Professor W A Landman

Sesde W A Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion:
31 Mei 2005

Prof Kas Landman

Ek ag dit as `n besondere eer dat die vermaarde, deurlugtige prof. Willem Landman my gevra het om die Sesde jaarlikse W.A. Landman Gedenklesing te lewer. Of ek verstandig was om in te willig om hierdie lesing met so `n opdrag en fokus te hou, sal u na my voordrag kan oordeel. Vir prof. Landman ken ek al baie lank. Ek was nooit `n student van hom nie. Ons is wel vangenote maar nie familie nie. Ek het hom meegemaak in kerkraadsverband en in ons burgerlike organisasies waar ek hom leer ken het as `n nederige, waardige, verstandige en nugtere mens vir wie dit gaan om die fundamentele en die essensiële gepaard met die ontwikkeling en vestiging van waagmoed. Die feit dat die W.A. Landman-Gedenklesings fokus op onderwys en opvoeding, die Afrikaanse taal en kultuur en die Christendom bevestig dit.
Die onderwerp en titel van my lesing is:

ONS NARRATIEF:  WIE VERTEL VERDER
Van ou herinneringe en voorbodes
Deel 1

Terug na Gedenklesings


Oor die titel van hierdie voordrag kortliks die volgende:

Alhoewel daar geen vraagteken by die titel is nie, sou dit as `n vraag verstaan kon word. Dit sou ook as bloot `n stelling met dalk `n implisiete verwyt verstaan kon word. Dit kan ook as `n opdrag verstaan word.
Oor die literatuurteoretiese en filosofiese bespiegelinge van wat `n narratief nou eintlik is, word nie aandag aan gegee nie. Of daar nou `n meesternarratief en subnarratiewe moet wees, is nie die onderwerp van hierdie voordrag nie. Wat ‘ons narratief' betref, wil ek graag stilstaan by gegewens uit ons letterkunde en dan veral langer gedigte en epiese vertellings met verwysings na momente in ons geskiedenis. Een van die gedigte wat in hierdie bespreking sentraal staan, is Joernaal van Jorik1 van D.J. Opperman. Die hele Joernaal kan ook as 'n historiese oorsig oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelees word, met fokus later in die gedig meer spesifiek op die Afrikaner. In hierdie gedig praat Wiesa van ou herinneringe en voorbodes. Met ou herinneringe en voorbodes in gedagte, het ons weer by `n punt in ons geskiedenis gekom waar ons oor ons godsdiens, onderwys en opvoeding, ons taal en kultuur met waagmoed fundamenteel en essensieel moet dink en doen. Ander gedigte wat hier ter sprake kom, is Trekkersweë van Totius, Oom Gert vertel van C. Louis Leipoldt, ‘Nagwaak by die ou man' en Gebed om die Gebeente van D.J. Opperman.

Van Wyk Louw vertel hoe hy in 1950 in Amsterdam - in ‘n Europa waar die nátrillings van ‘n Wêreldoorlog nog hewig genoeg was om sober mense hulle ewewig te laat verloor - aangekom het en waar hulle - hy sê nie wie nie - bymekaargekom het om te praat oor hoe die hele klein Afrikaner-kolonie in geval van ‘n nuwe oorlog sáám moes probeer vlug. .................

En die vraag het nie "ontstáán" nie, maar by my kop ingeklouter: wie en wat is julle - eintlik meer "wat" as "wie" - wát is julle, Afrikaners .... een volkie tussen honderde of duisende volke; jy het jou één, kort lewe aan dié volkie onherroeplik verbind, ja, verknog - en wat is hý?
Wat is julle? Watter eenheid het julle? Kan julle nie maar verdwyn sonder verlies vir die hele wêreld nie? .................. Wat beteken julle vir óns, vir die res van die wêreld? As julle verdwyn, waarmee sal die wêreld dan anders of armer wees?

En vandag word aan ons gevra: Wat beteken julle vir óns, vir die res van die Suid-Afrika en vir Afrika?

