Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


HERMENEUTIESE METODE (BEd)

INLEIDING

Edmund Husserl het met sy bewussynsfenomenologie klem gelê op die menslike bewussyn. Fenomenologie is die wetenskap van die bewussyn d.w.s. van die bewuswees-van-syn of die bewuste gerigwees op syn, wat hy intensionaliteit genoem het. By Husserl gaan dit dan om die bewuste teenwoordigheid van syn (die wesenlike, essensialiteit). Die navorser hou hom bewustelik besig met die openbaring, onthulling en aan die lig bring van essensies. Essensie-openbaring is moontlik omdat die bewussyn intensionaliteit is (bewustelike singewende gerigtheid op die werklikheid).

Essensie-openbaring is die eerste stap tot begryping en kennis is die som van essensies.

Martin Heidegger het met sy hermeneutiese fenomenologie die klem laat val op menslike handeling. Kennis vloei voort uit menslike betrokkenheid by aktiwiteite (keuses, handelinge, ervaring) veral wanneer 'n probleem ontstaan wat die refleksie (besinnende denke) aan die gang sit. Essensies kan nou raakgesien word as wyses van lewe (lewenswyses, leefwyse, eksistensialiteit).

Nou word ook die tweede stap tot begryping moontlik, d.w.s. 'n uitbreiding van begryping en uitbreiding van begryping is uitleg (interpretasie) (Heidegger, 1963, Brandhorst, 1989).

Hermeneutiek is 'n interpretasiekunde wat gemik is op begryping deur die aanwending van taal. Die woord self het 'n hermeneutiese funksie (Frör, 1967:11-12) en daarom word daar besondere klem gelê op begripshelderheid, begripsverklaring en begripsensitiwiteit en begripsidentiteit. (Die formeel-logiese indentiteitsbeginsel stel dat in 'n besondere geskrif of betoog die begrippe wat daarin gebruik word, deurgaans dieselfde inhoud (betekenis) moet hê.) Die hermeneutiese beklemtoning van die woord dui verder op 'n kritiese afweer van valse redenering (Frör, 1967:46).

Die Latynse hermeneutica van die Grieks hermeneutike dui op die koms van interpretasie. Hermeneutes is 'n interpreteerder en hermeneuein is om te interpreteer.

Om die begrip hermeneutiek en die verskillende betekenisse wat aan die begrip geheg word te verstaan moet ons ons wend tot die Griekse mitologie. Die Grieke het 'n god gehad met die naam Hermes. Hierdie God was die boodskapdraer en tolk van die gode en die mense. Die Griekse begrip herméneia wat afgelei is van die naam van die Griekse boodskappergod Hermes, beteken ver-tolk-ing.

Die Griekse filosoof Plato gebruik die begrip om die taal van die waarneming van die denke te beskryf. Aristoteles, 'n ander Griekse filosoof, beskryf die taal van die mense en bepaalde diere, wat deur middel van die tong tot stand kom met hierdie begrip. In hierdie gebruik beteken herméneuein net "praat" of "spreek" of ook "spraak". Deurdat dié begrip egter ook aan elke ding betekenis toeken, kry dit ook die betekenis van "verklaar" (herméneuein beteken: (1) idees deur woorde te kenne gee; en (2) woorde verklaar in terme van idees).

Die Griekse filosoof Heraklides het die betekenis van die begrip herméneia (interpreteer, "verklaar") duidelik na vore gebring in dit wat hy oor die orakelgod in Delphi sê: die god openbaar niks, verberg niks, maar gee tekens, wat ten volle verklaar (herméneia) en verstaanbaar wil wees. Ook Plato gee aan dié begrip die betekenis van verklaar, as hy sê dat, wanneer 'n uitspraak nie vanself duidelik is nie, dit "verklaar" moet word (herméneia) (Deist, 1990:1).

INTERPRETASIE

Interpretasie (uitleg) is die essensie van hermeneutiek en hermeneutiek is die praktyk van interpretasie (Young & Collin, 1988). Interpretasie is die vrystelling van betekenisse (McBrien, 1990) en vereis 'n sensitiewe ingesteldheid op betekenisse sodat daar insig verkry kan word in situasies waar keuses en handelinge verskyn (Schubart, 1988).

