- INLEIDING
'n Vraag wat ontstaan met die lees van die titel van hierdie ondersoek is die volgende: "WAT HET
DIE WERKGEWERS IN DIE DAVEL LANDBOUDISTRIK SE GESINDHEID MET NIE-FORMELE ONDERWYS TE MAKE?"
Op hierdie vraag kan soos volg geantwoord word: Indien die betrokke werkgewers 'n positiewe
gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys openbaar, kan laasgenoemde onderwysstelsel meer
doeltreffend en effektief in die totale onderwysbestel in die Davel Landboudistrik geïmplementeer
word.
Die antwoord op die betrokke vraag word duideliker indien die relevante basiese begrippe in die
oorkoepelende betiteling van die ondersoek verhelder of verduidelik word.
- BEGRIPSVERHELDERING
2.1  Werkgewer
Die HAT (Odendal et al. 1981: 1357) omskryf die begrip werkgewer as 'n persoon wat mense
in diens het, terwyl Fowler en Fowler (1964: 397) hierdie siening ondersteun met die
hieropvolgende beskouing: "keep (person) in one's service."
Vir doeleindes van hierdie ondersoek dui die terrein van diens op daardie werkgebiede in die
Davel Landboudistrik, Transvaal waar nie-formele onderwys 'n integrale rol speel in die opleiding
en voorsiening van laervlakmensekrag. Werkgewers impliseer verder dat dit persone in die Davel
Landboudistrik is wat plaaseienaars is.
2.2  Gesindheid
Volgens die HAT (Odendal et al. 1981: 275) dui die begrip gesindheid op 'n bepaalde
denkwyse of stemming.
Die Engelse woord vir houding is "attitude" wat in wese op die volgende neerkom:
"having a specified attitude or inclination towards something" (Kahn 1990 : 40).
Vir doeleindes van hierdie ondersoek is die begrip gesindheid gelykgestel met die begrip
houding. Hierdie gelykstelling hou die implikasie vir die ondersoek in dat daar gefokus is
op die gesindheid of houding wat werkgewers in die Davel Landboudistrik openbaar ten opsigte van
nie-formele onderwys. Coombs (1968: 47) beskou nie-formele onderwys as: "Any organized
educational activity outside the established formal system whether operating seperately or as an
important feature of some broader activity that is intended to serve identifiably learning
clienteles and learning objectives".
Van der Stoep (1984: vii) ondersteun die voorgaande omskrywing en beweer dat nie-formele onderwys
in wese neerkom op: "Any organized systematic educational activity carried on outside the
framework of the formal system to provide selected types of learning to particular subgroups in
the population, adults as well as children". Aansluitend hierby stel Pittendrigh (1985: 29)
nie-formele onderwys voor as: "Onderwys, behalwe die wat in die definisie van "formele
onderwys" beskryf is, wat op 'n gestruktureerde grondslag deur enige persoon, groep persone of
inrigting voorsien word".
Samevattend hou die voorgaande drie omskrywings die implikasie in dat nie-formele onderwys in die
Davel Landboudistrik binne die volgende konteks toegepas moet word, naamlik:
- As 'n beplande onderrig-leergebeure volgens die beleid van die werkgewer.
- Wat gerig is op die beginsels van praktiese, funksionele en werksgeoriënteerde landboukundige
onderwys.
- Wat plaasvind buite die raamwerk van die formele stelsels, naamlik die skool of ander
tersiêre opleidingsinrigtings en voltrek binne die arbeidskonteks in die landbousektor.
Teen die agtergrond van die onmiddellik voorgaande begripsverheldering is die volgende
navorsingsprogram gevolg om te bepaal wat werkgewers in die Davel Landboudistrik se gesindheid
ten opsigte van nie-formele onderwys is.
-  NAVORSINGSONTWERP EN -PROGRAM
3.1  Navorsingsveronderstelling
In hierdie ondersoek is van die basiese veronderstelling uitgegaan dat die privatisering en
uitbouing van veral die nie-formele landboukundige onderwys moontlik en haalbaar is, indien
werkgewers in die Davel Landboudistrik in die algemeen 'n positiewe gesindheid ten opsigte van
sodanige onderwysstelsel openbaar.
3.2  Doel met die navorsingsondersoek
Die primêre doelstellings met die onderhawige ondersoek was, eerstens om 'n wetenskaplike
deurskouing, beskrywing, uitleg en interpretasie van werkgewers in die Davel Landboudistrik se
gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys as 'n werklikheidsgebeure te gee.
3.3  Navorsingsuitgangspunte
Die onderskeie uitgangspunte wat in hierdie ondersoek gehuldig is, is die volgende:
- Dat die gesindheid van werkgewers ten opsigte van nie-formele landboukundige onderwys op 'n
wetenskaplike wyse geëvalueer moet word.
- Dat daar in die lig van die evalueringsuitkomste, praktiese wenke, implementeerbare riglyne
en modelle aanbeveel word, om die nie-formele landboukundige onderwyspraktyk in die Davel
Landboudistrik te verbeter en te verfyn.
- Dat die volgende konstituente die basis vorm vir die evaluering van werkgewers in die Davel
Landboudistrik se gesindheid ten opsigte van nie-formele onderwys, naamlik:
- die opleier;
- die nie-formele opleidingsprogramme;
- die gemeenskapsopleidingsinstelling (insluitend die nie-formele opleidingsbeleid, -filosofie,
-missie, -doelstellings, -doelwitte en die betrokke -kultuur van die instelling); en
- die leerder met sy besondere leerbehoeftes.
Na Deel 2