Basiese begrippe

Werkwyse
Deel 1

Werkwyse
Deel 2

Uitkomste
Deel 1

Uitkomste
Deel 2

Lesstruktuur-
essensies

Fundamentele
Pedagogiek

Pedagogiek

Terug na "Inhoud"

5.  FUNDAMENTELE PEDAGOGIEK


5.1  OPVOEDENDE LEER, FUNDAMENTEEL-PEDAGOGIES GESIEN

LEER is 'n werklikheid wat noodwendig tot menswees behoort, dit wil sê menswees (menslikheid) kan daarsonder nie gedink en ook nie begryp word nie. Leer is dus 'n eksistensiaal. LEER is verder 'n lewensfunksie wat op 'n duidelike wyse toon wat die mens werklik essensieel is. Leer is dus 'n antropologiese kategorie. Dit beteken dat wanneer leer as 'n beligtende denkmiddel aangewend word (dit wil sê wanneer daar na die werklikheid in terme van leer denkend gekyk word), kan raakgesien word dat die mens 'n verwerwer is en wel 'n verwerwer van kan en ken. Deur leer word iets verwerf (deur arbeid en moeite verkry) naamlik kan (doen) en ken. Die mens leer om te kan en om te ken. Hy is ook daartoe instaat om dit wat hy geleer het om te kan doen en te ken, in te bou in sy wyse van lewe en hy wil dit ook doen. Die mens wil leer kan (doen, handel) en ken.

Om opvoedend te leer ken en kan, dus om al lerende te vorder op die weg na behoorlike volwassenheid, is onder andere om besondere inhoude toe te eien (soos by voorbeeld kurrikulêr vir die skool geselekteer), om waardevolle gedraginge, belewinge, ervarings en wilshandeling te bemeester en om in sekere vaardighede bekwaam te word. LEER is dan:

  1. die verwerwing van betekenisvolle inhoude;

  2. die verowering van betekenisvolle gedraginge, belewinge, ervarings en wilshandelinge; en

  3. die ontplooiing van betekenisvolle kan (doen) en vaardighede.

Sodra betekenisvolheid beklemtoon word, word daarmee te kenne gegee dat LEER se behaviouristiese definisie, naamlik dat dit 'n "gedragsverandering is op grond van bepaalde prikkels", sinloos is. Daar is wel sprake van 'n positiewe wysiging van gedra, beleef, ervaar, wil en ken, maar dan as voorbereiding vir 'n verbetering van verhoudinge as 'n rasioneel-kommunikatiewe handeling met die werklikheid. Dit beteken dat in die denkende kommunikasie (verhouding) met die werklikheid, sekere inhoude aanspoor tot nadenke en deurdenke waardeur niveauverheffing geskied. Dit is belangrik om te beklemtoon dat daar geen kloof (gaping) tussen ken en handel mag wees nie. Leer moet lei tot ken en kan (dit wil sê handel) op grond van betekenisvoile inhoude, gedra deur betekenisvolle gedraginge, belewinge, ervaringe en wilshandelinge, (soms) in die vorm van betekenisvolle vaardighede.

Deur opvoedende leer sal die kind se verhouding tot die werklikheid steeds wysig en wel in die rigting van 'n geleidelike en steeds toenemende volwasse verhouding tot die werklikheid. Dit beteken dat opvoeding gesien kan word as handelinge waardeur opvoedende LEER (as besondere verhouding tot die werklikheid) moontlik gemaak word. Opvoedingsessensies (hier: fundamenteel-pedagogiese essensies) se verwerkliking dien as moontlikheidsvoorwaardes vir leer as betekenisvolle wysiging van verhoudinge en ook die verwerwing van nuwe verhoudinge. Hierdie verhoudinge is onder andere gedra-, beleef-, ervaar-, ken- en wilsverhoudinge. Opvoedende leer kan nou gedefinieer word as 'n betekenisvolle wysiging van daardie verhoudinge tot die werklikheid wat bekend staan as gedra, beleef, ervaar, wil en ken. Dit is 'n wysiging wat voltrek word aan die hand van besondere inhoude en vaardighede, steeds nader aan behoorlike volwassenheid.

Die volgende vraag ontstaan nou: op welke wyse word hierdie betekenisvolle wysiging voltrek? Een besondere stel wyses waardeur verhoudinge tot die werklikheid gewysig kan word, is daardie handelinge wat as LEERWYSES bekend staan. Deur wyses van leer te verwerklik, word sekere verhoudinge tot die werklikheid algaande betekenisvol gewysig steeds in die rigting van toereikender volwassenheid. Vir die Fundamentele Pedagogiek gaan dit nou in die eerste plek om 'n eie wesensanalise van leerwyses (soos dear die Psigopedagogiek beskryf en uitgelê); tweedens om die aan die lig bring van die sinsamehange tussen leerwyses en bepaalde verhoudinge tot die werklikheid, en in die derde plek om die fundamenteel-pedagogiese voorwaardes vir die verwerkliking van die leerwyses en die daarmee saamhangende verhoudinge wat uiteindelik met die bereiking van toereikende volwassenheid selfstandige leefwyses sal wees, aan die lig te bring.

Leerwyses staan dus in 'n besondere wisselwerking met besondere verhoudinge tot die werklikheid en met fundamenteel-pedagogiese strukture, en vorm saam met die onderrig deel van die opvoedingsveld. Leerwyses, besondere wêreldverhoudinge, onderrigwyses (onder andere lesverloopessensies) en fundamenteel-pedagogiese strukture vorm 'n onverbreekbare en sinvolle eenheid - op die kind se wordingsweg.

Opvoeding is (in terme van die voorgaande) om die lerende kind te ondersteun tot volwasse verhoudinge tot die werklikheid, dit wil sê tot 'n volwasse wyse van gedra, ervaar, beleef, wil, ken en dit geskied onder andere deur die verwerkliking van toenemende selfstandige leerwyses, dit wil sê deur 'n toenemend volwasse gewaar word, waarneem, aandag-gee, dink en memoriseer.

Hierby moet egter nog twee sake gevoeg word:

  1. aangesien opvoeding die verwerkliking van opvoedingsessensies (hier: fundamenteel-pedagogiese essensies) is, sal die verband tussen fundamenteel-pedagogiese strukture (met hulle essensies) en die leerwyses en 'n aantal besondere verhoudinge met die werklikheid, oopgedek moet word; en

  2. aangesien opvoeding sonder onderrig nie moontlik is nie, sal die verbande van leerwyses, wêreldverhoudinge, fundamenteel-pedagogiese essensies met onderrigessensies (hier: lesver-loopessensies), geopenbaar moet word.
Die kind se verhoudinge teenoor die werklikheid wat deur opvoedende leer steeds nader aan toereikende volwassenheid verhef moet word, is die

  1. gedra-verhouding,

  2. beleef-verhouding,

  3. ervaar-verhouding,

  4. wil-verhouding, en

  5. ken-verhouding.

Die wyses waarop elkeen van hierdie verhoudinge verhef kan word, is die volgende leerwyses:

  1. gewaarword-handeling,

  2. waarneem-handeling,

  3. aandaggee-handeling,

  4. dink-handeling, en

  5. memoriseer-handeling.


Landman, W.A., Van Zyl, M.E.J. en Roos, S.G.: Fundamenteel-Pedagogiese Essensies: hulle verskyning, verwerkliking en inhoudgewing - met kernvrae, Butterworths, Durban, 1975.

Terug na "Pedagogiek - basies begrippe"