Menswees is om begrypend in die wêreld te wees en begryping wat berus op interpretasie is onderliggend aan alle menslike handelinge (Heidegger, Gadamer). Begryping impliseer interpretasie. Daar is 'n intieme band tussen begryping en interpretasie wat berus op situasie-beoordeling (beoordeling van situasies in 'n praktyk en/of situasies soos dit beskryf word in tekste) (Atkinds, 1988).

Die fenomenologiese metode is beskrywend (essensie-openbarend) en die hermeneutiese metode is ingestel op interpretasie as uitleg van die betekenis van geopenbaarde essensies (Benediktsson, 1989).

Hermeneutiek is om die menslike ervaring hoog aan te slaan as bron van kennis (betekenisse). Die hermeneutiese metode is om te soek na die betekenis van die ervaring van 'n saak self (Cheng, 1987). 'n Besondere hermeneutiese vraag is: Wat word bedoel? M.a.w. wat beteken ............? (Desilet, 1991).

DIE INTERPRETASIEGESPREK

Kommunikasie is die aktivering van gedeelde begryping (Gadamer). Dit is die intersubjektiewe deling van betekenisse. Hermeneutiek beklemtoon begryping deur kommunikasie (Desilet, 1991; Schubert, 1988). 'n Groep persone in gesprek (met mekaar of met 'n teks) is daartoe in staat om ryker betekenisse te ontdek as wat 'n individu alleen sou kon doen. In die gesprek word betekenisse vrygestel en dit is wat met interpretasie bedoel word (McBrien, 1990). In die hermeneutiese dialoog gaan dit om 'n wisselwerking van interpretasies met die besef dat finale interpretasies nie moontlik is nie en aangesien die subjektiwiteit van die interpreteerder sentraal staan, kan daar nie sprake wees van net een korrekte interpretasie nie. Die groep (interpretasie-gesprek) moet dus alternatiewe interpretasies teen mekaar opweeg. Daar moet 'n wisselwerking van betekenis-gebonde interpretasies wees (Smith & Blase, 1991; Anderson, 1990).

HERMENEUTIESE NAVORSING

Die navorser wil interpreteer sodat hy die kennis en handeling van ander kan begryp. Hy moet die volgende in gedagte hou:

(i) Seleksie van die beste moontlike teks (literatuurstudie!), verbale uitinge, dialoog, handeling, situasie. (Moet geskied in die lig van sy probleemstelling.);

(ii) Kritiese evaluering van sy interpretasie(s). Hy kan dit doen deur

(a) in 'n hermeneutiese gesprek te tree.

(b) Die volgende kriteria toe te pas op sy interpretasie (betekenis-beskrywing):

1. Begryping van die betekenis van elke uitspraak wat hy maak;

2. Beoordeling of daar dubbelsinnigheid voorkom in sy interpretasies;

3. Beoordeling of sy interpretasies mekaar weerspreek;

4. Beoordeling of sy interpretasies spesifiek genoeg is (d.w.s. nie algemene gepratery is nie);

5. Beoordeling of sy uitsprake betroubaar is;

6. Beoordeling of hy deurgaans krities dink. Kritiese denke vereis die skerpsinnige aanwending van skeptisisme wat getemper word deur ervaring. Weet wanneer om iets te bevraagteken en watter soort vrae gevra behoort te word; en

7. Beoordeling of hy die volgende handhaaf: onbevooroordeeldheid, soepelheid, intellektuele eerlikheid, om sistematies te wees en agting vir ander se standpunte (McPeck, 1981).

(iii) Die skryf van 'n verslag (teks) wat sy interpretasies sistematies en duidelik weergee. Die teks is die uitkoms van sy indink en inleef (empatie) in die betrokke situasie (of teks) ten einde betekenisse aan die lig te bring. 'n Eidetiese reduksie van hierdie teks wat daartoe lei dat die gemeenskaplike uit al sy interpretasies uitgelig word. Die gemeenskaplike kan dien as sy uiteindelik interpretasie van die situasie (of teks) en kan tydens 'n interpretasie-gesprek beoordeel word. Die navorser moet besonder bedag wees op:

1. Subjektiwiteit

'n Persoonlike betrokkenheid by die persone in die situasies wat bestudeer word, is bevorderlik vir inleef en begryping. Die klem val op empatie (Grieks empatheia = invoel. Woordeboek: "Understanding so intimate that the feelings, thoughts and motives of one are readily comprehended by another.").

