Professor W A Landman

Sewende W A Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion:
31 Mei 2006

Prof Gerrit Kamper

Terug na Gedenklesings


MY TOEKOMS IN SUID-AFRIKA: PERSPEKTIEWE EN VERWAGTINGS VAN DIE AFRIKAANSSPREKENDE JEUG

Prof G D Kamper
Departement Opvoedkundestudies
Universiteit van Suid-Afrika

Referaat gelewer as sewende W A Landman Gedenklesing op 31 Mei 2006 in die ouditorium van Lyttelton Biblioteek, Centurion.

Die wesenlike bydrae van dr M G Steyn (Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria) tot die navorsing word graag en dankbaar erken.

MY TOEKOMS IN SUID-AFRIKA?

Die jeug is sinoniem met toekomsverwagting. As die jeug se toekomsverwagting oor die algemeen gebrekkig of negatief is, is dit ‘n aanduiding dat alles nie pluis is in die samelewing nie en dat die waardes en omstandighede in die samelewing krities bevra moet word. ‘n Gebrek aan positiewe toekomsverwagting onder die jeug kan simptomaties tot uiting kom in swak akademiese prestasie en a-sosiale problematiek (soos aggressie, dwelmmisbruik en misdaad).

Die vraag na die oriëntasie en aard van toekomsverwagting onder die jeug is besonderlik aktueel in Suid-Afrika vanweë die omvang van maatskaplike problematiek wat tans in die land heers. Die media berig met ontstellende daaglikse reëlmaat oor geweldmisdaad, korrupsie, wanbestuur, armoede en HIV/VIGS wat klaarblyklik buite doeltreffende beheer geraak het. Spesifiek wat die jeug betref, is onlangs berig dat volgens ‘n bepaalde ondersoek 40% van Suid-Afrikaanse kinders tussen 12 en 22 jaar al die slagoffers van misdaad of geweld was (Beeld 2006a).

Dié stand van sake is dermate ernstig dat elkeen wat met die jeug se belange gemoeid is dringend op die vraag moet ingaan: Hoedanig dra die maatskaplike problematiek in Suid-Afrika by tot ‘n “wegkomwens” in die jeug se toekomsverwagtinge? Hierdie vraag dra gewig in etiese, onderwyskundige, politieke en ekonomiese sin. Die jeug se persepsies oor hul toekoms in Suid-Afrika kan baie insiggewende aanduiers wees van (onder andere) die waargenome welstand van die Suid-Afrikaanse samelewing, die omvang van te wagte breinkwyn uit Suid-Afrika, die stand van lojaliteit jeens Suid-Afrika, die mate van globaliseringsdenke onder die jeug, die mate van materiële toekomsorientasie onder die jeug, en die interne/eksterne lokus van kontrole in die jeug se toekomsdenke (met besondere verwysing na religieuse geloofsvertroue).

In hierdie referaat word verslag gelewer oor die aanvangsfase van ‘n navorsingprojek oor toekomsperspektiewe onder die Suid-Afrikaanse jeug. Hierdie fase fokus op die jeug van die breë Afrikaanssprekende gemeenskap. Die fokus is as geregverdig beskou omdat (a) die Afrikanerbevolkingsgroep spesifiek geraak is deur die politieke transformasie in Suid-Afrika vanweë die verandering in status van maghebbers na minderheidsgroep, en (b) die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap in die nuwe politiek bedeling steeds (en in debatteerbare mate onveranderd) ‘n gemarginaliseerde groep is (kyk die heftige “Eskom”-debat wat onlangs in die media ontketen is deur die bevoordeling van ‘n swart kandidaat vir ‘n bevorderingspos bo ‘n bruin en beter gekwalifiseerde kandidaat - cf. Beeld 2006b).

Die navorsingprojek sal in opvolgende fases ook die jeug van ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika betrek.

Hieropvolgend word eers aandag gegee aan die rol van maatskaplike konteks in die toekomsverwagting van die hedendaagse adolessent. Daarna volg die uiteensetting van die metodologie en bevindings van ‘n navorsingprojek onder die Afrikaanssprekende jeug. Die betekenis van die bevindings word vervolgens beredeneer en ten besluite word enkele gevolgtrekkings gemaak.

