Professor W A Landman

Sesde Willem Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion:
31 Mei 2005

Prof Kas Landman

ONS NARRATIEF:  WIE VERTEL VERDER
Deel 2

Terug na Deel 1

Die W.A. Landman-Gedenklesings fokus ook op die Christendom. Die verteller in Gebed om die gebeente bid

    - dat ons .... ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

Met die geroepenheidsgedagte en die interpretasie van Opperman en Elsa Joubert, wil `n mens jouself afvra of ons nie aan `n versuim skuldig is nie.

As dr. Frances Thackeray van die Transvaal museum verheug is dat Christelik-nasionale ideologie in 1994 tot `n einde gekom het want nou mag en kan ons in die Transvaal Museum onverhinderd met feite uit die werklikheid en uit die verlede wetenskaplik omgaan.12

Die staatsruimte is tans geïntegreerd en globaal (Afrika) gerig. Hierdie globaal geïntegreerde ruimte, onder beheer van `n byna onaantasbare meerderheid, verdra nie eksklusiewe eilande en reservate nie. Die byna onaantasbare meerderheid is nie so onaantasbaar nie as ons in gedagte hou dat ons ons in `n deelnemende demokrasie bevind waar daar weë en middele waarmee ons ons kan laat geld. Voorwaarde is dat ons ons burgerlike organisasies lewenskragtig moet kry.

Tog bestaan daar die reële vrees dat die huidige maghebbers alles in hulle vermoë doen om onder die dekmantel van transformasie deelnemende demokrasie op alle moontlike maniere teen te werk en te omvorm tot `n skyndemokrasie soos die demokrasieë wat agter die ystergordyn bestaan het. Vergelyk my opmerking bo oor groepe en territoriums.

In `n lesing getiteld Die politieke toekoms van die Afrikaners: Wie is die Afrikaners en wat is hulle toekoms?13 sê prof. Jakes Gerwel

    " .... die gesprek oor ‘die Afrikaners', ‘hulle' identiteit en plek in die samelewing, ‘hulle' lot en toekoms, neem die vorm van `n verinnerlikte monoloog aan. Die groep, of vermeende groep, praat maar so saggies by homself - óf benoud, óf in vervoering - oor wese, lotsbestemming en noodlot."

By die Afrikaanse Taalberaad verlede jaar in Stellenbosch het Johann Rossouw gepleit dat die gesprek oor Afrikaanse identiteit moet voortgaan. Hy het gesê:

    "As die Afrikaner uit Afrikaans gehaal word, sal die taal sterf; as die taal se swart en bruin skakerings nie erken word nie, sal sy stagneer. Die woord Afrikaans herinner ons daaraan dat Afrika wit, bruin en swart insluit."14

    Oor pogings om `n verteenwoordigende nuwe Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns tot stand te bring, skryf Jaap Steyn15 "Daar ís Afrikaanstaliges, wit en bruin, wat hulle losmaak van die taal en besluit om hul kinders Engels te maak en op te voed. Wat nodig is, is nie die losmaak van Afrikaans van sekere groepe of hul identiteit nie, maar eerder 'n hegter vasbind van Afrikaans aan alle groepe." Die vraag is hoe word 'n hegter vasbind van Afrikaans aan alle groepe bewerkstelig.

    En dan is dit ongelukkig ook so dat, soos Gerwel sê, "Afrikaans, as `n aanduider van die verskillende aspekte van die gemeenskapslewe van die verkeidenheid van die sprekers daarvan, het `n geskiedenis van `n onvermoë of onwilligheid om sy eie verskeidenheid16 daarvan, het `n geskiedenis van `n onvermoë of onwilligheid om sy eie verskeidenheid goed te hanteer, om nie eens te praat van inpas by en saamleef met `n breër verskeidenheid nie."

Die eie territoriums het ons nie net sonder taal- en ander bondgenote gelaat nie maar het ons ook van mekaar vervreem.

Om dit met `n voorbeeld uit die werklike lewe te illustreer: Die joernalis Dana Snyman skryf:

    "As Dan (Roodt van Praag) in Ventersdorp se kroeg 'n kappie gaan maak met die manne wat hulle vereenselwig met wat hy verkondig, sal hulle mekaar nie herken nie."