Oor narratief in die algemeen:

Van die belangrikste voordragvertellings in die antieke tyd - dit is meer as drie millenia gelede - is die heldedig of epos. Die bekendste eposse uit hierdie tyd is die Oud-Mesopotamiese Gilgamesj-pos, die Indiese Ramayana, die Oud-Yslandse Edda, die Engelse Beowulf, die Duitse Nibulungenlied, ens.

Hierdie epe is deur rondreisende kunstenaars voorgedra of voorgesing. So `n epos kon tot `n duisend versreëls bevat. Daar was nie `n teks nie. Die kunstenaar moes dit wat hy verhaal het, uit die hoof ken en voordra. Die Finse Kalevala-epos het vir honderde jare slegs bestaan in mondelinge oorlewering voordat dit eers sowat `n eeu gelede opgeteken is. Die vroeë epe het die stryd van die gode en helde tot onderwerp gehad. Die volksepe van later was bewerkings van volksverhale oor belangrike historiese of legendariese gebeurtenisse. So het die Ilias van Homeros gegaan om die beleg van Troje. Die Gilgamesj handel weer oor die handel en wandel van die held Gilgamesj. In die kultuurgeskiedenis van die sogenaamde Weste het die epiese gedigte van Homeros, die Ilias en die Odysseus `n sentrale plek ingeneem. Albei hierdie gedigte handel oor die Trojaanse oorlog. Van die Trojaanse oorlog word gesê dat dit ‘fired the imaginations of the Greeks and became the defining cultural moment in their history.' Vandaar dat die Trojaanse oorlog beskou word as ‘the first moment in history when the Greeks came together as one people with a common purpose.'

Die Aeneïs van Vergilius vertel die verhaal van die held Aeneas se vlug uit die verowerde Troje, sy swerftog en sy aankoms in Italië waar hy `n stad gaan stig het wat uiteindelik Rome sou word. Die geskiedenis van Rome, sy roem, sy mense, hulle godsdiens, sedes en gebruike is nou verweef met die verhaal van Aeneas. Vergilius het met sy epiese gedig Aeneïs `n gedig geskep wat nie alleen die verwarde Romein van sy tyd kon besiel nie, maar ook vir die toekomstige geslagte `n bron van besieling kon wees.

Ons narratief ~     Simpel of heroïes?

Onlangs skryf Johann Rossouw in `n rubriek die volgende:

    "Die BMRO veg 100 jaar ná hul oupagrootjies manmoedig in hul eie oorlog - een waarin die vraag na wie ons is en wat van ons manier van leef (in die aangesig van die mark) gaan word, net so belangrik is as enige ander vorige oorlog, hoewel dit nou met ander middele geveg word."2

Uit hierdie kommentaar van Johann Rossouw is daar `n paar sake wat vir ons gesprek vanaand belangrik is:

  •    100 jaar ná hul oupagrootjies
  •    veg .... manmoedig in hul eie oorlog - ...net so belangrik is as enige ander vorige oorlog,..
  •    waarin die vraag na wie ons is en
  •    wat van ons manier van leef ..... gaan word,

Die vraag na wie die ‘ons', is word implisiet beantwoord deur die tydsverwysing, naamlik "100 jaar ná hul oupagrootjies". Net meer as 100 jaar gelede was dié oupagrootjies burgers van Zuid-Afrikaanse Republiek (die ZAR en later die provinsie Transvaal in die Unie en later die Republiek van Suid-Afrika) en die Oranje Vrystaat (later `n provinsie in die Unie en later die Republiek van Suid-Afrika) en rebelle uit die Kaap, `n kolonie van Groot Britanje (later `n provinsie in die Unie en later die Republiek van Suid-Afrika). Die verwysing is baie duidelik na die Anglo-Boereoorlog waarop aanstons terug gekom word.