DIE ROL VAN MAATSKAPLIKE KONTEKS IN DIE TOEKOMSVERWAGTING VAN DIE HEDENDAAGSE ADOLESSENT

Oor adolessensie is daar oor baie jare heen diepgaande navorsing gedoen, veral in die vakterreine van (opvoedkundige) sielkunde, sosiologie en sosio-opvoedkunde. Die bogenoemde fokus van die navorsingsprojek onder die Afrikaanssprekende jeug het van meet af ‘n sosiologiese invalshoek veronderstel.

Daar is wesenlik twee prominente sosiologiese modelle vir die bekyking van jongmense se toekomsverwagting, naamlik die ekologiese model en die lewensloopmodel (Crockett & Silbereisen 2000: 3). Die ekologiese model kyk veral na die onmiddellike leefwereld van die adolessent (familie, skool, portuurgroep), terwyl die lewensloopmodel te make het met maatskaplike hindernisse in die weg van adolessente se potensiaalverwesenliking (ibid.). Vanselfsprekend vul hierdie modelle mekaar aan, maar vir die doeleindes van hierdie navorsing val die klem op die laasgenoemde model. Die volgende teoretiese besinning gaan dus wesenlik oor die breëre maatskaplike invloede op die toekoms en toekomsverwagting van die jeug.

Dat die maatskaplike konteks (in terme van makro sosio-ekonomiese, politiese en kulturele faktore) wel die toekomsdenke van die jeug wesenlik beïnvloed, is oortuigend uitgewys in die sogenaamde Euronet ondersoek, waarin die toekomsverwagting van jongmense in 11 verskillende Europese lande ondersoek is (Alsaker & Flammer 1999). Prominente aksentverskille in die toekomsverwagting van Oos-Europese en Wes-Europese jongmense is vasgestel, byvoorbeeld ten opsigte van maatskaplike verantwoordelikheidsgevoel en materialistiese uitkyk (Nurmi, Liiceanu & Liberska 1999: 94-95).

Die Euronetprojek, saam met ander grootskaalse internasionale navorsing oor die toekomsverwagting van die jeug (Crockett & Silbereisen 2000; Larson, Bradford Brown & Mortimer 2002), het aangetoon dat daar ‘n aantal gemene delers is in moderne jongmense se reaksie op, en interaksie met maatskaplike invloede rakende hulle toekomsverwagting. Dit het byvoorbeeld geblyk dat jongmense deurgaans ‘n gevoel van beheer oor die toekoms het (Grob & Flammer 1999:111) en dat liefde vir die eie sterker is as globaliseringsdenke (alhoewel daar ‘n relasie is tussen ‘n ongunstige politieke bestel en uitwaartse oriëntasie - Flanagan & Botcheva 1999: 141). Materialistiese waardes en aspirasies figureer prominent (Larson 2002: 13), maar tog blyk godsdiensoortuigings steeds taamlik standhoudend te wees (ibid.). Nuanses in hierdie generiese bevindings word vanselfsprekend beïnvloed deur geslag, ouderdom, selfbeeld en persoonlike omstandighede as veranderlikes (Trommsdorff 2000: 64). Daar is byvoorbeeld bevind dat dogters meer pertinent as seuns droom oor ‘n professionele loopbaan (klaarblyklik aansluitend by die feit dat dogters deurgaans beter presteer op skool) (Csikszentmihalyi & Schneider 2000: 226); dat tieners soos wat hulle ouer word meer twyfel en bekommernis oor die toekoms ontwikkel (ibid.: 62); dat ‘n optimistiese lewensuitkyk en positiewe selfbeeld (op grond van wat alreeds bereik is) ook vertroue in die toekoms skep (ibid.: 221), en dat toekomsideale en die motivering om dit te bereik dikwels sterker is onder tieners uit voorheen minder gegoede en minder ontwikkelde gemeenskappe (ibid.: 222; Grob & Flammer 1999:111).

Die vraag na die omvang en effek van ‘n uitwaartse toekomsoriëntasie onder jongmense wat hulle in erg gedepriveerde maatskaplike omstandighede bevind, is omvattend nagevors deur Elder en Russell (2000). Die bevinding is eintlik te wagte: Jongmense (veral die meer ambisieuses) sal in sulke omstandighede in hulle toekomsverwagtings en -beplanning groener weivelde soek, ondanks familiebande en liefde vir die eie. Alhoewel Elder en Russell (2000) gefokus het op ekonomiese deprivasie, kan hulle bevindings oor uitwaartse oriëntasie toegepas word op ander vorme van maatskaplike problematiek (ibid.: 34). Die belangrike punt is dat die omvang en intensiteit van jongmense se uitwaartse toekomsoriëntasie ‘n indikator is van (die gebrek aan) samelewingswelsyn.

Die maatskaplike imperatief om in belang van ‘n goeie toekoms deeglik na die jeug om te sien, word treffend deur Larson, Wilson en Mortimer (2002: 159) soos volg verwoord:

    The future of societies depends on their success in providing pathways whereby young people develop and prepare themselves to be contributing adults to their communities. When these pathways are well marked, stable, supported by the community, and inviting to adolescents, a society can be confident that new generations will join the ranks of adulthood well prepared. When these paths are hazardous, unpredictable, uninviting, or ill-fitted to the demands of adulthood in that society, the future is insecure, both for adolescents and for society.

Hierdie outeurs (ibid.:159-166) gee dan ‘n omvangryke profiel van die moderne adolessent, gebaseer op studies in agt wêreldstreke. Enkele grepe daaruit, soos van belang vir hierdie navorsing, stel ‘n aantal maatskaplike hindernisse vir ‘n groot deel van die adolessente op hul weg na volwassenheid in die 21ste eeu, naamlik die globale armoedeproblematiek; ontoereikende en irrelevante onderwysvoorsiening; steeds toenemende werkloosheid; politieke apatie jeens die jeug se welsyn en toekoms, en onvoldoende toerusting vir inter-etniese kommunikasie in die globaliseringsera. Die noodsaaklikheid van diepgaande navorsing oor die maatskaplike welsyn en ontwikkeling van die jeug word beklemtoon (ibid. 165).

Dit is aksiomaties dat die maatskaplike konteks waarbinne jongmense hulle toekomsverwagtings vorm en koester wesenlik bepaal word deur die politiek en staatshuishouding, dit wil sê, die orde, effektiwiteit en stabiliteit van regering. Larson (2002:16-17) laat hom sterk en paslik hieroor uit:

    Governmental dysfunction and violent conflict have dire consequences for adolescents and for their preparation toward adulthood. Weak, destabilized, and distracted governments are less able to provide a beneficial developmental infrastructure to children and adolescents. - - -. Ultimately, governmental disorder, terrorism, and warfare denies adolescents a clear and predictable path to adulthood. It throws the future into uncertainty, leaving youth without a reliable vision or any confidence in whether they will get to adulthood and what skills will be needed. Promoting stable governments and minimizing domains of misrule are vital to the future of adolescents.

Hierdie standpunt weerspieël wesenlik die rasionaal vir die onderhawige ondersoek. Wat is die jeug (in hierdie geval die Afrikaanssprekende jeug) se persepsie van die omstandighede en staatshuishouding in Suid-Afrika (in terme van die huidige en verwagte stand van dienslewering, wet en orde, loopbaanvooruitsigte) vis-à-vis die verwesenliking van hulle toekomsideale in Suid-Afrika?

ONTWERP VAN EMPIRIESE ONDERSOEK

Met die voorgenoemde rasionaal en teoretiese onderbou as basis is ‘n empiriese ondersoek gedoen na die Afrikaansprekende jongmense se perspektiewe en verwagtings rakende hulle toekoms in Suid-Afrika. As uitgangspunt is aanvaar dat die fokus in die empiriese ondersoek op Graad 11 leerders behoort te val aangesien hierdie leerders in hul voorlaaste skooljaar is, en veronderstel kan word dat hulle reeds met toekomsbeplanning gemoeid is. Graad 12 leerders sou sekerlik die ideale respondentegroep wees, maar hul akademiese program is van so’n aard dat blootstelling aan empiriese navorsing onwenslik is.

Ter wille van terreinverkenning is vir eers ‘n kwalitatiewe benadering gevolg. Daar is besluit om Graad 11 leerders van ‘n groot Afrikaanse sekondêre skool in Pretoria te pols oor hul toekomsverwagtinge in Suid-Afrika. Die skool is multikultureel met wit en bruin leerders, en bedien ‘n welvarende wit gemeenskap tesame met ‘n bruin gemeenskap wat gekenmerk word deur wesenlike sosio-ekonomiese probleme.

