Professor W A Landman

Lesings in die Opvoedkunde

DIE OPKOMS VAN DIE GEORGANISEERDE

ONDERWYSPROFESSIE IN SUID-AFRIKA


In die volgende paragrawe sal daar 'n kort uitleg gegee word van die groeiende betekenis van die blanke georganiseerde onderwysprofessie in Suid-Afrika.  Hierdie groei word opgemerk deurdat sekere sake in 'n steeds toenemende mate op die voorgrond gebring is.

 

Vanaf die aanvangsjare tot vandag toe was die uitbouing van die onderwys tot 'n gerespekteerde professie langs ander erkende professies en die verhoging van die status en aansien van diegene wat in die onderwysprofessie staan, 'n besondere doelstelling.  Reeds vroeg is daar aangevoel dat 'n professie bestaan uit 'n groep mense wat hulleself as 'n professie beskou.  Geleidelik en in 'n steeds toenemende mate het die idee posgevat dat 'n professie bestaan uit 'n groep mense wat intensiewe gespesialiseerde opleiding ondergaan het om bepaalde take op so 'n wyse te verrig dat slegs persone wat soortgelyke opleiding ondergaan het, hulle dit kan nadoen.  Verder word klem gelê op die respek en agting vir die onderwyser deur die gemeenskap wat gegrond is op verdienstelikheid en doeltreffendheid in die dienslewering aan die gemeenskap.

 

Een van die winste van georganiseerdheid in die onderwysprofessie was dan ook die ontwikkeling van die formulering van die betekenis van egte professionaliteit en die toepassing daarvan deur die praktiserende onderwyser.  Die afsonderlike onderwysersverenigings saam met oorkoepelende liggame soos die Federasie van Onderwysersverenigings en die Suid-Afrikaanse Onderwysersraad wat later saamgesmelt het om die Federale Onderwysersraad te vorm, het daadwerklik opgetree met die oog op uitbouing van professionele verantwoordelikheid, waardigheid en beskaafdheid.  Besondere aandag is gegee aan professionele oorlegpleging en bedinging, aan voortreflikheid van diens as 'n besondere bewys van professionaliteit, aan die beskerming van die belange van onderwysers en soewereniteit in eie kring.  Professionaliteit moet soos 'n goue draad loop vanaf die mees junior onderwyseres tot die hoogste gesagvoerder oor die onderwys.  Gedienstigheid, onderdanigheid en om genoeë te neem met burokratisering word gesien as blyke van anti-professionaliteit en verder moet die gehalte van die werklewe van die onderwyser as professionele praktisyn sinchroniseer en harmonieer met sy professionaliteit.

 


'n Besondere bepaler van die gehalte van die werklewe is die onderwyser se vergoedingspakket.  Ten aansien van salarisse het die onderwyser op 'n besondere wyse en in 'n nog steeds toenemende mate gebaat by die georganiseerdheid van sy professie.  Dit kan grootliks toegeskryf word aan salarisaksies wat op grond van sekere beginsels bedryf is.  Die georganiseerde professie vra telkens of hy steeds die toets van eerbare en verantwoordlike optrede, dus van professionele beskaafdheid deurstaan.  'n Salarisstryd moet professioneel waardig gevoer word, dit wil sê met beslisheid langs konstitusionele weë met die gedagte dat skerp bewoording toelaatbaar is mits dit nie professionele beskaafdheid in die gedrang bring nie.  Professionele selfrespek moet behou word en 'n stryd om 'n geregverdigde saak moet ter wille van die behoud van professionele waardigheid en die sinvolle voortbestaan van die professie aangeknoop word.  Propagandistiese, oordrewe verklarings dien geen doel nie, maar wel beredeneerde argumente wat berus op wetenskaplik-gefundeerde empiriese ondersoeke gepaard met die oophou van die onderhandelingskanale.  Partypolitiekery en partypolitieke opportunisme ten aansien van onderwysersalarisse was deurgaans professioneel onaanvaarbaar.

 

Die professionele praktisyn met 'n skerp professionele ingesteldheid en 'n bevredigende kwaliteit van werklewe is meesal werksaam in 'n plek wat as 'n "skool" beskryf kon word.  Die georganiseerde onderwysprofessie het deur sy steeds doeltreffender wordende bemoeienis betekenisvol daartoe bygedra om van die skool 'n plek te maak vir 'n lewens- en arbeidsgemeenskap wat nie in die eerste plek 'n uitstalvenster vir intelligensie is nie, maar 'n opvoedingsplek vir die opwek van belangstelling in sinvolle vorme van lewenservaring, vir die


mobilisering van 'n ryk verbeeldingskrag en 'n gevormde denkvermoë en vir die begrip van en inskakeling by die hedendaagse werklikheid.

