Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing


EKLEKTIESE DENKE EN EKLEKTISISME:
HEDENDAAGSE UITDAGINGS


Die uitsprake wat opvoedkundiges maak, kan 'n spesifieke leser klassifiseer onder die volgende hoofde:

  1. aanvaarbaar.

  2. aanvaarbaar met sekere voorbehoude.

  3. onaanvaarbaar.

By nadere bekyking van die uitsprake wat hy as "aanvaarbaar" geklassifiseer het, sal hy vind dat dit afkomstig is uit verskillende teoretiese agtergronde. Indien die leser die slagoffer is van 'n metodemonistiese opleiding, sal hy telkens skuldig voel wanneer 'n uitspraak buite sy monistiese veld geselekteer word.

Die opvoedkundige wat met kenteoretiese skuldgevoelens gekonfronteer word, kan óf die gevoelens onderdruk en voortgaan met sy seleksie van aanvaarbare uitsprake, óf daar kan 'n kenteoretiese verlamming intree waarop onproduktiwiteit floreer.

Daar bestaan egter 'n derde moontlikheid en dit is om krities te kyk na die moontlikhede wat eklektiese denke bied, sonder om in 'n eklektisisme te verval.

Dit beteken dat die leser ingestel moet wees op:

  1. Soeke na gemeenskaplikhede.

  2. Deling van probleemgerigte betekenisse.

  3. Bevraagtekening van teoretiese purisme.

  4. Raaksien van sterk punte.

ABSTRACT

ECLECTIC THOUGHT AND ECLECTICISM: CONTEMPORARY CHALLENGES

A student can classify the pronouncements made by educationalists under the following headings:

  1. acceptable.

  2. acceptable with certain reservations.

  3. unacceptable.

A closer scrutiny of the pronouncements that have been classified as "acceptable" will show that they derive from a variety of theoretical backgrounds. If the reader is the victim of a methodmonistic training he or she will feel uneasy whenever a pronouncement from outside his or her monistic field is selected.

The educationalist who is confronted with cognitive guilt feelings can either suppress these feelings and continue selecting acceptable pronouncements or experience a cognitive paralysis that engenders a lack of productivity.

However, there is a third possibility, which is to take a critical look at the possibilities of eclectic thinking, without getting caught up in eclecticism.

