Professor W A Landman


Terug na lys van publikasies


FENOMENOLOGIESE BEGRONDING VAN
DIE NAVORSINGSPROGRAM
DEEL 2


3.6  Bewussyn as bewuste verbeelding
Die navorser kan vir homself 'n verbeeldingswêreld skep waarin hy 'n bestaande toedrag van sake (situasies) varieer (De Boer, 1966: 487-494) ten einde vas te stel wat met daardie sake (aangeleenthede, situasies) sal gebeur indien een of meer essensiële kenmerke daarvan geïgnoreer word. Die nie-ignoreerbare besit die moontlikheid om 'n betekenisvolle deel uit te maak van die eventuele probleemoplossingsprogram. Op die wyse is die navorser se verbeeldingswêreld kan 'n produktiewe wêreld (E. Husserl) waarin hy kreatief kan optree. Hy kan hom skeppend indink en inleef in toekomstige moontlike situasies (probleemoplossingsprogramme) waarvan essensiële aangeleenthede gevarieer word en selfs die kontradiksies daarvan geëvalueer kan word.

3.7  Bewussyn as bewuste verifikasie
Essensiële werklikhede (essensies) wat gekeur is in terme van die moontlike betekenis daarvan vir probleemoplossing en die program om dit te bereik, se praktykgehalte moet deur die navorser geverifieer word. Dit is so want die navorser met sy navorsingsprogram is op pad na praktykverbetering. 'n Besondere wyse om hierdie verifikasie wat eintlik empiriese verifikasie is te voltrek, is die inskakeling van empiriese prosedures in die navorsingsprogram. Die inskakeling moet geregverdig kan word in terme van:

  • Hipotese-motivering vir die inskakeling daarvan. Met ander woorde, is daar spesifieke hipoteses wat kan dien as redes vir die inskakeling van 'n prosedure wat daardie hipotese op die doeltreffendste wyse kan toets?
  • sal daar deur die inskakeling van so 'n prosedure in die navorsingsprogram 'n betekenisvolle perspektief op die essensiële aangeleenthede wat as bruikbaar vir probleemoplossing geidentifiseer is, verkry kan word?

Die navorser sal verslag moet lewer aangaande die plek en betekenis wat hy toeken aan elke empiriese prosedure wat hy in sy navorsingsprogram wil insluit. Die doel van hierdie verslaggewing is om te verseker dat 'n empiriese navorsingsprosedure nie ingeskakel word op grond van betwisbare redes nie, byvoorbeeld omdat dit beskikbaar is, omdat die aanwending daarvan maklik is en omdat die navorser 'n besondere geneentheid vir die spesifieke prosedure het.

3.8  Bewussyn as bewuste logisering
Die navorser moet denkend kan verwoord en daar word van hom verwag om dit formeel en sistematies te doen. Om formeel denkend te verwoord is om aan die denke se verloop 'n besondere vorm te gee om daardeur blindheid of onverskilligheid teenoor die essensiële uit te skakel.

Een wyse om vorm aan die denke (indink en ook denkende inleef in die werklikheid) te gee, is om te logiseer. Met logisering word die aanwending van logiese reëls bedoel en hier word verwys na die reëls van die formele sowel as die informele logika.

Die navorser wat formeel wil logiseer tydens die verloop van sy navorsingsprogram, wend die beginsels van die formele logika aan op die plek waar dit die meeste effek kan hê.

Wanneer daar verwys word na plek, beteken dit vir die navorser 'plek in 'n program'. Programontwerp impliseer dan ook plekbepaling (en daarmee betekenisbepaling). Plek- en betekenisbepaling berus in 'n groot mate op 'n opvatting van die navorser aangaande die betekenis van logika en logiese verifikasie. Die logika ondersoek uitsprake ten einde te bepaal of dit 'n ordelike samehang vertoon. Logika is die kuns om wetenskaplik juis (korrek) te oordeel (Brentano, Husserl) deur die aanwending van die wette van die logika wat in werklikheid 'n wesenswetenskap is, dus 'n eidetiese wetenskap (wetenskap vanweë wesensanalise).

Logiese verifikasie (Landman, 1983: 126) beteken dat vasgestel moet word of stellinge op logies-bevredigende wyse, dit wil sê in ooreenstemming met logiese beginsels gestel is:

  1. Die identiteitsbeginsel: Dit behels die verpligting om aan die begrippe wat gebruik word, deurgaans dieselfde betekenis toe te ken sodat daar sprake kan wees van konstantheid van denke. Die begrippe wat aangewend word het 'n konstante inhoud. Die beginsel vereis dus 'n begripsensiwiteit. In die navorsing is 'n afdeling oor begripsverheldering essensieel.
  2. Die teenspraakbeginsel: Dit beteken dat daar nie oor dieselfde onderwerp twee teenstrydige uitsprake gemaak mag word nie. Die navorser moet weet dat ook in praktiese situasies twee teenstellende handelinge mekaar uitsluit. Slegs een van hierdie twee handelinge sal kan lei tot egte praktykverbetering.
  3. Die beginsel van voldoende rede: Dit beteken dat daar met betrekking tot elke stelling die vraag 'waarom' beantwoord moet kan word. Voldoende rede daarvoor moet aangedui kan word. Vir die navorser beteken dit dat geen stellinge gemaak mag word (hier: in verband met verbeterde praktyk) wat nie steun op daaraan voorafgaande gegewens nie.