 

Aanvanklik sporadies maar met verloop van tyd meer gesistematiseerd en intensief het die georganiseerde onderwysprofessie hom besig gehou met die kurrikulum.  Kurrikuleringsbeginsels wat met verloop van tyd al duideliker uitkristalliseer het, is dat die onderwysers wat in die operasionele gebied van die onderwys staan, onmisbare professionele medewerkers is aan kurrikulering en dat voorstelle vir verbetering moet voldoen aan die eise van haalbaarheid en pedagogies-didaktiese verantwoordbaarheid.  'n Realistiese hoeveelheid leerstof moet geselekteer word in die lig van kennis van die kind en oorlaaide leergange lei tot gejaagde onderwys wat opvoeding in die gedrang bring.

 

Die skool is 'n besondere ontmoetingsplek met die kind en die georganiseerde onderwysprofessie het oor baie jare heen kindwees betekenisvol bevorder deur met steeds toenemende beklemtoning te stel dat die kind uniek is, opvoedbaar is tot waardige en fatsoenlike menswees, vatbaar is vir sedelike vorming, kenbaar is, volledig mens is, vatbaar is vir wetenskap, oor 'n deursettings-vermoë beskik wat ontwikkel moet word, gerig is op moedertaalmediumonderwys, strewe na selfstandigheid, motiveerbaar is en beskik oor 'n opwekbare belangstelling.  Die kind is verder vatbaar vir idealisme wat toekomsperspektiewe open.  Hy beskik oor spontaneïteit en is in staat tot selfkompetisie en is 'n potensiële draer, bestendiger en verdediger van beskaafdheid.

 

Kinders het ouers en die ouers is spesiale vennote van onderwysers.  Die georganiseerde onderwysprofessie lewer oor die hele tydperk van sy bestaan besondere diens aan die ouergemeenskap deur steeds sterker die vennootskapsbeginsel toe te pas en uit te bou en wel in die lig van beginsels soos:  ouers is die primêre opvoeders en die skool mag nie ingryp in die regte van die gesin nie want hy beskik nie oor die gesag om dit te doen nie.  Die verhouding tussen ouers en onderwysers is die belangrikste deel van die onderwysstelsel.  Die gees van die skool is 'n verantwoordellkheid van die ouers en word geskraag en versterk deur die aktiewe belangstelling en aandag van die ouers.  Die ouers mag egter nie die beginsel van soewereiniteit in eie kring skend deur beheer oor die onderwys te wil beoefen nie, want hulle beskik nie oor die nodige deskundigheid en professionaliteit nie.  Medeseggenskap is noodsaaklik maar dit impliseer nie beheer wat daartoe lei dat die onderwyser as professionele persoon gedegradeer word nie.

 

Die onderwyser se deskundige professionaliteit is afhanklik van die kwaliteit van sy opleiding.  Onderwysersopleiding word gedien deur die georganiseerde onderwysprofessie se steeds toenemende beklemtoning daarvan dat die onderwysprofessie seggenskap moet hê in die opleiding van onderwysers veral deur regstreekse en toereikende verteenwoordiging in die betrokke adviesliggame.  Onderwysersopleiding moet direkte waarde hê vir die onderwyspraktyk.  Sertifisering van onderwyser en registrasievereistes moet so wees dat dit eerbiedig kan word en die onderwyser se professionele selfrespek bevorder.


Ter wille van die welsyn van die totale onderwysgemeenskap, oefen die georganiseerde onderwysprofessie beduidende invloed uit wanneer ondersoek na die onderwys, wat dikwels uitloop op onderwyswetgewing, onderneem word.  Die onderwysersvereniging het deurgaans geweet wanneer die tyd aangebreek het om by die owerhede aan te dring op 'n ondersoek na die onderwys.  Die professie se bydraes word gekenmerk deur deeglikheid, gemotiveerde stellingname en betekenis vir die onderwyspraktyk.  Alle voorgestelde en bestaande wetgewing word suiwer beoordeel met opvoedkundige maatstawwe en pragmatistiese beoordeling word afgewys.  Die professie weet dat onderwysbeleid op 'n besondere wyse deurwerk na die onderwyspraktyk en na onderwyspraktisyns.  Daarom is beleidsimplikasies voortdurend skerp geïdentifiseer en belig.

 

Oor die hele tydperk van sy bestaan het die georganiseerde onderwysprofessie te kampe gehad met partypolitiekery in die onderwys en geleidelik het die volgende standpunte uitkristaliseer:  Die skool is nie 'n plek vir partypolitiek nie maar die onderwyser moet buite die skool dieselfde politieke vryheid geniet as elke ander mens.  Wetenskaplikheid word gesien as die beste teenvoeter vir partypolitiekery.  Onderwys is nie 'n middel om politieke veranderinge te bewerkstellig nie, want onderwys is nie 'n agent vir verandering nie, maar 'n konsolideerder.  Partypolitiekery in klaskamers is 'n verleentheid vir die georganiseerde professie omdat onskuldige kollegas ook onder verdenking geplaas word.  Ouerbeheerliggame en lede van die Parlement het hoegenaamd geen reg om navraag te doen oor die partypolitieke verbintenis van onderwysers nie.

 

Slot

Georganiseerde professionaliteit oor meer as 'n eeu, het betekenisvol bygedra tot 'n sinvolle saambestaan van onderwysers, ouers, kinders en die onderwysbeheerowerhede.