This implies that the reader must be attuned to the

  1. Search for commonalities.

  2. Sharing of problem-oriented meanings.

  3. Questioning of theoretical purism.

  4. Noting of strong points.

INHOUDSOPGAWE

  1. ORIëNTERING EKLEKTIESE DENKE: IMPLIKASIES VAN ENKELE WOORDEBOEKBETEKENISSE

    2.1 Reader's Digest Universal Dictionary

    2.1.1 Etimologie

    2.1.2 Voorlê

    2.1.3 Daarlê en oorlê

    2.1.4 Die interpretasiegesprek

    2.2 Philosophisches Wörterbuch. W. Brugger

    2.2.1 Uitleg

    2.2.2 'n Essensie-openbarende ingesteldheid

    2.3 Dictionary of Psychology. H.C. Warren

    2.3.1 Uitleg

    2.3.2 Definisie-integrasiemetode

    2.4 Philosophisches Wörterbuch. H. Schmidt

  2. EKLEKTIESE DENKE AS 'N SOEKE NA GEMEENSKAPLIKHEDE

    3.1 Onvergenoegdheid met rigiditeit

    3.2 Gemeenskaplikhede

    3.2.1 Opvoedingswerklikheid

    3.2.2 Metodologies

    3.2.3 Navorsingsmetodologies: probleemstelling

    3.2.4 Navorsingsmetodologies: empiriese ondersoek

  3. EKLEKTIESE DENKE AS DELING VAN PROBLEEMGERIGTE BETEKENISSE

    4.1 Toenemende openheid en waardering

    4.2 Ontwerp van betekenisse

    4.3 Deling van betekenisse

  4. EKLEKTIESE DENKE AS BEVRAAGTEKENING VAN DIE SIN VAN TEORETIESE PURISME

    5.1 Metode-keuse en doelwitte

    5.2 Metodologiese purisme

    5.3 Kenteoretiese mites

    5.4 Skeiding van teorie en metode

  5. EKLEKTIESE DENKE AS 'N RAAKSIEN VAN STERK PUNTE

  6. SLOTOPMERKING

  7. BIBLIOGRAFIE

oo000oo

EKLEKTIESE DENKE EN EKLEKTISISME: HEDENDAAGSE UITDAGINGS

  1. ORIëNTERING

    Die wetenskaplike (resp. navorser) is gewoonlik daarop ingestel om kritiek oor sy werkwyse te ontvang en te verwerk, mits die kritiek goedbedoel, positief, opbouend van aard, en vry van valse redenering is. Een beskuldiging waaraan 'n wetenskaplike swaar sluk en waarteen hy skerp en soms minder skerp, in opstand kom is die beskuldiging, gemotiveerd of ongemotiveerd, dat hy onwetenskaplik opgetree het. Daar is 'n besondere vorm van onwetenskaplikheid waarvoor elke wetenskaplike allergies is, en dit is enige bewering dat hy onkrities (kriterialoos), subjektivisties ("omdat ek daarvan hou en dit inpas by wat ek self dink en glo"), ongeverifieerd ("dit lyk reg") en onoorspronklik neem uit skriftelike verslae van ander wetenskaplikes. Geen wetenskaplike wil van eklektisisme beskuldig word nie.

    Aan die ander kant waak elke wetenskaplike daarteen om van tonnelvisie aangekla te word, dat hy met kenteoretiese oogklappe aan die werklikheid benader. Tonnelvisie, oogklapbedinking, kan maklik geskied wanneer daar in 'n metodemonisme verval word, d.w.s. wanneer 'n spesifieke metode as enigste metode verklaar word. Dit word dikwels gedoen met uitsprake soos: "ek is in my siel 'n deurdrenkte fenomenolooog wat prinsipieel hoegenaamd geen kritiek teen die fenomenologiese metode in te bring het nie". Geen wetenskaplike wil van rigiditeit en dogmatisme beskuldig word nie.

    Die wetenskaplike wat wil ontsnap van beide 'n lais-sez-faire eklektisisme aan die een kant en van verlammende rigiditeit aan die ander kant, moet skerp daarteen waak om nie vasgevang te word op die "goue middeweg" nie. Dit is foutief om aan te neem dat wetenskaplike handelinge geldig is bloot omdat dit 'n middelweg is tussen twee ekstreme moontlikhede. Die geborgenheid van die middeweg kan 'n valse gerustheid wees waarin die wetenskaplike deur die rustigheid oorval kan word. Weiering om te soek na 'n outentieke derde moontlikheid kan lei tot denkstagnering.

    Die derde moontlikheid wat eklektisisme-vry en rigiditeit-loos is, is die weg van eklektiese denke, waarvan daar 'n uitleg in die volgende bladsye gegee gaan word.

  2. EKLEKTIESE DENKE: IMPLIKASIES VAN ENKELE WOORDEBOEKBETEKENISSE

    2.1 Reader's Digest. Universal Dictionary

    2.1.1 Etimologies

    * eklektiek: Keuse uit wat die beste skyn te wees uit 'n verskeidenheid bronne, sisteme of style. Grieks eklektikos van eklektos, geselekteer, van eklegein, om uit te sonder

    ex = uit + legein = om te kies

    'n Eklektikus is iemand wat die eklektiese metode aanwend.

    * eklektisisme: 'n eklektiese sisteem of metode

    Die eklektikus beoefen legein (Landman, 1974:1-15). 'n Keuse word gemaak: legein word beoefen. Legein is terug te vind in legen wat dui op die volgende handelinge:

    - voorlê = iemand iets voorlê, met iemand iets bespreek.

    - daarlê = iets uiteensit (verduidelik, verklaar).

    - oorlê = beraadslaag

    2.1.2 Voorlê

    Voorlê beteken om in die onverborgenheid te bring. Dit is ontberging (openbaring) as 'n laat verskyn van die wesenlike, van werklike essensialiteit. Legen dui verder daarop dat iets versamel word, en dit vereis

    - die raaksien van "iets" wat versamel moet word, dus bymekaar gebring moet word. Hierdie "iets" is werklike essensies.

    - identifisering van die plek waar daar bymekaar gemaak en bymekaar gebring word. Dit is daardie plek(ke) waar die "iets" is wat raakgesien word. Werklike essensies kan daar versamel word waar hulle is en dit is in die beste moontlike teks.

    - 'n skeiding van die essensiële en die nie-essensiële. Die essensiële hoort bymekaar as die fundamentele en die nie-essensiële hoort bymekaar as die ignoreerbare omdat dit nie 'n substansiële bydrae maak tot begryping nie. Dit is die essensiële wat gekies word om versamel (en bewaar) te word.

