Professor W A Landman

Voordragte oor navorsing


Terug na Navorsing

KONTRADIKTORIESE METODE

INHOUDSOPGAWE

INLEIDEND

DIE KONTRADIKTORIESE METODE

   Eerste stap: identifisering van afwesigheid
   Tweede stap: identifisering van kontradiksies
   Derde stap: identifisering van verabsoluteringe
   Vierde stap: die formeel-logiese teenspraakbeginsel

HANTERING VAN KONTRADIKSIES EN WEERSPREKINGE TYDENS
DIE UITVOERING VAN 'N AANTAL NAVORSINGSHANDELINGE

   Begripsverheldering
   Literatuuroorsig
   Probleemstelling
   'n Toereikende betrokkenheid en kontradiksies
   Toereikende inligting en kontradiksies
   Gevolgtrekkings
   Outobiografiese teks
   Onderhoud

MATIGING EN VOORKOMING VAN VALSE REDENERING

SLOTOPMERKING

KONTRADIKTORIESE METODE (BEd)

INLEIDING

Die fenomenologiese metode is primêr ingestel op essensie-openbaring, die hermeneutiese metode op essensie-uitleg en die dialektiese metode op die openbaring van essensiële sinsamehange.

Die vraag is nou: wat het die kontradiktoriese metode as metode wat primêr gemoeid is met kontradiksies, met essensies en sinsamehange te make?

'n Essensie:

L. essentia - wese; esse - te wees: fundamentele of intrinsieke wese; essensieel-noodsaaklik, onontbeerlik; 'n essensie is daarom 'n wesenskenmerk; die wesentlike, die fundamentele; 'n kernfeit; 'n noodsaaklike vereiste; 'n onontbeerlike voorwaarde; 'n moontlikheidsvoorwaarde ('n pedagogiese essensie maak opvoeding moontlik); 'n ontiese gegewene (onwegdinkbaar, onweghandelbaar, dit is); 'n ontologiese aangeleentheid (die essensies van 'n saak/opvoeding moet geken word om begryp te word); 'n betekenisvolle wyse van lewe ('n lewenswyse met besondere betekenis); 'n werklikheid wat openbaar (aan die lig gebring) kan word en wat verwerklik (verwesenlik) kan word. Essensies (essensiële kenmerke) wat bymekaar hoort, groepeer saam om strukture te vorm (Van Rensburg & Landman, 1990:50).

'n Kontradiksie:

L. contradictus, van contradicere - teenspraak, weerspreking, teenstrydigheid. Teenoorgestelde. Teenspraak. Weerspreking (Van Rensburg & Landman, 1990:105).

'n Besondere vraag wat nou sy opwagting maak is: Is essensies en kontradiksies afsonderlike werklikhede wat met mekaar meeding om tot verskyning en verwerkliking te kom? Of is dit keerkante van dieselfde werklikheid wat vanweë die openheid van die mens albei die moontlikheid het om te verskyn?

Essensies wat bymekaar hoort, groepeer saam om strukture te vorm en word aan mekaar gebind en verbind met bande wat sinsamehange (onderlinge verbande) genoem word. Die kwaliteit van die verskyning van 'n struktuur hang af van die kwaliteite van die verskyning van die essensies daarvan. Die volgende is moontlikhede:

  1. die kwantiteit van verskyning van 'n struktuur se essensies. 'n Struktuur waarvan net die helfte van die moontlike essensies vir verwerkliking verskyn se teenwoordigheid sal gekenmerk wees deur kragteloosheid en lamheid. In hierdie verband word aanwesigheid (teenwoordigheid) as moontlikheid teenoor afwesigheid as alternatief gestel. Die kontradiksie van teenwoordigheid is afwesigheid. Afwesige essensies moet geïdentifiseer word en die kontradiktoriese metode is 'n metode vir die identifisering van die afwesige (die verborgene). Wete van verborgenheid spoor aan tot onverborge-making.

  2. die kwaliteit van verskyning van die essensies wat 'n struktuur vorm, kan as versteld beskryf word waarmee bedoel word dat, om een of ander rede, essensies nie in hulle volheid teenwoordig gestel kan word vir verwerkliking nie (Landman, 1969:9-10). Die verloop vanaf skerp (outentieke) verskyning van essensies tot die verskyning van kontradiksies is via versteldheid.

  3. Essensies is moontlikhede wat hulle leen tot verwerkliking. Elke moontlikheid word voortdurend deur sy alternatief bedreig bv. lewe deur dood. Om 'n moontlikheid (bv. 'n essensie) teenoor sy bedreigende alternatief (bv. 'n essensie se kontradiksie) te stel beteken dat die alternatief geïdentifiseer moet word met die oog op neutralisering of verwydering daarvan. In dié sin is die kontradiktoriese metode dan 'n metode vir die identifikasie van kontradiksies. Na die identifikasie en uitskakeling van kontradiksies kan 'n mens hom laat lei deur die moontlikhede (resp. essensies) wat tot sy beskikking is, wat 'n appél rig tot sy verantwoordelikheidsbewussyn en wat hom oproep om te ontwerp, te skep en te hoop (Abbagnano, 1960, 533-534).

