Lesings in die Opvoedkunde
DIE TEGNIESE
KOLLEGE AS MODEL VIR RAAKVLAKREALISERING
1. INLEIDEND
Die
uitgangspunt vir die organisering en operasionalisering van opleidingsprogramme
moet wees
(i) eerstens
maksimale aanwending van bestaande strukture (organisasies, inrigtings)
(ii) daarna
uitbreiding van (i)
(iii) laastens die skep van nuwe strukture.
Dit is
finansieel verantwoordelik om alle bestaande strukture te evalueer in terme van
die maksimale gebruik daarvan voordat daar verder beweeg kan (moet) word. Soms is die opgradering van bestaande
strukture 'n sinvolle belegging. So kan
daar byvoorbeeld gekyk word na welke Tegniese Hoërskole opgegradeer kan
(behoort te) word tot Tegniese Kolleges en dan verder welke Tegniese Kolleges leen hulle vir opgradering na Technikons.
Wanneer daar
gekyk word na die volgende syfers, kan daar die afleiding gemaak word dat
(veral wat swartes betref) dit sinvol en haalbaar mag wees om 'n program vir
opgradering van Tegniese Kolleges na Technikons aan die gang te sit. Waar opgegradeerde Tegniese Kolleges 'n
leemte laat kan daar gekyk word na die opgradering van Tegniese Hoërskole (of
soortgelyke fasiliteite) na Tegniese Kolleges.
TECHNICAL
COLLEGES, INSITITUTES AND TECHNIKONS
PROVISION OF
TECHNICAL EDUCATION BY RACE GROUP*
(No. of
students in brackets)
Technikons Technical Colleges
Africans 3 (1 604) 43 (n/a)
Coloureds 1 (2 765) 7 (8 648)
Indians 1 (3 680) 2 (4 300)
Whites 8 (51 069) 72
(115 835)
* Figures from 1985 - 1987 to provide composite
picture
(Source: Indicator SA; Vol. 5 No. 3; 1988; p.44 &
SAIRR Yearbook; 1987/88; p.176) 1)
Die voorgaande
stellings berus vanselfsprekend op die geslaagdheid daarvan om tegniese
onderwys aan die massa leerders te
verkoop. Een van die
verkoopvoorwaardes sal beslis 'n hoë mate van waarborg vir indiensneming
(werkplasing) wees wat hoofsaaklik 'n ekonomies-maatskaplike vraagstuk is.
Aan die ander
kant kan daar nie toegelaat word dat protensiële Technikon-studente weggewys
word omdat daar 'n gebrek aan opleidingsinstansies is nie.
Die verryking
van elke tipe tegniese opleidingsinrigting in syeie reg is op sigself
noodsaaklik en kan (is) finansieel verantwoordelik. Een wyse van verryking is die operasionalisering en uitbouing van
raakvlakke tussen FO en NFO. In hierdie
paragraaf sal daar ten aansien van Tegniese Kolleges aan hierdie saak aandag
gegee word.
Twee sake
verdien besondere aandag:
(1) Tegniese Kollege as instituut vir nie-formele
onderwys.
(2) Tegniese Kollege as vennoot in kurrikulumontwikkeling
vir nie-formele onderwys.
In vraagvorm
gestel:
* Op grond waarvan kwalifiseer die Tegniese
Kollege as instituut vir nie-formele onderwys?
* Waarom kan die Tegniese Kollege beskou word as
instituut wat by uitstek geskik is vir die sinchronisering van formele tegniese
onderwys (FTO) en nie-formele tegniese onderwys (NFTO)? Anders gevra: Waarom het Tegniese Kolleges die potensiaal om te dien as
inrigting vir raakvlakoperasionalisering ten aansien van FO en NFO?
* Wat behels die Tegniese Kollege se vennootskap
in die kurrikulumontwikkeling vir nie-formele tegniese onderwys?
2. WAT IS 'N TEGNIESE KOLLEGE?
'n Tegniese
Kollege is 'n inrigting vir naskoolse onderwys, onderrig en opleiding -
(a) wat verskaf word met die oog op die
uitoefening van 'n beroep of die ontwikkeling van 'n sosiale of ontspanningsvaardigheid; en
(b) wat hoofsaaklik bedoel is vir persone wat nie
ingevolge 'n bepaling van een of ander wet aan skoolplig onderworpe is nie of
wat van so 'n bepaling vrygestel is; en
(c) wat by die toepassing van 'n bepaling van een
of ander wet met betrekking tot skoolplig geag 'n skool ooreenkomstig die
bedoeling van daardie wet te wees, en iemand wat ingevolge daardie wet verplig
is om 'n skool by te woon en wat 'n tegniese kollege gereeld en op 'n heeltydse
grondslag bywoon word geag aan al die vereistes met betrekking tot sodanige
skoolplig te voldoen. 2)
Kommentaar
1. Formele en nie-formele onderwys wat betekenis
het vir beroepsbeoefening kan aan 'n Tegniese Kollege aangebied word aan
nie=skoolpligtige en skoolpligtige persone;
ook aan nie-skoolpligtige persone wat nog leerpligtig is.
2. Nie-formele onderwys met sosiale en
ontspanningsbetekenis kan aangebied word.
3. Om betekenis te hê vir beroepsbeoefening sal
nie-formele onderwys aan 'n tegniese kollege -
3.1 'n sinvolle afronding en aanvulling vir
formele tegniese onderrig moet bied; en
3.2 selfstandige beroepsbeoefeningbetekenis moet
hê, wat impliseer -
3.2.1 kurrikulering spesifiek met die oog op beroepsbeoefening; en
3.2.2 skakeling met die private sektor as werkgewer.
3. DIE BEGRIP NIE-FORMELE ONDERWYS
(a) RGN-Hoofverslag:
Nie-formele
onderwys is onderwys wat bepland en hoogsaanpasbaar verloop in inrigtings,
organisasies en situasies wat buite die formele onderwys en informele
onderwysvoorsiening val, byvoorbeeld indiensopleiding in die werksituasie3).
(b) F van der Stoep:
Non-formal
Education: any organized, systematic
educational activity carried on outside the framework of the formal system to
provide selected types of learning to particular subgroups in the population,
adults as well as children.
(c) A L le Roux:
(i) Definition of non-formal education (NFE)
NFE should have
a wider connotation than on-the-job training and should refer to all education
outside the formal school situation.
It should be the privilege of all children from primary to secondary
school.
Schools should
use facilities such as public libraries, museums, aquaria and computer
facilities in the private sector.
Contact with commerce and industry should become increasingly
closer. Work experience should be in
every pupil's curriculum.
(ii) High status NFE
NFE should be
given high status and should be demonstrated to be valuable to everybody. It should be available to boys and girls of
the complete intellectual ability range and should include high status training
such as computers and electronics5).
(d) Kommentaar:
(i) Die
Tegniese Kollege het waardevolle ervaring met beplanning vir en aanpassing van
kursusse vir nie-formele onderwys.
(ii) Die
Tegniese Kollege kan georganiseerde en sistematies geselekteerde leerervarings
in nie-formele onderwysopset aanbied aan beide volwassenes en kinders (skoolpligtiges).
(iii) Die Tegniese Kollege kan sinvol kurrikuleer vir
geselekteerde
leerervarings in beide formele en nie-formele afdelings.
(iv) Tegniese
Kolleges se ervaring met skakeling met die private sektor kan lei tot
tersaaklike beroepsopleiding en die organisasie van werkervaring vir
leerders. Daar kan ook 'n besondere
bydrae gemaak word ten aansien van kurrikulering vir beroepsbetekenisvolle
leer- en werkervaringe.
(v) Die
Tegniese Kollege is by magte om hom in te stel vir hoë status nie-formele onderwys
en om deel te neem aan die kurrikulering daarvoor.
4. DEPARTEMENT ONDERWYS EN KULTUUR
(Administrasie: Volksraad)
(a) Definisie:
In die
Handleiding vir die hantering van naskoolse onderwys by Tegniese Kolleges word
nie-formele onderwys gedefinieer as onderwys wat volgens 'n beplande program
aangebied word, maar nie lei tot die verwerwing van 'n erkende Nasionale
Sertifikaat nie6).
(b) Kommentaar:
Die klem op
beplande open die moontlikheid dat daar vir nie-formele programme wetenskaplik
gekurrikuleer sal kan (moet) word.
Die
moontlikheid van sertifisering van nie-formele kursusse word nie uitgesluit
nie. 'n Kollegeraad sal self moet
besluit oor die wyse van sertifisering en hoe hy te werk sal gaan om sy sertifisering
erken te kry in die gemeenskap (insluitende Handel en Nywerheid) wat hy bedien.
Die kwaliteit
van die kurrikulering sal 'n baie belangrike bepaler wees van die aanvaarding
van die sertifisering. Nou hiermee hang
saam die Kollegeraad se bemarking van sy nie-formele kursusse.
In hierdie
verband is die volgende beskrywing van nie-formele kursusse in die Handleiding
(p.25) betekenisvol: Die kursusse is
hoogs aanpasbaar en is soms die voorloper tot 'n volwaardige kursus in formele
onderwys. Dit beteken dat nie-formele
kursusse wat hulle waarde en standaard bewys, mettertyd as formele kursusse
verklaar kan word.
Die bepaling
hoogs aanpasbaar sal vir die Tegniese Kollege van die toekoms ook moet beteken
aanpasbaar ten aansien van werkvereistes waaraan formele tegniese onderwys nie
(kan) voldoen nie. Dit beteken dat
werkontledings kan dien as sinvolle vertrekpunt vir kurrikulering vir
aanpasbare nie-formele kursusse. Die
betrokke beskrywing dui ook op deurstromingsmoontlikhede (raakvlakke) tussen
die formele en nie-formele afdelings van 'n Tegniese Kollege.
Die voorskrif
dat nie-formele Tegniese Kollege-kursusse selfonderhoudende (p.25)
kursusse moet wees, is besonder sinvol aangesien dit die behoud en uitbou van
die kollege kan waarborg vanweë die
feit dat dit deur die betrokke leerders self gefinansier word.
5. KURRIKULERING VIR TEGNIESE KOLLEGES
Op hierdie
stadium is dit van pas om enkele opmerkings te maak oor kurrikulering vir
Tegniese Kolleges:
(a) Wetenskaplik verantwoordbaar
In die Tegniese
Kollege gaan dit om onderwysinhoude wat op formele en nie-formele wyse
aangebied moet word na wetenskaplik verantwoorde kurrikulering. Die kurrikulering vir nie-formele tegniese
onderwys (NFTO) moet van so 'n gehalte wees dat dit daartoe sal meewerk dat dié
kursusse eventueel erkenning as formele kursusse sal kan kry. Kurrikulumbeplanning in die lig van
wetenskaplik verantwoorde beginsels en kriteria moet aan die Tegniese Kollege
lei tot effektiewe formele en nie-formele onderwys.
(b) Doelgerigtheid
Aan die
Tegniese Kollege moet in die doelgerigte en sistematiese beplanning van die
verbetering van leerprogramme met praktykbetekenis rekening gehou word met
beide formele en nie-formele moontlikhede.
Daar moet skerp kennis geneem word van die eise vanuit die private
sektor (werklewe) en hierin kan werkontledings 'n besondere funksie verrig.
(c) Doeltreffendheid
Aan die
Tegniese Kollege is besondere kriteria vir beoordeling van kuurrikulêre
effektiwiteit (doeltreffendheid) doelstellings wat blyk uit werkontledings. Sommige van hierdie doelstellings sal die
beste in die formele afdeling en ander weer in die nie-formele afdeling van die
Tegniese Kollege verwerklik kan word.
6. VERWYSINGS NA TEGNIESE KOLLEGES IN DIE
WITSKRIF OOR ONDERWYSVOORSIENING IN DIE RSA, 1983
(a) Verwysings
Die inskakeling
en uitbouing van nie-formele onderwys in die onderwysstelsel van die Republiek
van Suid-Afrika as moontlike oplossing van onderwysprobleme, figureer skerp in
onder andere die Witskrif oor Onderwysvoorsiening in die RSA. 1983. In hierdie paragraaf sal aandag geskenk word
aan direkte verwysings in die Witskrif na Tegniese Kolleges ten aansien van die
nie-formele onderwys wat dit kan en mag aanbied asook aan verwysings ten
aansien van nie-formele onderwys wat nie direk na Tegniese Kolleges is nie,
maar tog implikasies vir Tegniese Kollege-onderwys het.
Paragraaf
6.2(e) (i)
...huldig die
Regering die standpunt dat tegniese kolleges die inrigtings is wat by uitstek
geskik is vir die beplande aanbieding van nie-formele
onderwysprogramme... Dit is wel 'n
vraag of die benaming tegniese kollege nie hersien moet word ten einde 'n
duideliker beeld te bied van die tweeledige funksie van formele beroeps- en
tegniese opleiding sowel as nie-formele onderwys wat dit uitoefen nie.
(b) Kommentaar:
1. Tegniese Kolleges word uitgesonder as die
sinvolste plek vir beplande aanbieding van nie-formele onderwys. Beplanning verwys onder andere na
kurrikulering en die opstel van programme asook na doelbewuste benutting van
raakvlakke tussen FO en NFO.
2. Die Tegniese Kollege is in staat daartoe om
formele en nie-formele bedrywighede met mekaar te sinchroniseer, d.w.s. om die
raakvlakke wat bestaan te benut.
