Professor W A Landman

Publikasies


Terug na lys van publikasies

ARGUMENTASIE EN VALSE REDENERING

IN 'N NAVORSINGSVERSLAG

 

1.      INLEIDEND

Die navorser sal in die lig van die navorsingstappe wat hy vir sy navor­singsprogram geselekteer het, relevante gegewens moet beredeneer.  In sy beredenering (betoog) sal hy veral in die lig van argumentasie­teorie betoog.  Hy sal verder daarteen waak om nie in 'n drogredenasie te verval nie.  Ten einde hierin te slaag moet die navorser kennis dra van die begin­sels van infor­mele logika.

 

2.      BEGINSELS VAN INFORMELE LOGIKA

Die beginsels van die informele logika val uiteen in twee duidelik onder­skeibare, maar nie skeibare terreine of komponente,

 

(i)   teorie van argumentasie;

(ii)  teorie van identifisering van valse redenering.

 

Beide ter­reine of komponente het besondere segswaarde vir die beredenering ten aansien van navorsingshandelinge.

 

2.1      Argumentasieteorie

Ten aansien van argumentasieteorie is die volgende vrae relevant:

 

2.1.1 Wat is 'n argument?


'n Argument is 'n bewysgrond wat aangevoer word ten gunste of teen 'n stelling of 'n opvatting (HAT Woordeboek).  Iemand wat argumenteer, sê op grond waarvan (redes, bewyse, getuienis, inligting of premisse) 'n gegewe konklusie (gevolgtrekking, slotsom) korrek (geldig) is (Kaminsky, A. en Kaminsky, J. 1974:12).  'n Argument is 'n reeks van stellings wat gepaard­gaan met 'n aanspraak.  Die reeks bestaan uit twee of meer stellings (oordele) en die aanspraak is dat een van die stellings wat 'n konklusie genoem word, op een of ander wyse voort­vloei uit die ander stellings wat premisse genoem word (Blumberg, 1976:4).  Die basiese boustene van argumen­te is stellings (propo­sisies).  Proposisies is sinne wat waar of vals is. Die evaluering van 'n argument begin deur die proposisies te identifiseer (Walton, 1989:108).

Michalos (1970:2) vat treffend saam:  'n Argument is saamgestel uit:

...sequences of sentences divided in such a way that some of the sentences are supposed to be the reason, justification, guarantee, warrant, or support for some other sentence in the sequence.  The sentences that provide the reason or warrant are called premisses.  The sentence that is supposed to be warranted by the premisses is called the conclusion.

 

Uit voorgaande omskrywing blyk dit dat 'n argument uit bepaalde stellings (oordele of verklarings); premis(se) en gevolgtrekkings bestaan wat 'n logiese verband met mekaar moet hê.

 

Dus:  Die essensiële element van 'n argument is die aanspraak dat 'n konklusie volg uit premisse.  Die logikus is begaan oor die waar­heid (geldigheid) van die verband tussen die premisse en die konklusie en nie oor die waarheid van die premisse as sodanig nie.  Hy wil vasstel of die konklusie inderdaad voortvloei uit die premisse (Blumberg, 1976:12-13) en of al die premisse volledig in ag geneem is.  Die denkaktiwiteite wat hiermee gepaard gaan, staan bekend as argument-analise.

 

2.1.2 Wat is 'n stelling (oordeel, proposisie)?

 


'n Sin is een of meer woorde wat 'n selfstandige afgeronde geheel vorm (HAT:751).  Sinne word dikwels gebruik om stellings te maak wat stel hoe sake (iets) is of nie is nie.  As die saak is soos die stelling dit stel, is die stelling waar, indien nie, is die stelling (oordeel) vals.  In 'n beredenering kan ware of valse stellings gemaak word ten aansien van 'n saak.  So 'n stelling moet onafhanklik van die subjek­tiwistiese waarde-oor­dele van die navorser wees.  Byvoorbeeld dit moet nie iets van 'n saak sê wat net by die navorser se sienswyses (voor­oordele) pas nie (Giere, 1977:12; Blumberg, 1976:6-7).

 

2.1.3 Wat is 'n premis?

 

Stellings (oordele, verklarings) wat die vooronderstellings in 'n argument uitmaak, staan bekend as premisse.  Scriven bevestig voor­gaande en verklaar kortliks ...that the premisses are supposed to supply reasons for believing or accepting the conclusions.  Die premisse dien as motivering vir die daaruit voortvloeiende gevolg­trekkings en kan (moet) deur navorsing onder­steun word.  Premis(se) is stellings, oordele of verklarings wat die gevolgtrek­king(s) uit 'n argument ondersteun (waarborg).  Foutiewe (valse, ongeoorloofde, onregverdige) premisse lei tot foutiewe (vals) gevolg­trekkings (konklusies).

 

Wanneer 'n stel premisse en 'n konklusie in 'n argument geïdentifiseer word, beteken dit dat die argumenteerder (navorser) 'n bepaalde standpunt ingeneem het wat onderwerp kan word aan kritiek.  Voordat kritiek uitge­spreek kan word, moet die besondere proposisie wat dien as premisse in die konklusie eers geïdentifiseer word.

 

Ondersteun die premisse die konklusie?  Moet iemand wat die konklusie aanvaar die premisse aanvaar?  (Let wel:  daar kan ander premisse wees op grond waarvan hy die konklusie aanvaar) (Scriven, 1976:77; Walton, 1989:109-110).

 


Die premisse van 'n argument is letterlik dié stellings wat vooruit gestuur word om die konklusie te regverdig of te ondersteun (Van Veuren, 1991:5).

 

 2.1.4 Wat is 'n konklusie (gevolgtrekking)?

 

'n Konklusie moet duidelik uit die premisse voortvloei.  Die premisse moet 'n gunstige verband hê met die konklusie of, anders gestel:  dit moet ten aansien van die konklusie gunstige redenasie hê (Bowles, 1989:11-13).

 

Thomas (1981:10) omskryf 'n gevolgtrekking soos volg:  Any statement that an author or speaker tries to support or explain by reasons in a discourse will be called a 'conclusion'.

 

In die navorsingsbetoog dui 'n gevolgtrekking op 'n bepaalde slotsom of uitspraak wat gebaseer is op voorgaande redes of stellings.  Alle konklu­sies kan gekritiseer of betwyfel word al is die premisse aan­vaarbaar.  Ek stem nie saam met die gevolgtrekking nie, omdat....  Vanuit 'n logiese perspektief kan besondere gevolgtrekkings logies (aanvaarbaar) of nie­-logies (onaanvaarbaar) wees.

 

In baie argumente word die woorde dus, daarom, gevolglik, bygevolg, derhal­we, hieruit volg, as gevolg, dit volg dat, as 'n resultaat (uitkoms), desgelyks, daarna, daar, gebruik.  Direk na die gebruik van een van hierdie woorde, volg die gevolgtrekking.

 

Soms word omdat gebruik:  Hy sal wen omdat hy sterk is.  Hy is sterk word as rede (getuienis, inligting, rede) aangewend.  Hy sal wen is die konklu­sie waarvoor hy is sterk, die getuienis (rede) is.  Sino­nieme vir omdat is:  weens, vanweë, as, as in aanmerking geneem word dat, vanweë die feit dat, op grond van.


Ten einde die betoog in 'n navorsingsverslag te beoordeel sal dit goed wees indien bogemelde woorde gebruik word, sodat

 

*     redes (premisse) duidelik onderskei kan word van konklusies,

*     die geldigheid van die redes bepaal kan word,

*     die geldigheid van die konklusie vasgestel kan word (Kaminsky & Kaminsky, 1974:12-17).

 

Die proses van redenering waardeur by die konklusie via die premisse uitgekom word, word genoem die maak van 'n afleiding (Van Veuren, 1991:5).

 

Van Veuren (1991:6) verskaf die volgende waardevolle inligting:  Woorde en frases wat gewoonlik premisse en konklusies aandui is (onder andere) die volgende:

 

PREMISSE (volg op) KONKLUSIES (volg op)

 

dit blyk uit dus blyk dit dat

want daarom

die rede is dat aldus

kan afgelei word van so

gesien die feit dat gevolglik

soos aangetoon deur dit volg dat

in die eerste/tweede plek ek maak die konklusie dat

aangenome dat ons kan sien dat

omdat ons mag aflei dat

 

2.1.5 Wat is 'n geldige argument?


Indien die gevolgtrekking uit 'n argument logies volg uit die pre­mis(se), is die besondere argument geldig (valid).  Die geldigheid van 'n argument dui op die basiese beginsel dat die gevolgtrekking uit die premis(se) voortspruit.  Die geldigheid van 'n argument moet nie met die waarheid (truth) van 'n betrokke argument gelykgestel word nie.  'n Logiese argument is nooit waar of vals nie, maar geldig of nie­-geldig.  Waar of vals is ontologiese begrippe.  'n Stelling is waar as dit met die werklikheid ooreenstem.

 

'n Gegronde (sound) argument moet aan die volgende wesenskenmerke voldoen:

 

(a)   die argument moet logies geldig wees, d.w.s. die verhouding tussen die premis(se) en konklusie moet geldig wees;  en

(b)   die premis(se) en konklusie moet waar wees.  (Die navorser sal sê dit moet werklikheidsgetrou wees).

 

Indien 'n betrokke argument aan beide wesenskenmerke voldoen, is die argument gegrond.  Ontbreking van voorgaande wesenskenmerke kwalifi­seer die argument as ongegrond (Fogelin, 1978:36-37).

 

Wanneer 'n mens sê dat 'n argument geldig is, word bedoel dat die logiese vorm (patroon, struktuur, skema) korrek is.  Daar word niks gesê van die inhoud van die argument nie.  Logiese argumente kan nie waar of vals wees nie, wel geldig of ongeldig.  'n Ongeldige argument se premisse kan waar wees, maar die konklusie vals:  Bv.

 

Waar: Alle  honde is diere.

Waar: Alle katte is diere.

Vals: Dus is alle katte honde.

 

Geldige argumente se skema is soos volg:


Alle ───────── is ---------

Alle ......... is ─────────

Dus, alle ........ is -------

 

Alle katte is diere.

Alle tiere is katte.

Dus, alle tiere is diere.

(Wat op die verskillende merkers ingevul word, mag dieselfde wees:

soliede streep ───────────────

gebroke streep ---------------

kolletjies     ...............)

 

Met ander woorde:  'n Gegronde argument se struktuur is logies geldig en die premisse is waar.  Indien die premisse waar is, moet die konklusie waar wees.

 

Ongegronde (unsound) argumente:

(i)   se logiese skema is ongeldig bv. Alle ─────── is ------

Alle ....... is ------

Dus, alle ...... is ────────.

