Biografie
Professor W A Landman


Inhoudsopgawe
Opleidingsinrigtings
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 1)
Laerskool
Olifantsfontein
(Deel 2)
Afrikaans Hoër
Seunskool
Normaalkollege
Pretoria
Laerskool
Witfield
(Deel 1)
Laerskool
Witfield
(Deel 2)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 1)
Laerskool
Louis Leipoldt
(Deel 2)
Hoërskool
Goedehoop
Laerskool
Fleur
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 1)
Hoërskool
Lyttelton
(Deel 2)
Universiteit van
Port Elizabeth
Die Universiteit van
Suid-Afrika
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 1)
Tegniese Kollege
Verwoerdburg
(Deel 2)
Universiteit
Vista
Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding
Universiteit van
Pretoria
(Deel 1)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 2)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 3)
Universiteit van
Pretoria
(Deel 4)


HOOFSTUK 2
Deel 2

VERBINTENIS AAN
LAERSKOOL OLIFANTSFONTEIN

  1. VERDERE VERBINTENIS MET OLIFANTSFONTEINSKOOL

    4.1  Kultuurlewe

    Leerlinge wat die Afrikaans Hoër Seunskool bygewoon het, het dit onmoontlik gevind om aldaar aan buitemuurse bedrywighede deel te neem. Onder inspirasie van die bekende skryfster, mev T C Pienaar (eggenote van die skoolhoof mnr C A Pienaar), is 'n sterk Kultuurverenigiging op die been gebring, en in stand gehou. Besonder gewild was die Toneelvereniging wat hom daarop toegelê het om die plaaslike toneeltalent (insluitende oud-Olifantsfonteinskoliere) te mobiliseer. Verskeie optredes het plaasgevind waarvan die opvallendste was optredes met Dingaanfeeste (later Geloftefeeste genoem) gewoonlik die aand van 15 Desember waarby ook 'n aantal 'resitasie-kompetisies' en sang-itemwedstryde.

    Met my Universiteits- en Onderwyskollege-jare is die verbintenis voorgesit soos blyk uit die volgende getuigskrif.

    4.2  Getuigskrif mnr C A Pienaar

    L.S.

    Dit is vir my aangenaam om te kan verklaar dat ek die heer Willie Landman vir 'n tydperk van vyftien (15) jaar ken.

    As jongman het hy hom geopenbaar as iemand wat groot belangstel in die kultuurlewe en vooruitgang van jong mense. Nadat hy sy kursus as onderwyser voltooi het, het hy hom dadelik beywer in die geestelike opvoeding van die jeug. Hy het dadelik lid geword van ons kultuurvereniging en as sekretaris van die vereniging het hy vir ons kostelose opheffingswerk verrig. Op verskeie kere het hy lesings van opvoedkundige aard gelewer en hy het werklik die siel van vereniging geword.

    Dis vir my 'n aangename voorreg om verder te kan verklaar dat hy nog steeds met daardie entoesiasme besiel is om die jonger geslag kultuurbewus te maak en daardeur opheffingswerk te kan doen.

    Get. C A Pienaar
    SKOOLHOOF

    Opmerking: Mev T C Pienaar het na die voorlesing van een van my opstelle by 'n Kultuurvereniging-vergadering teenoor my opgemerk: "Jy sal nog eendag 'n goeie skrywer word!".

    4.3  Ds C F B Naude

    C F Beyers Naude was predikant van die N G Kerk, Gemeente Olifantsfontein na afstigting uit Pretoria-Suid. Gedurende hierdie tydperk het sy gewildheid as predikant byna daagliks toegeneem vanweë

    • die Skrifgetrouheid van sy uitleg en voorlewing.

    • die gehalte en relevansie van sy huis- en siekbesoek. Hy het van huis tot huis (afgesien van kerkverband) bemoedig en vertroos;

    • die voorsiening van 'n eie kerksaal deur mobilisering van gemeentelike entoesiasme;

    • die vermyding van polities geïnspireerde geskille;

    • sy gemoedelike omgang met almal afgesien van ras, geloof of geslag;

    • die opwek van egte lojaliteit by sy volgelinge.

    Toe hy later in gedrang gekom het by Kerk en Owerheid, het die lojaliteit nie getaan nie. Hoogstens is sy "doel heilig die middele" houding bevraagteken. Toe hy by 'n Algemene Sinode gelyk gegee is dat hy nog altyd die korrekte standpunt steun, ten aansien van apartheid (ook in die kerk ingeneem en verdedig het was dit vir die lojales 'n bron van groot vreugde.

