Professor W A Landman

Lesings in die Opvoedkunde

DEMOKRATISERING VAN NAVORSING   

 

INHOUDSOPGAWE

 

1.       INLEIDEND

 

2.     FOKUS OP PRAKTISYNS

 

3.       ONDERHANDELING OOR INTERPRETASIES

 

4.       VERWERPING VAN METODOLOGIESE ORTODOKSIE

 

5.     DIE ONDERHANDELINGSPROSES EN GEDEMOKRATISEERDE NAVORSING

 

5.1       Doelwitstelling as voorwaarde vir suksesvolle onderhandeling

5.2       Voorbereiding vir onderhandeling

5.3       Onderhandeling en besluitneming

5.4       Frustrasie en die uitwerking daarvan op onderhandeling

5.5       Besondere kriteria vir navorsers as onderhandelaars

5.6       Onderhandelingsvaardighede

 

6.       VERBREDING VAN DIE DEMOKRASIE DEUR DIE OPLEIDING VAN NAVORSERS

 

7.       POSTMODERNISME EN GEDEMOKRATISEERDE NAVORSING

 

8.     UNISA SE TWEEDE DOELSTELLING EN GEDEMOKRATISEERDE NAVORSING


DEMOKRATISERING VAN NAVORSING

 

 

1.       INLEIDEND

 

Die begrippe "demokrasie" en "demokratisering" het hedendaags baie opvallend geword, nie net in beleidstukke van politieke partye en alliansies nie, maar ook in die dagbladpers, tydskrifte en selfs wetenskaplike geskrifte.  Die idee van demokrasie (met die velerlei en uiteenlopende interpretasies daarvan) het so prominent geword dat dit geensins verbaas wanneer 'n mens selfs die idee van "demokratisering van navorsing" raakloop.

 

2.     FOKUS OP PRAKTISYNS

 

In navorsing moet die fokus nie eintlik val op die navorser self nie, maar op praktisyns as vennote in die navorsingsproses en as lesers van navorsings-verslae.  Die behoeftes (en nood) van Magister en Doktorale studente wat met navorsing besig is, verdien besondere aandag.  Die leser is veral geïnteresseerd in gevolgtrekkings en daarom beteken demokratisering van die navorsing dat in 'n navorsingsverslag, die data waaruit die gevolgtrekkings voortvloei, minder aandag sal kry as die gevolgtrekkings self (en die implikasies daarvan vir praktykstigting en praktykverbetering) met besondere beklemtoning van professionele beoordeling (kritiese ondersoek) deur praktisyns.  Sodanige beoordeling vereis dat die taal van navorsingsverslae nie "elite taal" sal wees nie.  Demokratisering van navorsing beteken dat interpretasies nie verwoord moet word in terme wat nie in die bewussyn van praktisyns is nie.  Navorsers moet daarteen waak om praktisyns te vervreem deur weg te skerm van praktyktaal en om in 'n taal skryf wat die beskrywing ontoeganklik maak vir praktisyns se kritiek (Rudduck, 1988:101-115).

 


Saamgevat:  Demokratisering van navorsing impliseer:

 

1.       Beklemtoning van praktykverbeteringsbetekenis (veral vir 'n geïdentifiseerde gemeenskap).

 

2.     Aandag aan die leesbaarheid (toeganklikheid) van navorsingsverslae (veral vir praktisyns).

 

3.       Openheid vir praktisyns se beoordeling en kritiek.

 

4.     Skerper uitleg van gevolgtrekkings as van die data waarop dit gebaseer is.

 

3,       ONDERHANDELING OOR INTERPRETASIES

 


