Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing

DIALEKTIESE METODE: 'N BESONDERE TRIADE

INHOUDSOPGAWE

INLEIDEND

* Die fenomenologiese metode is hermeneuties van aard

* Die dialektiese metode is hermeneuties van aard

* Die kontradiktoriese metode is hermeneuties van aard

* Die hermeneutiese metode het fenomenologiese karaktertrekke

* Die dialektiese metode het fenomenologiese karaktertrekke

* Die kontradiktoriese metode het fenomenologiese karaktertrekke

* Die fenomenologiese metode het dialektiese eienskappe

* Die hermeneutiese metode het dialektiese eienskappe

* Die kontradiktoriese metode het dialektiese eienskappe

* Samevattend: F-, H-, D-, triade.

DIE TRIADE ONTOLOGIES-ANTROPOLOGIES-PEDAGOGIES

INLEIDEND

DIE EERSTE BEEN VAN DIE TRIADE: ONTOLOGIES

  Ontologie is slegs as fenomenologie moontlik.
  Fenomenologie is slegs as ontologie sinvol.

DIE TWEEDE BEEN VAN DIE TRIADE: ANTROPOLOGIES

  Die begrip "antropologies"
  Die begrip "ontologies-antropologies"

DIE SINTESE VAN DIE TRIADE ONTOLOGIES-ANTROPOLOGIES-PEDAGOGIES

VERWYSINGS

oo000oo

DIALEKTIESE METODE: 'N BESONDERE TRIADE

Dialektiese metode: 'n besondere triade
Ontologies Antropologies
Pedagogies

INLEIDEND

Die fenomenologiese, hermeneutiese, dialektiese en kontradiktoriese metodes vorm 'n besondere eenheid omdat al vier aanspraak kan maak op werklikheidsgetrouheid. Verder is die fenomenologiese metode hermeneuties van aard omdat essensie-openbaring reeds as interpretasie van (betekenisgewing aan) die werklikheid beskou kan word. So is die dialektiese metode ook hermeneuties van aard omdat daardeur die interpretasie van die werklikheid (as synde in beweging, dus lewend) verder gevoer word. Die kontradiktoriese metode is hermeneuties van aard aangesien die verskyning van betekenisse in helderheid toeneem wanneer dit naas die kontradiksies daarvan bekyk word. Die hermeneutiese metode het fenomenologiese karaktertrekke omdat dit wat geïnterpreteer word geopenbaarde essensies is.

Die dialektiese metode het fenomenologiese karaktertrekke omdat die dialektiese beweging die beweging van geopenbaarde essensies is. Die kontradiktoriese metode het fenomenologiese karaktertrekke omdat dit teenstellinge van geopenbaarde essensies is wat tot verskyning geroep word. Die fenomenologiese metode het dialektiese eienskappe aangesien geopenbaarde essensies wyses van lewe is, lewe beweging impliseer en beweging as triadiese ritme verloop. Die hermeneutiese metode het dialektiese eienskappe aangesien betekenisgewing (interpretasie) 'n besondere wyse is om lewe wat gewek is (dit is toe essensies as wyse van lewe raakgesien is) te verskerp en te versterk en dus beweeglikheid laat toeneem.

Die hermeneutiese metode het ook dialektiese eienskappe omdat elke keer wanneer die waartoe dien-vraag beantwoord word, 'n beweging vanaf een essensie na 'n ander voltrek word (aan hierdie beweging word die naam sinsamehang gegee). Die kontradiktoriese metode het dialektiese eienskappe aangesien elke

moontlikheid wat gestel word, of self kontradiktories kan wees of homself as alternatief van 'n geopenbaarde essensie na vore dring.

Samevattend kan nou die volgende gestel word:

Samevattend
Fenomenologiese metode Hermeneutiese metode
Dialektiese metode
Kontradiktoriese metode

  1. Die fenomenologiese metode maak die hermeneutiese metode moontlik omdat dit die geopenbaarde essensies is wat geïnterpreteer word.

