Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


SKRYF VAN 'N LITERATUUROORSIG (WENKE)

INLEIDEND

Verkennende en gerigte literatuurstudie vorm die skering en inslag van die meeste (alle!) verhandelings en proefskrifte. Dit is derhalwe vanselfsprekend dat die M- en D-navorser daaraan besondere aandag sal gee. 'n Besondere aspek (deel) van die literatuurstudie is die literatuuroorsig wat as verkennende navorsingsweg-bereidende literatuurstudie, spesifiek bedoel is vir:

* Voorsiening van agtergrond (konteks) vir die navorsing wat onderneem gaan word.

* Uitleg van die aktualiteit van die onderhawige navorsing en motivering vir die noodsaaklikheid dat dit aangepak moet word.

* 'n Aanduiding dat die navorser se kennisbesit toereikend is om die navorsing te onderneem.

* Identifisering van die area waarin die probleem wat opgelos moet word en wat aanleiding gegee het tot die navorsing, aangetref word.

* Identifisering van leemtes in bestaande (gangbare) probleemstelling (doelwitformulering), metode-beskrywing en metode-relevansie, begripsverheldering, uitgangspunte (paradigma-stelling), bespreking (betoog), resultate, gevolgtrekkings en aanbevelings.

* Identifisering van gesaghebbendes en 'n kort samevatting van hulle uitsprake wat betrekking het op die navorsing (probleemoplossing) wat aangepak gaan word.

Navorsers vind dit soms moeilik om in die vorm van 'n literatuuroorsig verslag te doen van die literatuurstudie wat hulle onderneem het. Dikwels word die volgende metode gevolg:

Skrywer A sê ....., skrywer B sê ....., skrywer C sê ..... ens. Meesal word daar dan verslag gedoen oor waaroor die skrywers met mekaar ooreenstem en minder dikwels word verskille aangedui. Soms word die ooreenkomste gebruik om aan te dui dat die navorser wat daarop wil voortbou, met 'n haalbare saak besig is. Soms word daar 'n keuse gemaak tussen uitsprake deur skrywers wat van mekaar verskil en meesal word die keuse gemotiveer.

Die probleem met hierdie werkwyse is vaagheid. Die vaagheid kan oorwin word deur die ooreenkomste en verskille en die implikasies (betekenis) wat dit het vir die navorsing wat onderneem gaan word, duidelik uit te wys en terselfdertyd nie te verval in die skema A sê, B sê, C sê ens. nie.

Dit beteken dat skrywers se uitsprake met mekaar vergelyk moet word in terme van die relevansie daarvan vir die probleemoplossing waarby die M- en D-navorser wil uitkom. Dit kan die doeltreffendste gedoen word deur die geïdentifiseerde gesaghebbendes se uitsprake te stel, te bespreek en te evalueer deur gebruik te maak van 'n beoordelingskema. 'n Beoordelingskema mag nie lukraak saamgestel word nie, maar moet voldoen aan die eise van sistematiek en wetenskaplikheid. 'n Besondere wyse om so 'n skema op te stel, is om die benaminge van 'n aantal navorsingstappe as items (opskrifte) te gebruik.

Terselfdertyd moet die M- en D-navorser 'n beskrywing, uitleg en waar nodig 'n motivering gee van die eie navorsingsontwerp (navorsingsprogram wat gevolg gaan word). Op dié wyse kom meesal 'n eerste hoofstuk tot stand.

Die volgende beoordelingskema gaan in hierdie studiestuk verduidelik word:

1. Onderwerpontleding (Titelanalise)

1.1 Onderwerpe van gesaghebbendes

1.2 Ontleding van die eie navorsingsonderwerp

2. Probleemstelling

2.1 Probleemstellings deur gesaghebbendes

2.2 Probleemstelling vir die onderhawige navorsing

3. Metode-beskrywing

3.1 Metode-beskrywing deur gesaghebbendes

3.2 Metode-beskrywing vir die onderhawige navorsing

4. Begripsverheldering

4.1 Begripsformulering deur gesaghebbendes

4.2 Begripsformulering wat gaan geld vir die onderhawige navorsing

5. Uitgangspunte (paradigmas)

5.1 Gangbare paradigmas van gesaghebbendes

5.2 Paradigma(s) vir die onderhawige navorsing

6. Bespreking

6.1 Aard en kwaliteit (oortuigingskrag) van die betoog deur gesaghebbendes

6.2 Kriteria wat sal geld vir die navorser se betoog

7. Resultate, gevolgtrekkings, aanbevelings

7.1 Kritiese beoordeling van gesaghebbendes se resultate, gevolgtrekkings en aanbevelings.

7.2 Wyse waarop resultate, gevolgtrekkings en aanbevelings in die navorsingsverslag hanteer gaan word.

ONDERWERPONTLEDING

Die M- en D-navorser versamel artikels, boeke en verslae wat uit die betiteling daarvan moontlike verband kan hê met die navorsing wat hy/sy wil onderneem. (Die leier/promotor sal besluit oor die aantal. Konsentreer eers op die swaargewigtige (gesaghebbendes) en hanteer die mindere ligte (napraters) met die nodige versigtigheid. Dit beteken ook dat primêre bronne groter gewig dra as sekondêre bronne.)

