Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 8

VERBINTENIS MET LAERSKOOL FLEUR

Inhoudsopgawe

INLEIDEND

DIE LAERSKOOL FLEUR

  1. AMPTELIKE BENAMING
  2. STIGTINGSDATUM
  3. ANDER BELANGRIKE DATUMS
  4. BELANGRIKE GEBEURTENISSE


VERBINTENIS MET LAERSKOOL FLEUR

INLEIDEND

Die Landmans se verbintenis met Laerskool Fleur, was soos volg:

  1. Mev Rachel Landman was lid van die eerste Skoolkomitee en het ook opgetree as sekretaresse. Sy het deelgeneem aan die eerste ontwikkelingstadia.

  2. Prof W A Landman was die voorsitter van die eerste ouer-onderwysersvereniging en het ouers, onderwysers en leerders van tyd tot tyd toegespreek.

  3. Prof Christina Landman was skolier tydens graad een en twee, standerd een en weer standerd vyf.

  4. Dr Willem Landman (Junior) was skolier vanaf Graad een tot standerd vyf. Hy is nog tot vandag toe dankbaar vir die gehalte van die onderrig wat hy te Fleur ontvang het.

Dr W A Landman (eerste Voorsitter van Die Ouer-onderwysersvereniging) spreek leerlinge toe

DIE LAERSKOOL FLEUR

  1. AMPTELIKE BENAMING

    Die Laerskool Fleur.

  2. STIGTINGSDATUM

    25 Junie 1961.

  3. ANDER BELANGRIKE DATUMS

    • 9 Desember 1961 - Amptelike inwyding onder leiding van mnr P J Maree, waarnemende hoof.

    • 28 Januarie 1963 - mnr J J Grové aanvaar diens as eerste permanente hoof.

    • 11 Desember 1979 - Afskeid word geneem van mnr en mev Grové wat uit diens getree het.

    • 1 Januarie 1980 - 30 Junie 1980 - Mnr Tjaart Henning neem waar as hoof.

    • 1 Augustus 1980 - Mnr J H H Meier aanvaar diens as die tweede permanente hoof van die skool.

    • 1993 - Fleursentrum word deur die ouergemeenskap opgerig.

    • 1994 - Die laboratorium, musieksentrum en kleedkamers word deur die ouergemeenskap gebou.

    • 1 Januarie 1995 - Die skool word 'n parallelmedium skool en laat 235 Engelssprekende leerlinge uit ander kultuurgroepe toe met Afrikaanssprekende leerlinge.

    • 19 Januarie 1995 - Die President, mnr Nelson Mandela, die Gauteng Premier, mnr Tokyo Sexwale en LUR me Mary Metcalfe besoek die skool.

    • Augustus 1995 - Ons kore presteer merkwaardig en die Senior Koor word genooi om op 16 September 1995 in die ATKV se Applouskompetisie se Gala-aand te Stellenbosch te gaan optree.

  4. BELANGRIKE GEBEURTENISSE

    Ons Skool se Naam

    Op 1 Augustus 1961 met die begin van die derde kwartaal is die deure van ons skool vir die eerste keer vir ons leerlinge oopgemaak. Buite teen die muur van die hoof se kantoor het die nuwe skool se naam in metaalletters gepryk. Die naam was: Lyttelton Tweede Afrikaansmedium Laerskool.

    Die tydelike hoof, oom Pietie Maree en die personeel het gevoel dat hierdie naam te lank en te lomp was. 'n Omsendbrief is uitgestuur waarin voorstelle vir 'n paslike naam gevra is. Daar was wye reaksie van die kant van die ouers en 'n paar van die voorgestelde name was : "Laerskool Jakaranda," "Susan Strydom", "Adelaar", "Arbeid Adel", "Astra", e.a.

    'n Lys van al die voorgestelde name is weer aan die ouers gestuur en daar moes gestem word. Die meeste stemme was ten gunste van die naam LAERSKOOL ADELAAR, wat meeste gemeen het, met die Lugmagbasis op ons drumpel, 'n paslike naam sou wees.

    Op 'n vergadering van die skoolkomitee moes daar oor die naam beslis word. Van die lede was nie baie tevrede met die naam nie en een lid, ek meen dit was mnr Koos Willers, het voorgestel dat die skool die naam LAERSKOOL FLEUR moet kry. Die voorsitter het die Verklarende Woordeboek, H.A.T. gaan haal wat die woord FLEUR verklaar het as "Blom, bloei, bloeityd, tyd van volle krag, fris, ongerepte voorkoms, glans, aantreklikheid," Die komitee het toe op die naam besluit, maar die TOD (Transvaalse Onderwysdepartement) wou dit nie aanvaar nie en het terug geantwoord dat daar reeds 'n Kleurlingskool in Johannesburg bestaan het met die naam: "Die Kleine Fleur".

