Terug na "Toekennings"
MOTIVERINGS VIR MEDALJES
SAVBO : EREPENN1NG
PROF DR W A LANDMAN
UNIVERSITEIT VAN PRETORIA
1981
Voorgedra deur: Prof dr C J G Kilian
Universiteit van Suid-Afrika
COMMENDATIO
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van die Opvoedkunde wil graag aan Willem Adolf
Landman besondere erkenning verleen. Hierdie erkenning geskied om die volgende redes:
- Prof W A Landman het die afgelope twintig jaar uitmuntende akademiese arbeid en veelvuldige
wetenskaplike bydraes op die gebied van die Pedagogiek gelewer. Die hoë kwaliteit van sy
wetenskaplike denke beïndruk almal wat met hom in aanraking kom of van sy werke binne en buite
Suid-Afrika lees.
- Prof Landman is in die besonder bekend vir sy skerpsinnige en rigtinggewende denke op die
vakterrein bekend as die Fundamenteie Pedagogiek. Hiervoor wil SAVBO hom vereer. Landman sluit in
sy fundamenteel-pedagogiese denke aan by C K Oberholzer se ontologiese fundering van die
Pedagogiek waardeur die wetenskap op 'n relatiewe, respektiewelik gefundeerde outonomie aanspraak
kan maak.
- Landman het met die loop van jare aangetoon dat binne die raamwerk van die pedagogiese en
pedagogiekdenke ontologie slegs as fenomenologie moontlik en fenomenoiogie slegs as ontologie
sinvol is. Daarom is dit die taak van die fundamentele pedagogiker om radikaal-empiries op soek
te wees na die werklike essensialiteite of die essensiële werklikhede van die pedagogiese wat as
fundamentele lewenswyses die gronde of die moontlikheidsvoorwaardes vir alle opvoeding vorm.
Hierdie betekenisvolle werkswyse het aan Landman binne fundamentele pedagogiekkringe die erenaam
"essensiepedagogiker" besorg. Hy het beslis 'n duidelike keuse tussen essensiebewustheid en
essensieblindheid gemaak.
- Op grond van sy sterk kenteoretiese ingesteldheid het Landman terselfdertyd besef dat die
ontdekking van pedagogiese essensies vir die pedagogiker waardeloos sou wees tensy die essensies
in spesiale pedagogiese vorms gegiet word. Ook in hierdie verband het hy by Oberhoizer aangesluit
en laasgenoemde se denke verder gevoer en pragtig uitgebou deur pertinent die pedagogiese
kategorieë-ontwerp met die pedagogiese essensie-onthulling te verbind.
Daarmee is die era van pedagogiese kategorieë-en-kriteria-ontwerp op 'n vaste voet geplaas. Die
pedagogiese kategorieë en -kriteria het die outonomie van die Pedagogiek finaal bevestig en die
naam Willem Landman figureer in die opsig uitermate sterk.
Die pedagogiker Landman is nie net 'n buitengewone wetenskaplike nie, maar ook 'n fyn pedagoog.
Daarom kan die wetenskap vir hom nie bloot ter wille van die wetenskap self beoefen word nie.
Daar moet by die la science pur la science verbygekyk en verbybeweeg word deur die
praktykwording van die Fundamentele Pedagogiek. Landman het vanuit die fenomenologies-georiënteerde
pedagogieksfeer op verrassende wyse opnuut die belangrikheid van die lewensopvatting aangetoon.
Die pedagoog staan onder 'n dubbele appèl wat voortvloei uit sy pedagogiese en lewensopvatlike
insigte. Ook op wetenskaplike vlak het Landman met hierdie dubbele appèl rekening gehou deur sy
dubbele postulaat: wetenskaplike noodwendigheid en lewensopvatlike toelaatbaarheid. Die
fundamentele lewenswyses van die pedagogiese word nou lewende fundamentalia in die
opvoedingspraktyk.
STALSPRYS VIR OPVOEDKUNDE
-MET MEDALJE
1984
Voorgedra deur: Prof F van der Stoep,
Dekaan, Fakulteit Opvoedkunde,
Universiteit van Pretoria.
Prof W A Landman het die afgelope 25 jaar uitmuntende akademiese arbeid en veelvuldige
wetenskaplike bydraes op die gebied van die Pedagogiek, navorsingsmetodologie en kurrikulumstudie
gelewer. Hiervan getuig onder andere sy 13 groot publikasies as alleen-outeur; 22 publikasies as
mede-outeur en 48 artikels in verskillende vaktydskrifte hier en in die buiteland.
Prof Landman is in die besonder bekend vir sy skerpsinnige en rigtinggewende denke in die
Opvoedkunde. Hy onderskei hom hier deur sy publikasies waarin die saak van die radikaal empiriese
denke ontwerp en uitgeken word. Hierdie werkswyse het aan hom binne akademiese kringe die naam
van "essensiepedagogieker" besorg. Sy bydrae tot die uitbouing van navorsingsmetodologie en
kurrikulumteorie is ewe goed bekend.
