Professor W A Landman


Terug na "Agtergrond"

MOTIVERINGS VIR ERE-DOKTORSGRADE

RANDSE AFRIKAANSE UNIVERSITEIT
5 MAART 1995

Die graad Doctor Educationis word hiermee om die volgende redes honoris causa aan Willem Adolf Landman toegeken :

  • Die leeue-aandeel wat hy by wyse van 44 boeke en 80 artikels tot die teorie en praktyk van die opvoedkunde bygedra het, veral wat die fundering van die opvoedkunde in kategoriale strukture en pedagogiese essensies betref.

  • Die operasionalisering van die metodiese stappe van die fenomenologiese metode en die gepaardgaande wegbreek van metode-monisme deur die insluiting van onder meer die hermeneutiese en empiriese metodes.

  • Die volhardende inspanning waarmee hy jarelank die onderwysgemeenskap gedien het, asook sy betrokkenheid by die hoofbesture van die georganiseerde onderwys, waaronder die Suid-Afrikaanse Onderwysersraad.


UNIVERSITEIT VAN DIE ORANJE-VRYSTAAT
16 SEPTEMBER 1995

Vir die afgelope byna drie dekades was prof Willem Landman ongetwyfeld een van die toonaangewende wetenskaplikes op die terrein van die Opvoedkunde in Suid-Afrika.

Hy het 'n koersduidende bydrae gelewer tot die aanwending van die fenomenologiese metode op die terrein van die Opvoedkunde. In hierdie verband het hy homself egter bewys as 'n oorspronklike denker in eie reg wat dit gewaag het om sy eie weë te bewandel. Hiervan getuig die feit dat soveei opleidingsinrigtings vir onderwysers in die RSA op die een of ander wyse deur prof Landman se denkuitkomste georiënteerd was.

Gedurende die afgelope bykans dertig jaar het prof Landman nie net in die RSA akademiese erkenning geniet nie. Ook oorsee is daar terdeë kennis geneem van sy bydrae op die terrein van die Opvoedkunde. Etlike wetenskaplike studies is dan ook in die jongste verlede in sowel die RSA as oorsee onderneem om sy bydrae tot die Opvoedkunde na waarde te skat.

Dit is vir die Universiteit van die Oranje-Vrystaat 'n voorreg om die graad D.Ed.(h.c.) Aan prof Landman toe te ken.


UNIVERSITEIT VAN PRETORIA
1 DESEMBER 1997

Reeds vir byna drie dekades is prof Landman ongetwyfeld een van die toonaangewende wetenskaplikes op die terrein van die Opvoedkunde in Suid-Afrika. 28 doktorandi het onder sy leiding gepromoveer van wie elf mettertyd self professore geword het.

Met die toekenning van die graad D.Ed (Honoris causa) aan W A Landman, vereer die Universiteit van Pretoria 'n buitengewone presteerder op die gebied van navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens.