Voordragte oor navorsing
Terug na Navorsing
DIE BEGELEIDINGSFUNKSIE VAN HISTORIESE OPVOEDKUNDE
ORIëNTERING
Wanneer daar sprake is van begeleiding, is daar meteens 'n begeleier, 'n
begeleide en 'n begeleidingsdoel, binne die ligveld van begryping van
die betekenis van begeleiding.
Begeleiding impliseer die oordrag deur 'n begeleier van dit wat
waardevol is aan iemand (die begeleide) vir wie die begeleiding
aanvaarbaar en welgevallig sal wees. Die begeleier en die begeleide
moet geïdentifiseer word en terselfdertyd moet die doel met die
begeleiding duidelik verwoord word.
In hierdie studiestuk is die begeleiers die beoefenaars van Historiese
Opvoedkunde en die begeleides is die beoefenaars van ander dissiplines
van die Opvoedkunde. Die begeleidingsdoel is vir Historiese Opvoedkunde
om 'n beskeie bydrae te maak tot die beskerming van die wetenskaplike
status van die ander dissiplines. Hiermee word nie te kenne gegee dat
die ander dissiplines nie daartoe in staat is om self die eie
wetenskaplikheid te bewaar en uit te bou nie. Wat wel te kenne gegee
word is dat daar in die stryd om die behoud en ontwikkeling van
wetenskaplikheid, die bystand van alle relevante vennote nodig is.
Historiese Opvoedkunde wil 'n relevante vennoot wees vir die ander
dissiplines in hulle worsteling om wetenskaplike status.
Niemand kan homself as vennoot verklaar nie. Hy moet as vennoot aanvaar
word. Vir die Historiese Opvoedkunde om as vennoot aanvaar te word deur
die ander dissiplines, impliseer 'n duidelike uitspel van die
begeleidingsdoel. Dit beteken dat die Historiese Opvoedkunde oortuigend
sal moet aantoon wat sy eiesoortige bydrae kan wees tot die vestiging en
ontplooiing van die wetenskaplikheid van die ander dissiplines. Op dié
wyse kan ook die noodsaaklike dialoog tussen die dissiplines bevorder
word. Dit gaanhier om 'n dialoog wat mootlik is omdat al die
dissiplines hulle besig hou met dieselfde werklikheid, naamlik die
opvoedingswerklikheid.
Historiese Opvoedkunde kan begelei omdat hy die volgende eiesoortige
funksies kan vervul:
1. beoordeling van standpunte en uitsprake wat in die verlede deur
opvoedkundiges gemaak is.
2. uitwys van karikaturisme.
3. uitleg van die werking van die tyd.
4. aanduiding van valse oorsake.
5. etimologiese ontleding.
6. beskerming van die eenheid van die Opvoedkunde.
1. BEOORDELING VAN STANDPUNTE EN UITSPRAKE VAN OPVOEDKUNDIGES.
Byna elke deeldissipline van die Opvoedkunde verwys na een of meer
deskundiges wie se argumente, uitsprake, bevindings en opinies as
waarheid, wat selde teengespreek mag (kan) word, aanvaar word. Soms
geskied hierdie aanvaarding op 'n onkritiese wyse en soms uit blote
piëteit. Dan loop so 'n dissiplines gevaar om iets van sy wetenskaplike
karakter in te boet.
Bepaalde argumente of standpunte word as geldig aanvaar bloot omdat een
of ander bekende persoonlikheid dink 'n bepaalde argument of standpunt
is waar, of geskryf het dat dit so is. ("Hy sê so!") Gesaghebbendheid
word soms maklik aanvaar en maklik deurgetrek na alles wat die
gesaghebbende gesê of geskryf het.
'n Gesaghebbende is wel iemand wat
(i) identifiseerbaar is. Daarom mag daar nie geskryf word:
"Iemand het eendag die stelling gemaak dat ...
Geleerdes glo (weet) almal dat ...
(ii) deur vakgenote as gesaghebbend erken word (Blyk deur die
hoeveelheid kere wat hy aangehaal word om argumente te
staaf met inagneming van Michalos, 1970:38 se uitspraak:
Whatever the evidence fails to support, a popular name
cannot support either.)
(iii) wat nie eie belang voorop stel nie, konsensieus is en wat
gekwalifiseerd is om 'n deskundige genoem te word vanweë
opleiding en akademies-professionele status.