3.9  Bewussyn as bewuste sinvolle herhaling
Die navorser sal 'n stadium in die uitvoering van sy navorsingsprogram moet bereik wanneer hy sal vra na dit wat as werklik betekenisvol (dit wil sê as sinvol vir probleemoplossing) na vore getree het. Wat so pas gesê is, beteken dat hy 'n oorsig sal moet skryf. 'n Oorsig is in werklikheid 'n essensie-verslag (verslag van essensiële aangeleenthede) wat geskryf word vanuit 'n probleemoplossingperspektief. Die oorsig vorm die fondament vir

  • die maak van gevolgtrekkings;
  • die doen van aanbevelings.

Gevolgtrekkings en aanbevelings is besondere vorme van herhaling: dit is konklusies en voorstelle wat essensiële aangeleenthede verwoord.

'n Besondere voorwaarde vir die herhaling wat deur die oorsig, gevolgtrekkings en aanbevelings geïmpliseer word, is dat dit sinvol moet wees. Op grond waarvan kan daar gesê word dat die drie herhalingswyses 'n sinvolle plek in 'n navorsingsprogram verdien? Kan herhaling wel sinvol wees? Die mens (dus ook die navorser) is 'n wese wat geneë is tot sinvolle herhaling. Dit beteken dat hy daartoe in staat moet wees om die werklikheid te ontmoet en in te dring daarin (onder meer werklikheid soos dit verwoord is in die vorm van 'n navorsingsprobleem) en om dan die essensiële daarvan met die oog op toekomstige aanwending (byvoorbeeld in die vorm van gevolgtrekkings en aanbevelings met probleemoplossingbetekenis) daarvan raak te sien. Die mens (en by uitstek die navorser) is verder daartoe instaat om die essensiële te skei van die nie-essensiële en om nuwe onderlinge verbande (byvoorbeeld die verband tussen gevolgtrekkings aanbevelings en probleemoplossing) raak te sien, dit wil sê om betekenisse vir die toekoms in sig te kry. In die sin beteken sinvolle herhaling (M. Heidegger: Wiederholung) (Heidegger, 1963: par 68, 74) dat die denkende mens (navorser) as toekomsgerigte wese dit wat vir hom as die essensiële bekend geword het (deur die navorsing) in 'n oorsig kan skei van die nie-essensiële en aanwend in nuwe situasies (die sin van aanbevelings). Sinvolle herhaling in die navorsende oorsig, gevolgtrekkings en aanbevelings is 'n besondere wyse waarop toekoms ontwerp word en wel 'n toekoms waarin betekenisse wat deur navorsing verwerf is, toegepas kan word vir praktykverbetering.

3.10  Bewussyn as bewuste selfevaluering Die navorser staan as persoon met sy navorsingsprogram in die operasionele gebied van die navorsing, dit wil sê hy staan daar in die brandpunt waar 'n navorsingsprogram ontwerp en aangewend moet word. Om as persoon in enige situasie te staan beteken om daar te staan as aangesprokene, as iemand wat rekenskap moet gee.

Die navorser word tot verantwoording geroep ten aansien van vereistes waaraan hy as navorsende persoon moet voldoen. Dit is maklik om raak te sien dat besondere vereistes wat hy moet nakom, daardie eise is wat direk spreek uit die navorsingsprogram wat hy ontwerp het, aangesien die navorsingsprogram 'n program is wat ontwerp is op grond van die wetenskaplike insigte waaroor die navorser beskik. Sodanige insigte is byvoorbeeld die navorser se wetenskapbeskouing en die daaruit voortvloeiende navorsingsopvatting. Die navorsingsopvatting weerspieël die navorser se beskouing aangaande die plek wat aan navorsingsprosedures (stappe) toegeken moet word sodat die outentieke betekenis daarvan op die doeltreffendste wyse verwerklik kan word.

