Willem Adolf Landman is op 27 Junie 1923 te Olifantsfontein in die distrik Pretoria
gebore. Hy begin sy laerskoolopleiding aan 'n tweepersoneel-plaasskool in
Olifantsfontein en matrikuleer aan die einde van 1941 aan die Afrikaanse Hoër
Seunskool, Pretoria.
Hy studeer vanaf 1942 aan die Universiteit van Pretoria en behaal in 1944 die B.Sc-graad
in die biologiese wetenskappe. In 1945 verwerf hy die Transvaalse Onderwysdiploma aan
die Pretoriase Normaalkollege. Hy slaag die volgende vakke met lof: Beginsels van
Onderwys, Organisasie en Administrasie, Kindersielkunde en Middelbare Skoolmetodiek in
Biologie.
Vanweë sy besondere belangstelling in die menswetenskappe, verwerf hy met lof die grade
M.Ed in 1954, D.Ed in 1962, B.A. (Hons.) (Wysbegeerte) in 1966, en M.A. (Wysbegeerte)
in 1967 en die D.Phil (Wysbegeerte) in 1970 aan die Universiteit van Pretoria. Hy ontvang
ook drie ere-doktorsgrade, onderskeidelik van:
Hy dien die Transvaalse Onderwysdepartement vir 15 jaar: eers as assistent-onderwyser,
toe as vise-hoof en later as senior dosent aan die Onderwyskollege Pretoria.
In laasgenoemde pos doseer hy die metodiek van Natuurwetenskap en Toegepaste Natuurwetenskap
vir Huishoudkundestudente.
Vanaf 1962 was hy dosent en senior dosent (1963) in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan
die Universiteit van Pretoria. Gedurende 1966 en 1967 beklee hy 'n leerstoel in die Pedagogiek
(Opdrag: Didaktiese Pedagogiek en Navorsingsmetodologie) aan die Universiteit van Port Elizabeth.
Op 1 Januarie 1968 volg hy professor C.K. Oberholzer op as professor en
hoof van die Departement Filosofie van die Opvoeding aan die Universiteit van Pretoria. Onder
sy leiding groei hierdie departement tot die Departement Fundamentele Pedagogiek. Tot en
met sy aftrede in Junie 1988 was hy adjunkdekaan van die Fakulteit Opvoedkunde.
Hy beklee vanaf Junie 1988 tot Junie 1990 'n tydelik-voltydse doseer- en
navorsingspos aan die Universiteit van Pretoria. Vanaf Julie 1990 tot Desember 1993 tree
hy op as deeltydse senior navorser in die Instituut vir Opvoedkundige Navorsing, Universiteit
van Suid-Afrika.
Onder professor Landman se leiding is 28 doktorandi gepromoveer waarvan 11 mettertyd self
professore geword het.
Sy biografiese besonderhede is opgeneem in "International Who's Who in Education"
(Cambridge, Engeland).