Tweede rede:
'n Besondere rede waarom F-, H-, D- en K-metodes moontlik is,
verwys na die wetenskaplike (resp. navorser) self. Hy bevind hom
in-die-wêreld (werklikheid) d.w.s. nie afgesonder daarvan nie.
Die mens is 'n fenomenologiese wese. Dit beteken dat hy die
essensiële van die werklikheid kan oop-dek. Dit beteken dat hy
'n ontologiese wese is. In die woorde van Heidegger: Die mens
word onties daardeur gekenmerk dat hy ontologies is. Die mens
as wetenskaplike is sistematies en radikaal ontologies. Hy
implementeer die fenomenologiese en aanverwante metodes (H-, D-,
K-) om by die werklik-essensiële van die werklikheid en die sin
daarvan te kom. Dus kan hy nie toelaat dat daar iets tussen hom
en die werklikheid kom nie. Daarom verwyder hy alles wat
werklikheid-bedekkend kan wees (fenomenologiese reduksie). Wat
doen hy nou met die besondere faset van die werklikheid wat hom
interesseer, ten einde by die essensiële en die sin daarvan te
kom? Hy beskryf hermeneuties en dialekties en hy lê uit en
evalueer kontradiktories terwyl hy reflekteer, en in sy denkende
beskrywing en uitleg wil hy getrou bly aan die werklikheid met
die oog op essensie-openbaring (F-), essensie-uitleg (H-),
essensie-verwerkliking (D-) en kontradiksie-evaluering (K-)
(Landman, 1969:11).
Wanneer daar gedink word, word daar altyd aan iets (of iemand of
'n gebeurtenis) gedink, in terme van iets. Die man dink aan sy
vrou in terme van liefde, versorging van klere, koskook, ens.
Die kind dink aan sy ouers in terme van gesag, sakgeld,
verwagtinge, ens. Die ouers dink aan hulle kinders in terme van
voorkoms, skoolprestasie, opvoeding, ens. Anders gestel: daar
word gedink in terme van kategorieë. Die man dink aan sy vrou
in terme van die kategorie liefde, koskook, ens. Die kind dink
aan sy ouers en in sy denke wend hy die kategorieë sakgeld, ens.,
aan. Die ouers dink aan hulle kinders met die hulp van
kategorieë voorkoms, skoolprestasie, opvoeding, ens.
Om te dink beteken dus om kategorieë aan te wend. In die
alledaagse leefwêreld word kategorieë aangewend sodra daar gedink
word. Die wetenskaplike wend met sy metodes (F-, H-, D-, K-)
kategorieë aan in sy wetenskaplike denke oor die werklikheid.
Die wetenskaplike denke verskil egter hierin radikaal van die
alledaagse denke omdat die wetenskaplike:
- doelbewus, radikaal, krities, metodies en sistematies soek
na die kategorieë wat hy moet aanwend. So soek die Fisikus
denkend na Fisika-kategorieë, omdat byvoorbeeld Botanie-kategorieë nie vir hom bruikbaar is omdat daardeur geen
outentieke Fisika-kennis openbaar kan word nie. Dit is
deur die aanwending van Fisika-kategorieë wat Fisika-essensies aan die lig gebring kan word. Die pedagogieker
is juis ook pedagogieker omdat hy denkend soek na
pedagogiese kategorieë. Anders gestel: hy ondersoek die
leefwêreld met behulp van die kategorie opvoeding.
- doelbewus, radikaal, krities, metodies en sistematies
ondersoek instel na die wesenskenmerke van kategoriale
denke. (Eintlik 'n toutologie, want om te dink is om
kategorieë aan te wend!) Hy stel vas dat die kategorie(ë)
wat hy vir denke deur middel van sy metodes (F-, H-, D-, K-) implementeer, beligtende denkmiddele is. Met hulle hulp
belig hy die werklikheid (die opvoedingswerklikheid) wat hy
wil bestudeer (Landman & Roos, 1973:56-57).
Essensies met hulle betekenisse en sinsamehange word uitgespreek
en verskyn met die hulp van beligtende denkmiddele; dus is dié
middele (kategorieë) weë waardeur die essensies bereik word. Dit
is weë waardeur die wetenskaplike deurdring tot werklike
essensies en waardeur dié essensies geopenbaar word. 'n
Kategorie is 'n wegoopstelling tot werklike essensies - hulle
betekenisse (sin) en sinsamehange. Dit is 'n weg wat denkend
oopgestel en belig word en is dus 'n beligtende denkweg. 'n
Kategorie is 'n beligtende denkmiddel wat in werklikheid 'n
beligtende denkweg is waarlangs essensies (met hulle sin en
sinsamehange) tot verskyning kan kom en kontradiksies geopenbaar
kan word. (Landman, Roos & Van Rooyen, 1974:3).