    2.1.3 Daarlê en oorlê

    Daarlê en oorlê dui op verduideliking (uitleg) wat bespreek en deurspreek moet word. Bespreek dui op dialoog (gesprek) en deurspreek op radikale refleksie (essensie-openbarende refleksie). Saamgevat: dit dui op die interpretasiegesprek. Nadat die werklike essensies uit die beste moontlike teks(te) uitgehaal, versamel en verduidelik is, vind bespreking plaas. Die skerpste vorm van verduideliking is definiëring omdat daardeur noukeurige beskrywing, formulering, argumentering, uitleg en interpretasie waarin veral klem gelê word op betekenisse, moontlik word (Landman & le Roux, 1992:396-403).

    2.1.4 Die interpretasiegesprek (Hermeneutiese gesprek)

    Kommunikasie is die aktivering van gedeelde begryping (Gadamer). Dit is die intersubjektiewe deling van betekenisse. Hermeneutiek beklemtoon begryping deur kommunikasie (Desilet, 1991:152-157). 'n Groep persone in gesprek (met mekaar of met 'n teks) is daartoe in staat om ryker betekenisse te ontdek as wat 'n individu alleen sou kon doen. In die gesprek word betekenisse vrygestel en dit is wat met interpretasie bedoel word (McBrien, 1990:424-435). In die hermeneutiese dialoog gaan dit om 'n wisselwerking van interpretasies met die besef dat finale interpretasies nie moontlik is nie en aangesien die subjektiwiteit van die interpreteerder sentraal staan, kan daar nie sprake wees van net een korrekte interpretasie nie. Die groep (interpretasie- gesprek) moet dus alternatiewe interpretasies teen mekaar opweeg. Daar moet 'n wisselwerking van betekenis-gebonde interpretasies wees (Smith & Blase, 1991:6-21).

    2.2 Philosophisches Wörterbuch. W. Brugger (Red)

    2.2.1 Uitleg

    Eklektisisme is 'n geesteshouding van daardie denker wat sy denke daarop toespits om die uitkomste van die denke van ander te bestudeer met die doel om dit wat vir hom waar en waardevol is, te selekteer (uit te kies). Indien die seleksie geskied sonder verifikasie, is daar sprake van sinkretisme (vermenging van begrippe).

    2.2.2 'n Essensie-openbarende ingesteldheid

    Indien dit wat waar en waardevol is gelyk gestel word aan die essensiële sal die eklektikus dit met 'n essensie-openbarende ingesteldheid moet bedink. Die essensies moet uit die ('n) besondere teks uitgesonder word, geskei word van die nie-essensiële en dan gedefinieer word. Die fenomenoloog sal besondere fenomenologiese handelinge as verifikasiestappe aanwend. Die gedefinieerde essensies wat dié verifikasie oorleef sal behou word vir die wetenskaplike gesprek of betoog. Iemand wat die volgende verifikasiestappe aanwend, verifieer in die lig van 'n besondere kriterium naamlik werklikheidsgetrouheid:

    FENOMENOLOGIESE HANDELINGE
    Handeling Kort beskrywing
    1. Wegdink Indien een of ander saak (aangeleentheid) ten aansien van 'n voorgestelde (gedinkte) situasie weggedink kan word en daardie situasie verander nie, kan so 'n saak (aangeleentheid) maar geïgnoreer word.
    2. Weghandel Indien een of ander saak (aangeleentheid) ten aansien van 'n werklike situasie weggehandel kan word en daardie situasie verander nie, kan so 'n saak (aangeleentheid) maar geïgnoreer word.
    3. Skeiding Wanneer daar bepaal word welke sake (aangeleenthede) belangrik is en welke nie en die onbelangrike sake (aangeleenthede) word verwyder (uitgeskakel) sal die belangrike sake (aangeleenthede) helderder skyn (syn).
    4. Kontradiksies Vir elke saak (aangeleentheid) word die teenoorgestelde daarvan as moontlikheid gestel en word die negatiwiteit (of die positiewe) daarvan aangetoon sodat die positiewe (of die negatiwiteit) van die betrokke saak (aangeleentheid) helderder kan skyn.
    5. Hermeneutiese vraag Van elke sinvolle saak (aangeleentheid) wat ter sake is, word die volgende gevra: Waartoe dien die verwerkliking daarvan? Of: wat is die sin van die verwerkliking daarvan?
    6. Wek van lewe 'n Saak (aangeleentheid) wat lewensopvatlik aanvaarbaar is, is 'n lewendige saak (aangeleentheid) (met gewekte lewe).
    7. Praktykwording 'n Saak (aangeleentheid) wat 'n deel kan word van 'n bepaalde praktyk (veral ter verbetering van daardie praktyk) is 'n betekenisvolle saak (aangeleentheid)
    8. Kategoriale status 'n Saak (aangeleentheid) wat aangewend kan word as beligtende denkmiddel, dit wil sê in terme waarvan sinvol bedink kan word, is 'n betekenisvolle saak (aangeleentheid).