    Vir my (W A Landman) was sy getuienis van besondere betekenis: Gedurende die laaste termyn van onderwysersopleiding moet die student (voornemende onderwyser):

    1. registreer as onderwyser by 'n bepaalde Onderwysdepartement en die laaste aantal jare ook by 'n Professionele Raad;

    2. getuigskrifte insluit by aansoeke om geadverteerde onderwysposte.

      Vir beide hierdie doeleindes is 'n getuigskrif van 'n predikant onontbeerlik aangesien dit blyke daarvan gee dat die voornemende onderwyser nie afsydig gestaan het vanweë van 'n gekose rangorde van waardevoorkeur (lewensopvatting) nie.

      As koshuisstudent wat so te sê elke naweek huistoe (d.w.s. Olifantsfontein toe) gegaan het, was dit moeilik om 'n sertifiseerbare verhouding met 'n predikant op te bou. Koshuisbesoeke deur studente-predikante was te sporadies en op losse voet hiervoor. Af-en-toe naweekkontak met die tuispredikant was eweneens ontoereikend.

      Op versoek van my moeder was Ds Naude bereid om 'n getuigskrif te voorsien waarvoor ek tot vandag (2003) toe steeds opreg dankbaar is. Hier volg nou 'n afskrif van die getuigskrif vir die leser om self op te merk dat dit 'n waardevolle geskrif is:

    NED HERVORMDE OF GEREFORMEERDE KERK VAN S AFRIKA
    GEMEENTE : PRETORIA-SUID

    GETUIGSKRIF

    Dis met genoeë dat ondergetekende, predikant van die NH of G Gemeente, Pretoria-Suid, verklaar dat hy 'n getuigskrif van goeie sedelike gedrag en wandel wil gee aangaande

    Mnr W A Landman, Jnr

    Van Olifantsfontein. Hoewel ek nog nie baie lank in die gemeente is nie, het ek sy ouers goed leer ken en weet ek op grond van sy lewe en werk tot dusver dat hy 'n jongman is van goeie Christelike inbors, afkomstig uit 'n huis met 'n baie aangename en gesonde Christelike gees. Hy is eerlik en getrou, net en sindelik in voorkoms en werk, en aangenaam in die omgang. Sy karakter en lewe, sover my bekend, is skoon en onbesproke. Ek is seker dat hy 'n aanwins sal wees vir die werk waaraan hy hom sal wy. My beste wense vergesel hom.

    C F B NAUDE

    1. VERJAARSDAGVIERINGE

      5.1  Vyftigjarige bestaan - 1963

      Herdenking van die

      VYFTIGJARIGE

      Bestaan van die

      LAERSKOOL OLIFANTSFONTEIN

      PROGRAM

      1. Opening: Skriflesing en gebed - ds H M du Plessis.

      2. Verwelkoming en kort oorsig: mnr C N Kruger, hoof.

      3. Toespraak: Mnr A J Koen, Adjunk-Direkteur.

      4. Klaviersolo : mev H A C de Villiers.

      5. Boodskappe deur mev D van Schalkwyk, mnr F J le Roux
        en mnr C A Pienaar, oud-hoofde van die skool.

      6. Sangsolo : Mnr R Holtshausen.

      7. Boodskap deur 'n oudleerling : Dr W A Landman.

      8. Verversings.

      (Seremoniemeester: mnr P J P Ackerman)


    1963

    Dr Willem Landman aan die woord

    Ds H M du Plessis,
    voorsitter van die Skoolkomitee, sittende

    1963

    Dr Willem Landman aan die woord

    Mnr C N Kruger, skoolhoof,
    in die middel van die foto, kyk direk na die kamera

    5.2  Driekwarteeufees - 1988

    Plek : Voetbalveld Olifantsfonteinskool
    Skoolhoof : Mnr Koen
    Vermaaklikheidskunstenaar : Al Debbo

    Boodskap namens oud-leerlinge : Prof W A Landman

    Spesiaal :

    1. Heerlike verversings deur die Moedergemeenskap.

    2. 'n Spesiale teël is uitgeloot. Dit was 'n goeie idee omdat teëlvervaardiging (Pottery!) een van die eerste aktiwiteite van die Conrand-fabriek was. Die oorspronklike gebou se vensters was ook met teëls omraam en die klaskamers was tot op vensterhoogte geteël wat aan die skool (deur buitestaanders) spottend die "badkamerskool" genoem is.


