Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing

DIE ONTWERP VAN 'N NAVORSINGSPROGRAM
DEUR DIE AANWENDING VAN
NAVORSINGSMETODOLOGIESE GRONDBEGRIPPE


  1. INLEIDING

    Begrippe is die boustene van enige wetenskap. Navorsingsmetodologiese grondbegrippe is die boustene van die effektiefste wyse om wetenskap te beoefen naamlik navorsing; meer spesifiek gestel, stappe van die navorsingsprogram (navorsingsontwerp).

    Dit beteken dat die navorser 'n program kan ontwerp en ook in verfynde vorm ten uitvoer kan bring deur te let op die definiëring van basiese navorsingsmetodologiese begrippe. 'n Analise van die definisies van navorsingstappe openbaar die substappe wat die navorser kan volg.

    Basiese navorsingsmetodologiese begrippe kan nageslaan word in:

    LANDMAN, W.A. 1988. Navorsingsmedotologiese grondbegrippe/Basic Concepts in Research methodology. Serva-Uitgewers, Pretoria.

  2. KRITIESE DENKE

    Wanneer wetenskaplike ondersoeke gedoen word, word die verwagting dat dit krities sal wees, dikwels uitgespreek. Dit geskied veral in die sin van skerp refleksie, korrekte en skeptiese evaluering van stellings en uitsprake, die doelbewuste en onbevooroordeelde soeke na waarheid, die vermyding van algemene gepratery, naïewiteit, oppervlakkigheid, en dubbelsinnigheid.

    McPeck, J E (1981:45) gee 'n lys van aktiwiteite wat hy kritiesedenkaktiwiteite noem wat vir die kwaliteit van die navorsing betekenisvol is en wat die M- en D-student moet aanlê as kriteria vir die beoordeling van 'n geskrewe stuk:

    * begryping van die betekenis van 'n uitspraak;

    * beoordeling of daar dubbelsinnigheid voorkom in 'n wyse van redenering;

    * beoordeling of uitsprake wat gemaak word mekaar weerspreek;

    * of 'n noodwendige gevolgtrekking gemaak word; of "dus" werklik geregverdig kan word;

    * of 'n uitspraak spesifiek genoeg is; dit wil sê ter sake is;

    * of 'n uitspraak wat op grond van observasie gemaak is, betroubaar is;

    * of iets 'n aanname (veronderstelling) is;

    * of 'n definisie toereikend is; en

    * of 'n uitspraak wat deur 'n gesaghebbende gemaak is, aanvaarbaar is; dit wil sê 'n uitspraak is nie aanvaarbaar omdat 'n outoriteit dit gemaak het nie.

    McPeck noem ook (1981:7) 'n aantal kritiese denkvaardighede wat ter sprake kom by die uitvoering van 'n navorsingsprogram, en wat die M- en D-student kan aanwend as kriteria om sy eie werk te beoordeel (voordat dit aan die leier of promotor oorhandig word vir nasien):

    * intellektuele weetgierigheid; (teenstelling van napratery);

    * objektiwiteit; (teenstelling van subjektivistiese beoordeling - "ek"; "my opinie"; "myns insiens");

    * onbevooroordeeldheid; (teenstelling van oorgeërfde vooroordele);

    * intellektuele skeptisisme; (blyk dikwels wanneer gemotiveer moet word waarom daar met 'n uitspraak saamgestem word);

    * intellektuele eerlikheid; (byvoorbeeld deur nie vooraf te besluit welke oplossing of saak ondersteun gaan word nie);

    * om sistematies te wees;

    * beslistheid; deur nie halfhartig stellings te maak nie; en

    * agting vir ander se standpunte (McPeck:59) deur onbevooroordeeld daarna te kyk.

    McPeck se definisie van kritiese denke plaas die kersie op die koek.

