Professor W A Landman


Terug na lys van publikasies

NAVORSINGSMETODOLOGIE VIR
NIE-FORMELE ONDERWYS : LEWENSGEHALTE
DEEL 1


1. INLEIDEND

Wanneer daar gepraat word van die verbetering van lewensgehalte word daarmee te kenne gegee dat daar 'n verskil bestaan tussen huidige kwaliteit van 'n mens se wyse van bestaan en die verwagte en bereikbare standaard van lewensonderhoud.

Hierdie verskil word deur diegene wat daarby betrokke is beleef, en daardie instansies wat by magte is om iets aan die uitwissing van daardie verskil te doen, moet daardie verskil kan evalueer en strategieë ontwerp om dit so ver as wat moontlik is, uit te skakel. Dit beteken dat daar op navorsingsmetodologies-aanvaarbare wyse gegewens aangaande die geïdentifiseerde verskil ingesamel moet word. Met die ingesamelde gegewens as basis kan onder andere die volgende gedoen word:

  • beskrywing van die huidige toedrag van sake

  • observasie in die vorm van doelgerigte waarneming

  • sistematiese makroskopiese ondersoek om die bereikbare toestand aan die lig te bring

  • verifikasie van hipoteses ten aansien van die oorbrugging van die geïdentifiseerde afstand tussen wat is en wat behoort (en kan) wees

  • ontwerp van opleidingsprogramme met die kurrikula wat dit moet ondersteun.

In hierdie betoog gaan dit om nie-formele onderwys en word daar dus nie aandag gegee aan politieke en sosio-ekonomiese maatreëls wat getref kan word om die bestaansgaping te oorbrug nie, maar wel om onderwysstappe wat geneem kan word.

Die onderwysstappe wat geneem kan word, kan saamgevat word as reëlings wat getref moet word om persone se beroepsbeoefening-bekwaamheid met die hulp van geskikte opleidingsprogramme te verhoog sodat hulle aandele op die arbeidsmark 'n betekenisvolle styging kan toon. Ook: om die middele waaroor hulle beskik op doeltreffender wyse aan te wend.

Dit gaan hier nie om vas to stel welke onderwysmaatreëls getref moet word nie, maar om 'n navorsingsmetodologies verantwoorde bepaling van middele om die aktiwiteite uit te voer wat in die inleiding van hierdie paragraaf gelys is.

2.  METODES VIR DIE EVALUERING VAN LEWENSGEHALTEPROBLEMATIEK

2.1 Fenomenologiese analise

Ten einde betekenisvolle veranderlikes te identifiseer sal 'n eidetiese reduksie van die verskynsel lewensgehalte onderneem word. Essensies wat so aan die lig kom sal kan dien as waardevolle veranderlikes by die beskrywende navorsing en inhoudanalise wat in die voorgaande paragraaf net gesuggereer is.

2.2 Beskrywende navorsing

Beskrywende navorsing bestaan uit die versameling van gegewens met die doel om -

  1. hipoteses to verifieer; of

  2. vrae to beantwoord in verband met die huidige toedrag van sake met betrekking tot die onderwerp van ondersoek. 'n Deskriptiewe studie wil bepaal hoe 'n besondere aangeleentheid werklik is.

Voorbeelde van deskriptiewe studies is evaluering van gesindhede, opinies, toestande en prosedures.

Deskriptiewe versameling van gegewens bestaan meestal uit -

  1. vraelyste (questionnaires)

  2. onderhoude; en

  3. observasie.

Beskrywende navorsing verloop gewoonlik soos volg:

  1. Probleemkeuse

  2. Probleemformulering

  3. Literatuurstudie

  4. Probleemredusering

  5. Probleemklassifisering

  6. Probleemevaluering

  7. Hipotesevorming (waar nodig en moontlik)

  8. Steekproefseleksie en versameling van gegewens: Welke populasie beskik die beste oor die verlangde gegewens (data)?

  9. Bepaling van steekproef-omvang (grootte)

  10. Seleksie van die beste moontlike versamelingstegniek (vraelys, onderhoud, observasie); en

    Versigtige beplanning en uitvoering van die navorsing:

    1. Wanneer sal die geselekteerde tegniek toegepas word en hoe?

    2. Welke data-analise prosedure gaan aangewend word?

Beskrywende studie kan geklassifiseer word in terme van die wyse waarop data versamel word:

  1. Self-verslag

    Inligting word verkry van indiwidue deur byvoorbeeld gebruik te maak van vraelyste, onderhoude en gestandaardiseerde skale.

