Derde W A Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion:
30 Mei 2002
E.H.Davies
Besturende Direkteur, TO-Groep
DIE EERSTE WITSKRIF OOR ONDERWYS VAN 1994
IN 2002 ONTLEED - WENSDENKERY OF WERKLIKHEID?
Terug na Gedenklesings
INLEIDING
- Die bydraes van professor Willem Landman tot die filosofiese fundering van
die onderwysdenke in Suid-Afrika in die jare sestig tot vroeë negentig is
legendaries, en daar is min onderwyspraktisyns wat in daardie jare in Suid-Afrika opgelei is wie nie op 'n besondere wyse met die werke van professor
Willem Landman kennis gemaak het nie. Van hierdie persone was ook
bevoorreg om hom as akademicus en as mens te leer ken - hulle kon hom in
die lesingsaal van aangesig tot aangesig ontmoet, en eerstehands met hom
omgaan.
- As fundamentele denker, het professor Landman oor 'n tydperk van dekades
heen 'n voortgesette en uitmuntende bydrae tot 'n baie belangrike tydvak in
ons onderwysgeskiedenis gelewer.
- Een van die betreurenswaardige ontwikkelinge in die hoër onderwys oor die
afgelope jare is dat fundamentele denke oor die onderwys al hoe minder
voorkom. Daar is beklemtoning van sake soos onderwysbestuur en
kurrikulumontwikkeling, terwyl die onderwysreg en verwante sake ook groter
prominensie begin geniet, maar daar is baie min filosowe oor wat hulle
spesifiek op die terrein van die onderwys begewe. Die gevolg hiervan is dat
daar 'n neiging is om die onderwysstelsel as 'n gegewe te beskou, en om van
hierdie vertrekpunt verdere spesifieke fokusse te ontleed. Fundamentele
besinning oor die stelsel, sy aard en wese, ontbreek grotendeels.
- Terwyl 'n mens in 'n sekere sin verstaan dat hierdie verskynsel gekoppel is
aan die groeiende pragmatisme van die subsidieformule vir hoër onderwysin-stellings en die daarmeegepaardgaande beklemtoning van toegepaste
eerder as fundamentele navorsing veral in die menswetenskappe, is dit ook
so dat die huidige gebrek aan fundamentele denkers oor, en kritici van, die
stelselsbasis vir die onderwys, waarskynlik in die toekoms in vir ons baie
duur gaan kos.
- Daar bly min persone in die stelsel oor wat 'n fundamentele basis gegenereer
het of probeer genereer, en dit wil voorkom asof die onderwys as terrein vir
ons jonger wysgere nie noodwendig aanlok nie. Daar word vertrou dat die
Willem Landman-gedenklesings oor 'n tydperk van jare 'n invloed sal uitoefen
en al hoe meer persone sal laat belangstel in 'n belangrike akademiese
terrein wat tans 'n besliste gebrek aan getalle toon.
- Dit is 'n eer om uitgenooi te gewees het om vanaand se voordrag te lewer, en
om op hierdie beskeie wyse erkenning en hulde aan professor Willem
Landman te bring. Baie dankie vir die uitnodiging, en baie dankie vir die
geleentheid.
DIE EERSTE WITSKRIF OOR ONDERWYS VAN 1994 IN 2002 ONTLEED -
WENSDENKERY OF WERKLIKHEID?
Dit is agt jaar sedert die onderwysowerheid se eerste Witskrif oor Onderwys
en Opleiding in 1994 in konsepvorm verskyn het, en meer as sewe jaar
sedert die publikasie van die finale weergawe daarvan in Maart 1995.
