Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


VEREENVOUDIGDE BESKRYWING VAN DIE BEGRIP "KATEGORIE"


1. BEGELEIDING

2. WAAROM DIE BEGRIP "KATEGORIE"?

3. BESKIK OPVOEDKUNDIGES SLEGS OOR DIE KATEGORIE "BEGELEIDING"?

4. BESTAAN DAAR 'N HIERARGIE VAN KATEGORIEë?

5. WAT IS DIE VERBAND TUSSEN KATEGORIEë EN KRITERIA?

6. SLOTOPMERKING

o-0-o

1. BEGELEIDING

Net soos enige ander wetenskaplike wil die opvoedkundige dink. Hy verskil slegs van ander wetenskaplikes oor dit waaroor daar gedink word. Die opvoedkundige wil oor die werklikheid dink wat as opvoeding bekend staan: die opvoedingswerklikheid is sy denkobjek (objek vir bedinking). Die opvoed-kundige dink aan die opvoedingswerklikheid. Wanneer die opvoedkundige aan die opvoedingswerklikheid dink, dink hy in terme van iets. Soos hy byvoorbeeld aan sy vrou dink in terme van haar voorkoms, haar vermoë om kos voor te berei ens., dink hy aan die opvoedingswerklikheid nie in terme van niks nie, maar in terme van "iets". Wat is hierdie "iets"? Hierdie "iets" is in die eerste plek daardie besondere kenmerk van die menslikheid van die mens, dit wat aan menswees besondere kwaliteit gee, naamlik BEGELEIDING. Vir iemand wat kinders en volwassenes waarneem waar hulle bymekaar is, is dit maklik om raak te sien dat die kinders gelei en begelei word deur volwassenes. Die volwassenes gee ondersteuning aan die kinders wat allerlei aangeleenthede betref. Die volwassenes is in staat daartoe om ondersteuning (hulpverlening, steungewing) te gee en die kinders het dit nodig omdat hulle nog nie selfstandig is nie. Kinders is dus mense wat hulpbehoewend is en volwassenes is mense wat as hulpgewers (steungewers) kan optree. Daar is dan sprake van KINDERBEGELEIDING.

Vir iemand wat volwassenes waarneem waar hulle in sekere situasies bymekaar is, byvoorbeeld opleidingsituasies, situasies waarin mediese, sielkundige, psigiatriese, godsdienstige ens. bemoeienis plaasvind sal kan raaksien dat sommige volwassenes deur ander volwassenes gelei en begelei word. Sommige

volwassenes gee ondersteuning aan ander volwassenes wat allerlei aangeleentheid betref. Sommige volwassenes is in staat daartoe om hulpverlening en steungewing te gee en daar is volwassenes wat dit nodig het. Sekere volwassenes is dus hulpbehoewend en ander volwassenes is mense wat as hulpgewers kan optree. Daar is dan sprake van VOLWASSENE-BEGELEIDING.

Vir iemand wat volwassenes waarneem waar hulle in sekere situasies (media, sielkundig, ens.) besig is met bejaardes sal dit duidelik wees dat die hier ook gaan om volwassene-begeleiding, maar omdat die volwassenes bejaardes is, word daar gepraat van BEJAARDE-BEGELEIDING of grysaardbegeleiding.

Dié drie begeleidingswyses kan ook anders benoem word:

Kinderbegeleiding. Die Griekse paidagogia beteken kinderleiding, en kinderbegeleiding. Pais = kind en agein = om te lei. Paidagogein = om 'n kind te lei of die weg aan te wys. Paidagogos = 'n kinderleier. Begeleiding kan dan as pedagogies beskryf word en die wetenskap wat hom met die pedagogiese besig hou is Pedagogiek. Volwassene-begeleiding: Die Grieks aner = man, volwassene + agogos = leier of begeleier. Andragogiek = volwassenebegeleiding word gebaseer op andragogiese insigte. Begeleiding kan dan as andragogies beskryf word met Andragogiek as die wetenskap daarvan. Grysaardbegeleiding: Die Grieks geron (geroon) = grysaard, agein is om te lei. Gerontagogiek is 'n studie van steun aan bejaardes.

