1.  Inleiding
Die volgende vrae roep die navorsingsmetodoloog wat fenomenoloog is op tot onmiddellike
beantwoording:
- Wat is die betekenis van 'n fenomenologiese navorsingsopvatting vir dié ontwerp van
die navorsingsprogram?
- Welke navorsingsopvatting kan dien as effektiewe eksemplaar om te demonstreer dat 'n
navorsingsopvatting essensieel is vir die ontwerp van dié navorsingsprogram?
- Hoe lyk die navorsingsprogram wat ontwerp is op grond van 'n fenomenologies-verantwoorde
navorsingsopvatting?
Wanneer daar gepraat word van dié navorsingsprogram, moet daar onmiddellik gesê word wat
met dié bedoel word. In hierdie artikel word met dié bedoel, daardie
navorsingsprogram wat fenomenologies begrond en verantwoordbaar is. Met 'fenomenologies
begrond' word bedoel 'n program wat op grond van fenomenologiese voorwaardes moontlik is.
Met 'fenomenologies verantwoordbaar' word bedoel dat daar in die lig van fenomenologiese
voorwaardes rekenskap gegee moet word van die samestelling van die navorsingsprogram.
Indien daar aan fenomenologiese voorwaardes voldoen moet word, beteken dit dat die wesenskenmerke
van fenomenologiese in-die-wêreldwees verwerklik moet word. Om fenomenologies in die wereld te
wees is om bewustelik openbarend gerig te wees op die werklikheid self en om bewustelik
oop te staan vir wat daardie werklikheid van homself laat openbaar. Die navorsende
bewussyn is dan 'n bewuswees-van-syn, dus van teenwoordige essensialiteit (essensiële
kenmerke). Navorsende bewuste teenwoordigstelling geskied langs 'n beplande weg wat 'n
navorsingsprogram genoem kan word.
'n Analise van die betekenis van 'n bewussynsmatige ontmoeting met die werklikheid kan verwysinge
na die komponente van 'n fenomenologiese-begronde navorsingsprogram bevat. Hierdie hipotese sal
vervolgens geverifieer word.
2.  Bewussynsmatige begronding van die navorsingsprogram
Die bewussyn is die draer van werklikheid [E. Husserl (De Boer, 1966:425-426)] en daarom moet
die denker wat hom op een of ander wyse (byvoorbeeld navorsend) met die werklikheid waarvan by
bewus word wil bemoei, bewus word van die mag van die bewussyn (De Boer, 1966:426). Hierdie mag
is 'n konstituerende krag (De Boer, 1966:422) wat beteken dat iets as iets bewustelik raakgesien
(ervaar) kan word en dat skepping van iets nuuts as 'n bewuste vooruitgryping na die toekoms
moontlik word (Landgrebe, 1981:50-52). Die iets wat vir bewuste raaksien en ervaar teenwoordig
gestel kan word, is die essensiële kenmerke (basiese strukture) van verskynsels. In hierdie
verband dui fenomenologiese ervaring op 'n bewuste opmerksaamheid as 'n gerigwees op en oopstaan
vir (insig in) essensiële strukture van verskynsels, dus op die aan die lig bring van verborge
betekenisse (Dallmayr, 1973:133-166).
Navorsing is 'n besondere wyse van bewuste indink in verborge betekenisse met die oog op 'n
bewuste vooruitgryping na probleemoplossing. Navorserwees is bewuswees. Die vraag is waarvan moet
hy bewus wees sodat sy bewussyn 'n sinvolle navorsingsprogram aan die lig kan bring.
Die navorser is 'n lewende fokus wat bewustelik toelaat dat werklike essensialiteit (egte
betekenisse) verskyn. In die sin beteken bewussyn die openbaring (raaksien) van iets soos dit is
en is bewuste navorsende openbaring 'n blyke van die dinamiek van navorserwees (Scott, 1973:434)
en van die moontlikheid van 'n georganiseerde vooruitgryping na probleemoplossing langs die weg
van 'n verantwoordbare navorsingsprogram.