Dit beteken nie dat 'n bepaalde deskundige slegs onbetwisbare
uitsprake maak nie.
'EXAMPLE. Overheard in a library, "Look! This Webster's
Dictionary says that 'primp' means 'dress up' or 'preen'. So
that's what the word means and not something else."
COMMENT. The "authority" of a dictionary is a special case.
Dictionary definitions have no finality, for the editors of a
dictionary do not lay down what words should mean. Rather,
they base their definitions upon research into how the words
are in fact used by educated speakers of the language. Some
words are reported as having a colloquial or slang use. Thus
a reputable dictionary is authoritative in the sense that it
is a scholarly report of how words are used in practice.
Though a dictionary "binds" no one, he who wishes to use a
word in an unusual sense will do well to point out the special
meaning that he intends or he will run the risk of being
misunderstood' (Fearnside & Holther, 1959:84-86).
Soms word die geldigheid van 'n argument of standpunt aanvaar omdat 'n
groep mense met besondere bekende titels of wat as besonder deskundig
(outoritieit) beskou word, dit na bewering aanvaar het.
Byvoorbeeld:
1. Fenomenoloë aanvaar dat hulle uitsprake altyd aanspraak kan maak op
werklikheidsgetrouheid.
2. Verwysing na persone wat die navorser se argumente ondersteun met
verswyging van die teenstanders vind soms plaas. Toonaangewende
opvoedkundiges aanvaar dat opvoeding met volwassenheid eindig en
daarom is dit so en bevraagtekening is 'n aanduiding van domheid.
3. Deskundiges word soms gebruik om die teenstaander die stilswye op
te lê. Die bekende vraag aan V E Frankl lui: Wie is u om die
grote Freud te weerspreek? Hierop het Frankl skerp geantwoord: As
die dwerg op die reus se skouers staan, sien hy verder.
Uitsprake word soms as geldig verklaar omdat dit tradisioneel deur 'n
aantal opvoedkundiges geglo word dat dit geldig is. Daar word aanvaar
dat alles wat oud (tradisioneel) waar is, goed is.
Byvoorbeeld:
1. Oor die eeue heen is dit as waarheid aanvaar dat ...
2. Opvoedkundiges het vir eeue lank gepostuleer dat alle kinders
dankbaar vir geborgenheid is.
3. Mense met oë wat naby aan mekaar sit, is onbetroubaar, ens.
Die Historiese Opvoedkunde kan in hierdie verband besondere
begeleidingswerk verrig deur skerp resensie-studie te onderneem. Aan
die hand van resensies kan daar duidelk uitgewys word dat selfs die
hoogste aangeskrewe opvoedkundiges vanweë menslikheid die
opvoedingswerklikheid verkeerd kan lees.
Die Historiese Opvoedkunde kan begin deur in die voorgeskrewe boeke van
die verskillende dissiplines die opvoedkundiges wat op die voorgrond
staan te identifiseer. Daarna kan resensie-studie onderneem word. Die
Historiese Opvoedkunde konsentreer veral op die kritieklose aanvaarding
van uitsprkae deur die betrokke opvoedkundiges.
Dit kan moontlik vir die Historiese Opvoedkunde sinvol wees om 'n
werkstuk, skripsie of selfs verhandeling te laat aanpak oor "Die
resensie as histories-opvoedkundige metode".
2. BEGELEIDING DEUR HISTORIESE OPVOEDKUNDE DEUR KARIKATURISME UIT TE
WYS
Die geldigheid van argumente, uitsprake en standpunte word soms
gepostuleer deur die beskouinge of aansprake van een of ander kundige
gedeeltelik aan te haal. Net die gedeelte wat by die eie argumentering
pas, word na verwys of 'n wanvoorstelling daarvan word as 'n ware (egte)
interpretasie beskou. Dit staan ook bekend as karikaturisme: (Landman,
van Zyl & Roos, 1975:32-34).
'n Karikaturis is iemand wat karikature maak in die vorm van
wanvoorstellinge. Hierdie wanvoorstellinge word dan met entoesiasme en
met baie emosionele opwinding en selfs opsweping, aangeval. Die
karikaturisme is dan in werklikheid 'n skyngeveg (vgl. Don Quichot) teen
vermeende teenstanders wat met groot onverdraagsaamheid gevoer word en
waardeur eintlik niks bereik word nie, aangesien daar teen die nie-bestaande 'n veldtog gevoer word. Die karikatuur bestaan in werklikheid
nie en 'n stryd daarteen is sinloos veral omdat daar vanweë emosionele
oorspoeldheid essensieblindheid in die hand gewerk word.