Die drie genoemde wetenskappe staan saam bekend as Agogiek wat hom besig hou met die agogiese.

Agogiek = Begeleidingswetenskap

Pedagogiek = wetenskap van kinderbegeleiding

Andragogiek = wetenskap van volwassene-begeleiding

Gerontagogiek = wetenskap van bejaarde-begeleiding.

Sommige opvoedkundiges vat dié drie wetenskappe saam met die begrip OPVOEDKUNDE. Opvoedkunde is dan pedagogiek + andragogiek + gerontagogiek. Die implikasie hiervan is dat opvoeding kinder-, volwassene- en bejaarde-begeleiding insluit, dat dit dus 'n gebeure is wat geskied vanaf die wieg tot die graf. Opvoeding = die pedagogiese + die andragogiese + die gerontagogiese.

Die opvoedkundige moet dit duidelik stel met watter aspek of aspekte van opvoeding hy hom besig hou: met die pedagogiese en/of die andragogiese en/of die gerontagogiese MAAR DIT IN TERME WAARVAN HY DINK EN BEDINK EN NAVORSING DOEN, is BEGELEIDING. Daarom word begeleiding vir die opvoedkundige 'n besondere lig waarmee hy die opvoedingswerklikheid (pedagogiese werklikheid en/of andragogiese werklikheid en/of gerontagogiese werklikeid) belig. Hy het hierdie lig nodig en omdat hy denker (bedinker) is, het hy 'n denklig(te) nodig. Sodanige denkligte staan bekend as KATEGORIEë. Sonder kategorieë word daar in die donker rondgetas (Donkerwerk is konkelwerk). Kategorieë is middele vir die denke om werklikheid mee te belig ten einde werklike essensies te openbaar: dit is BELIGTENDE DENKMIDDELE.

2. WAAROM DIE BEGRIP "KATEGORIE"?

Daar bestaan minstens twee redes waarom sommige opvoedkundiges die begrip kategorie gebruik. As algemene rede kan gegee word dat dit die verbintenis met die skeppers van die Westerse denke en kultuur, naamlik die Grieke, erken. Daar word dikwels in die geesteswetenskappe verwys na die griekse oorsprong van begrippe. As besondere rede kan gegee word, die ryk betekenisinhoud van die begrippe soos byvoorbeeld die begrip "kategorie". Die volgende is 'n aantal treffende betekenisse:

(i) Kategorieë is weë waardeur werklike essensies bereik word, waardeur daar deurgedring word tot by die essensies. 'n Kategorie is dus 'n wegoopstelling tot werklike essensies. So word 'n beligtende denkweg geskep waarlangs essensies tot verskyning kan kom (vir verwerkliking), waarlangs die essensies kan beweeg vanaf verborgenheid na onver-borgenheid (= waarheid vir die Grieke wat hulle Aletheia genoem het).

(ii) Die Griekse katogorein: kata + agoreuein. Agoro beteken die openbare vergadering van mense. Dit dui op die openlikheid van beraadslaging. Agoreuein beteken om openlik te spreek, om iets in die openbaar bekend te maak. Kata beteken van bo af op iets af, dus 'n blik op iets. Kategorein beteken dan 'n uitdruklike blik op iets om dié soos dit is te open en openbaar te maak. "Soos dit is" of "soos dit werklik essensieel is", kan beskryf word met die griekse EIDOS (essensie). 'n Kategorie is dan 'n essensie-openbarende middel. Die opvoedkundige dink en daarom is 'n kategorie vir hom 'n essensie-openbarende denkmiddel. Aangesien essensie-openbaring beteken om denkend aan die lig te bring, is 'n kategorie 'n beligtende denkmiddel, 'n middel vir die beligtende denke.