Die werkwyse was om deur bemiddeling van die Afrikaansonderwyser die leerders te laat opstelle skryf met die tema “My toekoms in Suid-Afrika”. Danksy die entoesiasme en ondersteuning van die Afrikaansonderwysers is die opstelle geskryf, met ‘n lengtebepaling van ongeveer 300 woorde. Teksanalise is op die opstelle uitgevoer ten einde die strekking van, en temas in die toekomsverwagting van die leerders te bepaal.

Die leerders het opsigtelik moeite gedoen met die opstelle en bruikbare data is versamel. Om die data te verifieer, is ‘n fokusgroeponderhoud met agt van die leerders gevoer, geselekteer om ‘n balans tussen seuns en dogters, wit en bruin leerders, en positiewe en negatiewe standpunte soos dit uit hulle opstelle geblyk het, te verkry.

Vervolgens is die opsteltemas gebruik as basis vir die opstel van ‘n vraelys vir toepassing op groter skaal. Daar is geoordeel dat ‘n vraelys beter tussen temas sou kon diskrimineer en rangordes sou kon uitlig. ‘n Vraelys is gevolglik ontwerp en proefondervindelik toegepas in ‘n groot sekondêre skool in Centurion (Pretoria) met algeheel wit Afrikaansprekende leerders uit hoërinkomstegroep-ouerhuise. Hierdie proeflopie was suksesvol en die vraelys is daaropvolgend in nog vier Afrikaanse sekondêre skole toegepas, weereens met Graad 11 leerders as respondente.

In die keuse van hierdie skole is die aanname gemaak dat ekonomiese en geografiese veranderlikes (sosio-ekonomiese peil, boerdery-omgewing, industriële omgewing) die toekomsverwagting van jongmense mag beïnvloed, en gevolglik het die keuse geval op ‘n sekondêre skool in (a) ‘n laerinkomstegebied in Pretoria-Wes, (b) ‘n plattelandse boerderyomgewing in die Mpumalanga provinsie , en (c) ‘n myndorp op die Vrystaatse goudvelde. Om die perspektiewe van spesifiek bruin leerders te verkry, is ‘n sekondêre skool in Eersterust (Pretoria) in die ondersoek betrek. Goeie samewerking is deurgaans verkry en in elk van hierdie skole het die universum van graad 11 leerders die vraelyste voltooi.

Alhoewel die navorsing tot dusver nie in die kader van ‘n grootskaalse ondersoek val nie, en die navorsingresultate sekerlik nie as die spreekwoordelike laaste woord beskou kan word nie, is die navorsingbevindings betekenisvol, soos blyk uit die volgende toeligting.

KWALITATIEWE NAVORSINGBEVINDINGS

Opstelle

Die opstelle het die indruk gelaat dat die leerders graag oor die onderwerp wou skryf en moeite met die opstelle gedoen het. Vanweë lengte-oorwegings word hier nie uitvoerig oor die teksanalise verslag gedoen nie. Die hieropvolgende samevatting van die fokusgroepbevindings gee die hoofmomente in die opstelle weer. In die lig van die vlakke van korrupsie, wanbestuur en geweldmisdaad in Suid-Afrika (soos daagliks vermeld in die media) was die oorwegend positiewe strekking van die opstelle verrassend.

Fokusgroeponderhoud

Die agt deelnemers het eers beurtelings gestel wat hulle onderskeidelik as die grootste pluspunt van Suid-Afrika, en grootste probleem in Suid-Afrika beskou. Daarna het ‘n oop bespreking gevolg met as rigsnoer die vraag: Wat behoort dringend in Suid-Afrika te verbeter? Opsommend het die deelnemers beurtelings ‘n vooruitskouing gegee van waar hulle hulself oor 10 jaar sien. Die deelnemers was ontspanne en vriendelik, en het vrymoedig hulle standpunte gestel.