Landman is nie net 'n buitengewone wetenskaplike nie, maar ook 'n fyn pedagoog. Daarom kan
wetenskap vir hom nie net bloot ter wille van die wetenskap self beoefen word nie maar moet daar
effek wees vir die praktyk. Landman het op hierdie terrein ondubbelsinnig die belangrikheid en
funksie van die lewensopvatting vir die opvoedkundige aangetoon onder 'n dubbele appèl: dié van
die wetenskaplike enersyds en dié van die lewensopvatlike insigte andersyds. In sy eie werk het
hy die gesag hiervan eerbiedig in sy beklemtoning daarvan dat wetenskaplike arbeid in die
Opvoedkunde, lewensopvatlik gekeur moet word en praktykverbetering as 'n doelwit moet stel.
Hierbenewens word hy beskou as een van die werklike kenners van die filosofie van Martin
Heidegger en die fenomenologiese beweging. Dit kan ook nie betwyfel word dat hierdie filosoof se
indringende ontleding van veral kenteoretiese vraagstukke, 'n groot invloed op hom uitgeoefen het
nie.
Vir Landman is dienslewering 'n belangrike prioriteit. As wetenskaplike verdiep hy hom dus nie
net in die Opvoedkunde nie maar lewer 'n besondere diens ten opsigte van die bedrywighede van die
gemeenskap. Die volgende dien as voorbeelde van sy deelname: Hy is raadslid van die SAOR vir
Blankes en dien as Voorsitter van verskeie SAOR-komitees. As Hoofbestuurslid en Voorsitter van
die Transvaalse Onderwysersvereniging se Professionele Komitee verteenwoordig hy die TO by die
Federale Raad van Onderwysverenigings en op die RGN se Advieskomitee vir Opvoedkundige Navorsing.
Hy dien as Voorsitter van die beheerraad van die Hoërskooi Verwoerdburg en die Verwoerdburgse
Tegniese Kollege. Daarbenewens is hy ook raadslid van die Uitvoerende Komitee van Vista
Universiteit, lid en adviseur van die Ned. Geref. Kerk se Sentrale Onderwyskomitee en Sinodale
Jeugkommissie.
Hy is in 1947 getroud met Rachel Burger. Uit die huwelik is vier kinders gebore.
DIE SANLAM-OVSA-MEDALJE VIR
NAVORSINGSPRESTASIE AAN PROF W.A. LANDMAN
11 JANUARIE 1989
COMMENDATIO
Professor Willem Adolf Landman word reeds vir bykans twee dekades in
akademiese kringe, oor 'n wye veld van wetensgebiede heen, geassosieer met
voortreflikheid in navorsing. Die resultate van sy eie navorsing asmede sy
rigtinggewende hulp aan 'n groot aantal navorsingsinstansies en
individuele navorsers het deurslaggewend daartoe bygedra dat die
Pedagogiek 'n geëerde statuur as wetenskap verkry het en dat die onderwys-
en opvoedingspraktyk tans oor 'n ongeëwenaarde bron van betekenisvolle
toepassingsmoontlikhede beskik waaruit praktyksverbetering deurlopend
geïnisieer word.
Professor Landman kan sonder gevaar vir teenspraak as die doyen van
fenomenologies-gerigte navorsing in veral die pedagogiekdenke in
Suid-Afrika beskou word en terselfdertyd, soos blyk uit sy internasionale
aansien as navorser, onder die boonste tien navorsers in die Pedagogiek
gekwalifiseer word. Sy bydraes as navorser en navorsingsmetodoloog word
nie net in die pedagogiekdenke van fenomenologiese inslag gewaardeer en
erken nie, maar geniet ook hoë aansien in ander denkskole binne en buite
die Pedagogiek. Daarbenewens is hy 'n ervare praktikus op verskeie vlakke
van die onderwys en slaag hy daarin om 'n sinvolle sintese tussen teorie
en praktyk te bring, sodat sy totale navorsingsbedrywigheid nie in 'n
ivoortoring opgesluit is nie, maar steeds vir die praktyk in
na-wetenskaplike konteks bruikbaar bly. As alleenouteur of mede-outeur van
meer as 30 grotere publikasies en meer as 50 artikels het Professor
Landman nie net wat die aantal betref nie, maar ook ten aansien van die
kwaliteit van die publikasies en artikels 'n standaard en voorbeeld
daargestel wat nie maklik geëwenaar sal kan word nie. Die feit dat daar
ook reeds vir 1989 bydraes van Professor Landman vir publikasie aanvaar
is, lewer enersyds bewys van sy ononderbroke ywer as navorser en andersyds
van sy weiering om enige saak ooit as voldoende nagevors te beskou. Dit is
juis een van sy kenmerke as navorser dat hy elke bevinding as 'n soekende
antwoord wat om verdere afronding roep, beskou.
Prof Landman se akademiese loopbaan kan gekenskets word as 'n leeftyd
van toewyding aan verantwoordelike en verantwoordbare navorsing ter
bevordering van die Pedagogiek, maar steeds gerig deur die soektog na die
beste antwoord op die vraag na die essensieel-agogiese en die
agogies-essensiële in belang van die medemens se begeleiding tot
outentieke volwassenheid via die onderwys.
Dit is met groot vrymoedigheid dat die Opvoedkundevereniging van
Suid-Afrika Professor Landman aangewys het as die eerste ontvanger van die
SANLAM-OVSA-medalje vir voortreflike, volgehoue en betekenisvolle
navorsing waardeur die status van die Pedagogiek en die verbetering van
die onderwys en opvoedingspraktyk bewerkstellig is.
|