Om Johann Rossouw weer aan te haal:

    "Die eintlike vraag is nie of jy `n Afrikaner is nie, maar hoe jy moeisaam en beskeie nuwe inhoud daaraan kan gee."10

In die vroeë 1950's het die Afrikanerbroederbond die Christiaan de Wetfonds as 'n art. 21-maatskappy tot stand gebring. Deur toewyding en opoffering het die lede deur bydraes uit hul karige salarisse baie gou die fonds tot die bedrag van 1 miljoen pond - let wel pond en nie rand nie - laat groei.

Tot vandag toe is die hoofdoelstelling van die fonds:

    "... om op alle doenlike maniere die maatskaplike, geestelike en kulturele ontwikkeling van die Afrikaanse Volk te bevorder, in die belang van die welvaart van die Suid-Afrikaanse bevolking".

Dit is onbekend of dié fonds en die hoofdoelstelling daarvan nog enigsins in die maatskaplike, geestelike en kulturele ontwikkeling van die Afrikaanse Volk `n rol speel.

In `n berig oor `n hofgeding oor moedertaal-onderrig berig Die Burger onlangs (Woensdag 11 Mei 2005, p. 6):

    Die skoolgemeenskappe moes inderhaas verlede week met fondsinsamelingsveldtogte begin om meer as R340 000 te bekom nadat die Afrikanerbond (AB) sy geldelike steun onttrek het.

In `n onopsigtelike klein beriggie in Beeld van 24 Mei 2005 word ons meegedeel: ‘Die Afrikanerbond het sy deuntjie om geldelike steun vir die hofsaak van die die drie Noord-Kaapse skole te onttrek, die naweek verander." In dieselfde berig word vermeld dat die hofsaak vroeër vandeesmaand uitgestel is nadat PANSAT `n aansoek ingedien het "om as vriend van die hof tot die saak toegelaat te word." Terwyl sommige vriende wil verdwyn, verskyn nuwes op die toneel. In dieselfde berig word vermeld daar `n siening is dat "`n hofuitspraak nie dieselfde uitwerking sal hê as `n onderhandelde skikking nie."

Tim du Plessis17 skryf onlangs "praat en onderhandel is geen waarborg vir 'n vergelyk nie." Met verwysing na `n besprekingsdokument van die regerende ANC wys hy op die volgende:
In die hoofstuk oor "eenheid en diversiteit" staan daar: "Die etos van die ANC is dat ons debatteer en argumenteer oor mededingende politieke posisies, maar sodra 'n meerderheidsiening na vore gekom het, swig die minderheidsiening voor die meerderheid."

Dit is juis vanweë hierdie meerderheidsiening dat ons demokrasie nog nie verder ontwikkel het as die stembus nie en dit bring mee dat die hulp van die hof ingeroep word. Die hof frustreer die meerderheidsiening en kan daartoe lei dat `n onafhankilike regbank deur `n mank demokrasie gekniehalter kan word. Dit is ook wensdenkery om te dink dat hierdie meerderheidsiening ruimte laat vir `n onderhandelde skikking. Die kwessie rondom die naam Pretoria is hier `n goeie voorbeeld van. Tim du Plessis18"Vat die Pretoria-naamkwessie. Dis onbelangrik of 400 of 4 000 mense voorverlede Saterdag (14 Mei) teen die naamsverandering gemarsjeer het. Wat belangriker is, is hoe breed die optog-koalisie was van die ultra-regse HNP tot by die "linkse" prof. Marinus Wiechers."

Mag ek u weer herinner wat oor die Trojaanse oorlog gesê is, naamlik dat die Trojaanse oorlog gesien word as ‘the first moment in history when the Greeks came together as one people with a common purpose.'

En dis hier waar die wyse ou moeders intree.

In Joernaal van Jorik vertel Wiesa aan Jorik

    .......mymerend van 'n volk
    in windoop ruimtes van 'n land gevorm
    wat opstyg uit die see tot in die wolk
    waar God praat in die weerlig en die storm;

    sy noem hul opstand teen 'n vreemde ras;

En in Raka van Van Wyk Louw:

    .......en sy het nie gehuil -
    die oudste van die vroue wat veel bewaar
    van die stam se herinneringe en van sy swaar
    .......................... sy ‘t stil gesing

Sy ‘t stil gesing en waarskynlik vertel van ou herinneringe en voorbodes.