In die bespreking is bandelose misdaad en die flagrante gebrek aan doeltreffende afskrikmiddels as die enkele grootste probleem gestel. Hiermee saam is ook melding gemaak van die omvangryke voorkoms van korrupsie. Die noodsaaklikheid van streng wetstoepassing is beklemtoon, maar die groep het nie konsensus bereik oor die herinstelling van die doodstraf nie. Ander bekommernisse gaan oor werksgeleenthede, regstellende aksie, en rasse-vooroordeel wat steeds bestaan. Die punt is gestel dat laasgenoemde uit die ouerhuise kom, en dat dit nog “20 jaar” sal duur voordat rassevooroordeel in Suid-Afrika die wyk geneem het. Aansluitend hierby is genoem dat ouers ‘n wesenlike invloed op die aard en strekking van hul kinders se toekomsverwagting het. Insiggewend is die feit dat sommige bruin leerders van mening was dat die bruin bevolkingsgroep steeds gemarginaliseerd is. Suid-Afrika se (verskeidenheid in) mense, en die natuurskoon en klimaat is as die grootste pluspunte gestel. Suid-Afrika se mense kan die land ten goede laat verander. Daar is daarop gewys dat ander plekke in die wêreld ook gevaarlik is. Sewe van die agt deelnemers het ‘n konkrete, positiewe voorstelling van waar hulle hulself oor 10 jaar sien.

Die groepsentiment kan moontlik die beste opgesom word as “gekwalifiseerde” of “voorwaardelike” optimisme en patriotisme - ‘n wag-en-sien houding, wat sal bepaal of die toekoms plaaslik of oorsee lê. Twee van die agt deelnemers was vas van plan om hulle toekoms buite Suid-Afrika te soek. Ander waarnemings was dat daar geen teken van enige wrywing tussen wit en bruin leerders te bespeur was nie (eerder die teendeel), en dat heelwat deelnemers eksplisiet of implisiet die rol van geloofsoortuigings en die Bybel as rigsnoer gestel het.

Die navorsers se slotsom was dat die fokusgroepbevindings die inhoud van die deelnemers se opstelle (en by implikasie dié van die hele groep opstelskrywers) oortuigend geverifieer het.

VRAELYSBEVINDINGS

‘n Kort, optimaal respondentvriendelike vraelys is ontwikkel. Dit versamel inligting oor die volgende: ouderdom, geslag, kerkbesoek, selfbeeld, toekomsplanne na skool (plaaslik en/of oorsee), hoofrede om Suid-Afrika tydelik of permanent te verlaat (indien van toepassing), Suid-Afrika se grootste voordeel, Suid-Afrika se grootse probleem, standpuntkeuse oor toekoms in Suid-Afrika, aard van tuisgesprekke oor Suid-Afrika, aard van skoolgesprekke oor Suid-Afrika, en frekwensie van koerant lees. Die vraelys is afgesluit met ‘n oop vraag waarin die respondente kon skets hoe en waar hulle hulself oor tien jaar verder sien.

Hieropvolgend word ‘n beknopte oorsig oor die data gegee, met (waar toepaslik) verwysing na data-variasies volgens die veranderlikes geslag en skool). Sekere statistiese korrelasies was ten tyde van die voorbereiding van hierdie referaat nog nie gereed nie, maar is vir die doeleindes van hierdie referaat ook nie werklik nodig nie.

Biografiese inligting (Ouderdom, geslag, kerkbesoek, selfbeeld)

Soos te wagte, was die respondente oorwegend, naamlik 74.9%, in die ouderdomgroep 16-17 jaar. Aansienlik meer dogters, naamlik 57.4%, het aan die ondersoek deelgeneem. Die item oor kerkbesoek (wat daarop gemik was om ‘n idee te kry van die rol van waardes - hier religieuse waardes) het laat blyk dat 59.4% van die respondente sover moontlik elke Sondag kerktoe gaan, met ‘n verdere 18.4% wat wel twee keer per maand in die kerk is. Slegs 10.5% het aangedui dat hulle nooit of baie selde kerktoe gaan. (In die geval van die sekondêre skool in Pretoria-Wes het hierdie persentasie gestyg tot 22.2%.) As respons op ‘n latere vraelysitem het 96.3% respondente aangedui dat hulle in die beskikking van God in hul lewe glo.

Die response op die selfbeelditem het deurgaans ‘n sterk positiewe lewenshouding openbaar, met 86.9% wat byvoorbeeld aandui dat hulle gelukkig is, en 96.4% wat uitsien na die toekoms. Tog het 63.3% van die respondente wel laat blyk dat hulle dikwels bekommerd is.