Heidegger (Nietzsche II 1961, 75-76) wys daarop dat kategorieë in die alledaagse lewe stilswyend aangewend word (Alle mense dink altyd in terme van iets.). Die wetenskaplike is bewus van die kategorieë wat hy aanwend en hy wend dit radikaal aan, d.w.s. met die opsetlike doel om by die radix (wortel) d.w.s. werklike essensies van 'n saak uit te kom.

3. BESKIK OPVOEDKUNDIGES SLEGS OOR DIE KATEGORIE "BEGELEIDING"?

In die voorgaande paragrawe is die kategorie "begeleiding" breedvoerig beskryf en uitgelê. Telkens is daar in die beskrywing sinsnedes soos die volgende gebruik: "belig ten einde werklike essensies te openbaar", "weë waarlangs werklike essensies bereik word", "word 'n beligtende denkweg geskep waarlangs essensies tot verskyning kan kom".

Die eerste beligtingsmiddel of beligtende denkmiddel is begeleiding. Deur die aanwending daarvan as kategorie (of: deur die kategoriale aanwending daarvan) kom werklike essensies aan die lig. ELKEEN VAN HIERDIE ESSENSIES KAN NOU AS KATEGORIE AANGEWEND WORD en telkens kom nuwe essensies tot openbaring. Elke essensie wat in die lig kom, besit die moontlikheid om deur die wetenskaplike (resp. opvoedkundige) tot kategorie verklaar te word en om dan aangewend te word met die oog op verdere essensie-openbaring.

Uit die onmiddellike voorgaande paragraaf kan nou die volgende afleidings gemaak word:

(i) die opvoedkundige het byna 'n oneindige getal kategorieë (beligtende denkmiddele) tot sy beskikking.

(ii) kategorieë as sodanig kom nie in die opvoedingswerklikheid voor nie. Dit is telkens die opvoedkundige wat 'n werklike essensie neem en dan aanwend as kategorie. Anders gestel: die opvoedkundige voltrek 'n kenteoretiese handeling: hy benoem 'n essensie as kategorie en wend dit aan in sy soektog na opvoedkundige waarheid (Aletheia = onverborgenheid).

Die volgende behoort 'n duidelike voorbeeld te wees van essensies wat verskyn met die progressiewe kategoriale aanwending van essensies deur die opvoedkundige:

A. Wanneer daar 'n begeleidende steungewer en 'n hulpbehoewende ontvanger van steun (hulp) bymekaar is, kan 'n mens sê dat daar 'n verhouding tussen hulle is. Die begeleier en die begeleide kom in verbinding met mekaar. Daar ontstaan 'n band tussen hulle. Om hierdie band in stand te hou en te versterk is die volgende nodig:

(i) Die begeleier moet die begeleides wat hy wil steun, begryp (ken) sodat die wyse van begeleiding kan pas by diegene wat begelei word. Dit is vanselfsprekend dat bv. 'n kleutertjie anders begelei sal word as 'n hoërskoolkind of 'n volwassene of 'n bejaarde. Begryping is dus nodig.

Die begeleide moet egter ook iets begryp. Hy sal al meer en meer en steeds duideliker begryp wat die begeleier aan hom verduidelik, voorsê, demonstreer, ens. Die begeleier is voortdurend besig om 'n verduideliking (uitleg) te gee van dit wat die begeleide behoort te doen. Die begeleide leer en sien by hom wat behoorlik (paslik, betaamlik) is, dus aan watter vereistes hy behoort te voldoen. Anders gestel: hy leer by die begeleier sekere behoorlikheidseise ken of opnuut weer ken.

In die BEGRYPINGSVERHOUDING tussen begeleier en begeleide gaan dit dus om twee sake, naamlik:

(i) Kennis aangaande die begeleide, d.w.s. begryping van die begeleide, en

(ii) Kennis van dit wat behoort te wees, d.w.s. begryping van behoorlikheidseise.