    1988

    Die Teël met die skoolwapen

    5.3  Verdere verloop

    1968  Eerste aanbouings en opknapping.
    1982  Tweede reeks aanbouings.
    1989  Nuwe administrasieblok

    Spesiale vermelding : Onder leiding van en met sy inisiatief en entoesiasme bou die ouergemeenskap self hulle skool se saal, wat later die C.N. Krugersaal genoem sal word.

    5.4  Tussen stasies


    Olifantsfonteinstasie is sowat 1 myl (1.6 km) geleë van die dorpsgebied. Hoërskoolleerlinge en ook 'n aantal stadswerkers (Pretoria en die Rand) het die afstand daagliks per fiets afgelê en 'n fietsbergplek is op die stasie ingerig.

    Die skoliere het op Pretoriastasie oorgeklim op die trein wat die Oosterlyn gebruik het (na die rigting) van Laurenço Marques. By Mearstraatstasie is die Onderwyskollegestudente opgelaai wat graadstudie aan die Universiteit van Pretoria gevolg het. Alle leerders is opgelaai op die spoorweghalte Colleges wat later herdoop is na Loftus.

    Olifantsfontein leerders het smiddae ongeveer 15:00 gearriveer om dan huiswaarts te keer om ons byna onmiddellik (veral sonder om eers bietjie te rus) met die huiswerk te begin. Deelname aan die Hoërskool se naskoolse bedrywighede was so te sê onmoontlik. Slegs enkele leerlinge was bereid om eers later (omtrent 18:00) terug te kom.

    Die Hoërskool wat ek bygewoon het, was die Afrikaanse Hoër Seunskool (kyk volgende hoofstuk).

    1. TWEE JONG ONDERWYSERS VERKEN SUID-AFRIKA

      INLEIDEND

      Julie 1946 het aangebreek. Dis die eerste wintervakansie vir twee onderwysers wat aan die begin van 1946 begin skoolhou het - albei by laerskole. Die onderwysers is mnre Renier Pieterse en Willem Landman. Albei het weens omstandighede nog min van Suid-Afrika gesien. So het Renier nog nooit die see gesien nie, terwyl Willem twee keer saam met sy familie Lourenco Marques besoek het. Geld was nie as probleem gesien nie, aangesien elkeen van ons reeds vyf salaristjeks ontvang het.

      Die eerste probleem was om 'n ryding (voertuig) in die hande te kry. Die enigste wat moontlik beskikbaar was, was 'n Noag-Dodge (model onbekend) wat aan Renier se swaer behoort het. Hy het 'n aantal redes aangevoer waarom ons nie die kar kon kry nie.

      1. Die bande is byna glad. Geen probleem nie, ons sal twee ekstra buitebande (wat daar rondgelê het) saam neem.

      2. Die remstelsel is swak en sal julle beslis in die steek laat. Geen probleem nie, ons sal stadig ry en beide die handrem en voetrem gebruik.

      3. Die selfaansitter werk soms, maar is geneig om dikwels te weier. Geen probleem nie, ons sal aan die einde van elke rydag teen 'n afdraende stilhou en die kar aan die brand stoot.

      4. Julle het nie verblyfplek nie. Geen probleem nie, ons sal die motor se agterste sitplek verwyder en 'n aantal komberse met lakens oprol wat saans weer oopgerol kon word.

      5. Ernstigste probleem van almal: Renier kan glad nie motor bestuur nie, en Willem, alhoewel hy reeds bestuur vandat hy tien jaar oud is, het nie 'n bestuurderslisensie nie. Geen probleem nie: daar word ernstig belowe dat dit voor die vertrekdatum verkry sou word - alhoewel ons toe reeds geweet het dat dit nie kan gebeur nie. Willem het wel 'n afspraak gekry by die Pretoriase Motorvoertuigafdeling maar dit was eers na afloop van die vakansie.

      6. Waar gaan julle eet? Ons sal 'n aantal blikkies kos saamneem en verder op 'take-aways' staatmaak.


      Die Dodge

      Let op die twee ekstra buitebande
      (dit was egter nooit nodig om dit te gebruik nie).

      Die enjinkap is oop om die wintersonnetjie toegang te verleen.
      Dit het nie veel gehelp nie.