2. Betroubaarheid

Konsekwentheid van die interpretasies. Is dit logies en werklikheidsgetrou en bring dit essensiële sake (betekenisse) aan die lig? Waar moontlik (waar situasies bestudeer word) kan die navorser se interpretasies met die betrokke persone bespreek word met die oog op verifikasie.

3. Geldigheid

Die geldigheid van interpretasies word afgelei uit:

(i) die kwaliteit van die interpretasies (is dit nie algemene gepratery en oppervlakkig nie?);

(ii) die kwaliteit van die verhouding tussen die navorser en die persone wat bestudeer is;

(iii) die kwaliteit van die argumente in die interpretasie (is daar valse redenering?);

(iv) evaluering van die verskillende perspektiewe (in 'n interpretasie-gesprek);

(v) die bruikbaarheid van die interpretasie vir die voltrekking van handelinge wat daaruit moet voortvloei (Collin & Young, 1988).

NAVORSINGSPROSEDURES WAT HERMENEUTIESE BETEKENIS KAN Hê

1. In-diepte-onderhoude

Die navorser neem die volgende definisies in ag:

onderhoud

As 'n navorsingsmetode is die onderhoud 'n direkte poging deur die navorser om 'n betroubare en geldige taksering in die vorm van verbale response, van een of meer respondente te verkry (Sax, 1979:232).

onderhoud: gestruktureerd

Dit is 'n onderhoud waarvan al die vrae gespesifiseer is (Walizer & Wiener, 1978:287).

onderhoud: ongestruktureerd

'n Onderhoud wat slegs die area of subjekte spesifiseer wat ondervra gaan word (Walizer & Wiener, 1978:287; Burgess, 1983:107, 111).

onderhoud: protokol

Noukeurig opgestelde vrae en aanwysings wat deur 'n onderhoudvoerder gebruik word om 'n onderhoud te voer (Slavin, 1984:284).

onderhoud: semi-gestruktureer

'n Onderhoud waarvoor slegs sommige van die vrae gespesifiseer is (Walizer & Wiener, 1979:287).

ondervraer vooroordeel

1. Persoonlike kenmerke van ondervraers wat die response van subjekte beïnvloed (Sax, 1979:234).

2. Die moontlike probleem wat respondente ondervind om vrae noukeurig te beantwoord omdat iets aangaande die ondervraer, hinder (Walizer & Wiener, 1978:281).

ongestruktureerde items

Breed bewoorde vrae wat toelaat dat subjekte die vryheid het om response te verduidelik en daarop uit te brei (Sax, 1979:256).

2. Groepbesprekings

Hier word in die eerste plek gedink aan die interpretasiegesprek.

Die volgende definisies word deur die navorser in berekening gebring by die hantering van groepbesprekings:

(i) Fenomenologiese teorieë

1. Teorieë wat berus op die vooronderstelling dat subjektiewe ervaring betekenisvolle en betroubare data is vir die begryping van die werklikheid (Verma & Beard, 1987).

2. In fenomenologiese perspektiewe is die fokus op die betekenisse wat gebeure het vir die mense wat daarby betrokke is. Die soeke na betekenisse lei tot die ontdekking van vooronderstellings in konsepte, kategorieë en metodes. Die beklemtoning is op hoe mense sin gee aan die wêreld om hulle (Shipman, 1985:11, 13, 14).

Fenomenologiese teorieë stel: Subjektiewe ervaring en betekenisgewing is betroubare en geldige data vir die begryping van die werklikheid omdat dit aangewend kan word as beligtende denkmiddele (kategorieë).

(ii) Gespreksanalise

Gespreksanalise is 'n vorm van analise van gesprekke wat sensitief is vir die oriëntering van mense in spesifieke situasies (Burgess, 1985:265-287).

(iii) Halo-effek

Die neiging van die individuele waarnemer om beïnvloed te word deur een of ander opvallende kenmerke van 'n persoon en deur aan hom/haar kenmerke toe te skryf wat voortvloei uit die opvallende kenmerke (Verma & Beard, 1981:1, 83). In groepbesprekings kan halo-effekte geneutraliseer word.

(iv) Kwalitatiewe metodes

Die bestudering van individue onder natuurlike omstandighede ten einde vas te stel op welke wyse hulle betekenisse toeken in sosiale situasies. Teorie word nie geprojekteer op die gegewens nie maar spruit voort uit die versamelde gegewens. Kwalitatiewe navorsing is nie gebaseer op 'n stel vaste en rigiede prosedures nie, maar nietemin het die navorser 'n stel strategieë en taktieke nodig ten einde te organiseer, te beheer en te evalueer (Slavin, 1985:7-10).