3. Sinchronisering van formele en nie-formele
onderwys kan daartoe lei dat die Tegniese Kollege 'n volwaardige loopbaaninstituut
kan wees. Hier word veral gedink aan
horisontale deurbeweging wat tydens loopbaanopleiding bewerkstellig kan word
en 'n natuurlike oorgang van skoolplig (Tegniese Kollege se formele been) na
die daaropvolgende leerplig (Tegniese Kollege se nie-formele been) asook
Kollege-opleiding na voltooiing van leerplig (formele en nie-formele
opleiding).
7. BRUGMODULE BY DIE UITTREEPUNT UIT DIE
FORMELE ONDERWYS (RSA, 1983:25-26 WITSKRIF)
(a) Brugmodule
In die Witskrif
lui die Onderwystaakgroep (wat deur die Regering aangestel was om die destydse
ministers verantwoordelik vir onderwys te adviseer met die oog op die lewer van
kommentaar op die Verslag van die Hoofkomitee van die RGN-ondersoek na die
Onderwys) se beskrywing van die brugperiode soos volg:
Dit is 'n
afrondingskursus waardeur 'n bepaalde graad en vlak (van skolastiese
vaardigheid), wat ook 'n uittreepunt uit die formele onderwys is, aan
lewensvatbare beroepsmoontlikhede en/of opleiding in nie-formele onderwys
gekoppel word.
Die Regering
besluit in hierdie verband soos volg:
Die Regering
aanvaar in beginsel die aanbeveling vir 'n brugmodule wat na die basiese
onderwys sal dien as begeleiding tot die nie-formele onderwys en/of die
beroepslewe vir persone wat op daardie stadium die formele onderwys verlaat.
(b) Kommentaar:
1. In 'n Tegniese Kollege sal dit betreklik
maklik wees om 'n formele kursus wat hy self aanbied af te rond sodat daar
sinvol beweeg sal kan word na die nie-formele Tegniese Kollege-opleiding wat 'n
aanvullende opleiding kan wees met die oog op groter
beroepsdoeltreffendheid. Dit is so
omdat daar presies vasgestel sal kan word welke begeleiding en afronding nodig
is en wanneer die afronding so 'n peil bereik het dat uittrede uit die formele
Tegniese Onderrig realisties sal wees.
2. Die Tegniese Kollege sal vanweë die
deskundigheid van sy lede (veral bestuurspersoneel) sinvol begeleidingswerk kan
doen ten aansien van leerders se inskakeling by die beroepswêreld na
voltooiing van die nie-formele Tegniese Onderwys (par. 7.4.2(c) van die
Witskrif).
3. Die Tegniese Kollege sal betekenisvol daartoe
in staat wees om die kurrikulering vir sy formele en nie-formele bene te
sinchroniseer sodat onder andere onnodige duplisering en fragmentering
uitgeskakel sal kan word en die beroepsbekwaamheid van sy leerders aansienlik
kan verhoog. Dit is eintlik
raakvlak-operasionalisering waarom dit hier gaan.
8. HORISONTALE DEURGEWEGING (RSA,
1983:26-27 WITSKRIF)
(a) Deurbeweging
In paragraaf 4.9
van die Verslag van die Onderwystaakgroep is die volgende stellings ten aansien
van die wisselwerking tussen formele en nie-formele onderwys, betekenisvol vir
Tegniese Kolleges:
(i) Herdefiniëring.
4.9.1 Ter aanvang is dit belangrik om daarop te
wys dat nie-formele onderwys en formele onderwys 'n gedefinieerde onderskeid
is wat kan verander deur herdefiniëring.
Kommentaar:
Definiëring en
herdefiniëring van formele onderwys en nie-formele onderwys wanneer albei onder
dieselfde dak beoefen word, sal voortdurend skerp en effektief kan
geskied. Die neerslag van hierdie
definiëring in kurrikula sal ook makliker voltrek en geëvalueer kan word. NFTO as versterking van beroepsbeoefeningbekwaamheid
is hier van besondere betekenis.
(ii) Verskuiwing
4.9.3 Derdens
kan 'n verskuiwing van die formele na die nie-formele en omgekeer,
plaasvind. Hierdie tendens word dikwels
gevind deurdat kursusse wat in die nie-formele onderwys aangebied is, uitgebou
word tot 'n volwaardige kursus in formele onderwys. Dit is ook moontlik dat kursusse in formele onderwys 'vervang'
word deur meer praktyktoepaslike kursusse in nie-formele onderwys.
Kommentaar:
Verskuiwing
vanaf formele onderwys na nie-formele onderwys en omgekeerd binne 'n Tegniese
Kollege sal maklik bewerkstellig kan word.
Nie-formele kursusse moet voortdurend evalueer word met die oog op die
ontwikkeling daarvan tot volwaardige formele kursusse. Die kurrikulering wat sodanige ontwikkeling
kan stimuleer moet 'n voortdurende aktiwiteit (proses) wees.
(iii) Aanpasbaarheid
4.9.4 Institute van formele onderwys is minder
aanpasbaar as die in nie-formele onderwys.
Een effek hiervan is dat die omvang van nie-formele onderwys na alle
verwagting hand oor hand sal toeneem.
Kommentaar:
Nie-formele
kursusse wat in Tegniese Kolleges aangebied word beskik oor die inherente
moontlikhede om toe te neem, veral in die sin dat aanverwante kursusse maklik
ingestel kan word. Dié toename kan ook
aangehelp word wanneer werkgewers raaksien dat NFTO betekenisvol bydra tot 'n toename
in beroepsbekwaamheid.
Die volgende
Regeringsbesluit in verband met horisontale deurbeweging in par 7.5.2 van die
Witskrif verdien verdere aandag: Die
Regering ag dit egter nodig dat daar eers verdere ondersoek ingestel word na
die opvoedkundige uitvoerbaarheid van 'n modulêre struktuur bestaande
uit modules van verskillende moeilikheidspeil...
Kommentaar:
Kurrikulering
vir modulering sal in oënskou geneem moet word.
9. TEGNIESE EN BEROEPSONDERWYS
(LOOPBAANONDERWYS) (RSA, 1983:36-38 WITSKRIF)
(a) NFO en loopbaanopleiding
In par 4.11.6
maak die Onderwystaakgroep die volgende aanbevelings:
4.11.6 Die nie-formele onderwysvoorsiening moet op
so 'n basis geplaas word dat vir leerders wat uit die formele stelsel beweeg en
vir volwasse leerders die nodige loopbaanopleiding beskikbaar is.
Kommentaar:
Nie-formele
onderwys besit die moontlikheid om meer toegespitste spesifieke
loopbaanopleiding te word. Dit beteken
dat kurrikulumontwikkeling ingestel moet wees op die verheffing van nie-formele onderwys se beroepsbeoefeningbetekenis. Hierdie stelling impliseer dat 'n besondere
navorsingsweg gevolg sal moet word. Dit
is die weg van werkontleding tot nie-formele onderwys.
(b) Stabiliteit
In par 4.11.7
stel die Onderwystaakgroep:
Die onstabiliteit
van die nie-formele onderwys moet in 'n redelike mate opgehef word sodat
opleiding voort kan gaan gedurende ekonomies lae konjunktuurtoestande en nie
eers (gewoonlik laat) weer op dreef kom as die ekonomie al 'n hele ent in die
hoogkonjunktuurfase inbeweeg het nie.
Kommentaar:
Die Tegniese
Kollege beskik vanweë sy infrastruktuur oor die potensiaal om enige
onstabiliteit in nie-formele onderwys te voorkom en uit te skakel. Verder is die Kollege daartoe in staat om
voortdurende opleiding te verseker wat nie beïnvloed hoef te word deur
wisselinge in die ekonomie nie.
(c) Publisiteit
In par 4.11.10
doen die Onderwystaakgroep die volgende aanbeveling:
Gesien die
gevestigde weerstand teen die soort onderwys in die RSA moet daar 'n goed
beplande publisiteits- en voorligtingsprogram gevolg word om die soort
onderwys in die regte perspektief te stel.
Kommentaar:
Die Tegniese
Kollege beklee die ideale posisie om weerstand teen tegniese onderwys te
verminder en selfs te vernietig. Die
Kollege sal vrugbaar kan deelneem aan programme om tegniese onderwys in die
regte perspektief te stel. Die deelname
sal egter goed beplan moet word en huidige pogings sal verskerp moet word.
(d) Balans en mannekragbehoeftes
Die volgende
besluit van die Regering is betekenisvol:
7.10.2(b) Die Regering aanvaar die aanbeveling in
paragraaf 4.11.1 dat na 'n balans tussen algemeen vormende voorbereidende
akademiese onderwys en algemeen vormende voorbereidende loopbaanonderwys
beweeg moet word met die oog op die eise van die mannekragbehoeftes van die
land.
Kommentaar:
Toekomstige
kurrikulumontwikkeling van Tegniese Kolleges sal rekening moet hou met die
inbou van algemeen vormende aktiwiteite in die loopbaanonderwys wat hy
aanbied. Hierdie aktiwiteite sal
geïdentifiseer moet word en sinvol ingeskakel moet word in
opleidingsprogramme. Verder moet in
gedagte gehou word dat loopbaanonderwys as sodanig algemeen vormend is. In hierdie verband sal daar ook skerp gekyk
moet word na die didaktiese riglyne in die betrokke sillabusse.
10. KURRIKULUMDIENSTE (pp.41-42 WITSKRIF
1983)
In par 4.14.2
is die volgende aanbevelings van die Onderwystaakgroep betekenisvol vir
tegniese onderwys as vorm van nie-formele onderwys:
(a) Situasie-analise
Kurrikulering
in al sy fases word normaalweg gerig op situasie-analise, doelwit-,
leerervaring- en inhoudbepaling, leersituasie-ontwerp en evaluering.
Kommentaar
Situasie-analise
ten aansien van nie-formele tegniese onderwys sal onderneem moet word ten einde
die essensiële daarvan uit te lig. In
die lig van hierdie essensies sal die volgende onderneem moet word:
(i) Skerp
doelwitformulering sodat doelwitopleiding realisties kan geskied. Doelwitopleiding het behalwe opleidingswaarde,
besondere vormende waarde veral vanweë die dissiplineringswaarde daarvan.
(ii) Duidelike
identifisering van betekenisvolle leerervaringe vir die nie-formele
onderwysleerders, veral daardie ervaringe wat te make het met verskerping van
beroepsbeoefeningbekwaamheid.
(iii) Bepaling van relevante (beroepsbetekenisvolle)
inhoude
as inhoude wat
spesifiek toegespits is op doeltreffender beroepsbeoefening.
(iv) Leersituasie-ontwerp
sodat doelwitopleiding effektief kan geskied.
(v) Evaluering,
veral in terme van beroepseffektiwiteit.
(b) Navorsing
Kurrikulering
verloop normaalweg in drie interafhanklike fases, naamlik navorsing, ontwerp en
ontwikkeling.
Kommentaar:
Belanghebbendes
by kurrikulering vir nie-formele tegniese onderwys sal eers geïdentifiseer
moet word en daarna sal beplan moet word vir gesamentlike kurrikulumnavorsing,
kurrikulumontwerp en kurrikulumontwikkeling.
(c) Behoeftebepaling
Kurrikuleringsagente
moet kennis neem van die behoeftes en eise van die samelewing en moet binne die
moontlikhede en beperkinge van die determinante doelbewus kurrikuleer om in
sulke behoeftes te voorsien.
Kommentaar:
Kurrikulering
vir nie-formele tegniese onderwys moet as 'n besondere hedendaagse behoefte
raakgesien word, veral wanneer die kurrikulering afgestem moet wees op die
bydrae wat NFTO moet maak tot groter beroepseffektiwiteit.
(d) Gebruikersinspraak
Gebruikers van
die kurrikulum moet die reg hê tot betekenisvolle inspraak in die
kurrikulumontwerp waarby hulle gemoeid is.
'n Sterk demokratisering van die kurrikuleringspraktyk word as beginsel
aanvaar, veral ten opsigte van die partikuliere behoeftes van gemeenskappe en
groepe wat tot nou toe nog nie hulle eiesoortige onderwysbehoeftes gestel het
nie.
Kommentaar:
Tegniese
Kolleges moet in georganiseerde verband geleentheid kry tot inspraak ten
aansien van kurrikulumnavorsing, -ontwerp en -ontwikkeling (ook met betrekking
tot nie-formele tegniese onderwys en die raakvlakke wat dit het met formele
tegniese onderwys).
(e) Diens
Kurrikulering
moet as 'n diens aan die totale onderwysgemeenskap (formeel en nie-formeel)
georganiseer en bedryf word.
Kommentaar:
Kurrikuleringsaktiwiteite
ten aansien van nie-formele onderwys sal moet sinchroniseer met
kurrikuleringsaktiwiteite van formele onderwys en dit is juis moontlik omdat
daar raakvlakke bestaan tussen FO en NFO.
Hierdie sinchronisering kan besonder sinvol geskied in Tegniese
Kollege-opset omdat formele onderwys en nie-formele onderwys onder dieselfde
dak verkeer.
(f) Prosedures
Prosedures moet
uitgewerk word.
Kommentaar:8)
Prosedures vir
kurrikulumnavorsing in nie-formele tegniese onderwys sal aangepas moet word met
die oog op die effektiefste wyse van toepassing in nie-formele
onderwyssituasies.
Die volgende
moontlikhede moet ook sterk oorweeg word:
(i) Identifisering
van sekondêre skole wat die potensiaal het om evolusionêr te ontwikkel tot
Tegniese Kolleges.
(ii) Evaluering
van bestaande kursusse aan sekondêre en primêre skole met werkontledings as
kriteria ten einde te bepaal of skerper beroepsgerigtheid van skoolvakke nie
moontlik is nie, sonder om die beklemtoning van die vormende waarde van daardie
vakke af te water.