  2. Die hermeneutiese metode verskerp die fenomenologiese metode aangesien dit die eis stel dat essensies wat geopenbaar word, werklik essensiestatus het.

  3. Die fenomenologiese en hermeneutiese metodes gaan gelyktydig oor in die dialektiese metode aangesien dit geïnterpreteerde essensies (essensies met helder betekenisse) is wat die dialektiese beweging sinvol maak.

  4. Die fenomenologiese en hermeneutiese metodes word albei in die dialektiese metode behou. Ignorering van die fenomenologiese metode lei daartoe dat daar geen waarborg sal wees dat die werklikhede wat in beweging moet gaan essensiestatus het nie. Ignorering van die hermeneutiese metode lei daartoe dat daar geen waarborg bestaan dat die essensies wat in beweging moet gaan die mees betekenisvolle is wat vir die beweging geselekteer is nie. (Seleksie van essensies vind plaas in terme van die betekenis daarvan vir die probleemoplossing waarna deur navorsing gestrewe word).

  5. Wanneer die "kort pad" vanaf fenomenologies na dialekties (d.w.s. met uitskakeling van die hermeneutiese) gekies word, bestaan daar geen waarborg dat die essensies wat vir dialektiese beweging aangebied word die mees betekenisvolle (vir die beoogde probleemoplossing) sal wees nie.

  6. Wanneer die "kort pad" vanaf hermeneuties na dialeketies, (d.w.s. met uitskakeling van die fenomenologiese) gekies word, bestaan daar geen waarborg dat dit waaraan betekenis geheg word (d.w.s. dit wat geïnterpreteer word) essensiestatus het nie.

    Opmerking: Beide 5 en 6 kan as verarmde weë beskou word.

  7. Die kontradiktoriese metode dien (in triadiese verband) in die besonder vir verifikasie deur byvoorbeeld die volgende vrae te vra (en te beantwoord):

    1. Het 'n besondere essensie werklik seggingskrag in terme van probleemoplossing of het die alternatief daarvan oplossingskrag? Kan dié essensie ten aansien van die probleemoplossing waarna daar gesoek word, maar weggelaat word?

    2. Het 'n besondere betekenisgewing (interpretasie) werklik oortuigingskrag in terme van probleemoplossing of het die alternatief daarvan trefsekerheid? Kan dié interpretasie (betekenisgewing) ten aansien van die probleemoplossing waarna daar gesoek word, maar geïgnoreer word.

    3. Is 'n besondere dialektiese beweging wat gekies word, werklik die beste (toereikendste, treffendste, mees sinvolle) of is dit die moontlike alternatiewe wat hierdie beskrywing verdien. Is dit nie nodig dat die gekose dialektiese weg opgeneem word in die probleemoplossing nie?

DIE TRIADE: ONTOLOGIES-ANTROPOLOGIES-PEDAGOGIES

Inleidend

Dit het nou nodig geword om terug te keer na die opskrif van hierdie stuk. Die vraag wat beantwoord moet word is, wat het die triadies gestruktureerde metodes te make met die triade ontologies-antropologies-pedagogies?

Die antwoord is geleë in die volgende twee wetenskaplike oordele:

  • Ontologie is slegs as fenomenologie moontlik (Heidegger)
  • Fenomenologie is slegs as ontologie sinvol (Landman).

DIE EERSTE BEEN VAN DIE TRIADE: ONTOLOGIES

Ontologie is slegs as fenomenologie moontlik (Heidegger)

Slegs langs die fenomenologiese toegangsweg kan toereikend werklike essensies geopenbaar word.