    2.3 Dictionary of Psychology. H.C. Warren (Red), 1934.

    2.3.1 Uitleg

    Eklektisisme is die seleksie van wesenstrekke uit onverenigbare teorieë of wêreldbeskouings, die onderrig daarvan en integrasie daarvan in 'n omvattende sisteem.

    Indien dié seleksie geskied met werklikheidsgetrouheid as kriterium kan daar ook voldoen word aan die eise van integreringsmoontlikheid as kriterium, waar dit gaan om die integrering van wesenstrekke (essensies) in 'n sisteem wat reeds as werklikheidsgetrou aanvaar word. Die volgende is 'n insiggewende moontlikheid:

    2.3.2 Definisie-integrasiemetode (Le Roux, 1984:Hoofstuk 3)

    'n Besondere wyse om integrasie tussen definisies te voltrek, is die metode van definisie-integrasie. Die feit dat die definisies werklikheidsgetrou geïntegreer kan word, dui daarop dat 'n eerste gedefinieerde essensie iets besonders te make het met 'n tweede gedefinieerde essensie, naamlik dat hulle saam die werklikheid skerper beskryf.

    So 'n werkswyse kan geregverdig word in die lig van die volgende uitsprake:

    1. Daar bestaan verskillende toegangswyses tot die werklikheidsfeite aangaande menswees en hierdie feite kom op verskillende wyses tot openbaring en stel hulle op verskillende wyses teenwoordig. Aan sodanige toegangswyses en openbaringswyses kan die naam perspektief gegee word en wel perspektief as bepaalde standpunt van waaruit gepoog word om feite te verstaan. Perspektiewe met geregverdige aansprake op werklikheidsgetrouheid se uitkomste soos gedefinieer, behoort integreerbaar te wees met 'n daaruit voortvloeiende toename in kennis.

    2. Daar bestaan nie 'n enkele metode (onthullingsweg) wat op sy eie toereikend wesenskenmerke aan die lig kan bring en verifieer nie. Verskillende metodes kan as komplementerende moontlikhede aangewend word. Elke komplement kan 'n bydrae maak en indien elke bydrae werklikheidsgetrou is, is integrasie daarvan moontlik en kan die definisie-integrasie-metode toegepas word.

      Wanneer dit by verskillende wetenskaplikes om dieselfde werklikheid gaan (bv. die opvoedingswerklikheid) en hulle toegangsweë daartoe is werklikheidsgetrou, behoort integreerbare ooreenkomste in die bevindings die uitkoms te wees met kennisuitbreiding as wins.

      Hierdie wetenskaplikes voldoen aan die eise van werklikheidsgetrouheid en integreerbaarheid (integreringsmoontlikheid).

    2.4 Philosophisches Wörterbuch. H. Schmidt (Red), 1969.

    Eklektici (van die Grieks eklegein, om uit te kies) is diegene wat nie poog om op grond van 'n eenheidskeppende prinsipe 'n filosofiese sisteem te ontwerp nie en hulle ook nie toespits op 'n enkele filosofie nie. Daar word uit verskillende sisteme (denkskole) geneem wat "reg lyk" en dit word hersaamgestel om 'n eenheid te vorm. Die eklektisisme word dikwels as onoorspronklik en met 'n gebrek aan kreatiwiteit beskryf.

  3. EKLEKTIESE DENKE AS 'N SOEKE NA GEMEENSKAPLIKHEDE

    3.1 Onvergenoegdheid met rigiditeit

    Eklektiese denke word gekenmerk deur 'n onvergenoegdheid met 'n rigiditeit vanweë 'n vasgevangenheid in 'n keurslyf van dwingende reëls, wette en voorskrifte wat daartoe lei dat denkers doelbewus en krities oor grense heen gaan soek na gemeenskaplikhede (Prochaska) om sodoende 'n enge dogmatisme te oorwin (Mahalik, 1980:666).