    Intussen het daar nog etlike maande verbygegaan sonder om tot 'n beslissing te kom, maar toe kom daar 'n brief van die Departement om te sê dat "Die Kleine Fleur" in Johannesburg gesluit moes word omdat die getalle te min was. Ons skool het toe die naam LAERSKOOL FLEUR gekry.

    Die wapen en leuse van ons skool

    In 1963 toe mnr J J Grové hoof van die skool geword het, is daar weer 'n kompetisie uitgeskryf vir 'n wapen en leuse vir die skool. Hierdie keer was daar net twee inskrywings naamlik deur Kaptein George van Rhyn heraldikus van die Leër en een deur myself. My ontwerp was 'n wit geteuelde perdekop in 'n skild met 'n donkerblou agtergrond. Dit sou verwys het na Genl de Wet se oorlogsperd, Fleur, en sou ons heldegeskiedenis versinnebeeld. In elke hoek van die skild bo, het 'n half-oop protea verskyn, wat die jeug, die fleur van ons volk sou uitbeeld. Die leuse was STERK DEUR STRYD. Alles wat die moeite werd is word verkry deur stryd.

    Kaptein van Rhyn se ontwerp is aangeneem. Die leuse BLAAS HOOG DIE VLAM kom uit die gedig, "Die Smid" van E Marais. (Ten tye was daar reeds twee ander skole in Transvaal met hierdie leuse, naamlik die Hoërskool Eric Louw op Messina en nog 'n laerskool in Pretoria).

    Die wapen bokant die verhoog in die saal is deur my gemaak en geskenk en gesamentlik deur my en mev van Rhyn onthul. Die vaandel met die skoolwapen daarop is deur mnr H Swanepoel (Oom Swannie) laat maak en by dieselfde geleentheid aan die skool geskenk.

    Gedurende 1969 is die skoolpoort ingewy. Dit is ontwerp deur mnr M C Briers en gebou deur mnr Chris Botha. Die skoolwapen het in die suil tussen die twee hekke verskyn en is in mosaiëk deur my gemaak. Hierdie wapen is ongelukkig later deur vandale stukkend geslaan.
    (Pieter Roos)

    Intussen het ons personeellede gekom en gegaan. Van ons personeellede het hoofde en adjunk-hoofde geword. Ander het aanstellings aan onderwyskolleges en universiteite aanvaar. Ons leerlinge het groot geword en ons ken hulle vandag as Dominee, Dokter, Professor of Kaptein.

    Na 17 hoogs gewaardeerde jare het ons die 11de Desember 1979 afskeid geneem van mnr Grové wat met pensioen uit die diens getree het. Hy is ses maande lank opgevolg deur mnr Tjaart Henning wat hom baie goed van sy taak gekwyt het.

    Op 1 Augustus 1980 het ons huidige hoof, mnr J H H Meier diens aanvaar as ons tweede permanente hoof met mev Marie Meier aan sy sy. Ons het hom baie spoedig leer ken as iemand wat nie op andere wag om hom te help om 'n taak te verrig nie. Baie ywerig het hy sy taak begin om die Vlam hoog te laat brand. Ons skooltuin en skoolterrein is ontwikkel tot van die mooiste in Pretoria en sy omgewing. In 1982 het ons Fleur se mondigwording luisterryk gevier. Die afgelope jare neem ons leerlinge deel aan die Verwoerdburgse Kunswedstryd. Ons het onder leiding van mev I de la Rey 'n baie suksesvolle skoolkoor op die been gebring. Ons atletiek-, netbal- en rugbyspanne is nog steeds baie suksesvol. Teen die einde van vanjaar sal die standerd vyf-leerlinge, DV, weer die Veldskool bywoon.

    Graag wil ons dank betuig teenoor die ouers wat gewillig is om Saterdae soveel ure op te offer om werk by die skool te verrig. Ons terrein lyk baie mooi, en die decor vir ons operette lyk asof dit deur professionele mense gemaak is.

    Dit is 'n voorreg om lid te wees van die personeel van die Laerskool Fleur. Ons dank ons Hemelse Vader vir die afgelope vyf en twintig jaar.
    (Hermien Botha)