  2. Observasie

    Hier word indiwidue nie om inligting gevra nie. Die navorser verkry die verlangde gegewens op ander wyses, byvoorbeeld deur direkte waarneming (observasie).

  1. NAVORSINGSMETODOLOGIE VIR NIE-FORMELE ONDERWYS : LEWENSGEHALTE : VOORBEELDE VAN NAVORSINGSONTWERPE

    3.1 Evaluering van lewensgehalte (Tremblay, 1982:38-61)

    Indien lewensgehalte beskou word as die uitkoms van die wisselwerking tussen die objektiewe toestande wat in 'n bepaalde gebied bestaan en die subjektiewe belewing van die persone wat in daardie gebied woon, bestaan evaluering uit:

    • meting van die objektiewe toedrag van sake

    • bepaling van subjektiewe belewing.

    Objektiewe evaluering bestaan meesal uit die vasstelling van ekonomiese welvaart in terme van die bruto nasionale produk, verbruikersprysindeks en die medium van gesinsinkomste. Hedendaags word die volgende bygevoeg: misdaadstatistiek, behuisingsdigtheid, egskeidingsyfers, skolastiese prestasie saam met die kwaliteit van formele onderwys, besoedelingsvlakke, ensovoorts.

    Bepaling van subjektiewe belewing geskied deur 'n evaluering van houdinge (gesindhede), waardes, voorkeure, menings en doelwitte van mense.

    Om 'n duidelike beeld te kry, is dit nodig dat daar navorsing moet bestaan vir 'n evaluering van beide die objektiewe en die subjektiewe aanwysers (indikatore).

    Een van die grootste probleme wat bestaan by die meting van die objektiewe toedrag van sake ten aansien van lewensgehalte, is dat daar nie 'n toereikende prosedure bestaan om 'n oorsigtelike indeks te bepaal nie.

    Bepaling van subjektiewe belewing fokus op die beoordeling van sake soos geluk en satisfaksie (tevredenheid).

    Tremblay en sy medewerkers verwys nie na besondere navorsingsprosedures wat ingeskakel is nie, maar uit hulle sydelingse verwysings sal 'n mens tog kan aflei dat fenomenologiese analise en beskrywende navorsing waardevol mag wees wanneer navorsing oor lewensgehalte onderneem word.

    3.2  Sosiale aanwysers van lewensgehalte (Moberg, 1979:1-14)

    Navorsing ten aansien van sosiale aanwysers van lewensgehalte behels die versameling van gegewens om lewensgehalte indekse op te stel. Die indekse bevat gegewens aangaande selfmoorde, dwelmverslawing, jeugmisdaad, misdaad, alkoholisme, fisiese en geestesgesondheid, behuisingstoestande, parke en speelterreine, ensovoorts. Aanvullend hierby is subjektiewe bepaling van geluk, psigologiese welsyn en lewenstevredenheid.

    Die volgende benaderings tot lewensgehalte word deur Moberg onderskei:

    • die indiwidualistiese benadering wat sake soos die volgende beklemtoon: indiwiduele prestasie, beheersing van omstandighede, vermoë om terugslae to oorkom, vryheid van dwang en verwesenliking van indiwiduele doelwitte.

    • die transendentalistiese benadering wat die klem laat val op die komplementariteit van belangstelling en funksionering, die belangrikheid van solidariteit en die stel van gemeenskapsbelange bo indiwiduele belange.

    • die interaksionisties-fenomenologiese benadering wat lewensgehalte sien as 'n kontinue proses van wisselwerking tussen indiwidue en gemeenskap. Dit lei tot definisies van lewensgehalte in terme van die uitkomste van die wisselwerking ten aansien van finansies, tyd, vaardighede en sentimente, wat fenomenologies aangewend kan word.

    'n Probleem is die gebrek aan toereikende navorsingsprosedures vir die ontwikkeling van sosiale aanwysers. Wat navorsingsmetodologie betref, moet aandag geskenk word aan:

    • operasionele definiëring van die verskynsel geestelike welsyn wat kan dien as basis vir basiese navorsing;

    • die evaluering van omstandighede (toedrag van sake), programme en invloede wat moontlik kan bydra tot lewensgehalte;

    • religiositeit (insluitende die lewensopvatlike toedrag van sake).