Demokratisering van navorsing beteken dat die navorser geleentheid moet kry om te onderhandel oor die interpretasies wat hy gemaak het met alle belanghebbendes (bv. betrokkenes) by die navorsing eerder as om die eie interpretasies af te druk op die data.  Hier het 'n mens te make met 'n verskuiwing van mag in die vorm van 'n beweging weg van die navorser se belange en probleme na praktisyns se belange en probleme.  Indien die praktisyns inligting verskaf het, moet hulle ook inspraak hê oor wat met daardie inligting gemaak word.  Die verskuiwing is ook na die erkenning van praktisyns se persepsies aangaande praktykbetekenis.  Ook in hierdie verband is onderhandeling 'n betekenisvolle deel van navorsing.  Demokratisering impliseer dan die betrokkenheid van al die betekenisvolle mense en groepe wat geïmpliseer word deur die betrokke navorsing.  Die navorser moet inligting sonder versuim terugvoer na al die betrokkenes.  Noukeurige rapportering is essensieel en om inersie te oorwin is dit noodsaaklik om ooreen te kom oor tydskale.  Die sosiale konteks waarin die betrokke interpretasies (betekenisse) toegepas gaan word, vereis skerp bespreking (ook in die vorm van onderhandeling).  Dit beteken dat navorsing inherent in sosiale gebeure (proses) is met 'n sosiale uitkoms (Walker, 1993:170-172).

 

Saamgevat:  Demokratisering van navorsing impliseer:

 

1.       Onderhandeling oor interpretasies (betekenis vir praktyk van 'n besondere gemeenskap).

 

2.       Betrokkenheid van al die belanghebbendes by die onderhandeling(e).

 

3.       Erkenning van praktisyns as verskaffers van inligting, se persepsies en behoeftes.

Die gevaar bestaan dat konsensus verhef kan word tot 'n kriterium vir wetenskaplikheid.  Navorser(s) sal ook opgelei moet word in onderhandeling-prosedures en tegnieke.

 

4.       VERWERPING VAN METODOLOGIESE ORTODOKSIE

 

Alhoewel die demokratiese argument vir baie navorsers aantreklik mag wees, is 'n ontkenning van die fundamentele betekenis van teorie en metode in werklikheid 'n ontkenning van verantwoordelikheid vir die eie navorsings-bedrywighede en konklusies.  Daar moet gewaak word daarteen om etiese oorwegings swaarder te laat weeg as teorie en metode.  Die verwerping van metodologiese ortodoksie kan lei tot allerlei verabsoluteringe byvoorbeeld van kwalitatiewe navorsing se aanspraak op 'n allenige inagneming van die mens se uniekheid en 'n besonder maklik (d.i. onverantwoordelike) tipering van ander vorms van navorsing as positivisties!  Indien navorsers onwillig sou wees om te worstel met formele konsepte en teorieë, is hulle werk gedoem tot isolasie en loop hulle gevaar om "leke" (vgl. praktisyns) te laat besluit oor watter bevindings as kennis beskou mag word (Atkinson en Delamos, 1993:213-218).

 


Verantwoordelike demokratisering van navorsing kan geskied deur 'n wegbeweeg vanaf metode-monisme en teoretiese purisme na eklektiese denke wat kan lei tot 'n uitbreiding van die navorsingsgemeenskap.  Eklektiese denke word gekenmerk deur 'n onvergenoegdheid met 'n rigiditeit vanweë 'n vasgevangenheid in 'n keurslyf van dwingende reëls, wette en voorskrifte wat daartoe lei dat denkers doelbewus en krities oor grense heen gaan soek na gemeenskaplikhede om sodoende 'n enge dogmatisme te oorwin (Mahalik, 1990:666).  Dogmatisme is anti-demokraties omdat dit die navorsingsgemeenskap laat inkrimp tot die aanhangers van 'n besondere dogmatiese ingesteldheid.  Hedendaags is daar ten aansien van die menswetenskappe sprake van 'n toenemende metodologiese openheid en 'n waardering vir alternatiewe perspektiewe en paradigmas (Borgen, 1989:90-97).

 

Daar is ook 'n toenemende beklemtoning van die deling van betekenisse.  Op dié wyse ontstaan gedeelde uitsprake ("shared constructs") (Mahalik, 1990:167-168) op grond van betekenisse wat gedeel word onder meer deur 'n span navorsers wat verteenwoordigend is van 'n besondere gemeenskapsamestelling.  Dit kan besonder vrugbaar wees wanneer betekenisse gedeel word in die lig van 'n probleem waarvoor die beste moontlike oplossing gesoek word.  Die volgende is dan 'n besondere eklektiese handeling:  interpersoonlike wisselwerking en betekeniskonstruksie (betekenissamevoeging) wat georganiseer is om 'n probleem (Mahalik, 1990:168) vir praktisyns wat praktykverbetering vir 'n besondere gemeenskap moet bewerkstellig.