Byvoorbeeld:
Malan, J.H.: Die Wysgerig-antropologiese Grondslae van die
Opvoedkundige teorie by C.K. Oberholzer. D.Phil-proefskrif,
Bloemfontein, 1971 (later gepubliseer deur Sacum), beweer dat aangesien
Oberholzer in die opvoedingswerklikheid raakgesien het dat minstens twee
mense teenwoordig moet wees alvorens daar van opvoeding sprake kan wees,
hy die mens getalsmatig sien! So 'n bewering druis reëlreg in teen al
Oberholzer se openbaringe en verder kan die vraag gevra word of daar dan
géén mense moet teenwoordig wees vir 'n opvoedingsituasie nie!
Dit is eintlik net die Histories-opvoedkundige wat geïntresseerd is in
die totale ontwikkelingsgang van die denke van 'n denker, wat
karikaturisme sal kan uitwys. Deur karikaturisme in 'n dissipline uit
te wys kan die Historiese Opvoedkunde 'n betekenisvolle bydrae maak tot
die beskerming van die wetenskaplikheid van die betrokke dissipline.
'n Saak wat verwant is aan karikaturisme en wat effektief deur die
Historiese Opvoedkundige uitgewys kan word, is:
Soms (dikwels) gebeur dit dat 'n opvoedkundige van standpunt verander en
dié verandering dan geïgnoreer word. Daar word gewoonlik gesê: 'Wat jy
nou sê rym nie met jou oorspronklike standpunt nie en daarom kan nie
veel waarde daaraan geheg word nie'.
Voorbeeld 1:
Premis 1: Opvoedkundige (1969): Die fenomenologiese metode is die
enigste metode.
Premis 2: Opvoedkundige (1977): Die fenomenologiese metode is nie
die enigste metode nie maar die beste essensie-openbarende metode.
Konklusie: Die opvoedkundige pleeg fenomenologisme as vorm van metode-monisme, aangesien 'n eerste standpunt altyd geldig is en 'n verandering
van standpunt toevallig is of met bymotiewe gedoen word.
Voorbeeld 2:
Premis 1: A (1969): Wetenskapsbeoefening is as vorm van
'strenge Wissenschaft' is
vooronderstellingloos.
Premis 2: A (1977): Lewensopvatlike toelaatbaarheid van
wetenskaplike (resp. navorsings-)
handelinge is 'n noodsaaklike vooronderstelling.
Konklusie: A is 'n voorstander van neutrale en waardevrye wetenskapsbeoefening, want dit was sy oorspronklike standpunt.
Alternatiewe konklusie: A laat toe dat die universele op sleeptou
geneem word deur die partikuliere. (Daar word nie raakgesien dat
lewensoppervlakkigheid 'n universele verskynsel is nie.)
Voorbeeld 3:
'n Dissipline maak hom ook skuldig deur slegs aandag te gee aan die
eerste publikasie(s) van 'n skrywer en die latere publikasies (doelbewus
of uit onkunde) te ignoreer.
Die Historiese Opvoedkunde tree beskermend op wanneer uitgewys word
welke veranderinge in die denkweg van 'n bepaalde denker plaasgevind het
en wat hom gemotiveer het om die betrokke wysiging(s) aan te bring.
In hierdie verband sal die Historiese Opvoedkunde met vrug gebruik kan
maak van die Johnson metode van motiveringanalise (Johnson, 1977:147-159).
3. UITLEG VAN DIE WERKING VAN TYD
Baie dinge, ook die verwerkliking van die pedagogiek, verander met
verloop van tyd. Tyd is 'n noodsaaklike voorwaarde vir verandering
d.w.s. daar kan geen verandering wees sonder tydsverloop nie;
verandering vereis tyd.
Aan die ander kant is dit so dat baie dinge, soos byvoorbeeld die
essensieel pedagogiese, nie verander met die verloop van tyd nie. In
hierdie geval is tyd nie 'n voldoende rede (voorwaarde) vir verandering
nie d.w.s. daar mag wel 'n verloop van tyd sonder enige verandering
wees.