Twee besondere kriteria wat die navorser aanwend om homself as navorsende persoon met 'n besondere wetenskapsbeskouing en navorsingopvatting te beoordeel is die van wetenskaplike noodwendigheid en lewensopvatlike toelaatbaarheid. Die rasioneel geregverdigde eis (kriterium) van voldoening aan wetenskaplike vereistes (wat moet spreek uit die ontwerpte navorsingsprogram) vorm 'n lewende sintese met die bo-rasionele eis om die lewensopvatlike toelaatbaarheid van navorsingsprosedures. Die affektiewe aandrang op lewensopvatlike keuring van navorsingshandelinge kan dien as skeppende vernuwing daarvan deur die inskerping van verantwoordelikheid (Landman, 1980: 25).

Summary
By 'phenomenologically grounded' is meant a research programme that is possible on the grounds of phenomenological pre-conditions. By 'phenomenologically accountable' is meant that the composition of the research programme has to be accounted for in the light of phenomenological pre-conditions.

If phenomenological pre-conditions are to be met, it means that the essential features of phenomenology have to be realized. To practise phenomenology is to be conciously revealingly directed at the reality itself and to be consciously open for that which that reality reveals or discloses of itself. The researching consciousness is then a being conscious of being, thus of present essentiality (essential features/characteristics). Researching consciously to be present occurs in a planned way which can be described as a research programme.

An analysis of the meaning of consciously encountering reality can contain references to the components of a phenomenologically grounded research programme.

The consciousness is the bearer of reality (E. Husserl) and therefore the thinker who wants to, in one way or another (for instance by research), concern himself with the reality of which he becomes aware, must become conscious of the power of the consciousness. This power is a constituting power which means that something can be consciously recognized (experienced) as something and that the creation of something new as a conscious reaching out to the future, becomes possible. That something that can be brought to light for conscious perception and experience is the essential feature (basic structure) of appearance. In this regard phenomenological experience denotes a conscious attentiveness as being directed at and an openness for (insight into) essential structures of appearances, thus denoting bringing to light concealed meanings.

Research is a particular way of consciously entering into hidden or concealed meanings with a view to a conscious reaching out to problem solving. Being a researcher is a particular way of being conscious. The question is: of what must the researcher be conscious (aware) so that his consciousness can bring to light a meaningful research programme?

The researcher is a living focus that consciously allows real essentiality (true meanings) to appear. In this sense consciousness means the revealing or disclosure (recognition) of something as it is. Conscious researching disclosure is a token of the dynamism of being a researcher and of the possibility of an organized reaching ahead to problem solving by way of an accountable research programme.

From the aforementioned orientation regarding the consciousness of the researcher, it can be derived that the following can be accepted as essences of the consciousness structure (of the researcher):

  • Becoming aware (of a problem that has to be solved in a planned way);
  • conscious attentiveness (of the place and meaning of each step in the research programme);
  • conscious recognition (of the steps that form the research programme);
  • conscious entering into (with a view to how best to order the research steps);
  • conscious reaching out (as the formulation of sharp hypotheses); conscious imagination (as a preview of the effectiveness of the designed research programme);
  • conscious verification (engaging empirical methods); conscious logic act (applying formal logic);
  • conscious meaningful repetition (writing a review/summary, conclusions and recommendations);
  • conscious self-evaluation (evaluating whether research has been done in accordance with scientific and philosophy of life requirements).

Verwysings

  • Brand, G. 1971. Die Lebenswelt. Berlyn: Gruyter.
  • Dallmayr, F.R. 1973. Phenomenology and Social Science. In: Carr, D. & Casey, E.S. Explorations in Phenomenology. The Hague: M. Nijhoff.
  • De Boer, T. 1966. De ontwikkelingsgang in het denken van Husserl. Assen: Van Gorcum.
  • Heidegger, M. 1963 (Tiende Druk). Sein and Zeit. Tïbingen: Niemeyer.
  • Landgrebe, L. 1981. The Phenomenology of Edmund Husserl. London: Cornell University Press.
  • Landman, W.A., Roos, S.G. & Mentz, M.J. 1979: Fundamentele Pedagogiek, leerwyses en vakonderrig. Durban: Butterworth.
  • Landman, W.A. (red.). 1980. Inleiding tot die opvoedkundige navorsingspraktyk. Durban-Pretoria: Butterworth.
  • Landman, W.A. (red.) 1983. Navorsingsmetodologie vir onderwysstudente. Durban-Pretoria: Butterworth.
  • Lersch, P. 1966. Algemene Psychologie. Utrecht: Aula Boeken.
  • Scott, C.E. 1973. Existence and Consciousness. In: Carr, D & Casey, E.S. Explorations in Phenomenology. The Hague: M. Nijhoff.
  • Sonnekus, M.C.H. & Ferreira, G.V. 1986. Die psigiese lewe van die kind-in-opvoeding. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers.
  • Waldenfels, H. 1973. Wahrnehmung. In: Handbuch philosophischer Grundbegriffe. 1974. 6. Kösel.