 

Verdere demokratisering van navorsing geskied wanneer daar wegbeweeg word van die idee van "wetenskap ter wille van wetenskap" ("kennis ter wille van kennis") sodat navorsers nie as 'n groepie geïsoleerde bevoorregtes optree nie, maar ter wille van praktisyns wat 'n gemeenskap moet dien en wat doelbewus ingestel is op die praktykverbeteringbetekenis van die navorsing wat onderneem is (Landman, 1977:78-83).

 

Met demokratisering van die navorsing moet daar egter gewaak word teen sentimentaliteit.  Die demokratisme met sy byna instinktiewe beheptheid met agtergeblewenes moet die navorsingsgemeenskap nie blind maak vir 'n ewe belangrike probleem nie, en dit is die vraag na hoe om egte uitnemendheid ("true excellence") te vind en aan te moedig sodat daar nie in middelmatigheid verval word nie.  Demokrasie is slegs lewensvatbaar as dit beoefen word deur intelligente, relevant opgeleide en verantwoordelike mense (insluitende navorsers en praktisyns).  Demokrasie vereis 'n intellektuele aristokrasie (afgesien van ras, kleur, geloof of geslag), om te floreer (Solway, 1989:151-154).


5.     DIE ONDERHANDELINGSPROSES EN GEDEMOKRATISEERDE NAVORSING

 

5.1       Doelwitstelling as voorwaarde vir suksesvolle onderhandeling (Neale & Bazerman, 1985:19-32).

 

Ten aansien van navorsing het onderhandeling 'n besondere doelwit:  die ontwikkeling van samewerking van al die betrokkenes om 'n besondere doel te bereik.  Waardevol in hierdie verband is duidelikheid oor:

 

*      die verwagtings (ideale) wat die betrokke navorsers en praktisyns het vir die navorsing wat onderneem gaan word);

 

*      die strategie wat gevolg kan word om probleme op te los; en

 

*       vooronderstellings.

Gemotiveerdheid om sekere ideale te bereik (byvoorbeeld praktykverbetering), lei tot aansporing tot probleemoplossing en tot 'n identifisering van die struikelblokke wat probleemoplossing bemoeilik.  Ideale moet geformuleer word in die vorm van doelwitte:  doelwitformulering as 'n besondere wyse van motivering, moet aan die volgende vereistes voldoen:

 

*       doelwitte moet spesifiek wees eerder as vaag;

 

*       doelwitbereiking moet 'n uitdaging wees;

 

*       doelwitbereiking moet moontlik wees en dit vereis

 

** realistiese doelwitte (realisties en haalbaar vir praktykverbetering)


** operasionaliseerbare doelwitte (spesifikasie van kenmerke en werkinge wat betekenisvol is vir die oplossing van ekonomiese, politieke en sosiale probleme).

 

5.2       Voorbereiding vir onderhandeling

 

Dit is vanselfsprekend dat elke navorser en praktisyn wat by onderhandeling betrek gaan word, vooraf daarvoor moet voorberei.  Hierdie voorbereiding behels die volgende aspekte (Hilgerk & Sterling, 1983:1):

 

*       Bepaling van welke aspekte en doelwitte belangrik is en die plasing van geïdentifiseerde doelwitte in 'n prioriteitsvolgorde.

 

*       Ontleding van die ander deelnemende navorsers en praktisyns se uitgangspunte aan die hand van beskikbare inligting (byvoorbeeld deur literatuurstudie en gesprekke met deskundiges en praktisyns).

 

*      Probeer om die ander navorsers en praktisyns se geliefkoosde standpunte te antisipeer en beplan om daarop 'n antwoord te formuleer.

 

5.3       Onderhandeling en besluitneming (Gulliver, 1979:Hfst. 2)

 

Tydens en na afloop van onderhandelings ten aansien van die navorsingsverloop, moet daar besluite geneem word.