Hierdie Witskrif het in baie moeilike tye tot stand gekom, want die Regering
van die dag het al Suid-Afrika se destydse positiewe en negatiewe elemente
oorgeneem. Die onderwysproblematiek was een van die knaendste dele
daarvan. Sekere sake sou na die identifisering van die spesifieke probleem
aangespreek kon word - hier dink 'n mens aan die herstrukturering van
onderwysdepartemente, of die verandering van die finansieringsbasis, of die
aanpassing van dit wat formulematig hanteer kan word. Maar die
dieperliggende oorsaak van die simptome wat destyds te bespeure was, het
sy oorsprong gehad in die noodsaak om, in Henry Stone se terminologie,
beide die gemeenskaplike en die diverse in die onderwysstelsel aan te
spreek. Kon die nuwe regering op 'n manier hierdie twee pole hanteer? Hoe
sou daar vir minderheidsbelange voorsiening gemaak word, binne die
konteks van 'n meerderheidstelsel?
Die onderwerp van hierdie voordrag is Die eerste Witskrif oor Onderwys
van 1994 in 2002 ontleed - wensdenkery of werklikheid? Die onderwerp
is gebore uit die siening dat die Witskrif 'n beduidende aantal besondere
mooi ideale gestel het. Het hulle gerealiseer, en het ons enigsins op die pad
na die akkommodering van die gemeenskaplike enersyds en die diverse
andersyds beweeg? Daar word hier ook nie verwys na die voortsetting van
die momentum wat enige stelsel in elk geval het by bewindverandering nie :
dit verwys na sinvolle inisiatiewe om 'n beduidende problematiek aan te
spreek.
Hierdie voordrag sal drie hooftemas aanspreek. Aller eers sal iets oor die
anatomie van die Witskrif gesê word. Daarna sal gesuggereer word dat
sekere sake wat in die Witskrif aangespreek is en wat prioriteite moes
gewees het, nie aangespreek is nie, en dat die stelsel derhalwe nie
beduidende vordering toon nie. Laastens sal gepoog word om 'n siening te
formuleer oor die mate waartoe die visie wat in die Witskrif vervat is, besig is
om te realiseer.
DIE ANATOMIE VAN DIE WITSKRIF
Die eerste Witskrif soos in Afrikaans vertaal, bestaan uit 83 bladsye, en het
dertien hoofstukke. Miskien kan 'n mens net die kantaantekening maak dat
die Afrikaanse terminologie wat gebruik word, later aansienlik aangepas het
namate die Afrikaanse gemeenskap en veral die vertalers meer vertroud
geraak het met die onderliggende begripswêreld van die nuwe owerhede.
Die dertien hoofstukke, indien die inleiding en die slot uitgeskakel word,
handel met die volgende breë onderwerpe:
- Die heropbou en ontwikkeling van die onderwys- en opleidingsprogram
- Die grondwetlike en organisatoriese grondslag van die stelsel
- Die befondsing van die onderwysstelsel
- Heropbou en ontwikkeling in die skoolstelsel
In hierdie vier afdelings word 'n stuk of sestien hoofdoelwitte gestel, terwyl
daar 'n verskeidenheid van ideologiese standpunte ook behandel word.
Hieroor sal iets later in hierdie voordrag gesê word.
Die proses van die Witskrif
Die raadplegingsproses wat deur die onderwysowerheid ten opsigte van
hierdie Witskrif gevolg is, was waarskynlik uniek. Departementele amptenare
het met die Konsepwitskrif landwyd gery, en daar is in talle sentrums
openbare vergaderings gehou. Ten tye van hierdie vergaderings is gepoog
om nie net die beplanning van die owerhede aan die gehore te verduidelik
nie, maar ook om te luister na die behoeftes en versugtinge van die persone
met wie daar gesprek gevoer is. Daar is na aanleiding van hierdie
interaksies beduidende wysigings aangebring om te probeer verseker dat
soveel as moontlik van die uiteenlopende standpunte geakkommodeer is.
Hierdie proses het in 'n sekere sin 'n mate van dapperheid vereis - die
owerheid was pas verkies, gemoedere het in sommige gemeenskappe baie
hoog geloop, die dramatiese geletterdheids- en gesofistikeerdheidsdiversiteit
in die land moes hanteer word, en die persone wat die sake moes hanteer,
het met enkele uitsonderings na, baie min kennis gehad van hoe
onderwysamptenare moet optree. Aan die ander kant het hierdie proses
onteenseglike politieke segswaarde gehad, waaruit die pasverkose regering
baie beslis munt kon slaan deur sigbaar te wees en 'n profiel te begin bou.
