Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


RESENTE UITSPRAKE OOR NAVORSING

ORIëNTERING

Geen navorser wil daarvan beskuldig word dat sy/haar navorsingshandelinge verouderd is nie. Dit is so omdat veroudering dui op stagnasie, op 'n vervallendheid in 'n akademiese groef en op 'n onvermoë tot openheid vir nuwe moontlikhede.

Hierdie uitspraak beteken dat die navorser op kontinue basis kennis sal moet neem van artikels wat in navorsingstydskrifte verskyn. Wat nou hier volg is 'n uiteensetting van sodanige artikels wat moontlik waardevol mag wees vir navorsers (dosente, M- en D-studente):

(i) Realisme

(ii) Relevansie en geldigheid

(iii) Kritiese denke en (in) die navorsingsverloop

(iv) Kommunikasie tussen navorsers en gebruikers van navorsing

(v) Dialogiese navorsing

(vi) Integrasie van teorie, praktyk en navorsing

(vii) Deelnemende navorsing

(viii) Persoonstudie (Die een verteenwoordigende gevalstudie)

REALISME (Fend, 1990:687-709)

Hedendaagse navorsing word gekenmerk deur 'n nugter-saaklike insameling van gegewens en 'n analise van die werklikheid. 'n Sistematiese begryping van die werklikheid self is 'n navorsingsdoel. Daar is sprake van 'n realistiese wending na praktykbegryping en 'n sistematiese analise van hedendaagse problematiek, in besonder die konsekwensies wat veranderinge het op die volwassewordende jeug. Relevansie en werklikheidsgeoriënteerdheid word beklemtoon en daarmee word ook bedoel dat die deskriptiewe en verklarende wetenskaplike, se navorsende omgang met die werklikheid pedagogieser ("pädagogisher") moet word.

RELEVANSIE EN GELDIGHEID (Parker, 1990A:613-620/1990B:165-169)

Dit is 'n probleem indien daar besluite geneem moet word aan die hand van verouderde en teenstellende inligting of soms selfs afwesigheid van inligting.

Daar moet gewaak word teen selfverydelende navorsing (self-defeating research), d.w.s. navorsing met onduidelike en nie-relevante doelwitte en metodologie, dikwels met 'n swak ontwerp. Primêre beklemtoning van waardes en praktykverbetering is nodig (vir relevansie) met 'n sterk kontrole van eksterne veranderlikes.

Eksterne veranderlikes is daardie ongekontroleerde veranderlikes wat 'n betekenisvolle invloed mag hê op die afhanklike veranderlike. Hulle invloed kan verminder word deurdat hulle verwyder word; ook deur balansering van gevalle, analise van kovariansie en ewekansigheid (Best, 1981:61).

Met elke navorsingsprojek moet daar besondere aandag gegee word aan navorsingsgeldigheid:

Geldigheid

1. Die mate waarin 'n toets voldoen aan die doel waarvoor dit ontwerp is (Tuckman, 1987:2).

2. Die mate van ooreenkoms tussen 'n begrip se definisie van 'n veranderlike en die operasionele definisie van daardie veranderlike (Walizer, 1978:39).

3. Geldigheid verwys na die mate waarin 'n toets korreleer met 'n kriterium ekstern aan die toets self (Sax, 1979:220).

4. Geldigheid is daardie eienskap van 'n data-insamelende instrument of prosedure wat dit in staat stel om te bepaal waarvoor dit ontwerp was om te bepaal (Best, 1981:153).

Geldigheid: eksterne

1. 'n Sinoniem vir die veralgemening van (eksperimentele) bevindings.

2. Die mate waartoe (eksperimentele) bevindings veralgemeen kan word tot ander persone, omstandighede en situasies (Sax, 1979:140).

Geldigheid: inhouds-

Die mate waarin toetsitems ooreenstem met die inhoud van 'n kursus, opleidingsprogram of een of ander betekenisvolle kriterium (Slavin, 1984:281).

Geldigheid: interne

In 'n eksperimentele ontwerp is dit die mate waarin verbande tussen onafhanklike en afhanklike veranderlikes nie verwar word deur die teenwoordigheid van ongekontroleerde veranderlikes nie (Sax, 1979:125).