  4. Ontkenning van bestaansreg. Teenoor die stelling van die bestaansreg van 'n bepaalde essensie word die ontkenning daarvan geplaas. Bestaansreg word gestel teenoor nie-bestaansreg (as kontradiksie). Daar kan nie van dieselfde essensie (of struktuur) gesê word dat dit beide bestaansreg en nie-bestaansreg het nie. Dit beteken dat daar nie oor dieselfde onderwerp (resp. essensie) twee teenstrydige uitsprake gemaak word nie. Die kontradiktoriese metode is 'n metode om teenstrydighede te identifiseer.

DIE KONTRADIKTORIESE METODE

In die lig van die voorgaande uitleg, kan die volgende stappe van die kontradiktoriese metode geïdentifiseer word.

Dié metode in die vorm van bepaalde stappe kan aangewend word ten aansien van die betoog wat die navorser geskryf het om 'n agtergrond te voorsien vir die probleem waaroor sy navorsing gaan, wat ook kan dien as motivering vir die navorsing. So 'n betoog bestaan uit argumente. 'n Argument is 'n beredeneerde regverdiging van standpunte, aansprake, uitsprake, afleidings en opvattings. Beredenering is die stel en oorweging van ondersteunende en weersprekende redes in die lig van inligting wat deur literatuurstudie en gesprekke met deskundiges ingesamel is (Landman & Jansen, 1992).

Eerste stap: Identifisering van afwesigheid

Veronderstel die navorser wil die kontradiktoriese metode in die vorm van identifisering van afwesigheid, aanwend om navorsing te doen oor: Die aandeel van fundamenteel-pedagogiese essensies aan die verloop van 'n les.

Die navorser kan soos volg te werk gaan:

  1. Deur literatuurstudie en gesprekke met deskundiges word die essensies van die lesverloop geïdentifiseer en gedefinieer.

  2. Met die lesverloopessensies helder in die gedagte, bestudeer die navorser die fundamentele pedagogiese essensies met die definisies daarvan met die doel om fundamenteel-pedagogiese essensies te identifiseer wat uit die definiëring blyk betekenisvol te wees vir die verwerkliking van lesverloopessensies. Die betekenisvolheid word skerp geëvalueer deur te besin (fenomenologies, hermeneuties, triadies) oor die uitwerking wat die afwesigheid van fundamenteel-pedagogiese essensies op die lesverloop sal hÍ

Die volgende tabel is 'n weergawe van die uitkoms van sodanige besinning (Landman, Roos, Möller & Mentz, 1982:56-68):

ESSENSIES VAN DIE LESVERLOOP
(a)  Aktualisering van voorkennis
  (i)  Bewusword van voorkennis Pedagogiese nabyheid:
Indien daar 'n distansie (kloof) tussen onderwyser en kind is, sal die kind nie bewus gemaak word daarvan dat hy oor betekenisvolle ervaringe beskik nie.

  (ii)  Oproep van voorkennis Teenwoordigheid in vertroue:
Aan die lig bring van sinvolle aanknopingspunte wat vertroue in die onderwyser se vakkennis verg, sal verdwyn.
  (iii) Verlewendiging van voorkennis
Belewing van toebehorenheid:
Nie-aanvaarding van die kind, maak waardering van die kennis waaroor hy reeds beskik, onmoontlik.
(b)  Probleemstelling
   (i)  Leiding tot probleemformulering Toewending in vertroue:
Die kind wat hom nie in vertroue oopstel vir beÔnvloeding nie, sal nie gehelp kan word om sinvolle vrae te ontdek nie.
  (ii)  Belewing van lesprobleem Diepwortelende geneentheid:
Die onderwyser wat nie 'n goeie gesindheid en welwillendheid kan toon nie, sal die kind nie kan aanspoor om die probleem as sinvol vir homself te aanvaar nie.
  (iii)  Belewing van ontoereikendheid van kennis Meevallende aangetrokkenheid: Indien die kind nie tot die onderwyser aangetrokke voel nie, sal hy hierdie essensie beleef as aantasting van sy menswaardigheid.
 (iv)  Opneem van verantwoordelikheid vir probleemoplossing Opmekaar-afgestemdheid:
Onderwyser en kind wat nie ooreenstem dat hulle met mekaar is ter wille van mekaar nie, sal nie maklik saam aktief kan deelneem aan die probleemoplossing nie.
(c) Eksposisie van nuwe inhoud
  (i)  Reduksie tot essensies Opneem van verantwoordelikheid:
'n Kind wat nie verantwoordelikheid wil of kan aanvaar om kernfeite te soek nie, kan nie aan hierdie essensie deelneem nie.
  (ii)  Insien van verbande Magnie-momente:
Die besluitlose kind sal die oproep tot soeke na sinsamehange ignoreer.
  (iii)  Insig in begrippe Verpligting tot beskikbaarheid:
Die onderwyser wat nie toeganklik is vir aansporing tot denke nie, sal nie in sy begripsvorming slaag nie.
(d) Aktualisering van lesinhoud
  (i)  Aktiwiteitsbeginsel Opvoederlike doelbewustheid:
Die onderwyser wat dit nie as besondere doel stel om die kind te laat deelneem nie, sal verlewendiging van selfdoen laat misluk.
  (ii)  Individualiseringsbeginsel Magnie-moment:
Die onderwyser wat nie die kinderlike waardigheid beskerm nie, sal nie daarin slaag om hom aan te moedig tot 'n eie styl van leeraktiwiteite nie.
  (iii)  Sosialiseringsbeginsel Verpligting tot beskikbaarheid:
Leerlinge wat nie aangemoedig word om saam-doen-aktiwiteite voor te stel en te beplan in samewerking met 'n gewillige onderwyser nie, se inskakeling by 'n stabiele klasverband sal daaronder ly.
(e)  Funksionalisering
  (i)  Inoefening van insigte
 (ii)  DifferensiŽring van opdragte
(iii)  Uitvoer van opdragte
Hoop op die toekoms:
Funksionalisering-essensies wat nou verwerklik word, open 'n besef van 'n toekoms aangesien insigte van opdragte wat ingeoefen word, hulle segswaarde vir 'n toekoms moet behou. Opdragte word uitgevoer wat die toekomstige wyse van lewe raak. Funksionalisering wat nie hoop op die toekoms wek nie, kan nie betekenis hÍ vir die grootwording van die kind nie.