(ii)  dit mag 'n vals premis bevat

(ii)  dit mag irrelevant ('n valse redenering) wees.

 

In 'n deduktief-geldige argument berus die verhouding tussen die premisse en konklusies slegs op die betekenis van woorde of frases in die premisse en konklusies - die konklusie is implisiet vervat in die premisse van die argument (Van Veuren 1991:35).

 


'n Argument waarvan die gevolgtrekking verband hou met die onderskeie premisse is deduktief (Michalos, 1976:3).  Blumberg (1976:440) bevestig voorgaande met die volgende uitspraak:  An argument is deductive if the claim is that the conclusion follows from the premisses in the sense that it is impossible for the conclusion to be false if the premises are all true.

 

Voorbeeld van 'n deduktiewe argument:  (P1)  Indien A se motor sonder brandstof raak sal die enjin gaan staan.  (P2)  A se motor is sonder brandstof.  Konklusie:  Dus sal die enjin nie loop nie.

 

'n Argument waarvan die gevolgtrekking minder of meer aanvaarbaar is na aanleiding van die onderskeie premisse is induktief (Michalos, 1970:3).  Blumberg (1976:441) beweer dat:

 

An argument is nondeductive if the claim is that the conclusion follows from the premises in the sense that it is improbable (not impossible) that the conclusion will be false, given that the premisses are all true.

 

Die induktiewe denkmetode vereis 'n noukeurige versameling van feite (gegewens) en gebruik dit as basis vir die maak van veralgemenings (Verma & Beard 1981:184).

 

Voorbeeld van 'n induktiewe argument: 

(P1): Die meeste 2-jariges is hardkoppig.

(P2): A se dogter is twee jaar oud.

K   : Dit is waarskynlik dat A se dogter handkoppig sal wees.

 


Dus:  Indien 'n argument ongeldig is, leer 'n mens niks daaruit aangaande die werklike waarheid of valsheid van die argument se konklusie nie.  Indien 'n argument geldig is, weet 'n mens dat die konklusie nie vals kan wees indien al die premisse waar is nie, maar 'n mens weet nie of die premisse waar is nie.  Indien 'n argument gegrond (sound) is, weet 'n mens dat die konklusie waar moet wees omdat die argument geldig  en al die premisse waar is.

 

3.    TEORIE VAN IDENTIFISERING VAN VALSE REDENERING

 

Ten einde 'n totaalskou op die teorie van identifisering van valse redene­ring te verkry, is dit nodig om presies te sê wat met die begrippe valse redenering en teorie van valse redenering bedoel word.

 

3.1   Valse redenering

 

Valse redenering is om misleidende (bedrieglike, verkeerde, vals) argumente te gebruik (Hamblin, 1970:224).

 

Die begrip valse redenering is afkomstig van die Latynse woord fallere of  fallacia wat onderskeidelik bedrieg, mislei, verlei en misleidend beteken.  In die komtemporêre literatuur oor formele drogredenasies word die begrip  valsheid soms as sinoniem vir drogredenasie gebruik.  Michalos definieer kortliks 'n drogredenasie soos volg:  ...any formal or informal mistake made in an argument.  Foutiewe argumentering (meesal vanweë foutiewe premisse), is bedrieglik.  Kilgore (12:11) sluit by voorgaande siening aan en omskryf 'n drogredenasie soos volg:  A fallacy is an error in an argu­ment that results from a flaw in the form of the argument or from a lack of relevance of the evidence to the conclusion.

 


Drogredenasies óf valse redenering:  daar is iets verkeerd met een (of meer) van die premisse óf met die verband tussen premisse en konklusie.  In 'n argument moet die relevante basiese redes (premisse) waar wees en dié premisse moet die gevolgtrekking regverdig (Secor, 1987:349).  Argumente met irrelevante premisse is foutiewe argumente omdat hulle premisse op geen manier hulle konklusies waar kan maak nie (Van Veuren, 1991:44).

 

Opmerking:

 

Aangesien die begrip 'drogredenasie' te sterk dui dat een of ander vorm van  bedrog gepleeg word, word in hierdie dokument die begrip valse redenering gebruik.  'n Valse redenering behoort niemand te oortuig dat die konklusie daarvan aanvaar behoort te word nie (Secor, 1987:349).

 

 3.2  Teorie van valse redenering

 

Johnson en Blair (1981:74) omskryf die teorie van valse redenering soos volg: 

By the theory of fallacy, we mean the attempt to formulate with clarity and rigour the conditions under which a particular fallacy occurs, along with related questions about the nature and/or existence of various kinds of fallacy.

 

So 'n teorie maak uitsprake oor vrae soos: 

 

Wat moet onder valse redenering verstaan word?

Kan die omstandighede/situasies waarbinne besondere gevalle van valse redenering voorkom, beskryf word?

Kan daar duidelik onderskei word tussen gevalle van valse redenering? Hoe behoort die gevalle geklassifiseer te word?

Is daar 'n 'korrekte' wyse van klassifikasie?

Wat is die waarde van die identifisering van valse redenering?

 


3.3      Identifisering van wyses van valse redenering (Michalos, 1970.  Kaminsky & Kaminsky, 1974;  Walton, D.N. 1989;  Beardsley, 1975;  Blair & Johnson 1980; Carney & Scheer, 1974; Hamblin, 1970; McPeck, 1981; Tomko, 1980; Jacobs, 1986; Fearnside & Holther, 1959; Bruneau, 1986; Woods & Walton, 1982; Van Veuren, 1991).

 

Michalos (1970:26) wys daarop dat 'n volkome bevredigende klassifi­kasie­sisteem vir gevalle van valse redenering nog nie bestaan nie.  Waar daar bloot gefokus wil word op die identifisering van valse redenering is so 'n klassifikasiesisteem ook nie werklik noodsaaklik nie.  Die klassifikasie wat dus in navolging van Michalos gevolg word, is daarom eerder gerieflik as 'korrek'.

 

3.3.1      Veronderstelling van die gevolgtrekking (Latyn: petitio principii; Engels: begging the question)

 

Wanneer 'n bepaalde gesigspunt by die aanvang van 'n argument/bewering as vanselfsprekend/voor-die-hand-liggend aanvaar word, terwyl dit in werklik­heid nog bewys moet word, word vals geredeneer op 'n wyse wat bekend staan as petitio principii.  In baie gevalle word die punt so gestel om verdere verduideliking of bevraging te vermy.  Enkele subtiele of minder subtiele maniere waarop daar in hierdie wyse vals geredeneer word, is die volgende:

 

(a)      Veronderstelde sekerheid (alleged certainty)

 


'n Stelling wat lei tot die motivering van 'n bepaalde argument word met besondere sekerheid as onbevraagbare waarheid aangebied.  Dit word aange­bied asof dit beslis geldig is en dat enige verdere bevraging van die argument onnodig blyk te wees.  Op dié wyse word die aanhoorder (leser) se kritiese ingesteldheid onderdruk.  Die argumenteerder hou soms vas aan sy argument afgesien van teenstellende bewyse.  Soms gebeur dit selfs dat iemand weier om die moontlikheid van teenstellende bewyse te oorweeg.

 

Bv.  1. Dit is vanselfsprekend dat ...

2. Sonder vrees vir teenspraak kan gesê word dat ...

3. Niemand sal in twyfel trek nie dat ...

      4. Die fenomenologiese metode is die enigste metode om ...

5. Fenomenologies gesien ...

6. Empiries bepaal ...

7. Dit is onteenseglik bewys dat ...

8. Navorsing het getoon dat ...

9. Almal weet dat ...

10. Die gebruik van die lydende vorm en die betekenislose "daar".  Daar is bevind ....... ens.  Sodoende word die identiteit van die misterieuse bevinder(s) nooit openbaar of bevraagteken nie.

11. Dit word algemeen aanvaar dat .........

 

(b)      Waarde-gelaaide byvoeglike naamwoorde (question-begging epithets)

 

Dikwels word vals geredeneer wanneer 'n saak bespreek word, nie net in beskrywende terme nie, maar deur gebruikmaking van waarde-gelaaide byvoeg­like naamwoorde.  Vergelyk byvoorbeeld die volgende besprekings van 'n (denkbeeldige) empiriese gegewene:

 

(i)   In 1991 het die staat se uitgawes aan die swart onderwys gestyg van R5 miljard tot R6 miljard.

(ii)  In 1991 het die staat se uitgawes aan die onderwys van swart leerlinge 'n fenomenale styging van R5 miljard tot R6 miljard getoon.

(iii) In 1991 was die styging in die staat se uitgawes aan swart onderwys   'n skamele R1 miljard, van R5 miljard tot R6 miljard.

 

Opmerking:

 

Byvoeglike naamwoorde behoort baie spaarsaam in 'n navorsingsverslag gebruik te word.  In baie gevalle sê byvoeglike naamwoorde meer oor die ingesteld­heid/sienings/lojaliteite van die skrywer/navorser as oor die situasie wat hy beskryf.

 

(c)      Sirkelredenering of -argumentering (circulus inprobando)

 

'n Premis word as bewys gebruik om 'n gevolgtrekking te maak en laasge­noemde gevolgtrekking word gebruik as bewys om die oorspronklike premis te bevestig.  Sodoende word gepoog om die geldigheid van 'n argument te bevestig. (Bv. Sirkelredenering of -argumentering het die volgende herken­bare struktuur:  'A is waar omdat B waar is, en B is waar omdat A waar is').  Bv. Kaminsky (1974:42):  There's no question but that the deteriora­tion in modern moral values is to be attributed to people's inability to distinguish between what is right and what is wrong.  Actually this sen­tence states that the deterioration in moral values is caused by the deterioration in moral values because people's inability to distinguish between what is right and what is wrong has essentially the same meaning as deterioration in moral values.  The reasoning is circular.

 

(d)      Ingewikkelde (komplekse, leidende) vrae

 

'n Ingewikkelde (komplekse, leidende) vraag word so gestel dat 'n persoon gelei word om 'n bepaalde antwoord te gee.  'n Vraag wat 'n antwoord suggereer, is 'n drog-vraag.  Dikwels is dit 'n inkrimineren­de aanname wat gemaak moet word, voordat die vraag beantwoord kan word.

 

Bv.   1. Slaan jy nog jou vrou?

2. Wanneer het jy finaal met die kommunisme gebreek? (McCarthy).

 

3.3.2      Pseudo-gesag (ongeldige gesag)

 


In hierdie wyse van valse redenering word die mens se (aangeleerde) inge­steldheid om bepaalde vorme van gesag te aanvaar, uitgebuit.  In al die gevalle wat hier bespreek word, word die hoorders/lesers van 'n argument beweeg om die argument te aanvaar, nie op grond van die formele geldigheid of relevante getuienis nie, maar deur 'n beroep op een of ander gesag (werklike of gewaande) se steun vir die argument.