    3.2 Gemeenskaplikhede

    Enkele voorbeelde van gemeenskaplikhede (Landman & Swart, 1992:403-405):

    3.2.1 Opvoedingswerklikheid

    Die gemeenskaplike van alle opvoedkunde sal in die eerste plek moet wees die werklikheidsaspek wat onder die wetenskaplike soeklig geplaas gaan word en dit is die opvoedingsverskynsel wat in die vorm van opvoedingsgebeure sigbaar word in opvoedingsituasies. Denkers wat hulle met ander verskynsels besig hou, kwalifiseer nie om opvoedkundiges (pedagogiekers) genoem te word nie.

    Die eklektiese denker sal in dié verband nie jukskeie wil breek oor die volgende twee moontlikhede nie:

    1. die aanname (vooronderstelling, paradigma) dat die waarneembare daarwees van die opvoedingswerklikheid (opvoedingsverskynsel as opvoedingsgebeure in opvoedingsituasies) die opvoedkundige oproep tot besinnende en ook berekenende denke daaroor, en

    2. die oortuiging (paradigmas) dat die opvoedingswerklikheid 'n besondere deur God geskape werklikheid is wat die opvoedkundige homself geroepe ag om te bestudeer.

    3.2.2 Metodologies

    Wetenskaplike aktiwiteit ten aansien van die opvoedingswerklikheid moet metodies d.w.s. metodologies verantwoordbaar geskied.

    Die opvoedingswerkliheid is 'n besonder ingewikkelde werklikheid. Die kompleksiteit daarvan dwing die opvoedkundige om nie in 'n metode-monisme te verval nie, maar om 'n verskeidenheid van werklikheidsgetroue metodes aan te wend. Opvoedkundiges kan dan in 'n pedagogiekgesprek(ke) die uitkomste van die aanwending van die verskillende metodes met mekaar vergelyk en onder andere besin oor die integreerbaarheid daarvan d.w.s. van die kennis van die opvoedingswerklikheid wat aan die lig gebring is.

    Die gemeenskaplike in die opvoedkunde kan wel bedreig word indien

      die bestaan van meerdere perspektiewe (metodologies begrond) op die komplekse opvoedingswerklikheid nie erken word nie;

    1. (ii) die bestaansreg van metodes anders as die eie (gekose) metodes ontken word; en

    2. verdagmakery en geringskatting van ander metodes subjektivisties (en soms emosioneel) geskied.

    3.2.3 Navorsingsmetodologies: Probleemstelling

    Die navorser (resp. M- en D-student, dosent) selekteer artikels met behulp van die sleutelwoorde in sy tema (titel van navorsingsprojek, skripsie, verhandeling, proefskrif).

    Vervolgens word probleemstellingstudie onderneem, soos volg:

    1. Identifiseer die probleemstelling in elke artikel (as die eerste gemeenskaplikheid).

    2. Reduseer elke probleemstelling tot skerp vrae waar elke vraag slegs oor een saak gaan.

    3. Plaas eendersluidende vrae bymekaar (tweede gemeenskaplikheid).

    4. Selekteer daardie vrae wat direk met die navorsingstemas te make het (derde gemeenskaplikheid).

    5. Stel vrae wat

      5.1 nie gevra is nie en wat deur die eie navorsing beantwoord moet (gaan) word. Hierin is die die oorspronklikheid van die eie navorsing geleë en is dit 'n sinvolle aanloop tot 'n eie bydrae; en

      5.2 swak (ontoereikend) gestel is en verbeter (verskerp) dit sodat toereikende antwoorde gesoek kan word.

    3.2.4 Navorsingsmetodologies: Empiriese ondersoek.

    1. Identifiseer die afdeling en elke artikel wat die navorsingsprosedures beskryf wat aangewend is.

    2. Plaas beskrywings van dieselfde prosedure bymekaar bv. vraelys (eerste gemeenskaplikheid).

    3. Plaas ooreenstemmings in die beskrywing bymekaar en gee aandag aan bykomende inligting wat verskaf word (tweede gemeenskaplikheid).

    4. Soek in die beskrywings motivering vir die aanwending van die navorsingsprosedures wat vir die eie navosing geselekteer is (derde gemeenskaplikheid).

    Eklektiese denke in die vorm van identifikasie van gemeenskaplikhede, het wetenskaplike en navorsingsin.