Toegekende betekenisse word tydens die groepbespreking beoordeel.

(iv) Natuurlike observasie

Enige van 'n aantal metodes wat aangewend kan word om verskynsels te bestudeer deur waar te neem hoe persone wat nie deur die waarnemer beïnvloed word nie, respondeer (Sax, 1979:100). In die groepbespreking word die werkwyse van natuurlike observasie wat gemaak is, geëvalueer.

(v) Rasionaliteit

Rasionaliteit is die intelligente aanwending van beskikbare getuienis (bewyse, gegewens, data) vir die oplossing van 'n probleem. Tydens die groepbesprekings dien rasionaliteit as besondere kriterium.

(vii) Probleemoplossing

Oplos(sing) beteken om 'n vraag te beantwoord, om 'n probleem uit te werk. Die woord oplos(sing) kan ook verwys na die begryping van 'n verskynsel wat in vraagvorm geformuleer is. Die groepbespreking is die ideale geleentheid vir daardie handelinge wat in die volgende definisies beskryf word:

probleem: konteks van

Voorsiening van die agtergrond van die probleem waaroor navorsing gedoen gaan word. Een aanvaarbare wyse om 'n verwysingsraamwerk daar te stel vir die probleem is om gesaghebbendes aan te haal. Identifiseer die area waarin die probleem aangetref kan word en wys daarop dat die probleem nog nie volledig bestudeer is nie of dat die bestudering daarvan 'n betekenisvolle bydrae sal maak (Tuckman, 1978:310).

probleem: stelling van

Stelling van die probleem is om al die veranderlikes te identifiseer en om in vraagvorm te vra na hulle onderlinge verbande. 'n Probleem moet duidelik en ondubbelsinnig in vraagvorm gestel word. Dit moet moontlik wees om data te versamel om die vrae wat gevra is, te beantwoord (Tuckman, 1978:311).

(viii)Opweeg van alternatiewe

'n Groepbespreking moet blyke gee van kritiese denke by die deelnemers. Een besondere hermeneutiese wyse om kritiese denke aan te wend, is om alternatiewe interpretasies op te weeg (Atkinds, 1988; Smith & Blase, 1991).

Een wyse om die opweging van alternatiewe interpretasies aan die gang te sit, is om alternatiewe hipoteses te stel. Ten einde dit te kan doen moet die navorser by magte wees om die volgende definisies te hanteer:

hipoteses: alternatiewe

Die navorser kan 'n hipotese ('n vermoede, 'n verwagting aangaande die verband tussen twee of meer verskynsels (interpretasies)) bevestig of nie bevestig nie deur aan te toon dat alternatiewe moontlike hipoteses (ook interpretasie) ondersteun kan word of nie. Die doel is om elke moontlike interpretasie onder die loep te neem en om elke houbare interpretasie verder te ontwikkel (Kerlinger, 1973:384). Die groepbespreking leen hom hiertoe op uitmuntende wyse.

(ix) Vooroordeel

Tydens die groepbespreking is die navorser voortdurend gerig op die neutralisering van vooroordele. Hy doen dit in die lig van die volgende definisies:

vooroordeel

Die wetenskaplike houding word geskend wanneer die navorser inligting (getuienis, bevindinge) wat nie strook met sy persoonlike opvattinge nie, ignoreer of wanneer hy omstandighede so manupileer dat 'n resultaat (uitkoms) wat hy graag wil hê, volg (Tuckman, 1978:239; Travers, 1964:464).

vooroordeel: sosiale wenslikheid

'n Neiging by persone om met die invul van 'n vraelys of met 'n onderhoud te sê wat hulle dink wat die navorser graag wil hoor; om antwoorde te gee wat hulle self in die beste moontlike lig stel, eerder as om ware maar tog potensieel pynlike inligting of opinies te gee (Slavin, 1984:289).

DEFINIëRING

Definiëring is vir die navorser 'n besondere vorm van betekenisgewing. Definiëring is derhalwe 'n besondere wyse van interpretasie (uitleg). Dié stelling blyk duidelik uit die volgende definisies wat aangewend kan word ten aansien van veral essensies wat fenomenologies aan die lig gebring is:

definisies

'n Beskrywing van 'n gegewe woord of frase in terme van die betekenis daarvan, dit wil sê 'n beskrywing in eenvoudiger of meer omvattende terme (Walizer & Wiener, 1975:71).

