Uit die betrokke gegewens, blyk dit dat daar bepaalde faktore is wat 'n negatiewe inwerking het
op die standaard en kwaliteit van die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel
Landboudistrik.
Hierdie faktore is onder meer die volgende:
- Die groot aantal primêre skole op die onderskeie plase. Elkeen met sy eie onderwyskundige
infrastruktuur bring bepaalde finansiële uitgawes mee.
- Die groot getal plaasskoolleerlinge.
- Plaasskoolleerlinge wat na skoolvoltooiing in die stede gaan werk.
- Leerplanne wat verouderd is.
- Swak fisiese opset op skole.
- Onderwysers van plaasskole wat nie goed opgelei is nie.
- Plaasskoolleerlinge in die algemeen wat nie belangstel om na skoolverlating 'n beroepsrigting
in die landbousektor te wil volg nie.
Positiewe aspekte volgens die vraelysresultate is dat ouers van plaasskoolleerlinge hul kinders
aanmoedig om 'n beroep in die landbousektor te volg. Verder dat plaasskoolleerlinge dankbaar is
vir hul onderwysgeleenthede en dat werkgewers die betrokke leerlinge nie beskou as deel van die
arbeidsmag op plase nie.
Die aanname kan gemaak word dat die kwaliteit en standaard van die onderwys van plaasskoolleerlinge
in die Davel Landboudistrik verhoog kan word indien daar 'n nouer skakeling tussen die formele en
nie-formele onderwysstelsel is.
Die moontlikheid bestaan dat die betrokke onderwys op 'n meer gesentraliseerde basis kan geskied.
5.2  Voorstelle of riglyne ter verbetering van die onderwys van plaasskoolleerlinge in
die Davel Landboudistrik
Uit die vraelysresultate blyk dit dat die werkgewers die volgende voorstelle maak en riglyne
aanbied om die onderwys van plaasskoolleerlinge in die Davel Landboudistrik te verbeter, naamlik:
- Ouers van plaasskoolleerlinge moet meer by die onderwysgebeure betrek word.
- Onderwysers moet deskundig opgelei word.
- Skoolfasiliteite moet opgeknap word.
- Hoërskoolopleiding moet geredelik beskikbaar wees.
- Skole moet gesentraliseer word.
- Vervoer van leerlinge na skole moet verbeter.
- Befondsing van skole moet verbeter.
- Daar moet 'n beter stelsel vir onderwysvoorsiening wees.
- Die totale gemeenskap moet by die onderwysgebeure betrek word.
- Daar moet beter beheer oor onderwysers en leerplanne wees.
- Daar moet 'n beter verhouding wees tussen beskikbare onderwysers en leerlinggetalle.
Die onderskeie voorstelle of riglyne ter verbetering van die onderwys van plaasskoolleerlinge in
die Davel Landboudistrik, sentreer rondom die volgende konstituente:
- Ouerbetrokkenheid by die onderwys
- Onderwyseropleiding en -voorsiening.
- Onderwysfinansiëring en -fasiliteite.
- Skoolorganisasie en -administrasie.
- Sentralisering van skole.
- Gemeenskapbetrokkenheid by die onderwys.
  KOMMENTAAR
Indien die onderskeie voorstelle of riglyne ter verbetering van die onderwys van plaasskoolleerlinge
in die Davel Landboudistrik geïmplementeer kan word, kan dit sinvol bydra om die bepaalde
onderwyspraktyk te verbeter en te verfyn.
Die onderskeie voorstelle of riglyne is haalbaar indien daar 'n nouer skakeling tussen die
formele en nie-formele onderwysstelsels in die Davel Landboudistrik is. Laasgenoemde stelling
impliseer dat veral die betrokke gemeenskap (insluitende ouers en werkgewers) by die
onderwysgebeure betrokke moet raak.
Die sinvolle uitvoering en implementering van die onderskeie aanbevelings kan daartoe bydra dat
die leerder in die betrokke gemeenskap (RSA 1983:1):
- Sy of haar gegewe persoonsmoontlikhede in die nie-formele landboukundige arbeidsektor
kan verwerklik;
- Gemotiveerd en doelmatig 'n produktiewe bydrae kan lewer tot die verhoging van die eie
lewenstandaard en -kwaliteit, deur die skepping van ekonomiese welvaart; en
- 'n Realistiese beroepstoekomsverwagting in die betrokke landboukundige sektor sal
openbaar.