(iii) Die idee van buite-kampusse vir Tegniese
Kolleges moet
beslis oorweeg
word aangesien op die wyse tegniese onderrig nader aan die gemeenskap gebring
word. Daar kan in hierdie verband
moontlik begin word met die nie-formele afdeling van 'n Tegniese Kollege.
11. SAMEHANG TUSSEN FORMELE EN NIE-FORMELE
ONDERWYS IN TEGNIESE KOLLEGES
(a) Uitleg
Volgens die
verslag van die Wetenskapkomitee van die Presidentsraad (Presidentsraad, 19849), moet doelgerigte pogings aangewend
word om skakeling tussen formele onderwys en nie-formele onderwys te
bewerkstellig. As motivering word
gestel dat daar onderlinge verbande d.w.s. raakvlakke tussen hierdie twee
onderwysvorme is, hulle afhanklik van mekaar is en dat die verband daarom
bevorder moet word. Bevordering van die
verband kan betreklik maklik aan Tegniese Kolleges gebied word waar albei
hierdie onderwysvorme onder dieselfde
dak aangebied kan word.
Die
Wetenskapskomitee is egter voorwaardelik ten gunste van 'n benadering van
integrering van formele en nie-formele onderwys, naamlik dat die buigsame aard
van nie-formele onderwys, die belangrikste bate daarvan, behoue moet bly. Waar albei in dieselfde instelling (Tegniese
Kollege) beoefen word, is hierdie integrasie (deurstroming) byna 'n
vanselfsprekende saak.
Ter
ondersteuning van hierdie gedagte kan gemeld word dat Unesco ook reeds
gedurende 1972 beweer het dat die kunsmatige en uitgediende skeiding tussen
formele en nie-formele onderwys opgehef moet word. Hierdie opheffing sal aan 'n Tegniese Kollege sinvol kan geskied.
Wat hier
raakgesien moet word, is dat die sentrale begrip waarom dit gaan, onderwys is
en dat die voorvoegsels, naamlik formele en
nie-formele, slegs 'n aanduiding is aan watter afdeling van die Tegniese
Kollege die onderrig geskied. Wanneer
van 'n opheffing van skeiding tussen die twee onderrigsvorme gepraat word,
beteken dit dat toereikende onderwys aan die leerder beide vorme van onderwys
kan insluit.
Die integrering
van formele en nie-formele onderwys, oftewel die deurstroming tussen hierdie
twee onderwysvorme is reeds aan die orde van die dag by Tegniese Kolleges. Ter illustrasie word daar na die volgende
twee voorbeelde verwys waar eerstens aangetoon word dat die nie-formele
onderwys 'n voorbereidingsfunksie ten aansien van formele onderwyskursusse het
en ten tweede dat die nie-formele afdeling ook kan dien as die plek waar
formele onderwys afgerond word.
(b) Voorbeeld 1: Mapulaneng
Die minimum
vereiste vir toelating tot die formele tegniese kursusse is standerd 7 met
slaagsyfers in wiskunde en algemene wetenskap.
Ten einde egter daardie leerder wat wel oor 'n Standerd 7-sertifikaat
beskik, maar wat nie wiskunde en wetenskap geslaag het nie, toelating te
verleen tot die formele N1-kursus, word 'n elementêre tegniese kursus vanaf
Januarie tot April (eerste blok) by die Mapulaneng Tegniese Kollege
aangebied waartydens die leerder blootgestel word aan modulêre opleiding. Buiten hierdie praktiese opleiding wat
intern geëksamineer word, word onderrig ook verskaf in die basiese beginsels
van onder andere wiskunde en wetenskap gevolg deur interne eksaminering. Indien die leerder minstens 'n slaagpunt van
40% in die laasgenoemde teorie-deel behaal en 'n slaagpunt van 50% in die prakties,
word hy toegelaat tot die volgende Blok om 'n aanvang te maak met formele
N1-studie. Op hierdie wyse het
nie-formele onderwys gedien as voorbereiding vir verdere formele opleiding.
(c) Voorbeeld 2: Umlazi
Vanaf 1986 word
'n self-employment-business method-kursus by Umlazi Tegniese Kollege aangebied vir onder andere leerders
wat besig is met voltydse formele tegniese opleiding. Hierdie is 'n praktiese besigheidskursus wat persone wat opgelei
is in 'n ambag, in staat stel om 'n entrepreneurskap te beoefen indien so 'n
persoon nie deur 'n werkgewer in diens geneem word nie. So 'n besigheidskursus dien nie net as
afronding vir formele opleiding nie, maar hou ook moontlikhede in vir die
afronding van nie-formele handvaardigheidskursusse waar stokperdjie-beoefening
byvoorbeeld kan uitloop op entrepreneurskap.
12. AKKREDITERING EN SERTIFISERING VAN
NIE-FORMELE ONDERWYS AAN TEGNIESE KOLLEGES
(a) Uitleg
Elke opleidingsinrigting
strewe na die maksimale erkenning van sy opleiding deur instansies wat vir
daardie inrigting belangrik is in terme van die sin van sy bestaan. Hierdie instansies verleen as't ware
bevoegdheid aan 'n bepaalde inrigting om opleiding te onderneem. Die inrigting weer sal op een of ander wyse
wil verklaar dat sy opleiding aan besondere gestelde vereistes voldoen. Hy (of 'n beherende instansie wat oor hom
wetlike toesig het) wil sertifiseer dat hy die bevoegdhede wat erken word,
gerealiseer het. Hierdie aanloop bring
'n mens midde in die problematiek van akkreditering en sertifisering.
(b) Millard, R M
Millard se
uiteensetting van akkreditering eerstens as 'n toestand, tweedens as 'n
proses en derdens as 'n gemeenskaplike aktiwiteit:
(i) Akkreditering
as 'n toestand dui op die status wat aan 'n opvoedkundige/onderwysinrigting
of program toegeken word wanneer 'n portuurgroep (insluitende professionele
verteenwoordigers en verteenwoordigers van die publiek) bevind dat die betrokke
inrigting/program voldoen aan gehalte- en verrigtingskriteria;
(ii) Akkreditering
as 'n proses twee sake in die oog het, naamlik om te getuig van die
kwaliteit van die instansie/program, en hulp ter verbetering van
daardie kwaliteit;
(iii) Akkreditering as gemeenskaplike aktiwiteit,
die saamwerk van akademiese en professionele gemeenskappe, behels om:
- standaarde te ontwikkel en te valideer
- die toereikendheid van hul eie praktyke te
evalueer
- portuurgroepbeoordeling en voorligting
aan te bied ten einde studente en die publiek van die integriteit en gehalte
van die onderwys te oortuig.
(c) Definisies van sertifisering
(i) Gilley, J W en Galbraith, M W11)
Gilley en
Galbraith definieer sertifisering as ...the process by which a professional
organization or an independent external agency recognizes the competence of
individual practitioners. Sertifisering
kan hiervolgens dan beskryf word as 'n prosedure waardeur 'n verklaring by wyse
van 'n sertifikaat deur 'n inrigting of 'n groep inrigtings of 'n daartoe
gemagtigde instansie of liggaam uitgereik word dat 'n persoon voldoen het aan
al die vereistes wat met betrekking tot 'n bepaalde kwalifikasie geld.
(ii) Van der Stoep F12)
Deur Van der
Stoep word sertifisering beskryf as ...a process or act by which individuals
are awarded educational credentials after successfully fulfilling a set of
prescribed requirements at a certain educational level. In may cases it also acts as a guarantee
that individuals have aquired a minimum set of qualifications for pursuing a
particular profession or accupation, and/or for proceeding to the next stage of
formal education.
Uit die
voorgaande kan afgelei word dat waar akkreditering te make het met die
evaluering van onderrigprogramme, dit by sertifisering gaan om die evaluering
van die bekwaamhede of vaardighede van individue.
(iii) Sertifisering in die geval van Tegniese
Kolleges
Die Wet op
Tegniese Kolleges, 1981 (Wet 104 van 1981) magtig nie Tegniese Kolleges om self
te eksamineer en te sertifiseer ten aansien van formele kursusse nie. Hierdie funksie berus by die Departement van
Onderwys en Kultuur (Administrasie Volksraad) vir Blanke Tegniese Kolleges, en
dieselfde Departement verrig die eksaminerings- en sertifiseringsfunksie op
agentskapbasis vir Tegniese Kolleges van die ander bevolkingsgroepe. Alle studente volg dieselfde formele
kursusse/sillabusse en skryf dieselfde eksamens. Hierdeur word eenvormigheid van standaarde verseker. Die praktyk het in die verlede bewys dat ten
einde die aanvaarbaarheid van die kwalifikasies te verseker, sowel die
werkgewers as die kandidate een eksamen verkies wat deur een sentrale
eksaminerende liggaam vir alle bevolkingsgroepe afgeneem word. Wat kursusse in die nie-formele afdeling van
'n Tegniese Kollege betref, word eksamens intern afgeneem en reik die
Kollegeraad sertifikate uit. Daar is
nie gemeenskaplike sillabusse ten aansien van nie-formele kursusse nie en
derhalwe ook nie eenvormigheid van standaarde vir soverre dit die
kursusaanbieding in die nie-formele afdelings betref nie omdat kurrikulering,
eksaminering en sertifisering op eie inisiatief geskied, kan afgelei word dat
sertifikate beperkte erkenning sal geniet.
Kommentaar:
Kollegerade kan
in samewerking met en op advies van hulle Studierade die hele aangeleentheid
van akkreditering hanteer. Vooraf sal
egter deeglike kurrikulering onderneem moet word ten einde te verseker dat nie-formele
kursusse ontwerp sal word wat bruikbaar en aanvaarbaar sal wees vir die nywerhede
in die bedieningsgebied van die betrokke Tegniese Kollege.
Studierade sal
'n deeglike studie moet onderneem van die riglyne vir die instelling en bedryf
van die stelsel van akkreditering deur die Departement van Mannekrag13) op die eerste vlak (Bylae 1 van die
verslag) asook van die riglyne vir die instelling en bedryf van die stelsel van
akkreditering deur 'n Raad in Nywerheidsopleiding op die tweede vlak (Bylae 2
van die verslag). In die lig van
hierdie studie sal Kollegerade geadviseer moet word.
Wat die
nie-formele onderwyssektor betref, wat ook die nie-formele afdeling van
Tegniese Kolleges insluit, blyk dit dat akkreditering tans nie bestaan nie en
verder dat sertifikate wat in die voormelde sektor uitgereik word, beperkte
erkenning geniet.
Om die gehalte
van opleiding/programme in die nie-formele afdelings van Tegniese Kolleges te
verseker, beteken dat akkrediteringsliggame binne die nie-formele onderwys
gekonstitueer moet word wat die opleiding/programme in die nie-formele
afdelings kan akkrediteer - 'n voorbeeld van sodanige akkrediteringsliggame is
die voorgestelde Nywerheidsrade vir Ambagsmanopleiding. 'n Soortgelyke liggaam of liggame kan
gekonstitueer word wat die handel betref.
Die verlening van status en
erkenning aan sertifikate wat deur kollegerade ten aansien van
opleiding/programme in die nie-formele afdelings van Tegniese Kolleges
uitgereik word, kan bewerkstellig word deur die akkreditering van Kollegerade
deur die S A Sertifiseringsraad om eksamens af te neem en sertifikate in die
naam van die Sertifiseringsraad uit te reik.
By implikasie sal daar 'n noue verbintenis tussen die Sertifiseringsraad
en die akkrediteringsliggame vir die handel en die nywerheid moet wees.
Die akkreditering
en sertifisering van die opleiding/programme in nie-formele afdelings van
Tegniese Kolleges vereis aanvaarbare kurrikulering wat beteken dat kurrikula
relevant moet wees en in die gedifferensieerde behoeftes van gebruikers moet
voorsien. Aanvaarbaarheid van kurrikula
impliseer dat sowel die handel en die nywerheid as die Sertifiseringsraad
inspraak by die ontwerp en ontwikkeling van kurrikula vir nie-formele afdelings
moet hê.
13. DIE VERWOERDBURGSE TEGNIESE KOLLEGE AS
EKSEMPLAAR
Die volgende
uittreksel uit 'n advertensiebiljet14) is 'n goeie weergawe van die missie
en bedrywighede van tegniese kolleges in die RSA.
Die missie van
tegniese kolleges is om relevante beroepsonderwys van gehalte op naskoolse vlak
aan die breë massa van die ekonomies bedrywige bevolking te verskaf, wat 'n
positiewe verskil aan die beroepsprestasies, vordering en persoonlike
ontwikkeling van studente maak.
Die kwaliteit
van die beroepsonderwys wat tegniese kolleges verskaf, sowel as die relevantheid
daarvan, is sodanig dat dit studente se behoeftes bevredig, vir werkgewers
aanvaarbaar is en waarde vir die studente bied in terme van geld en tyd daaraan
bestee en opofferings wat dit meebring.
'n Belangrike
kenmerk van die tegniese kollege is dat die kursusse wat dit aanbied, gerig is
op die behoefte van die gemeenskap wat dit bedien sodat studente wat hier
afstudeer hulle kennis in die praktyk kan toepas.
Dié werkwyse
impliseer dus 'n noue samewerking met die instansies wat die studente in diens
neem sodat binne die raamwerk van onderwys daarin die behoeftes van die
instansies voorsien word.
Tegniese
kolleges voorsien ook in 'n belangrike behoefte aan heropleiding van persone
wie se bestaande opleiding hulle in 'n doodloopstraat laat beland het. Nie-formele indiens-opleiding in baie vakke
en rigtings word by tegniese kolleges aangebied.
