Terug na titels van publikasies
Terug na Tuisblad
ONDERSOEK NA WERKGEWERS IN DIE DAVEL
LANDBOUDISTRIK SE GESINDHEID TEN OPSIGTE
VAN NIE-FORMELE ONDERWYS
DEEL 2
- 'N VRAELYSONDERSOEK NA WERKGEWERS IN DIE DAVEL LANDBOUDISTRIK SE GESINDHEID TEN OPSIGTE
VAN NIE-FORMELE ONDERWYS
4.1  Inleiding
Ten einde wetenskaplik-verantwoorde riglyne of kriteria daar te stel vir:
- die effektiewe onderrig en opleiding van leerders in die nie-formele onderwyssituasie in die
Davel Landboudistrik; en
- om tot verantwoorde gevolgtrekkings te kan kom waaruit gemotiveerde aanbevelings gemaak kan
word, is daar gepoog om aan die hand van 'n gestruktureerde vraelysondersoek, vas te stel wat
werkgewers in die Davel Landboudistrik se gesindheid ten opsigte van nie-formele landboukundige
onderwys is.
4.2  Definisie van die begrip vraelys ("questionnaire")
4.2.1  Landman (1985:212) omskryf 'n vraelys soos volg:
"'n Wetenskaplik gestruktureerde (lys) wat 'n aantal relevante vrae, items, stellings bevat, wat
oor 'n bepaalde onderwerp handel, wat aan 'n bepaalde groep(e) mense (teikengroepe) vir
beantwoording, beoordeling voorgelê word ten einde die verlangde data vir besluitneming te bekom.
4.2.2  Doel met die vraelysondersoek
Die doel met hierdie vraelysondersoek was om inligting in te win oor werkgewers in die Davel
Landboudistrik se gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys met die oog daarop om
wetenskaplike riglyne daar te stel vir onderwys en opleiding in die nie-formele landboukundige
onderwyspraktyk.
Die hieropvolgende stappe is gevolg, voordat die vraelysondersoek 'n aanvang geneem het (Landman
1985: 189-190).
- Stap 1:  Vasstelling van die voordele van die vraelysondersoek
Daar is eerstens vasgestel watter voordele 'n vraelysondersoek as moontlike werkwyse inhou.
- Stap 2:  Identifisering van die probleemstelling van die navorsingsondersoek
Omdat dit nie moontlik was om die totale werkgewerskorps uit die onderskeie agro-ekologiese
Landboustreke in die RSA te kon betrek nie, is 'n seleksie gemaak om 'n verteenwoordigende
populasie te verkry.
Die keuse het op die Davel Landboudistrik in Transvaal geval.
Die volgende kriteria is gestel aan die invullers, naamlik dat die invullers werkgewers in die
Davel Landboudistrik moet wees wat:
- oor die verlangde inligting beskik; en
- gewillig moet wees om daardie inligting te verstrek.
Om hierdie doel te kon bereik, is 'n voorlopige opname gemaak van potensiële invullers in die
Davel Landboudistrik, ten einde hulle ontvanklikheid vir die vraelys te bepaal.
- Stap 3:  Bepaling van die geldigheid van die vraelys
Daar is vooraf vasgestel of die vraelys dit doen waarvoor dit ontwerp is. Die kriterium vir die
toets van die geldigheid van die vraelys is die volgende : Sal dit werklik die gegewens aan die
lig bring vir wat dit bedoel is om aan die lig te bring?
- Stap 4:  Voorbereiding van die begeleidende brief
Elke vraelys is vergesel van 'n begeleidende brief wat -
- verduidelik wat van die invuller verwag word met die voltooiing van die vraelys, en waarom hy
dit moet voltooi sodat hy met die invul daarvan gemotiveer kan word; en
- die doel van die ondersoek verduidelik, met beklemtoning van die belangrikheid en die
betekenis daarvan, sodat die invuller dit as 'n grondige rede kan aanvaar om die vraelys te
voltooi.
- Stap 5:  Voortoetsing van die vraelys (Loodsondersoek)
Ten einde die vrae ten opsigte van duidelikheid en ondubbelsinnige interpretasie te toets, is
daar besluit om die vraelys aan 'n voorondersoek te onderwerp. Persone wat aan die voorondersoek
deelgeneem het, is nie by die finale steekproef ingesluit nie.
Die vraelys is uitgetoets ten einde die volgende aan die lig te bring:
- Moontlike tekortkominge
- Voorstelle vir verbetering.
- Stap 6:  Opvolgaktiwiteite
Daar is vooraf besluit dat minstens 70% van die vraelyste terugontvang moet word om die
geldigheid van die ondersoek te verseker.
Die aantal vraelyste wat uitgedeel is, was 31*** en al 31 is terug ontvang.
Nadat die navorser eerstens duidelikheid verkry het oor hoe die invullers te werk moet gaan, is
daar tweedens duidelikheid verkry oor hoe die ingesamelde gegewens verwerk en getabuleer gaan
word.
-  SAMEVATTENDE UITKOMSTE VAN DIE VRAELYSONDERSOEK
5.1  Kwaliteit en standaard van die onderwys van plaasskoolleerlinge
Die respondente (R) beoordeel samevattend (slegs die hoogste response op die vrae word gegee) die
kwaliteit en standaard van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel
Landboudistrik soos volg:
- Stem sterk saam dat:
- Plaasskole gesentraliseer moet word (R13).
- Stem saam dat:
- Plaasskoolleerlinge in die algemeen positief is ten opsigte van onderwys (Rl7).
- Plaasskoolleerlinge na skoolverlating in die stede gaan werk (R14).
- Die groot getalle plaasskoolleerlinge onderwysprobleme skep (R15).
- Leerplanne in plaasskole verouderd is (R20).
- Onderwysers van plaasskoolleerlinge die leerlinge ontmoedig om 'n beroep in die landbousektor
te volg (R17).
- Plaasskoolleerlinge dankbaar is vir hul onderwysgeleenthede (R17).
- Geneig om nie saam te stem nie dat:
- Die onderwys van plaasskoolleerlinge op 'n hoe vlak is (R13).
- Daar genoeg skole vir plaasskoolleerlinge is (R9).
- Die fisiese opset by plaasskole goed is (R13).
- Die onderwysers wat plaasskoolleerlinge onderrig, goed opgelei is (R13).
- Die onderwysstandaard in plaasskole hoog is (R13).
- Ouers van plaasskoolleerlinge hul kinders ontmoedig om 'n beroep in die landbousektor te volg
(R13).
- Stem glad nie saam nie dat:
- Plaasskoolleerlinge belangstel om 'n beroep in 'n landboukundige rigting te volg (R14).
- Plaasskoolleerlinge deel uitmaak van die arbeidsmag op plase (R13).
***Steekproefgrootte: Vergelyk Jacobs en Landman: Fenomenologiesbegronde kleinskaalse empiriese
ondersoek, pp.156-196. In: Landman et al. (1987): Die navorsingsprogram vir Geesteswetenskaplike
Navorsing. Perskor, Johannesburg.
Na Deel 3
|