Uit die voorgaande oriëntering aangaande die bewussyn van die navorser, kan voorlopig afgelei
word dat die volgende as essensles van die bewussynstruktuur (van diee navorser) aanvaar kan word:
- Bewusword;
- bewuste opmerksaamheid;
- bewuste raaksien;
- bewuste indink;
- bewuste vooruitgryping.
Ander essensies van die bewussynstruktuur wat as betekenisvol na vore sal tree in die ligveld van
die betekenis van fenomenologie is:
- Bewuste verbeelding;
- bewuste verifikasie;
- bewuste logisering;
- bewuste sinvolle herhaling;
- bewuste selfevaluering.
In die volgende paragraaf sal hierdie essensies van die navorsende bewussyn nader omskryf word en
sal daar ook 'n poging aangewend word om uit sodanige beskrywing afleidings te maak aangaande die
komponente van die fenomenologies-verantwoordbare navorsingsprogram.
3.  Essensies van die navorsende bewussyn
3.1  Bewussyn as bewusword
Wanneer 'n navorser 'n geïdentifiseerde probleem bekyk, is daar byna onmiddellik 'n
aangetrokkenheid tot daardie probleem (en die moontlike oplossing daarvan en terselfdertyd 'n
oopstelling en 'n gevoelig word daarvoor). Indien dit nie die geval is nie sal die navorser
moeilik daartoe kom om entoesiastiese oplossing(s) vir die probleem te soek of om beplanning te
doen vir die probleemoplossing (Landman, Roos & Mentz, 1979:34). Sodra die navorser bewus word
daarvan dat hy met 'n aktuele probleem te make het waarvan die probleemoplossing sinvol sal wees,
sal hy hom algaande affektief kan inleef in die probleemoplossingsituasie en hom mettertyd
kognitief kan oriënteer ten aansien daarvan sodat entoesiastiese beplanning (programontwerp) aan
die gang gesit kan word. Bewuswording van die sinvol problematiese is dan voorwaarde daarvoor om
inisiatief te neem vir die ontwerp van die navorsingsprogram wat bevorderlik sal wees vir
probleemoplossing.
3.2  Bewussyn as bewuste opmerksaamheid
Die navorser se oorspronklike bewuswording van 'n aktuele probleem word geleidelik kragtig en
lewendig gerig op beplanning vir probleemoplossing. Daar is sprake van 'n doelbewuste
(probleemoplossing as doel) beweging na die inspanning wat toereikende programontwerp vereis.
Inspanningloosheid word verlaat deur 'n gewilligheid om oor te gaan tot effektiewe programontwerp.
Programontwerp is nie bloot 'n interessante speletjie nie, maar moet met inspanning uitgevoer
word. Beweging na inspanning moet doelbewus wees. Dit beteken vir die navorser dat hy op besliste
en opsetlike wyse moet beplan.
Die navorser sit met sy programontwerp handelinge aan die gang wat gemik is daarop om 'n
besondere doel te bereik, naamlik probleemoplossing. Sekere maatreëls word getref om iets
betekenisvol te verwerklik. Die navorser wie se bewuste opmerksaamheid gewek is weet dat 'n
kragtige en bedrywige deelname aan programontwerp van hom verwag word. Hy moet maatreëls tref om
probleemoplossing moontlik te maak en 'n besondere maatreël is skerp programbeplanning.
Die opmerksame navorser is ingestel op die 'sien' van 'n program waarvolgens hy sy
probleemoplossing kan ontwerp. Vanweë sy betrokkenheid by die geïdentifiseerde probIeem en die
oplossing daarvan verskerp sy sien tot kyk en skou (raaksien) van spesifieke navorsingstappe wat
gevolg behoort te word.