 

(a)      Populêre sentiment (Latyn: argumentum ad populum, Engels: to the people) word gebruik.  (Popular sentiments) (Popular passions)

 

Daar word 'n beroep gedoen op 'n persoon se emosionele gesindheid en houding en op populêre sentimente en vooroordele ten einde onder­steuning vir 'n betrokke konklusie van 'n argument te verkry wat nie ondersteun word deur relevante gegewens (getuienis) nie.  Hierdie tipe argumentasie word baie in die politiek gebruik.

 

Voorbeelde:

 

1.      Hierdie kursus is die heel beste.  Dis ontwikkel deur Afrikaners vir Afrikaners.

2.      Michalos (1970:35):  Any man who does not guarantee his child the finest education that money can buy has neglected his God-given duty.  This Encyclopedia I am selling is a bargain.

3.      Fearnside & Holther (1959:96):  EXAMPLE.  A soap box orator exclaims, 'Those high priests of finance, the brokers, bankers and corporate directors of Wall Street, have only one thing in their hearts - the sacred dividend check!'

COMMENT.  This appeal to popular passions is of the kind commonly known as 'name calling'.  The device is stock in trade for demagogues.  The essence of name calling is relying on prejudi­cial terminology to evoke popular passion - 'high priests of finance,' 'Wall Street,' 'The sacred dividend check'.  Inflection of the voice or a context of epithet can make a name like 'Wall Street' into a term of abuse.


 4.   Uitleg van Van Veuren (1991:94):  Ad populum-argumente is by uitstek argumente wat inspeel op ons 'sosiale gevoelens' (ons behoefte om aan 'n groep te behoort, die groep te beveilig en te versterk;  ons drang om indringers uit die groep te weer;  ons groepsvooroordele, ens.) deur die gebruik van emosioneel-gelade woorde en frases.  Evokatiewe taalgebruik wat 'n beroep doen op mense se sosiale gevoel kan hulle soms motiveer om 'n bepaalde stelling te aanvaar of te verwerp.

 

(b)      Selfvertroue (Confident manner)

 

In die lig van die afwesigheid van 'n geldige argument, handel die betrokke persoon met oortuigende selfvertroue asof die besondere argument geldig is.  'n Vorm van bluf (deur grootpratery 'n mislei­dende indruk skep).

 

Bv.   1. Wat?  Vra u of ek dit kan regverdig?  Daar bestaan by my geen twyfel dat dit kan slaag nie.  Trouens, dit sál slaag.

2. Politikus se kantaantekening:  The argument is weak. Shout like mad.

 

(c)   Jargon - onverstaanbare vaktaal

 

Wanneer daar gepoog word om 'n argument/uitspraak sterker/indrukwekkender/ belangriker te laat klink deur gebruik te maak van bombastiese of tegnies/ vakkundigklinkende taal, word 'n beroep gedoen op die gesag van jargon.

 

As 'n terapeut by 'n kinderleidinginstituut/opvoedkundige hulpdiens/private praktyk by gebrek aan duideliker antwoorde aan 'n ouer beduie dat 'n kind se gedrag toegeskryf moet word aan, byvoorbeeld, die ouer se versuim om hierdie opvoedeling binne die grense van 'n bi-latera­­le, non-klassikale,  een-tot-een opvoeding­situasie en binne die para­meters van die pedagogiese  gesags­verhouding in 'n agogiese dialoog te betrek waarin die kultuurgegene­reerde en -bepaalde normatiewe eise empatiek, dog eksplisiet aan hom voorgehou word, is hy moontlik besig om sy onbekwaamheid te verberg deur hom op die gesag van jargon te beroep.


(d)      Clichés.  Afgesaagde/ge-ykte uitdrukkings (Aphorisms)

 

In die lig van die afwesigheid van 'n geldige argument, word 'n cliché as substituut aangebied om 'n bepaalde argument se geldigheid te versterk.  'n Aforisme (kernagtige, pittige sin, gesegde, spreuk) of cliché word gebruik in plaas van 'n goeie rede.  Michalos (1970:37) gee die volgende voorbeeld: 

 

...for example, consider the case of a student who was apprehended by the local police for necking with his girl in the backseat of an abandoned bus.  When asked why he picked that place, he answered, 'When Nature calls, one must respond'.  Instead of giving the real reason, he coined a new cliché and hoped for the best.

(Oor die "nuutheid" van die cliché en die uitdrukking "new cliché" kan sekere bedenkinge uitgespreek word.)

 

Opmerking:  Pas ook in hierdie verband op vir die gebruik van woorde soos ontsettend, enorm, verskriklik, vreeslik, 'n groot rol speel, ens.

 

(e)      Bekende persoonlikhede (Latyn: ipse dixit;  Engels: He himself said it, therefore it is true) Popular people.  Improper appeal to authori­ty

 

'n Bepaalde argument word as geldig aanvaar bloot omdat een of ander bekende persoonlikheid dink 'n bepaalde argument is waar of geskryf het dat dit so is.  Hy sê so!

 

Dit word in baie gevalle ook gebruik om iemand die swye op te lê, byvoor­beeld:  Vraag aan V.E. Frankl:  "Wie is u om die grote Freud te weer­spreek?"

 

Van Veuren (1991:101) waarsku:

 


As A nie 'n erkende en betroubare spesialis op die gebied van P is nie, of wanneer daar nie konsensus bestaan oor die bewering wat A maak nie, is die argument 'n drogredenasie.  Dit is sonder meer duidelik dat 'n mens in baie gevalle die nodige agtergrondkennis moet besit as jy iemand van hierdie soort drogredenasie wil verwyt:  jy moet ten minste weet wie as betroubare spesialiste op 'n sekere gebied gereken word, en of daar op hierdie gebied konsensus oor die betrokke saak bestaan.  Hierdie vrae is dikwels moeilik beslisbaar in wetenskaplike kontekste.

 

'n Gesaghebbende is iemand wat

 

(i)      identifiseerbaar is

(Bv. nie:  Iemand het eendag die stelling gemaak dat ...

Geleerdes glo (weet) almal dat ...)

(ii)  deur vakgenote as gesaghebbende erken word (Blyk deur die hoeveelheid kere wat hy aangehaal word om argumente te staaf.)

Michalos (1970:38):  Whatever the evidence fails to support, a popular name cannot support either.


(iii)    wat nie eie belang voorop stel nie, konsensieus is en wat

(iv)        gekwalifiseerd is om 'n deskundige genoem te word vanweë oplei­ding  en akade­mies-professionele status (Fearnside & Holther, 1959:84-       86).

 

EXAMPLE: 

Overheard in a library:  Look!  This Webster's Dictionary says that 'primp' means 'dress up' or 'preen.'  So that's what the word means and not some­thing else.

 

COMMENT: 

The 'authority' of a dictionary  is a special case.  Dictionary definitions have no finality, for the editors of a dictionary do not lay down what words should mean.  Rather, they base their definitions upon research into how the words are in fact used by educated speakers of the language.  Some words are reported as having a colloquial or slang use.  Thus a reputable dictionary is authoritative in the sense that it is a scholarly report of how words are used in practice.  Though a dictionary 'binds' no one, he who wishes to use a word in an unusual sense will do well to point out the special meaning that he intends or he will run the risk of being misunder­stood.

 

(f)   Titels (Latyn: argumentum ad verecundiam) Titles

 

Hierdie vorm van valse redenering sluit nóú aan by die vorige.  Die geldig­heid van 'n argument word aanvaar omdat 'n groep mense met besondere bekende titels of wat as besonder deskundig (outoriteit) beskou word, dit na bewering aanvaar het (soms sonder om die persone se name te noem).


Bv.   1. Dokters glo dat rooivleis liefs vermy moet word in 'n gesonde dieet.

2. Advokate is daaroor eens dat 'n handves vir menseregte vir die RSA aanvaar moet word.

3. Toonaangewende opvoedkundiges aanvaar dat opvoeding met volwas­senheid eindig.

 

In navorsing word dikwels in die praktyk teengekom dat slegs verwys word na persone ('n bepaalde groep wetenskaplikes) wat die navorser se sienings ondersteun en dat persone wat ander sienings huldig, verswyg word.

 

Waar daar in laasgenoemde gevalle (f) na niemand in die besonder verwys word nie (sodat dit getoets kan word nie) word in die geval van (e) na 'n besondere persoon verwys (daar sou bepaal kon word met watter mate van gesag hy/sy oor die onderwerp kan praat).

 

(g)      Tradisie (Tradition).  Common practice

 

'n Argument is geldig omdat dit tradisioneel geglo word dat dit geldig is.  Daar word aanvaar dat alles wat oud (tradisioneel) is, goed is.

 

Bv.   1. Oor die eeue heen is dit as waarheid aanvaar dat ...

2. Opvoedkundiges het vir eeue lank gepostuleer dat alle kinders dankbaar vir geborgenheid is.

3. Ons voorouers was dit eens dat mense van wie die oë naby aan mekaar sit,  onbetroubaar is.

 

(h)      Getalle (Large numbers)

 

Impressing by large numbers


'n Argument is geldig omdat 'n groot aantal persone dit ondersteun en huldig.  Dikwels met  sarkastiese  verwysings  na  die  een (of 2,3) teenstanders.

 

Bv.   1. 'n Meningsopname het getoon dat 80% van die bevolking patrioties is.

2. Tien duisend mense het Fords gekoop.  Tien duisend mense kan nie verkeerd wees nie.

3. Fearnside & Holther (1959:93):

EXAMPLE.  A noted philosopher explains in an interview, 'Eminent minds have come to the conclusion that in our civilized world the evil in man prevails over the good.  As Hobbes put it, 'The life of man is solitary, poor, nasty, brutish, and short.'  If I am accused of pessimism, all I can say is that I have lots of company and famous company, too.'

COMMENT.  That many philosophers have become disillusioned, including eminent men among them, is no guarantee that such an interpretation of life is adequate or even meaningful.  Hobbes, incidentally, was talking about the conditions of life in a putative 'state of nature' before the benefits of government.  Hence the reference to Hobbes involves quoting out of context.

 

(i)   Eie belang (Latyn: ad personam; Engels: appeal to the purse: ad crumenam) Self-interest

 

'n Argument word as geldig aanvaar omdat die aanvaarding daarvan persoon­like voordeel inhou vir die spesifieke persoon, naamlik 'ek'.

 

Bv.   Dis voordelig om met die 'baas' saam te stem.  Veral wanneer die 'baas' 'n sê het oor promosie/verhogings, ens.

Hoe word verskille tussen promotor/leier en student hanteer?


(j)      Irrelevante gesag (Irrelevant authority)

 

'n Argument word as geldig beskou omdat 'n kundige op 'n bepaalde terrein se uitsprake oor 'n gans ander terrein as geldig aanvaar word.