Dit is egter nie genoeg as die begeleier die begeleide wat hy moet begelei (ondersteun) ken nie en die begeleier die behoorlikheidseise wat die begeleier aan hom voorhou (voorlewe, uitlê) ken nie. Die begeleide moet vertrou dat die begeleier daartoe in staat sal wees om hom te begelei op sy verdere lewensweg. As die begeleide om die een of ander rede hieraan sal twyfel, gaan sy verhouding met die begeleier skade ly of kan dit selfs tot niet gaan. Die begeleier, aan die ander kant, moet weer vertrou dat die begeleide sy begeleiding sal aanvaar en gebruik.

In die VERTROUENSVERHOUDING tussen 'n begeleier en 'n begeleide, gaan dit dus om:

(i) wek van vertroue by die begeleide; en

(ii) stel van vertroue in die begeleide.

Al sou die begeleier die begeleide goed begryp en sorg dat die begeleide vertroue in hom het en die begeleide sou om een of ander rede nie wil toelaat dat daar vir hom uitgelê en voorgesê word wat behoorlik is nie, sal die verhouding tussen hulle verswak en uiteindelik verdwyn. Die begeleier moet hom dus laat gesê wat behoorlik is deur iemand wat

(i) met gesag oor behoorlikheidseise kan praat, en

(ii) wat blyke gee daarvan dat hy self die gesag van daardie eise gehoorsaam.

In die GESAGSVERHOUDING tussen 'n begeleier en 'n begeleide gaan dit dus om 'n saamlewe in die lig van besondere behoorlikheidseise wat erken en gehoorsaam moet word.

Opsommend: Die werking van die volgende begeleidings-kategorie is gedemonstreer: VERHOUDINGE.

B. Die waarnemer wat raakgesien het dat daar besondere verhoudinge tussen 'n begeleier en 'n begeleide moet bestaan, sal ook kan opmerk dat hierdie verhoudinge nie altyd ewe sterk is nie. Daar is dus 'n voortgang van minder sterk na steeds sterker en ook soms van baie sterk na minder sterk. Daar is dus sprake van 'n voortbeweging (gang) van dié verhoudinge, wat 'n mens die verloop daarvan kan noem. Die volgende is moontlike wyses waarop die verhoudinge voortbeweeg of verloop:

(i) Die begeleier-begeleide verhoudinge begin wanneer hulle van mekaar se teenwoordigheid bewus word: 'n OMGANG tussen hulle word moontlik;

(ii) Die omgang word inniger, intiemer, vertrouliker en versterk (verdiep) tot 'n ONTMOETING;

(iii) Die begeleier neem nou 'n besluit dat hy die verantwoordelikheid op hom gaan neem om hom met die begeleide se wyse van lewe te bemoei (in te laat) indien dit nodig sou wees. Hy besluit ook om die begeleide te help om op 'n verantwoordelike wyse aandag te geen aan hierdie bemoeienis en om iets daarvan te maak. Dit beteken dat BEMOEIENIS-VERANTWOORDELIKHEID opgeneem word.

(iv) Vervolgens moet die begeleier oorgaan tot werklike BEMOEIENIS met die begeleide deur bv. af te keur of goed te keur wat hy gedoen het;

(v) Daarna kry die begeleide 'n geleentheid om in teenwoordigheid van die begeleier na te dink oor dit wat afgekeur of goedgekeur is en om besluite daaroor te neem. Dit beteken dat daar 'n TERUGKEER NA OMGANG nodig geword het; en

(vi) Soms moet die begeleide geleentheid kry om in lyflike afwesigheid van die begeleier te handel. Hy doen dit in die lig van die besluit(e) wat hy i.v.m. dit wat afgkeur en/of goedgekeur is geneem het. Daarna moet hy weer die teenwoordigheid van die begeleier kan opsoek: PERIODIEKE VERLATING is dikwels nodig.

Opsommend: Die werking van die volgende begeleidings-kategorie is gedemonstreer: VERLOOP.