Geldigheid: konstruk

Die mate waarin 'n skaal of 'n toets daarin slaag om die teoretiese konsep wat dit onderlê te meet, dit wil sê wat dit korreleer met 'n grondige teorie. 'n Konstrukgeldige skaal sal korreleer met ander metinge van dieselfde konsep (byvoorbeeld intelligensie) (Slavin, 1984:281). Konstrukgeldigheid verwys dus na of 'n veranderlike toereikend operasioneel gedefinieer is en of dit noukeurig geëvalueer kan word met die beskikbare evalueringsmiddele (prosedures, metodes) (Parker, 1990B:167).

Geldigheid: statistiese

"Statistical conclusion validity is concerned with the appropriate use of statistics to accurately test hypotheses. A major threat to statistical conclusion validity is low statistical power. Statistical power is the probability of rejecting a false null hypothesis, that is, finding a statistically significant difference when the means, in fact, come from different populations. Power is a function of the alpha level (probability of a Type 1 error), sample size (N), and the effect size (the potency of the treatment or independent variable). Increasing the alpha level, sample size, and the effect size, singly or in combination, acts to increase statistical power. According to Cohen (1988) power should be about .80, that is, researchers should design their studies so that they have an 8 in 10 chance of obtaining a statistically significant result when one actually exists" (Parker, 1990B:167).

Operasionele definisies:

1. 'n Definisie wat uitgedruk word in terme van die prosesse of werkinge (funksies) wat gebruik gaan word om die kenmerk(e) wat bestudeer te word te meet (Wiersma, 1985:30).

2. Operasionele definisies is bepalend. Die navorser bepaal wat die betekenis is van 'n gegewe term en dui aan hoe die term gemeet gaan word. So kan persoonlikheid gedefinieer word as die puntetelling wat 'n persoon behaal in 'n spesifieke persoonlikheidstoets (Sax, 1979:70).

3. 'n Operasionele definisie is 'n definisie wat gebaseer is op die waarneembare kenmerke van dit wat gedefinieer word (Tuckman, 1978:79).

4. 'n Volledige stel aanwysings ten aansien van dit wat waargeneem moet word en hoe om 'n veranderlike (konsep) te meet (Walizer, 1978:36).

5. 'n Operasionele definisie is bepalend (stipulatief) omdat dit spesifiseer watter werkinge of kenmerke noodsaaklik is om die veranderlike of kondisie (toestand, gesteldheid) wat gedefinieer moet word, te identifiseer (Wiersma, 1985:30).

Kwasi-eksperimentele ontwerpe se besondere waarde moet raakgesien en aangewend word:

Kwasi-eksperimentele ontwerpe (KEO)

KEO kontroleer sommige maar nie al die bronne van interne ongeldigheid nie. Hulle bestaan vir situasies waarin volledige eksperimentele kontrole moeilik of onmooontlik is. Hulle dra eksperimentele kontrole tot 'n redelike grens binne die werklikheid van 'n partikuliere situasie (Tuckman, 1978:136).

KRITIESE DENKE EN (IN) DIE NAVORSINGSVERLOOP (Stotsky, 1991:193-212)

Stellings:

1. Navorsers (resp. dosente) moet aandag gee aan die wyses waarop daar tot kritiese denke aangespoor word wanneer 'n student navorsing onderneem (resp. 'n werkstuk moet skryf).

2. Skerp bekyking van die navorsingsverloop van 'n werkstuk, skripsie, verhandeling, proefskrif is 'n doeltreffende wyse om selfstandige kritiese denke te wek.

3. Daar moet duidelikheid wees oor wat studente doen wanneer hulle

* 'n onderwerp selekteer

* bronne opspoor

* bronnestudie doen

* 'n sentrale navorsingsprobleem ontwikkel en moet formuleer.