Ons land
benodig opgeleide mannekrag om ons ekonomie uit te bou. 'n Kursus by 'n tegniese kollege in die
ingenieur-studierigting sal jou kwalifiseer vir 'n waardevolle en winsgewende
beroep.
Daar is 69
kolleges oor die hele land met heelwat meer as 100 000 studente, en hulle volg
kursusse wat by hulle aspirasies pas en hulle met sowel die teoretiese as die
praktiese opleiding sal toerus wat nodig is om 'n loopbaan te begin.
Die Tegniese
Kollege is daargestel om aan die behoeftes van die gemeenskap wat dit bedien,
te voldoen en bied nie alleen tegniese kursusse nie, maar ook 'n wye
verskeidenheid kursusse wat gevolg kan word.
Sosiale en vryetydsvaardighede kan ontwikkel word, en bied ook
opknappingskursusse op 'n deeltydse grondslag.
Wat ook al u behoefte, u plaaslike Tegniese Kollege kan help om 'n beter
toekoms vir uself te bou. Verder kan u
ook vir u Nasionale Senior Sertifikaat studeer.
Die verskeidenheid
formele en nie-formele kursusse behels onder meer: Handel, Ingenieurstudies, Bestuur, Skeppende Kuns, Grafiese
Ontwerp, Klereproduksie, Sekretariële Opleiding, Rekenaarpraktyk, Ballet en
Musiek.
š Voltydse en deeltydse kursusse word aangebied.
š In-diens en nie-formele opleiding vir die
handel en nywerheid.
(b) Verwoerdburgse Tegniese Kollege: Nadere presisering
Die volgende
twee insette (gedeeltes daarvan) het in die besonder betrekking: (Bladsye 8 en 15 Jaarblad 1977-1987)15)
Persone met
toepaslike tegniese opleiding vorm die ruggraat van die land, want sonder hulle
sal groot sektore van die nywerheids-verdedigings- en talle ander bedrywighede
lam gelê word. Die Tegniese Kollege
Verwoerdburg het deur sy hele ontwikkeling oor die afgelope vyftig jaar met
trots en besonder groot sukses bouwerk aan hierdie ruggraat gedoen en kan dus
met reg daarop aanspraak maak dat voortreflike landsdiens verrig is en steeds
in die toekoms die doelwit sal bly.
Toekomstige
ontwikkeling sal hoofsaaklik bestaan uit volgehoue modernisering van leerplanne
deur wetenskaplikverantwoorde kurrikulumontwikkeling. Daar sal steeds met entoesiasme voortgegaan word om standaarde
te verhoog en om die beroepsgerigtheid van alle kursusse te verskerp. Nog 'n doelwit van die toekoms is die
geleidelike opgradering van nie-formele kursusse om die beroepsbetekenis
daarvan te verhoog. Ook sal daar in 'n
toenemende mate aandag gegee word aan interne sertifisering wat vir die
gebruikers van tegniese kollege-onderwys aanvaarbaar sal wees.
Na vyftig jaar,
stel die Tegniese Kollege Verwoerdburg hom steeds ten doel die bevordering van
kennis, die toepassing van die verworwe kennis en die ontwikkeling en
daarstelling van middele in die opleiding van mannekrag vir middelvlak beroepe
met 'n sterk praktykgerigte inslag.
Die Kollege het
'n besondere onderrigtaak. Eerstens
word daar gepoog om deur geïntegreerde studie en arbeidsaamheid die weg vir
suksesvolle beroepsbeoefening voor te berei, met die klem op die toepassing en
die beoefening daarvan in 'n spesifieke beroepspraktyk.
Tweedens het
die Kollege ook 'n besondere taak ten opsigte van behoeftes wat deur 'n
tegnologiese 'ontploffing' en vooruitgang veroorsaak word, aangesien verworwe
kennis en vaardighede aangewend moet word om dienste, stelsels, produkte,
toestelle ensovoorts te ontwerp, te evalueer en aan te pas met die oog op
implementering en/of vervaardiging. Die
Tegniese Kollege Verwoerdburg voel homself derhalwe geroepe om bovermelde doel
na te streef in diens van die S A Weermag, plaaslike nywerhede en die
gemeenskap, 'n doel wat wel keer op keer verwesenlik word soos getuig uit vele
oudstudente wat die hoogste sporte in die samelewing bereik het.
(c) Verwoerdburgse Tegniese Kollege: Opleidingsmoontlikhede
Die volgende
advertensie16) bied 'n kort maar volledige samevatting:
Alhoewel die
Tegniese Kollege Verwoerdburg in die Tekbasis militêre kamp geleë is, word daar
verkeerdelik deur die publiek aanvaar dat die kollege slegs opleiding aan
studente in uniform verskaf. In wese is
die kollege, soos enige ander tegniese kollege, 'n gemeenskapskollege wat
opleiding en onderrig oor 'n breë spektrum van vakgebiede aan die algemene publiek
verskaf.
'n Wye
verskeidenheid van kursusse en vakgebiede verseker dat persone volgens hul eie
unieke behoeftes, belangstelling en smaak onderrig kan word. Die volgende twee breë rigtings is veral
kenmerkend in die Tegniese Kollege Verwoerdburg se onderrigcurriculum.
Formele
kursusse: Eerstens is daar formele
onderwys, waarin studente opgelei en onderrig word met die oog daarop om
formele eksamens af te lê en kwalifikasies te verwerf. Die volgende drie afdelings tree hier sterk
na vore.
1. Tegnies/Akademiese Opleiding
Tegniese klasse
word voltyds en deeltyds aangebied met die uitsluitlike doel om die student
tegnies beter te bekwaam deur hom in staat te stel om die hoogste kwalifikasie,
in die tyd tot sy beskikking te bekom.
Hierdie tyd hang af van sy toetredingskwalifikasies asook die aantal
termyne wat hy toegelaat word om klasse by te woon. Die kollege funksioneer op die trimesterstelsel wat meebring dat
daar drie kursusse per jaar van 12 tot 13 weke elk is, met nasionale eksamens
in April, Augustus en November van elke jaar.
Voorsiening word vir die volgende kursusse gemaak.
* Pre-tersiêre kursusse waarin 'n Nasionale
Sertifikaat op die N1, N2 en N3-vlakke verwerf kan word.
* Tersiêre kursusse waarin 'n Nasionale
Sertifikaat op die N4, N5 en N6-vlakke verwerf kan word. Indien daar aan sekere voorgeskrewe
vereistes voldoen word, kan 'n Nasionale diploma verwerf word wat vir salaris-
en statusdoeleindes deur alle staats- en verwante departemente erken word as 'n
driejarige na-matriek opleiding.
* Voorsiening word ook gemaak vir die verwerwing
aan die Staatsbevoegdheidsertifikaat.
2. Suiwer Akademiese, Sekretariële en
Handelsopleiding
'n Groot
verskeidenheid van vakke, op hoër- en/of standaard-graad, word aangebied met
die oog op die verwerwing van 'n Nasionale Senior Sertifikaat, met of sonder
universiteitstoelating. Dié vakke word
hoofsaaklik deeltyds aangebied en wel vanaf Maandag- tot Donderdagaande. Vaksuksesse kan geakkumuleer word, en
eksamen geskied eenkeer per jaar gedurende November van elke jaar.
Vir diegene wat
in 'n sekretariële rigting belangstel, word Tik Junior en Tik Senior, met
eksamen in November elke jaar, asook Tik N1 tot N6 in die oggende, namiddae en
aande aangebied. Tik N1 tot N6 is
semesterkursusse en eksamens word tweemaal per jaar, in Junie en November
afgelê.
3. Praktiese Werkwinkelopleiding
Die Tegniese
Kollege Verwoerdburg is uniek en eiesoortig in dié opsig dat dit die enigste
gemeenskapskollege is wat, naas die teoretiese klaskameronderrig, ook praktiese
opleiding in goed toegeruste werkwinkels aanbied. Hierdie opleiding kan in 'n elektriese, meganiese of motorrigting
geskied, al na gelang van die student se besondere behoefte of belangstelling.
š Elektries
Voorsiening
word gemaak vir die opleiding van elektronici in die elektroniese afdeling
(swakstroom), vir elektrisiëns (swaarstroom) en vir outo-elektrisiëns. Nie alleen word die ambagopleiding gedoen
nie, maar die finale kwalifiseringskursusse word ook aangebied. Verder word daar ook opleiding vir
koelingmonteurs in die koeling- en lugversorgingsafdeling gedoen asook vir
kursusse in fotografie en TV-produksiewerk.
* Meganies
In hierdie
afdeling word daar voorsiening gemaak vir algemene meganiese opleiding, pas- en
draaiwerk, asook opleiding in algemene instandhouding, hidroulika en
druklug. Ook hier word ambagopleiding
sowel as kwalifiseringskursusse aangebied.
* Motor
Hier word daar
gekonsentreer op motor- en dieselvoertuig-instandhouding ten opsigte van die
opknapping van alle voertuigkomponente, byvoorbeeld vergassers, brandstofpompe,
ontwikkelaars, opwekkers, aansitmotors, verdelers, remhoof- en
wielsilinders. Hierdie opleiding
geskied gedurende die ambagsopleiding, terwyl in die kwalifiseringskursus
aandag geskenk word aan die opknapping van byvoorbeeld enjins, ratkaste,
oordraratkaste, agterassamestelle, stuurkaste, remkompressors en elektriese
komponente. 'n Omsettingskursus van
motor- en dieselinstandhouding word ook aangebied. Ook onderneem die kollege om studente voor te berei vir hul
ambagstoetse.
Nie alleen vind privaatstudente baat by
hierdie kursusse nie, maar ook werkgewers wat begerig is om hul werknemers
beter te laat bekwaam om by hulle besonder behoefte aan te pas.
Nie formele
Onderrig
In die tweede
instansie, maak die kollege ook voorsiening vir opleiding op 'n nie-formele
basis deur 'n wye verskeidenheid van verrykings- en stokperdjiekursusse aan te
bied. So intensief en gespesialiseerd
is sommige van hierdie kursusse, dat hulle 'n baie hoë vlak van beroepsgerigtheid
al bereik het. Hierdie kursusse word na
gelang van behoefte en belangstelling ingestel en word oggende, smiddae en
saans aangebied. Kursusse wat op die
huidige baie sterk ondersteun word is, onder andere, sweiswerk, messelwerk,
kleremaak, knip-en-stik van breiwerk, binnenshuisversiering, pottebakker,
motorinstandhouding (beginners en gevorderd), opknapping en instelling van
dieselenjinbrandstofstelsels, motorfietsinstandhouding, koeling, lugversorging
en ventilasie, TV-herstel, voorbereiding vir bedradingslisensie, houtsny,
batik, kuns, Noord-Sotho en sosiale dans.
Tydens skoolvakansies word 'n rekenaarskursus en 'n kursus in praktiese
elektronika vir skoliere sterk ondersteun en is daar dikwels 'n waglys.
Die Tegniese
Kollege Verwoerdburg is tot die diens van die publiek, veral dié wat in die
suidelike voorstede woon. Parkering is
volop en die kollegekampus lê langs die Ben Schoeman hoofweg, wat meebring dat
toegang tot die kollege baie maklik is.
Die Tegniese
Kollege Verwoerdburg bied met ingang 1991 Nasionale Sertifikaatkursusse in
Handel vanaf die N1 tot N6-vlak aan.
Hierdie is semesterkursusse en geniet algemene byval by die publieke en
openbare sektor.
Kwalifikasies
wat verwerf kan word
N1, N2 en N3
(Geag gelykwaardig te wees aan Standerd 8, 9 en 10 onderskeidelik) N4, N5 en N6
is na-St 10 kursusse.
Vakke N1 N2 3
────────────────────────────────────────────────────────────────
Kommunikasie
& Kommunikasie & Kommunikasie &
Afronding Afronding Afronding
Kantoorpraktyk Kantoorpraktyk Kantoorpraktyk
Tik Tik Tik
Rekeningkunde Rekeningkunde Rekeningkunde
OF
Rekenaarpraktyk
────────────────────────────────────────────────────────────────
N4 N5 N6
────────────────────────────────────────────────────────────────
Tik Tik Tik
Kommunikasie Kommunikasie Enige DRIE vakke van:
Rekenaarpraktyk Rekenaarpraktyk Kommunikasie N6
Kantoorpraktyk Kantoorpraktyk Kantoorpraktyk N6
Bestuur N4 OF
Openbare Skakelwese
N4
────────────────────────────────────────────────────────────────
Ander
keusemoontlikhede wat addisioneel aangebied word, is:
* Mediese parktyk / Hotelontvangs en Toerisme /
Openbare skakelwese / Onthaalkuns
* Die studierigting bestuur bied behalwe
sekere basiese vakke ook 'n keuse van tussen spesialisering en
personeelbestuur, bemarkingbestuur en bedryfsbestuur.
(d) Verwoerdburgse Tegniese Kollege: Studieraad
Wet nr 104 van
1981 omskryf die pligte van 'n Studieraad:
1) oefen die bevoegdhede van organisasie van en
beheer oor die onderrig, opleiding en tug van die studente aan die tegniese
kollege uit wat die kollegeraad aan hom toewys;
2) dien die kollegeraad van advies met betrekking
tot 'n aangeleentheid wat die raad na hom vir sy advies verwys; en
3) kan die aanbevelings wat hy dienstig ag
betreffende akademiese aangeleenthede van belang vir die tegniese kollege, aan
die kollegeraad doen.