 


Besluite wat geneem word, moet as gesamentlike besluite beskou word.  Dit beteken dat besluitneming berus op 'n ooreenkoms wat bereik word.  So 'n ooreenkoms kan 'n kompromie wees of een (of meer) van die navorsers of praktisyns se standpunte kan geheel en al deur die ander navorsers en praktisyns oorgeneem word of daar kan selfs 'n heeltemal nuwe standpunt geformuleer word.

 

In die proses van bereiking van 'n gesamentlike besluit is die deelnemende navorsers en praktisyns afhanklik van mekaar.  Die navorsers en praktisyns is daarop ingestel om mekaar te beïnvloed en te oorreed.  Daarom behels die besluitnemingsproses:

 

*       evaluering van vooronderstellings;

 

*      uitruil van inligting (sluit teorie-beligting, metodologie-uitleg en praktykbehoeftes en implikasies in);

 

*      die interpretasies van feite (ook bewerings) deur 'n wisselwerking van betekenisse (teorie-betekenisse en praktykbetekenisse);

 

*       argumenteringe; en

 

*      uitwys van valse redenering nie met die doel om "argumente" te vind nie, maar om ooreenkomste te bereik (Atkinson, 1990:33-34; 77).

 

Die vloei van inligting is daarop gemik dat die een deelnemer kennis sal neem van die ander deelnemers se vereistes, voorkeure, verwagtings, gevoelens, gesindhede, opvattings, sterk punte en swak punte.  Om kennis te neem is om te leer en leer kan lei tot heroorweging, verheldering en aanpassing van die eie verwagtings, voorkeure, eise en bydraes.  Dit lei verder tot 'n gewilligheid om te koördineer en toereikend ooreen te kom.

 

5.4       Frustrasie en die uitwerking daarvan op onderhandeling (Atkinson, 1977:166-179;  Atkinson, 1990:89-90)

 


Frustrasie kan gedefinieer word as die belemmering van handelinge wat gemik is op doelwitverwerkliking.  So kan onderhandeling 'n frustrerende besigheid wees indien die navorsers en praktisyns mekaar glad nie kan vind nie (byvoorbeeld deur 'n afwys van mekaar se doelwitte en 'n nie-aanvaarding van mekaar se bona fides).

 

Die gefrustreerde onderhandelaar is geneig om die volgende gedragspatrone te openbaar:

 

*       Rigiditeit:  'n Irrasionele standpunt word ingeneem en daaraan word vasgeklou op so 'n wyse dat 'n redelik aanvaarbare oplossing nie raakgesien kan (wil) word nie.  Vermy "tonnelvisie" waarin daar slegs aan een moontlike oplossing gedink word gepaard met 'n weiering om alternatiewe te oorweeg.

 

*      Woede, vyandigheid, aggressie:  Daar is onderhandelaars wat hierdie gedraginge beskou as doeltreffende wyses om hulle doelwitte te bereik, maar daardeur word koördinasie en samewerking vernietig.  Produktiewe onderhandeling word dan onmoontlik.

 

*       Fantasie:  Deur kontak met die werklikheid te verloor kan daar tydelik van frustrasie ontsnap word.  Blyke hiervan is "onnosel" voorstelle tydens die onderhandeling.

 

*       Regressie:  Soms word daar teruggeval op 'n meer primitiewe vorm van gedraging soos woedebuie.

*      Angs:  'n Onderhandelaar kan geïrriteerd, senuweeagtig en gespanne raak en dit kan lei tot onttrekking aan die gesprek.

 


*       Reaksievorming:  'n Onderhandelaar kan homself wysmaak dat hy besig is om 'n besondere beginsel te verdedig terwyl hy in werklikheid besig is om 'n opponent se geloofwaardigheid aan te tas.

 

Die navorser wat optree as voorsitter van die onderhandelingsvergadering moet voortdurend let op die verskyning van hierdie uitinge van frustrasie en moet dan pogings aanwend om verligting te bring.  Dit gaan nie primêr om persone se gevoelens nie, maar om die wisselwerking van betekenisse wat in 'n gesprek vrygestel word vir kritiese beoordeling.