  4. EKLEKTIESE DENKE AS DELING VAN PROBLEEMGERIGTE BETEKENISSE

    4.1 Toenemende openheid en waardering

    Hedendaags is daar ten aansien van die menswetenskappe sprake van 'n toenemende metodologiese openheid en 'n waardering vir alternatiewe perspektiewe en paradigmas. Daar is sprake van 'n toenemende vermenging van kenteorieë en prosedures, soms met 'n heringesteldheid op die fenomenologie van menswees (Borgen, 1989:90-97).

    'n Eklektiese strategie mag 'n logiese stap wees in 'n meer soepel hantering van verskillende perspektiewe (resp. paradigmas).

    4.2 Ontwerp van betekenisse

    Die werklikheid openbaar homself fenomenologies deur 'n wisselwerking met die indiwiduele denker. Dit lei tot die konstruksie (ontwerp) van betekenisse as 'n kreatiewe proses (gebeure) (Duncan, Parks & Rust, 1990:165-166).

    In die uitlig van die betekenisvolle gaan dit om 'n buigsame, eklektiese strategie om die eie persepsies en ervaring te orden (te struktureer). Uit die wisselwerking tussen denkers ontstaan 'n struktuur (Mahalik, 1990:167). Dit beteken dat eklektiese denke is om 'n sintese te vorm tussen die eie persepsies en ervaring en die integreerbare uitsprake van ander (mede-) denkers. Die integrasie kan nie geskied op grond van "ek hou van daardie uitspraak omdat dit ooreenstem met myne nie", maar 'n spesifieke uitspraak word geselekteer op grond daarvan dat dit

    1. die eie persepsie en ervaring helderder laat skyn en werklikheidsgetrou uitbrei; en

    2. dit net soos die eie ervaring wetenskaplik beoordeel is (Landman, 1989:308-310).

    4.3 Deling van betekenisse

    Dit lyk asof dit wetenskaplik sinvol kan wees om eers die eie ervaring te struktureer voordat daar met ander gespreksgenote (gesprekke en literatuurstudie) hermeneutiese gesprekke gevoer word. Op dié wyse ontstaan gedeelde uitsprake ("shared constructs") (Mahalik, 1990:167-168) op grond van betekenisse wat gedeel word. Dit kan besonder vrugbaar wees wanneer betekenisse gedeel word in die lig van 'n probleem waarvoor die beste moontlike oplossing gesoek word. Die volgende is dan 'n besondere eklektiese handeling: interpersoonlike wisselwerking en betekeniskonstruksie (betekenissamevoeging) wat georganiseer is om 'n probleem (Mahalik, 1990:168). Dit vereis onder ander probleemgerigte teksstudie.

  5. EKLEKTIESE DENKE AS BEVRAAGTEKENING VAN DIE SIN VAN TEORETIESE PURISME

    5.1 Metode-keuse en doelwitte

    Eklektiese denke is die natuurlike uitvloeisel van die feit dat geen enkele model of teorie die mees effektiewe is vir probleemoplossing nie (Nance & Myers, 1991:119-130). Elke teorie/metode (benaderingswyse) is slegs 'n deelperspektief op die menslike wêreld (Simon, 191:112-118).

    Dit beteken onder andere dat die wetenskaplike se metode-keuse bepaal word deur sy doelwitte:

    Metode Doelwit
    Fenomenologiese metode Aan die lig bring van wesenskenmerke
    Hermeneutiese metode Uitleg (interpretasie) van wesenskenmerke en sinsamehange
    Dialektiese (Triadiese) metode Aan die lig bring van sinsamehange (telkens tussen die moontlikhede)
    Kontradiktoriese metode Verifikasie van essensiestatus deur kontradiksies as moontlikhede te stel
    Statistiese metodes Numeriese verkenning van kwantifiseerbare wesenskenmerke en sinsamehange
    Literatuurstudie Beskrywing van die konteks van 'n probleem met evaluering van bestaande probleemstellings, hipoteseformulerings en probleemoplossings.
    Eksperimentele metode Bepaling van die onafhanklikheid en afhanklikheid van wesenskenmerke en sinsamehange
    Outobiografiese metode Bepaling en evaluering van persoonlike belewinge en ervaringe
    Definisie- integrasiemetode Integrasie van definisies met die oog op 'n skerp(er) beskrywing van die werklikheid
    Definisie-in- vraagvormmetode Met die oog op skerp(er) formulering en verfyning van die probleemstelling
    Argumentanalise-metode Bepaling van die logika van 'n betoog en die vryheid van valse redenering
    Probleem-historiese metode Bepaling van die kultuur-historiese konteks waarin die oorspronklike skrywer(s) hom/hul bevind het. Ook: Historiese ontwikkeling van probleemoplossings
    Transendentale kritiek metode Spesifieke bevraging van vooronderstellings en grondmotiewe. Bepalings van lewensopvatlike toelaatbaarheid van wetenskaplike (insluitend navorsings-) handelinge.