Karel Schoeman haal die Franse reisiger Delegorgue aan wat gesê het ‘the African Dutch woman have strong opinions, and do not hesitate to make them known. In die verloop van die geskiedenis van die Afrikaner het die vrou `n belangrike rol gespeel. So byvoorbeeld het Susanna Smit19 hard en duidelik standpunt gestel:

    they would walk out by the Draaksberg barefooted, to die in freedom, as death was dearer to them than the loss of liberty.20

Van Susanna Smit het Henry Cloete gesê:

    I regretted that, as married ladies, they boasted a freedom which which even in a social state they could not claim; ... I considered it a disgrace on their husbands to allow them such a state of freedom.2

Ook tydens die ABO toe die vrouens en hulle kinders gyselaar gehou is en toe genl. Smuts geskryf het: en ons vroue en kommando's sal eerder van rysmiere leef as die stryd vir hulle heilige regte weens honger op te gee."21

Anna Neethling-Pohl wat so 'n groot rol in die Suid-Afrikaanse toneellewe gespeel het, vertel in haar boek Dankbaar die uwe van een vrouebetoging22 kort ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Sy skryf dat 'n groepie Pretoriase vroue besluit het om 'n vroue-optog te reël om die regering te laat verstaan "dat die Afrikaner nie bereid was om sy seuns in verre oorde te laat sneuwel nie". Telefonies is vroue aangesê om oral uit die land met hul familie en vriende na Pretoria te gaan om aan die optog deel te neem. Anna Neethling-Pohl skryf dat sy die dag van die betoging meer as negeduisend vroue getel het toe die rye stadig begin beweeg het.

Maar miskien die indrukwekkendste van alle Afrikanerbetogings was 'n optog in Pretoria in 1915. 'n Paar duisend Afrikanervroue het op 4 Augustus 1915 'n betoging gehou vir die vrylating van genl. Christiaan de Wet en ander leiers van die mislukte Rebellie van die vorige jaar. Die betoging was waarskynlik die eerste groot vreedsame betoging in die jong Unie van Suid-Afrika. Soos met Amajuba was dit ook `n mev. Joubert wat die betoging gelei het (vgl. voetnoot 13).

Veral vanaf die 1960's skryf Johann Rossouw, is vroue deur die mans op die agtergrond begin skuif ‘omdat mans nou via skole, kerke en universiteite nie net kulturele oordrag beheer het nie, maar ook steeds, via die staat na 1948, beheer gehad het oor sekuriteit en kosproduksie'.

Die vrouens het hulle self ook op die agtergrond geskuif. `n Kongres van `n vertroulike Afrikanerdamesorganisasie is onlangs gehou met die tema Die vrou en haar ouerwordende lyf. Henry Cloete sou met hierdie kongres en die tema daarvan in sy skik gewees het. Dit kan met alle stelligheid beweer word dat daar Afrikanermans is vir wie die onderwerp of liewer die voorwerp van so `n kongres ook `n ‘disgrace' kan wees.

Soos die Franse reisiger Delegorgue van die ‘the African Dutch woman met hulle strong opinion gepraat het, so het Sir Arthur Canon Doyle in The GREAT BOER WAR (October 1900) gepraat van a community of Dutch men...the modern Boer - the most formidable antagonist who ever crossed the path of Imperial Britain. .... hard-bitten farmers with their ancient theology and their inconveniently modern rifles. Dit is nou die Peasant Afrikaner farmers waarna die ANC verwys het.

Bo is melding gemaak van '`n byna onaantasbare meerderheid' wat eintlik niks is as dit vergelyk word met sir Arthur Canon Doyle se Imperial Britain wat toe dié wêreldmoondheid was.

