Professor W A Landman

Dissipline


WA Landman
Instituut vir Opvoedkundige Navorsing
Universiteit van Suid-Afrika


Daar is veral twee sake wat die hedendaagse kind se houding ten opsigte van dissipline beïnvloed:

  • besondere sterk beklemtoning van menswaardigheid deur politici, sosioloë, sielkundiges, opvoedkundiges, die media (Televisie, Radio, Tydskrifte, Koerante) en 'n Handves van menseregte wat tans in wording is.

  • oormatige beklemtoning van die regte van die kind veral in sekere televisie-programme van Amerikaanse herkoms sonder om duidelik daarop te wys dat hy ook pligte en verpligtinge het.

Vir die onderwyser en die ouer beteken dit dat daar met groot sensitiwiteit dissipline toegepas moet word. Dat daar dissipline moet wees, kan nie betwyfel word nie, want 'n gebrek daaraan lei tot onsekerheid by die kind wat sy behoorlike volwassewording belemmer en selfs kan laat ontspoor.

Sensitiewe hantering van dissipline beteken dat die onderwyser of ouer as persoon aan sekere vereistes moet voldoen:

  1. Die volwassene wat dissipline wil uitoefen, moet 'n gebalanseerde persoon wees. Dit beteken dat hy (of sy) die volgende moet kan doen:

    • met rustige beslistheid besluite moet neem en konsekwent daarby hou. Rustigheid skep vertroue en beslistheid laat die kind veilig voel en 'n kind wat geborge (veilig) voel, is 'n dankbare kind.

    • skree, uitskel en vernederende opmerkings moet vermy word, want dit takel die kind se selfbeeld af en wek stres by hom. Die kind beleef dit ook (heeltemal tereg) as 'n blyke van magteloosheid by die volwassene. Dié belewing lei tot wantroue en 'n gevoel van onveiligheid wat ongehoorsaamheid aanmoedig.

  2. Die volwassene moet blyke gee van welwillendheid. Dit beteken dat die vriendelike persoon wat die kind aanvaar d.w.s. laat tuis en welkom voel, se dissipline aanvaar word. So 'n volwassene sal nie "prekies" lewer nie want hy weet dat dit kommunikasie vernietig en teenstand uitlok waarop stres voed.

  3. 'n Volwassene moet orde kan skep.

    • Hy stel eise op 'n rustige manier sonder om in dreigemente te verval wat nie uitvoerbaar is nie. Hy moet presies weet watter eise met billikheid gestel kan word. Hy moet die eise wat hy stel kan verduidelik in 'n gesprek met die kind en hy mag nie die onmoontlike verwag nie want dan vra hy om verset. Hy moet voortdurend in gedagte hou dat die kind 'n nie-volwasse mens is.
    • Hy gee nie "laaste waarskuwings" wat nie toegepas sal kan word nie, veral nie "laaste waarskuwings" wat woorde insluit soos nek omdraai, doodslaan, vermink en uitroei nie. "Laaste waarskuwings" is uitinge van magteloosheid wat onsekerheid wek.
    • Hy verval nie in woedebuie nie. Die kleiner kind word daardeur onseker en die groter kind beleef dat so 'n volwassene onvolwasse is. Rustige gepaste woorde gee die deurslag. Daar moet net genoeg woorde gebruik word, want 'n woordevloed verbreek kommunikasie en wek stres.
    • Hy stel nie te veel voorskrifte en reëls nie want oormatigheid skep verwarring. Wanneer die kind iets doen wat verkeerd is, moet dit vir hom verduidelik word waarom dit wat hy verkeerd doen as onbehoorlik beskou word. Die volwassene moet seker maak dat die kind sy verduideliking verstaan en dit ook aanvaar.

  4. Indien die onderwyser of ouer voel dat die kind se gedrag so was dat hy gestraf moet word, moet die volgende in gedagte gehou word:

    • Straf wat daaruit bestaan om die kind iets vervelig te laat doen, wek net verset.
    • Straf wat uit wraakneming geskied, is 'n misdaad. Daarom is dit verkeerd om die straf te bepaal en toe te pas wanneer 'n mens kwaad is.
    • 'n Redelike verskoning moet aangeneem word. Ook daardie verskoning waardeur die kind probeer om sy verkeerde gedrag goed te maak.
    • Liggaamstraf moet slegs vir ernstige oortredings, baie versigtig met matigheid en privaat (die onderwyser in teenwoordigheid van die skoolhoof en die ouers in afwesigheid van boeties en sussies) toegedien word. Oormatige lyfstraf is aanranding!

  5. Die gedissiplineerde kind is 'n kind wat toegerus is om in die huidige samelewing met sy besondere eise en negatiewe invloede te oorleef.

    • By alle normale mense is daar 'n hunkering om te bly lewe maar veral om sinvol te lewe. Dit beteken dat ons almal ingestel is op oorlewing van allerlei probleme, beperkings en bedreigings.
    • Die denkende mens vra onmiddellik na die voorwaardes waaraan daar voldoen moet ten einde sinvol te oorlewe.

In die Republiek van Suid-Afrika kan onderwysers(esse) hulle leerlinge inspireer om te werk aan minstens twee voorwaardes vir oorlewing:

  • Dissipline:

    Lewe binne die ligveld van die skoolreëls en reëls wat die ouers stel en kan verduidelik, lei tot goed voorbereide onderwysers wat oor toereikende vakkennis en kennis van die opvoeding beskik wat hierin 'n sleutelrol kan speel. Dit is die ouer wat werklik belangstel in die geestelike welsyn van sy kind wat positiewe en blywende invloed kan uitoefen.

  • Prestasie:

    Dit is veral die Afrikaner wat vanweë sy lewens- en wêreldbeskouing, ingestel is op prestasie. Die feit dat hy deel is van 'n besondere minderheidsgroep, naamlik daardie minderheidsgroep van wie die uiteindelike oorlewing van alle bevolkingsgroepe in die RSA afhang, versterk sy prestasiebewussyn. Onderwysers moet leerlinge voortdurend aanmoedig om maksimaal in oreenstemming met hulle moontlikhede (talente) te presteer.

Gedissiplineerdheid en presterende bewussyn, vorm saam die fondament van sinvolle oorlewing in die nuwe Suid-Afrika wat tans in wording is.

ooo-oo0oo-oooo