Opmerkings:

  1. Die fundamenteel-pedagogiese essensies wat ter sprake moet kom (kolom 2) kan die onderwerp wees van 'n hermeneutiese interpretasiegesprek.

  2. Die navorser vir wie die uitwerking van die afwesigheid van fundamenteel-pedagogiese essensies op hierdie stadium sterk aanspreek, kan met vrymoedigheid en gerustheid die essensies aanwend in die verdere navorsing wat hy wil onderneem. Byvoorbeeld:

    1. Definisies van die essensies in vraagvorm en betrek op die lesverloopessensies vorm sy probleemstelling.

    2. Die essensies figureer in die toepassing van die navorsingsprosedures wat hy geselekteer het. Byvoorbeeld as onderwerpe waaroor outobiografiese tekste geskryf kan word, as leidrade by die kritiese insidente-tegniek, as veranderlikes by eksperimentering.

  3. Die navorser bestudeer reeds gedane aanverwante navorsing, identifiseer afwesighede en dui aan wat die implikasie daarvan is vir die probleemoplossings wat aangebied word.

Tweede stap: Identifisering van kontradiksies (as die uiterste vorm van versteldheid) (Landman, 1977:142-144).

Daar bestaan die moontlikheid van die aanwesigheid van die kontradiksie (teenstelling, teenoorgestelde) van elke fundamenteel-pedagogiese essensie en lesverloopessensie. Sodanige kontradiksie het werklikheidstatus, maar nie bestaansreg nie omdat die verwerkliking daarvan geen betekenisvolle bydrae sal kan maak tot die behoorlike mondigwording van die kind nie. Inteendeel, die essensie en sy kontradiksie staan in 'n konflikverhouding tot mekaar. Die konflik kan verlammend inwerk op die opvoedingshandelinge (d.w.s. verwerkliking van pedagogiese essensies) indien die kontradiksie(s) nie uitgeskakel word nie. Dit gaan hier om twee teenstellende kragte wat werksaam is. Die positiewe staan tenoor die negatiewe en laasgenoemde se verwerkliking kan lei tot 'n tragedie. Die positiewe wat bestaansreg en ook bestaansnoodwendigheid het, besit essensiestatus, terwyl die negatiewe wat slegs werklikheidstatus het as momente in pedagogiese situasies kan verskyn. (Die Ortopedagogiek bemoei hom met hierdie momente.)

Die pedagogiese sinloosheid van die kontradiksie is geleŽ in die feit dat egte opvoeding nie net daardeur verduister, verstel en verberg word nie, maar selfs vernietig word. Die pedagogieker soek derhalwe na essensies, dus na die teenspraaklose beide wat opvoeding-as-sodanig en onderrig-as-sodanig betref, asook na die onverbreekbare samehange tussen beide.

In die volgende tabel word 'n aanduiding gegee van die verlammende uitwerking wat sekere kontradiksies kan hê op die verwerkliking van lesverloopessensies:

DIE VERLAMMENDE UITWERKING VAN SEKERE KONTRADIKSIES
Lesverloop
essensies
Kontradiksies

Uitwerking van
kontradiksie-verwerkliking

Onderwysdoel Doelloosheid (van die
onderwyser)
Doelgerigteid ontbreek en 'n gerigwees op 'n blote besigwees volg. Doeltreffendheid verdwyn omdat tydverspilling getref word.
Aktualisering-van-voorkennis Ignorering van voorkennis Sinvolle samehang met die reedsbekende as vertrekpunt vervaag en die vakuum wat so ontstaan werk verlammend en vertragend.
Probleemstelling Probleemloosheid Die lusprinsipe (aangename ter wille van die aangename) wat 'n patologiese prinsipe is (V Frankl) gedy. Die inspanning wat deur probleemstelling opgeroep word, word as te vermoeiend afgewys.
Eksposisie-van-nuwe-inhoud Essensieblindheid Die oppervlakkige word as waarheid aangesien en aanvaar en diepgang in die ontsluiting van werklikheid word onmoontlik.
Aktualisering-van-lesinhoud Onttrekking van deelname (deur die kind) Die onderrigsgebeure word 'n vervelige monoloog, dikwels omdat die onderwyser nie daarin slaag om fundamenteel-pedagogiese essensies te verwerklik nie.
Funksionalisering Passiwiteit Om nie te wil (of soms nie te kan) handel nie, verlam die denke en die implementering daarvan by aanwending van insigte.
Evaluering Weiering van beoordeling Lafhartigheid word aangemoedig aangesien egte beoordeling moed vereis om dit te waag met toetsing, met oriŽntering en met die toereikende uitvoer van sinvolle opdragte.