    Kritiese denke is denke wat die skerpsinnige aanwending van reflektiewe skeptisisme vereis, wat getemper word deur ervaring sodat dit kan lei tot toereikender probleemoplossing. Leer om krities te dink is om te leer wanneer om iets te bevraagteken en watter soort vrae gevra behoort te word (McPeck:7).

    Die M- en D-kandidaat moet

    1. verslag kan doen waarom hy 'n besondere uitspraak of bevinding van 'n outoriteit aanvaarbaar vind;

    2. geleentheid kry om sy eie ervaring wetenskaplik te mobiliseer, te evalueer en veral verifiërend aan te wend. (Vgl. Landman, W.A., SATO-artikel, vol. A Nr 2 1989). Strukturering van die eie ervaring vir navorsingsdoeleindes.

    3. verslag te doen oor die vrae wat hy gevra het toe hy literatuurstudie gedoen het.

  3. NAVORSINGSDOEL

    Die navorser weet dat die doel van sy navorsing probleemoplossing is. Uit die definisie van "probleemoplossing" lei hy die volgende navorsingstappe af:

    1. Vrae (wat beantwoord moet word). Die eerste vrae is om die sleutelbegrippe in die onderwerp van die navorsing in vraagvorm te formuleer);

    2. Hipoteses (wat getoets moet word). Die eerste hipotese is om die onderwerp in hipotesevorm te herformuleer;

    3. Stappe (wat gevolg gaan word): Welke probleemoplossingstappe word beoog? (Die nagraadse student moet 'n beeld hê van die navorsingsprogram wat hy wil volg - literatuurstudie, empiriese metodes ens.)

  4. PROBLEEMSTELLING

    Daar kan, ter wille van skerp navorsing, nie volstaan word met aanvangs-vrae, hipoteses en stappe nie. Vraag-, hipotese en stapverfyning moet geskied.

    Die navorser gaan eerstens oor tot probleemstelling en hiervoor bekyk hy die definisie "probleem: stelling van" en sien die volgende stappe raak:

    1. identifikasie van veranderlikes (of sentrale begrippe -essensies - in die titel of onderwerp);

    2. formulering van geïdentifiseerde veranderlikes (of essensies) in vraagvorm (byvoorbeeld deur 'n definisie daarvan in vraagvorm te herformuleer);

    3. formuleer vrae ten aansien van onderlinge verbande;

    4. vooruitskouing (aangaande data wat versamel moet word ten einde die gestelde vrae te beantwoord).

    M- en D-kandidate

    Van dié data is meesal in boeke en tydskrifartikels.

    Kandidate moet opdrag kry om tersaaklike tydskrifartikels te versamel, met die titelsleutelwoorde as soektogwoorde.

    'n Goeie plan is om die eerste studie van hierdie artikels te beperk tot die probleemstellings.

    Probleemstellingstudie bring aan die lig:

    * vrae wat reeds deur navorsers gevra is;

    * vrae wat nie gevra is nie;

    * vrae wat swak gevra is.

    Hiermee kan afgelei word welke leemtes in die bestaande navorsing bestaan. Hierdie leemtes kan dien as motivering van die navorsing wat die kandidate moet onderneem.

  5. HIPOTESEVORMING

    Sommige leiers en promotors verkies om hipoteses te laat skrywe (veral by empiriese navorsing) terwyl ander dit nie noodsaaklik ag nie.

    Vervolgens raadpleeg die navorser die definisie "hipoteses" en bring daaruit die volgende stappe aan die lig:

    1. Neerskryf van spesifieke tentatiewe stellings wat die verwagting of vermoede wat die probleemoplossing moontlik kan wees, formuleer;

    2. Operasionalisering van stellings; d.w.s. die herskrywe daarvan in navorsbare vorm.

    3. Stel van alternatiewe hipoteses;

    4. Hipotesevormingstudie met die geselekteerde literatuur.

    5. Stel 'n program vir hipotesetoetsing op. (Hy kan ondersoek instel na metodes en prosedures wat deur die gestelde hipoteses opgeroep word).