C. Die waarnemer wat die verhoudinge self en die verloop daarvan raakgesien het, kan ook opmerk dat begeleiers en begeleides saam bedrywig is. Hulle voer allerlei handelinge saam uit waarvan sommige beslis betekenisvol by die ondersteuning van (steungewing aan) die begeleide blyk te wees. Die verhoudinge tussen begeleier en begeleide wat 'n sekere verloop neem, word gekenmerk deur sekere BEDRYWIGHEDE, naamlik:

(i) Hulp aan die begeleide met die BETEKENISSE wat hy heg aan die werklikheid om hom;

(ii) Hulp aan die begeleide om gewillig te wees om met INSPANNING te lewe;

(iii) Hulp aan die begeleide om in ooreenstemming met besondere behoorlikheidseise (norme) te lewe, d.w.s. sy wyse van lewe moet gekenmerk word deur 'n besondere GENORMEERDHEID;

(iv) Hulp aan die begeleide om te WAAG die onbekende werklikheid in;

(v) Hulp aan die begeleide om DANKBAAR te wees;

(vi) Hulp aan die begeleide om AANSPREEKLIKHEID (verantwoordelikheid) vir die verhoudinge waarin hy hom bevind, te aanvaar;

(vii) Hulp aan die begeleide om te HOOP op die toekoms;

(viii)Hulp aan die begeleide om aan sy moontlikhede te werk, d.w.s. om dit te ONTWERP;

(ix) Hulp aan die begeleide om geleidelik sy bestemming te VERVUL;

(x) Hulp aan die begeleide om AGTING (eerbied) te hê vir sy eie menswees en vir ander mense;

(xi) Hulp aan die begeleide om homself te BEGRYP en te BEOORDEEL; en

(xii) Hulp aan die begeleide om egte VRYHEID te verower.

Opsommend: Die werking van die volgende begeleidings-kategorie is gedemonstreer: BEDRYWIGHEDE.

D. Die waarnemer wat raaksien dat die saamwees van begeleiders en begeleides

(a) gedra word deur sekere verhoudinge;

(b) 'n besondere verloop vertoon; en

(c) gedy deur 'n betrokkenheid by sekere bedrywighede, sal ook die volgende kan bemerk: nl. dat die begeleiding van die begeleier nie doelloos is nie, maar wel DOELGERIG. Die doel van die begeleiding is die VOLWASSEWORDING (steeds in 'n toenemde mate) van die begeleide en wel 'n steeds voller volwassenheid wat gekenmerk word deur o.a.

(i) dat 'n lewe waarin 'n mens rekenskap gee van jou keuses en handelinge en waarin dit wat waardevol is werklik word, SINVOL is;

(ii) dat 'n lewe wat gelei word deur SELFKENNIS en SELFBEOORDELING behoorlik is;

(iii) dat 'n lewe waarin gehandel word soos dit 'n mens bestaam, 'n WAARDIGE wyse van lewe is;

(iv) dat 'n lewe waarin op SELFSTANDIGE en VERANTWOORDELIKE wyse GEKIES en GEHANDEL word in die lig van behoorlikheidseise, waardevol is;

(v) dat 'n lewe waarin daar vereenselwig word met besondere behoorlikheidseise (NORME) wat as hoogs waardevol aanvaar word, goedkeurens-waardig is; en

(vi) dat 'n wyse van lewe wat bepaal word deur gehoorsaamheid aan waardes wat 'n mens hom verplig ag om werklik te maak, essensieeel vir egte menswees is. D.w.s. daar word gelewe in die lig van 'n bepaalde LEWENSOPVATTING.

Opsommend: Die werking van die volgende begelei-dingskategorie is gedemonstreer: DOELSTELLING.

Die opvoedkundige kan vervolgens die begeleidingskategorie verhoudinge aanwend en dan die volgende essensies aan die lig bring: begryping, vertroue, gesag. Elkeen van hierdie essensies kan dan weer kategoriaal aangewend word en verdere essensies verskyn. Dieselfde kan gedoen word met die begeleidingskate-gorieë verloop, bedrywigheid en doelstelling.

Telkens is dit 'n essensie of 'n groep essensies (d.w.s. struktuur) wat deur die opvoedkundige aangewend word in sy steeds voortgaande essensie-openbaring. Hy besluit om aan essensies of strukture kategoriale status te verleen.