Om te skryf is moontlik een van die vernaamste middele om denke en leer te bevorder. Daar moet aandag gegee word aan hoe daar tot kritiese denke aangespoor kan word, terwyl die student skryf. Bekyking van 'n saak vanuit meer as een perspektief bevorder kritiese denke (dieselfde kan geskied met paradigma-vergelyking) veral ook as die student self die tersaaklike literatuur moet opspoor.

Die vraag is: welke intellektuele waardes word bevorder deur 'n navorsingsverslag te skryf? Die volgende:

(i) eksplorasie van die idees en ervaring van ander (word verder verskerp wanneer ooreenkomste en verskille uitgewys word).

(ii) oefening in die seleksie en aanduiding van navorsingsprosedures.

(iii) formulering van hipoteses.

(iv) neerskryf van resultate (op 'n sistematiese wyse).

(v) maak van gevolgtrekkings (afleidings).

Die volgende krities-etiese waardes word bevorder met die skryf van 'n navorsingsverslag:

(i) verantwoordelike skrywers neem verskillende uitgangspunte (paradigmas) in ag.

(ii) beoordeel die kwaliteit van inligting.

(iii) ondersteun veralgemenings met toereikende bewyse.

(iv) stel die resultate van die navorsing duidelik.

Die volgende is verdere handelinge wat kritiese denke bevorder met die skrywe van 'n navorsingsverslag (werkstuk tot by proefskrif):

(i) skep (ontwerp) van produktiewe vrae.

(ii) identifisering van sleutelbegrippe.

(iii) opspoor van relevante inligting.

(iv) konstruksie van hipoteses.

(v) beoordeling van die toereikendheid van die ingesamelde inligting (gegewens).

(vi) implementering van eie ervaring wat lei tot 'n op-ervaring- gebaseerde navorsingsverslag.

KOMMUNIKASIE TUSSEN NAVORSERS EN GEBRUIKERS VAN NAVORSING (Buchmann, 1991:179-195)

Inleidend

Daar is 3 voorwaardes waaraan voldoen moet word:

(i) Toeganklikheid as voorwaarde: taal moet begrypbaar wees en die styl aantreklik. (Dit maak begripsverheldering 'n sinvolle opskrif in 'n verhandeling of proefskrif.)

(ii) Kredibiliteit as voorwaarde: navorsers moet geloofwaardig wees, d.w.s. moet geglo kan word. (Dit maak betoog vry van valse redenering 'n noodsaaklikheid en dat afleidings slegs op grond van toereikende inligting (gegewens) gemaak moet word.)

(iii) Toepasbaarheid: die praktykverbeteringbetekenis van die

navorsing moet aangetoon kan word. (Dit maak "paraktykverbeteringbetekenis" 'n sinvolle opskrif in 'n verhandeling of proefskrif.)

Navorsers moet hulle streng hou aan hierdie drie kommunikasie-voorwaardes en beslis nie van praktisyns verwag om self afleidings te maak uit navorsingsresultate wat beskikbaar gestel word nie.

'n Ander belangrike voorwaarde is die redelikheid van afleidings (konklusies, gevolgtrekkings). Wat redelikheid beteken, kan afgelei word uit die terme wat gebruik word om 'n onredelike konklusie te beskryf:

* onbesonne, ondeurdag, i.p.v. weloorwoë

* impulsief i.p.v. versiende

* verspot i.p.v. intelligent, verstandig en versigtig

* gevaarlik, futiel, sinloos, lomp, onverantwoordbaar, venynig, irrasioneel, ens.

Redelikheid word dus geassosieer met omsigtigheid, kennis, visie, rasionaliteit, doeltreffendheid, verantwoordelikheid en die vermyding van skadelikheid en kwaad.

Konseptuele perspektiewe (paradigmas) moet oorweeg word en wanneer 'n keuse gemaak word, moet die motivering daarvoor gestaaf word deur goeie redes. Die saambestaan van verskillende perspektiewe maak openheid (onbevooroordeeldheid) moontlik. Maar: "open-mindedness is not empty-mindedness", wat nie beteken dat elke perspektief, opvatting, ens. maar geakkommodeer moet (kan) word nie.