 

5.5       Besondere kriteria vir die navorsers as onderhandelaars (ook in 'n navorsingsopset)

 

*       Geloofwaardigheid as navorser (veral by die praktisyns as betrokkenes by die onderhandeling).  Dit impliseer 'n demonstrasie van bekwaamheid, vertroue, integriteit, empatie en selfvertroue (Atkinson, 1990:31).

 

* Goeie mensekennis:  Kennis van die dinamika van menslike gedrag.  Goeie oordeel.

 

*      Opreg maar ferm/beslis ten aansien van die eie interpretasies (betekenis-openbaring) en die eie ervaring.

 

*       Objektief ten opsigte van die onderhawige problematiek en teenoor individuele persone (mede-navorsers) en praktisyns.

 

*       Doelgerigtheid. (Die doel is om 'n wisselwerking van betekenisse te laat uitmond in probleemoplossing.)

 

*      Goeie luisteraar en waarnemer.


*      Goeie analitiese denker.

 

*       Deurdringende, logiese denker met 'n kennis van argumentering en 'n sensitiwiteit vir die raaksien van valse redenering.

 

*       Oortuigende spreker wat blyke gee van deskundigheid wat die rasionele basis vorm vir gesprekke (onderhandeling) (Atkinson, 1990:61).

 

*       Inisiatief/kreatief op interpersoonlike/intergroepvlak.

 

*      Goeie inskakeling:  goeie "senuwees";  moet rasioneel kan bly en spanningsdruk kan hanteer.

 

5.6       Onderhandelingsvaardighede (Lemmer, 1985)

Die stappe wat onderhandelinge ook in die navorsingsituasie behoort te volg en die tegnieke wat aangewend kan word om doeltreffende resultate te behaal, is die volgende:

 

*       Voorbereiding

 

*       Deelname

 

*       Evaluering

 

5.6.1  Voorbereiding

 

Die volgende stappe:

 

5.6.1.1 Identifisering en vasstelling van die werklike probleem of saak


'n Goed oorwoë en geskrewe stelling van die probleem of saak.  Gee aandag aan die volgende vrae:

 

(a)    Watter behoeftes bestaan daar by die betrokke pratisyns en in die gemeenskap?

 

(b)    Kom die inligting wat bestaan, uit betroubare bronne?

 

(c)    Is die inligting, veral die wat die praktisyns voorsien uit hulle ervaring gebaseer op feite of op opinies?  Kan die korrektheid van die feite gekontroleer word, ook dié van die praktisyns se weergawe van hulle ervaring en die interpretasie daarvan?

 

(d)    Is die inligting volledig genoeg?

 

(e)    Gee die beskikbare inligting enige leidrade aangaande relevante persepsies van die betrokkenes by die navorsing?

 

5.6.1.2 Versamel die relevante feite

 

(a)    Bepaal welke feite met probleemoplossingsbetekenis reeds beskikbaar is.

 

(b)    Heg al die navorsers en praktisyns wat betrokke is by die onderhandelingsituasie dieselfde betekenis aan die feite en die interpretasie daarvan?  Indien nie, waarom nie?

 

(c)    Is daar gapings in die navorsers (veral) se kennis en hoe kan dit oorbrug word?

 

(d)    Deel die navorsers en praktisyns genoeg feitelike kennis en moontlike interpretasies sodat wedersydse begryping en 'n saambeweeg na probleemoplossing bevorder kan word?

 

(e)    Wat is die werklike kernfeite en hoe betroubaar is dit?

 

5.6.1.3 Ontwikkeling van 'n onderhandelingstrategie en -taktiek

 

Die onderhandelaars moet op die volgende punte konsentreer:

 

(a)    Is die areas van gemeenskaplike belang by die uitkoms van die navorsing geïdentifiseer?  (Byvoorbeeld:  diens aan die gemeenskap).

 

(b)    Hoe verskil die navorsers en die praktisyns se belange?

 


(c)    Wat hoop hulle om saam te bereik (doelwitte) in terme van die oplossing van gemeenskapsprobleme?

 

(d)    Wat sal die verhouding tussen die navorsers en die praktisyns versterk? (Byvoorbeeld 'n gesamentlike "commitment" om diens te lewer aan die gemeenskap.)

 

(e)    Is die geldige punte van verskil geïdentifiseer?