In soverre die F-, H-, D- en K-metodes kategorieë metodies
organiseer en mobiliseer, is die metodes besonder betekenisvol.
Die fenomenologiese implementeer die kategorie opvoeding
essensie-openbarend, d.w.s. wanneer in terme van opvoeding gedink
word, verskyn essensies wat opvoedingsbetekenis het. Die
hermeneutiese metode wend die kategorie opvoeding aan, veral om
hermeneutiese vrae te beantwoord (Waartoe dien essensie A in
terme van opvoeding?) en as oorkoepelende idee tydens die
hermeneutiese interpretasie-gesprek.
Die dialektiese metode gebruik die kategorie opvoeding om
verwerkliking wat opvoedingsbetekenis het, te beskryf. Die
kontradiktoriese metode wend die kategorie opvoeding aan om dit
wat opvoeding bedreig te ontmasker.
Die eerste kategorie wat hom as 't ware vir die pedagogieker
aanbied is die kategorie opvoeding, of die pedagogiese.
"Paidagogia" beteken kinderleiding, kinderbegeleiding (Pais =
kind; agein = om te lei; paidagogein = om 'n kind te lei of die
weg aan te wys; paidagogos = 'n kinderleier). Die pedagogieker
weet nou hy moet na die leefwêreld gaan kyk daar waar hy
kinderbegeleiding kan raaksien. Hy gaan nou alle ander moontlike
perspektiewe op die leefwêreld ter syde stel en slegs in terme
van kinderbegeleiding met die hulp van die F-, H-, D- en K-metodes daarna kyk. Anders gestel: hy wend die kategorie
"kinderbegeleiding" metodies aan in sy ondersoek van die
leefwêreld. Hy sien dan raak dat die kind gelei (begelei) word
deur 'n volwassene. Daar is 'n kind en 'n volwassene: in die
kinderbegeleiding is daar 'n verhouding tussen 'n kind en 'n
volwassene. Die pedagogieker het nou deur die aanwending van die
kategorie "kinderbegeleiding" 'n eerste pedagogiese essensie
raakgesien, naamlik pedagogiese verhouding (verhouding wat
kinderbegeleiding moontlik maak). Hy besluit dat hy 'n
verhouding-ondersoek sal moet onderneem.
Vervolgens gaan die pedagogieker weer met die hulp van sy metodes
kyk na die leefwêreld in terme van kinderbegeleiding en dan kan
hy byvoorbeeld raaksien dat die kinderbegeleiding wat noodwendig
'n verhouding tussen die begeleidende
volwassene en die volgende kind verg, met verskil in intensiteit
geskied. So is daar byvoorbeeld 'n voortgang van minder
intimiteit na meer intimiteit, 'n voorgang van meer intimiteit
na minder intimiteit, ens. Daar is dus een of ander voortgang
of verloop op te merk. Hy besluit dat hy 'n verloop-ondersoek
sal moet onderneem.
Die pedagogieker sit sy metodiese denksoektog voort en sien raak
dat die kinderbegeleiding gepaard gaan met sekere bedrywighede.
Volwassene en kind is saam bedrywig. Hulle voer allerlei
handelinge saam uit. Sommige van die bedrywighede het beslis
meer betekenis vir die kinderbegeleiding as ander. Die
pedagogieker besluit dat hy 'n betekenisvolle bedrywigheid-ondersoek sal moet onderneem.
Die pedagogieker sien raak dat die kinderbegeleiding die doelloos
is nie, maar wel gerig op 'n doel. Kinderbegeleiding geskied nie
ter wille van kinderbegeleiding as sodanig nie, maar met die oog
op die bereiking van 'n doel. Hy het nou deur die aanwending van
die kategorie "kinderbegeleiding" 'n besondere werklike essensie
raakgesien, naamlik die begeleidingsdoel. Hy besluit dat hy 'n
doelstellings-ondersoek sal moet onderneem.
Verfyning van die kategorie "kinderbegeleiding".
Die pedagogieker kan sinvol vorder met sy kategorie
"kinderbegeleiding" omdat betekenisvolle essensies metodies met
die hulp daarvan aan die lig gekom het. Om dieper (d.w.s. meer
radikaal) deur te dring tot verdere werklike essensialiteit het
dit nodig geword om die denkligte te verskerp. Dit word gedoen
deur die verfyning van die kategorie "kinderbegeleiding". Dié
verfyning geskied deur die essensies wat deur die kategorie
"kinderbegeleiding" raakgesien is (wat in werklikheid essensies
van kinderbegeleiding is) nou as kategorieë te implementeer.