Dit beteken dat
die werksaamhede van die Studieraad beoordeel sal moet word onder die volgende
hoofde:
1) Organisasie van die onderrig
2) Beheer oor die onderrig
3) Opleidingsaangeleenthede
4) Tug (dissipline en gees)
5) Advies oor sake deur die Raad verwys
6) Aanbevelings aan en verwysings na die Raad
Die Studieraad
van die Tegniese Kollege Verwoerdburg spesifiseer ook nog die volgende wat in
lyn is met funksies 1-6 soos deur die Wet gestel:
7) Skakeling tussen weermageenhede en die Kollege
Verder kan ook
sake bygevoeg word wat voortvloei uit die besprekings tydens vergaderings:
8) Skakeling met die gemeenskap (en aanverwante
instansies)
9) Die Kampus van die Kollege ( en die
studentegemeenskap)
10) Eksamens en toetse
11) Personeelontwikkeling
Hieruit kan
afgelei word dat die Studieraad toegerus is om die Kollegeraad te adviseer ten
aansien van raakvlakke tussen formele tegniese onderwys (FTO) en nie-formele tegniese
onderwys (NFTO).
Die volgende
stellings en afleidings ten aansien van die funksionering van die Studieraad19) onderstreep die stelling wat so pas
gemaak is:
1. Beheer oor die onderrig is 'n funksie wat die
Studieraad ernstig opneem. Die
Studieraad werk met 'n sterk bewustheid dat doeltreffende beheer korreleer met
deeglike opleiding.
2. Aangesien die Kollege primêr 'n
opleidingsinrigting is, kan daar verwag word dat die Studieraad hom die meeste
daarmee sal besig hou.
3. Ten einde relevant te bly word daar
voortdurend leerplanhersiening gedoen wat dikwels voortspruit uit
situasie-analises opgevolg deur formatiewe evaluering.
4. Noue samewerking tussen die opleiers en die
gebruikers van die opleiding lei tot toename in die relevansie en effektiwiteit
van die opleiding.
5. Besoek aan die operasionele gebied, ander
opleidingsinstansies en verskillende gebruikers van opleiding dra betekenisvol
by tot opskerping en modernisering van die opleiding.
6. Die voortdurende evaluering en sinchronisering
van handboeke, leerplanne en vakvereistes verseker optimale tydsgebruik.
7. Die aanwending van kommissies van ondersoek
van opleidingsaangeleenthede, verseker in-diepte ondersoeke wat lei tot
praktykverbetering.
8. Die instelling van nuwe kursusse telkens
wanneer dit nodig blyk, verseker optimale dienslewering en dat die opleiding in
aanvraag bly.
9. Deur te sorg dat die standaard van apparatuur
op aanvaarbare vlakke bly, word verseker dat dit nie 'n struikelblok in die weg
van doeltreffende opleiding sal wees nie.
10. Die Raad neem deeglik kennis van die insette
van die Studieraad onder andere om die notules van die Studieraad as deel van
sy eie agenda te behandel.
11. Die insette van die Studieraad verseker dat
die Raad se bewustheid van die opleidingstoneel altyd skerp sal bly.
12. Een van die belangrikste doelstellings van die
Studieraad is om te dien as skakel tussen die opleier (Kollege) en die
gebruikers van die opleiding (die Eenhede).
Al die
bedrywighede van die Studieraad moet gesien word as skakelingsbedrywighede.
13. Die Studieraad bejeën evaluering met besondere
erns. Die uitkomste van die evaluering
kan dan ook as 'n maatstaf om die sukses van die Studieraad te meet, beskou
word.
14. Evalueringsverslae dien as 'n besondere skakel
tussen opleiers (Kollege) en die gebruikers van die opleiding.
15. Kritiese bekyking van eksamen- en
toetsresultate het 'n positiewe uitwerking op die opleiding.
(e) Verwoerdburgse Tegniese Kollege: Toekomsmoontlikhede wat die raakvlakke
tussen FTO en NFTO bied
Die raakvlakke
wat daar bestaan tussen FTO en NFTO, veral wanneer albei onder dieselfde dak
aangebied word bied die volgende twee moontlikhede:
1. Eerste moontlikheid
Afronding van
formele kursusse (Kursusse met N-sertifisering) deur NFTO (kursusse met interne
sertifisering) waardeur beroepsbeoefeningbevoegdheid verskerp word.
2. Tweede moontlikheid
Opgradering van
nie-formele kursusse deur bywerking van nie-formele modules spesifiek met die
oog daarop om persone geskik te maak om doeltreffend te opereer in die
informele sakesektor (wat in die toekoms met rasse skrede gaan toeneem in
belangrikheid).
Die Studieraad
is die instansie wat vir 'n bepaalde Kollege hierdie twee moontlikhede die
beste sal kan operasionaliseer en organiseer.
Een wyse om dit te doen is deur middel van studiekomitees wat
diepgaande situasie-analises sal moet doen gepaard met behoeftebepaling en
marknavorsing.
Opmerking
Waar daar in
die volgende bladsye na Tegniese Kolleges verwys word, word 'n Tegniese Kollege
soos dié van Verwoerdburg bedoel waar geïntegreerde institusionele opleiding
plaasvind sodat die toepaslike vakteorie en praktyk saam aangebied kan word,
met raakvlakrealisering met nie-formele onderwysmodules.
Die volgende
word deur die Departement van Mannekrag, Nasionale Opleidingsraad as nuwe
ontwikkeling aangedui wat voortspruit uit die Wysigingswetsontwerp op
Mannekragopleiding:
Meer klem sal
geplaas word op geïntegreerde institusionele opleiding sodat die toepaslike
vakteorie en praktyk saam aangebied kan word (Publikasie ISBN 0621 12901 1).
Hierby moet nog
gevoeg word dat volgens die Witskrif oor Onderwysvoorsiening in die RSA,
Tegniese Kolleges aangewys word as opleidingsinstansies wat by uitstek geskik
is vir die aanbieding van nie-formele onderwys.
Die feit dat in
sommige Tegniese Kolleges vanweë die huisvesting van vakteorie, praktyk en
nie-formele onderwys onder dieselfde dak, aan Tegniese Kolleges besonder
opleidingstatus gee, mag nie uit die oog verloor word nie.
14. RAAKVLAKKE TUSSEN FO EN NFO WAT
GEïDENTIFISEER KAN WORD TEN AANSIEN VAN TEGNOLOGIESE ONTWIKKELING EN OPLEIDING
EN DIE MOONTLIKE AANDEEL VAN TEGNIESE KOLLEGES (Departement van
Mannekrag. Nasionale
Opleidingsraad: Tegnologiese
ontwikkeling en opleiding. ISBN
0-621-13047-8 Staatsdrukker, Pretoria 1990).
Kommentaar word
vervolgens gelewer oor aanbevelings ten aansien van onderwys en opleiding ten
einde te bepaal welke implikasies die aanbevelings het vir die begryping en
daarstelling van raakvlakke tussen formele en nie-formele onderwys. Waar dit ter sake en relevant mag wees, sal
daar verwys word na die Tegniese Kolleges as besondere plek vir
raakvlakidentifisering en realisering ten aansien van formele en nie-formele
tegniese onderwys.
14.1 Onhanteerbare onderwysgetalle, koste van en
gebrek aan formele werkgeleenthede vra minder skoolplig en meer leerplig van
'n vaardigheidsaard (Bls. 21).
Die verwagte
groei in veral Swart skoolgetalle gaan al moeiliker hanteerbaar en bekostigbaar
word via die huidige formele onderwysstelsel.
Die akademiesgerigtheid van die stelsel het verder werkgeleenthede
verminder. Die prioriteit was tot
dusver minstens 'n St. 8-, maar
verkieslik St. 10-opleiding, met vrye keuse aan die individu. Suid-Afrika behoort meer te beweeg na 'n
stelsel van korter jare formele skoolplig, aangevul met nie-formele
indiensopleiding-leerplig.
Laasgenoemde kan van 'n meer beroepsgerigte aard in die formele sektor
wees, of van 'n vaardigheidsaard in die informele sektor. Waar die formelesektoropleiding van 'n hoë
vlak en konvensionele tegnologie sal wees, sal vaardigheidsopleiding meer van
'n laervlak tegnologie wees. 'n Kleiner
groep behoort dus via die formele stelsel sy volle opleiding te kry.
Kommentaar
1. Die Tegniese Kollge is uitstekend toegerus om
akademiese gerigtheid te oorwin vanweë sy spesifieke loopbaangerigtheid dit wil
s sy fokus op
werkgeleenthede (op formele en nie-formele fokus).
2. Die doelwitopleiding waarop Tegniese Kolleges
ingestel is, leen hom tot verkorting van die opleidingstydperk.
3. Aangesien formele en nie-formele onderwys aan
'n Tegniese Kollege onder dieselfde dak gehuisves is, kan nie-formele
aanvulling relatief maklik georganiseer word.
4. Weens die noue skakeling van Tegniese Kolleges
met die private sektor kan indiensopleiding (formeel en nie-formeel) sinvol
georganiseer word.
5. Beroepsgerigte vaardigheidsopleiding vorm deel
van die kultuur van 'n Tegniese Kollege en dit maak van die Kollege die ideale
opleidingsplek.
14.2 'n Kleiner fokus op akademiese en 'n groter
fokus op beroepsgerigte skoolonderwys
Kommentaar
Werkgerigtheid
deur vaardigheidsopleiding (formeel en nie-formeel) gekoppel aan
entrepreneursopleiding (wat hoofsaaklik in die vorm van nie-formele modules
georganiseer kan word) kan as eie (uniek) aan 'n Tegniese Kollege beskou word.
14.3 'n Doelbewuste uitbouing van beroepsgerigte
onderwys op skool-, technikon- en universiteitsvlak
Die skewe
verhouding ten koste van tegnies-opgeleide studente en die sterk groei in
algemene universiteitsgrade wat nie tot 'n beroep kan lei nie, asook die
tekorte aan tegniese en beroepsopgeleide persone, raak 'n onaanvaarbare
situasie vir die ekonomiese ontwikkeling en werkgeleentheidskepping van die
land. Staatsfinansiering van universiteite
en technikons moet al meer, benewens akademiese samehang, ook die
markverwantheid van studierigtings in ag neem.
Dit beteken dat beroepsgerigte onderrig op skoolvlak ook uitgebou moet
word (Bls. 22).
Kommentaar
Daar word
saamgestem met die tipering van die huidige situasie as onaanvaarbaar. Dit is egter ook onverantwoordelik indien
daar nie pogings aangewend sou word om dié situasie te verander nie.
Tegniese
Kollege-onderwys (formeel en nie-formeel) is 'n ideale veranderingsagent.
Beroepsgerigte onderwys op skoolvlak moet
dan die Tegniese Kollege- vlak insluit.
14.4 Uitvoerbedrywe benodig al meer primêr
internasionale hoëvlaktegnologie en opleiding terwyl binnelands tradisionele
en konvensionele tegnologie en opleiding belangrik word.
Om die
betalingsbalans te laat klop, sal internasionale mededingendheid al meer
hoëvlaktegnologie en -opleiding vereis.
Die groeiende eis tot werkskepping en derhalwe nie-kapitaalintensiewe
tegnologiese prosesse, asook die lae vlak van geskooldheid van die meerderheid
in die arbeidsmark, gaan al meer vereis dat die beskerming van na-binne-gerigte
industrieë teen hoëvlaktegnologie 'n belangrike beleidsaspek sal moet
word. Dit beteken egter nie dat ons nie
by tegnologiese ontwikkeling moet bybly nie.
Die ervaring in Europa het juis geleer dat so 'n beleid uiteindelik tot
nog groter werkloosheid lei omdat dit 'n land se mededingingsposisie
fundamenteel aantas (Bls.4E).
Kommentaar
Laevlakse
tegnologie wat aan Tegniese Kolleges onderrig (formeel en nie-formeel) kan
word, se waarde is tweërlei:
(a) opleiding van laevlakse tegnoloë (resp.
technici);
(b) opleiding in laevlakse tegnologie wat kan dien
as brug tot hoërvlakse tegnologie (soos byvoorbeeld onderrig word aan
Technikons).
14.5 Die verskuiwing in arbeidspatrone na tegnici
en weg vanaf ambagte vra al meer breër vormende opleiding
Die toenemende
gesofistikeerdheid van die RSA se ekonomie en tegnologie vereis al meer 'n hoër
vlak van tegniese opleiding vir formelesektor-emplojering. Dit vereis dus al meer 'n breër basiese
opleiding waarin teoretiese, en nie slegs tegniese opleiding nie, 'n groter rol
sal speel (Bls. 43).
Kommentaar
Tegniese
Kolleges sal relatief maklik sy ambagsopleiding kan opgradeer na laevlakse
technici-opleiding, veral deur die inskakeling van nie-formele modules wat
geleidelik kan ontwikkel tot formele modules.
Tegniese
Kolleges beskik oor waardevolle ervaring in die onderrig van praktykgerigte
teorie.
14.6 Opleiding primêr gerig op
nywerheidstegnologie
Die fokus van
die RSA se ekonomie sal vir die afsienbare toekoms die nywerheidsektor
bly. Tegnologie en opleiding gerig op
hierdie sektor sal derhalwe die fokus bly, met die formele dienstesektor van
sekondêre belang (Bls. 43).
Kommentaar
Tegniese
Kolleges en die nywerheidsektor is reeds besondere vennote. Dié vennootskap kan verder uitgebou word.
