Professor W A Landman


Terug na lys van publikasies

LEIDING AAN MAGISTER EN DOKTORALE STUDENTE
(EEN MOONTLIKE MODEL)
DEEL 2

3.

    EERSTE WERKGESPREK MET LEIER/PROMOTOR

    Doel van die gesprek

3.1

    Eerste doelwit:

    Kontrole van die student se

  • begrip van die wetenskapsbeskouing ten aansien van die navorsing wat hy gaan onderneem;

  • literatuurlys wat opgestel is.

3.2

    Tweede doelwit . . . . Probleemstellingstudie

Om die onderwerp (dit wil sê die doel van die studie) in probleemvorm te herskrywe sodat:

  1. 'n vraagbewussyn by die student gewek kan word;

  2. Aan die eise van die wetenskapsbeskouing voldoen kan word; en

  3. om dan oor die betekenis van 'n probleemoplossing te besin.

Stappe

3.2.1 Stel die onderwerp in vraagvorm.

3.2.2 Verdeel die vraag in soveel vrae as moontlik (Vraagverfyning). Gewoonlik geskied dit deur met elke sleutelwoord in die eerste probleemformulering (3.2.1) 'n vraag te formuleer. Telkens verskyn dan nuwe sleutelwoorde wat tot verdere vraagverfyning lei.

3.2.3 Die korter vrae moet herskryf word (of getoets word) om aan die volgende vereistes te voldoen.

  1. elke vraag moet met iets wat werklik is, te make hê, en

  2. elke vraag moet skerp gerig wees op 'n enkele aspek van die werklikheid (dit wil sê soos dit as probleem geformuleer is).

3.2.4 Rangskik die vrae sodat vrae wat oor dieselfde werklikheidsaspek gaan saam gegroepeer word (Vraagordening).

3.2.5 Die student kry die volgende opdrag: Bestudeer die probleemstellings uit 'n aantal (deur die leier/promotor bepaal) publikasies uit die lys wat in par. 3 vermeld is. Die ideaal is dat die probleemstellings in al die beskikbare publikasies bestudeer sal word.

Hierdie opdrag kan effektief aan die hand van die volgende tabel uitgevoer word.

TABEL 4

Probleemstelling

A
B
C
D
E
Eie (bestaande) verfynde probleemstelling. Ooreenstemmende vrae wat gevra word. Vrae wat ontoereikend gevra is. Bykomende betekenisvolle vrae wat gevra word. Sintese
  Noem skrywer, publikasie en bladsynommers. Motiveer kortliks. Noem die vrae met verwysing. In die lig van A, B, C, en D word finale vrae opgestel.

Die doel met so 'n tabel is om te verseker dat die student oor 'n stel vrae sal beskik wat die moeite werd sal wees om te beantwoord, veral in die lig van:

  1. uitbreiding van kennis (die Universiteit verwag van die student om 'n bydrae te maak tot kennisuitbreiding); en

  2. praktykverbeteringsbetekenis (gewoonlik die verwagting van die instansie wat die navorsingsfondse voorsien).

Deur die gesprek word die student gehelp om vervolgens verder te handel met kolom E.

E.1  Orden die vrae en voorsien elke groep met 'n paslike opskrif. Hierdie opskrifte sal 'n eerste stel hoofstukke en/of paragraafopskrifte vorm wat in werklikheid 'n gedeelte van die program van die verhandeling/proefskrif uitmaak.

E.2  Om in die lig van E die probleemstelling vir die verhandeling/proefskrif te skryf, waaruit ook moet blyk waarom dit betekenisvol sal wees indien die probleem opgelos kan word.

Dit kan ook waardevol wees om in die inleiding tot die verhandeling/proefskrif 'n paragraaf in te voeg met die opskrif: Konteks van die probleem (Tuckman, B.W., Conducting educational Research. Second edition 1978 310-311 Harcourt Brace Jonanovich New York). Dit beteken dat die agtergrond van die probleem geskets word (byvoorbeeld historiese aanloop). Die idee is om aan te toon hoe verskillende outoriteite met die onderhawige probleemveld bemoeienis gemaak het. Onder die opskrif kan daar ook verduidelik word waarom die onderhawige probleem hedendaags aktueel geword het.

3.3  Derde doelwit: Hipotesevormingstudie

Die leier/promotor maak seker dat die student goed begryp wat met hipotesevorming bedoel word en wat die sin daarvan is.

Hy wys verder daarop dat hipoteses nie altyd duidelik gestel word nie, maar slegs verborge (implisiet) in die teks en in die titel van 'n publikasie vervat is. In die geval sal die student die betrokke hipotese(s) eksplisiet moet maak.

Die hipotesevormingstudie sal aan die hand van 'n soortgelyke tabel as tabel 4 onderneem kan word.