(a) Leksikale definisies

Definisies wat in woordeboeke aangetref word en wat 'n gegewe term verklaar soos dit gebruik word deur die meeste mense (Sax, 1979:69).

(b) Konstitutiewe definisies

Konstitutiewe definisies het ten doel die beskrywing van die aard van 'n verskynsel deur gebruik te maak van teoretiese en abstrakte begrippe (Good, 1973:169).

(c) Operasionele definisies

1. 'n Definisie wat uitgedruk word in terme van die prosesse of werkinge (funksies) wat gebruik gaan word om die kenmerk(e) wat bestudeer word te evalueer (Wiersma, 1985:30).

2. Operasionele definisies is bepalend. Die navorser bepaal wat die betekenis is van 'n gegewe term en dui aan hoe die term geëvalueer gaan word. So kan persoonlikheid gedefinieer word as die puntetelling wat 'n persoon behaal in 'n spesifieke persoonlikheidstoets (Sax, 1979:70).

3. 'n Operasionele definisie is 'n definisie wat gebaseer is op die waarneembare kenmerke van dit wat gedefinieer word (Tuckman, 1975:79).

4. 'n Volledige stel aanwysings ten aansien van dit wat waargeneem moet word en hoe om 'n veranderlike (konsep) te evalueer (Walizer & Wiener, 1978:36).

5. 'n Operasionele definisie is bepalend (stipulatief) omdat dit spesifiseer watter werkinge of kenmerke noodsaaklik is om die veranderlike of kondisie (toestand, gesteldheid) wat gedefinieer moet word, te identifiseer (Wiersma, 1985:30).

Saamgevat is 'n operasionele definisie 'n beskrywing van 'n gegewe woord (begrip) of frase in terme van die betekenis van

(i) die waarneembare en evalueerbare kenmerke daarvan;

(ii) die funksies waarin dit tot uitdrukking kom; en

(iii) die identifiseerbaarheid daarvan in 'n praktyk.

Om te operasionaliseer is 'n hermeneutiese handeling omdat dit 'n wyse van interpretasie en uitbreiding van betekenis is.

Om 'n essensietabel op te stel, is 'n hermeneutiese handeling omdat definiëring van essensies (in tabelvorm) 'n sistematiese wyse is van interpretasie (uitleg).

ESSENSIETABEL

Essensie

1.
2.

Definisie

Definisie in vraagvorm

Stel van relevante vrae is 'n hermeneutiese handeling aangesien dit 'n besondere wyse van interpretasie is.

DIE OUTOBIOGRAFIESE TEKS

Hermeneutiese fenomenologie beklemtoon die waarde van individuele biografieë (wat ook dagboeke insluit) as vorm van situasie-analise, dus van biografiese momente wat beleef is deur unieke individue. Persoonlike eksistensie van een individu of van 'n klein groepie geselekteerde individue word geëksploreer sodat handelinge (situasies) begryp kan word in terme van die betekenis wat die ervaringe van besondere enkelinge het. Dit vereis 'n helder beskrywing van tersaaklike ervaring, gepaard met betekenisvolle interpretasie en beoordeling wat 'n uitvloeisel is van 'n intensiewe ontmoeting tussen die persoon wat wil begryp en een of ander verskynsel (gebeure) (Landman, 1985:Hoofstuk twee).

KRITIESE INSIDENTE-TEGNIEK (Flanagan)

Die krities-insident-tegniek is 'n metode vir die bestudering van gedraginge. Observasies van handelinge in situasies wat òf natuurlik òf oorwegend natuurlik is, word gemaak en hiervan word afleidings oor die betrokke persone (populasie) gemaak (Gouws et al., 1979:165). Travers (1964:265-266) sê dat die krities-insident-tegniek van Flanagan in essensie 'n observasiemetode is wat egter ook van die waarnemer verwag om te beoordeel wat waargeneem moet word en wat nie.

Flanagan het 'n prosedure wat hy monadiese analise noem, toegepas op die gegewens wat ingesamel is. Monadiese analises is persoongesentreerd. Elke individu word intensief bestudeer en so word kritiese faktore wat 'n persoon se wyse van lewe beïnvloed, aan die lig gebring. Subjektivisme word uitgeskakel deurdat onafhanklike waarnemrs en beoordelaars betrek word.