Dié vergelyking van onderwerpe lei tot 'n lys hoofsake (kernaangeleenthede) wat reeds aan navorsing blootgestel was. Die M- en D-navorser bepaal (veral in die lig van sy/haar eie navorsingsonderwerp) welke hoofsake nog nie aangespreek is nie of nie toereikend aangespreek is nie. Die handeling kan dien as eerste motivering vir die navorsing wat onderneem gaan word.

Dit kan ook dien om aktualiteit te onderstreep.

PROBLEEMSTELLING

Die onproblematiese en die doellose kan nooit dien as motivering vir navorsing nie.

Die M- en D-navorser neem nou elke geselekteerde geskrif en soek na 'n subopskrif "probleemstelling", of "die probleem" of "probleemformulering" of "doel van die ondersoek" en reduseer dit na 'n aantal vrae indien die skrywer(s) dit nie reeds gedoen het nie. Soms is die probleemstelling verskuil in 'n "inleiding" of "inleidende opmerkings" of "orientëring". In dié geval word daar in die inleiding gesoek na begrippe soos "probleme" en "vraag". Die navorser skryf die spesifieke vrae wat gevra is neer.

Vervolgens word 'n aantal vrae wat nog nie gevra is nie, geformuleer. Dit kan vrae wees wat in verband staan met die M- en D-navorser se opgawe van die hoofsake waaroor daar nog navorsing gedoen moet word. Dié handeling stel die navorser in staat om kommentaar te lewer oor die volledigheid van die probleemstelling. 'n Poging kan (moet) ook aangewend word om (met die hulp van die studieleier) opmerkinge te maak oor die kwaliteit (en/of relevansie van die vrae).

Op grond hiervan formuleer die M- en D-navorser 'n eie probleemstelling (en/of doelwitformulering). Die volgende is moontlike stappe:

* Identifikasie van hoofsake (veranderlikes).

* Formulering van geïdentifiseerde hoofsake (veranderlikes) in vraagvorm.

* Formuleer vrae ten aansien van onderlinge verbande.

* Vooruitskouinge (aangaande data wat versamel moet word om die gestelde vrae te beantwoord).

Uit die probleemstelling en/of doelstelling waarvan die duidelikheid en ondubbelsinnigheid beoordeel moet word, moet die tweede motivering vir die navorsing blyk. Probleemoplossing as doelstelling is 'n besondere motivering, veral as die waarde van die probleemoplossing verduidelik kan word.

METODE-BESKRYWING

Metode-loosheid of metode-verborgenheid lei tot verduistering van die navorsingsweg. Die navorser soek dus na subopskrifte soos: navorsingsontwerp en metodologie, navorsingsprosedure, metode van ondersoek, metode, ontwerp van die studie, empiriese ondersoek, probleembenadering, beskrywing van die program. Soms is die metode(s) wat aangewend is verskuil in 'n inleiding en ook in 'n aantal van die subopskrifte.

Die navorser (met hulp van die leier) pas metode-kritiek toe. Dit word gewoonlik gedoen deur opmerkings te maak oor relevansie: pas die toegepaste metodiek by die probleemoplossing (as antwoorde op die vrae wat met die probleemstelling gestel is?) Is dié metode die beste wyse om relevante antwoorde op vrae te kry? Indien nie, welke metodiek moet aangewend word en waarom?

In die metode-beskrywing kan ook gekyk word na die navorsingsubjekte (proefpersone, respondente). Die navorser dui dan aan welke persone by sy/haar navorsing betrokke gaan wees (indien enige).

Die M- en D-navorser wat hipoteses wil stel, kan die volgende stappe volg:

1. Evaluering van hipoteses wat deur die gesaghebbendes gestel is en die kwaliteit van die verband tussen hipotesestelling en die seleksie van navorsingsprosedures.

2. Neerskryf van spesifieke tentatiewe stellings wat die verwagtinge of vermoede wat die probleemoplossing moontlik kan wees, formuleer.

3. Operasionalisering van stellings.

4. Stel van alternatiewe hipoteses.

5. Formulering van geoperasionaliseerde hipoteses in rigtinggewende vorm.

6. Noem die navorsings-metodes en prosedure wat deur die gestelde hipoteses opgeroep word: Om hipotesetoetsing uit te voer, moet die navorser aandui watter metode(s) hy gaan aanwend. Aandag moet gegee word aan:

* Metodes wat pas by die aard van die ondersoekgebied.

* Seleksie uit die moontlike metodes met die gestelde hipoteses as seleksiekriteria.

* Ordening van die metodes in 'n besondere stelsel (sisteem).

BEGRIPSVERHELDERING

Die navorser soek na subopskrifte soos definisies, begripsverheldering, nadere presisering van kernbegrippe, begrippe, begripsverklaring, terminologie.