Die navorser se intensiewe gemoeidwees met die identifikasie van sinvolle navorsingstappe lei tot
'n verantwoordbare seleksie van daardie stappe, toekenning van 'n spesifieke plek aan elke stap
en bewustheid van die betekenis van elke stap op daardie plek wat aan hom in 'n navorsingsprogram
toegeken is. Die persoonlike betekenis (betekenis-vir-my as navorser) van elke stap in die
navorsingsverloop moet affektief en kognitief aanvaar word. Soos die navorser se ervaring met
programontwerp toeneem, sal veral 'n meer entoesiastiese en kragtige gemoeidraak met
probleemoplossing duidelik word. 'n Gevoeligheid vir die sistematiese, 'n wakkerheid vir
probleemoplossingsmoontlikhede, 'n gretige wil opspoor van die effektiefste navorsingsprosedures
en 'n wil om toereikend te beplan, is almal aanduidinge van die navorser se bewuste
opmerksaamheid. Deur bewuste opmerksaamheid word die navorsingsprogram in die brandpunt van die
aandag geplaas.
3.3  Bewussyn as bewuste raaksien
In sy programontwerp gaan die navorser toepaslike navorsingstaal (terminologie) aanwend. Sodra
taal aangewend word, word 'n aanvang geneem met die rangskikking, afgrensing, organisasie en
ordening van navorsingstappe en wel op so 'n. wyse dat daar met die moontlike probleemoplossing
rekening gehou word. Die vrae is: welke probleemoplossingstappe word as moontlik effektief
raakgesien? Welke plek word vir elke stap raakgesien en wat is die navorsingsbetekenis van elke
stap waarvoor 'n plek raakgesien is? Hier is sprake van beginnende ordening deur die navorser.
Deur elke navorsingstap te benoem (taalbeskrywing) word dit duidelik afgegrens van ander stappe
en word die identiteit daarvan geopenbaar (Sonnekus & Ferreira, 1986:118-119).
Die navorser wat bewustelik (opsetlik) probeer raaksien welke navorsingstappe 'n betekenisvolle
plek in sy navorsingsprogram verdien, berei vir homself die weg voor om met werklikhede (die
geïdentifiseerde probleem en die oplossing daarvan) soos dit is in aanraking te kom. Om
bewustelik raak te sien beteken om iets (hier: die navorsingsprogram en wat dit beoog)
teenwoordig te stel soos dit is (Waldenfels, 1973) en moet wees. Die navorser neem in sy
navorsingsontwerp verantwoordelikheid op vir die soeke na stappe (prosedures) en ook vir die
gehalte van sy soektog. Dan ontstaan daar geleidelik 'n 'struktuur van bekendheid' (E. Husserl)
(Waldenfels, 1973). Dit beteken onder andere dat essensieblindheid wat lei tot kragteloosheid,
teenstand en weerstand, uitgeskakel word. 'n Essensiebewustheid moet gedy en dit kom reeds sterk
op die voorgrond met effektiewe programontwerp. Bewuste raaksien deur die navorser is ingestel op
die aan die lig bring van die essensiële en 'n wegdink van die nie-essensiële ten aansien van die
navorsingsprogram.
'n Heldere bewustheid by die navorser dat daar nou gevorder moet word in die rigting van die
daadwerklike navorsingsverloop, tree te voorskyn. Daar is sprake van 'n doelbewuste beweging in
die vorm van 'n gereedmaking vir daadwerklike navorsingshandelinge. Hierdie gereedmaking
impliseer dat die navorser se vraende bewussyn gewek word. Sy vraende ingesteldheid kom in
beweging. Hy vra onder andere na plek en betekenis ten aansien van navorsingshandelinge (stappe)
wat deur hom geselekteer is as boustene van sy navorsingsprogram.