Alle opvoedkundiges wend kategorieë aan en dit is gou duidelik wanneer 'n teks (boek, artikel) bestudeer word watter kategorieë 'n bepaalde skrywer aanwend, al sou hy nie spesifiek die begrip "kategorie" gebruik nie.

Samevattend: Begeleidingsessensies is skynende ligte van die begeleidingswerklikheid aangesien in die afwesigheid daarvan slegs duisternis en nie-begryping heers. Die kenmerk van essensies om skynende ligte te wees maak dit moontlik om in die lig van so 'n essensie kennis van die begeleidingswerklikheid te verwerf. Dit beteken dat 'n essensie homself leen vir aanwending as beligtende denkmiddel, dus as kategorie.

Indien 'n opvoedkundige reken dat hy te make het met 'n werklike essensie en hy vind dat dié vermeende essensie nie die moontlikheid besit om as beligtende denkmiddel d.w.s. vir verdere essensie-openbaring aangewend te word nie, is die moontlikheid besonder groot dat hy nie met 'n werklike essensie te make het nie.

4. BESTAAN DAAR 'N HIERARGIE VAN KATEGORIEë?

Die vraag is 'n vraag na die moontliheid van 'n rangorde van kategorieë, d.w.s. 'n eerste en daaropvolgende kategorieë.

In die voorgaande uiteensetting is begeleiding bespreek as besondere kategorie vir die opvoedkundige wat 'n beligte denkweg skep waarlangs begeleidings-essensies kan beweeg vanaf verborgenheid na onverborgenheid. Bestaan daar kategorieë wat moontlikheidsvoorwaardes is vir die ontstaan van die kategorie begeleiding? Dié vraag kan soos volg beantwoord word: Die opvoedkundige (as besondere begeleidingskundige) begin sy denkarbeid deur die volgende vooronderstellings:

(i) dat die wetenskaplike wat wil beskryf en 'n uitleg gee, die werklikheid moet toelaat om tot spreke te kom. Dit beteken dat hy begin met die werklikheid self en nie elders nie.

(ii) dat sy wetenskapsbeoefening onmoontlik is as hy hom isoleer van die werklikheid (bv. die begeleidingswerklikheid).

(iii) dat om essensies aan die lig te bring, slegs moontlik is op grond van sy in-die-wêreld-wees. Buite of bokant die werklikheid is isolasie of skeiding wat enige bemoeienis met die wêreld (resp. werklikheid) onmoontlik maak.

(iv) dat in-die-werklikheid (wêreld)-wees die fondament is waaruit alle denke oor die mens (dus ook die mens in begeleidingsituasies) moontlik is.

Hierdie vier vooronderstellings is eintlik 'n beskrywing van 'n besondere kategorie wat die eerste werklikheidskategorie genoem kan word. Soms word dié kategorie die ontologiese kategorie genoem en wel om die volgende rede:

Die denker se in-die-wêreld-wees maak ontologiese begryping moontlik, d.w.s. egte begryping van 'n saak omdat die werklike essensies (en die sinsamehange) daarvan in die lig gebring is. In sy denkende beskrywing en uitleg (d.w.s. sy wetenskapsbeoefening) wil hy getrou bly aan die werklikheid. Hy wil dus nie uitsprake maak wat nie by die werklikheid pas nie. Hy wil werklikheids-getroue kennis aan die lig bring.

Vervolgens gaan die opvoedkundige oor tot 'n nadere bekyking van die verskillende wyses waarop die mens in die wêreld is. As beoefenaar van 'n menswetenskap (begeleidingswetenskap, Agogiek) stel hy belang in wyses van menswees in die wêreld. Hy stel veral belang in daardie wyses van menswees wat betekenis mag hê vir die begryping van begeleiding. Hy wend die wyses van menswees aan in sy verdere bedinking. Dan word dié wyses van menswees vir hom antropologiese kategorieë (Anthropos = mens). Die volgende antropologiese kategorie kan onderskei word: in-betekeniswêreld-wees, medesyn, temporaliteit (historisiteit), self-iemand-wees.