 

5.6.2       Deelname

 

5.6.2.1 Voer van onderhandelinge

 

Items wat noukeurig oorweeg moet word, is:

 

(a)    Luister al die betrokkenes werklik na die ander lede se bydrae?

 

(b)    Is die oordrag van hulle saak na die ander party(e) effektief?

 

(c)    Is daar oorreaksie op die ander lede se optrede?

 

(d)    Wat is die implikasies indien ooreenstemming (konsensus) bereik word?

 

Die volgende is 'n aantal tegnieke wat gebruik kan word tydens onderhandeling:

 

(i)    Gebruik direkte, duidelike en eenvoudige taal.  Maak seker dat al die partye mekaar goed verstaan.  Om dit reg te kry:

 

*      gebruik kort sinne

 

*      gebruik kort woorde


*      herhaal belangrike punte en maak gebruik van effens gewysigde woorde ten einde seker te maak dat alles goed begryp word.

 

(ii)   Wees kalm, geduldig en verdraagsaam en moenie in die rede val nie, want dit verhoog spanning en konflik.

 

(iii)  Moenie feite verkeerd voorstel of beter voorstel as wat dit is nie.  Indien iemand verkeerd is, moet hy dit erken.  Indien die ander persoon reg is, erken dit.

 

(iv)   Moenie verpligtinge opneem wat nie nagekom kan word nie.  Dit verbreek vertroue.

 

(v)    Moenie valse verwagtinge wek nie.

 

(vi)   Kry beheersing oor die onderhandelingsituasie.  Maak seker dat by die doelwitte gehou word.

 

(vii)  Vermy dooie punte.  Hou altyd 'n aantal alternatiewe in gedagte wat gebruik kan word om dooie punte uit te skakel.  'n Ander wyse om 'n dooie punt uit te skakel is verwysing na 'n subkomitee om die verskille deeglik uit te pluis en om bykomstige inligting in te samel;  en om by 'n later geleentheid terug te rapporteer met aanbevelings.

 

(viii)Sodra 'n ooreenkoms bereik is, moet dit onmiddellik verwoord word anders        ontstaan onsekerheid en verkeerde interpretasies en tree vergeet in.

 

(ix) Voltooi onderhandelings so gou as moontlik.  'n Lang onderhandeling lei tot verlies aan motivering en ook aan produktiwiteit.

 


(x)    Indien konsensus nie bereik kan word nie, kom dan ooreen om die saak verder te ondersoek, of om voorstelle verder te oorweeg.

 

(xi)   Handel eerste met die moeilike sake.  Vorder vanaf die belangrike sake na die minder belangrike.

 

(xii)  Dink na oor die langtermyn implikasies van die besluite.

 

(xiii)Maak 'n lys van die punte waaroor daar tentatiewe ooreenstemming heers.         Dit hou die positiewe punte voor die onderhandelaars en skep 'n positiewe onderhandelingsatmosfeer.

 

6.       VERBREDING VAN DIE DEMOKRASIE DEUR DIE OPLEIDING VAN NAVORSERS (Ganie & Prinsloo, 1993:215-219).

 

Daar bestaan tans (1993) veral behoefte aan akademies gekwalifiseerde swart navorsers om 'n aktiewe aandeel te neem aan navorsingsprojekte.  Die NEPI (National Education Policy Investigation) stel die vereiste dat hierdie navorsers navorsingsvaardig moet wees maar ook gebind moet wees deur die beginsels van regstelling en demokrasie. 

 

Ten einde sodanige navorsers op te lei sal spesiale opleidingsprogramme in werking gestel moet word.

 

Verder sal 'n kollektiewe/medewerkende groep belanghebbendes in 'n steeds toenemende mate uit al die bevolkingsgroepe saamgetrek moet word sodat daar geput kan word uit die rykdom van ervaring, kennis en agtergronde met die oog op die ontwerp, implementering en evaluering van die navorsingsproses.

 

Alle belanghebbendes moet by die navorsingsproses betrek word.  Geleentheid moet gebied word aan gemeenskap gebaseerde organisasies en praktisyns om verantwoordelikheid op te neem vir beïnvloeding van die navorsingsproses in plaas daarvan om slegs krities te staan teenoor die werk van die navorsers.  Op dié wyse kan by praktisyns uit al die bevolkingsgroepe navorsingsvaardig-hede ingeskerp word.