In Joernaal van Jorik skryf Opperman:

    ................. God het mos in die storm
    ons volk se leiers tussen klip en blits
    met baarde, Bybel en sambok gevorm ~

en verder vertel Wiesa

    ....... mymerend van 'n volk
    in windoop ruimtes van 'n land gevorm
    wat opstyg uit die see tot in die wolk
    waar God praat in die weerlig en die storm;

Van hierdie volk se geskiedenis word meer in Joernaal van Jorik vertel:

    Jan van Riebeeck Tafelberg en Duiwelspiek Bruinmense Grieke Maleier `n moskee Zoeloewagters ou liedere van impi's, van vegters, vryburgers soos Adam Tas Frederik Bezuidenhout, Hottentotte en 'n Kakieskout die boertjies Piet Retief, van nagte soos by Weenen en Bloukrans, Bloedrivier Amajuba, konsentrasiekampe, myne en fabriek, `n Republiek, die Rebellie, die Bybel, Beyers, De la Rey, Maritz, `22 toe ons wit teen swart en kamma arbeid teen die kapitaal

Joernaal van Jorik is in 1949 gepubliseer. Die gedig kan as 'n historiese oorsig oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelees word, met fokus later in die gedig meer spesifiek op die Afrikaner. En in 1960 met die herdenking van Uniewording, `n jaar voor Republikewording, skryf Opperman dat die Afrikaner besig is hom van sy landgenote te vervreem.

In die laat 1930's verdedig Van Wyk Louw ons strewe om deur ons taal apart te bly. Het hierdie strewe bygedra tot die waarneming van Gerwel in 2005: "Afrikaans, .........het `n geskiedenis van `n onvermoë of onwilligheid om sy eie verskeidenheid goed te hanteer," en "‘die Afrikaners', Die groep, of vermeende groep, praat maar so saggies by homself - óf benoud, óf in vervoering - oor wese, lotsbestemming en noodlot."

Hierdie strewe om apart te bly en die wyse waarop ons ons domeine en territoriums bestuur het, het ons nie net sonder taal- en ander bondgenote gelaat nie maar het ons ook van mekaar vervreem.

As ons in 2009 terugkyk en vra: Wat het in die vyftig jaar ná 1949 en Joernaal van Jorik gebeur?

As die Brixton Moord en Roof Orkes 100 jaar ná hul oupagrootjies manmoedig in hul eie oorlog veg en vra wie is ons en wat gaan van ons manier van leef word, moet ons daarop antwoord met `n aanhaling uit Joernaal van Jorik:

    Dalk is ons In hierdie hele stryd en handelinge
    ........................................ geen volk
    maar `n mislukte spul opstandelinge!

Of dalk met `n ander aanhaling met positiewe strekking:

    Hy peins en glimlag ~ `n oorwonne volk
    vind in die kryg ook sy geheime kryg!

Peins en glimlag kan ons slegs as

  • ons en
  • die vertellers van ons narratief waaronder
    • ouers en onderwysers
    • die kunstenaars met woord en lied en kwas,
    • die media en
    • die burgerlike organisasies

opnuut en voortdurend oor ons godsdiens, onderwys en opvoeding, ons taal en kultuur met waagmoed fundamenteel en essensieel dink.

Peins en glimlag mag ons ook slegs as ons hard en duidelik praat oor die wel en weë van ons land en ons kontinent in plaas van in `n verinnerlikte monoloog saggies met ons self te praat oor wese, lotsbestemming en noodlot.

Mag dit ons help om soos die moeder in Gebed om die gebeente bid:

    - dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas
    met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
    en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
    ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

Prof. Landman, Dankie vir die geleentheid om hierdie voordrag in die gedenklesingreeks te kon lewer.
Ek dank u vir u aandag.

  1. Trekkersweë  `n Woord van Inleiding
    Die versies verplaas ons bo-op die Rand, ongeveer waar Johannesburg nou lê. Daar het oom Gert, `n trekker, met vrou en enigste dogter, gaan woon. Later kom oom Koos, `n kolonis, wat in die nabyheid grond gekoop het. Sy seun Willem raak verlief op Dina, oom Gert se dogter. Nadat die twee families saam Perdekraal-fees gevier het, gaan Willem en Dina trou.
    Die tweede versereeks beskrywe die ontdekking van die goudvelde en die opkoms van Johannesburg, maar ook die verleiding waaraan Willem en Dina, wat by oom Gert inwoon, blootgestel is en waarvoor hulle beswyk. Die tweede stuk eindig met die groot Boer-Britse oorlog.
    Die derde versereeks verplaas ons in die tyd toe die Unie tot stand gekom het, en beskryf die treurige einde van oom Gert en Dina.
    Dis die simpele storie waarop die gedig gebou is.
    Ons kan hier nog byvoeg dat die S.A. Akademie, deur die vrygewigheid van genl. Hertzog, in staat gestel is om jaarliks `n milde geldprys vir letterkundige werke uit te loof. Die prys vir 1915 is aan hierdie gedig toegeken.