3.4  Bewussyn as bewuste indink
Die navorser het tot dusver tentatief beplan ten aansien van die prosedures (stappe) wat sy
navorsingsprogram gaan uitmaak. 'n Verdere stap wat vervolgens moontlik word, is 'n meer
geïntensiveerde gerigtheid op die geselekteerde navorsingstappe as besondere probleem. Die
probleem hier is die vraag na die motivering waarom aan 'n spesifieke stap 'n plek toegeken gaan
word in die navorsingsprogram. Die navorser stel homself in 'n vraende ontmoeting met elke
geselekteerde stap en die posisie daarvan in die navorsingsprogram. Daar moet deurgebreek word na
die essensiële van elke stap. Die essensie van elke stap word gesoek en geopenbaar en dit vereis
van die navorser 'n uitskakeling van essensieblindheid. Hy moet deur bewustelike indink betrokke
raak by die evaluering van die navorsingstappe wat hy geselekteer het vir sy navorsingsprogram.
Dit beteken dat hy
LIselfbeoordeling toepas.
Die mens (ook die navorser) is 'n wese wat aan homself verskyn (M. Heidegger). Die navorser se
verskyning aan homself geskied op intensiewe wyse deur selfbeoordeling. Dit is belangrik dat hy
die gehalte van sy deelname aan sy navorsingsprogram sal kan beoordeel. Hy moet in die besonder
daarteen waak om die weg van die minste weerstand te kies.
Die navorser wat ingestel is op bewuste indink vra na die sin van dit waarmee hy besig is en gaan
wees en hy soek na sinvolle antwoorde. Hy moet met helderheid onder die indruk kom van die sin
van elke navorsingshandeling waarop hy besluit het. Dit geskied onder andere as hy helderheid het
aangaande die plek en betekenis wat aan elke navorsingstap in sy navorsingsprogram toegeken
behoort te word.
Die navorser wat bewustelik wil indink sal 'n uitleg moet kan gee van elke navorsingstap wat hy
in sy program opgeneem het. Dit geskied deur ten aansien van elke stap die hermeneutiese vraag
(Landman, et al., 1979:8-9) te vra: waartoe dien hierdie besondere stap? Watter sin is
daar in elke stap in terme van die bydrae wat dit kan maak tot probleemoplossing?
"n Besondere uitkoms van bewuste indink deur die navorser, is dat sy aanvanklike ordening van
navorsingstappe nou kan intensiveer tot 'n verskerpte ordening. Skerp geordende navorsingstappe
roep op tot handeling en verkry daardeur gesag (Brand, 1971:477). Op gesag van verskerpte
ordening kan daar navorsend gehandel word. Die navorser moet gemotiveerde ordering as
behoorlikheidseis aanvaar en dit vereis onder andere van hom verantwoording van plek- en
betekenistoekenning van elke stap (handeling) in sy navorsingsprogram sodat hy die
afkeurenswaardigheid van ongeordendheid skerp kan beleef.
3.5  Bewussyn as bewuste vooruitgryping
Aansluitende by 'n bestaande kennisbesit kan die navorser op grond daarvan vir homself iets
voorstel (Minkowski). Hierdie voorstelling (as vorm van vooruitgryping) het dan sy ontstaan in
die werklikheid (bestaande kenniswerklikheid). Vanuit 'n bestaande werklikheid (wat die navorser
byvoorbeeld kan opbou deur literatuurstudie) kan daar iets nuuts bygevoeg word wat nie in die
bestaande kenniswerklikheid eksplisiet bestaan nie (Lersch, 1966:412 ev). Vir die navorser kan
bewuste vooruitgryping beteken dat dit sinvol sal wees hom te bemoei met 'n hipotese-ervaring
wat werklikheid verwagte antwoorde is op reeds gestelde sinvolle vrae (as probleemstelling).
Langs die weg van vooruitgryping kan die navorser sy bestaande kennisbesit oorskry en homself
verplaas in 'n toekomstige toedrag van sake. Die vooruitgrypingshandeling in die vorm van
hipotesevorming (moontlike probleemoplossing) is tan 'n wyse om deur te breek na die toekoms toe.
Die navorser moet verantwoording doen aangaande die plek en betekenis wat by gaan toeken aan
hipotesevorming as betekenisvolle aspek van sy navorsingsprogram.