Opmerkings

1. Die uitwerking van kontradiksie-verwerkliking (kolom 3) kan die onderwerp wees van 'n hermeneutiese interpretasiegesprek.

2. Die navorser kan die kontradiksies van die essensies (veranderlikes) wat ter sake is vir die navorsing wat hy wil onderneem, inwerk in sy probleemstelling en ook in die aanloop tot sy probleemstelling (konteks van die probleem).

3. Die navorser bestudeer navorsing wat aanverwant is aan dié wat hy gaan onderneem en identifiseer kontradiksies wat daarin verskyn. Die betekenis van die geïdentifiseerde kontradiksies vir die probleemoplossing wat deur verskillende skrywers (navosers) aangebied word, moet aangedui word en kan daartoe bydra dat die eie probleemstelling verskerp.

Derde stap: Identifisering van verabsoluteringe

Verabsolutering is wanneer een aspek van menswees gelyk gestel word aan menswees-as-sodanig. Sodanige aspek word dan verkeerdelik verklaar tot die geheel en dit lei tot 'n eensydige visie op menswees (Buytendijk). So 'n eensydige visie is lewensvreemd omdat dit nie in die mens se leefwêreld identifiseerbaar is nie. Verabsolutering is vir die eksistensie fataal want menswees gaan daardeur verlore (Jaspers, 1956:407-408) en word daardeur vervals (Lauth, 1967:120:164). Verabsolutering lei dus tot vervreemding van die werklikheid.



As eensydige oorskryding van die eksistensie-denke, is die eksistensialisme eintlik 'n onaanvaarbare vorm van ekstremisme.

Die volgende is dus kenmerke van verabsolutering: eensydigheid, lewensvreemdheid, vervalsing, vervreemding, ekstremisme wat besondere vorme van onwetenskaplikheid is en wat kontradiktories staan teenoor onbevooroordeeldheid, lewensgetrouheid, egtheid (outentiekheid), vertroudheid en gebalanseerdheid.

Een van die besondere bydraes wat deur aanwending van die kontradiktoriese metode gemaak is, is die uitleg van die kontradiksie eksistensie-denke en eksistensialisme (Landman en andere, 1975:Hoofstuk 5).

Wanneer daar gepraat word van pedagogiekdenke as eksistensie-denke, word daarmee bedoel dat in die hedendaagse pedagogiekdenke die begrip "eksistensie" as kategorie, dus as beligtende denkmiddel aangewend word.

Die vernaamste rede vir die keuse van hierdie kategorie is dat denkers deur die implementering van die kategorie "eksistensie" te kenne wil gee dat die mens 'n uitsonderings-posisie beklee. Hy is wesenlik en totaal anders as alles wat hom omring. Hy is 'n unieke wese wat geheel-en-al nie vergelykbaar is met die dier nie. Om te sê dat die mens die hoogste vorm van soogdier is, is 'n anti-eksistensie uitdrukking. Wanneer die denker oor die mens die kategorie "eksistensie" in sy bedinking gebruik, gee hy daarmee te kenne dat hy anti-evolusionisties en anti-naturalisties is. Die eksistensiedenker kan nie kategorieë uit die diere- of planteryk of uit die ryk (synsorde) van die dinge duld in sy beskrywing en uitleg van menswees en van menslike handelinge soos byvoorbeeld die opvoeding nie. Deur die aanwending van kategorieë uit nie-menslike synsordes kan menswees nie begryp word nie.

Slegs die mens eksisteer. Dit beteken nie dat daar behalwe die mens niks bestaan nie, maar dat die mens 'n bestaanswyse (synswyse) toon wat hom van alle ander syndes (werklikhede) onderskei. Eksistensie is die synswyse wat aan die mens eie is, en wat hom tot mens konstitueer. Dit beteken dat eksistensie dui op die menslike (menslikheid) van die mens.

Eksistensie-denkers implementeer die fenomenologiese en aanverwante metodes om die eksistensie te begryp. Dit beteken dat dié metodes aangewend word om die essensies van menswees en van menslike handelinge aan die lig te bring, soos byvoorbeeld opvoedingshandelinge.

Ek-sist beteken "om uit te staan". Die mens is 'n subjek wat homself buite homself plaas in die wêreld, d.w.s. hy tree buite homself en staan by en met die dinge en ander mense sonder dat 'n onoorbrugbare kloof hulle skei (Heidegger, 1963b:55). "Eksistensie" gee dus te kenne dat die mens gesitueerd is, d.w.s. in verhouding staan tot dinge en ander mense in situasies. Dit beteken dat die mens in staat is tot werklike teenwoordigheid en dat hy vanweë sy openheid deur egte kommunikasie verhoudinge kan skep (stig). Dit beteken verder dat die mens daartoe by magte is om in en ten opsigte van die situasies waarin hy verkeer, te handel en dat sodanige handeling geskied met die oog op die verwerkliking van 'n besonder doel.