Dié tegniek is hermeneuties in sy beklemtoning van gedraginge, observasie van handelinge in situasies, persoongesentreerdheid, beoordeling (d.w.s. interpretasie), wyses van lewe.

HERMENEUTIESE NAVORSENDE PEDAGOGIEKDENKE

Die metodiese sin wat die fenomenologie as hermeneutiek vir navorsing het, is daarin geleë dat die fenomenologiese beskrywing uitleg of interpretasie is en dit maak deel uit van probleemoplossing (Heidegger, 1963:37-38). Die fenomenologie van die menslike-in-die-wêreld-wees is hermeneutiek (uitlegkunde). Dit is 'n uitleg van die wese van die menslike daar-wees, d.w.s. 'n wesensanalise van sy eksistensie. Die deelnemers aan die opvoedingsituasie eksisteer daar as stigters van opvoedingsverhoudinge. Die opvoeder roep die pedagogiese essensies tot teenwoordigheid. Daardie essensies wat die pedagogiese is, kom vir verwerkliking tot verskyning. Die fenomenologiese navorsende aan-die-lig-bring van wat en hoe hierdie essensies is, is om die pedagogiese begrypbaar te maak, om die sin daarvan uit te lê. Dit is fenomenologies-hermeneutiese navorsende arbeid om sodanige essensies van die pedagogiese aan die lig te bring. Die pedagoog begryp hierdie essensies en dié kennis stel hom in staat om dit tot verskyning vir verwerkliking op te roep as sy antwoord op die appél tot steungewing deur die kind. Fenomenologiese navorsende denkarbeid is dus hermeneutiese arbeid, want wie fenomenologies te werk gaan, het as doel begryping en begrypbaarmaking (Betti, 1962:5-11). Fenomenologiese hermeneutiek is 'n uitlegkunde wat begrypingskunde (Rutt:393-415) is. Dit is 'n aan-die-lig-bring van die werklike essensies van die pedagogiese. Hierdie aan-die-lig-bring (ook deur navorsing) is dan hermeneutika (uitleg). Wanneer verder verduidelik word wat dié essensies beteken, is dit 'n uitbreiding van die uitleg en dit is interpretasie.

Die pedagogiese essensies word fenomenologies aan die lig gebring en word dan begryp as strukture wat die pedagogiese laat syn, d.w.s. moontlikheidsvoorwaardes is vir 'n outentieke teenwoordigheidstelling van die pedagogiese. Deur fenomenologies te soek na die essensies van sodanige strukture wat as pedagogiese essensies begryp word, is 'n uitbreiding van die begryping en uitbreiding van die begryping is uitleg (Heidegger, 1963:148). Hierdie uitbreiding van die begryping is dan in die eerste plek om die essensies van die pedagogiese aan die lig te bring, maar tweedens is dit 'n verduideliking van waartoe dié werklike essensies dien (Heidegger, 1963:149-151). Die uitleg is dus 'n beskrywing van die essensies waaruit blyk wat dit beteken as iets pedagogies is. Wanneer die neemhandeling byvoorbeeld as essensie van pedagogiese aanvaarding aan die lig gebring word, moet verduidelik word dat die neemhandeling dien tot 'n verwydering van verte tussen opvoeder en kind sodat pedagogiese ontmoeting kan gedy.

Die fenomenologies-hermeneutiese uitleg is 'n nadere bepaling van wat pedagogiese werklik essensieel is deur in die opvoedingswerklikheid self vas te stel waartoe sodanige essensie dien, met ander woorde wat die outentieke pedagogiese betekenis daarvan is. Dié essensies word dan begryp as iets, byvoorbeeld as iets wat moontlikheidvoorwaarde is vir die stig van opvoedingsverhoudinge en iets wat moontlikheidsvoorwaarde is vir 'n duursame opvoederlike aanspreeklikheid. Dit is duidelik dat daar in die pedagogiekdenke as wetenskaplike (resp. navorsende) denke telkens by die fenomenologie as wetenskaplik-aanvullende moment die hermeneutiek moet bykom. Sonder die begrypende en beskrywende medewerking van die hermeneutiek is die beoefening van die Pedagogiek as vorm van wetenskap onvolledig.