      Plek: Eerste nag langs 'n Standerton-bos

      Die kar het nie 'n radio gehad nie. Om daarvoor te vergoed het ons 'n draagbare grammofoon gehad (met slinger) en het ons 'n aantal grammofoonplate gekoop. Terwyl ek bestuur staan die grammofoon op Renier se skoot en die musiek weergalm.

      Die eerste dag:
      Die motor verseg om te vat en ons moes wag tot my vader etenstyd huistoe kom om ons te help. Gou het hy die motor aan die gang en ons vertrek en ry teen ongeveer 20 myl per uur (32 km per uur) en kom die eerste aand aan in Standerton waar ons langs 'n bos slaap op 'n effense afdraende pad. Die volgende oggend was ons stoot te stadig om die kar te laat vat. Gelukkig kom daar 'n paar laggende en babbellende huishulpe verby en spoedig was ons op weg.

      Die volgende mikpunt: Harrismith (oor Vrede en Warden). Vermeldingswaardig is:

      1. Ons verblyf in die Hotel Royal. My neef Hans Delport tref die nodige reëlings. Ons eet en slaap lekker.

      2. Die volgende oggend neem ons eers die Dodge na 'n motorhawe om te kyk wat hulle aan die remstelsel kan doen. Die werktuigkundige verklaar dat hy nie veel sal kan doen nie, en voeg by: "Ek sal nie 'n tree met hierdie kar ry nie".

      3. Intussen besoek ons die wolfabriek. Die bestuurder se van is De Donner. Hy ontvang ons vriendelik.

      4. Ons vertrek na Bloemfontein per grondpad. Net buite Harrismith is 'n steil bult. Net so halfpad teen die bult uit hel die Dodge skielik skuins van links agter. Ek stop en is net betyds om te sien hoe die linker agterwiel teen die bult afrol. Nadat die wiel herwin is en ons die kar opdomkrag, sien ons dat die wieltrom onder waar dit die pad getref het, taamlik plat is. Gelukkig vind ons tussen die 'spanners' 'n kwartpondhamer en 'n beitel. Spoedig is die trom rond genoeg om die wiel te akkommodeer en is ons weer op pad. Die slim werktuigkundige het blykbaar nie die wielskroewe vasgedraai nie!

      Net duskant Bloemfontein sien ons 'n hoewe (plot) wat veral weens die naderende skemerte aantreklik lyk. Ons stop voor die plaashuis en stel onsself bekend aan die Oom en Tante en vra toestemming om op te werf te oornag. Die Oom is lus om politiek te gesels en gou is ons skoon genoeg om by die tafel aan te sit vir 'n heerlike ete wat die Tante met veel sorg voorberei het. Nadat ons land en sand politiek gepraat het, en oor alles met mekaar saamgestem het, bevind ons onsself in 'n reuse verebed. Na 'n besonder goeie nagrus en 'n heerlike ontbyt, is ons gereed om die pad te vat. Die Dodge weier egter om 'n voetjie te versit. Die probleem is gou opgelos toe die Oom sy perdekar voor aan die Dodge haak en hom aan die brand te trek.


    Die Royal Hotel Harrismith

    Links is Renier en regs my neef,
    Hans Delport, by die Dodge

    Middagete

    Willem Landman en die bliktrommel
    met voorraad links op die grond

    Renier met die beker en
    en tekens van beskaafdheid

    Net buite Bloemfontein

    Die motor se agterste sitplek is nog buite vir die nag.
    Let op die grammefoon in die regter onderste hoek!

    Ons is versigtig deur Bloemfontein en reis oor Reddersburg, Edenburg, Smithfield, Rouxville tot by Aliwal Noord. By Smithfield besluit ons om melk by een van die huise te koop. Ons is daar weg met 'n bottel vars plaasmelk. Ons slaap in die veld.

    Die Dodge se aansitter werk toe vir 'n wonder goed en ons kies koers oor Jamestown, Dordrecht, Umtata, Port St Johns en slaap die nag onder 'n boom in Lusikisiki (Transkei). Die inwoners steur hulle nie veel aan ons nie, behalwe om vriendelik te groet.

    Die volgende dag reis ons verder deur Flagstaff, Bizane, Port Edward, Port Sheptone, Amanzimtoti, Durban. 'n Groot deel is grondpad maar die Dodge skrik vir niks.