Opmerkings:

  1. Dié stelling anders gestel: Ontologiese begryping is slegs langs fenomenologiese weg moontlik.

  2. Die "slegs" kan dui op 'n metodemonisme en selfs op metodologiese arrogansie. Dit kan vervang word met die begrip "die doeltreffendste", wat oor vele jare bewys is. Hiermee word die moontlikheid gestel dat daar ook deur ander metodes essensie-openbaring kan geskied. In die inleiding tot hierdie studiestuk is aangedui dat die hermeneutiese, dialektiese en kontradiktoriese metodes 'n betekenisvolle bydrae kan maak tot essensie-openbaring en essensie-verheldering. Daar bestaan ook ander metodes wat elk op 'n unieke wyse so 'n bydrae kan lewer.

  3. Dié stelling herformuleer: Ontologiese begryping kan die doeltreffendste geskied deur die aanwending van die fenomenologiese (en aanverwante) metodes en metodes wat op so 'n wyse aangewend word dat agting blyk vir die

    • vooronderstelling dat subjektiewe ervaring betekenisvolle en betroubare data is vir die begryping van die werklikheid (Verma & Beard, 1987).
    • fokus op die betekenisse wat gebeure het vir die mense wat daarby betrokke is. Die soeke na betekenisse lei tot die ontdekking van vooronderstellings in konsepte, kategorieë en metodes. Die beklemtoning is op hoe mense sin gee aan die wêreld om hulle (Shipman, 1985:11, 13, 14).

  4. Dié stelling kan verder verhelder word, deur aan te dui presies wat met ontologiese begryping bedoel word: Ontologiese begryping geskied wanneer daar raakgesien word dat essensies eksistensialia is, d.w.s. dat dit werklik in die menslike leefwêreld bestaan en dit beteken dat dit as onwegdinkbaar en onweghandelbaar daarin funksioneer (Marten, 1972:17, 79) en dat dit ontologiese status besit (Heidegger, 1963:57). Dit beteken dat kennis van so 'n eksistensiaal (essensie as wyse van lewe) 'n moontlikheidsvoorwaarde is vir die begryping van die menslike leefwêreld.

    Ontologies = ontos + logos. Ontos: hierdie essensies voldoen aan werklikheidseise in dié sin dat dit besondere werklikheidstatus het, naamlik die status van bestaansnoodwendigheid en dat die werklikheid self daardeur sigbaar word. Logos: hierdie essensies voldoen aan logiese eise omdat by die wegdink daarvan nie meer logies (in ooreenstemming met Logika) geredeneer sal kan word nie. Die toereikendste metodes om ontos en logos te beoefen is die fenomenologiese (fenomeno-logos) en aanverwante metodes (Landman, van Zyl & Roos, 1975:6).

    'n Ontologiese benadering in die wetenskap dui op 'n essensie-soekende benadering. Dit wil sê, die wetenskaplike wat ontologies werk, stroop die fenomene (verskynsels) wat hy ondersoek van alle bykomstighede. Hy dring deur tot die wese van sulke verskynsels. Hy voer'n radikale (tot by die wortels: L. radix = wortel) ondersoek uit en beskrywe die sake soos hulle self is, lê hulle as sodanig uit en bring ook hulle sinsamehange aan die lig. Hiervoor het hy die fenomenologiese (en aanverwante metodes nodig (Van Rensburg & Landman, 1990:152).

    Om ontos en logos te beoefen in die vorm van die fenomenologiese (en aanverwante) metodes, moet die wetenskaplike voldoen aan 'n besondere vereiste. Hierdie vereiste kan verwoord word as ONTOLOGIESE KATEGORIE.

    In-die-wêreld-wees is 'n oorspronklike kenmerk van die mens en dui op die geheel van die verhoudinge wat deur hom in sy lewenswerklikheid ontwerp word. In-die-wêreld-wees of Dasein is die algemene moontlikheidsvoorwaarde vir menswees-in-die-lewenswerklikheid. Dasein-in-die-algemeen met sy singewende gerigtheid op die wêreld en openheid teenoor die wêreld (intensionaliteit-eksistensie) is derhalwe eerste werklikheidskategorie of grondkategorie of ontologiese kategorie. Dit beteken dat geen beskrywing waarin die mens as wêreldlose subjek gesien word, geldig kan wees nie. Wie na die menslikheid van die mens vra, moet met sy in-die-wêreld-wees begin, want hierdeur word alle verdere denke aangaande hom moontlik (Landman, 1969:22-23) en dit geld ook vir die begryping van die tweede triade ontologies-antropologies-pedagogies.