Toekomsplanne (studies en loopbaan)

Die rasionaal vir die items oor toekomsplanne was wesenlik om die lokaliteit van die toekomsplanne te bepaal: Suid-Afrika en/of oorsee? Volgens die ingewonne data is die toekomslokaliteit oorwegend in Suid-Afrika, met slegs 9.7% van die respondente wat graag permanent oorsee wil gaan werk. Sewe en twintig persent (27%) sou graag oorsee wil gaan werk, maar later terugkom na Suid-Afrika. Wat die onmiddelike toekoms betref, wil die verhoudingsgewys grootste persentasie repondente, naamlik 42.1%, dadelik studeer in Suid-Afrika. Die respondente is ook gevra om die hoofrede te gee as hulle Suid-Afrika permanent of tydelik sou verlaat. Hier het 71.6% van die respondente finansiële en loopbaanredes genoem, en het slegs 7.9% aangedui dat hulle dit sou doen om onbekommerd in ‘n veilige omgewing te kan woon. (In die geval van die bruin respondente was hierdie persentasie nog laer, naamlik 3.8%.)

Suid-Afrika se grootste voordeel en grootste probleem

As Suid-Afrika se grootste voordeel het 38.8% van die respondente die land se natuurskoon genoem. Ander opsies het beduidend laer persentasies opgelewer, soos sportprestasies (13.5%), menseverhoudinge (10%), vryheid van spraak (9.6%) en ekonomiese vooruitsigte (7.9%).

In frekwensievolgorde is die volgende as die land se grootste probleme genoem: HIV/VIGS (20.8%), werkloosheid (17.7%), geweldmisdaad (15.9%), regstellende aksie (9.9%), korrupsie (9.6%) en armoede (6.9%). Daar was merkbare variasies in die response vanuit die verskillende skole. Bruin leerders het ‘n veel groter gewig toegeken aan HIV/VIGS as probleem (42.5%), en werkloosheid was ook meer prominent (24.5%). Respondente uit die hoërinkomstegroep het verhoudingsgewys groter klem gelê op geweldmisdaad, rassespanning en regstellende aksie as landsprobleme.

Respondente is ook gevra om aan te dui welke van ‘n aantal standpunte die naaste ooreenkom met hul eie mening, en die resultaat word in die volgende tabel aangetoon:

My toekoms in Suid-Afrika is blink. Ja, daar is heelwat probleme, maar met harde werk en 'n positiewe gesindheid kan ek my drome laat waar word en kan ek sukses behaal in Suid-Afrika. %
24.3
Ek is vol vertroue dat ek wel ‘n toekoms in Suid-Afrika het. My lewe is in die hand van die Here en Hy sal my hier in Suid-Afrika plaas waar ek moet wees en vir my sorg. 45.0 45.0
Die probleme in Suid-Afrika is van so ‘n aard dat ek maar ‘n afwagtende houding inneem. As dinge versleg, waai ek. As dinge verbeter, bly ek. 11.8
Die omstandighede in Suid-Afrika is van so ‘n aard dat ek die eerste geleentheid om die land te verlaat, sal aangryp. Ek sal egter oorweeg om terug te keer as dinge verbeter. 9.5
Probleme soos armoede,vigs,misdaad en korrupsie sal net nog vererger. Ek sien geen lig vir enige verbetering nie en daarom wil ek die land graag permanent verlaat. 6.7
Nie een van bogenoemde standpunte nie. 2.3

Die twee negatiewe opsies soos aangetoon in die tabel het minimale response van bruin respondente ontlok. Dié items het verhoudingsgewys die sterkste steun gekry van wit respondente uit die laerinkomstegebied.

Aard van gesprekke oor toestande in Suid-Afrika

In frekwensievolgorde het 57.2% van die respondente aangedui dat gesprekke tuis oor toestande in Suid-Afrika wisselvallig positief en negatief is, 22.0% dat die gesprekke gewoonlik negatief is, 12.6% dat sodanige gesprekke eintlik nie plaasvind nie, en 7.9% dat die geprekke gewoonlik positief is. (Die response op die opsie gewoonlik negatief het per skool nogal gewissel, soos volg: Centurion (29.2%); Pretoria-Wes (18.2%); Eersterust (8.5%).)