    M- en D-kandidate

    * Kandidate moet geleentheid kry om te sê welke navorsingsprosedures hulle wil aanwend.

    * Die keuse van prosedures moet gemotiveer word op 'n wyse wat die leier (promotor) kan aanvaar. Die leier moet weet dat die sterkste motivering is die feit dat 'n geselekteerde prosedure die beste prosedure sal wees om 'n besondere hipotese te toets.

  6. HIPOTESETOETSING

    Ten einde hipotesetoetsing uit te voer, moet die navorser aandui welke metodes hy gaan aanwend. Die aanwendingstappe kan ontdek word deur bestudering van die definisie van metode:

    1. Metodes wat pas by die aard van die ondersoekgebied; (byvoorbeeld: outobiografiese teksmetode wanneer ervaring en belewing ondersoek moet word).

    2. Seleksie uit die moontlike metodes met die gestelde hipote ses as seleksiekriteria; Byvoorbeeld sekere hipoteses kan slegs deur onderhoudevoering getoets word (byvoorbeeld baie sensitiewe sake).

    3. Ordening van die metodes in 'n besondere stelsel (sisteem).

    4. Hier word verwys na die volgorde van toepassing van die geselekteerde prosedures en metodes. Welke volgorde is die effektiefste?

  7. INTERPRETASIE VAN RESULTATE

    Uit die toepassing van die geselekteerde metodes en prosedures vloei resultate voort. Die resultate word krities geïnterpreteer. Dit beteken dat die navorser moet bepaal welke interpretasiestappe hy sal kan verbesonder deur 'n analise van die definisie van "kritiese denkaktiwiteite", en "kritiese denke":

    Die volgende stappe word raakgesien:

    1. Weergawe van die betekenis van die resultate (in terme van die navorsingsdoel) d.w.s. in terme van probleemoplossing.

    2. Beoordeling of dubbelsinnighede in die beskrywing of uitleg van die resultate voorkom (en die uitskakeling daarvan);

    3. Beoordeling of weersprekinge in die resultate voorkom (en moontlike verklarings daarvoor met die implikasies daarvan vir probleemoplossing);
    4. Beoordeling of die resultate:

      1. sinchroniseer met sekere beginsels (teorie)

      2. spesifiek genoeg is

      3. betroubaar is.

    Die aktiwiteite (i) - (iv) word voltrek in die lig van:

    1. skerpsinnige reflektiewe skeptisisme

    2. ervaring

    3. beoordeling of die beste moontlike vrae gevra is.

    Die navorser volg sy interpretasie op met gevolgtrekkings en aanbevelings.

    Die navorser beskik nou oor 'n reeks verfynde probleemoplossingstappe. Voordat hy egter daartoe oorgaan om sy ontwerpte program toe te pas, kan dit nog verder verfyn word. Die navorser maak 'n deeglike studie van ander tersaaklike (dit wil sê wat die saak van sy probleemoplossing raak) navorsingsmetodologiese grondbegrippe en die definiëring daarvan. So ontwerp hy verder probleemoplossingstappe en voeg dit op die paslikste plekke in in sy reeds ontwerpte program. Uiteindelik beskik hy oor 'n gedetailleerde navorsingsprogram wat sy kanse om sinvolle navorsing uit te voer, aansienlik kan verhoog.

    Die navorser wat fenomenoloog is, sal begin deur te kyk na die definisie van navorsing: fenomenologiese metode en merk dan die volgende stappe op:

    1. Bepaling van hoe die geïdentifiseerde probleem (wat aanleiding gegee het tot die navorsing) in die leefwêreld voorkom;

    2. Deurdring tot die eidos daarvan volg, dit wil sê essensie-openbaring. Die essensiële word uitgelig en geskei van die nie-essensiële, dit wil sê van die wegdinkbare, die kontradiktoriese en die nie-tersaaklike.