Die persoonlike opinie moet met groot omsigtigheid hanteer word. Persoonlike opinies moet nie so selfsugtig wees dat dit redelikheid in gevaar stel nie. Persoonlike opinies kan dogmaties wees en berus op gebrekkige kennis. Dit kan soms, omdat dit heethoofdig en kleingeestig is, veel skade aanrig. (Indien 'n navorser brand om 'n persoonlike opinie te gee, kan dit geskied onder 'n duidelike opskrif: persoonlike opinie. Dit is anders gesteld met persoonlike ervaring wat wetenskaplik gestruktureer is. Kyk Landman, W.A.: Die strukturering van die eie ervaring vir navorsingsdoeleindes. SATO 1991.) Dit plaas 'n verantwoordelikheid op die navorser om sy vooronderstellings (paradigma) te stel en te verduidelik sonder om in dubbelsinnigheid en kontradiksies (weersprekings en selfs skynheiligheid) te verval.

DIALOGIESE NAVORSING (ONDERHOUD) (Halling & Leifer, 1991)

Dialoog (gesprek) is nodig om waarheid aan die lig te bring en dit is slegs outentiek moontlik vir 'n individu in dialoog met 'n ander individu (Karl Jaspers). Dit beteken dat die onderhoud (dialogiese navorsing) 'n besondere navorsingsprosedures is veral wanneer besondere waarde geheg word aan begryping en die soeke na waarheid (Buber, Strauss, Gadamer). 'n Oop dialoog tussen 'n span navorsers verseker getrouheid aan data (gegewens) en bevorder die diepte van begryping.

Voordele van dialogiese spanwerk:

(i) Deurdat 'n aantal perspektiewe in 'n span verteenwoordig (moet) word, kan bevooroordeeldheid en vooroordele maklik(er) raakgesien word.

(ii) 'n Verskeidenheid van perspektiewe lei tot 'n ryker interpretasie van data.

(iii) Die deel en verspreiding van navorsingstake is moontlik met span-

of groepnavorsing.

(iv) Wanneer nagraadse studente in so 'n groep opgeneem word, word opleiding in navorsingsmetodologie sinvol moontlik.

Drie vlakke van navorsingsonderhoud kan onderskei word:

(i) Voorbereidende dialoog:

Individuele opinies oor die betrokke verskynsel word gelug. Dit lei tot 'n aanvanklike deling van perspektiewe en 'n identifikasie van vooroordele.

(ii) Oorgangsdialoog:

Spanlede voel hulle direk betrokke by die gebeure en so ontstaan 'n gevoel van verpligting ten aansien van die begryping van 'n verskynsel.

(iii) Fundamentele dialoog:

Diskussie (bespreking) vind plaas van

* persoonlike verklarings vir (d.w.s. begryping) van die betrokke verskynsel.

* bespreking van die verskillende persoonlike verklarings (wyse van begryping).

* 'n kollektiewe begryping, ontstaan en deurgaans word 'n houding van openheid teenoor die data (gegewens) gehandhaaf.

Op dié wyse word navorsingskwaliteite verhoog.

Dimensies van die dialoog:

Twee van die essensiële dimensies van outentieke dialoog is struktuur en vryheid.

Struktuur verwys na

* fokus op die verskynsel (skynende data) self

* essensie-openbarende (= radikale) interpretasie

* wedersydse agting vir die deelnemers se vlak van begryping en deelname.

Vryheid verwys na

* deelnemers se vermoë om hulle verbeelding (Husserl se produktiewe fantasie) te gebruik

* deelnemers se openheid en ontvanklikheid vir dit wat nuut en verskillend is in ander se ervarings en interpretasies.

Struktuur en vryheid dra by tot die ontstaan van 'n vertrouensverhouding en samehorigheidsgevoel wat bevorderend is vir die verdieping (intensivering) van die dialoog.

Die vertrouensverhouding verskerp

(i) wanneer wedersydse aanvaarding geskied omdat dit wat 'n spanlid sê aangehoor en waardeer word.

(ii) deur 'n belewing van rigting, d.w.s. is iets spesifiek wat die groep probeer om te begryp.

