By geleentheid van
Professor W A Landman se 80ste verjaarsdag
Junie 2003

HULDIGINGSBOODSKAP: UNIVERSITEIT VAN SUID-AFRIKA

Prof Chris Jansen

Instituut vir Opvoedkundige Navorsing

Terug na Gedenklesings

My eerste kennismaking met prof. Landman was in 1976 toe ek onder protes met die BEd-studie begin het, en ook kennis gemaak het met die Fenomenologie, die Fundamentele Pedagogiek en die essensies van die opvoeding. Laat ek bely, ek was nie baie ingenome met die feit dat ek tabelle en tabelle essensies en essensies van essensies van die opvoeding uit die hoof moes ken nie. Maar ... ek het hier onder die indruk gekom van die werkvermoë en skerpsinnigheid wat agter hierdie essensies gelê het, asook die omvang van die taak om hierdie essensies te ontdek, te onderverdeel en in ondubbelsinnige en wetenskaplike taal te benoem.

Die tweede kennismaking met prof. Landman was op 'n baie meer relevante terrein vir my, toe hy omstreeks 1980 op die gebied van navorsing in die Opvoedkunde gepubliseer het, en die redakteur was van die indrukwekkende"Inleiding tot die Opvoedkundige Navorsingspraktyk".. Hier het ek tot die besef gekom dat die professor nie 'n studeerkamerfilosoof is nie, maar met sy voete vierkantig in die werklikheid staan en weet hoe om probleme uit die werklikheid te isoleer en te ondersoek.

Met die derde kennismaking in die middel tagtigerjare, het ek werklik onder die indruk gekom van die akademiese veelsydigheid van prof. Landman toe ons belangstellingsvelde in 'n nog groter mate oorvleuel het en hy hom ook op die gebied van die kurrikulumkunde laat geld het. Afgesien van sy gesaghebbende artikels oor die onderwerp was hy ook die inisieerder en organiseerder van 'n uiters geslaagde lesingsreeks, waarin vele fasette van die kurrikulumteorie en -praktyk (deur genooide sprekers) in die loop van 'n akademiese jaar gedek is. Nodeloos om te sê dat ek gevlei gevoel het en trots was toe hy aangestel is as eksterne eksaminator vir my doktorale eksamen en proefskrif.

Die vierde, en eintlike kennismaking met prof. Landman was toe ons hom omstreeks 1990, na sy aftrede by Tukkies, gewerf het om hom aan te sluit by die Instituut vir Opvoedkundige Navorsing van Unisa. Hierdie kennismaking was 'n Mens het altyd op 'n onbetrokke wyse 'n idee gehad van en agting gehad vir die kwaliteite van die akademikus, W.A. Landman, maar by die Instituut het ons oë eers werklik oopgegaan - nie net vir sy enorme kundigheid en veelsydigheid nie, maar meer nog vir sy onuitputlike werkvermoë op die ouderdom van byna 70 jaar. In die tydperk van bietjie meer as 3 jaar is meer as honderd werkstukke agter sy naam aangeteken op die rekenaarrekords van die Instituut. Afgesien van sy normale bydraes in die velde van die Filosofie van die Opvoeding en Navorsing in die Opvoedkunde is bydraes gelewer op gebiede so uiteenlopend soos

  • die funksies van Tegniese Kolleges

  • akademiese etiek

  • onderwysvernuwingstrategieë

  • die vakbondwese en opleiding

  • die Unisa-doelstellings

  • multikulturele onderwys

  • oriëntering in kenteorieë

  • omgewingsopvoeding

  • argumentvoering en valse redenering

  • 'n handves van menseregte en die onderwys, en

  • postmodernisme

om slegs enkele van die terreine te noem.

Vir die Instituut was dit 'n geweldige aanwins om prof. Landman op sy personeel te kon hê - nie net in die kwantiteit en kwaliteit van die werk wat hy gelewer het nie, maar ook as gevolg van die status wat hy aan die Instituut verleen het. Onder die vaandel van die Instituut het hy in die Fakulteit Opvoedkunde op 'n gereelde basis, seker meer as enige ander fakulteitslid, op verskillende vlakke colloquiums, seminare, lesings en werksessies aangebied. Hy het ook op 'n bykans daaglikse basis hulp verleen aan dosente ten opsigte van hulle eie navorsing en die navorsing van hulle M- en D-studente. Dit was ook aan hom te danke dat die Instituut vir ongeveer 12 jaar lank die setel van die redakteurskap en die sekretariaat van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Opvoedkunde was.

Nieteenstaande alles wat ek hier genoem het, was die grootste openbaring vir my nie prof W.A. Landman, die akademikus nie, maar oom Willem Landman, die mens, wat ons in die Instituut leer ken het. Daar was by hom geen teken dat sy statuur as opvoedkundige hoegenaamd na sy kop gegaan het nie. Sy warmte, nederigheid, behulpsaamheid en humorsin het gemaak dat hy baie gou in die Instituut en Fakulteit uiters geliefd en gerespekteer was. 'n Hoogtepunt vir ons in die Instituut was die teetye wat ons soggens in die kafeteria geniet het, met oom Willem wat ons elke dag vergas het met sy vertellings, 'n nuwe grap en sy spitsvondigheid; 'n Mens tussen mense, wat liefde vir sy vrou, kinders en kleinkind uitgestraal het, en wat jou werklikwaar 'n liefde vir Engelse sokker gehad het. Wat my seker die meeste geïmponeer het, was die feit dat ek hom nooit iets sleg hoor sê het of neerhalende opmerkings hoor maak het oor mede-akademici of oor sy medemens nie.

Ek is oortuig dat oom Willem 'n baie groot deel van sy sukses as akademikus en sy afgeronde menslikheid te danke het aan Mevrou Landman. Met haar onopgesmuktheid, innemendheid en kalme rustigheid het sy my baie meer aan my eie moeder laat dink as aan die vrou van 'n gesiene akademikus. Ek is seker dat hierdie rustigheid, bestendigheid en liefde die ideale basis verskaf het waarin Willem Landman kon gedy.

Oom Willem en mevrou Landman, dit was vir die personeel van die Instituut en Fakulteit Opvoedkunde van Unisa 'n geweldige voorreg om u te kon leer ken en saam met u te kon werk en u vriendskap te kon deel. Wees verseker dat u steeds met groot agting en liefde deur ons bejeën word. Mag daar gelukkige jare vir u voorlê en mag u steeds goeie gesondheid geniet.

Ons beste wense vergesel u op die pad vorentoe.


Terug na begin van bladsy