ruimte weerhou my van so 'n versoeking. Dit betaam ons egter wanneer ons 'n Jaarblad van die Hoërskool Goedehoop in die hand neem - nou of in die jare wat voorlê - om te sê: Dankie meneer Krige!

    Baie bladsye kan ook volgeskrywe word oor mnr Krige se werk in verband met die verfraaiing van die skoolterrein en die aanlê en verbetering van sportvelde. Sy grootste prestasie lê egter in die werk wat verrig is in die twee termyne wat hy as skoolhoof moes waarneem.

    In 1962 moes mnr Krige hierdie verantwoordelike taak vir die eerste keer op sy skouers neem. Onder baie moeilike omstandighede en met min of geen ondervinding het hy die werk met onderskeiding verrig. Aan die einde van 1965, na die tragiese afsterwe van mnr Lindeque, moes mnr Krige in die bres instap. Gerugsteun deur sy vorige ondervinding was die tweede skof miskien nie so moeilik nie. Maar elkeen van die termyne het hoë eise gestel aan die vermoë, begrip, insig, inisiatief, geduld, ens., wat die onderwysorganisasie en -aktiwiteit in al sy fasette en verskeidenhede van 'n skoolhoof verg.

    Die skool-leerlinge en onderwysers - en die hele ouergemeenskap is dankbaar dat mnr Krige op so'n bekwame wyse die kontinuïteit kon bewaar, die moeilike tydperke kon oorbrug en die werk so normaal as moontlik kon laat voortgaan.

    Dit stem 'n mens verder baie dankbaar dat mnr Krige, nieteenstaande die groot las wat hy moes dra, nie sy aandeel in die gemeenskap se aktiwiteite ten opsigte van kultuur, gemeenskapsdiens en kerk afgesweer het nie. Sy plig as gemeenskaps-, volks- en Christusdienaar, buite die begrensde terrein van die skool, het hy nooit versaak nie.

    Ek is bly dat ons langs hierdie weg ons waardering kan betuig en ons dank kan oordra.

    Goeie wense en alles van die beste,
    Groete

    W A CRUYWAGEN, LV

  6. 1956 GETUIGSKRIF : MNR C H VENTER, SKOOLHOOF

    Ondergetekende verklaar hiermee dat

    MNR W A LANDMAN

    Sedert 7 Februarie 1955 tot op datum aan hierdie skool verbonde was as senior Biologie-onderwyser. Vanjaar het hy, benewens senior Biologie ook Algemene Wetenskap en senior Natuur en Skeikunde gedoseer.

    Mnr Landman is 'n besonder bekwame en begaafde onderwyser wat die kuns verstaan om leerlinge te boei, te besiel en hulle in die vak waarmee hy besig is, te laat belangstel sodat hulle goed presteer in sy vakke.

    Daarbenewens het hy, terwyl hy maar slegs 'n gesekondeerde onderwyser hier was, hom heelhartig met die skoollewe vereenselwig en sy volle gewig ingewerp by die binne- sowel as buitemuurse bedrywighede van die skool.

    Dit is met innige spyt dat ons vandag van hom afskeid neem en ons wens hom al die beste toe vir die toekoms.

    Get C H Venter , Hoof
    14 Desember 1956
    Hoërskool Goede Hoop
    Posbus 508, GERMISTON

  7. SPORTAFRIGTING

    7.1  Krieket

    Tweede Krieketspan 1956

    7.2  Korfbal

    Agter: (links na regs): Paulina Oberholzer, Maria Malan, mnr W A Landman (Afrigter), Sarie van Zyl, Anna van Rensberg
    Sittende: Wilhelmina Pretorius, Sarie Reyneke (Kaptein), Rachel Pires
    Voor: Sannie Zevenster en Nellie Joubert

    Agter: (links na regs): Maria v.d. Berg, Johanna van Heerden, Mnr W A Landman (Afrigter), Martha Bezuidenhout, Catharina Hoffman
    Sittende: Hester Lessing, Susan Wright (Kapt)., Susanna Liebenberg
    Voor: Martha Diedericks en Dollie Smit

  8. 'N AANTAL GOEDEHOOP-ERVARINGS

    1. 'n Geslaagde eksperiment

      Jorrie was 'n seun in die Aanpassingsklas wat gedurende 1955 die beste van al die standerd sessers gevaar het. Sy ander punte het gewissel van 20-25%. Gedurende 1956 het 'n onderwyseres die Aanpassingsklas behartig. Sy het Jorrie in die voorste ry digby haar lessenaar gesit vanwaar hy die nodige hulp aan haar kon verleen. Dit is gedurende hierdie jaar wat hy my elke oggend eers kom groet het. Een oggend merk ek op dat sy tas met 'n yslike knop staan. "Jorrie, wat het jy daar?" vra ek. "Meneer dis 'n dinamo wat ek gebou het". "Jorrie, het jy hom getoets? Werk hy?" "Ja meneer: My ma het 'n groot bak met visse. Ek het die twee drade daarin gesit, die handvatsel vinnig gedraai en al die visse vrek geruk." "Ja nee, Jorrie, dit lyk my hy werk. Kom ons toets hom wetenskaplik." Dit was 'n voortreflike dinamo!