Hulle oupagrootjies is ons oupas. Maar nie almal se oupas en oupagrootjies was betrokke in die Anglo-Boereoorlog nie. Talle taal-, geloofs- en rasgenote in die Britse kolonies Kaap en Natal was onbetrokke by die oorlog. So ook was en kon al die taal-, geloofs- en rasgenote nie deel wees van die Groot Trek nie. By die twee momente in ons narratief, was hulle dus in absentia.

Onder die belangrikste momente is ons narratief, tel die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog.

Monumente wat die Groot Trek gedenk is die Bloedrivierterrein en Walaermonument en dan ook die Voortrekkermonument. 16 Desember as Geloftedag is die dag waarop die belangrike moment in ons narratief gedenk word. Geloftedag het amptelik Versoeningsdag geword.

Hierdie belangrike momente in ons narratief is na 1994 aangevul deur ander monumente en museums soos die Apartheidsmuseum, Vryheidspark en die Zoeloeterrein by Bloedrivier.

Luidens `n berig in Beeld (15 April 2005) sou genl.maj. Gert Opperman, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument-erfenisterrein in Pretoria, gesê het

    "Baie ou omies onthou dalk nog met deernis die opening van die monument toe hulle as kinders hier was. Vir baie is veral die senotaafvlak baie sensitief en heilige grond oor die gelofte wat destyds afgelê is.

    "Die monument is destyds as bastion van die Afrikaner gesien, maar ons poog sedert die 90's om dié beeld te verander sodat almal welkom voel in dié erfenisskat," het hy gesê.

    "Mense sal nog die monument met roer en rumoer verdedig omdat dit vir baie 'n teer saak is."

Opperman het dit gesê tydens 'n besoek van Michelle Pienaar, `n aktrise in die sepie Egoli, aan die Voortrekker-monument. Foto's van Pienaar het onlangs in die ATKV se Taalgenoot verskyn. Vir die foto's het sy op die senotaaf geposeer. In die berig word vermeld dat die foto's talle lesers aanstoot gegee het.

Met die lees van hierdie berig en die verwysing na baie ou omies het ek weer die woorde van D.J. Opperman in sy gedig ‘Nagwaak by die ou man' onthou:

    maar tussen balke en vaal mure brand
    'n kersie in die kamer stil eenkant
    oor sy beroerte-liggaam, soos 'n maan
    oor stukke seilskip teen 'n kaap vergaan,
    waar ander strome aan die wrakhout roer
    en weg van wind-omwaaide rotse voer.
    In 'n riem-oog uit die hoë balke
    rus sy dooie arm ... 'n oopgespalkte
    boavel hang teen die muur, en horings
    van die groot sterk bokke uit die dorings.
    Karosse op die vloer ... maar skielik
    uit geel portrette groei die streng blik
    van voorgeslagte, en ek voel die gloed
    wat in hul oë brand, mag in my bloed,
    mag in my lende nie sy einde vind,
    moet verder veg teen tier, teen hierdie wind.

As daar skielik uit geel portrette die streng blik van voorgeslagte groei dan is dit nie meer `n waak by die ou man nie maar `n ou man en die voorgeslagte wat waak by die wat dink hulle waak. Daar het dus in die passasie `n rolverwisseling plaasgevind. Die ou man en die voorgeslagte en dus die voorouers, hou `n wakende oog en lei tot die bede van die verteller:

    ....................... mag in my bloed,
    mag in my lende nie sy einde vind,
    moet verder veg teen tier, teen hierdie wind.

Ons leef in Afrika. Gerrit Brand haal die Keniaan Ali Mazrui aan wat in sy klassieke werk The Africans skryf dat die voorouers van ons dierbare vasteland kwaad is: "Vir dié wat in die mag van die voorouers glo, is die bewys van hul woede oral om ons. Vir dié wat nie in die voorouers glo nie, word die bewys van hul woede 'n ander naam gegee." En hieraan voeg Brand by: "Ons moet 'n oog kry vir die ‘onsigbare magte' wat die dryfveer agter die verstommende passie en woede aan albei kante is."3

In 'n vroeë dokument van die ANC onder die opskrif

NATION-FORMATION AND NATION BUILDING
word daar na ons as Peasant Afrikaner farmers verwys.
In Afrikaans gestel Boere Afrikaner boere.