Oor hul onderwysers se opmerkings oor Suid-Afrika oordeel 18.0% van die respondente dat dit gewoonlik positief is, 8.4% dat dit gewoonlik negatief is, 62.6% dat die opmerkings afwisselend positief of negatief is, en 11.0% het die opsie onbeduidend gekies - die onderwysers praat nie eintlik oor landsake nie.

Koerant lees

Hierdie item is ingesluit in die veronderstelling dat die respondente se toekomsverwagting en die response daaromtrent in hierdie vraelys beduidend berus op media-inligting (veral uit die koerant, eerder as TV-nuusuitsendings wat grotendeels staatsbeheerd is). Die verskillende opsies in hierdie item het die volgende frekwensiepersentasies opgelewer: Die koerant word min of meer daagliks gelees (14.0%), twee tot vier keer per week (20.0%), slegs nou en dan (51.2%), of nooit of uiters selde gelees (14.6%). (Die laasgenoemde twee opsies het verhoudingsgewys die hoogste frekwensie getoon onder die Pretoria-Wes respondente.)

Toekomsideale vir 2016

Hierdie was ‘n oop vraag en respondente kon aan hulle toekomsideale vrye teuels gee. Die response is gekategoriseer en daarvolgens het geblyk dat die toekomsideale in hoofsaak gaan om die vooruitsig om suksesvol te wees in die beroep of eie besigheid. Ander ideale wat genoem is, maar in beduidend laer frekwensies, gaan om ‘n gelukkige huwelik en gesinslewe, veiligheid, ‘n groot inkomste, en die behoefte om iets vir die medemens te beteken. Die ideaal om permanent oorsee te woon, het 6% van die totaal van genoemde ideale uitgemaak.

Samevatting

Die vraelysdata het onmiskenbaar laat blyk dat die Graad 11 leerders in die ondersoekgroep oorwegend

  • ‘n positiewe lewensingesteldheid het en godsdiens ernstig opneem;
  • plaaslik georiënteerd is in hulle toekomsplanne, veral oor die langer termyn;
  • sukses-georienteerd, eerder as sosiaal-maatskaplik (filantropies) georiënteerd is, en loopbaansukses as allesoorheersende toekomsideaal vir tien jaar verder koester;.
  • geweldmisdaad, korrupsie en wanbestuur ondergeskik stel aan HIV/VIGS as Suid-Afrika se grootste probleem;
  • nie tuis of by die skool aan negatiewe indoktrinasie jeens Suid-Afrika blootgestel is nie;
  • nie ywerige koerantlesers is nie.

Alhoewel die data variasies ten opsigte van die onderskeie skole in die ondersoekgroep opgelewer het, was daar nêrens drastiese afwykings van die breë tendense soos weerspieël in die geheeldata nie. Dit het wel geblyk dat bruin respondente verhoudingsgewys meer positief is oor Suid-Afrika as hul wit eweknieë.

GEVOLGTREKKINGS

  1. Die navorsers gee graag toe dat hulle in hierdie ondersoek hipoteties aangeneem het dat die maatskaplike problematiek (geweldmisdaad, korrupsie, wanbestuur) in Suid-Afrika van so ‘n aard is dat die Afrikaanssprekende jeug in beduidende mate ‘n “wegkomwens” het betreffende hulle toekoms. As vernaamste gevolgtrekking kan gestel word dat hierdie hipotese nie bevestig is nie. Die respondente was oorwegend positief oor die verwesenliking van hul toekomsideale in Suid-Afrika. Die bevindinge toon wesenlike ooreenkoms met die positiewe strekking van bevindinge in die reeds genoemde Euronetprojek (Alsaker & Flammer 1999). Dit strook ook met bevindinge van ‘n onlangse ondersoek van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing getiteld South African social attitudes: Changing times, diverse voices waarvolgens (in die breë) 93% van Suid-Afrika se inwoners trots is op hul land, en 83% van inwoners verkies om burgers van dié land te wees, ondanks die feit dat net 49% van die respondente van opinie was dat hul lewensomstandighede in die volgende vyf jaar sal verbeter (Beeld 2006c).