  8. DIE NAVORSINGSINGESTELDHEID EN NAVORSINGSMETODOLOGIESE GRONDBEGRIPPE (Kan in eerste gesprekke met M- en D-kandidate bespreek word).

    Dit is 'n geoperasionaliseerde ingesteldheid op (ingestemdheid op) navorsing wat die uitvoering van die navorsingsprogram dra. Die navorser bekyk die definisie van "navorsing: fenomenologies" ten einde daarin te soek na gesindhede wat sinvol sal bydra tot 'n werkbare navorsingsingesteldheid:

    1. Kies vir 'n radikale deurskouing (analise) van die problematies geworde werklikheid;

    2. raaksien van navorsingstappe as wyses om die tot probleemgeworde werklikheid tot spreke te bring (deur vrae daaroor te vra tydens probleemstelling);

      1. wyses van denkende soeke na dit wat die na te vorse werklikheid maak dat dit is soos dit is en nie iets anders nie (navorsingstappe word denkend (krities) aangewend);

      2. wyses van essensie-openbaring;

      3. wyses om essensies wat nodig is vir probleemoplossing radikaal sigbaar te maak;

      4. wyses om essensieblindheid te vernietig;

      5. refleksiewyses wat relevante probleemoplossing bevorder.

    3. besluit deur die navorser op inagneming van lewensopvatlike toelaatbaarheid, deur

      * geen navorsingshandeling uit te voer wat in stryd is met sy besonder lewensopvatting nie;

      * raak te sien dat lewensopvatlik toelaatbare navorsingshandelinge op 'n besondere wyse lewendig is;

      * indink-betrokkenheid aangevul moet word deur inleef-betrokkenheid, dit wil sê die rasionele benodig die affektiewe en die skerpste vorm van affektiwiteit is lewensopvatlikheid;

      * aanvaarding van lewensopvatlik gewaarborgde winste vir wetenskapsbeoefening (ook in die vorm van navorsing) naamlik entoesiasme, verantwoordelikheid, gemoedsekerheid en verhelderende insig.

  9. DIE NAVORSINGSVERSLAG EN NAVORSINGSMETODOLOGIESE GRONDBEGRIPPE

    Die navorser kan uit sekere navorsingmetodologiese grondbegrippe kriteria aflei waaraan sy navorsingsverslag moet voldoen. Hy kan onder andere 'n analise maak van die definisie van die begrip "navorsing".

    Die volgende kriteria vir beplanning van die navorsingsverslag kom in die vorm van besondere vrae aan die lig:

    1. Hoe kan daar op die treffendste wyse verslag gedoen word van nuwe kennis wat deur die navorsing geskep is? (Tabelle, grafieke, skerp paragrawe ens.)

    2. Wat moet deur die verslag op die voorgrond gebring word?

    3. Hoe moet die probleemoplossing die treffendste verwoord (of voorgestel) word? (Kyk ook (i)).

    4. Hoe moet die afdeling, wetenskaplike analisemetodes (metodologiese verantwoording) georganiseer word?

    5. Formeel: welke ordening van die verslag sal kan kwalifiseer as "beste vorm"?

    6. Sistematies: Welke "beste vorm" sal aan die eis van sistematiek voldoen?

    7. Aan welke vereistes moet die betoog voldoen ten einde aanspraak op intensiwiteit te mag maak?

    8. Hoe moet die kontroles wat tydens die navorsing toegepas is, opmerkbaar gemaak word?

    9. Hoe word veralgemenings hanteer?

    10. Welke wyse van interpretasie sal die aanvaarding van die aanbevelings bevorder?

    * Wetenskaplike eerlikheid

    Om aan die eis van wetenskaplike eerlikheid te voldoen en om duidelik te maak teen welke agtergrond daar geïnterpreteer gaan word, kan die navorser vasstel watter kriteria vir sy verslag, voortvloei uit 'n analise van die definisie van "paradigma":

    1. Waar in die verslag sal dit die effektiefste wees om die vooronderstellings wat die navorsing begelei, te stel?

    2. Wanneer moet dit blyk welke navorsingstradisie deur die navorser inaggeneem word?

    3. Welke vooronderstellings wat eie is aan die gekose (gehuldigde) navorsingstradisie gaan dien as agtergrond waarteen daar geïnterpreteer gaan word?