    5.2 Metodologiese purisme

    Denkers wat vasklou aan een benaderingswyse (teorie, metodologie) beskou dikwels ander moontlikhede as "ongeldig" eerder as om dit slegs as verskillend raak te sien. 'n Te sterk getrouheid teenoor 'n enkele benaderingswyse kan lei tot 'n bevooroordeelde vermyding van ander moontlikhede. Energie wat aangewend kan word in die soektog na nuwe en beter alternatiewe mag verspil word in die verdediging van die eie standpunt. Die vraag is: watter benaderingswyse sal superieur wees in die bepaalde situasie of vir die verwerkliking van spesifieke doelwitte?

    Die enigste tyd wat 'n puristiese benadering sal werk, is wanneer dit gaan om die probleemgebied of doelwitstelling waarin die spesifieke benaderingswyse die toereikendste probleemoplossing(s) kan bied. Die benaderingswyse wat gekies sal word, sal varieer soos die probleemgebied (die problematiek en die doelwitstelling) varieer. Meer as een teoretiese perspektief/metodologie kan aangewend word om verskillende stelle probleme as doelwitstellings te begryp. Teoretiese (resp. metodologiese) purisme kan nie belangriker wees as die probleemoplossing waarna daar gesoek word nie (Nance & Myers, 199:122-127).

    5.3 Kenteoretiese mites

    Die rol van eklektiese denke is die organisering en koördinering van verskillende teoretiese benaderingswyses (orienterings) op 'n sistematiese wyse sonder om voorkeur te gee aan een besondere moontlikheid en sonder om die verskillende teorieë (metodologieë, benaderingswyses) saam te snoer om 'n eenheid te vorm. Die taak is om riglyne te voorsien op grond waarvan daar besluit kan word welke benaderingswyse die beste pas by 'n gegewe situasie (problematiek). Op dié wyse word die denker se potensiële doeltreffendheid verskerp (Nance & Myers, 1991:127-128).

    Mites: Die mite van universele superioriteit:

    Daar bestaan geen onomstootlike bewyse dat een benaderingswyse superieur is ten aansien van die globale problematiek nie.

    Die mite van gelykheid:

    Die feit dat die een benaderingswyse nie superieur is ten opsigte van ander moontlikhede nie, beteken nie dat alle benaderingswyse gelyk is nie. Die een teorie (metodologie) is beter as die ander in sekere gevalle maar beslis swakker in ander gevalle (probleemgebiede) (Nance & Myers, 1991:128).

    5.4 Skeiding van teorie en metode

    Daar bestaan 'n moontlikheid dat denkers tegnieke (prosedures) uit verskillende benaderingswyses kan aanwend, sonder om die teorieë (filosofieë, paradigmas) wat onderliggend is daaraan te onderskryf (Lazarus A.A. Multimodal Therapy). Dit is moontlik omdat metodes en tegnieke effektief kan wees vir redes wat anders is as dié wat die skeppers daarvan aangegee het vir die sukses daarvan. Dit is metodes en tegnieke wat inderdaad gebruik word ten aansien van mense en nie van teorieë nie (Lazarus). 'n Bestudering van die uitkomste (resultate) van verskillende metode-aanwendings is eintlik 'n bestudering van die doeltreffendheid daarvan (Mahalik, 1990:663).

  6. EKLEKTIESE DENKE AS 'N RAAKSIEN VAN STERK PUNTE

    'n Onvergenoegdheid by baie denkers met die beperkinge wat op hulle geplaas word deur 'n onbuigsame paradigmatiese ingesteldheid, "fueled the eclectic fires" en lei baie denkers daartoe om die bydraes van ander denkrigtings te ondersoek. Die ondersoek mag nie lukraak wees nie, maar moet geskied op grond van 'n konsekwente rasionaal ("Consistent rationale") (Mahalik, 1990:655). Dit beteken dat daar aan besondere kriteria voldoen moet word vir die keuse van uitsprake wat daar uit die verskillende benaderings gemaak gaan word en vir die integrasie daarvan.