Vanaand gaan dit in hierdie lesing oor die verhaal, die narratief van die Peasant Afrikaner farmers/Boere Afrikaner boere.

"Ons" word hier inklusief in die wydste moontlike sin gebruik . En dit geld ook vir Peasant Afrikaner farmers/Boere Afrikaner boere.

Dit is al vir baie geslagte lank dat baie van ons wat vanaand hier is, indien nie almal nie, nie meer kleinletter boere - landbouers, veeboere of net gewoon bywoners op plase - is nie. In Trekkersweë van Totius, `n epiese vertelling in digvorm word hiervan vertel. In `n Woord van Inleiding vertel Totius van die Groot Trek, die ontdekking van goud, verstedeliking, die groot Boer-Britse oorlog, die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika en die Hertzogprys vir letterkunde en sê dan Dis die simpele storie waarop die gedig gebou is.

Momente in ons narratief is die basis vir die simpele storie van Totius.

Hoofletter Boere is ons in soverre as wat ons deur afgebrande plase, vernietigde veestapels, konsentrasiekampe, krygsgevangenekampe, teregstellings, ens. hoofletter Boere is - soos Boere in Anglo-Boereoorlog.

Afrikaners is ons omdat ons die eerste mense op hierdie kontinent is wat ons onherroeplik en onvervreembaar aan hierdie bodem met bloed en naam en taal, met woord en daad verbind het. Soos Ferdi Greyling sê: "Ons ís Afrikane. Ons was nog so lank ons kan onthou Afrikane. Ons harte was nog altyd hier waar ons voorgeslagte se grafte is en waar die vertellings en mites van ons families die vlaktes in strek."4

Dit word bevestig deur die woorde ingegrif op die Sarkofaag in die Voortrekkermonument:

Ons vir jou Suid-Afrika.

Oor die Anglo-Boereoorlog vertel Leipoldt se oom Gert:

    Ja, neef, wat kan ek, oumens, jou vertel?
    Jy wil die storie van ons sterfte hoor?
    Nou goed! Dis nooit te laat om daarvan nog
    Te leer en van gebruik te maak - veral
    Vir julle, jongling-mense. Hou maar vas
    Aan wat ons het, en staan orent, en neem
    Jul aandeel aan ons nasie!
    Uit: Oom Gert vertel van C Louis Leipoldt

In Joernaal van Jorik lees ons

    só in 'n donker kol van hierdie volk, swaai
    beelde nog van Konsentrasiekampe.

    Ek stap een oggend uit die Kamp en sê:
    ‘Kyk, sien en ek vanoggend 'n duisend skaap
    wat op die vlaktes so in hopies lê?
    Maar nee!' sê ek. ‘Dis mos waar dooies slaap.'

    En nou waar miershoopkamers en rotstuine
    staan, en skepsels koekepanne laai,
    lê hulle stil: ou vegters in die bruin
    komberse van die aarde toegedraai."
    5

Oor die ‘storie van ons sterfte' vertel genl. Jan Smuts in sy MEMOIRS OF THE BOER WAR van `n Krygsraadvergadering op 1 Junie 1900 - dit is `n paar dae voor die eerste besetting van Pretoria - waar daar `n versoek van die ZAR / dit is die Transvaalers was, dat daar ernstige oorweging gegee moet word aan vredesonderhandelinge en die beëindiging van die oorlog. Hierdie versoek het pres. Steyn ondubbelsinnig afgewys, die Transvaalers van lafhartigheid beskuldig en aangedui dat die Vrystaat tot die bittereinde sal voortgaan met die stryd. Pres. Steyn se antwoord het die voortsetting van die oorlog beteken. Die skade en verskrikkinge van die oorlog verder, is aan ons bekend. Daar is `n baie hoë prys met lyf en lewe, met hebbe en houe betaal.