Soms word daar aanvaar dat 'n blote verloop van tyd betekenisvolle
verandering moet teweegbring. Terwyl sekere veranderinge kan plaasvind,
hoef dit nie betekenisvolle veranderinge te wees nie en hoef dit nie
pedagogiese relevansie te hê nie. Dit is 'n fout om aan te neem dat dit
nie nodig is om iets te doen nie, aangesien tydsverloop wel sal sorg vir
betekenisvolle veranderinge.
Opmerking: Dit is belangrik om te onderskei tussen die veranderbare en
die onveranderbare (die perenniale, paedagogica perennis). Ook:
identifikasie van dit wat verander moet word.
Die Historiese Opvoedkunde kan 'n beskermingsbydrae lewer deur die
gelykblywende in 'n besondere opvoedkundige denker se denkuitkomstes uit
te wys. Ook wat moet verander vanweë nuwe bevindinge en ontdekkings en
gebeure.
4. AANDUIDING VAN VALSE OORSAKE
Soms gebeur dit dat 'n kousale verband aanvaar word wanneer dit nie die
geval is nie. Die volgende word onderskei:
(i) Non-causa pro causa:
Dit is die aanduiding van 'n oorsaak wat nie 'n oorsaak is nie bv.
bygeloof (Vrydag 13de, swart kat, ens.)
(ii) Post hoc ergo propter hoc:
'n Foutiewe aanvaarding daarvan omdat gebeure A voor gebeure B
plaasgevind het, A noodwendig B veroorsaak het.
Bv. A moes die moord gepleeg het omdat iemand hom die huis sien
binnegaan het en onmiddellik daarna is 'n geweerskoot en 'n skreeu
gehoor. (Miskien is A die moordernaar maar die feit dat hy in die
huis ingegaan het, is nie 'n bewys daarvan nie.) (Michalos,
1970:108).
Die Historiese Opvoedkunde tree beskermend op wanneer hy die dissiplines
oproep om te waak teen 'n simplistiese oorsaak-gevolg denkskema. So 'n
skema blyk uit die gebruik van uitdrukkings soos: As gevolg van,
gevolglik,
derhalwe, ens.
Die Historiese Opvoedkunde identifiseer vir die dissiplines gevalle van
non-causa pro causa. Verder kan voorbeelde van post hoc ergo propter
hoc gegee word, veral om te dien as waarskuwing teen die
onwetenskaplikheid van simplistiese oorsaak-gevolg denkskemas.
5. ETIMOLOGIESE VERKLARING
Etimologie hou hom besig met die oorsprong en ontwikkeling van 'n woord
of dele van 'n woord deur 'n studie te maak van die basiese elemente
daarvan, die vroegste bekende gebruik en veranderings in vorm en
betekenis (Universal Dictionary, 1988:529). Daarom kan dit aanvaar word
dat die Historiese Opvoedkunde besondere belangstelling vir die
etimologie sal hê.
Die Historiese Opvoedkunde kan aan die hand van etimologie beskermend
optree, deur
(i) uit te wys wanneer 'n skrywer (opvoedkundige) nie besig is met
die outentieke betekenis van 'n bepaalde begrip nie.
(ii) aan te toon dat begryping van 'n saak verskerp kan word
indien die verwoording in verband met 'n saak etimologies
ontleed word.
(iii) te kontroleer of etimologiese analises wat gemaak word, korrek
is. Byvoorbeeld:
Speakers have been known to insist on insisting that
"education" comes form 'educere', a Latin word meaning to draw
out. From this etymology they argue that education should be
a matter of drawing out the student in the sense of coaxing
rather than compelling. Maybe it should, but aside from the
fact that the word comes from 'educare' meaning "to educate",
the derivation remains irrelevant to the argument.
6. HISTORIESE OPVOEDKUNDE AS BESKERMER VAN DIE EENHEID VAN DIE
OPVOEDKUNDE
Onder opvoedkundiges word daar af en toe gesprek gevoer oor die eenheid
van die Pedagogiek (Opvoedkunde), meesal met die vooronderstelling
(eksplisiet of implisiet) dat "eenheid" 'n besondere kriterium vir
wetenskaplikheid is.
Die Historiese Opvoedkunde kan in hierdie verband beskermend optree deur
'n uitleg te gee van die historiese ontwikkeling van die dissiplines van
die Pedagogiek tot integrale wetenskap.