 

Daar moet pogings aangewend word om vir al die betrokkenes (belanghebbendes) by die navorsing 'n demokratiese werkklimaat te skep.  Dit beteken dat daar geleenthede geskep moet word vir 'n deling van idees, stel van vrae en om bydraes te maak.  Indiwiduele ervarings, insigte en verwagtings moet geakkommodeer word.  Die meer ervare deelnemers aan die navorsingsproses moet die minder-ervarenes help om nie weg te skram van ingewikkelde take nie, om idees te artikuleer en om voorstelle wat gemaak word krities te evalueer.  Op dié wyse word die navorsingsproses 'n leerervaring waarby die opneem van groter verantwoordelikheid en die verwerwing van komplekse vaardighede sal baat.

 

Die vlak van navorsingskennis en vaardighede van die individuele deelnemers aan die navorsingsproses moet behoorlik geanalisser en geëvalueer word en die ontwikkeling daarvan by al die bevolkingsgroepe moet doelbewus nagestreef word.


Die minder kundige en ervare deelnemers aan die navorsingsproses se vorming en ontwikkeling word beïnvloed deur hulle vlak van selfvertroue, hulle bereidheid om te waag en die vlak van hulle weerstand teen verandering.

 

Die kollektiewe navorsingsproses kan die deelnemers daaraan in staat stel om effektiewe navorsers te word.  Die volgende is betekenisvolle riglyne:

 

(i)    Die beskikbare take in en vaardighede vir die navorsingsproses moet meer kollektief geïdentifiseer word.

 

(ii)       Vaardighede en verwante ervarings moet oor besin en bespreek word.

 

(iii)  Beide navorsingsdoelwitte en indiwiduele leerdoelwitte moet geïdentifiseer word en oor die spanninge wat daar tussen hulle bestaan, moet onderhandel word.

 

Saamgevat:  Demokratisering van navorsing impliseer:

 

1.     'n Kollektiewe/koöperatiewe benadering.

 

2.       Gemeenskapsbeïnvloeding van die navorsingsproses.

 

3.     Skep van 'n demokratiese navorsingsklimaat.

 

4.     Skoling van minder-ervarenes en minder-kundiges.

 


5.     'n Strewe na verteenwoordiging van al die bevolkingsgroepe in die navorsingsgemeenskap.  So 'n verteenwoordiging beteken nie dat die navorsers 'n statisties verteenwoordigende steekproef moet wees nie, want dan kan navorsingseffektiwiteit ly en 'n miskenning van meriete gedy (Kyk ook Hendon & Hendon, 1989).

 

7.       POSTMODERNISME EN GEDEMOKRATISEERDE NAVORSING

 

Daar word nie besondere waarde geheg aan wetenskaplike begronding en 'n gebondenheid aan die eise van wetenskaplikheid nie.  Wetenskaplike eise soos beginsels, kategorieë, definisies, metodes en logika word as konseptuele dwang beskou wat deurbreek moet word.  Daar word geen herkenbare program of sisteem meer gevolg nie (Van der Walt, 1989:188-195;  Silverman & Walton, 1988:244-248).

 

Die navorser wat gestel is op die voldoening aan wetenskapseise en wat programloosheid en beginselloosheid as wetenskaplik onbehoorlik afwys sal beswaarlik postmodernisties kan optree.   Van die postmodernisme kan hy egter leer om nie rigiede wetenskaplike eise te stel aan al die betrokkenes by 'n navorsingsproses nie.  Aan 'n aantal navorsers (in 'n span) kan streng eise van wetenskaplikheid gestel word.  Aan navorsers-in-opleiding sal dié eise in 'n steeds toenemende mate gestel word.  Die praktisyns neem deel aan 'n navorsingsproses om ander redes as om wetenskaplik ter wille van wetenskaplikheid te wees.  Navorsers (hierargies in terme van vlak van navorsingsparaatheid) en praktisyns as besondere verteenwoordigers van die gemeenskap vir wie die navorsingsbevindinge prakyk moet word, dien tog gesamentlik die navorsingsidee, ook omdat begryping, interpretasie en legitimiteit daarby baat.