Soms is die subopskrifte die kernbegrippe wat die skrywer hanteer. In so 'n geval volg meesal die verklaring net onder die subopskrif.

Die navorser bepaal welke begripsverklaringe vir hom/haar aanvaarbaar is en motiveer die aanvaarding of nie-aanvaarding. Die M- en D-navorser moet duidelik verklaar dat vir die doel van sy/haar navorsing(-verslag) die kernbegrippe "die volgende betekenisse het". Daar moet dan konsekwent by dié betekenisse gehou word (logiese identiteitsbeginsel).

UITGANGSPUNT (VERTREKPUNT, PARADIGMA)

Ten aansien van 'n uitgangspunt (paradigma) moet die M- en D-navorser helderheid hê oor die beste antwoorde op die volgende vrae:

* Waar in die verslag sal dit die effektiefste wees om die vooronderstellings wat die navorsing begelei, te stel?

* Wanneer moet dit blyk watter navorsingstradisie deur die navorser in ag geneem word?

* Watter vooronderstellings wat eie is aan die gekose (gehuldigde) navorsingstradisie gaan dien as agtergrond waarteen daar geïnterpreteer gaan word?

Die M- en D-navorser soek na subopskrifte soos verskillende benaderings, navorsingsbenaderings, paradigma, alternatiewe modelle, teoretiese raamwerk, teorie, teoretiese standpunte, gesigspunte. Die uitgangspunte word krities met mekaar vergelyk. Motivering vir verwerping en/of aanvaarding word gegee.

Die navorser verklaar vervolgens sy eie uitgangspsunte (vooronderstellings) en hoe dit in die navorsing(-verslag) gaan figureer. Hoe raak dit interpretasies en die bespreking?

BESPREKING (BETOOG)

Die navorser soek na subopskriftte soos bespreking, diskussie, interpretasie van resultate, aanbieding van resultate.

Instemming of nie-instemming of verwerping van die argumentasie moet duidelik uitgespel en gemotiveer word. Leemtes moet aangedui word. Opmerkings moet gemaak word oor die gehalte van argumentasie en voorkoms van valse redenering. Die implikasies vir probleemoplossing kan ook aangedui word.

Spesifieke sake wat beoordeel kan word is of die redes wat aangewend word om 'n standpunt, aanspraak, afleiding of opvatting te staaf, oortuigend en vry van valshede is. Vloei konklusies duidelik voort uit redes (premisse)? Maak die navorser hom skuldig aan valse redenering?

RESULTATE, GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

Die navorser is op die uitkyk vir opskrifte soos resultate van die ondersoek, praktykimplikasies, implikasies (vir praktykverbetering en verdere navorsing), resultate, gevolgtrekkings, toepassings.

Resultate en gevolgtrekkings word soms verskuil onder opskrifte soos slot, slotsom, ten slotte, slotopmerking, konklusie, samevatting, sintese.

Die navorser moet resultate en gevolgtrekkings noukeurig evalueer, veral met die oog op die formulering van eie hipoteses.

Die M- en D-navorser kan op hierdie stadium net aandui hoe die eie resultate aangebied gaan word, hoe gevolgtrekkings gemaak gaan word en welke soort aanbevelings in die vooruitsig gestel word. Hy/sy kan onder andere te kenne gee dat daar beoog word om aandag te gee aan:

* Weergawe van die betekenis van die resultate (in terme van die navorsingsdoel).

* Beoordeling of dubbelsinnighede in die resultate voorkom (en die uitskakeling daarvan).

* Beoordeling of weersprekings in die resulte voorkom (en moontlike verklarings daarvoor met die implikasies daarvan vir probleemoplossing).

* Beoordeling of die resultate betroubaar is.

Die M- en D-navorser gee hier te kenne dat sy/haar interpretasie opgevolg gaan word met gevolgtrekkings en aanbevelings.

Die M- en D-navorser kan op hierdie stadium stel dat die volgende vir hom/haar betekenisvol is:

Die betekenisvolheid van die navorsing wat onderneem is, sal blyk uit die afleidings wat op grond daarvan gemaak kan word. Die navoser gaan dus verslag doen van sy bevindinge in die vorm van gevolgtrekkings. Die gevolgtrekkings gaan begrond wees in die navorsing wat onderneem is en gaan 'n prominente plek kry in die navorsingsverslag (verhandeling, proefskrif). Hou die gevolgtrekkings verband met die doelwitte en/of hipoteses wat gestel is in 'n vraag wat beantwoord gaan word?

SLOTOPMERKING

'n M- en D-navorser wat daarin slaag om deur verkennende literatuurstudie (literatuuroorsig) 'n wetenskaplik stewige eerste hoofstuk te skryf, sal daartoe in staat wees om sinvol en effektief:

* gerigte literatuurstudie te onderneem.

* sy navorsingsbeplanning deeglik en skerp uit te voer.


o-0-o