  2. Die Afrikaner is ‘n krimpende minderheid van sowat 7% van die bevolking .....................
    ‘n Volk sonder instellings is eintlik nie meer ‘n volk nie, maar net ‘n losse groepering van enkelinge. Dit is insiggewend dat selfs die sterk vrywillige burgerlike-organisasienetwerk waarvoor die Afrikaner so bekend was, ook platgeval het. ‘n Onlangse studie het byvoorbeeld uitgewys dat, benewens Solidariteit, daar feitlik nie een sterk Afrikanerorganisasie van betekenis oorgebly het nie.

    Geen Afrikaanse sake-organisasie of finansiële instelling, feitlik niks op onderwysgebied, min effektiewe belange-organisasies, feitlik geen Afrikaanse instellings met ‘n behoorlike uitvoerende vermoë het oorgebly om vir ‘n volk sonder enige regeringsmag eers basiese ondersteuningsdienste te bied nie. Hier word gedink aan die voortbestaan van Afrikaans, onderwys en opleiding van ‘n nuwe geslag jongmense, bekamping van werkloosheid en die gevolge van regstellende aksie, ekonomiese bemagtiging en die bevordering van algemene minderheidsbelange, ‘n mondstuk om vir mense te praat voordat hulle so sonder ‘n toekomsbeeld is dat hulle die land verlaat ...


12Persoonlike mededeling

13Die Vrye Afrikaan-Intussen (Vrydag 13 Mei 2005) (Jaargang 2 no.14)
Jakes Gerwel, Nelson Mandela Buitengewone Professor in Afrikaans, Universiteit van Wes-Kaapland Hierdie lesing is op Woensdag 6 April 2005 te Grondwetkoppie, Johannesburg deur Gerwel gelewer in gesprek met Danie Goosen, as deel van die Harold Wolpe-gedenklesing-reeks georganiseer deur die Sociology of Work Unit van die Universiteit van die Witwatersrand en die EDGE-instituut.

14Johann Rossouw: Dit is die nuwe struggle van die Afrikaner en die Afrikaan Beeld 27 08 04

15Jaap Steyn:"'Nuwe' Akademie druk bespreek" in Beeld 24 Mei 2005 Beeld-forum

16‘Verskeidenheid' gaan hier nie om loslip-, loslit-, losmaag- of oopgulp-Afrikaans nie.

17RAPPORT, 22 Junie 2005. Du Plessis verwys na `n besprekingsdokument wat die ANC uitgereik het met die oog op sy hoofraadsvergadering aanstaande maand in Pretoria.

18Tim du Plessis in Rapport van 29 Mei 2005

191812: 'n Vroue-afvaardiging o.l.v Susanna Smit: "Meneer Cloete, al moet ons ook kaalvoet en blootshoof oor Drakensberg loop, sal ons nie onder die Britse vlag berus nie."

20Karel Schoeman 1995 Die wêreld van Susanna Smit, 1799~1863 bl.150 Henry Cloete was die kommissaris vir Natal, die ander kolonie van Groot Britanje. Cloete was lid van `n gesiene ou Kaapse familie wat hulle ten nouste met die Britse bewind vereenselwig het.

21Aangehaal in Mag ons Vergeet? van E. Neethling, Nasionale Pers. 1938, bl. 66

22 Inligting oor die vrouebetogings kom van prof. Jaap Steyn.

23En hier op Majuba was dit, volgens oorlewering, weer 'n vrou, mev. Joubert, wat die Britse aanvalsmag op die berg gesien het en die Boere aangespoor het om hulle daar te gaan afhaal. (27 Februarie 1881)

Terug na Gedenklesings