14.7 Modulêre koöperatiewe opleidingsprogramme
moet uitgebou word
As gemengde
Eerste-/Derdewêreldekonomie en die noodsaak dat werkers sodanig opgelei word
dat hulle vanaf die een na die ander kan oorgaan gekoppel aan die groeiende
probleem van die betaalvermoë van die ekonomie om aan almal formele opleiding
te verskaf, sal al meer meebring dat ambagsman-, vaardigheids- en
indiensopleiding as koöperatiewe programme tussen ondernemings en
opleidingsinstansies bedryf moet word.
'n Modulêre basis, d.w.s. waar hy 'n deel by die opleidingsinstansie en
'n deel by die onderneming deurloop, blyk die basis te wees (Bls. 44).
Kommentaar
Koöperatiewe
opleiding waarby 'n opleidingsinstansie en ondernemings betrokke is, lê binne
die ervaringsveld van Tegniese Kolleges.
Modulêre doelwitopleiding kom tans vinnig in die ervaringswêreld van
Tegniese Kolleges.
14.8 'n Meervoudige benadering tot opleiding in
prosestegnologie
Dit verskil per
vlak van prosestegnologie. Die
inwaartse industrialisasieproses, wat grootliks op konvensionele
prosestegnologie sal berus, sal hoofsaaklik gespesialiseerde opleiding vereis.
Die informele
sektor gaan weer veral op tradisionele en onderhoudstegnologie, dit wil sê
toepaslike tegnologie, steun. Hier is
gespesialiseerde opleiding gevaarlik.
'n Breë skills training op modulêre basis en horisontaal in struktuur,
is hier verkieslik. In plaas van 'n
aantal opeenvolgende modules in byvoorbeeld skrynwerk ('n gespesialiseerde
skrynwerker), moet modules in skrynwerk, messelwerk en pleisterwerk saam met
entrepreneursopleiding geneem word.
Daardeur kan hy vir homself 'n werk skep (Bls. 68).
Kommentaar
Modulêre
vaardigheidsopleiding (hoofsaaklik formeel) saam met entrepreneursopleiding
(moontlik hoofsaaklik nie-formeel) pas perfek in by die kultuur van 'n Tegniese
Kollege.
14.9 Die onderskeie tegnologievlakke vereis nie
gekompartementaliseerde opleiding nie
Die
ineengevlegtheid van die Eerste/Derdewêreldekonomie bring mee dat ons ook 'n
mengsel van tegnologieë het. Opleiding
vir aangepaste tegnologie moet dus so gestruktureerd wees dat dit voorsiening
maak vir opwaartse mobiliteit na konvensionele sowel as hoë tegnologie. Daar moet nie sprake van Eerste- en
Derdewêreld-opleiding wees nie. Dit
vereis dat die basiese tegnologiese geskooldheid breër moet wees as slegs vir
'n betrokke beroep (Bls. 69).
Kommentaar
Opleiding vir
aangepaste tegnologie wat opwaartse mobiliteit (bv. na 'n Technikon) moontlik
maak, sal deur Tegniese Kolleges behartig kan word, desnoods deur 'n kombinasie
van formele en nie-formele modules.
'n Program (wat
kurrikulering insluit) vir breë basiese tegnologiese geskooldheid sal in
samewerking met ander belanghebbendes uitgewerk kan word.
14.10 Fokus skuif vanaf arbeids- na
vaardigheidstekorte
Groter klem op
vaardigheidstekorte eerder as arbeidstekorte. In Suid-Afrika met sy tekorte
aan goedgeskooldes, kan die probleem krisisafmetings aanneem en koste laat
eskaleer (Bls. 69).
Kommentaar
Tegniese
Kolleges is ingestel op vaardigheidsopleiding (formeel en nie-formeel) en sal
ook instaat wees tot opgradering daarvan wanneer en indien nodig.
14.11 Rekenaargesteunde en informatikaposte sal
groei
Rekenaargeletterdheid,
in die sin van rekenaargebruik (nie programmering nie), sal al meer 'n
voorvereiste by opleiding word.
Sodanige poste sal dan ook groei.
Derdens sal informatikaposte groei.
Ons beweeg al meer na die era waar nie net goedere en dienste die basis
van produksie in die ekonomie vorm nie, maar ook kennis/informasie. Dit gaan die sogenaamde
informasie-industrieë en -beroepe (bv. databanke, rekenaarsentrums) en
kennisindustrieë en -beroepe (bv. navorsingsinstansies, konsultante), laat groei
(Bls. 70).
Kommentaar
Daar bestaan
Tegniese Kolleges wat goed toegerus is om
(a) rekenaargeletterdheid te bewerkstelling;
(b) rekenaargebruik te operasionaliseer.
14.12 Kernkurrikulum moet versterk word in
leerplanne, veral
by
ambagsopleiding
Die
back-to-basics-beweging in leerplanne groei.
'n Goeie voorbeeld hiervan vind tans in die VSA se universiteite
plaas. 'n Golf van
kurrikulumveranderings met die fokus op
back-to-basics is onder Amerikaanse universiteite en kolleges
waarneembar. Die New York Times van 10
Maart 1985 (p.1), skryf dat 'n opname van die American Council on Education
gevind het dat 58% van die responderende kolleges en universiteite in 'n opname
(413) besig is met die hersien van leerplanne, terwyl 29% dit reeds afgehandel
het (Bls. 70).
Kommentaar
Tegniese
Kolleges is dag vir dag met basics besig en wel basics met
beroepsbeoefeningbetekenis.
Tegniese
Kolleges beskik oor waardevolle ervaring in deelname aan kurrikulering vir
basics.
Opmerking
Die modulêre
opleiding (formeel en nie-formeel) waarna daar oor die voorgaande paragrawe
verwys is, kan die beste beskryf word met die begrip bevoegdheidsgerigte
modulêre opleiding. Sentrale figure in
hierdie opleiding is die opleiers en die ideale plek is die Tegniese Kolleges.
Vir die
opleiers is daar 'n baie goeie handleiding beskikbaar wat die doeltreffendheid
van hulle opleiding sal verhoog:
Departement
Mannekrag. Nasionale
Opleidingsraad. Riglyne vir die
implementering van bevoegdheidsgerigte modulêre opleiding: 'n Handleiding vir opleiers. ISBN 0621
119865, Pretoria. Julie 1988.
15. RAAKVLAKKE TUSSEN FO EN NFO WAT VERSKYN
IN: DIE RGN/NOR-ONDERSOEK NA DIE
OPLEIDING VAN AMBAGSMANNE IN DIE RSA.
1985; EN DIE FUNKSIE VAN
TEGNIESE KOLLEGES
15.1 Aanbeveling A3.2 (Bls. 243)
Daar word
aanbeveel dat verdere oorweging geskenk word aan die moontlikheid om
vakleerlinge gedurende laagkonjunktuurfases by nywerhede eerder as by
werkgewers in te boek.
Kommentaar
Dit kan sinvol
wees om vakleerlinge te plaas in onbenutte (leë) plekke in Tegniese Kolleges,
in die formele en nie-formele afdelings.
Verskerping van beroepsbekwaamheid deur inskakeling by nie-formele
programme moet nie misgekyk word nie.
Indien Tegniese
Kolleges onder jurisdiksie van die Departement Mannekrag geplaas kan word, sal
goedkeuring vir die opleiding in enige besondere ambag (formeel en nie-formeel)
maklik kan geskied (Kyk ook aanbeveling A5.2, bladsy 244).
15.2 Aanbeveling A5.3 (Bls. 244)
Daar word
aanbeveel dat die nodige stappe gedoen word om die huidige
vakleerlingopleidingstelsel te omskep in 'n stelsel van modulêre
verrigtinggebaseerde institusionele opleiding, aangevul deur gekontroleerde
intaakopleiding en ondervinding.
Kommentaar
Die
moontlikheid van aanvulling met 'n nie-formele module of modules, moet
ondersoek word. Die modules moet sinvol
sinchroniseer met verrigtingopleiding (as opgradering daarvan) en moet nie
daartoe bydra dat die opleidingstydperk verleng word nie. Dit is moontlik omdat nie-formele modules
na-uurs aangebied sal kan word.
15.3 Aanbeveling A5.6 (Bls. 244)
A5.6 Die hoofkoördinering en -beheer van
ambagsmanopleiding behoort deur die NOR-komitee vir Ambagsmanopleiding (NORKAO)
plaas te vind, wat die volgende samestelling en funksies behoort te besit:
(a) Samestelling:
Verteenwoordiging van:
- Die Nasionale Opleidingsraad
- Tegniese kolleges
- Werkgewersorganisasies
- Werknemersorganisasies
(b) Die volgende funksies behoort by die bestaande
funksies van die NORKAO gevoeg te word:
Die opstel van
riglyne en vereistes vir akkreditering van modules en kursusse vir
ambagsmanopleiding by opleidingsentrums en kolleges. Die opstel van riglyne en vereistes vir akkreditering van
opleidingsentrums en toetssentrums
Goedkeuring van
kriteria vir finale evaluering
Die monitor van
toetsing
Kordinering van gemeenskaplike ambagte
Skakeling met
tegniese kolleges
Kommentaar
Die Tegniese
Kollege word in dié aanbeveling twee keer genoem. Tegniese Kollegepersoneel sal vanweë hulle opleiding en ervaring
betekenisvolle bydraes kan maak ten aansien van die funksies wat toegesê is aan
die NOR-komitee vir Ambagsmanopleiding (NORKAO).
Die volgende moontlikheid moet ondersoek
word:
* akkreditering van relevante nie-formele
modules
* opstel van kriteria vir die evaluering van
tersaaklike nie-formele modules.
15.4 Aanbeveling A5.11 (Bls. 246)
A5.11 Die Departement van Mannekrag en die
onderskeie onderwysdepartemente behoort die instelling van 'n koördinerende
komitee te oorweeg wat tegniese kolleges vir alle bevolkinsgroepe sal
verteenwoordig. Hierdie komitee behoort
op die NORKAO verteenwoordig te word.
Kommentaar
Koördinering
tussen Tegniese Kolleges sal onnodige oorvleueling en duplisering kan
uitskakel. Sodanige koördinering kan
snel en doeltreffend geskied indien alle Tegniese Kolleges onder die Departement
Mannekrag ressorteer. Die koördinering
kan ook geskied ten aansien van opleidingsrelevante nie-formele modules. 'n Kollege behoort hom toe te lê op
nie-formele kursusse wat raakvlakke het met sy bestaande formele kursusse.
15.5 Aanbeveling A5.12 (Bls. 246)
A5.12 Gesamentlike tegniese kollege- en
nywerheidsubkomitees behoort op die vlak van die Nywerheidsraad vir Ambagsmanopleiding
ingestel te word om werksaamhede in verband met die leerplaninhoud van kursusse
en vakke, die bywerk van leerstof en ander sake aangaande die tegniese
opleiding van vakleerlinge by tegniese kolleges, te behartig.
Kommentaar
Dit is veral
ten aansien van die bywerk van leerstof wat die bydrae deur middel van
nie-formele modules nie buite berekening gelaat moet word nie.
Tegniese
Kolleges sal deur die gehalte van sy kurrikulering vir nie-formele modules die
idee van nie-formele opleiding moet
verkoop aan die belanghebbende instansies.
15.6 Aanbeveling A5.14 (Bls. 246)
A5.14 Praktiese opleiding behoort toegespits te wees
op die bemeestering van basiese en ambaggeoriënteerde vaardighede wat 'n
familie van ambagte met mekaar gemeen het, tesame met slegs 'n geringe
hoeveelheid opleiding ten opsigte van aspekte wat spesifiek op 'n bepaalde
werkgewer van toepassing is. Spesifieke
vaardighede behoort slegs ontwikkel te word nadat basiese, algemene en
ambaggeoriënteerde vaardighede doeltreffend bemeester is.
Kommentaar
Nie-formele
modules leen hulle uitstekend vir opleiding in spesifieke vaardighede. Nie-formele modules kan in die besonder
daargestel word vir vaardighede wat 'n familie van ambagte met mekaar gemeen
het (Byvoorbeeld rekenaargeletterdheid, bestuursvaardighede ens.).
15.7 Aanbeveling A5.18 (Bls. 247)
A5.18 Waar daar
'n behoefte aan spesialisering op na-ambagsmanvlak vir 'n bepaalde ambag of
nywerheid ontstaan, byvoorbeeld op die gebied van gespesialiseerde
vaardighede, toesighoudende en bestuurstegnieke, behoort dit deur die nywerheid
erken te word en 'n gepaste opleiding- en evalueringstelsel behoort vir dié
doel ingestel te word. Dit sluit ook
die opleiding in wat benodig kan word om aan die behoeftes van tegnologiese
verandering te voldoen.
Kommentaar
Nie-formele
modules kan spesifiek ontwerp word met die oog op gespesialiseerde vaardighede,
bestuurstegnieke en kennismaking met tegnologiese veranderinge.
In hierdie
verband sal daar skerp gekyk moet word na die raakvlakke tussen nie-formele en
formele onderwys (wat aan 'n Tegniese Kollege onder dieselfde dak gehuisves
kan word).
Dit is insiggewend
in hierdie verband dat die RGN-NOR-ondersoek na die opleiding van ambagsmanne
in die RSA, die volgende aanbeveling maak:
A8.3 (bls. 254): Nouer
samewerking tussen die formele en nie-formele onderwys ten opsigte van
kurrikulumontwerp en die implementering daarvan.
Opmerking
Ontwerpers van
modules (formeel en nie-formeel) sal 'n deeglike studie moet maak van:
Departement
Mannekrag. Opleidingsraad. Riglyne vir
die vasstel van modulêre opleiding vir vakleerlinge. ISBN 0621 112763, Oktober 1987, Staatsdrukker, Pretoria.
