Professor W A Landman


Terug na "Toekennings"

MOTIVERINGS VIR OORKONDES

TRANSVAALSE
ONDERWYSERSVERENIGING

21 SEPTEMBER 1984

Hy lewer as formuleerder van TO-standpunte oor algemene onderwysbeginsels en as kommentaar oor verskillende onderwysaangeleenthede 'n waardevolle bydrae. Sy bydrae strek nie net die TO en die georganiseerde professie tot eer nie, maar is ook van wesenlike belang vir die onderwys en opvoeding van die Afrikanerkind.

Sy kollegas en vriende ken prof Landman as 'n warme, vriendelike mens met 'n besondere humorsin. Sy nederigheid ten spyte van uitstaande prestasies, sy produktiewe werkvermoë en die adel wat hy in sy dagtaak vind, gee 'n besondere persoonlikheidsdimensie aan WILLEM LANDMAN. Hy is 'n beginselmens wat dit wat hy met die mond bely, met die daad bevestig. Sy lewe van diens betuig nie net van geroepenheid nie, maar ook van roepingsgehoorsaamheid. Daarom is hy Godsman, kerkman, kultuurman en volksman wie se liefde vir sy eie bo alle twyfel staan.

Prof Landman het deur sy lewe en werk getoon dat hy 'n waardige houer van hierdie toekenning sal wees en dit is daarom vir die TO 'n besondere eer en voorreg om op so 'n wyse hulde te bring aan 'n man wat sy lewe wy in diens van die Opvoedkunde en die onderwys.


ONDERWYSKOLLEGE PRETORIA

6 Desember 1988

In die geledere van georganiseerde onderwys is hy 'n geliefde mens - 'n persoon wie se fyn humorsin en inspirerende geaardheid kenmerkend is. Hy is daarom altyd 'n bouer van 'n gees van samewerking - 'n ware brugbouer en verhoudingstigter.

As kundige onderwyser, onderwyskundige, opvoedkundige van faam en toegewyde opvoeder het WILLEM ADOLF LANDMAN 'n onuitwisbare stempel op die onderwys plaas - daarom is dit 'n besondere eer en voorreg om die hoogste toekenning van die Onderwyskollege Pretoria, die Erepenning, nou aan hom te oorhandig.


NATALSE ONDERWYSERSUNIE

1 September 1989

Die Natalse Onderwysersunie bring hulde aan

PROF WILLEM ADOLF LANDMAN

vir

Sy bydrae tot opleiding en vorming van Afrikaneronderwysers - Die handhawing van die Christelike en nasionale ideale in die opleidingstaak - Sy bydrae tot die intellektuele en kulturele ontwikkeling van die Afrikanerjeug - Sy monumentale bydrae tot die georganiseerde onderwysprofessie.

In die dampkring van sy groot gees het 'n onderwysideaal ontkiem, gegroei en gestalte aangeneem as hoeksteen van 'n huis nie met hande gebou nie en met 'n uitsig op die Ewigheid.

Oorhandig tydens die Halfeeufeesgeleentheid.


STADSRAAD VAN CENTURION

ERETOEKENNING

Erkenning word hiermee deur die Stadsraad van Centurion

aan

PROFESSOR WILLEM ADOLF LANDMAN

verleen vir die buitengewone bydrae wat hy aan die gemeenskap van Centurion gelewer het, met spesiale verwysing na die bydrae as geskiedskrywer van die dorp.

Prof Landman het as internasionale en erkende bekende opvoedkundige 'n reuse bydrae gelewer in die uitbouing van die filosofie van opvoeding asook op die gebied van navorsingsmetodologie van opvoedkunde.

Voorts word erkenning ook aan hom verleen vir die bydrae aan die plaaslike gemeenskap waar hy oor 'n periode van 30 jaar op verskeie beheerrade van skole asook op die van die Centurion Tegniese Koilege gedien het.

Sy veelsydigheid, wye belangstelling en betrokkenheid is kwalitatief gedemonstreer in sy jongste bydrae wat handel oor die geskiedenis van Verwoerdburg : Pêrel van die Hoëveld (1967-1993). Hierdie kosbare werk verbind die verlede aan die hede en bied waardevolle inligting oor die oorsprong en ontwikkeling van hierdie besondere stad van geleenthede wat as erfenis vir 'n nuwe generasie bewaar sal word.

Met groot respek, agting en dankbaarheid word hierdie spesiale persoon vereer vir sy besondere betrokkenheid en interaksie met die gemeenskap en die mense binne sy invloedsfeer.

God se rykste seën en 'n vreugdevolle toekoms word hom toegewens.

RAADSHEER P E SMITH
VOORSITTER: UK

RAADSLID K J MINNIE
BURGEMEESTER

30 MAART 1999