    2. 'n Geslaagde biologieles

      Ek het vasgestel dat die Onderwysdepartement jaarliks 'n sekere bedrag beskikbaar stel vir leermateriaal in Biologie. Ek het die bedrag aangevra en dadelik by die slaghuis 'n harslag bestel. Dit was 'n ware genot om die matriekleerlinge (daar was 11 van hulle) sien delf in die harslag en dit was net so aangenaam om die genot op hulle gesigte te lees met die ontdekking dat hart en longe ens nie net in die vorm van biologiesketse bestaan nie, maar werklik is. Hulle het almal goed in matriekbiologie geslaag, een kandidaat met 'n onderskeiding.

      Grappie

      Na 'n vergelyking van die beeshart met die mensehart wat in die biologiehandboek beskryf word, merk ek op: "Piet ek is bly jy het nie die mens gemaak nie maar die Alwyse Skepper - jy sou vergeet het om die onderste hartkamers se wande dikker te maak as die van die boonste kamers - met nare gevolge." Die moontlike gevolge is toe bespreek.

    3. Lewendige dierbiologie

      Ten einde die leerlinge geleentheid te gee om met werklike diereksemplare te werk, is 'n klasmuseum met die hulp van die leerlinge opgebou. Die eerste stap was om glasflesse te versamel. Dit was geslaagd maar kon gelukkig aangevul word deur flesse wat die Onderwysdepartement voorsien het. Toe het die nodige materiaal ingestroom. 'n Besondere eksemplaar was 'n tiervis wat deur een van die onderwysers ('n mnr Erasmus) gevang is. Nog 'n buitengewone eksemplaar: Een van die leerlinge het iets in die voetpaadjie sien lê en sien dat dit 'n padda en 'n slang was wat albei dood was. Die slang het blykbaar die padda ingesluk en die padda het sy slukderm oopgeskop! Voor elke vakansie is daar vasgestel welke leerlinge see-toe gaan. Hulle is dan versoek om iets vir die museum saam te bring.

    4. Doeltreffende Skeikundelesse

      Een van die opdragte was om die eienskappe van sekere gasse te bepaal. Dit het begin met die voorbereiding van die betrokke gas waarvan al elf leerlinge meegedoen het. Vervolgens is daar met leerlinghulp verskeie chemiese flesse met die hoofbron verbind waarvan sommige 'n hele laboratoriumbank beslaan het. In elkeen van die flesse is daar 'n chemikalieë geplaas waarmee die betrokke gas moes reageer. Dit was besonder aangenaam om die leerlinge dop te hou soos die voorbereide gas deur die verskillende flesse beweeg. (Waar daar hewige reaksies verwag is, is die betrokke chemikalië liewer uitgeskakel en apart bestudeer!)

      Met een so 'n opstelling was die leerlinge selfs bereid om 'n Saterdagoggend op te offer!.

      Toe ek Skei-Nat oorgeneem het, het ek dadelik die karige voorsiening van apparaat en materiaal opgemerk. By navraag by die hoof het hy gesê dat die vorige onderwyser gesê het dat "aangesien ons nie plek het, moet ons nie die volle aanvangstoerusting wat die Departement voorsien, aanvra nie." Ek het by die hoof daarop aangedring dat ons aan die Onderwysdepartement moet skryf dat daardie besluit (brief) 'n fout was. Die Onderwysdepartement was so vriendelik om die verskil aan te suiwer. Daarvoor was ons werklik dankbaar en kon die leerlinge daarby baat.

    5. Skeikunde-besoek

      Ten einde by die senior leerlinge tuis te bring dat Skeikunde nie net in skoolhandboeke verskyn nie, maar dat dit enorme praktykimplikasies het, is 'n besoek aan Modderfonteinwerke gereël waar onder andere dinamiet vervaardig word. Die leerlinge was baie beïndruk om Skeikunde-in-praktyk waar te neem en ek is seker dat dit 'n positiewe uitwerking op hulle eksamenresultate gehad het. Aangesien my Engels destyds nie juis Shakespeare-gehalte was nie, het ek die hoofseun (Pienaar) wat vlot in Engels was en daarby intelligent, opdrag gegee om die bedanking te doen vir alles wat daar geleer is, maar ook vir die heerlike verversings. Almal teenwoordig was beïndruk met die gehalte van sy bedanking.

    6. Natuurkunde-besoek

      Die vak Skei-Nat bestaan, soos die naam aandui, uit twee dele naamlik Skeikunde en Natuurkunde (Fisika). Ten einde die Natuurkundedeel te versterk het ek 'n besoek gereël aan die WNNR, (Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad) te Pretoria. Onderwysers en ouers het gehelp met die vervoer. Op weg na Pretoria is die groep eers by Krugerlaan 88, Lyttelton langs waar my vrou, Rachel, hulle met heerlike eet- en drinkgoed trakteer het. Die WNNR was vir die leerlinge 'n besonder indrukwekkende struktuur. Elke afdeling wat besoek is het 'n diep en blywende indruk gemaak. Byvoorbeeld by die reuse elektromagneet het die groep magnetisme in aksie gesien. Ten spyte van waarskuwings het ek dus te naby gewaag met die gevolg dat my goedkoop Zobo-sakhorlosie nogal indrukwekkend verwring het. Dit was egter die moeite werd om die Zobo op te offer!

  9. GOEDEHOOP-HOëRSKOOLERVARING: BETEKENIS

    Sien ONDERWYSKOLLEGE PRETORIA