 

8.     UNISA SE TWEEDE DOELSTELLING EN GEDEMOKRATISEERDE NAVORSING

 

Die tweede UNISA-doelstelling handel oor navorsing.  Die volgende doelwitte dien die idee van gedemokratiseerde navorsing:

 


(2.3)  Die skoling van die studente in die navorsingsmetodologie van die dissiplines waarin hulle studeer.

 

Ten einde 'n demokratiese deelname aan navorsingsprosesse te bevorder, moet soveel studente as wat moontlik is uit die verskillende bevolkingsgroepe navorsingsparaat gemaak word.  Unisa lewer 'n besondere diens aan gedemokratiseerde navorsing deur 'n voortdurende kurrikulering vir en herkurrikulering van navorsingsopleidingsmodules en programme.

 

(2.4)  Die aanmoediging en ondersteuning van akademici om by navorsingsprojekte binne en buite UNISA in te skakel.

 

Die idee van "projek" open die moontlikheid vir gemeenskapsbetrokkenheid (geld vir alle gemeenskappe) en vir diens aan gemeenskappe in die vorm van relevante probleemoplossing.

 

(2.5)  Die bekendstelling van navorsingsresultate so wyd as moontlik.

 

Dit impliseer ook bekendstelling in die taal van praktisyns wat besondere verteenwoordigers is van gemeenskappe in navorsingsprosesse, met as besondere

verantwoordelikheid prakykmaking van navorsingsbevindinge wat probleemoplossingbetekenis het.

 

VERWYSINGS

 

Atkinson, G  1990.  Negotiate the best deal.  Techniques that really work.  Cambridge:  Director Books.

 

Atkinson, GGM  1977.  The Effective Negotiator.  London:  Quest.

 

Atkinson, P & Delamont, S  1993.  Bread and dreams or bread and circusses?  A critique of case study research in Education.  In:  Hammersley, M 1993.  Second Edition.  Controversies in Classroom Research.  Buckingham:  Open University Press.

 

Borgen, FH  1989.  Evolution of eclectic empistemology.  The Counseling Psychologist 17(1).

 

Ganie, L & Prinsloo, E 1993.  Product, People or Process:  NEPI as a research training process.  Perspectives of Education 14(2).

 

Gulliver, PH 1979.  Disputes and Negotiations.  New York:  Academic Press.

 

Hendon, DW & Hendon, RA 1989.  How to negotiate worldwide.  A practical handbook.  Aldershot:  Gower.

 

Hilgert, RL & Sterling, SH 1983.  Labour Agreement Negotiations.  Cincinatti  South Western Publishing Co.

 


Landman, WA 1977.  Fundamentele Pedagogiek en Onderwyspraktyk.  Durban:  Butterworths.

 

Lemmer, GS 1985.  Praktiese toepassing van kollektiewe bedinging/onderhandeling.  SAMCOR vir Departement Sielkunde, Universiteit van Pretoria.

 

 

Mahalik, JR 1990.  Systematic Eclectic Models.  Counseling Psychologist 18(4).

 

Neale, MA & Bazerman, MH 1985.  The effect of externally set goals on reaching integrative agreements in competitive markets.  Journal of Occupational Behaviour 6:19-32.

 

Rudduck, J  1988.  A Case for Case Records:  A discussion of some aspects of L Stenhouse's work in Case Study Methodology.  In:  Burgess, RG (ed.):  Strategies of Educational Research.  London:  Falmer.

 

Silverman, HJ & Welton, D (eds.) 1988.  Postmodernism and continental philosophy.  New York:  State University Press.

 

Solway, D  1989.  Education Lost.  Reflections on contemporary pedagogical practice.  Ontario:  Oise press.

 

Van der Walt, JL 1989.  Post-moderne Pedagogiek:  enkele opmerkings.  Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde 9(1).

 

Walker, R 1989.  The conduct of educational case studies:  ethics, theory and procedures/.  In:  Hammersley, M 1993.  Second Edition.  Controversies in Classroom Research.  Buckingham:  Open University Press.


   --- oOo ---