16. RAAKVLAKKE TUSSEN FO EN NFO WAT VERSKYN
IN: DIE RGN-NOR-ONDERSOEK NA VAARDIGHEIDSOPLEIDING IN DIE RSA 1989 PRETORIA EN
DIE AANDEEL WAT TEGNIESE KOLLEGES KAN (MOET) NEEM.
16.1 Aanbeveling A2 (Bls. 238)
Daar word
aanbeveel dat alle mannekragopleidingsaangeleenthede onder 'n enkele
staatsdepartement, naamlik die Departement van Mannekrag, sal ressorteer om
sodoende alle opleiding van mannekrag op 'n gekoördineerde wyse te
administreer en te bevorder.
Kommentaar
Hierdie
aanbeveling moet sterk ondersteun word ten aansien van Tegniese
Kollege-opleiding wat direk gemoeid is
met mensekragopleiding. So 'n reëling
sal ook die raakvlakrealisering tussen FTO en NFTO bevorder aangesien:
(a) Die Departement Mannekrag dit makliker sal vind
om die beroepsopleidingimplikasies van NFTO raak te sien en te waardeer.
(b) Die Departement Mannekrag meer ervaring het
met nie-formele onderwys as die Onderwysdepartemente wat primêr ingestel is op
formele onderwys.
16.2 Aanbeveling A4C (Bls. 240)
Die nouer
integrering van formele onderwys- en opleidingsinisiatiewe en aksies met die
oog op die uiteindelike daarstelling van 'n nasionaal- geïntegreerde
beroepsonderwys- en opleidingstelsel.
Kommentaar
Die
daarstelling van nie-formele kursusse (met beroepsmoontlikhede) moet gesien
word as besondere opleidingsinisiatiewe wat Tegniese Kolleges vinnig en
koste-effektief kan neem. Daar kan
byvoorbeeld vinnig gekurrikuleer word saam met 'n werkgewer(s) of
werkgewerorganisasie(s) en aangesien nie-formele kursusse selfonderhoudend
moet wees, word die opleidingskoste afgewentel op die leerder (en/of op diegene
wat hom ondersteun). Verder, aangesien
by die Tegniese Kolleges formele en nie-formele onderwys onder dieselfde dak
verkeer, is raakvlakverwerkliking 'n haalbare opleidingsinisiatief.
16.3 Aanbeveling A4
D (Bls. 240)
Ontwikkeling
van toepaslike kursusse om vir die gedifferensieerde opleidingsbehoeftes te
voorsien, in oorleg met onder andere geakkrediteerde opleidingsrade,
werkgewers- en werknemersorganisasies en die formele onderwys.
Kommentaar
Die Tegniese
Kollege staan in die operasionele gebied van mensekragopleiding, is deeglik
bewus van gedifferensieerde opleidingsbehoeftes en kan vinnig daarvoor
kurrikuleer en kursusse instel, veral wanneer die nuwe kursusse grootliks kan
aansluit by die bestaande infrastruktuur.
Aangesien Tegniese Kolleges besondere outonomie geniet wat hulle
begrotings betref, sal daar met min verlies aan tyd vir bykomende infrastruktuur
begroot kan word. Ondersteuning deur
die private sektor vir Tegniese Kolleges is reeds gangbare praktyk en daar
bestaan 'n moontlikheid vir groter finansiële bystand indien dit sou kon gebeur
dat Tegniese Kolleges onder die Departement Mannekrag kan ressorteer.
16.4 Aanbeveling A4E (Bls. 240)
'n Opname van
alle beroepsonderwys- en opleidingsfassiliteite in die private en openbare
sektore asook in die formele onderwys met die oog op optimale benutting
daarvan.
Kommentaar
Met optimale
benutting word 24 uur-benutting bedoel.
Fasiliteite vir formele onderwys word beslis onderbenut veral namiddae
en deur die nag. Elke Tegniese Kollege
behoort daartoe in staat te wees om die geïdentifiseerde opleidingsfasiliteite
in sy area tot aanwending van tegniese (formeel en nie-formeel) te koördineer
en desnoods te administreer. Ten
aansien van die aanwending van die opleidingsfasiliteite van die formele
onderwys sal waarborge gegee moet word dat die fasiliteite bewaar en in stand
gehou sal word. Moontlik sal die
Departement Mannekrag sodanige waarborge kan verskaf.
16.5 Aanbeveling A4G
Bevordering van
mannekragopleiding deur finansiële steun, aansporing en advies, op 'n volgehoue
basis.
Kommentaar
Finansiële
steun aan Tegniese Kolleges met hulle ervaring met die administrasie en aanwending
van staatsfondse en eie selfstandige kollegefondse sal optimaal benut kan
word. Op dié wyse word verseker dat
geld nie in bodemlose putte gestort word nie.
In dié verband
sal 'n finansiële adviesdiens deur die Departement Mannekrag (moontlik in samewerking
met die Tesourie) bydra tot sinvolle aanwending van beskikbare finansiële
bronne.
16.6 Aanbeveling A4K (Bls. 240)
Akkreditering
van opleidingsinstansies en/of kursusse deur geakkrediteerde opleidingsrade.
Kommentaar
Opleidngsrade
moet daarop ingestel wees om wat Tegniese Kolleges betref, nie slegs formele
tegniese opleiding te akkrediteer nie, maar ook nie-formele kursusse met
aanvaarbare opleidingsbetekenis. Dit
beteken dat opleidingsrade (mmontlik in samewerking met die Vereniging van
Tegniese Kolleges (VTK) die Federasie van Tegniese Kollege (Fed.Tek) en die
Suid-Afrikaanse Vereniging vir die bevordering van Tegniese en Buitengewone
Onderwys (SAVTBO), kriteria vir die erkenning van nie-formele tegniese krususse
sal moet opstel. Een van die kriteria
sal wees: opgradering van die
beroepsbekwaamheid van die betrokke leerders.
16.7 Aanbeveling A4L (Bls. 240)
Die
ontwikkeling van 'n professionele opleidingskorps.
Kommentaar
Technikons het
by wyse van onderwyswetgewing die reg verkry om deel te neem aan
onderwysersopleiding. 'n Liggaam soos
die Federale Onderwysersraad (FOR) erken ook hierdie reg.
Technikons is
tersiêre inrigtings wat die beste daartoe in staat is om onderwysers op te lei
vir alle instansies waar dit gaan om spesifieke mannekragopleiding. Waar nodig kan dié opleiding in samewerking
met Universiteite geskied (Byvoorbeeld van onderwysstudente wat grade wil
behaal).
Tegniese
Kolleges sal ook by dié opleiding betrek kan word, byvoorbeeld om te help met
skoolpraktyk (proefonderwys) maar ook met sekere kursusse wat volgens die
oordeel van Technikons (Komitee van Technikonhoofde) die effektiefste deur
Tegniese Kolleges behartig sal kan word.
16.8 Aanbebeling A4N (Bls. 241)
Die
daarstelling van 'n opleidingsertifiseringsliggaam by die Departement van
Mannekrag onder die vleuels van die Nasionale Opleidingsraad, as die eweknie
van die Suid-Afrikaanse Sertifiseringsraad vir die formele onderwys om
aanvaarbare standaarde in die opleidingsektor te verseker.
Kommentaar
Die plasing van
Tegniese Kolleges onder die jurisdiksie van die Departement Mannekrag, sal
sertifisering
(a) sinvol kan laat geskied
(b) se aanvaarbaarheid deur die private sektor
verhoog
(c) se status by baie leerders verhoog
(d) van nie-formele kursusse met opleidingsbetekenis,
moontlik maak.
Daar word
saamgestem met die volgende aanbeveling (RGN-NOR-ondersoek na
vaardigheidsopleiding in die RSA, bls. 245-246).
Die tegniese
kolleges moet 'n veel groter rol in opleiding speel om aan die vereistes van
die nywerheid in die RSA te voldoen, moontlik ook op die gebied van die
heropleiding van volwasse leerders. As
gevolg van die geweldige behoefte aan geskoolde werkers, veranderende
nywerheidsbehoeftes en die regverdige benutting van hulpbronne, moet pogings
aangewend word om die struikelblokke tussen opleiding en die formele
onderwysstels uit die weg te ruim. Die
tegniese kolleges behoort beskikbaar te wees aan alle werknemers wat die
nywerheid binne die gebied van dergelike kolleges graag wil laat oplei.
Die formele
onderwysstelsel moet aangespoor word om by geakkrediteerde opleidingsrade
aansoek te doen om akkreditering van sodanige kursusafdelings wat vir die
betrokke nywerheid toepaslik is. Dit is
veral van toepassing op die tegniese kolleges en tegniese of loopbaanhoërskole.
Kommentaar
Dat die
Tegniese Kolleges sleutelinstellings is vir die opleidingstandaard van die
RSA, moet duidelik deur die besluitnemers raakgesien word.
Tegniese
Kolleges kan 'n veel groter rol speel in die opleiding en ook heropleiding,
maar dan moet nie net sy formele moontlikhede benut (geakkrediteer) word nie,
maar ook die nie-formele moontlikhede met die benutting van die raakvlakke
tussen die formele en die nie-formele.
17. AANBEVELINGS VOORTSPRUITENDE UIT DIE
ONDESOEK NA VERDERE- EN HEROPLEIDING VAN AMBAGSMANNE (DEPARTEMENT
MANNEKRAG. NASIONALE OPLEIDINGSRAAD.
ISBN 0 621 12901 1) WAT BETEKENIS HET VIR TEGNIESE KOLLEGES
17.1 Aanbeveling 6.2.5 (Bls. 48)
Dit word
aanbeveel dat die Nasionale Opleidingsraad in oorleg met die opleidingsrade en
ander belanghebbende instansies ondersoek instel na die werkvereistes en
-inhoud van die volgende lede van die tegniese span: die operateur, die ambagsman, die tegnikus, die tegnoloog en die
ingenieur, om deur die uitbouing van die modulêre stelsel, waar van toepassing,
'n hiërargiese struktuur van progressiewe vorderingsvlakke daar te stel en om
horisontale en vertikale mobiliteit binne die struktuur te bevorder.
Kommentaar
(a) Die Tegniese Kollege se plek in die opleiding
van operateur, ambagsman en tegnikus sal bekend gemaak moet word.
(b) Implementering van die modulêre
opleidingstelsel wat saamgestel is uit vakteoretiese, praktiese en tersaaklike
nie-formele modules sal deeglik deur Studierade, Kollegerade en Opleidingsrade
beplan moet word.
Die
bekendstelling wat in punt 1 genoem word, word soos volg in 'n aanbeveling
verwoord:
17.2 Aanbeveling 6.2.6 (Bls. 48)
Dit word
aanbeveel dat die Nasionale Opleidingsraad op 'n geleë tyd 'n nasionale veldtog
loods om die hiërargiese struktuur van die tegniese span vanaf die operateur
tot die ingenieur, met die oog op die komplementêre aard daarvan, bekend te
stel en die uitbouing daarvan te bevorder.
17.3 Aanbeveling 6.2.7 (Bls. 48)
Dit word
aanbeveel dat die Nasionale Opleidingsraad, wat die tegniese span betref, onder
andere aandag sal gee aan aksies om kommunikasievaardighede, interpersoonlike
vaardighede, arbeidsverhoudinge en bestuursvaardighede te bevorder.
Kommentaar
Tegniese
Kolleges is daartoe in staat om die vaardighede wat in die aanbevelings genoem
word ook in die vorm van nie-formele modules aan te bied met inagneming van
raakvlakke met die formele tegniese opleiding.
17.4 Aanbeveling 6.3.1 (Bls. 48)
Dit word
aanbeveel dat die opleidingsrade, soos in klousule 12 D(1) van die
Wysigingswetsontwerp op Mannekragopleiding (Bylae C) bepaal, deur 'n
voortdurende proses van verdere opleiding en heropleiding die werksvaardighede
van gekwalifiseerde ambagsmanne opgradeer deur, met inagneming van die
werklike behoeftes van die onderskeie nywerhede, aandag te gee aan die rol van
die ambagsman in die tegniese span, gesien binne 'n hiërargiese struktuur van
progressiewe vorderingsvlakke om horisontale en vertikale mobiliteit binne die
struktuur van die besondere nywerheid te bevorder.
Kommentaar
(a) Opgradering, eers in die vorm van nie-formele
modules wat betreklik vinnig ingestel kan word en daarna ontwikkel tot formele
modules, lê in die ervaringsveld van 'n aantal tegniese kolleges.
(b) Tegniese Kolleges kan betreklik vinnig reageer
op geïdentifiseerde behoeftes.
17.5 Aanbeveling 6.3.3 (Bls 48)
Dit word
aanbeveel dat opleidingsrade die nodige erkenning aan die verwerwing van die
onderskeie vlakke van vaardighede binne die nywerheid verleen.
Kommentaar
Dit beteken dat
Opleidingsrade (resp. Die Nasionale Opleidingsraad) oor 'n duidelike en
haalbare akkrediterings- en sertifiseringsbeleid sal moet beskik.
17.6 Aanbevelings aan die ambagsmankorps
Dit word
aanbeveel dat die ambagsmankorps met die oog op hul verdere- en heropleiding
aangemoedig word om hul professionele ontwikkeling sodanig te beplan dat binne
die voorgestelde hierargiese struktuur met progressiewe vorderingsvlakke,
horisontale en vertikale mobiliteit verseker word.