Vervolgens sien die opvoedkundige raak dat hy nie geïnteresseerd is in al die moontlike wyses van menswees nie. Hy maak 'n seleksie. Hy wil spesifiek kyk na wyses van menswees in begeleidingsituasies (agogiese situasies). In watter vorm verskyn die geselekteerde wyses van menswees:

* In-betekeniswêreld-wees verskyn in agogiese situasies in die vorm van:

- Betkening

- Inspanning

- Genormeerdheid

* Medesyn verskyn in agogiese situasies in die vorm van:

- Waag

- Dankbaarheid

- Aanspreeklikheid

* Temporaliteit verskyn in agogiese situasies in die vorm van:

- Hoop

- Ontwerp van moontlikhede

- Vervulling van bestemming

* Self-iemand-wees verskyn in agogiese situasies in die vorm van:

- Agting vir menswaardigheid

- Selfbegryping

- Vryheid tot verantwoordelikheid

Die denkweg is dus: ontologiese kategorieë, antropologiese kategorieë, agogiese kategorieë, sonder dat die een stel kategorieë uit die ander afgelei word, maar wel daardeur begrond word:

* Op grond van die ontologiese word die antropologiese moontlik.

* Op grond van die antropologiese word die agogiese moontlik.

5. WAT IS DIE VERBAND TUSSEN KATEGORIEë EN KRITERIA?

Dit is die agogiese kategorieë wat agogiese essensies (met hulle sinsamehange) laat verskyn soos hulle werklik essensieel is sodat begeleiers dit kan verwerklik saam met begeleides. Dit sal nou logies en algemeen aanvaarbaar wees dat die wyse en kwaliteite van die verwerkliking van agogiese essensies geëvalueer (krities beroordeel) moet word. Anders gestel: die wyse en gehalte van die verwerkliking moet kriteriaal (dus aan die hand van kriteria) beoordeel word.

Agogiese essensies wat deur kategorieë teenwoordig gestel word, moet aan die hand van kriteria beoordeel word. Kriteria stel die verwerkliking van agogiese essensies in 'n evaluerende ligveld. Dan kom aan die lig of daar agogies verantwoordbaar gehandel word of nie. Wat eintlik hier gebeur is dat aan kategorieë evalueringsbetekenis gegee word. Kategorieë vir evaluering word kriteria genoem. Die vraag is: hoe word kategorieë vir teenwoordig-stelling (essensie-openbaring) kategorieë vir evaluering d.w.s. kriteria. Die antwoord is: deur kategorieë in vraagvorm te herformuleer. Byvoorbeeld:

Agogiese kategorieŽ Beskrywing Agogiese kriteria
Inspanning Die begeleide moet gehelp word om al sy kragte te gebruik en sy uiterste bes te doen in alles wat hy aanpak. Hy moet die volgende doen:  
(a)  Beweging na inspanning Inspanningloosheid moet verlaat word deur 'n gewilligheid om oor te gaan tot die doen van betekenisvolle dade. 1. Hoe sterk is die begeleide se wil om te handel en die gehalte van die begeleier se ondersteuning?
2. Beleef die begeleide die moontlike handelinge (dade) as betekenisvol vir hom?
3. Hoedanig is die bereidheid van die begeleide om homself in te span?
(b)  Oorwinning oor passiwiteit Om nie te wil handel en saam te doen nie, moet afgekeur word en met die begeleide se pogings om betrokke te raak, moet saamgestem word. 1. Hoe duidelik is die begeleier se afkeuring van passiwiteit by die begeleide?
2. Wat is die gehalte van die begeleide se pogings om betrokke te raak?
3. Hoe skerp en helder is die begeleide se saamstemming?

6. SLOTOPMERKING

Kategorieë- en kriteriaparaatheid by die Agogieker en die agogiese praktisyn is 'n sine quo non vir sinvolle pedagogiese, andragogiese en gerontagogiese leiding en begeleiding wat outentieke opvoeding genoem mag word.

o-0-o