(iii) deur 'n gevoel van vryheid omdat die groep vry voel om te vra, om te waag, om kreatief te wees ten aansien van die verskynsel (verskynende data) wat bestudeer word.

(iv) deur 'n respek en agting vir mekaar.

(v) 'n belewing dat die kwalitatiewe aspekte van die groeplede se persoonlike ervarings geldig is en die moontlikheid van algemeengeldigheid (universaliteit) inhou.

INTEGRASIE VAN TEORIE, PRAKTYK EN NAVORSING (Ricks et al., 1990:7-20)

Teorie wat onstaan uit ervaring (praktyk) kan

(i) toegepas word in 'n praktyk

(ii) onderwerp word aan verdere navorsing en dan kan die teorie

* gewysig word

* vervang word

* verfyn word.

Die volgende is 'n duidelike skematiese voorstelling:

Opmerkings:

1. Navorsing moet ingestel wees op teorie-ontwikkeling en die verfyning van bestaande teorie.

2. Verskil in navorsingsbevindinge en teenstrydige bevindinge, moet beoordeel word.

3. Navorsing moet geformuleer word binne 'n teoretiese raamwerk d.w.s. teorie-gebaseerde navorsing moet onderneem word.

4. Navorsingstandaarde moet gehandhaaf word deur:

* betekenisvolle veranderlikes te identifiseer.

* operasionele definisies te skryf.

* oppervlakkige beskrywing te vermy.

* essensiële vrae te vra.

* nuwe vrae te vra.

* afleidings (gevolgtrekkings) te vervang wat nie deur die navorsing gestaaf word nie.

* fundamentele aspekte te ondersoek.

* empiriese navorsing te onderneem wanneer dit moontlik is en sinvol sal wees.

DEELNEMENDE NAVORSING (Ellis, 1990:23-36)

'n Navoser se benadering en keuse van navorsingsmetodologie vir navorsing word bepaal deur sy

* lewens- en wêreldbeskouing ("view of the world", " philosophical and ideological position") en

* 'n sosio-politiese konteks.

Die keuse van navorsingsmetodologie word verder bepaal deur

* die doel van die navorsing (die navorser motiveer die keuse van metodes aan die hand van doelwitte).

* die besondere probleem wat aangespreek moet word, met die dialoog (onderhoud) as die "beste" metode vir begryping.

Die uitkoms ("outcome") van die navorsing hang af van

* die sosiale konteks waarin dit voltrek is

* die metodologie wat aangewend is

* die teoretiese raamwerk waarbinne dit ontwikkel is.

Die interpretasie van die navorsingsresultate se akkuraatheid vereis

* 'n intieme betrokkenheid van die navorser by die situasie (probleem) wat nagevors word.

* persoonlike ervaring van die probleem(e) wat tot die navorsing aanleiding gegee het.

* aanvaarding van die betrokkenes by die navorsing ("proefpersone") met

** insameling van data

** interpretasie van hierdie data

** interpretasie van ander bykomende data.

Wanneer daar van definisies gebruik gemaak word, is dit belangrik dat die definisies geoperasionaliseer moet word (in terme van die betrokke navorsingsveld).

PERSOONSTUDIE (veral van Ortopedagogiese belang)

Die een-verteenwoordigende persoonstudie (Gordon & Shontz, 1990:625-646)

Daar bestaan hedendaags pleidooie vir

* metodologie-diversiteit, en

* paradigma-uitbreiding, wat kan lei tot die aanwending van nuwe navorsingsprojekte vir die oplossing van eeu-oue vrae (probleme).

Verteenwoordigende gevallestudies (= persoonstudies WAL) word bestudeer aan die hand van die beginsels van personologie (Murray, H.A., 1983: Explorations in Personality: A clinical and experimental study of fifty men of college age. New York. Oxford. University Press.) en die menswetenskappe (Polkinghorne, D. 1983. Methodology for the Human Sciences: systems of inquiry. Yew York: State University of New York Press. Ricoeur, P. 1981. Hermeneutics and the Human sciences: Essays of language, action and interpretation. Cambridge. England. Cambridge University Press).