Kommentaar
Riglyne vir
beplanning sal duidelik aan die ambangsmankorps uitgespel moet word, met 'n
duidelike aanduiding van die plek van die Tegniese Kollege, veral dié Tegniese
Kolleges wat ingerig is vir institusionele opleiding en die vinniger ontwerp
van tersaaklike nie-formele modules.
18. VERWYSING NA TEGNIESE KOLLEGES IN DIE
HOOFVERSLAG DIE EVALUERING EN BEVORDERING VAN LOOPBAANONDERWYS. Departement Onderwys en Kultuur,
Administrasie Volksraad. Voorsitter: Dr
S W Walters.
18.1 Aanbevelings (h) en (j) (Bls. 148 en 151)
Die komitee
beplan die instelling van
(h) 'n Senior Sekondêre Kursus wat oor twee
jaar strek en in twee rigtings differensieer, naamlik 'n Senior
Sekondêre Akademies-voorbereidende Kursus en 'n Senior Sekondêre
Beroepsvoorbereidende Kursus, volg op die junior sekondêre fase.
(j) Die Komitee voorsien ook dat vir bepaalde,
meer gespesialiseerde en kleiner beroepsvoorbereidende studierigtings die
tegniese kollege, benewens sy funksie as naskoolse inrigting, ook bykomend
'n rol sal moet speel om die senior sekondêre beroepsvoorbereidendekursus aan
te bied. Die Komitee kan geen rede
sien waarom tegniese kolleges nie sekere gevalle van die Senior Sekondêre
Beroepsvoorbereidende kursusse namens die hoërskole in die omgewing kan
aanbied nie en, omgekeerd, waarom hierdie hoërskole nie die funksies van sekere
klein plattelandse tegniese kolleges kan hanteer nie. Die Komitee beskou die oorweging hiervan om ekonomiese redes as
wenslik.
Kommentaar
Tegniese
Kolleges, veral dié wat institusionele opleiding aanbied, sal ingerig kan word
om 'n Senior Sekondêre Beroepsvoorbereidende kursus aan te bied.
Tegniese
Kolleges hoef nie dié kursus namens
hoërskole aan te bied nie, maar kan dit selfstandig op eie inisiatief
doen. Indien egter, dit namens 'n
realistiese leerdervloei sal bewerkstellig, sal so 'n reëling sinvol getref kan
word.
Die opgradering
van veral Tegniese Hoërskole tot Tegniese Kolleges, sal ondersoek regverdig.
18.2 Aanbeveling (O) (Bls. 152)
As gevolg van
die kleiner, maar meer geselekteerde groep leerlinge wat toelating tot die
akademiese kursus sal verkry, word verwag dat die totale getal druipelinge aan
die einde van dié kursus 'n betreklik klein persentasie van die totale
skoolbevolking sal wees. Hoewel hulle
vanweë die hoë akademiese vlak van die kursus na verwagting betreklik maklik in
die beroepswêreld opgeneem sal kan word, word aanbeveel dat daar, indien die
aanvraag voldoende is, vir daardie leerlinge wat nie met tersiêre studies wil
of kan voortgaan nie, verdere, verkorte naskoolse beroepsgerigte opleiding aan tegniese
kolleges of ander inrigtings voorsien sal word.
Kommentaar
Verkorte
naskoolse beroepsgerigte opleiding vir leerlinge wat daartoe in staat is, om
tersiêre studies te onderneem maar wat dit nie wil of kan nie, sal aan Tegniese
Kolleges voorsiening gemaak kan word.
Tegniese Kolleges sal kan differensieer (ten aansien van leerinhoude en
vlak (wyse) van aanbieding) om nie die meer begaafde leerder te frustreer nie.
Daar is
Tegniese Kolleges wat reeds ervaring het in die onderrig en opleiding van meer
begaafde leerders. Dit is selfs
moontlik vir sommige Tegniese Kolleges om kursusse te verryk deur die
inskakeling van nie-formele modules.
Die ideale
opleidingsplek vir dié groep leerders is 'n Tegniese Kolleges wat
institusionele opleiding bied met nie-formele opleidingsmoontlikhede onder
dieselfde dak.
19. DEPARTEMENT ONDERWYS EN KULTUUR
ADMINISTRASIE VOLKSRAAD. DIE KOMITEE
INSAKE DIE EVALUERING EN BEVORDERING VAN LOOPBAANONDERWYS IN DIE DEPARTEMENT
VAN ONDERWYS EN KULTUUR, ADMINISTRASIE:
VOLKSRAAD. HOOFVERSLAG: DIE EVALUERING EN BEVORDERING VAN
LOOPBAANONDERWYS
Kommentaar op
'n aantal empiriese bevindinge (Hoofstuk ses).
'n Aantal
vereistes ten aansien waarvan St. 10 skoolverlaters ver te kort skiet, is
geïdentifiseer:
Tabel 5.1 Vaardigheid van skoolverlater: (Bls. 99)
1. Vermoë om taak doeltreffend binne gegewe tyd
uit te voer.
2. Vermoë om pligte akkuraat uit te voer.
Kommentaar
In soverre
agting vir tyd en die wil om akkuraat te wees, aangeleenthede vir opvoeding
is, moet aandag daaraan gegee word tydens algemeen vormende onderwys. Die doelwitopleiding waarop Tegniese
Kolleges ingestel is, kan ook 'n waardevolle bydrae lewer. Tydens lesgee het die feit dat besondere
stappe gevolg word, 'n heilsame invloed.
Tabel 5.2 Gesindheid van skoolverlater (Bls. 100)
1. Bereidwilligheid om hard te werk.
2. Neem van inisiatief.
Kommentaar
Albei dié items
is wilsaangeleenthede. Vorming van die
wil geskied tydens leerderdeelname aan lesverlope (veral met algemeen-vormende
onderwys en formele tegniese onderwys).
Die onderwyser
(opleier) moet net ingestel wees op wilsvorming en dit laat realiseer tydens sy
lesgee.
Tabel 5.3 Persoonseienskap van skoolverlater (Bls.
101)
1. Deeglikheid
2. Motivering
3. Geesdrif
4. Selfdissipline
5. Lojaliteit teenoor organisasie
6. Spaarsaamheid.
Kommentaar
Hier het 'n
mens te make met ses duidelike opvoedingsaangeleenthede. Die onderwyser (opleier) moet net ingestel
wees daarop tydens die verloop van die onderrig.
Alle vorme van
onderwys (formeel, nie-formeel, informeel, algemeenvormend, beroepsgerig) kan
hierdie persoonseienskappe laat gedy.
Tabel 5.4 Denkvaardigheid van skoolverlater (Bls. 102)
1. Gesonde oordeel
2. Vermoë om probleme te identifiseer
3. Vermoë om probleme op te los.
Kommentaar
Probleemstelling
en probleemoplossing is besondere essensies van 'n lesverloop. Leerderdeelname aan probleemstelling en die
stappe wat daaruit voortvloei is bevorderlik vir probleemgeletterdheid en moet
geskied met alle vorme van onderrig.
Vir die Tegniese
Kollege veral, is dit maklik om leerders die relevantheid van probleemstellings
en die haalbaarheid van probleemoplossings te laat belewe en aanvaar. Dit is vanweë die kolleges se ingesteldheid
op beroepsbeoefening.
Tabel 5.5: Sosiale vaardigheid van skoolverlater (Bls.
103)
Tabel 5.6: Taalvaardigheid van skoolverlater (Bls. 104)
Tabel 5.7: Tweetaligheid van skoolverlater (Bls. 105)
Tabel 5.8: Rekenaarvaardighede van skoolverlaters (Bls.
106)
Geen skiet ver
tekort is geïdentifiseer nie. Dit lyk
dus asof, wat 'n hele paar aangeleenthede betref, die skoolstelsel (Blank)
relevante onderwys aanbied.
Tabel 5.9 Besigheidsbegrip van skoolverlater (Bls.
107)
1. Koste-bewustheid
Kommentaar
Kan toegeskryf
word aan:
(a) Jeug wat betreklik welvarend groot geword het;
(b) afwesigheid of onderbeklemtoning daarvan
tydens algemeen vormende omgang met leerlinge (Byvoorbeeld tydens Jeugweerbaarheidsklasse,
Taalkursusse, Geskiedenis, Aardrykskunde en selfs Bybelonderrig).
Tabel
5.10: Opsomming. Vaardigheid/Gesindheid van
skoolverlater (Bls. 108)
1. Werkgesindhede
2. Denkvaardighede
Kommentaar
Gesindhede en
denkwaardighede kan (moet) tydens deelname aan lesverlope geoefen word. Die onderwyser (opleier) moet net doelbewus
daarop ingestel wees.
Tegniese
Kolleges sal (op Studierade) deeglik moet besin oor die paring van
doelwitopleiding en denkvaardighede.
Vir elke doelwit sal die denkwaardigheid daarvoor geïdentifiseer moet
word.
Tabel 5.11 Algemene Waardebepaling soos vereis deur werkgewers (Bls. 109)
Hierdie tabel
word volledig weergegee:
5.11 ALGEMENE WAARDEBEPALING SOOS VEREIS DEUR
WERKGEWERS
────────────────────────────────────────────────────────────────
VAARDIGHEID VAN
SKOOLVERLATER
────────────────────────────────────────────────────────────────
St 10 (Bls. 18 Tabel 3.11) +
────────────────────────────────────────────────────────────────
* Basiese berekeninge 3,4
* Meet- en tekenwerk 2,2
* Leesvaardigheid 3,3
* Skryfvaardigheid 3,4
* Luister- en praatvermoë 3,5
* Manipulasievaardigheid 2,7
* Beplanning en probleemoplossing 3,0
* Basiese rekenaargeletterdheid 2,6
* Basiese tegnologiese geletterdheid 2,5
* Basiese ondernemingsvaardighede 2,4
** Produktiwiteitsbewustheid 3,6
────────────────────────────────────────────────────────────────
Kommentaar
Slegs een item
word as 'n skiet ver tekort aangedui en dit is produktiwiteitsbewustheid.
Vir die
Tegniese Kollege sal dit maklik wees om doelwitopleiding en
produktiwiteitsbewustheid te integreer aangesien doelwitrealisering in
werklikheid produktiwiteitbewusmaking is.
Ten aansien van
algemeen vormende onderwys moet daar
ondersoek ingestel word na die beste kurrikulêre huisvesting van produktiwiteitsbewustheid.
Wat die voldoen
nie aan die vereistes items (in tabel 5.11 genoem) betref kan opgemerk word dat
daar spesiaal gekurrikuleer sal moet word vir basiese geletterdheid ten aansien
van die rekenaar en tegnologie, en ondernemingsvaardighede.
Daar is
tegniese kolleges wat reeds hiervoor ingerig is (formeel en nie-formeel).
SLOTMERKING
Dit sal
betekenisvol wees om 'n in-diepte ondersoek te laat instel na die haalbaarheid
van die Tegniese Kollege as opleidingsmodel vir die toekomstige Republiek van
Suid-Afrika.
VERWYSINGS
1. 1990: SACHED
Trust with the assistance of Durban LACOM.
Education in
South Africa. Facts and Figures, p.37.
2. RSA 1981: Wet
op Tegniese Kolleges. (Wet no. 104 van
1981.
Staatskoerant
Vol. 197 (7884), Kaapstad, 6 November 1981, Art. 3,37 en woordverklaring X).
3. RGN 1981: Onderwysvoorsiening
in die RSA. Verslag van die
Hoofkomitee,
Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria, pp.93-94.
4. Van der Stoep, F. 1984. Non-formal
Education. Codex Publishers, Pretoria, vii.
5. Le Roux, A.L. 1985. The liberal
component in vocational
education and
non-formal education in Britain and its possible relevance to the development
of non-formal education in the RSA - an exploratory study. Ongepubliseerde MA-verhandeling,
Universiteit van York, England.
6. Departement van Onderwys en Kultuur
(Administrasie Volksraad).
1987. Handleiding vir die hantering van naskoolse
onderwys by Tegniese Kolleges, Pretoria, p.25.
7. RSA 1983: Witskrif
oor onderwysvoorsiening in die RSA.
Staatsdrukker,
Pretoria, Vrygestel op 23 November 1983.
8. Die kommentaar wat in die voorgaande bladsye
gelewer is, kom uit:
Landman, W.A.
en van der Merwe, J:
Tegniese
kolleges: Kurrikulumontwikkeling vir
nie-formele onderwys. Verslag uit die
Navorsingseenheid: Nie-formele
Onderwys, Universiteit van Pretoria, Projekleier, Prof F van der Stoep.
9. Presidentsraad. 1984. Wetenskapskomitee
van die
Presidentsraad: Verslag oor informele en nie-formele
onderwys in SA. Staatsdrukker,
Kaapstad.
10. Millard, R.M. 1983. Accreditation. New Directions for Higher
Education No. 43, Vol. 11(3) 9-28.
11. Gilley, J.W. en Galbraith, M.W. 1986.
Examining professional
certification. Training and Development Journal. Vol. 40(6) pp.60-61.
12. Van der Stoep, F. 1984. aw., p.84
13. Departement van Mannekrag: 1986.
Nasionale Opleidingsraad.
Riglyne vir die
akkreditering van opleiding. RP
111/1986. Pretoria.
14. Advertensiebiljet versprei deur die VTK
(Vereniging van
Tegniese
Kolleges). 1990.
15. Jaarblad Tegniese Kollege Verwoerdburg
1937-1987.
16. Transvaler, 15 November 1989.
17. Deel van advertensie deur die Verwoerdburgse
Tegniese Kollege.
18. Tegniese Kollege in Verwoerdburg: Verslag van Studieraad 1983-1989 (W A
Landman).
|