  5. Dié stelling "finaal" geformuleer:

    'n Essensie-soekende wetenskaplike benadering kan die toereikendste (voldoende) geskied wanneer die fenomenologiese (en aanverwante) metodes aangewend word.

    Fenomenologie is slegs as ontologie sinvol (Landman)

    Slegs daardie wetenskaplike (resp. navorser) is fenomenoloog wat beslis kan verklaar, uitlê en motiveer dat wetenskap primêr essensie-soekend is, dus denke wat ontologies wil begryp (begryping van essensies, sin en sinsamehange teen die universele leefwêreld as denkagtergrond (Landman, 1969).

Opmerkings:

  1. Dié stelling anders gestel: Fenomenologie is slegs outentiek as dit lei tot ontologiese begryping.

  2. Die kwalifisering "slegs" staan vas, want indien 'n fenomenoloog enige iets anders wil bereik as ontologiese begryping, sal hy verval in 'n fenomenologisme en/of fenomenografie (mooiskrywery wat geen verifikasie duld nie). Fenomenologisme dui daarop dat voorkeur gegee word aan woorde en stellings wat oppervlakkige sintuiglike ervarings beskryf en wat slegs deur direkte sintuiglike waarneming, geverifieer kan word (Polkinghorne, 1983:63).

    Dié stelling herformuleer: Fenomenologie (en aanverwante metodes) is slegs outentiek as dit lei tot ontologiese begryping. Onder andere: tot begryping van "ontologie" in die triade ontologies-antropologies-pedagogies en die verband wat dit het met die antropologiese en die pedagogiese.

DIE TWEEDE BEEN VAN DIE TRIADE: ANTROPOLOGIES

Inleidend

Die wetenskaplike (resp. navorser) se in-die-wêreld-wees, maak dit vir hom moontlik om metodologies-verantwoordbaar deur middel van essensie-bemoeienis by te dra tot realistiese en sinvolle probleemoplossing (as navorsingsdoel).

Die navorser se in-die-wêreldwees is 'n menslike in-die-wêreldwees en dit beteken dat die menslikheid van die mens, d.w.s. die menslikheid van menswees hom in die besonder sal interesseer. Anders gestel: die antropologiese kom in sy wetenskaplike blikveld. Die volgende vrae dring hulle self nou op die voorgrond:

  1. Wat beteken die begrip "antropologies" veral in terme van daardie skerpste vorm van wetenskapsbeoefening wat as navorsing bekend staan?

  2. Wat is die betekenis van "antropologies" as tweede been van die triade ontologies-antropologies-pedagogies? Met ander woorde: Wat beteken ontologies-antropologies (ook antropologies-ontologies)?

Die begrip "antropologies"

In-die-wêreld-wees is 'n oorspronklike kenmerk van die mens. Daarom kan daar altyd met enige wetenskaplike denk-arbeid in verband met die mens en sy in-die-wêreld-wees begin word. Uitgaande van in-die-wêreld-wees, word 'n mens derhalwe metodies gedwing om van die mens as totaliteit uit te gaan want hy tree as totale mens met die wêreld in verhouding. Antropologies-georiënteerde refleksie is dan refleksie uitgaande vanuit die mens tot die mens. Die vertrekpunt is die spesifieke menslike van die mens en in die voortgang van die refleksie word die mens in sy menslikheid raakgesien. Dit gaan om die menslikheid van die mens. Die mens word deurskou in sy eksistensiële gemoeidheid, soos byvoorbeeld sy gemoeidheid met waardes en die deur hulle geïmpliseerde norme.