As ek-sistent word die mens se in-die-wêreld-wees daardeur gekenmerk dat hy aan die wêreld waarin hy lewe, wil en moet betekenis gee. Sy leefwêreld is 'n betekeniswêreld.

Die mens gee sin (besondere betekenis) aan sy wêreld en hy belewe ook die sinvolheid daarvan om te lewe in die wêreld. Hy kan en moet, veral deur keuses en beslissinge, toereikend betekenis gee aan sy leefwêreld en hy is verantwoordelik vir die wyse waarop hy dit doen. Om te be-teken is om betekenisse te laat ontstaan en wanneer die wêreld tot betekeniswêreld geword het, het dit bewoonbaar geword.

Eksistensie is werklik essensieel ko-eksistensie (Heidegger, 1963a:25-27), d.w.s. om by en met ander te wees. (Medemenslike betrokkenheid). Die kategorie "eksistensie" maak dit dus moontlik vir die wetenskapper om werklike essensies van in-die-wêreld-wees-saam-met-die-ander (medesyn) oop te dek. Sonder medesyn kan geen mens werklik wees en word nie. Elke verhouding met 'n ander word deur openheid (eksistensie) moontlik gemaak. Eksistensie dui dan verder op deelname aan dieselfde wêreld en hierdeur word medemenslikheid moontlik gemaak.

Die kategorie "eksistensie" beklemtoon die mens se vryheid tot selfbepaling waaruit 'n verlange en strewe voortvloei om self-iemand-te-wees. Elke mens het die reg en plig om anders te wees as ander want elke mens moet noodwendig onderskei word van ander mense. Sy persoonwees is slegs moontlik as hy toegelaat word om 'n indiwidu te wees, maar tog steeds in verhouding tot ander mense in 'n gedeelde wêreld.

Die kategorie "eksistensie" impliseer dat temporaliteit (tydelikheid) 'n kenmerkende wyse is waarop die mens in sy leefwêreld is (Heidegger, 1963a:65-71). Die mens is daartoe in staat om hom te begewe van wat nou is (hede) na wat was (verlede) en na wat sal wees (toekoms). Die mens is nooit voltooid nie want hy is altyd moontlikheid, altyd oop na die toekoms toe.

Eksistensie beteken dat die mens se hede 'n lewende hede is wat hom uitstrek na die verlede en na die toekoms. Dit beteken verder dat die mens vanuit die beeld wat hy van die toekoms het, sy huidige aktiwiteite en verpligtinge en dit wat verby is, kan beskou.

Die eksistensie-denker kan om een of ander rede (wat soms duister is) ontrou raak aan die fenomenologiese en aanverwante metodes. Hy verval dan noodwendig in verabsolutering wat as vernietiging van die kategorie eksistensie dien en wat bekend staan as eksistensialisme.

Dit is juis deur verabsolutering dat lewensgetroue eksistensie-denke oorgaan in 'n lewensvreemde gedagtespel bekend as eksistensialisme.

(a) Verabsolutering van die eksistensie en vryheid

Wanneer die eksistensialis die eksistensie verabsoluteer, doen hy dit met die stelling dat die eksistensie die essensie voorafgaan. Daarmee bedoel hy onder meer dat die mens as absolute grenslose vryheid sy eie wese en ook die waardes bepaal (Warnock, 1965:53). Hiermee word die normatiwiteit, dus 'n gestel wees onder waardes en die norme wat daaruit spreek, ontken. Menswees is werklik essensieel betrokke-wees in 'n spanningsveld van waardes. Die mens beklee juis sy uitsonderingsposisie omdat hy die enigste normatiewe wese is.

(b) Verabsolutering van die indiwidualiteit

Wanneer die indiwidu-wees (indiwidualiteit) van die mens verabsoluteer word, word verval in 'n vorm van eksistensialisme wat bekend staan as indiwidualisme. Hierdie indiwidualisme is 'n humanisme want die indiwiduele mens word verklaar tot middelpunt waarom alles draai.

In die eksistensialistiese "ontmoeting" word die een persoon (indiwidu) deur die ander tot voorwerp gemaak en daardeur word sy alleenheid en isolasie bevestig (Warnock, 1965:64-66).

(c) Verabsolutering van die angs

Die eksistensialistiese beskrywing van die mens se lewensweg, is dat dié weg deurgaans gekenmerk word deur angs en uitloop op vernietiging, op niks.

Dat die mens op sy lewensweg angs kan belewe, kan nie ontken word nie, maar dat alle belewinge en lewe op die lewensweg angsbelewinge en 'n angsvolle lewe is, is 'n lewensvreemde verabsolutering. Dat die mens belewe dat sy lewensweg in niks gaan eindig, lei tot vernietiging van daardie weg, want indien alles eventueel in 'n niks opgelos sou word, sou die mens nie alleen geen vrae kon stel nie, maar ook niks kon doen nie. Immers, elke handeling en elke verlange sou dan onsinnig, met homself in teenspraak, onmoontlik en onbestaanbaar wees as 'n mens uiteindelik op niks afgestem sou wees (Peperzak, 1966:133-138).