 

Bv.   1. Daardie opvoedingsteorie is waar omdat die Staatspresident sê dis waar.

2. Die neiging om alle persone wat met opleiding te maak het, 'opvoedkundiges' te noem.

3. Dié verskynsel doen hom baie voor in liggame soos kerkrade en beheerkomitees van skole, wanneer die woord van bv. mediese dokters, professore, predikante ens., besondere gewig dra al laat hulle hulle uit oor 'n terrein waar hulle steeds leke is (soos bv. die Opvoedkunde).

 

(k)      Wanvoorstelling van gesag (outoriteit) (Misrepresenting authority)

 

Die geldigheid van 'n argument word versterk deur die beskouinge of aan­sprake van een of ander kundige gedeeltelik of uit konteks aan te haal.  Net die gedeelte wat by die eie argumentering pas, word na verwys of 'n wanvoorstelling daarvan word as 'n ware (egte) interpre­tasie beskou.  Van die werklike uitsprake/sienings van 'n persoon word 'n karikatuur gemaak in die vorm van wanvoorstellinge.  Hierdie wanvoorstellinge word dan met entoesiasme en met baie emosionele opwinding en selfs opsweping, aangeval.  Die karikaturisme is dan in werklikheid 'n skyngeveg (vgl. Don Quichot) teen vermeende teenstan­ders wat met groot onverdraagsaamheid gevoer word en waardeur eintlik niks bereik word nie, aangesien daar teen die nie-bestaan­de 'n veldtog gevoer word.  Die karikatuur bestaan in werklikheid nie en 'n stryd daarteen is sinloos.

 


Voorbeeld:

 

Malan, J.W.:  Die Wysgerig-antropologiese Grondslae van die Opvoedkun­dige teorie by C. K. Oberholzer. D.Phil-proefskrif, Bloemfontein, 1971 (later gepubliseer deur Sacum), beweer dat aangesien Oberholzer in die opvoedings­werklikheid raakgesien het dat minstens twee mense teenwoor­dig moet wees alvorens daar van opvoeding sprake kan wees, hy die mens getalsmatig sien!  So 'n bewering druis reëlreg in teen al Oberholzer se openbaringe en verder kan die vraag gevra word of daar dan géén mense moet teenwoordig wees vir 'n opvoedingsituasie nie!

 

Van Veuren (1991:98) skryf oor die strooipop-drogredenasie:

 

Hierdie drogredenasie is 'n bedenklike tegniek om iemand anders se standpunt te weerlê.  Die 'strooipop' verwys na 'n waninterpretasie of 'n wanvoorstelling van iemand se standpunt wat platgeskiet word met kritiek onder die illusie of pretensie dat dit sy egte standpunt is.  Die term 'strooipop' is afkomstig uit die Middeleeue toe mense strooi­poppe gebruik het om hulle behendigheid met swaarde te oefen.

 

(l)      Apriorisme

 

Daar word, voordat ondersoek ingestel word (navorsing onderneem word), aangeneem dat 'n bepaalde toedrag van sake so sal wees en nie anders nie.  Apriorisme word gepleeg wanneer daar voor ondersoek (navorsing) besluit word dat sekere dinge moet gebeur of nie sal gebeur nie, omdat dit nood­saaklik is volgens een of meer teorieë of sienswyse.

Ook:  om die oë te sluit vir getuienis wat indruis teen dit wat 'n mens glo bv. dat kindwees gekenmerk word deur dankbaarheid vir gebor­genheid.

 


Bv.  1. Die doel van die navorsing is om die volgende hipotese te

bewys.

 

2. Fearnside & Holther (1959:114):

EXAMPLE.  Mrs. Peter is told that a ten-year program of introdu­cing fluoridation into the water supply demonstrates that decay in the teeth of grammar school children fell off 60%, as compared to the school group immediately prior to the introduction of the fluoride.  'Well,' rejoins Mrs. Peter, 'I'm still against the program because I am opposed to experimentation with human beings, children especially.'

COMMENT.  If ever it was sound to generalize that innova­tions in public health were as apt to be injurious as beneficial to health, this generalization itself would be subject to continual reassessment as man's endeavors to control environment become guided by improved techniques and increased knowledge.  Mrs. Peter evidently chooses to reject out of hand such innovations as 'experiments'.  Perhaps her mother objected to vaccination.

 

(m)      Vertroue, erewoord (Faith)

 

Daar word aangedring daarop dat sienswyses (uitsprake) waarvoor min (ook geen) gegewens bestaan nie, op grond van vertroue (geloof) aanvaar moet word.

 

Bv.   1. Kwak:  Ek sal jou gesond maak as jy in my en my metodes glo.

2. Opvoedkundige: Aangesien die skrywer hiervan (bv. artikel) nooit vantevore sy lesers mislei het nie, sal hulle moet glo (ver­trou) dat die volgende statistiese gegewens betrou­baar is.

 

3.3.3      Irrelevante Appèl (Irrelevant appeals): wat nie geldig (ter sake)


is ten aansien van 'n besondere argument nie

 

(a)   Druk (Latyn: argumentum ad baculum) ad baculum = to the stick or club.  (Force) (Appealing to force)

 

Druk word op 'n persoon uitgeoefen om die geldigheid van 'n konklusie te aanvaar sonder dat relevante premisse daarvoor bestaan.  In dié sin is ad baculum om argumentasie oor boord te gooi, of ten minste om daarvan weg te beweeg.  Promotordruk op student (soms deur sinspeling of skimp).  Intimi­deer om sekere bevindinge of konklusies te verswyg (en sodoende akademiese vryheid te skend).  Akademiese intimidasie bv. om 'n sekere paradigma te aanvaar, óf ... Die persoon op wie (soms subtiele) druk uitgeoefen word, beleef: ...that I am doing myself no good whatsoever in sticking to my side of the argument, and  that somehow I am placing myself in jeopardy (Woods & Walton 1982:7).

 

(b)      Simpatie (Latyn: argumentum ad misericordiam) Appèl op simpatie (Pity)

 

Daar word op ongeoorloofde wyse op 'n persoon se 'gevoel' of simpatie gesinspeel ten einde hom te beweeg om die geldigheid van 'n konklusie te aanvaar sonder om die verpligting na te kom om sterk en relevante getuienis (premisse) te voorsien.  Die afwesigheid van relevante gegewens (premisse) word verberg.  Skynbaar relevante redes vir 'n konklusie word aangevoer wanneer relevante redes ontbreek, uitgeput is of verdring moet word.

 

Bv.   A moet die bevordering kry want hy het ses kinders om groot te maak.

Van Veuren (1991:97) se voorbeeld:

Die beroep op medelye gaan suggestief te werk:


Konstabel, jy kan my nie met R200 beboet omdat ek 'n rooi verkeerslig oorgesteek het nie;  as ek so baie geld moet betaal is my huishougeld op en sal my ou vier kindertjies honger ly.  Buitendien moet ek nog die huishuur en die paaiemente op die TV en mikrogolfoond betaal.  Ons sal op die straat sit.

Dit mag hardvogtig voorkom om dit te sê, maar hierdie beroep op medelye ondersteun nie die geïmpliseerde stelling dat die vrou nie die boete hoef te betaal nie.

 

(c)      Onkunde (Latyn:  argumentum ad ignorantiam) Gebruikmaking van onkunde, onwetendheid, onbekendheid.

 

In die lig van die afwesigheid van gegewens om die geldigheid van 'n argument te bevestig word hierdie 'afwesigheid van bewyse' aangewend om die geldigheid van die argument te versterk.  Omdat die argument (stelling, hipotese) nog nooit as waar bewys is nie, beteken nog nie dat dit vals is nie, en andersom.

 

Van Veuren (1991:100) verduidelik:

 

Die tipiese tegniek van die beroep op onkunde is om die bewyslas op 'n intimiderende manier na die persoon wat die argument aanhoor, te verplaas:

 

Ek het nog geen rasionele argumente gehoor waarom die Koeberg­kernkrag­sentrale as onveilig beskou moet word nie.  Dit is dus veilig.

 

Al die argumente van hierdie slag bevat die versteekte premis dat gebrek aan redes teen 'n stelling as voldoende grond vir die beves­tiging van die stelling geld.  As die gebrek aan redes of bewyse teen 'n stelling as rede of bewys vir die stelling kon tel, sou ons byna enigiets kon bewys.

 

Bv.   1. Omdat dit nie bekend is of stelling A waar is nie, is dit vals.


2. Omdat stelling A nog nooit as vals bewys is nie, is dit waar.

3. Aangesien niemand kan bewys dat dagga nadelig is nie, moet die gebruik daarvan gewettig word.

 

(d)      Argument wat teen die persoon gerig is (Latyn: argumentum ad hominem, Engels: abusing the man).  Die persoonlike aanval.  Nie suiwer saaklik nie.

 

'n Persoon of groep persone wat 'n bepaalde argument handhaaf word aange­val, in plaas van die geldigheid van die betrokke argument.  Die fokus is sterker op die persoon wat aangeval word, as op die argument.  Dit gaan om die persoon se karakter, politiek, motiewe en betroubaar­heid wat bevraag­teken word.  Die argument is nie ad rem (saaklik, relevant) nie.  Irrele­vante gegewens verdring relevante gegewens wat wel ter sake kan wees.  Suggestie en insinuasie speel 'n rol.

 

Bv.   1. Sy bewering kan nie aanvaar word nie want hy is 'n fenomeno­loog en 'n eksistensialis en 'n eksistensialis is 'n ateïs.

2. Die sogenaamde teorieë van Einstein is bloot die yling van 'n gees wat besoedel is deur liberale, demokratiese nonsens wat heeltemal onaanvaarbaar is vir Duitse wetenskaplikes (W. Gross, Nazi).

3. Akademici wat paradigmaties van mekaar verskil, moet streng en skerp hierteen waak.

4. Konstruksie van die ad hominem (Van Veuren, 1991:58)

Premis 1:  A se stelling, standpunt of proposisie is X.

Premis 2:  A het as persoon die volgende foute ....

Konklusie: Daarom is X onwaar of sleg.

 

(e)      Genetiese afkoms.  Vorm van kenteoretiese rassisme. (Bad seed)


Die argument wat 'n persoon huldig wat uit 'n twyfelagtige agtergrond kom, is noodwending nie geldig nie.  'n Idee word verwerp of veroor­deel bloot op grond van die bron van oorsprong daarvan (of aanvaar op grond daarvan).

 

Bv.   Jy kan jou nie aan sy argument steur nie - sy pa was 'n alkoho­lis.