    Ons volgende halte is DIE BLUFF, Durban waar ons 'n buitengewone ervaring gehad het: Ons was op weg na die huis van Nick Mentz se suster en swaer (die Jurgens) op 'n stadige spoed. Pas nadat ons die polisiestasie verby is, gee die remstelsel die gees. Ek had geen ander keuse as om uit die straat te swaai nie. Gelukkig het 'n stewige boom gekeer dat ons op die spoorlyne beland het. Die boom was morsaf. Die polisie was onmiddellik by en neem my as bestuurder die polisiestasie in vir ondervraging. Op navraag kon ek nie die Dodge se registrasienommer verstrek nie en was hulle seker dat die motor gesteel is. Toe kom die vraag: Waarheen is julle oppad? Antwoord: Na Offisier (het nie geweet wat sy rang is nie) JURGENS se huis. "Jurgens!- kom ons neem julle dadelik na hom toe. Julle kan later die motor kom haal!."

    Na 'n heerlike middagete is ons terug na die Dodge waar hy as't ware wydsbeen oor die omgestampte boom gestaan het. Jurgens het hom in trurat geplaas en skielik was die Dodge los. Daarna het ons vinnig na die woonhuis gery.

    Renier met Rachel (my verloofde)
    en Alida (my suster)

    'n Paar dae later, nadat ons met Nick as gids Durban verken het, was ons gereed om te vertrek. Die polisiebevelvoerder stel die volgende voorwaarde: Jurgens sal bestuur tot by die naaste garage waar herstelwerk aan die remstelsel gedoen moet word. Dit is toe presies ook wat gebeur het. Toe Jurgens sy rug draai, maak iemand die opmerking: Ons het genoeg van Durban gesien maar nog niks van Pietermaritzburg nie. Toe aan my: sien jy kans om hierdie kar in die toestand wat hy is, Pietermaritzburg toe te bestuur? Ek sien toe kans omdat ek gereken het op stadig ry, die remkrag van die ratkas, die bietjie remsdruk wat nog in die stelsel oorgebly het en die handrem. Die rit het toe wonder bo wonder sonder voorval verloop en ons het ongeskonde ingetrek by 'n garage in Pietermaritzburg waar die nodige 'lapwerk' toe gedoen is.

    Die volgende skof is na Estcourt. Daar het ons die nag langs 'n munisipale tennisbaan geslaap.

    Die volgende dag vroeg vertrek ons vanaf Estcourt en wonder bo wonder die selfaansitter vat. Ons het goed gevorder op weg na Ladysmith toe die regter agterwiel skielik vasslaan en sleep. Die enigste uitweg was om met groot gesukkel die wiel met remtrom en al te verwyder. Weer was die hamer en beitel byderhand en ons het die rembande verwyder. Die wiel gaan toe maklik in. Toe ons vertrek merk ek gou op dat die remstelsel nog steeds goed werk, maar in die regteragterwiel was dit metaal op metaal wat nogal 'n aardige geluid afgegee het - wat gelukkig nie die verkeersowerhede se aandag getrek het nie. Trouens, dis 'n wonderwerk dat ons nooit aandag op die Dodge getrek het nie.

    Die reis was voorspoedig en ons het via Volksrust, Newcastle en Standerton ongeskonde te Olifantsfontein geland.


    Die Tugelarivier-brug

    Amajuba

    Walvisstasie Durban

    Sedertdien gesluit

    Nick Mentz

    Nick se suster gee ons 'n paar dae verblyf
    op die Bluff, Durban
    Hy neem ons rond in Durban
    NOTA: Renier het later Volksraadslid vir Pretoria-Wes geword. Hy is enkele jare daar na oorlede.

    Die idee was dat Renier langs die pad geleentheid sou kry om te leer motor bestuur. Dit het, weens die toestand van die Dodge, nooit geskied nie. Hy het maar goed dopgehou wat ek gedoen het. Hy moes weer by Cyferfontein uitkom en dit via die wal van die Hartbeespoortdam. Hy het die Dodge soos 'n ware kenner bestyg, glad vertrek en heelhuids, Cyferfontein bereik. Die Dodge is later opgesaag en loop seker vandag nog, maar nou in die vorm van 'n donkiekar.

    Ons het met die toer 2 896 km afgelê sonder om 'n letsel op te doen of 'n moontlike onoorkomende moeilikhede te beland. Ek glo dit was my vader se gebede wat ons bewaar het.