Personlogie verwys na die sistematiese bestudering van individue met die doel om relevante aspekte van elke individu aan die lig te bring, waar relevansie bepaal word deur die vraag wat gevra word (probleem wat gestel word) ten aansien van die data wat versamel gaan word. Betekenisse van menslike handelinge word beskerm. I.p.v. verklaring, word begryping beoog.

Een op 'n keer (versigtig geselekteer verteenwoordigend) persoon word in diepte ondersoek om te bepaal hoe hy/sy 'n besondere gebeurtenis of situasie ervaar en hanteer. 'n Metode, bekend as die verteenwoordigende- geval metode is ontwikkel (Shontz, F.C. 1965. Research Methods in personality. New York. Appleton-Century-Crafts), vir 'n beskrywende voorbeeld van 'n persoonstudie (die een-verteenwoordigende-gevallestudie of persoonstudie).

Menslike kenmerke is:

* uniek: verskil van dié van enige ander persoon. Kom slegs voor by die spesifieke persoon wat bestudeer word. Idiografies.

* algemeen: dieselfde as baie maar nie alle ander persone nie. Normatief. Psigometriese metodes toegepas in groepe (Persoonlikheidstoets).

* universeel: dieselfde as alle ander persone. Afleidings word gemaak uit fantasieë, verslae, drome, projeksie-media wat openbaar hoe die spesifieke patroon eksistensiële aangeleenthede soos liefde en dood hanteer.

Data (gegewens) wat ingesamel word kan onderskei word ten aansien van

* vorm: konkrete gedraginge (fenotipe) metaforiese, simboliese en intuitiewe uitinge (genotipe).

* inhoud: kritiese insidente, persoonlikheidstoetse, drome, kunswerke (tekeninge).

* tipe (kategorie): idiografies, normatief (normsentriese evaluering), fantasieë.

* interpretasie: (d.w.s. is dit uniek, algemeen of universeel?).

STAPPE VAN DIE ONDERSOEK

1. Probleemformulering

Die probleem wat rigting gaan gee aan die ondersoek (navorsing) moet gedefinieer word. Die vraag is hoe 'n spesifieke individu kritieke menslike ervarings en besluite hanteer. Sulke ervarings affekteer die wyse van lewe maar kan op duidelik verskillende wyses deur verskillende mense hanteer word (Bv. beroepslewe, aangaan of verbreking van verhoudinge, hantering van godsdiens, siekte, gebreke en dood.)

'n Probleem kan geformuleer word deur te stel: Die navorser wil 'n studie maak van 'n persoon wat ... (gevolg deur 'n beskrywing van die toestand, omstandigheid ens.) bv. ... outisties is.

2. Motivering van die navorsing

Spesifiseer die redes waarom die navorsing belangrik sal wees.

Gordon & Shontz, 1990:62 gee die volgende treffende voorbeeld:

For Example: I wish to study a person who is adapting to the prospect of dying from a terminal illness, because facing death is a universal problem, and what I learn about that person will reveal one of many ways to experience and deal with it. Knowing in detail how one person does so will open up possibilities for studying how other persons deal with it and eventually for discovering which aspects are universal, which differ as a function of general characteristics of people (traits, values, motives, aptitudes, and abilities) and which are idiosyncratic. Used appropriately, such knowledge will promote understanding among counselors and give guidance to others who face similar problems in the future.

3. Selekteer 'n samewerkende navorser (Coinvestigator)

'n Deskundige op die terrein (bv. outisme) waaroor die navorsing gedoen gaan word, met wie die navorser goed sal kan saamwerk, word genader en wat gewillig is om as samewerkende navorser op te tree (In geval van die verhandeling of proefskrif kan (sal) dit die leier of promotor wees).

4. Beskryf die rolle van die navorser, toesighouer (supervisor) en adviseurs

Die navorser moet seker maak dat hy/sy oor die nodige kwalifikasies en motivering beskik om die navorsing te onderneem. Die leier/promotor/ projekleier kan (moet) optree as toesighouer. In dié geval sal 'n ander medewerkende navorser gevind moet word.