Die lewensweg is werklik essensieel 'n weg van geloof. Die mens leef uit geloof. Die mens kan hom tot die Absolute slegs biddend rig as hy glo, d.w.s. die werklikheid daarvan aanvaar. Om sinvol te eksisteer, moet die mens die sin en inderdaad die Volkome absoluut gelowend aanvaar en as werklik verklaar (Bollinger, 1967:44).

Eksistensialisme vernietig die kategorie eksistensie en daarmee ook die metodes (F-, H-, D-, K-) wat dié kategorie mobiliseer. Aanwending van die kategorie "eksistensie" het aanleiding gegee tot die tipering van fenomenologie as eksistensiële fenomenologie (Polkinghorne, 1983:46-47, 205-206; Bourgers, 1986:47). So is dit ook moontlik om die begrip "eksistensieel" in verband te bring met die hermeneutiese-, dialektiese- en kontradiktoriese metodes.

Vierde stap: Die formeel-logiese teenspraakbeginsel

Met die eerste drie stappe het die navorser aandag gegee aan kontradiksies as sodanig. Dit is nodig dat daar as verdere stap krities gekyk word na argumente ten einde te bepaal of daar nie teensprake (weersprekings) verskyn nie. Dit gaan hier om die formeel-logiese teenspraakbeginsel: twee teenstrydige uitsprake oor dieselfde saak kan nie albei waar wees nie. Of: indien daar twee teenstrydige (mekaar weersprekende) uitsprake oor dieselfde saak gemaak word, kan slegs een daarvan waar wees. Wanneer twee weersprekende uitsprake (stellings) oor dieselfde saak gemaak word, begin die tweede stelling dikwels met: "dit is nie so dat ..." of "dit is nie die geval dat..." (of 'n soortgelyke begin. In die geval van twee teenstrydige uitsprake oor 'n saak, bestaan die moontlikheid dat albei onwaar kan wees (Wolfram, 1989:179-181).

Die navorser kan vervolgens vanuit 'n etiese perspektief kyk na kontradiktoriese uitsprake. Dan gaan dit om die praktiese uitvoerbaarheid van 'n uitspraak teenoor die nie-uitvoerbaarheid van die kontradiksie. Gepaard hiermee gaan 'n positiewe gesindheid teenoor die uitvoerbare moontlikheid, dit wil sê tussen dit wat behoort uitgevoer te word (die goedkeurenswaardige). Die een moontlikheid is 'n ontkenning (van die bestaansreg) van die ander moontlikheid (Geach, 1991:200-205).

Hierdie vierde stap behels twee aktiwiteite van die navorser:

(i) Identifisering van weersprekings in die literatuur wat bestudeer word of die gesprekke wat gevoer word en die uitskakeling daarvan. Gepaard hiermee gaan ook die identifisering en uitskakeling van weersprekinge in die eie betoog en verslag.

(ii) Die aanwending van kontradiktoriese uitsprake om die eie argumente te staaf. Gewoonlik word daar gewys op die onaanvaarbaarheid van sekere uitsprake om daarmee die aanvaarbaarheid van die eie stellinge te onderstreep. Op dieselfde wyse kan werklikheid teenoor onwerklikheid, moontlikheid teenoor onmoontlikheid, uitvoerbaarheid (haalbaarheid) teenoor nie-uitvoerbaarheid (nie-haalbaarheid) ens. gestel word.

Die volgende is enkele voorbeelde:

* Uitspraak 1: Agting vir kindwaardigheid is 'n moontlikheidsvoorwaarde vir die pedagogiese om die verskyn.

* Uitspraak 2: Verobjektivering en vermiddelliking van die kind laat die pedagogiese sneuwel.

Kontradiktories gestel:

Uitspraak 1: Dit is nie so dat agting vir kindwaardigheid 'n moontlikheidsvoorwaarde is vir die pedagogiese om te verskyn nie.

Uitspraak 2: Dit is nie so dat verobjektivering en vermiddelliking die pedagogiese laat sneuwel nie.

Nog anders gestel:

Agting vir kindwaardigheid en verabsolutering en vermiddelliking is beide uitvoerbaar, haalbaar, goedkeurenswaardig vir die instandhouding van die pedagogiese argumentering:

Verobjektivering-en-vermiddelliking

Wie geen agting het vir die digniteit van die kind nie, gaan onvermydelik daartoe oor om die kind as blote objek en slegs middel tot 'n doel te beskou. Daarmee word dan te kenne gegee dat daar geen agting bestaan vir die synsfeit dat die kind toenemend bevestigend moet antwoord op behoorlikheidseise wat die lewe aan hom stel nie, en dat hy gereduseer kan word tot manipuleerbare en kondisioneerbare objek. Om sodanig toenemend te antwoord is wesenstrek van die kind en om hierin steun te verleen is wesenstrek van die pedagogiese bemoeienis met die kind. Wie verobjektivering en vermiddelliking beoefen, proklameer dus daarmee die sinloosheid van die pedagogiese.