Die waartoe-dien-vraag is 'n besondere hermeneutiese vraag: van elke sinvolle saak (aangeleentheid) wat ter sake is (in 'n bepaalde situasie), word die volgende gevra: Waartoe dien die verwerkliking daarvan? Of: Wat is die sin van die verwerkliking daarvan?

Die interpretasie-gesprek moet deurspek wees van hermeneutiese vrae.

VERWYSINGS

Anderson, T. 1990. A psychodynamic approach to the teaching of writing: the hermeneutic dialogue. Teaching of Psychology, 17(4):18-22.

Atkinds, E. 1988. Refraiming curriculum theory in terms of interpretations and practice: a hermeneutical approach. Journal of Curriculum Studies, 20(5):437-448.

Benediktsson, D. 1989. Hermeneutics: dimensions towards LIS thinking. Library and Information Science Research, 11(3):201-234.

Betti, E. 1962. Die Hermeneutik. Tübingen. J.C.B. Mohr.

Brandhorst, A.R. 1989. Critical thinking: schemata versus skills. Theory and Research in Social Education, 17(3):196-209.

Burgess, R.G. 1983. Field Research: Source Book and Field Manual. London. Allen & Unwin.

Burgess, R.G. 1985. Strategies of Educational Research. Qualitiative Methods. London. Falmer.

Cheng, K-H. 1987. Beyond truth and method: on misreading Gadamer's praxical hermeneutics. Quarterly Journal of Speech, 73:183-199.

Collin, A & Young, R.A. 1988. Career development and hermeneutical inquiry Part II: undertaking hermeneutical research. Canadian Journal of Counseling, 22(4):191-201.

Deist, F.E. 1990. Die herkoms van die begrip hermeneutiek en sy verskillende betekenisse. Studiegids. Ou Testament OTA301-U. Pretoria. Universiteit van Suid-Afrika.

Desilet, G. 1991. Heidegger and Derrida: the conflict between hermeneutics and deconstrucktion in the context of rhetorical and communication theory. Quarterly Journal of Speech, 77(2):152-175.

Frör, K. 1967. Biblische Hermeneutik. Dritte Auflage. München. Kaiser Verlag.

Good, C.V. 1973. Dictionary of Education. Third Edition. New York. McGraw-Hill.

Gouws, L.A. e.a. 1979. Psigologie-woordeboek. Johannesburg. McGraw-Hill.

Heidegger, M. 1963. Sein und Zeit. 18de druk. Tübingen. Niemeyer.

Landman, W.A. (Red). 1975. Denkwyses in die Opvoedkunde. Pretoria. N.G. Kerkboekhandel.

Landman, W.A. 1985. Fundamentele Pedagogiek en Kurrikulumstudie. Pretoria. N.G. Kerkboekhandel.

McBrien, P.J. 1990. Conversation: a discipline for studying and teaching Sunday lectionary. Religious Education, 85(3):424-435.

McPeck, J.E. 1981. Critical Thinking and Education. Oxford. Robertson.

Sax, G. 1979. Foundations of Educational Research. New Jersey. Prentice- Hall.

Schubert, W.H. 1988. Reconceptualizing and the matter of paradigms. Journal of Teacher Education, 40(1):27-32.

Shipman, M. 1985. Educational Research: principles, policies and practices. London. Falmer.

Slavin, R.C. 1984. Research Methods in Education. A practical guide. New Jersey. Prentice-Hall.

Smith, J.K. & Blase, J. 1991. From empiricism to hermeneutics: educational leadership as a practical and moral activity. Journal of Educational   Administration, 29(1):6-21.

Travers, R.M.W. 1964. An Introduction to Educational Research. Second Edition. New York. MacMillan.

Tuckman, P.W. 1978. Conducting Educational Research. New York. Jovanovich.

Verma, G.K. & Beard, R.M. 1981. What is Educational Research? Perspectives on Techniques of Research. Aldershot. Gower.

Walizer, M.H. & Wiener, P.L. 1978. Research Methods and Analysis. Searching for Relationships. New York. Harper & Row.

Wiersma, W. 1985. Research Methods in Education. An Introduction. Third Edition. Boston. Allyn and Bacon.

Young, R.A. & Collin, A. 1988. Career development and hermeneutical inquiry Part I: The framework of a hermeneutical approach. Canadian Journal of Counseling, 22(3):153-161.


o-0-o