Elke essensie besit juis vanweë die essensialiteit daarvan
kategoriale status (Landman, Roos & Van Rooyen, 1974:8-9, 14) en
wel binne die raamwerk van die F-, H-, D-, en K-metodes.
DIE FENOMENOLOGIESE, HERMENEUTIESE, DIALEKTIESE EN
KONTRADIKTORIESE METODES AS EENHEID
Die feit dat hierdie vier metodes 'n besondere ooreenkoms het in
hulle besondere gemoeidheid met essensies, open die moontlikheid
om ondersoek in te stel daarna of hulle saam nie moontlik 'n
eenheid kan (sal) vorm nie.
Metodes vorm 'n eenheid (samehangende geheel) wanneer ten aansien
daarvan ordening beklemtoon word. Ordening dui onder andere op
sinvolle volgorde. 'n Voorbeeld van sinvolle volgorde is:
essensie-openbaring (F), essensie-interpretasie (H),
sinsamehange-openbaring (D) en kontradiktoriese evaluering of
verifikasie (K).
Metodes wat 'n eenheid vorm toon dieselfde verbondenheid aan die
werklikheid. In die geval van die genoemde vier metodes gaan dit
hier om 'n saambinding
deurdat die bestaansreg daarvan deur die werklikheid self
gewaarborg word (kyk eerste rede) (Landman, Van Zyl & Roos,
1975:17-20).
Metodes vorm 'n eenheid wanneer elkeen funksioneer op so 'n wyse
dat die eenheid in stand gehou kan word. Om openbarend (F, D),
interpreterend (H) en evaluerend (K) te funksioneer ten aansien
van dieselfde saak (bv. outentieke begryping van die werklikheid)
is om eenheid te bewerkstellig.
Metodes wat 'n eenheid vorm het iets gemeenskaplik wat deur hulle
teengewerk word. In die geval van die genoemde vier metodes is
hierdie gemeenskaplike essensieblindheid wat die vier metodes
opvallend maak vanweë hulle anti-essensieblindheid. Dit beteken
dat daar 'n gemeenskaplike stryd gevoer word, teen
- 'n gebrek aan lig of gebrekkige lig (beligtende
denkmiddele) wat daartoe lei dat ontberging (van essensies)
waardeur teenwoordigheid geskenk word nie op toereikende
wyse voltrek word nie (Mehta, 1971:209, 230).
- algemene gepratery wat deur 'n elk en 'n ieder opgeraap kan
word en wat egte begryping onmoontlik maak (Heidegger,
1963:167-168).
- oppervlakkige nuuskierigheid wat gekenmerk word deur 'n
begeerte om slegs te sien, nie om te begryp nie (Heidegger,
1963:169).
- dubbelsinnigheid: vatbaar vir twee vertolkings wat die
wesenlike bedek, wat oppervlakkige nuuskierigheid en aan
die algemene gepratery die skyn van finale beslissing gee
(Heidegger, 1963:173-174).
- denkskuheid wat ontstaan wanneer die openheid die stryd
teen donkerheid verloor en die denke dan nie ag kan slaan
op dit wat belig word nie en nie deur kan dring na die
essensiële nie (Heidegger, 1969:67, 71-72, 74, 78).
- bevooroordeeldheid wat die denke se worsteling om van
naïewe vooroordele as oppervlakkige bevooroordeeldheid, te
vorder tot kennis deur aanskouing van die werklikheid self
(Husserl, 1900:201).
- 'n gebrek aan wakkerheid wat 'n teenwoordigwees by die
werklikheid self in die vorm van 'n gerigtheid daarop
belemmer (Buytendijk, 109) en daarmee ook 'n oopstaan vir
die werklikheid.
- karikaturisme, wanneer karikature gemaak word in die vorm
van wanvoorstellings wat met entoesiasme en met baie
emosionele opwinding en selfs opsweping aangeval word
(Landman, Van Zyl & Roos, 1973:32-34).
- metode-skuheid as 'n gebrekkige wil om d.m.v. metodologiese
lig die werklikheid self navorsend aan te durf. Metode-skuheid is om nie besondere waarde te heg aan die volgende
verklaring nie:
The word method retains the meaning of its etymological
roots. It is made up of the root words meta and hodos:
meta means "from or after" and hodos "journey". The word
method is thus "a going-after" or a "pursuit". In the case
of science, it is a pursuit of knowledge. The term usually
refers to the procedures or the detailed and logically
ordered plan used to "go after" knowledge.