 

Verwant hieraan is die valse redenering wat Bruneau (1986) noem:  Guilt or innocence by association en Michalos (1970): Bad connections.  'n Argument word aanvaar (of verwerp) bloot op grond van die feit dat 'n bepaalde groep persone dit huldig.

 

Bv.   1. Hy is 'n fenomenoloog.  Aangesien fenomenoloë eksistensia­liste is, kan niks wat hulle oor die opvoedingswerklikheid openbaar aanvaar word nie.

2. Aangesien fenomenoloë essensie-denkers is, is alles wat hulle sê aanvaarbaar.

3. Behaviouriste is naturaliste en daarom is al hulle bevin­dinge oor die leerproses verwerplik.

 

(f)      Foutiewe motiewe (Faulty motives)

 

'n Persoon wat 'n bepaalde argument handhaaf se motiewe word onder verden­king geplaas en daarom is die argument nie-geldig.  In plaas daarvan dat gegewens (inligting, getuienis) oorweeg word, word ver­meende motiewe oorweeg.

 

Bv.   1. Die opvoedkundige se bekering het gerieflikheidshalwe saamgeval met Wet 39 van 1967 (Christelike nasionale onder­wys).

2. Hierdie dosent redeneer dat groepbesoeke 'n noodsaaklike deel van afstandsonderrig is, maar ek sê dis net 'n goeie verskoning vir hom om op Unisa se koste vakansie te hou.


(g)      Vriendskap (Latyn: argumentum ad amicitiam) (Friendship)

 

'n Argument is geldig omdat 'n persoonlike vriend (kollega) die argument huldig.

 

Bv.   Ek is jou vriend.  En ek sê vir jou dat jy hierdie uitsprake van X summier as onwaar kan verwerp.

 

Michalos (1970:57) verduidelik soos volg:

 

No doubt most of us allow ourselves to be taken in by this apparent fallacy much more frequently than we would care to admit.  It is difficult to criticize a friend and, often enough, it is difficult to challenge his views without having the challenge interpreted as some kind of criticism.  So we more or less unwittingly spare ourselves the unpleasantness of disagreement by letting gross exaggerations, strange descriptions, and peculiar value judgements pass without comment.

 

(h)   Vrees (Latyn: argumentum ad metum) (Fear)

 

Vrees word as instrument aangewend om 'n persoon te dwing om die geldigheid van 'n argument te aanvaar.  Vrees kan saam met druk (a) gebruik word maar dis nie noodwendig so nie.

 

Vergelyk byvoorbeeld die  vrees om deur ander as 'dom' of moedswillig beskou te word indien daar nie met 'n besondere argument saamgestem word nie.  Die bevraagtekening van die outentiekheid van die bevindinge van 'n eksperiment word verswyg, vanweë die vrees om as Wiskundig-dom of statis­ties-ongeletterd beskou te word.

 

(i)      Wensdenkery (Wishful thinking)

 

Daar word op die geldigheid van 'n argument aanspraak gemaak bloot op grond daarvan dat dit so moet of behoort te wees.  Wat die geval behoort te wees,  is die geval.

 

Bv.   1. Alle beoefenaars van Pedagogiek behoort die fenomenologiese metode hoog te ag.  Alle opvoedkundiges is onderskrywers van die fenomenologiee metode.

2. Alle Unisa dosente behoort 'n grondige kennis te hê van tersiêre didaktiek, dus alle Unisa dosente het 'n grondige kennis van tersiêre didaktiek.

 

Vergelyk ook die teenoorgestelde hiervan nl. "is - behoort" redenering (p)

 

(j)   Tu quoque (Engels: You're another) (Afrikaans: vry vertaal: Jy ook)

 

Van Veuren (1991:92) se beskrywing van die "Tu quoque"-redenasie is soos volg:

 

Tu quoque beteken 'jy ook'.  Hierdie soort ad hominem-drogredenasie antwoord op verwyte deur toevlug te neem tot aantygings oor die persoon wat die verwyt gemaak het.  Dit insinueer dat iemand se uitsprake of oordeel oor 'n persoon of 'n saak onwaar is omdat hy aan dieselfde verwyt bloot staan.  Daar word nie relevante redes gegee waarom sy oordeel as onwaar beoordeel moet word nie.  Die vereen­voudigde gestalte van die tu quoque lyk só:

 

(Premis 1) A het die volgende verwytende uitsprake oor B gemaak...

(Premis 2) A kan van dieselfde dinge verwyt word.

(Konklusie) Dus is A se uitsprake oor B onwaar.


 

Die emosionele irritasie wat ons ervaar wanneer ons van iets verwyt word deur iemand wat aan dieselfde verwyt bloot staan, is begryplik maar is nie voldoende rede om te sê dat die verwyt onwaar is nie.

 

Die 'jy ook' -drogredenasie is verleidelik vir sy maker en die toe­hoorders omdat dit 'n mens die geleentheid bied tot morele veront­waardiging.

 

'n Spesiale vorm van die "tu quoque"-drogredenasie vind plaas wanneer iemand van standpunt verander en dié verandering geïgnoreer word.  Nuwe insigte is  ipso facto onaanvaarbaar vir diegene wat die tu quoque drogre­denasie toepas.  Daar word gewoonlik gesê:  'Wat jy nou sê rym nie met jou oorspronklike standpunt nie en daarom kan nie veel waarde daaraan geheg word nie.'

 

Voorbeeld 1:

 

Opvoedkundige (1969): Die fenomenologiese metode is die enigste metode.

Dieselfde Opvoedkundige (1977): Die fenomenologiese metode is nie die enigste metode nie maar die beste essensie openbarende metode.  Aangesien die opvoedkundige self erken het dat die fenomenologiese metode die enigste is, is om nou te beweer dat dit bloot die beste is (naas ander) onaanvaar­baar.

 

Voorbeeld 2:

 

A (1969): Wetenskapsbeoefening is as vorm van 'strenge

          Wissenschaft' vooronderstellingloos.

A (1977): Lewensopvatlike toelaatbaarheid van wetenskaplike

          (resp. navorsings-) handelinge is 'n noodsaaklike

          vooronderstelling.

 


Lewensopvatlike toelaatbaarheid van wetenskaplike handelinge is nie 'n noodsaaklike vooronderstelling nie.  A het dit self in 1969 toegegee.

 

Voorbeeld 3:

 

Die student maak hom ook skuldig aan tu quoque wanneer hy/sy slegs aandag gee aan die eerste publikasies van 'n skrywer en die latere publikasies doelbewus ignoreer omdat hy nie wil toegee dat die skrywer van opinie kan verander het nie.

 

(k)   Trots (Latyn: argumentum ad superbiam) (Pride)

 

Daar word 'n oproep gedoen op 'n persoon se trots om die geldigheid van 'n argument te aanvaar.

 

Bv.   1. A:  "Hoekom moet ek my vrou uitneem vir ete?"

B: "Wel, jy is trots op jou mooi vrou, is jy nie?"

2. Jy is trots op jou huis.  Dit moet geverf word.  ('n Mens kan maklik trots wees op 'n huis wat nie geverf hoef te word nie.)

3. Ons is trots op opvoedkundiges.  Opvoedkundiges moet teen siel­kundiges beskerm word.  (Dit is moontlik om trots te wees op opvoedkundiges wat nie teen sielkundiges beskerm wil wees nie.)

 

(l)   Goeie bedoelinge (Good intentions)

 

'n Persoon bedoel goed en daarom is die argument wat hy huldig geldig.

 

Bv.   1. My bedoelinge is goed.  Wat ek ookal sê is waar.


2. Ek wil hê dat die RSA moet bestaan uit een groot, gelukkige nasie.  Deur die skatte van die RSA gelykop te verdeel onder al sy mense kan ons die ekonomie aan die groei kry.

 

(m)      Rasionalisering (Rationalization)

 

Daar word aanspraak gemaak op die geldigheid van 'n argument deur 'n min of meer aanvaarbare rede in die plek vir die werklike rede te plaas.

 

Bv.   1. Navorsers rasionaliseer graag hulle mislukkings:  ek het te min vraelyste terug ontvang omdat my teikengroep laks was.  Die werklikheid is dat die vraelys swak ontwerp was.

2. Die rede waarom beoordelaars nie aanvaar wat ek 'fenomeno­logies gesien' het nie, is omdat hulle bevooroordeeld is teen fenomeno­logie.  Werklike rede:  My 'fenomenologies' gesien is hopeloos omdat ek nie werklik die fenomenologiese metode begryp nie.

 

(n)      Dwaalweë of wegleidings (Engels: red herring) Irrelevante verskuiwings in die argument (Simple diversion)

(Clamorous insistence on irrelevancies)

 

Die aandag word doelbewus weggelei van bepaalde nie-aanvaarbare bewerings wat die argument raak.  'n Reeks premisse wat geen verband het met die konklusie nie word aangewend ten einde die aandag weg te trek van die oorspronklike argument, waarskynlik omdat dit 'n swak argument is.

 

Bv.      Wanneer 'n student gekonfronteer word met bepaalde werkopdragte wat hy nie uitgevoer het nie, sal hy in detail uitbrei oor die gehalte van, en tyd bestee aan dié wat hy wel gedoen het.

 


(o)      Haarklowery (Hypercriticism)

 

Die aandag word weggelei van die hooftema deur die stel van beuselag­tighede (onbeduidende sake).

 

Bv.   1. Die gebou is goed beplan.  Dit is besonder funksioneel maar die waskamer is onaantreklik.

2. Die motor slaag alle toetse met vlieënde vaandels maar die paneelkassie is te klein.

 

(p)   Is-behoort redenering (Is-ought)

 

Die behoort-te-wees drogredenasie vind plaas wanneer gestel word dat dit wat is (d.w.s. 'n huidige toedrag van sake), behoort die geval te wees d.w.s. wat bestaan is moreel (sedelik) regverdigbaar.

 

 

 Bv.  1. 90% van alle advokate is mans.

         Vrouens behoort nie advokate te word nie.

2. Baie min onderwysers is ten gunste van vakbondstigting.

Baie min onderwysers behoort ten gunste van vakbondstigting te wees.

 

3.3.4      Verwarring (Fallacy of confusion)

 

Wanneer 'n argument op so 'n verwarrende en dubbelsinnige wyse aange­bied word dat 'n mens nie die betekenis daarvan kan raaksien nie.

 


(a)      Dubbelsinnigheid (fallacy of equivocation.  Latyn: equivocatio) en fallacy of amphiboly (Latyn: fallacia amphibolia)

 

Verwarring as gevolg van dubbelsinnigheid kom voor wanneer daar van 'n ander (dubbele) betekenis van 'n term of woord gebruik gemaak word op 'n verkeerde wyse of om te mislei (equivocatio) of wanneer 'n sin so dubbel­sinnig gekonstrueer word dat hy op verskillende wyses verstaan kan word (amphibolia). Dit is om taal misleidend te gebruik.