Die student kry opdrag om vir die volgende werkgesprek probleemstelling- en hipotesevormingstudie ten aansien van die gekose navorsingsonderwerp te onderneem. Die volgende leidraad kan vir die student rigting gee vir die bestudering en beskrywing van sy probleemstelling en hipotesevorming:

TABEL  5

Probleemstelling

2
3
4
5
6
Probleemkeuse Probleemformulering Probleemredusering Probleemklassifisering Probleemevaluering
  1. Vraag-seleksie
    Vrae waarvan die antwoorde waardevol sal wees, word uitgekies.
  1. Vraag-stelling
    Tersaaklike en verstaanbare vrae word neergeskryf.
  1. Vraag-verheldering
    Elke vraag word in verdere korter vrae verdeel.
  1. Vraag-ordening
    Vrae wat verband het met mekaar word saamgegroepeer.
  1. Vraag-beoordeling
    Dat die kwaliteit van die vrae getoets moet word, word aanvaar.
  1. Vraag-belangstelling
    Vrae wat aandag en nuuskierigheid wek word uitgesoek.
  1. Vraag-betekenis
    Die betekenis van elke woord in die vraag moet duidelik wees.
  1. Vraag-konkretisering
    Elke vraag moet met iets wat werklik is, te make hê.
  1. Vraag-sinvolheid
    Bevorder die groepering van vrae radikale tot (tot by die wortel) vrae?.
  1. Vraag-kritiek
    'n Kritiese (skerp beoordelende) ingesteldheid teenoor die kwaliteit van die vrae, oorheers.

TABEL  6

Hipotesevorming

Hipotese-keuse
Hipotese-formulering
Hipotese-redusering
Hipotese-klassifisering
Hipotese-evaluering
  1. Antwoord-seleksie
    Antwoorde (oplossings) wat met behulp van navorsingsprosedures toetsbaar is, word verkies.
  1. Antwoord-stelling
    'n Werklikheidsgetroue antwoord(e) word in verstaanbare taal neergeskryf.
  1. Antwoord-verheldering
    Elke hipotese word in sub-hipoteses verdeel.
  1. Antwoord-ordening
    Hipoteses wat voorlopige antwoord(e) is op geordende vrae, bly bymekaar gegroepeer.
  1. Antwoord-beoordeling
    Die kwaliteit van die voorgestelde antwoorde word aan die hand van die opvoedingswerklikheid self beoordeel.
  1. Antwoord-belangstelling
    Navorsingsprosedures wat aandag trek en aanspoor tot die gebruik daarvan word ingeskakel.
  1. Antwoord-betekenis
    'n Hipotese is 'n stelling waarvan mens presies weet wat die woorde waarin dit geformuleer is, beteken.
  1. Antwoord-konkretisering
    Elke antwoord moet slegs te make hê met die vraag wat daartoe aanleiding gegee het en alle bykomstighede moet vermy word.
  1. Antwoord-sinvolheid
    Die betekenis wat die voorgestelde antwoord (oplossing) mag hê vir sinvolle praktykverbetering, staan voorop.
  1. Antwoord-kritiek
    'n Kritiese self- en intersubjektiewe bekyking van die toetsbaarheid van die voorgestelde oplossings is 'n moontlikheidsvoorwaarde vir probleemoplossing.

4.

    TWEEDE WERKGESPREK MET DIE LEIER/PROMOTOR

    Doel van die gesprek

4.1

    Eerste doelwit:

Bespreking van die student se probleemstelling en hipotesevorming wat vooraf vir spoedige nasien aan die leier/promotor oorhandig is.

Dié bespreking geskied in die lig van

  • die tersaaklikheid en duidelikheid van die probleemstelling en hipotesevorming; en

  • die wetenskapsbeskouing.

4.2

    Tweede doelwit:

Bespreking van program vir probleemoplossing (hipotesetoetsing)

Stap I:  Evaluering

Die derde fase van die literatuurstudie bestaan uit 'n evaluering van die probleemoplossingsmetodes (eksposisies) wat aan die hand gedoen word.

Die regverdiging van die onderhawige navorsing is om ten aansien van die voorgestelde oplossings wat in die geselekteerde literatuur voorkom, die volgende leemtes aan te toon:

  • geen oplossing(s);

  • ontoereikende oplossing(s);

  • ontbrekende oplossing(s).

Stap 2:  Oplossingsmoontlikhede

Nuwe toereikende(r) oplossingsmoontlikhede word dan gesuggereer en onderwerp aan verdere navorsing.

Stap 3:  Literatuurstudie

Die hipotese wat die moeite werd geag word om op te volg, sal in die meeste gevalle geskikte paragraafopskrifte vorm wat duidelik gestel moet wees en wat logies en werklikheidsgetrou op mekaar moet volg.