    Eklektiek vereis 'n ingesteldheid wat denkers aanmoedig om te konsentreer op die sterk punte van verskillende benaderings (Mahalik, 1990:658). Die uitgangspunt veronderstel dat daar 'n wyse (metode, kriterium) sal wees aan die hand waarvan sterk punte geïdentifiseer kan word. Bydrae tot outentieke begryping van die pedagogiese kan so 'n kriterium wees. 'n Raaksien van sterkpunte en die verwoording daarvan kan 'n sinvolle (eklektiese) bydrae wees.

    Die wetenskaplike (navorser) wat daarop ingestel is om die sterk punte in verskillende benaderingswyses raak te sien en dan besluit om die geïdentifiseerde sterk punte in die eie wetenskapsbeoefening en navorsing aan te wend kan geskrifte (boeke, artikels, resensies) bestudeer wat handel oor metodologie-kritiek. Die meeste publikasies wat verskillende metodologieë (benaderingswyses) bespreek wys sterk en swak punte uit.

  7. SLOTOPMERKING

    Eklektiese denke kan wetenskaplik aanvaarbaar wees, mits eklektisisme oorwin word omdat daar aan die volgende kriteria voldoen word:

    1. Die kriterium van konsentrasie op werklike essensialiteit.

    2. Die kriterium van skeiding van die essensiële en die nie-essensiële.

    3. Die kriterium van intersubjektiewe verifikasie in interpretasiegesprekke.

    4. Die kriterium van werklikheidsgetroue definisie-integrasie.

    5. Die kriterium van identifisering van en fokussering op gemeenskaplikhede.

    6. Die kriterium van deling van probleemgerigte betekenisse.

    7. Die kriterium van die bevraagtekening van die sin van teoretiese purisme.

    8. Die kriterium van die uitskakeling van kenteoretiese mites.

    9. Die kriterium van die raaksien van sterk punte.

    10. Die kriterium van onvergenoegdheid met rigiditeit.

    o-0-o

  8. BIBLIOGRAFIE

    Borgen, FH. 1989. Evolution of eclectic epistemology. The Counseling Psychologist 17(1).

    Brugger, W (Red). 1967. Philosophisches Wörterbuch. Freiburg. Herder.

    Desilet, G. 1991. Heidegger and Derrida: the conflict between hermeneutics and deconstruction in the context of rhetorical and communication theory. Quarterly Journal of Speech 77(2).

    Duncan, BL, Parks, MB & Rusk, GS. 1990. Eclectic strategic practice: a process constructive perspectives. Journal of Marital and Family Therapy 16(1).

    Landman, WA. 1974. Logos. Pedagogiekstrudies nr. 76. Pretoria. Voordrag gelewer voor die Fundamentele Studiegroep, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria.

    Landman, WA. 1989. Strukturering van die eie ervaring vir navorsingsdoeleindes. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde 9(2).

    Landman, WA & Le Roux, K. 1992. Aanwending van definisies vir die verskerping van die navorsingskundige betoog. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde 12(4).

    Landman, WA & Swart, CA. 1992. Notes on unity in pedagogics. South African Journal of Education 12(4).

    Le Roux, K. 1984. Evaluering van die skool as pedagogiese situasie. Ongepubliseerde D.Ed-proefskrif. Universiteit van Pretoria.

    Mahalik, JR. 1990. Systematic Eclectic Models. Counseling Psychologist 18(4).

    McBrien, PJ. 1990. Conversation: a discipline for studying and teaching Sunday lectionary. Religious Education 85(3).

    Nance, DW & Myers, P. 1991. Continuing the eclectic Journey. Journal of Mental Health Counseling 13(1).

    Reader's Digest. 1987. Universal Dictionary. London: Reader's Digest Association.

    Schmidt, H (Red). 1969. Philosophisches Wörterbuch. Stuttgart. Kröner Verlag.

    Simon, GM. 1991. Theoretical eclecticism: a goal we are obliged to pursue. Journal of Mental Health Counseling 13(1).

    Smith, JK & Blase, J. 1991. From empiricism to hermeneutics: educational leadership as a practical and moral activity. Journal of Educational Administration 29(1).

    Warren, HC (Red). 1934. Dictionary of Psychology. Cambridge. Riverside Press.

    o-0-o