 

Bv.   1. Die term magdeling kan deur 'n politikus verklaar word na gelang van die gehoor wat hy wil beïnvloed om vir hom/sy party te stem.  Vir 'n hervormingsgesinde gehoor kan hy verduidelik dat hy magdeling voorstaan omdat hy glo dat die verskillende bevol­kingsgroepe saam moet regeer - die mag moet deel.  Vir die konserwatiewe gehoor kan hy laat ver­staan dat hy met magdeling die politieke mag wil (ver-) deel sodat elke bevolkingsgroep sy mate van soewereiniteit sal besit.

2. Michalos (p.71) se advertensie:  Te koop:  1973 Chevrolet Komman­do met outomatiese ratkas, kragstuur, elektriese vensters, ingeboude lugverkoeling en 'n radio in goeie kondisie.

 

 

(b)   Aksent (Latyn: fallacia accentus) (Accent)

 

Soms kan 'n uitspraak verskillende betekenisse hê wat afhang van die wyse waarop dit geaksentueer word.  Verwarring as gevolg van aksent vind plaas wanneer 'n foutief geaksentueerde, vals of misleidende uitspraak afgelei word uit 'n uitspraak (sin) wat waar sal wees indien dit nie geaksentueer is nie.

 


Bv.   Die gebruik om sekere woorde in aanhaling te aksentueer deur dit te onderstreep (of kursief te tik) terwyl dit in die oorspronk­like nie gedoen is nie, kan 'n verwronge beeld gee (kan konteks versteur).  Die praktyk moet met groot omsigtigheid aangewend word.

 

c)    Humor (Humour) Lost in the laugh

 

Humor word gebruik om 'n persoon te verwar deur 'n ernstige saak bespotlik (lagwekkend) voor te stel.  Sodoende word sy aandag weggelei van die geldigheid van die betrokke argument.  Dikwels word humoreuse kwinkslae gebruik in plaas van gesonde kritiek.  Dit word soms in die politieke debat aangewend.

 

Bv.   1. Die burgemeester het onderneem om die stad se strate te beveilig sodat vroue dit snags op straat sal kan waag.  Wil die burgemees­ter van die vroue prostitute maak?

2. Michalos (1970:73) gee die volgende voorbeeld:

Very often humorous cracks are substituted for sound criti­cism.  Instead of telling a student exactly what is wrong with his history examination, an instructor might write 'This is more hysterical than historical' in the margin.  Or, 'It's wonderful to see how well you've mastered your name.  Don't you think it's time you tackled something else'.

3. Fearnside & Holther (1959:123):

Continuous humor is sometimes an ally against thinking.

 

(d)   Woede (Anger)

 

'n Persoon word mislei deur hom kwaad te maak en dus sy aandag te verdeel en weg te trek van 'n bepaalde argument.  Baie mense word verward (deurmek­aar) wanneer hulle emosioneel versteur word deur woede.

 

Bv.      Politieke argumentering en debat deur voorstanders van opponeren­de wetenskapsbeskouings.

 


(e)      Onbegrypbaarheid (A besluit op nie-begryping) (Lack understanding)

 

'n Persoon gee voor asof hy die geldigheid van 'n bepaalde argument nie kan begryp nie.

 

 Bv.  1. In politieke onderhandeling.

2. 'This seems to be a favourite move of philosophers when they are considering doctrines they do not share' (Michalos, 1970:75).

 

(f)      Emosionele taal.  Appèl tot die emosionele (medelye, piëteit, vrees, groepsolidariteit) met die doel om 'n bewys dat die argument geldig is, te vermy (Emotional language)

 

Iemand probeer om die niveau van geldigheid van 'n bepaalde argument te verhoog, nie deur meer inligting te gee nie, maar deur die toe­voeging van bepaalde emosioneel-gelaaide woorde, waardeur o.a. die stel van skerp vrae in die gedrang kom.  Woorde word doelbewus gekies om sekere emosies te wek.

 

Bv.   1. ''n Mens behoort maandeliks by te dra tot die fonds wat vir blinde mense gestig is.'

'Hoekom?'

'Wel, ek dink dis enigeen se plig om by te dra tot die fonds wat vir hierdie ongelukkige mense gestig is, wat nie die sonsopkoms soggens in die ooste kan sien nie;  ook nie die gesig van volmaan met sy silwerlig of die kleureprag van 'n roostuin in blom of the brekende branders wat soos wit perde op die strand afstorm kan aanskou nie.'

2. Van Veuren (1991:94) merk in dié verband op:


Taal het 'n buitengewone emotiewe en evokatiewe krag wat soms in enkele woorde of frases gekonsentreer is.  'n Groot aantal woorde het negatiewe of positiewe gevoelsladings.  Die woord 'guerilla­-vegter' is min of meer neutraal terwyl 'vryheidsvegter' en 'terroris' onderskeidelik negatiewe en positiewe gevoelens oproep.  Hy illustreer die gebruik van emosionele taal met 'n aanhaling uit 'n radiopreek (sic!) van 'n sekere ds. Boshoff op die vooraand van die Algemene Verkiesing in 1952 wat oënskynlik bedoel is om Afrikaners te oortuig om vir die Nasionale Party te stem:

In hierdie tyd van beslissing wil ek die woorde van Nehemia met liefde herhaal: 'Veg vir julle broers, vir julle seuns en vir julle dogters en julle huise.'

 

Die vraag vir ons in Suid-Afrika is nie langer aan watter party se kant ons moet veg nie.  Daar is genoeg plek aan ons eie Party se kant.  Aan ons eie bloed se kant.  Aan ons eie volk se kant!

 

In naam van ons broers, ons seuns en ons dogters, ons vroue en ons huise, laat ons veg aan dieselfde kant van die muur.  Laat ons veg tot die volle dag van bevryding!

 

Laat ons soos Nehemia bou, veg en oorwin.  Ons het nie die getalle nie, maar ons het God aan ons kant.  Nie die propa­ganda nie, maar die waarheid.  Nie die platform nie maar die Altaar.  Nie die Goliats nie maar die Dawids.  Wat ons in Suid-Afrika nodig het is nie groter harnasse nie, maar doeltreffender slin­gers.

 

(g)      Pseudo-argumente (skynargumente) (Pseudo arguments)

 


'n Persoon praat bokant, onderkant en om die argument sonder om die geldig­heid van die argument te bevestig.  Dit wil sê hy kom tot 'n konklusie na baie algemene gepratery en verwag dat vanweë die baie woorde wat hy gebruik het, die konklusie aanvaar moet word.

 

Algemene gepratery moet vermy word omdat

 

(i)   dit vanweë 'n woordevloed nie lei tot egte begryping nie (Sax, 1968:4126): Redundancy violates the principle of economy in writing.

(ii)  dit die essensiële laat verdwyn onder 'n woordekleed (Sax, 1968:415):  Eliminate deadwood, those words and expressions that do not contribute to meaning.

(iii) egte denke vertroebel.

 

Lang onsamehangende sinne in 'n navorsingsverslag kan ook beskou word as 'n vorm van algemene gepratery.  Sax (1968:415) se waarskuwing geld:  Long, rambling sentences obscure the author's purpose and try the patience of busy readers.

 

(h)      Etimologie (Etymology) misbruik

 

Daar word aanspraak gemaak op die geldigheid van 'n argument omdat dit eens op 'n tyd geldig was.

 

Bv.   1. Soos Aristoteles tereg opgemerk het ...

2. Dit sal 'n fout wees om aan te neem dat 'n atoom ondeelbaar is, omdat die Griekse woord Atomos, ondeelbaar beteken.

3. Dit kan 'n fout wees om die begrip opvoeding te beperk tot die gebeure wat afgesluit word met volwassenheid, omdat opvoeding in die verlede gelykgestel is aan die pedagogiese.

4. Fearnside & Holther (1959:168):

Speakers have been known to insist on insisting that 'education' comes from 'educere', a Latin word meaning to draw out.  From this etymology they argue that education should be a matter of drawing out the student in the sense of coaxing rather than compelling.  Maybe it should, but aside from the fact that the word comes from 'educare' meaning 'to educate,' the derivation remains irrelevant to the argument.  This fallacy is a form of circularity, since the audience is asked to subscribe to the conclusion because of the very meaning of some terms used in the premises.  But simple circularity is hardly apt to deceive, whereas the assumption that words should stick close to etymolo­gical sense is a limit on the conventional meaning of words and an unwarranted restriction on the growth of language.

 

(i)      Beantwoording van vrae met vrae (Question-question)

 


Soms word 'n teenvraag gebruik as 'n strategie om die antwoord op 'n geldige vraag te ontwyk en die vraer te verwar.  Die verpligting/verant­woordelikheid van verontskuldiging word terug geplaas op die skouers van die vraer.

 

 Bv.  Die volgende dialoog kan hom afspeel waar 'n ouer verontwaardig is omdat daar nie na sy kind omgesien is deur 'n dagsorginstansie wat behoorlike toesig beloof het en waarvoor baie duur betaal word nie.

Ouer: "Hoekom is daar nie behoorlik toesig gehou oor my kind nie?"

Onderwyseres:  "Hoe kan ons na veertig kinders omsien as jy nie eers

een kan oppas nie?"

 

Hierdie slim dog onredelike vraag is daarop gemik om die antwoord te vermy en verwarring te saai in die gemoed van die ouer (wat moontlik reeds 'n mate van skuld ervaar omdat hy sy kind onder ander se toesig laat vir 'n groot deel van die dag).

 

(j)      Onbeduidende (beuselagtige) besware (Trivial objections)

 

Valse redenering met verwarring deur onbeduidende besware word gepleeg deur diegene wat te kenne gee dat enige beswaar teen 'n sienswyse of argument voldoende is om dit te verwerp.  Daar bestaan egter min stellings waarteen daar nie die een of ander beswaar ingebring sal kan word nie.  Sommige besware is egter meer onbedui­dend, het dus minder betekenis as ander.

 

Bv.      Einstein se relatiwiteitsteorie word verwerp omdat die leek dit nie kan begryp nie.

 

3.3.5      Foutiewe klassifikasies (Faulty classification - questionable

classification)

 

Om te fouteer wanneer sake bymekaar gevoeg of van mekaar verwyder word.

 


(a)   Goue middeweg (Golden mean)

 

Die geldigheid van 'n argument word bevestig op grond daarvan dat dit die middeweg is tussen twee uiterste stellings.  Dit is foutief om aan te neem dat 'n argument geldig is bloot omdat dit 'n middelweg is tussen twee ekstreme argumente.  Die geborgenheid van die middeweg word gesoek.  Weiering om enige werklike verskil tussen twee opponerende alternatiewe raak te sien.  Die goue middeweg by die maak van aanbevelings wat uit navorsing voortvloei, kan die  gevaarlike slaggat of middelmannetjie wees.