Smuts skryf verder:

    ..................... that every Boer that was to survive that death struggle, every child to be born in South Africa, was to have a prouder self-respect and a more erect carriage before the nations of the world. To the Boer people, ease-loving, easy-going, the supreme choice presented itself between peace or death. The man, who now rises among Boers as their most heroic figure, chose for them death. And they shall live.

As daar van die Trojaanse oorlog gesê word dat

    (It was) ‘the first moment in history when the Greeks came together as one people with a common purpose.'
    (It) ‘fired the imaginations of the Greeks and became the defining cultural moment in their history.

kan daar van die groot Boer-Britse oorlog, om Totius se woorde te gebruik, gesê word die storie wat oom Gert vertel, is nié die storie van ons sterfte nie maar die storie van ons volk se geboorte, van ons volk se ontstaan.

Op die gedenkmonument vir die Boere-gesneuweldes by Spioenkop is daar die name van `n oupa, sy seun en sy kleinseun aangebring: Dit is dus nie net oupas en omies nie, maar ook seuns. Drie generasies wat in een kryg die hoogste prys betaal het.

In `n Artikel in Beeld (14 Mei 2005) onder die opskrif Hanskakie? Ben jij gek? betreur Max du Preez dit dat Piet de Wet, die broer van Christiaan de Wet, in skande as `n verraaier en `n uitverkoper gesterf het. Van Wyk Louw praat

    van dié wat om 'n ander diens
    soos knegte jou verlaat het.

In O wye en droewe land skryf hy:

    Jy ken die pyn en eensaam lye
    van onbewuste enkelinge,
    die verre sterwe op die veld,
    die klein begrafenis;

    eenvoudige mense wat getrou
    en enkeld bitter dinge doen,
    en enkeld val soos korrels saad;

    stil daad, klein trou, klein trouloosheid
    van dié wat om 'n ander diens
    soos knegte jou verlaat.

As Max du Preez vra: Hoeveel skuld moet die bittereinders dra vir feit dat die Afrikaner platgeslaan en verarm uit die oorlog gekom het? kondoneer hy nie net die aggressie van British Empire nie maar maak hy gewoon `n growwe feitefout om te aanvaar dat al die Afrikaners/Boere vóór die Britse aggressie ryk en welvarend was. Du Preez swyg oor die Afrikaners wat ná die oorlog uit die Britse protektorate met groter veestapels teruggekom het. Soos daar toendertyd gesê is hulle hamels het so goed gelam.

Bo is daar melding gemaak van Vergilius wat met sy epiese gedig Aeneïs `n gedig geskep het wat nie alleen die verwarde Romein van sy tyd kon besiel nie, maar ook vir die toekomstige geslagte `n bron van besieling kon wees.

Daar is ook melding gemaak van Wiesa in Joernaal van Jorik wat ou herinneringe en voorbodes oproep. Sy vertel:

    En hulle het ons huise afgebrand.
    Hóé kon die rykes van 'n ryk ooit weet
    dat ons sou veg vir ruimtes van ons land
    al moes ons in die veld rysmiere eet?

Hier het die digter, D.J. Opperman, woorde uit `n brief van genl. Smuts aan pres. Steyn verwerk:

    "Alles sal die vyand niks baat nie, en ons vroue en kommando's sal eerder van rysmiere leef as die stryd vir hulle heilige regte weens honger op te gee."

Dit is Emily Hobhouse wat gesê het:

    "Dit is nodig om hierdie lyding te gedenk en as ‘n kostelike erfstuk uit die verlede te bewaar - nie om ons siel met droefheid te vervul nie, maar om ons met heldemoed te inspireer. So ‘n roemryke voorbeeld mag nie sterf nie, dit troon in die hart van die volk."7

Om hierdie lyding met apologieë, parodieë en satire te wil onthou, is myns insiens nie net kwetsend nie maar die ergste vorm van verraad teenoor die verlede.