Adviseurs (Deskundiges) sal betrek moet word wanneer daar besluite geneem moet word vir die geskiktheid van die samewerkende navorser, wanneer interpretasies van die bevindige gemaak moet word en wanneer probleme wat die navorsing self oplewer, opgelos moet word.

5. Versameling van inligting

Inligting word ingesamel deur opeenvolgende siklusse van data-versameling: aangesien insameling en interpretasie van gegewens (data) tyd in beslag neem, sal verskillende sessies van datainsameling nodig wees. Insamelingsprobleme soos reeds in die voorgaande paragrawe vermeld, word sistematies volgens 'n opgestelde rooster uitgevoer. Periodieke samesprekings met die samewerkende navorser, die toesighouer en adviseurs word geskeduleer.

6. Voorbereiding van 'n samevatting

Nadat die data-insameling afgehandel is, moet dit gesistematiseer word moontlik in terme van die unieke, die algemene en die universele wat aan die lig gekom het.

Konferensies wat bestaan uit al die betrokkenes by die navorsing word gehou met die doel om onderliggende ooreenkomste (temas) in die ondersoekresultate aan die lig te bring en om dit te interpreteer en om verdere vrae te vra.

Die temas wat geïdentifiseer is, moet duidelik beskryf word en daarna bespreek word met die oog op verfyning van die beskrywing.

7. Skryf van die finale verslag ('n Voorstel)

7.1 Inleiding

* Spesifiseer die probleem.

* Motiveer die navorsing.

* Dui aan welke bydrae die studie van 'n spesifieke persoon moontlik kan maak tot probleemoplossing.

* Maak 'n lys van die vrae wat die navorser wil beantwoord met die navorsing.

7.2 Prosedure-beskrywing

Beskryf die prosedures wat aangewend gaan word om data in te samel en motiveer die seleksie daarvan aan die hand van die terme uniek, algemeen en universeel.

7.3 Die ondersoek

Gee 'n opsomming van die belangrikste gebeure tydens die dataversameling en die interpretasie daarvan. Beskryf die onderliggende temas.

7.4 Konklusies

7.5 Aanbevelings (insluitende aanbevelings oor verdere navorsing)

Opmerking: M- en D-kandidate wat hierdie wyse van navorsing wil aanwend, word aangeraai om die oorspronklike artikel te bestudeer.

VERWYSINGS

Best, I.W. 1981. Research in Education. Fourth Edition. New Jersey. Prentice-Hall.

Buchmann, M. 1991. Learning and action in research reporting. Scandinavian Journal of Educational Research, 35(2).

Ellis, P. 1990. Participatory research methodology and process. Convergence, 23(4).

Fend, H. 1990. Bilanz der empirischen Bildungsforschung. Zeitschrift für Pädagogik, 36(4), September.

Gordon, J. & Shontz, F. 1990. Representative Case Research: a way of knowing. Journal of Counseling and Development, 69, September.

Halling, S. & Leifer, M. 1991. The theory and practice of dialogal research. Journal of Phenemenological Psychology, 22(1).

Parker, R.M. 1990A. Science, Philosophy and Politics in the search for truth in rehabilitation research. Rehabilitaion Counseling Bulletin, 34(2).

Parker, R.M. 1990B. Power, control and validity in research. Journal of Research, 23(10), December.

Ricks, F., van Gyn, G., Branton, G., Cut, J., Loken, M. & Tara, N. 1990. Theory and research in coöperative education: practice implications. Journal of Coöperative Education, 27(1), Fall.

Sax, G. 1979. Foundations of Educational Research. New Jersey. Prentice-Hall.

Slavin, R.C. 1984. Research Methods in Education. A practical guide. New Jersey. Prentice-Hall.

Stotsky, S. 1991. On developing independent critical thinking. What we can learn from studies of the research process. Written communication, 8(2), April.

Tuckman, P.W. 1978. Conducting Educational Research. New York. Jovanovich.

Walizer, M.H. & Wiener, P.L. 1978. Research Methods and Analysis. Searching for relationships. New York. Harper & Row.

Wiersma, W. 1985. Research Methods in Education. An introduction. Third Edition. Boston. Allyn & Bacon.


oo000oo