 

Bv.   1. Die beste plek om te wees wanneer die motor se brandstof opraak is nie in die middel tussen twee dorpe nie; die middel van die pad is nie die beste plek om te ry nie.

 

(b)   Vals dilemma (die swart-wit redenasie) (False dilemma)

Onvoldoende alternatiewe

 

'n Persoon misluk om 'n posisie tussen twee of meer bestaande alternatiewe (gewoonlik ewe onaanvaarbaar) raak te sien.  Daar word aangeneem dat daar slegs die gestelde alternatiewe vir die oplossing van 'n probleem is.  'n Ander moontlikheid word geïgnoreer.  Belangrik by die motivering van aanbevelings wat voortvloei uit navorsing.

 

Bv.   1. A het geld nodig en wil dit by B leen, maar dan weet B van sy geldnood.  Leen hy dit egter nie, sit hy sonder die geld wat hy nodig het.  Wanneer iemand moet kies tussen een of twee of meer onaangename alternatiewe, is hy in 'n dilemma.  Die vals dilemma is wanneer daar aangeneem word dat die gestelde alternatiewe die enigste is.

2. Wie nie teen ons is nie, is vir ons!


Daar is 'n derde moontlikheid:  neutraliteit.

 

(c)   Oor-vereenvoudiging (over simplification)

 

Wanneer daar nie in geslaag word om al die komplekse geskilpunte t.a.v. 'n probleem in aanmerking te neem nie en daar na 'n kitsoplossing of kitsver­klaring gesoek word sonder om die verskillende alternatiewe te oorweeg.  Kom voor by diegene wat alles verstaan en niks begryp nie!

 

Bv.   1. Die feit dat 'n rugbyspan pateties vertoon het, word toegeskryf aan 'n enkele speler (of afrigter).

2. Die sukses van 'n akademikus word toegeskryf aan sy volharding, asof sy skeppende vermoë en intellek toevallig was.

3. Fearnside & Holther (1959:171) maak die volgende betekenisvolle opmerking:

This error is difficult to avoid.  In the first place, time generally makes it impractical to elaborate all qualifications.  Moreover, in many discussions full exposition of detail would obscure the subject rather than clarify it.  For example, text­book writers habitually wrestle with the dilemma of whether to make statements which are, though not wholly accurate, yet clear and serviceable enough for students, or whether to incorporate all the qualifications necessary for accuracy - and drown the student in details.  The problem here is to achieve simplifica­tion without oversimplification.


In the second place, when the speaker does not possess a detailed knowledge, the very lack of familiarity with the complexity of the subject is apt to increase his confidence in what are his mere 'tabloid' thoughts about it.  A superficial knowledge may make a complicated situation appear quite simple, like a wide patch of brambles seen from the air.  And everybody has to be content with a superficial acquaintance with most subjects.  Finally, even where we are well aware of the existence of com­plexities, we may be tempted, in 'the human quest for certainty,' as John Dewey argues, to try to cut through them and to set up an oversimplified system with everything tidy and neat.

4. Waak teen die aantreklikheid van eenvoudige oplossings.  Let op uitdrukkings soos:  "In werklikheid is die oplossing eenvouding".

 

(d)   Vae terminologie (Vague terminology)

 

Die valse redenering van vae terminologie word gepleeg wanneer onduidelike, duister, onnoukeurige of vae terme (begrippe) gebruik word om 'n konklusie te staaf of te bevestig.  Dit gaan hier veral om begrippe wat nie 'n algemeen aanvaarde betekenis het nie en die betekenis uit die konteks afgelei moet word.

 

Michalos (1970:89) wys daarop dat talle begrippe in hierdie kategorie val.  So is 'n beskuldiging dat iemand 'liberaal' is, niksseggend, enersyds, en andersyds, moeilik om te ontken omdat die term 'liberaal' in verskillende kontekste (bv. politieke, godsdienstige en opvoedingsverband) gebruik kan word.  En selfs as die konteks duidelik is het die term nog nie 'n univer­seel aanvaarde betekenis nie.

 


Opmerking:

 

*      Begrippe in 'n verslag/verhandeling/proefskrif moet noukeurig (pre­sies) gedefinieer word (onder die opskrif: Begripsverklaring).  Wanneer daar begrippe gebruik  word wat kontroversieel is, kan die volgende uitspraak neergeskryf word:  Vir die doel van hierdie verhandeling word die volgende betekenisse aan die sentrale begrippe geheg.

*     Die betekenis van die bevindinge (resultate, uitkoms) van die navor­sing mag nie vanweë vae terminologie in die verborgenheid ingedwing word nie.

*     Die navorsingsverslag is 'n formele dokument en daarom is vae en geselstaal terminologie nie toelaatbaar nie (Sax, 1968::415).

 

(e)      Ongeldige kontras (Illicit contrast)

 

Michalos, 1970:90 verduidelik treffend soos volg:

 

      The fallacy of illicit contrast is committed when it is argued that if an object has (lacks) a certain property, any contrary or contrasting object must lack (have) that property.  For example, it might be argued that because only a courageous person would risk his life to save a friend, only a coward would not risk his life to save a friend.  Again, someone might argue that if women are patient, men must be impatient.  If young people are vigorous, old people must be lethar­gic, etc.  If we permitted this sort of argumentation, we should have to say that people who are awake can do no good because people who are asleep can surely do no evil.  That, of course, is ridiculous.

 

(f)            Verdeling (Division)

 

Verdeling is gebaseer op die misvatting dat die eienskappe van die geheel noodwendig dieselfde is as die eienskappe van elke afsonderlike deel.

 

Bv.   1. A is 'n Amerikaanse burger en Amerika is 'n demokrasie.  Daarom huldig A sterk demokratiese standpunte.

2. Die TOD het besluit om Unisa-student A aan te stel omdat hy die een sal wees wat die beste opleiding gehad het.

3. Waak teen die begrip "tipiese geval".  Om iemand as "tipies" te beskryf, is om sy menswaardigheid aan te tas.

 

(g)      Komposisie (teenoorgestelde van verdeling) (Composition)

Dit is wanneer die kenmerke van 'n deel van 'n geheel aanvaar word as die kenmerke van die geheel.

 

Bv.   1. Wanneer bevindings veralgemeen word en die steekproef was nie verteenwoordigend nie.

2. Elkeen van die akteurs is baie goed.  Daarom is die teenwoordigheid van enigeen van hulle in 'n rolprent, 'n waarborg dat die rolprent uitstekend sal wees.

Gemiddeldes:

 

Die vergissing dat gemiddeldes 'n individu beskryf:

 

Kennis van 'n gemiddelde gee nie presiese inligting oor enige individu in 'n groep nie.  Gemiddeldes verberg individualiteit.  Kennis van 'n gemid­delde verbeter 'n mens se kanse om te raai hoe 'n individu moontlik in 'n bepaalde groep sal wees.

 

3.3.6 Valse induktiewe redenering (Inductive fallacies)

Die gevolgtrekking van 'n induktiewe argument is veronderstel om minder of meer aanvaarbaar te wees na aanleiding van die voorafgaande premisse.  Wanneer so 'n argument nie doen wat dit behoort te doen nie  word  induk­tiewe valse redenering gepleeg.  Wanneer daar van die besondere na die algemene geredeneer word, bestaan daar 4 moontlikhede vir foutering:

 

(a)      Haastige veralgemenings (Hasty generalization: jumping to conclusions). Hasty inductive generalization.

 

Daar word aanspraak gemaak op die algemene geldigheid van 'n argument op grond van onvoldoende voorbeelde, gevalle, premisse, gegewens.  Nadat 'n klein aantal lede van 'n groep waargeneem is wat 'n spesifieke eienskap vertoon, word afgelei dat die hele groep daardie eienskap besit.  Veralgemening aan die hand van 'n steekproef wat te klein is of selfs van 'n enkele gebeure.

 

*     Op grond van sy kennis van een of twee boere lei hy af dat alle boere baie materialisties is en die hoogste waarde aan besittings en gerief heg.

*      Voorbeeld van Fearnside en Holther (1959:16):

EXAMPLE.  Professor Peter is talking to a colleague.  'Engineering students generally study hard.  I have three engineers taking my sophomore course, and they're all hard workers.'

COMMENT.  The professor should be allowed some leeway in expressing ideas in a casual conversation.  At least, he is trying to cite confirmatory evidence for his opinions.  The danger is that, having advanced an idea, he will look for cases from now on that confirm it, rather than examining a representative group of instances.  Moreover, the number here is so far too small to permit any but the most hastly generalization'.

*     Daar word op die geldigheid van argumente aanspraak gemaak deur na die resultate van onverteenwoordigende/klein steekproewe te verwys.

 

 Bv.      Argumente wat voortvloei uit bevindinge wat gegrond is op foutiewe of swak steekproeftrekkings, kan kwalifiseer as valse redenering.  Indien die waarnemings (wat as premisse kan dien) wat ten aansien van lede van 'n steekproef gemaak word aangewend word om afleidings oor 'n populasie te maak, is dit nodig dat die steekproef 'n akkurate weer­gawe van die eienskappe van die populasie sal gee.  Die mees algemene prosedure waardeur 'n verteenwoordigende steekproef verkry kan word, is ewekansige seleksie (Neale & Liebert, 1986).  Die proses waardeur steekproefbevindings na die populasie uitgebrei word, word veralge­mening genoem.

 

Bv.   Premis 1:  afgelei uit 'n steekproefbevinding

Premis 2:  afgelei uit 'n steekproefbevinding

Konklusie: Veralgemening na die populasie.

Met 'n ongeldige steekproeftrekking kan slegs ongeldige premisse geformuleer word en dan is die konklusie ook ongeldig.

 

(b)      Ongeluk (Latyn: fallacia accidentis) (Accident)

 

'n Algemeen geldige beginsel word foutiewelik aanvaar om waar te wees sonder enige uitsondering.  'n Veralgemening of algemene beginsel word foutiewelik toegepas op 'n individuele geval.

 

Bv.   1. Elke mens behoort vryheid van spraak te hê.  Daarom moet A nie vervolg word omdat hy foutiewelik 'brand, brand' in 'n vol teater geskreeu het nie.

2. 'n Handves vir menseregte waarborg vryheid vir almal.  Niemand het die reg om iemand wat wil dagga rook, te verhinder nie.

3. Om iemand op sy baadjie te takseer (verabsolutering van een eienskap).

(c)      Foutiewe analogieë (ooreenkomste) (Faulty analogy)

 

Twee sake (dinge) is analoog in soverre hulle ooreenkomste het.  Bv. die hart is analoog aan 'n pomp.  In 'n argumentering aan die hand van analo­gieë word daar geredeneer dat aangesien twee sake analoog (of dieselfde is) in sekere opsigte, dit heelwaarskynlik is dat hulle ten aansien van ander opsigte dieselfde sal wees.