As ons terugkeer na wat Johann Rossouw oor die musiek en lirieke van die Brixton Moord en Roof Orkes kan `n mens vra: Wanneer is ‘n Volk .... nie meer ‘n volk nie, maar net ‘n losse groepering van enkelinge?

"`n Volk", sê Van Wyk Louw, "is `n eenheid en universeel; hy omvat alle stande en klasse en gaan bokant algar uit; hy is gelykwaardig in sy reg met die ander volke as kuluurdraer in die wêreld; hy is hom van sy individualiteit bewus."8 en verder "[Ons] hele strewe om deur ons taal apart te bly, kan geregverdig word alleen deur die rykdom van onvervangbare waardes wat ons in dié taal voortbring ... `n Groep word volk en waardevol, kry reg om te bestaan, alleen in soverre hy geestelike lewe voortbring ..."9

Onder die opskrif `n Volk red homself skryf Flip Buys die volgende:

    ............... ‘n Volk sonder instellings is eintlik nie meer ‘n volk nie, maar net ‘n losse groepering van enkelinge. Dit is insiggewend dat selfs die sterk vrywillige burgerlike-organisasienetwerk waarvoor die Afrikaner so bekend was, ook platgeval het. ......................, daar (het) feitlik nie een sterk Afrikanerorganisasie van betekenis oorgebly het nie. ...............

    Hier word gedink aan die voortbestaan van Afrikaans, onderwys en opleiding van ‘n nuwe geslag jongmense, bekamping van werkloosheid en die gevolge van regstellende aksie, ekonomiese bemagtiging en die bevordering van algemene minderheidsbelange, ‘n mondstuk om vir mense te praat voordat hulle so sonder ‘n toekomsbeeld is dat hulle die land verlaat ...

Behalwe dat daar feitlik nie een sterk Afrikanerorganisasie van betekenis oorgebly het nie, beskik die volk, in die sin wat Flip Buys die woord gebruik, ook nie meer oor territoriums nie. Die vorige bedeling (apartheidsbedeling) het eie territoriums - d.i. eiesake (selfbeskikking), eie skole, eie universiteite, ens. - gehandhaaf.

Vir die huidige regering is hierdie soort territoriums verdag. Dit word gesien as eilande van bevoorregting en uitsluiting en as sodanig as contra-nasiebou. Tim du Plessis skryf in Rapport (22 Mei 2005): "In 2005 kan die ANC-regering 'n ... fout maak as hy dink hy praat met 'n spul wit rassiste wat nie hul kinders saam met swart kinders wil laat leer nie." Sou `n mens Tim du Plessis onbevange en sonder huiwering gelyk kon gee?

In die huidige Suid-Afrikaanse reg het ‘groep' geen status, domein of staanplek (locus standi) nie. Kultuurgemeenskappe en groepe geniet geen grondwetlike status nie en word dus nie as regsentiteite geag of erken nie. Dit word bevestig deur die feit dat die staatspresident diversiteit en kulturele verskeidenheid as ‘foutlyne' wat konflik in Suid-Afrika kan veroorsaak, aanstip.10 Groeps- en gemeenskapsidentiteite en -domeine soos wat dit in `n demokrasie soos byvoorbeeld die van Switsersland bestaan, word nie in Suid-Afrika erken nie.

By `n Unesco-kongres oor diversiteit en die beskerming van kultuurregte en -produkte, het minister Z. Pallo Jordan verwys na

    "...misguided attempts to seal-off cultural communities from each other as if they are silos of different grains. ... The Verwoerdian nightmare of ‘separate development' was built on such absurd assumptions."

Dalk is daar geldigheid in die afleiding dat die huidige regering onder die dekmantel van nasiebou ingestel is op die afbreek van groeps- en gemeenskapsidentiteite en domeine want dit word gesien as bedreiginge vir `n stembusdemokrasie en `n sentralistiese regering.