5.3   'N SENTRALE GEMEENSKAPSKOLLEGE IN DIE DAVEL LANDBOUDISTRIK
Uit die resultate van die vraelysondersoek, blyk dit dat 69% van die ondersoekgroep bereidwillig
was om 'n finansiële bydrae te lewer om 'n sentrale Gemeenskapskollege in die Davel Landboudistrik
te help stig.
Die stigting van 'n sentrale Gemeenskapskollege in die Davel Landboudistrik hou die voordeel in
dat alle nie-formele landboukundige onderwysaksies op 'n gesentraliseerde basis aan die betrokke
Kollege aangebied kan word.
Die feit dat 69% van die ondersoekgroep bereid was om 'n finansiële bydrae te lewer om 'n
sentrale Gemeenskapskollege in die Davel Landboudistrik te help stig, dui op 'n positiewe
gesindheid wat die betrokke werkgewers ten opsigte van nie-formele landboukundige onderwys
openbaar.
5.4   VERALGEMEENBAARHEID VAN DIE NAVORSINGS RESULTATE
Vir Landman (1988: 46) dui veralgemening op die proses van oorskryding van observasies wat op 'n
bepaalde tydstip gemaak is ten einde meer algemene uitsprake te maak.
Walizer en Wiener (1978: 430) lê veral klem op die veralgemening van navorsingsbevindinge met die
volgende beskouing: "The process of assuming that a relationship found to exist in the data
from a research sample would also exist in the data of the research population from which the
units of the sample have been drawn."
In die lig van die bostaande twee beskouinge kan die afleiding gemaak word dat indien die
navorsingsbevindinge van hierdie ondersoek op 'n wetenskaplike wyse verkry is, die betrokke
bevindinge algemene toepassingwaarde het vir soortgelyke en ooreenstemmende landbougemeenskappe
in die RSA.
Die implementering van die voorgestelde riglyne, kriteria en modelle kan daartoe bydra dat
leerders wat hulle in soortgelyke nie-formele landboukundige onderwyssituasies bevind se
produktiwiteitsvlak en lewenskwaliteit verhoog kan word, en dat ekonomiese groei daardeur in die
betrokke landboukundige gemeenskap gestimuleer kan word.
6.  SAMEVATTING
In hierdie ondersoek is werkgewers in die Davel Landboudistrik se gesindheid ten opsigte van
nie-formele onderwys verken aan die hand van 'n gestruktureerde vraelys.
Uit onder meer die resultate van die vraelysondersoek blyk dit dat die werkgewers in die Davel
Landboudistrik 'n positiewe gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys het.
LITERATUURLYS
- COOMBS, P H. 1968. The world educational crisis : a system analysis. Oxford University
Press, New York.
- KAHN, J E. 1990. Illustrated Reverse Dictionary. The Reader's Digest Association
Limited, London.
- LANDMAN, W A. 1985. Navorsingsprobleme en teikenpunte in die Nie-formele onderwys.
Navorsingseenheid: Nie-formele Onderwys, Universiteit van Pretoria, Pretoria.
- LANDMAN, W A. et al. 1987. Die navorsingsprogram vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
Perskor, Johannesburg.
- LANDMAN, W A. 1988. Navorsingsmetedologiese grondbegrippe. Serva Uitgewers, Pretoria.
- ODENDAL, F F. et al. 1981. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.
Perskor-Uitgewery, Johannesburg.
- PITTENDRIGH, A. 1985. Die RGN/NOR-Ondersoek na die Opleiding van Ambagsmanne in die RSA.
Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.
- REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA. 1983. Witskrif oor onderwysvoorsiening in die RSA.
Staatsdrukker, Pretoria.
- VAN DER STOEP, F. 1984. Non-formal education. Codex Publisher, Pretoria.
- WALLIZER, M H & WIENER, P L. 1978. Research methods and Analysis Searching for
Relationships. Harper and Row, New York.