Die navorser wat fenomenologies (en met aanverwante metodes) te werk gaan, bedink antropologies, wie nie-fenomenologies te werk gaan, bedink nie-antropologies of hoogstens vanuit 'n antropologiese konsepsie as naïewe bevooroordeelde standpunt. So is byvoorbeeld die psigo-analitiese benadering wel antropologies in dié sin dat Freud altyd en veral van die menslike wese en van sy ervaringe met menslike wesens praat (Vermeersch, 1967:165). Hierdie benadering van menswees is egter beslis vanuit 'n besondere on-werklike, bevooroordeelde mensbeeld, naamlik dat die mens 'n drifgedrewe en drifgevangene wese is (Frankl, 1949:12-13). Dit is bygevolg dan ook onvolledig en onjuis om slegs te praat van "antropologies". Die "antropologies" moet gekwalifiseer word en die fenomenoloog doen dit deur die byvoeging "ontologies". Dan gaan dit om 'n ontologies-georiënteerde antropologie.

Die navorser wat fenomenologies te werk gaan, strewe na 'n radikale bevryding van vooroordele soos vervat in talle antropologiese konsepsies, en bedink ontologies-antropologies. Die konkrete werklikheid en die refleksie daaroor word gesien teen die universele lewenswerklikheid self as agtergrond, d.w.s. opinie-vry en met uitskakeling van alle bepaalde antropologiese konsepsies.

Die navorser wat fenomenologies te werk gaan, word sterk aangespreek deur die antropologiese en daarom wend hy in sy bedinking antropologies-geregverdigde beligtende denkmiddele (kategorieë) aan.

Antropologiese kategorieë is beligtende denkmiddele wat op fenomenologiese wyse ontwerp is uit die menslike synsorde en wat konkrete openbaringe (verwoordinge) is van die mens se in-die-wêreld-wees (Dasein). Hierdie kategorie verwys na die eksistensie as konkrete openbaringswyse van menswees, vorm 'n betekenisgeheel en maak reflekterende toegang tot die eksistensie moontlik (ook die pedagogiese eksistensie) (Van Rensburg & Landman, 1990:12).

Die werklike mens (Antropos) soos hy in die lewenswerklikheid in sy konkrete veelvoudigheid en kompleksiteit voorkom, dus in sy eksistensialiteit, is 'n intensionele persoon van wie die sin van daar-wees in die lewenswerklikheid, uitleggend beskryfbaar is deur implementering van antropologiese kategorieë. Dit is kategorieë wat eksklusief op die menslike van die mens van toepassing is. Indien kategorieë uit 'n nie-menslike synsorde in die menslike synsorde geïmplementeer sou word vind daar 'n ongegronde gelykskakeling van twee onvergelykbare terreine plaas asook 'n onwetenskaplike grensoorskryding.

Die rede waarom sommige wetenskaplikes natuurwetenskaplike kategorieë op die mens van toepassing maak, is omdat deur hulle aangeneem word dat daar slegs een werklikheid bestaan naamlik dié werklikheid wat deur die natuurwetenskappe onthul word. Hierdeur word die antropologiese ruimte wat 'n eksistensiële ruimte is, egter gereduseer tot geometriese ruimte (Binswanger, 1964:23-33) en dit lei tot verobjektivering van die mens. Sodanige objektivering vanweë die implementering van kategorieë wat vir die begryping van die menslike van die mens irrelevant is, lei tot 'n verbreking van die mens-wêreld-verhouding (Nota, 1965:32) en het as uitkoms 'n gebroke mens, afgewend en berowe van die werklikheid. Verder lei dit tot 'n berowing van die mens van sy eksistensialiteit.