 

Voorbeelde:

 

*     A het 'n brein, praat, skryf, lees en dink.

*     B het 'n brein, praat, skryf en lees.

Dit is heelwaarskynlik dat B ook dink.

*      Foutiewe argumentering aan die hand van analogieë kan op twee wyses geskied, naamlik

(i) Wanneer die konklusie as seker beskou word en nie slegs as minder of meer aanvaarbaar bereken word nie, en


(ii) wanneer twee sake wat 'n aantal ooreenkomste vertoon, meer

verskille het.  Wanneer nie raakgesien word nie dat die verskille tussen twee sake (gebeure) sterker spreek as die ooreenkomste.  Met ander woorde relevante verskille word geïgnoreer.

Bv.   Daar bestaan ooreenkomste tussen atlete en resiesperde (o.a. krag, oefening).  Daar is egter groter verskille (o.a. dat atlete hoop en verwagtinge het).  'n Foutiewe analogie sal wees wanneer daar op grond van die ooreenkomste gekonkludeer word dat die gemeenskap net soveel  verantwoordelikheid teenoor resiesperde behoort te hê as teenoor atlete.

 

'n Goeie voorbeeld van foutiewe analogie is:  Aangesien kinders met afwy­kings ooreenkomste met 'normale' kinders het, moet hulle nie in afsonder­like inrigtings nie, maar in die 'hoofstroom' opgevoed word.  (Verskil van:  moet wanneer dit moontlik word, in die hoofstroom opgeneem word).

 

(d)   Valse oorsaak (False cause)

 

Wanneer die bestaan van 'n kousale verband aanvaar word wanneer dit nie die geval is nie.

 

(i)   Non-causa pro causa:

Aanduiding van 'n oorsaak wat nie 'n oorsaak is nie byvoorbeeld bygeloof (Vrydag 13de, swart kat, ens).

(ii)  Post hoc ergo propter hoc:

'n Foutiewe aanvaarding daarvan dat omdat gebeure A voor gebeure B plaasgevind het, A noodwendig B veroorsaak het.


Byvoorbeeld A moes die moord gepleeg het omdat iemand hom die huis sien binnegaan het en onmiddellik daarna is 'n geweerskoot en 'n skreeu gehoor.  (Miskien is A die moordenaar maar die feit dat hy in die huis ingegaan het, is nie 'n bewys daarvan nie.)

 

Opmerking:  Waak teen die simplistiese oorsaak-gevolg denkskema wat blyk uit die gebruik van uitdrukkings soos:  as gevolg van,

                                    gevolglik,

                                    derhalwe, dus, ens.

(iii)      Korrelasie versus oorsaak:  Wanneer A en B op een of ander wyse

verband met mekaar het, word daar valslik geredeneer dat hulle kousaal verbind is.  Byvoorbeeld terugkeer van die ooievaar en toename in geboortes.

 

 4.      VOORDELE VAN INFORMELE LOGIKA

 

Die wetenskaplik-georiënteerde navorser kan die beginsels van die informele logika as wetenskaplik-verantwoorde tegniek aanwend.  Dit skep die be­sondere moontlikheid dat argumente op 'n formele, sistematiese en intensiewe wyse geanaliseer kan word ten einde die struktuur van argumente te bepaal en om valse redenering te identifiseer.  Die aanwending en toepassing van die beginsels van die informele logika stel die navorser daartoe in staat om op verantwoorde wyse uitspraak te kan lewer oor die geldigheid en waarheid van argumente.

 

Die aanwending van die beginsels van die informele logika hou onder meer die volgende voordele in:

 

(i)            die navorser kan bedag wees daarop om  onnadenkende taalgebruik enersyds uit te skakel en andersyds te identifiseer;

(ii)        die onderlinge verband (sinsamehange) tussen die onderskeie premisse van die argumente kan ondubbelsinnig uitgelig word.  Deur die besondere verbande tussen die premisse van argumente uit te lig, word voorkom dat bepaalde premisse geïsoleer word.  Dit verhoed dat 'n enkele premis in 'n argument verabsoluteer kan word;

(iii) Die navorser kan  deur die toepassing van die beginsels van die        informele logika in beheer bly van die beredenering en hy kan die      argumente meer doelmatig en planmatig rig sonder om in bepaalde         misleidende dwaalweë verstrengel te raak, dit wil sê om in             onwetenskaplikheid te verval - die toets van premisse (redes) vir      hulle krag en relevansie (hulle gewig), is die hart van informele      logika (Bruneau 1986:157-169).

 

Daar moet egter ook gelet word op die volgende uitspraak van McPeck (1981:93,94):

 

I have always found it curious that informal logic books discuss 'the fallacies' with a touch of paranoia, as though mistakes in reasoning were always perpetrated by unscrupulous souls who are out to deceive.  Whatever happened to honest mistakes made by normal people trying to do their best?

 

5.      MOTIVERING VAN BEMOEIENIS MET ARGUMENTE EN VALSE REDENERING VANUIT DIE UNISA-DOELSTELLINGS

                            

'n Skoling in die identifisering van valse redenering is 'n verwerkliking van die volgende verbesonderinge van Unisa-doelstellings:

 

5.1            Die kweek van 'n kritiese ingesteldheid

Om te verval in 'n valse redenering is 'n besondere onkritiese handeling.  Dit is so omdat daardeur betekenisse verberg word en dubbelsinnighede gedy.  'n Bewuswees van wyses van valse redenering verskerp die kritiese bewus­syn.

 

5.2   Die vermoë om idees oor te dra

 

Idees wat vry van valse redenering oorgedra kan word, sal weens die groter skerpheid daarvan duideliker verskyn met die oog op verdere hantering daarvan.

 

5.3      Skoling van studente in navorsingsmetodologie

 

Skoling in die identifisering en uitskakeling van wyses van valse redene­ring moet deel vorm van die skoling in navorsingsmetodologie.  Die gunstige uitwerking van die toepassing van relevante navorsingsmetodes kan ongedaan gemaak word indien die betoog ten aansien van die uitkomstes verduister word deur valse redenering.

 

5.4      Handhawing van standaarde

 

Onderrig in identifisering van valse redenering en uitskakeling van valse redenering is een van die doeltreffende meganismes vir die handhawing van standaarde veral ten aansien van die standaard van verslagskrywing.

 

5.5   Toerus van studente met vaardighede

 

Identifisering en uitskakeling van valse redenering is 'n besondere vaardigheid wat studente in staat stel tot konstruktiewe evaluering met die daarmee gepaardgaande verslagskrywing.

 

 6.      VERWYSINGS

 

Beardsley, M.C.  1975.  Thinking straight.  New Jersey:  Prentice-Hall.

 

Blair, J.A. & Johnson, R.H.  1980.  Informal Logic.  The first

   international symposium.  California:  Edgepress Inverness.

   Kyk ook: Blair, J.A. & Johnson, R.H.  1987.  The current state of

   informal logic.  Informal Logic, vol. ix (2&3).

 

Blumberg, A.E.  1976.  Logic.  New York:  A A Knopf.

 

Bowles, G.  1989.  Favorable relevance and arguments.  Informal Logic, vol

   xi (1).

 

Bruneau, W.  1986.  The pleasures and perils of inference.  History and

   Social Science, vol. 21, no. 3.

 

Carney, J.O. & Scheer, R.K.  1974.  Fundamentals of logic.  New York:

   MacMillan.

 

Fearnside, W.W.  1980.  About thinking.  New Jersey:  Prentice-Hall.

 

Fearnside, W.W. & Holther, W.B.  1959.  Fallacy.  The counterfeit of

   arguments.  Englewood Cliffs:  Prentice-Hall.

 

Fogelin, R.J.  1978.  Understanding arguments:  an introduction to Informal

   Logic.  New York:  H B Javanovich.

 

Giere, R.N.  1977.  Understanding scientific reasoning.  New York:  Holt,

   Rinehart & Winston.


Hamblin, C.L.  1970.  Fallacies.  London:  Methuen.

 

Jacobs, C.D.  1986.  Die betoog in die navorsingsverslag.  Ongepubliseerde

   manuskrip.  Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria.

 

 

Johnson, R.H. & Blair, J.A.  1981.  Logical self defence.  Toronto:

   McGraw-Hill.

 

Kaminsky, A. & Kaminsky, J.  1974.  Logic:  A philosophical introduction.

   Massachusetts:  Addison-Wesley.

 

Kilgore, W.J.  1979.  An introductory logic.  New York:  Holt, Rinehart &

   Winston.

 

Landman, W.A., Van Zyl, M.E.J. & Roos, S.G.  1975.  Fundamenteel-pedago­-        giese essensies:  hulle verskyning, verwerkliking en inhoudgewing.

   Durban:  Butterworth.

 

Landman, W.A. (Red.).  1980. Inleiding tot die opvoedkundige navorsings­-        praktyk.  Durban:  Butterworth.

 

McPeck, J.E.  1981.  Critical thinking and education.  Oxford:  Robertson.

 

Michalos, A.C.  1970.  Improving your reasoning.  New Jersey:

   Prentice-Hall.

 

Neale, J.M. & Liebert, R.M.  1986.  Science Behaviour:  An introduction to

   methods of research (3rd edition).  Englewood Cliffs:  Prentice-Hall.

 


Sax, G.  1968.  Foundations of Educational Research.  New jersey:

   Prentice-Hall.

 

Secor, M.  1987.  Recent research in argumentation theory.  The Technical

   Writing Teacher, vol. xiv, no. 3.

 

Scriven, M.  1976.  Reasoning.  New York:  McGraw-Hill.

 

Thomas, S.N.  1981.  Practical reasoning in natural language.  New jersey:

   Prentice-Hall.

 

 Tomko, T.N.  1980.  Informal Logic.  a Review.  Educational Theory.  Vol.

   29, no. 4.

 

Van Veuren, P.  1991.  Argumente, kriteria, kritiek.  RGN-reeks in

   metodologie.  Pretoria 0041.

 

Verma, G.K. & Beard, R.MN.  1981.  What is educational research?

   Perspectives on techniques of research.  New York:  Harper & Row.

 

Walton, D.N.  1989.  Informal Logic.  A handbook for critical

   argumentation.  Cambridge:  Cambridge University Press.

 

Weston, R.  1982.  A pattern for argument analysis in Informal Logic.

   Teaching Philosophy, Vol. 5, April, No. 2.

 

Woods, J. & Walton, D.  1982.  Argument:  The Logic of the Fallacies.

   Toronto:  McGraw-Hill.

 

 

oo000oo