Die student gaan nou oor tot intensiewe literatuurstudie (vierde fase). Die leier/promotor moet vasstel of die student presies weet welke wyse van literatuurstudie daar van hom verwag word. In dié verband bestaan daar verskillende moontlikhede om te kom tot ontleding, interpretasie (uitleg) en beredenering aan die hand van tersaaklike kennisbronne:

L.1  Literatuurstudie aan die hand van wesensanalise

  1. Landman, W.A. (Red): Inleiding tot die opvoedkundige navorsingspraktyk, 23-24. Butterworth, Durban 1980.

  2. Landman, W.A.: 'n Wetenskaplik-verantwoorde teksstudie. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde 1981, 1 (3/4), 140-144.

L.2  Literatuurstudie in verloopvorm

    de Wet, J.J. en andere
    Navorsingsmetodes in die Opvoedkunde. Inleiding tot empiriese navorsing. 53-70. Butterworth, Durban 1981.

L.3  Literatuurstudie en perspektiefbepaling

    Tuckman, B.W.
    Conducting Educational Research
    Second edition 1978, 37-41.
    Harcourt Brace Jonanovich New York.

L.4  Literatuurstudie met beklemtoning van die organisasie daarvan

    Ary, D; Jacobs, L.C. en Razavieh, A.
    Introduction to research in Education Second Edition 1979, 68-71.
    Holt, Rinehart & Winston. New York.

Literatuurstudie is altyd (meesal) die eerste metode van hipotesetoetsing (probleemoplossing). Die wesenlike in elke teks wat bestudeer word, is dit wat in direkte verband staan met die gestelde hipotese(s) en kan soos volg aan die lig gebring word.

Prosedure 1: Wesensanalise.

Vir elke teks wat bestudeer word, word die wesenlike uitgehaal en in betoogvorm neergeskrywe. Neem as eerste teks daardie publikasie wat as "die beste" beskou word in die lig van stap 1.

Gaan nou soos volg te werk:

  1. Neem elke stelling (gedagte, uitspraak) in die betoog en lees dit aandagtig deur met onderstreping van die sleutelwoorde;

  2. Reduseer die sleutelwoorde tot een trefwoord (of kombinasie van trefwoorde);

  3. Skryf die trefwoorde met hulle beskrywing neer (afgelei uit die betoog).

Prosedure 2: Definisie-verfyning.

Bestudeer weer die beskrywing en stel vas of dit aan die volgende vereiste wat aan definisies gestel word, voldoen: 'n Definisie berus op onderskeiding. Dit onderskei iets noukeurig van iets anders. Noukeurigheid dui op helderheid. Om te bepaal of 'n definisie helder is, dit wil sê of die saak wat gedefinieer word duidelik onderskei is, is herskrywing in eie woorde die skerpste wyse.

Opmerking: Stel vas of die herformulering (herinterpretasie)

  1. positief gestel is; en

  2. net die noodsaaklike bepalinge bevat, dit wil sê laat alles wat bykomstig (onnodig) is, weg.

Prosedure 3: Definisie-uitbreiding.

Die navorser/student beskik nou oor bruikbare trefwoorde. By 'n bestudering van addisionele tekste, insluitende resensies en ekserpte, kan die volgende gebeur:

  1. nuwe trefwoorde kan verskyn, wat dan bygevoeg moet word; en

  2. nuwe kennis aangaande reeds ontdekte trefwoorde kan aan die lig kom. Ook hierdie nuwe kennis moet bygevoeg word en uiteindelik ontstaan 'n uitgebreide betoog wat gevul is met trefwoorde.

    Uitbreiding geskied totdat die navorser tevrede is dat voldoende literatuur-studie onderneem is.

Stap 4: Skrywe van literatuuroorsig

Die student kry opdrag om die literatuuroorsig as vorm van probleemoplossing waarin trefwoorde (die wesenlike) sterk verskyn, te skrywe in die lig van

  • die aanvaarde wetenskapsbeskouing;

  • die vereistes wat aan verslaggewing gestel word. Hy word vir selfstudie verwys na onder andere:

    • de Wet, JJ. en andere: Navorsingsmetodes in die Opvoedkunde, Hoofstuk 14, en

    • Landman, W.A. en andere: Inleiding tot die Opvoedkundige Navorsingspraktyk Hoofstuk 14.

Stap 5: Eie bydrae

Die student wat 'n eie bydrae te make het tot die probleemoplossing, doen dit nou aan die hand van die volgende:

S.5.1  Kritiese evaluering van die oplossings wat in die literatuur aangetref is in die lig van

  • die aanvaarde wetenskapsbeskouing

  • eie ervaring en waarneming

  • gesprekke met deskundiges (insluitende die leier/promotor).

Na Deel 3