Die begrip "ontologies-antropologies"

Die ontologies-georiënteerde antropologie is 'n menskunde wat gerig is op wesensleer aangaande die mens. Dit beteken dat menswees in die algemeen opinie-vry beskrywe word, want wie ookal die menslike werklikheid self deur die som van sy vooroordele bedek, het 'n opvatting wat lei tot vernietiging van wat die werklikheid werklik essensieel is. Die fenomenologiese deskripsie is 'n beskrywing en uitleg van menswees. Daarom kan ook gepraat word van 'n ontologies-fenomenologiese antropologie, waarin die fenomeen menswees aan die lig gebring word. Dit gaan hier om die antropologie, d.w.s. om die betekenis van die daarwees van die konkrete mens. Dus: ontologiese antropologie wat beteken dat die mens in sy eksistensiële totaliteit betrag word (Landman, 1969:20-21) ook daar waar hy in pedagogiese situasies verkeer.

DIE SINTESE VAN DIE TRIADE ONTOLOGIES-ANTROPOLOGIES-PEDAGOGIES (Landman & Roos, 1973:65-67)

Die outentieke pedagogieker weet dat, omdat hy die pedagogiese (kinderbegeleiding) wil begryp, hy die wesenskenmerke daarvan aan die lig moet bring. Hy moet die pedagogiese essensies wat verborge is in die opvoedingswerklikheid self, in die lig bring. Om dié essensies aan die lig te bring, moet hy die kategorie "die pedagogiese" as beligtende denkmiddel aanwend.

Die eerste vraag wat hy nou aan homself stel is: Aan watter voorwaardes moet ek voldoen ten einde dié kategorie te kan aanwend? Hy sien dan dat dié aanwending onmoontlik is as hy hom isoleer van die opvoedingswerklikheid self want dan kan hy dié werklikheid nie belig nie. Hy moet dus in die wêreld by die opvoedingswerklikheid wat daarby ingebed is, wees; anders bly die werklikheid vir hom verborge. In-die-wêreld-wees is dus eerste moontlikheidsvoorwaarde vir die aanwending van die katgorie "die pedagogiese". Deur sy in-die-wêreld-wees te stel as eerste moontlikheidsvoorwaarde vir sy wetenskapsbeoefening (aanwending van die kategorie "die pedagogiese") oorwin hy die kloof tussen mens (denker, wetenskaplike) en wêreld (werklikheid). Anders gestel: In-die-wêreld-wees is sy eerste beligtende denkmiddel: denkende beligting van die eerste moontlikheidsvoorwaarde waaraan hy moet voldoen ten einde sy kategorie "die pedagogiese" aan te wend. Daar kan ook gesê word dat in-die-wêreld-wees die ontologiese kategorie is, aangesien dit alle verdere ontologiese uitsprake aangaande menswees, dus ook menswees in pedagogiese situasies moontlik maak.

Die pedagogieker weet nou dat sy eie in-die-wêreld-wees moontlikheidsvoorwaarde is vir die aanwending van sy kategorie "die pedagogiese". Hy kan nou dié kategorie aanwend om 'in-die-wêreld-wees' te belig. Onmiddellik sien hy raak dat daar talle menslike wyses van in-die-wêreld-wees bestaan. Hy is genoodsaak om deur die aanwending van die kategorie "die pedagogiese" 'n seleksie te maak uit die verskillende wyse van menswees met die oog op verdere radikale ondersoek daarvan. Hy selekteer naamlik daardie wyses wat pedagogies betekenisvol is, dus besondere segswaarde het vir die saamwees van opvoeders en kinders. Die volgende is vier wyses van menswees uit 'n groot aantal moontlikes wat geselekteer kan word:

  1. in-betekenis-wêreld-wees
  2. medesyn
  3. temporaliteit
  4. self-iemand-wees.