Omdat alle vorme van verobjektivering die digniteit geweld aandoen en omdat elke vorm van vermiddelliking waardigheidskendend is, is verobjektivering en vermiddelliking anti-pedagogies. Die pedagogiese het juis as onwegdinkbare werklike essensie steungewing aan die kind-in-opvoeding om in toenemende mate sy digniteit te lewe.

Uit bostaande voorbeeld blyk genoegsaam dat dit sinvolle denkarbeid vir die pedagogieker is om ook die kontradiktoriese te stel en te evalueer teen die opvoedingswerklikheid self as evalueringsagtergrond. So 'n werkswyse kan lei tot óf 'n af-wys van byvoorbeeld besondere pedagogiese uitsprake, óf 'n verfyning daarvan, óf tot bevestiging daarvan soos dit oorspronklik ontwerp is (Landman, Kilian, Roos & Viljoen, 1975:86).

* Hantering van kontradiksies en weersprekinge tydens die uitvoering van 'n aantal navorsingshandelinge (Landman, Bondesio, Coetzee, Jacobs, 1987:82, 83, 85, 88, 89, 90, 167, 175).

(i) Begripsverheldering

Vir elke saak wat deur BEGRIPSVERHELDERING in die lig is, word die teenoorgestelde daarvan as moontlikheid gestel en word die verduisterende uitwerking (of die verdere verhelderende invloed)

daarvan aangetoon, sodat die verhelderende (of die verduisterende) van die betrokke saak helderder kan blyk.

(ii) Literatuuroorsig

Dit kan insiggewend wees om langs die weg van LITERATUUROORSIG vas te stel welke kommentaar (betoog) gelewer word oor die kontradiksies van die basiese begrippe wat in die gekose navorsingsonderwerp geïdentifiseer is. Dit kan bydra tot essensieblindheidvrye beskrywing van die werklikhede wat deur die geïdentifiseerde (en verhelderde) basiese begrippe verwoord word.

(iii) Probleemstelling

Vir elke saak word die teenoorgestelde daarvan as moontlikheid gestel en word die negatiwiteit (of die positiewe) daarvan aangetoon sodat die positiewe (of die negatiwiteit) van die betrokke saak helderder skyn (Van Rensburg et al., 1984:54). Die kontradiksie van PROBLEEMSTELLING is probleemloosheid. Waarom sal 'n navorser hom bemoei met 'n aangeleentheid ten aansien waarvan geen probleem bestaan nie? Dit sal moeilik wees om in verband met so 'n saak doelgerigte vrae te vra. Doelgerigte bevraagtekening word onderneem met die doel om vraagstukke helder raak te sien. Indien vraagstukke nie bestaan nie, kan dit nie raakgesien word nie, en word die implementering van 'n navorsingsprogram onnodig en oorbodig.

Kontradiksie-evaluering kan lei tot 'n fenomenologiese verskerping van die probleemstelling self deur byvoorbeeld die volgende vraag te vra:

"Kan daar met sekerheid verklaar word dat indien teenoorgestelde vrae gevra word, dit sinloos sal blyk te wees?"

(iv) 'n Toereikende betrokkenheid en kontradiksies

Die belanghebbendes by die navorsing kan 'n gesprek voer oor enige aspek wat die navorsingsontwerp raak en besluit om die kontradiktoriese metode aan te wend. Dit is 'n betreklik eenvoudige metode wat bestaan uit die stel van teenoorgesteldes vir elke uitspraak wat gemaak word en elke handeling wat uitgevoer word. Die idee is om die werklikheidsgetrouheid en die bestaansreg van elke teenoorgestelde vas te stel met die ONDERWERPONTLEDING, PROBLEEMSTELLING en HIPOTESEVORMING as evalueringsagtergrond.

(v) Toereikende inligting en kontradiksies

Nie-toereikende inligting wreek hom veral met hipotesevorming en werk verder deur na ontoereikende prosedureseleksie.

Verder kan met die INSAMELING VAN INLIGTING perspektief en balans gevorder word indien mekaar weersprekende inligting teen mekaar opgeweeg word. Die opweging kan geskied met die hulp van fenomenologiese denkstappe (middele) en ook in die lig van redes vir essensieblindheid. Op fenomenologiese gronde moet daar dus 'n keuse gemaak word tussen weersprekende inligting.

(vi) Gevolgtrekkings

Wanneer die wegdinkbare en die weghandelbare kontradiksies van die tersaaklike is, kom die tersaaklike (vir probleemoplossing) nog sterker in die lig en word bruikbare ligbakens vir aanbevelings daargestel.

(vii) Outobiografiese teks

Vir elke betekenisvolle saak wat in die OUTOBIOGRAFIESE TEKS en in die definisies verskyn, word die teenoorgestelde daarvan as 'n moontlikheid gestel en word die negatiwiteit (of die positiewe) daarvan aangetoon sodat die positiewe (of die negatiwiteit) vir die betrokke saak helderder kan skyn.

(viii)Onderhoud

Stel van Teenstellinge van Stagnering op nie-

kontradiksies essensies word essensiesële laat die

verwyder onderhoud stol;

daarom moet dit

verwyder word.