    Daar bestaan 'n toenemende vraag na evalueringsnavorsing en vergelykende navorsing (vergelyking van subgroepe), terwyl die waarde van 'n "verstehende research approach" (p 5) aangevul met onderhoude en vraelyste, raakgesien moet word, met deurgaans 'n ingesteldheid op skerp definiëring.

    Uit die voorgaande kan nou die afleiding gemaak word dat fenomenologiese analise, beskrywende navorsing, inhoudanalise en evalueringsnavorsing pas by kennisuitbreiding en praktykverbeteringnavorsing ten aansien van lewensgehalte.

    3.3  Lewensgehalte : riglyne vir vraelys-ondersoeke (Dobriyanov, 1982:1-25; Mukherjee, 1981:855-1176)

    Dobriyanov onderskei tussen wyse van lewe en lewensgehalte. Laasgenoemde is 'n aspek van eersgenoemde. Menslike aktiwiteit begrond die wyse van lewe wat 'n sekere struktuur vertoon en 'n weerspieëling is van die kwaliteit van die alledaagse lewensaktiwiteite van mense en wat van belang is vir hulle verwesenliking as sosiale wesens. Daar bestaan verskeie indikators ten aansien van die wyse van lewe wat vir navorsingsdoeleindes as onafhanklike veranderlikes gehanteer kan word. Die afhanklike veranderlikes is die mate van ontwikkeling wat 'n wyse van lewe ondergaan het en wat verklaar moet word. Die onafhanklike veranderlikes bepaal die antwoorde op die vrae oor die struktuur en kwaliteit van die wyse van lewe; hulle het te make met dit wat aanleiding gee tot een of ander wyse van lewe.

    Geïdentifiseerde veranderlikes kan in 'n navorsingsprogram geld as indikators wat aangewend kan word as leidraad vir vraelyskonstruksie.

    1. Werkaktiwiteit

      1. Werklike betrokkenheid

          1.1  Implementering van werktake
          1.2  Kwaliteit van werk
          1.3  Werkdissipline
          1.4  Inisiatief in die werk

      2. Bewussynsbetrokkenheid

          2.1  Werk waarde-oriëntering
          2.2  Werkmotivering
          2.3  Werktevredenheid
          2.4  Gewilligheid en gereedheid vir werk

    2. Kulturele aktiwiteit

      1. Werklike betrokkenheid

          1.1  Toe-eiening van basiese kultuurbesit
          1.2  Skepping van kultuurbesit
          1.3  Selfvorming

      2. Bewussynsbetrokkenheid

          2.1  Kennis
          2.2  Waarde-oriëntering
          2.3  Motivering tot kulturele aktiwiteit
          2.4  Gewilligheid om deel to neem aan kulturele aktiwiteit
          2.5  Satisfaksie

    3. Alledaagse en Reproduktiewe aktiwiteit

      1. Werklike betrokkenheid

          1.1  Vlak van organisasie van die alledaagse lewe
          1.2  Vlak van organisasie van vryetydsbesteding
          1.3  Vlak van organisasie van gesondheidsorg
          1.4  Reproduktiewe gedraginge

      2. Bewussynsbetrokkenheid

        2.1  Motivering vir alledaagse reproduktiewe aktiwiteit
        2.2  Gewilligheid om moderne organisasiemetodes te implementeer in die alledaagse lewe en vryetydsbesteding
        2.3  Tevredenheid met die huidige organisasie van die alledaagse lewe

    4. Kommunikatiewe aktiwiteit

      1. Werklike betrokkenheid

          1.1  Vlak (intensiteit) van die aanwending van tegniese kommunikasie-media
          1.2  Intensiteit van die direkte kommunikasie
          1.3  Rigting van die kommunikasie (met wie)

      2. Bewussynsbetrokkenheid

          2.1  Inhoud van die kommunikasie
          2.2  Doelwitte van en motiewe vir die kommunikasie
          2.3  Gewilligheid en gereedheid vir kommunikasie
          2.4  Tevredenheid met kommunikasie.

    Hierdie is 'n besondere waardevolle stel veranderlikes wat in 'n verskeidenheid navorsingsprosedures aangewend kan word, soos byvoorbeeld vraelysondersoeke, die navorsende onderhoud, beoordelingskale en gevalstudies.