    * Aanwending van definisies

    Ten einde aan kerngedagtes prominensie te verleen in 'n verslag, kan dit gerade wees om dit te definieer. Definisies se hantering in 'n verslag kan geskied op wyses wat afgelei word uit definisies van die begrip "definisie":

    1. Betekenisbeskrywing in eenvoudiger of meer omvattende terme telkens wanneer groter helderheid dit vereis;

    2. Verklaring van terme soos dit gebruik word deur die meeste mense, veral wanneer die alledaagse leefwêreld (by uitstek die vertrekpunt vir wetenskapbeoefening) beskryf word;

    3. Telkens wanneer beskrywings nodig is van begrippe in terme van die betekenis van die waarneembare en evalueerbare kenmerke daarvan, die funksies waarin dit tot uitdrukking kom en wanneer begrippe in 'n praktyk geïdentifiseer moet word.

    OPMERKING

    Die navorser kan ook sinvol tot verfynde probleemstelling kom deur definisies van essensies (wat verbesonder word uit beskrywings soos byvoorbeeld literatuurstudie) in vraagvorm te herskryf.

    Essensie - definisie - Definisies in vraagvorm = verfynde probleemstelling.

    M- en D-kandidate

    Kandidate kan opdrag kry om elke tydskrifartikel in essensietabelvorm vir die leier (promotor) te bring.

    * Literatuurstudie

    Literatuurstudie vorm die skering en inslag van die meeste navorsingsprojekte. Dit is derhalwe vanselfsprekend dat die navorser daaraan besondere aandag sal gee in sy verslag. Riglyne vir die aanwending van literatuurstudie in diens van probleemoplossing, kan afgelei word uit die definisies van "literatuuroorsig" en "literatuurstudie":

    1. Voorsiening van agtergrond en konteks vir die navorsingsprobleem (ook die moontlike hipoteses):

      * Probleemstellingstudie

      * Hipotesevormingstudie

      * Probleemoplossingstudie

    2. Motivering vir die noodsaaklikheid van die onderhawige navorsing (in terme van die leemtes wat met (i) ontdek is);

    3. Aanduiding van die navorser se kennisbesit ten aansien van die betrokke navorsingsgebied;

    4. Weergawe van resente kennis ten aansien van die navorsingsgebied;

    5. Literatuuranalise om bevindinge wat die navorser se bevindinge (resultate en gevolgtrekkings) ondersteun, of in konflik daarmee is, aan die lig te bring.

SLOTOPMERKING

Die voorgaande was 'n eksemplariese uiteensetting van hoe definisies van basiese navorsingsbegrippe deur die navorser aangewend kan word om sy navorsingsplan (navorsingsontwerp) te verfyn en om sy navorsingsverslag te verskerp.

Die navorser wat basiese navorsingsbegrippe begryp omdat hy die definisies daarvan ken, kan as outentieke beoefenaar van wetenskap in die vorm van navorsing, gereken en geag word.

VERDERE LITERATUUR

  1. Landman, W.A. (Redakteur). Die navorsingsprogram vir geesteswetenskaplike navorsing. Perskor. Johannesburg.

  2. Landman, W.A. (Redakteur). Inleiding tot die opvoedkundige navorsingspraktyk. Butterworth. Durban.

  3. Landman, W.A. (Redakteur). Navorsingsmetodologie vir onderwysstudente. Butterworth. Durban.


    oo000oo