In 1960 by geleentheid van die halfeeufeesviering van die Unie van Suid-Afrika het Piet Cillié vir D.J. Opperman gevra om `n toekomsblik vir Die Burger te skryf. In die toekomsblik het Opperman daarop gewys dat die Afrikaner hom van sy landgenote vervreem. Opperman het toe gewaarsku dat die Afrikanervolk nie daarin slaag om as volk `n aantrekkingskrag te ontwikkel nie. Die Afrikanervolk het "`n sterk wegstotende mag" ontwikkel. `n Moontlike toekoms wat Opperman toe uitgestippel het, is "`n geestelike lewe oorheers en verdor deur rassespannings en rassewaardes, `n geestelike afsondering, `n geestelike intelery, `n geestelike gebreklikheid en uiteindelike onvrugbaarheid".

Die wyse waarop die Afrikaner sy territoriums bestuur het, het die Afrikaner sonder taal- en ander bondgenote gelaat.

In Die laaste Sondag en in die Missionaris hanteer Elsa Joubert11 die probleem van om geroepe te wees. In Die laaste Sondag word gevra: Wat besiel mense om te dink dat hulle in Afrika is om `n godgegewe opdrag te vervul. In die Missionaris antwoord sy "Dit leer my dat ons God nie na Afrika bring nie, God is hier was altyd hier. Ons help miskien die herkenning. Ons is die klippe waarop die brug na God gebou word."

In Gebed om die gebeente skryf Opperman

    Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn ...
    Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd -
    ek ken as moeder ná 'n halwe eeu van pyn:
    een land vol skedels en gebeente, een groot graf
    waaroor U noordewind die droë dissel waai
    en spruit en krans vul met die afloskrete van
    die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
    - dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas
    met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
    en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
    ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.


1Aansluitend by die epiese tradisie van Celliers se Martjie (1911), Totius se Trekkerswee (1915) en Van Wyk Louw se Raka (1941), publiseer Opperman in 1949 die vyfdelige Joernaal van Jorik.

2Beeld 23 April 2005, bl 11. BMRO: Brixton Moord en Roof Orkes

3Voorvaders moet indaba hou in Beeld 130202

4Ferdi Greyling in Beeld-forum:Politiek het weer 'n rasse-kleur! Beeld 24 Mei 2005

5Emily Hobhouse.s.j. War without Glamour Nasionale Pers, bl.150: "People sang there: I stood and saw before me, was it a great flock of sheep? I knew not whence came all these sheep! - but wait! the people stop their singing - the sheep were a vision - because I see clearly now - it was the grave moulds of those who sleep their last sleep there."

6Aangehaal in Mag ons Vergeet? van E. Neethling, Nasionale Pers. 1938, bl. 66

7 Aangehaal deur genl. Constand Viljoen met die amptelike afsluiting van die herdenking van die Anglo-Boereoorlog.

8Hermann Giliomee 2004. Die Afrikaners `n Biografie Tafelberg Uitgewers bl. 381

9Hermann Giliomee 2004. Die Afrikaners `n Biografie Tafelberg Uitgewers bl. 381

10Tim du Plessis in Rapport van 29 Mei 2005: Woensdag in die parlement het Mbeki self die kwessie van vervreemding aangeroer. Hy het drie "foutlyne" aangestip wat konflik in Suid-Afrika kan veroorsaak: die gevoel onder die armes dat die demokrasie hulle gefaal het, politieke mobilisasie gegrond op 'n aanname dat die demokratiese orde "Afrikaner-mense" hul identiteit en legitieme regte wil ontneem en pogings om die Zoeloes te mobiliseer op die valse grondslag dat hulle ander "nasionale belange" het as ander Suid-Afrikaners.

11Hans Ester. 1993. Land onder die Suidersterre. Suid-Afrikaanse Instituut - Amsterdam. bl. 155 en 157

Na Deel 2