Weer eens word die kategorie "die pedagogiese" aangewend om die wyses van menswees te ondersoek ten einde vas te stel of daar nie wesenskenmerke daarvan is wat pedagogies betekenisvol kan wees nie. Uit 'n byna oneindige veelheid van moontlike wesenskenmerke kan die volgende raakgesien word:

  1. In-betekenis-wêreld-wees; wat dui op die volgende wyses van menswees:

    1. betekening op eie verantwoordelikheid
    2. beweging as wegbreek van inspanningloosheid
    3. genormeerde lyflikheid

  2. Medesyn; wat dui op die volgende wyses van menswees:

    1. waag met mekaar
    2. dankbaarheid vir geborgenheid
    3. aanspreeklikheid vir verhouding

  3. Temporaliteit; wat dui op die volgende wyses van menswees:

    1. hoop op die toekoms
    2. ontwerp van moontlikhede
    3. vervulling van bestemming

  4. Self-iemand-wees; wat dui op die volgende wyses van menswees:

    1. agting vir menswaardigheid
    2. opgawe tot selfbegryping
    3. vryheid tot verantwoordelikheid.

Die pedagogieker sien nou raak dat hy nog eens sy katgorie "die pedagogiese" moet aanwend. Hierdie keer doen hy dit om die pedagogiese betekenis van dié wyses van menswees te laat blyk en nou is daar sprake van:

  1. betekening-met-toenemende-verantwoordelikheid
  2. geleidelike-wegbreek-van-inspanningloosheid
  3. genormeerde-voor-en-nalewing
  4. pedagogiese-waag-met-mekaar
  5. dankbaarheid-vir-pedagogiese-geborgenheid
  6. aanspreeklikheid-vir-opvoedingsverhoudinge
  7. hoop-op-toekomstige-volwassenheid
  8. ontwerp-van-moontlikhede-tot-volwassenheid
  9. geleidelike-vervulling-van-bestemming
  10. toenemende-agting-vir-menswaardigheid
  11. verowering-van-vryheid-tot-verantwoordelikheid.

Nou kan die pedagogieker besluit om hierdie pedagogiese synswyses (opvoedende bedrywighede) te verhef tot beligtende denkmiddele vir hom, dus tot pedagogiese kategorieë en daarmee is die triade ontologies-antropologies-pedagogies voltooi.

o-0-o

VERWYSINGS

Binswanger, L. 1964. Vierde druk. Grundformen und Erkenntnis Menschlichen Daseins. München. Reinhardt.

Frankl, V.E. 1949. Der Unbewuste Gott. Wien. Amandus Verlag.

Heidegger, M. 1963. Tiende druk. Sein und Zeit. Tübingen. Max Niemeyer.

Landman, W.A. 1969. Enkele aksiologies-ontologiese momente in die voorvolwassenheidsbelewing. 'n Studie in die wysgerige Antropologie. Pretoria. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Publikasiereeks nr.10.

Landman, W.A. & Roos, S.G. 1973. Fundamentele Pedagogiek en die Opvoedingswerklikheid. Durban. Butterworths.

Landman, W.A., van Zyl, M.E.J. & Roos, S.G. 1975. Fundamenteel-pedagogiese essensies: hulle verskyning, verwerkliking en inhoudgewing. Durban. Butterworths.

Marten, R. 1972. Existieren, Wahrsein und Verstehen. Berlin. W. de Gruyter.

Nota, J.H. 1965. Gabriel Marcel. Baarn. Het Wereldvenster.

Polkinghorne, D. 1983. Methodology for the Human Sciences. Systems of Inquiry. Albany. State University of New York Press.

Shipman, M. 1985. Educational Research: principles, policies and practises. London. Falmer.

Van Rensburg, C.J.J. & Landman, W.A. 1990. Sesde hersiene uitgawe. Fundamenteel-pedagogiese begripsverklaringe. Notes on fundamental-pedagogic concepts. Pretoria. N.G. Kerkboekhandel. Transvaal.

Verma, G.K. & Beard, R.M. 1987. What is educational research? Perspectives on techniques of research. Aldershot. Gower.

Vermeersch, E. 1967. Epistemologische Inleiding tot een Wetenschap van de Mens. Brugger. De Tempel. Tempelhof.


o-0-o