  2. Om op grond van die bevindings te konstateer dat die samelewing in Suid-Afrika basies gesond is, sal ‘n mistasting wees. Die respondente het in beide die kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing met klem en dikwels die misdaad en geweldsituasie as baie problematies uitgesonder. Uit die meeste respondente se perspektief is dit egter geen rede vir wegkom nie, eerder ‘n probleem wat opgelos moet/kan word.

  3. Uit onderwysvoorsieningsoogpunt is die bevindings spesifiek van belang en verblydend: Die Afrikaanssprekende jeug se positiewe lewensingesteldheid, landsliefde, en plaaslik georiënteerde toekomsverwagting is vrugbare teelaarde vir betekenisvolle onderwys.

  4. Oor die geldigheid van die navorsingbevindings moet in hierdie stadium twee voorbehoude gestel word, naamlik (a) dat die navorsing redelik kleinskaals was, en (b) dat daar vrae kan wees oor die stand van die respondente se kennis van wat werklik in die land aan die gang is, in die lig van die bevinding oor die nogal teleurstellende frekwensie van koerantlees.

  5. Ten slotte moet met klem daarop gewys word dat toekomsverwagtingnavorsing herhalend onder die jeug gedoen behoort te word omdat hierdie data van wesenlike belang is vir die volle spektrum van jeugwerk in Suid-Afrika, en kan dien as barometer van waardes en omstandighede in die Suid-Afrikaanse samelewing.
BRONNELYS

Alsaker F D & Flammer A. (eds.) 1999. The adolescent experience. European and American adolescents in the 1990s. Mahwah, New Jersey: Lawrence Erlbaum Associates.

Beeld 2006a. Meer as 4m kinders al misdaadslagoffers. 11-05-2006.

Beeld 2006b. ‘Behandel swart, bruin gelyk’ 19-05-2006.

Beeld 2006c. Suid-Afrikaners is trots op hul land; wil hier woon, vind RGN. 01-05-2006.

Crockett L J & Silbereisen R K. (eds.) 2000. Negotiating adolescence in times of social change. Cambridge: Cambridge University Press.

Csikszentmihalyi M & Schneider B. 2000. Becoming adult: How teenagers prepare for the world of work. New York: Basic Books.

Elder G H & Russell S T. 2000. Surmounting life’s disadvantage. In: Crockett L J & Silbereisen R K. (eds.) 2000. Negotiating adolescence in times of social change. Cambridge: Cambridge University Press.

Flanagan C & Botcheva L. 1999. Adolescents, preferences for their homelands and other countries. In: Alsaker F D & Flammer A. (eds.) 1999. The adolescent experience. European and American adolescents in the 1990s. Mahwah, New Jersey: Lawrence Erlbaum Associates.

Grob A & Flammer A. 1999. Macrosocial context and adolescents’ perceived control. In: Alsaker F D & Flammer A. (eds.) 1999. The adolescent experience. European and American adolescents in the 1990s. Mahwah, New Jersey: Lawrence Erlbaum Associates.

Larson R W. 2002. Globalization, societal change, and new technologies: What they mean for the future of adolescence. In: Larson R W, Bradford Brown B & Mortimer J T. (eds.) 2002. Adolescents’ preparation for the future: perils and promise. Ann Arbor: Society for Research on Adolescence.

Larson R W, Bradford Brown B & Mortimer J T. (eds.) 2002. Adolescents’ preparation for the future: perils and promise. Ann Arbor: Society for Research on Adolescence.

Larson R W, Wilson S & Mortimer J T. 2002. Conclusions: Adolescents’ preparation for the future. In: Larson R W, Bradford Brown B & Mortimer J T. (eds.) 2002. Adolescents’ preparation for the future: perils and promise. Ann Arbor: Society for Research on Adolescence.

Nurmi, J, Liiceanu A & Liberska H. 1999. Future-oriented interests. In: Alsaker F D & Flammer A. (eds.) 1999. The adolescent experience. European and American adolescents in the 1990s. Mahwah, New Jersey: Lawrence Erlbaum Associates.

Trommsdorf G. 2000. Effects of social change on individual development: the role of social and personal factors and the timing of events. In: Crockett L J & Silbereisen R K. (eds.) 2000. Negotiating adolescence in times of social change. Cambridge: Cambridge University Press.