* Matiging en voorkoming van valse redenering

Die bedinking van kontradiksies kan lei tot 'n matiging (moderasie) van moontlike impulsiewe afleidings omdat dit oproep tot nadenke en om te soek na essensies. Uit 'n botsing van kontradiksies kan 'n goue middeweg te voorskyn tree veral wanneer die bedinking daarvan gesien word as 'n uitnodiging om wysheid wat gebaseer is op ervaring, in berekening te bring (Goodwin & Wenzel, 1979:289-302). Daar moet egter gewaarsku word teen die vorm van valse redenering wat as "die goue middeweg" bekend staan:

Die geldigheid van 'n argument word soms bevestig op grond daarvan dat dit die middeweg is tussen twee uiterste stellings. Dit is foutief om aan te neem dat 'n argument geldig is bloot omdat dit 'n middeweg is tussen twee ekstreme argumente. Die geborgenheid van die middeweg word gesoek, gepaard met 'n weiering om enige werklike verskil tussen twee opponerende alternatiewe raak te sien. Die goue middeweg by die maak van aanbevelings wat uit navorsing voortvloei, kan die gevaarlike slaggat of middelmannetjie wees.

'n Verdere vorm van valse redenering wat met die oorweging van kontradiksies sy opwagting kan maak, is die valse dilemma (die swart-wit redenasie).

'n Persoon misluk om 'n posisie tussen twee bestaande alternatiewe raak te sien. Daar word aangeneem dat daar slegs twee moontlike alternatiewe vir die oplossing van 'n probleem is. 'n Derde moontlikheid word geïgnoreer. Wanneer iemand moet kies tussen een of twee of meer onaangenamde alternatiewe, is hy in 'n dilemma. Die vals dilemma is wanneer daar aangeneem word dat die gestelde alternatiewe die enigste is. Dit is belangrik by die motivering van aanbevelings wat voortvloei uit navorsing (Michalos, 1970:87).

SLOTOPMERKING

Die kontradiktoriese metode het werklikheidstatus vanweë sy gefundeerdheid in die werklikheid self. Dié metode het bestaansreg omdat dit navorsingsin het, en bestaansnoodwendigheid omdat dit 'n betekenisvolle bydrae maak tot essensieverheldering en die uitskakeling van essensieblindheid.

o-0-o

VERWYSINGS

Abbagnano, N. 1960. Wissenschaft und Freiheit. In: Wisser, R (Red). Sinn und Sein. Tübingen. Max Niemeyer.

Bollinger, H. 1967. Das Werden der Person. München. Reinhardt.

Bourgeors, P.I. 1986. The epistemic dimensions of existential phenomenology. Philosophy Today 30)1/4).

Buytendijk, F.J.J. 19__. "Husserl und das Denken der Neuzeit". In: de Waelhens (Red).

Geach, P. (Red). 1991. Logic and Ethics. Dordrecht. Kluwer Academic Publishers.

Goodwin, P.D. & Wenzel, J.W. 1979. "Proverbs and practical reasoning: a study in socio-logic". The Quarterly Journal of Speech 65(3).

Heidegger, M. 1963a. 18de druk. Sein und Zeit. Tübingen. Niemeyer.

Heidegger, M. 1963b. 3de druk. Holzwege. Frankfurt. Klostermann.

Jaspers, K. 1956. Philosophie II. Berlin. Springer Verlag.

Landman, W.A. 1969. Aanwending van die pedagogiese kategorieë in die Fundamentele Pedagogiek. Pedagogiekstudies nr. 68. Pretoria. Universiteit van Pretoria.

Landman, W.A. 1977. Fundamentele Pedagogiek en Onderwyspraktyk. Durban Butterworths.

Landman, W.A., Bondesio, M.J., Coetzee, R.A. & Jacobs, C.D. 1987. Die navorsingsprogram vir geesteswetenskaplike navorsing. Johannesburg. Perskor.

Landman, W.A. & Jansen, C.P. 1992. Argumente en valse redenering in 'n navorsingsverslag. Pretoria. Universiteit van Suid-Afrika.

Landman, W.A., Kilian, C.J.G., Roos, S.G. & Viljoen, T.A. 1975. Denkwyses in die Opvoedkunde. Pretoria. N.G. Kerkboekhandel.

Landman, W.A., Roos, S.G., Möller, T. & Mentz, N.T. 1982. Fundamentele Pedagogiek en lesgee. Durban. Butterworths.

Lauth, R. 1967. Begriff, Begründung und Rechtfertigung der Philosophie. München. Pustet.

Michalos, A.C. 1970. Improving your reasoning. New Jersey. Prentice-Hall.

Peperzak, A. 1966. Gronden en Grenzen. Haarlem. Gottmer.

Polkinghorne, D. 1983. Methodology for the Human Sciences. Systems of Inquiry. Albany. State University of New York Press.

Van Rensburg, C.J.J. & Landman, W.A. 1990. Sesde hersiene uitgawe. Fundamenteel-pedagogiese begripsverklaringe. Notes on Fundamental- pedagogic concepts. Pretoria. N.G. Kerkboekhandel Transvaal.

Warnock, M. 1965. The philosophy of Sartre. London. Hutchinson University Library.

Wolfram, S. 1989. Philosophical Logic. An Introduction. London. Routledge.

o-0-o