    Dit sal insiggewend wees indien die navorser hierdie stel indikatore (veranderlikes) aanwend om 'n huidige toedrag van sake to bepaal en daarna die ideale (maar bereikbare) toedrag van sake. Die gaping wat sodoende sigbaar word, kan dien as aanleiding tot

    • leerbehoefte-bepaling

    • ontwerp van opleidingsprogramme

    • kurrikulumevaluering met die oog op kurrikulumontwikkeling

    3.4  Lewensgehalte : hipotesevorming, skale, inhoudanalise (Gwynn, 1978:1-23)

    Gwynn het oortuigend aangetoon dat 'n aantal navorsingsprosedures gepaard met die daarby passende statistiese metodes, waardevol is vir navorsing oor die lewensgehalte van geselekteerde populasies:

    • Skerp hipotesevorming gee rigting aan die ondersoek. Sy hipotese was: lewensgehalte van 'n populasie varieer direk met die vlak van differensiasie en sentralisasie en omgekeerd met die vlak van rigiditeit van 'n sosiale sisteem.

    • Helder begripsverklaring en operasionalisering van begrippe dien as boustene vir 'n betoog: differensiasie dui op organisatoriese kompleksiteit; sentralisasie verwys na die mate van devolusie van gesag en rigiditeit beskryf die mate van geïsoleerdheid van 'n gemeenskap.

    • Vir die meting (evaluering) van die veranderlikes wat te make het met lewensgehalte is die konstruksie van skale belangrik. Hy het veral gebruik, gemaak van 'n reeks Guttmanskale ('n Guttman-skaal is h houdingskaal waarin die items gerangorden is volgens die aanvaarbaarheid daarvan volgens die algemene oordeel van 'n normgroep. (Gouws, 1979:111).

    • Inhoudanalise is 'n bruikbare evalueringsmetode. Gwynn het die relatiewe aantal artikels oor 'n bepaalde munisipaliteit in 'n belangrike koerant geneem as aanduiding van die sentraliteit daarvan. Die aantal artikels oor 'n periode van ses maande is getel om te bepaal welke aandag indiwiduele munisipaliteite gekry het.

    3.5  Lewensgehaltenavorsing vir bepaling van beleid (Milbrath, 1979:32-45)

    Milbrath beklemtoon dat lewensgehaltenavorsing moet steun op steeds helderder begripsvorming, wat gepaard gaan met die daarstelling van steeds doeltreffender navorsingsontwerpe. Objektiewe en subjektiewe gegewens moet met mekaar vergelyk word en gesinchroniseer word en die beleidmaker moet deeglik bewus wees daarvan dat subjektiewe belewing van lewensgehalte van fundamentele betekenis is. 'n Besondere navorsingshandeling sal wees om 'n behoeftebepaling to doen. Dit beteken dat 'n analitiese skema vir die kartering van menslike behoeftes, gemeenskapsbehoeftes en ekosisteem-behoeftes opgestel moet word. Anders gestel: om beleid te bepaal, is 'n behoefteverhelderinganalise nodig. Die volgende kartering van behoeftes word deur Milbrath as besonder waardevol beskou:

    Milbrath stel voor dat navorsers ook aandag moet skenk aan die bepaling van lewenstyl-voorkeure en dit kan gedoen word deur die inskakeling van skale: 'n valensieskaal kan die vlak van tevredenheid of ontevredenheid met 'n bestaande toedrag van sake bepaal. 'n Voorkeurskaal wat aan 'n persoon vra om vir homself voor te stel dat 'n sekere toedrag van sake van lae kwaliteit is en dan te vra hoe belangrik dit vir hom sal wees dat dit verbeter moet word sodat sy lewensgehalte kan verbeter. Die response kan deur middel van faktoranalise verdeel word in groepe wat in werklikheid stellings ten aansien van leefstylvoorkeure sal wees.

    Die navorser sal die lewensgehalte-veranderlikes wat deur Milbrath as waardevol geag word, op 'n verskeidenheid wyses in sy beskrywende navorsing kan aanwend soos byvoorbeeld as

    • items van 'n vraelys en onderhoudskedule

    • items van 'n semantiese differensiaal

    • items van ander houdingskale

    • temas vir gevallestudies

    • kategorieë vir inhoudanalises

    • handelinge vir fenomenologiese evaluering.

    Na Deel 2