Methodology adds the root word logos, which has a rich
history beginning with Greek philosophy where it was used
to refer to the principle of reason, the source of world
order and intelligibility. The contemporary suffix "-ology" retains some of this meaning, and when combined with
"method" gives a term which denotes a study of the plans
which are used to obtain knowledge. Methodology is thus
the examination of the possible plans to be carried out -
the journeys to be undertaken - so that an understanding of
phenomena can be obtained (Polkinghorne, 1983:5).
SLOTOPMERKINGS (Landman, 1979:Par 1.3)
Die fenomenologiese-, hermeneutiese-, dialektiese- en
kontradiktoriese metodes se werklikheidstatus kan daaraan
toegeskryf word dat hulle fundeer is in die werklikheid self.
Dié metodes is dus geen rasionele konstruksies van
navorsingskundiges nie maar is besondere uitinge (uitkomste) van
die navorsende bewussyn se gerigtheid op en eksistensiële
oopstaan vir die werklikheid. As besondere bewussynshandelinge
en navorsende eksistensiewyses
- versterk dit die navorser se aangetrokkenheid tot die
werklikheid (of aspekte daarvan) wat tot probleem geword
het,
- verlewendig die metodes die navorser se doelbewuste
beweging na die inspanning wat deur navorsing vereis word,
- berei dit die weg voor vir die navorser wat met
werklikhede (die geïdentifiseerde probleem en die
oplossing daarvan) soos dit is, in aanraking te kom,
- ondersteun dit die navorser om essensiebewus elke
navorsingshandeling te bedink op so 'n wyse dat
essensieblindheid en non-sens as afkeurenswaardig beleef
word,
- inspireer dit die navorser om kreatief op te tree deurdat
hy hom skeppend kan indink en inleef in toekomstige
moontlike situasies (bv. probleemoplossingsprogramme),
- verskerp dit die navorser se fokus op die reëls van geldige
redenering wat 'n redenering vry van valshede is, en
- onderskraag die navorser wanneer hy tot verantwoording
geroep word ten aansien van die vereistes wat vervat
is in sy wetenskapsbeskouing waaraan hy as navorsende
persoon moet voldoen.
o-0-o
BIBLIOGRAFIE
Abbagnano, N. 1960. Wissenschaft und Freiheit. In: Wisser,
R. (Red). Sinn und Sein. Tübingen. Max Niemeyer.
Buytendijk. F.J.J. Prolegomena van een antropologische
Fysiologie.
Derbolav, J. 1959. "Die Stellung der pädagogischen Psychologie
im Rahmen der Erziehungswissenschaft und ihre Bedeutung für
pädagogische Handeln". In: Handbuch der Psychologie Buch X.
Heidegger, M. 1963. Tiende druk. Sein und Zeit. Tübingen.
Max Niemeyer.
Heidegger, M. 1969. Zur Sache des Denkens. Tübingen. Max
Niemeyer.
Husserl, E. 1900. Logische Untersuchungen III.
Landman, W.A. 1969. Aanwending van die pedagogiese kategorieë
in die Fundamentele Pedagogiek. Pedagogiekstudies nr.
68. Pretoria. Universiteit van Pretoria.
Landman, W.A. 1987. "Bewussynsmatige begronding van die
navorsingsprogram". In: Landman, W.A. (Red). Die
navorsingsprogram vir geesteswetenskaplike navorsing.
Johannesburg. Perskor.
Landman, W.A. & Roos, S.G. 1973. Fundamentele Pedagogiek en die
Opvoedingswerklikheid. Durban Butterworths.
Landman, W.A., Roos, S.G. & Van Rooyen, R.P. 1974. Die
praktykwording van die Fundamentele Pedagogiek.
Johannesburg. Perskor.
Landman, W.A., Van Zyl, M.E.J. & Roos, S.G. 1975. Fundamenteel-pedagogiese essensies: hulle verskyning, verwerkliking en
inhoudgewing. Durban. Butterworths.
Mehta, J.L. 1971. The philosophy of Martin Heidegger. New
York. Harper & Row.
Polkinghorne, D. 1983. Methodology for the Human Sciences.
Systems of Inquiry. Albany. State University of New York
Press.
Van Rensburg, C.J.J. & Landman, W.A. 1990. Sesde hiersien
uitgawe. Fundamenteel-pedagogiese begripsverklaringe.
Notes on fundamental- pedagogic concepts. Pretoria.
N.G. Kerkboekhandel Transvaal.
o-0-o