Verder kan die Historiese Opvoedkunde homself sinvol besig hou met 'n
beskrywing en interpretasie van die historisiteit (temporaliteit) van
elke afsonderlike pedagogiekdissipline. 'n Dissipline wat kennis dra
van sy historiese verworteldheid sal nie maklik op ongegronde dwaalweë
beland nie. So 'n dissipline sal ook daartoe in staat wees om sy eie
toekomsbetekenis uit te spel.
Verdere bydraes wat die Historiese Opvoedkunde kan maak tot die
voortgang van eenheid is deur die volgende aan te toon:
(i) Historiese Opvoedkunde toon aan dat die opvoedingswerklikheid
'n besonder ingewikkelde werklikheid is. Die kompleksiteit
daarvan dwing die opvoedkundige om nie in 'n metode-monisme te
verval nie, maar om 'n verskeidenheid van werklikheidsgetroue
metodes aan te wend. Opvoedkundiges kan dan in 'n
pedagogiekgesprek(ke) die uitkomste van die aanwending van die
verskillende metodes met mekaar vergelyk.
(ii) Historiese Opvoedkunde is in staat om met behulp van
voorbeelde uit die verlede (en hede) te verduidelik dat
die eenheid van die pedagogiek (wat primêr 'n eenheid van
pedagogiekers moet wees) bedreig kan word indien
* die bestaan van meerdere perspektiewe op die komplekse
opvoedingswerklikheid nie erken word nie;
* die bestaansreg van metodes anders as die eie (gekose)
metode ontken word; en
* verdagmakery en geringskatting van ander metodes
subjektivisties (en soms emosioneel) geskied.
(iii) Historiese Opvoedkunde beskerm eenheid deur daarop te wys dat
(deur die eeue) die eenheid van die opvoedkunde (pedagogiek)
geleë was in die feit dat opvoedkundige denke kategoriale
denke is, en die verskil lê in die keuse van kategorieë (dit
in terme waarvan daar bedink is).
Die kategorieë-keuses wat oor die eeue gemaak is (en moontlik die
motivering daarvan) kan insiggewende leesstof wees (en moontlik die
onderwerp van 'n verhandeling in die Historiese Opvoedkunde wees).
7. BEGELEIDING VAN HISTORIESE OPVOEDKUNDE DEUR DIE OPVOEDKUNDIGE
DISSIPLINES
Begeleiding is 'n dialogiese gebeure. Daarom is daar nie nie net 'n
singewende gerigtheid van Historiese Opvoedkunde op die opvoedkundige
dissiplines nie, maar is daar ook by die Historiese Opvoedkunde 'n oop
staan vir hierdie dissiplines.
Dit beteken onder andere dat hierdie dissiplines aan die Historiese
Opvoedkunde hulle behoefte (soms selfs nood) aan 'n histories-opvoedkundige perspektief sal bekend maak.
Dit beteken verder dat hierdie dissiplines as taak het om histories-opvoedkundige interpretasies waarmee hulle nie saamstem nie of wat
moontlik ongegrond is te bevraagteken en korreksies aan te bring op 'n
konsensus-basis. Op hierdie wyse kom 'n verhouding tussen die
opvoedkundige dissiplines tot stand wat as 'n wedersydse korrektief
beskryf sal kan word.
8. SLOTOPMERKING
1. Die Historiese Opvoedkunde is daartoe by magte om 'n onontbeerlike
bydrae te maak tot die beskerming van opvoedkundige
wetenskaplikheid.
2. Departemente Historiese Opvoedkunde sal nog voorbeelde van hulle
beskermingsfunksies kan gee.
BIBLIOGRAFIE
Fearnside, W.W. & Holther, W.B. 1959. Fallacy. The counterfeit of
arguments. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.
Johnson, G.A. 1977. Between phenomenology and history: an
interpretation and application of transcendental phenomenology.
Xerox University Microfilms: Michigan.
Landman, W.A., Van Zyl, M.E.J. & Roos, S.G. 1975. Fundamenteel-pedago
giese essensies: hulle verskyning, verwerkliking en inhoudgewing.
Durban: Butterworth.
Michalos, A.C. 1970. Improving your reasoning. Prentice-Hall: New
Jersey.
Reader's Digest Universal Dictionary. 1988. Published by The Reader's
Digest Association: London.
o-0-o
|