Dit is 'n interessante werklikheid dat die onderwysowerhede sedertdien nog
nooit weer hierdie proses gevolg het nie. 'n Mens sou die stelling kon waag
dat al die prosesse wat by beleidsbepaling op die nasionale vlak in die
onderwys sedertdien gevolg word, nie aan dieselfde hoë standaarde van
meningspeiling voldoen nie : hierna was die prosedure dit wat tans steeds in
plek is - die publikasie van dokumente in die Staatskoerant vir kommentaar,
wat 'n groot deel van die publiek uitsny wat ongeletterd is; en daarna
prosesse binne die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Onderwys, wat weer
eens individue uitsluit en diegene wat nie oor die middele beskik om
Kaapstad toe te gaan om sy of haar saak te stel nie.
Die Witskrif is 'n besonder komprehensiewe dokument. Daar is geen
element van die onderwysstelsel vir die toekoms wat nie deur die dokument
behandel word nie. Die hantering van Vroeëkindonderrig, die Algemene
Onderwys- en Opleidingsfase, die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase en
die Hoër Onderwysfase kom terminologies en gedeeltelik konseptueel vir die
eerste keer in hierdie dokument voor. Die verwysings na die Nasionale
Kwalifikasieraamwerk klink in embryo baie soos dit wat vandag nog gehoor
word, asook die verwysings na nuwe kwalifikasie- en sertifiserings-owerhede.
Daar is komprehensiewe beredenering van sake soos skoolplig, die
finansiering van onderwys, taal- en toelatingsbeleid, arbeidsverhoudinge, die
vestiging van verdraagsaamheid in skole, en talle meer. Alhoewel dit wyd
bekend is dat die basis vir die Witskrif deur 'n verskeidenheid van entiteite -
soos die Centre for Education Policy Development, verskeie beleidseenhede
gekoppel aan bepaalde Suid-Afrikaanse universiteite, asook die
Statebondsekretariaat onder andere - ontwikkel is, bly die eerste Witskrif
steeds 'n merkwaardige eerste dokument, veral indien erkenning verleen
word daaraan dat dit minder as 'n jaar na die Algemene Verkiesing van 1994
verskyn het, en dat die eerste Konsep landwyd op voetsoolvlak bespreek en
behandel is.
Dit is uiteraard nie moontlik om ten tye van hierdie geleentheid die Witskrif en
sy nagevolge komprehensief te hanteer nie. Indien 'n mens onthou dat die
dokument binne die grondwetlike raamwerk van die land se eerste
interimgrondwet gegenereer is, dan is dit seker te verwagte dat bepaalde
aspekte van die dokument minder uitvoerbaar sou wees nadat die nuwe
grondwetlike bedeling, wat huidig geld, tot stand gekom het.
Die Witskrif behandel 'n breë verskeidenheid sake, wat vanaf die strukturele
tot die prinsipiële wissel. Daar moet aan die owerheid erkenning daarvoor
verleen word dat baie van die beplanning wat in die Witskrif in vooruitsig
gestel word, reeds gerealiseer het of tans besig is om te realiseer. Aan die
strukturele kant, is die daarstelling van die vier onderafdelings van die
formele onderwys so te sê in plek. Elemente van die finansiële beplanning
het reeds 'n werklikheid begin word. Die samevoeging van 'n verskeidenheid
onderwysdepar-temente het beduidende beslag gekry - daar is nie meer
vyftien nie (of negentien soos sommige mense dit wil hê), maar tien. Vir nou
word die eie missie van talle individuele onderwysamptenare daar gelaat, wat
moontlik suggereer dat daar meer versplintering tans is as ooit.
Rasionalisering wat in vooruitsig gestel is, het plaasgevind.
Kurrikuluminisiatiewe word van stapel gestuur. Elke jaar word al hoe meer
geld in die onderwys ingepomp. Die onderwys geniet 'n hoë profiel in die
media. Daar word gedurig deur politici en hooggeplaasde amptenary oor die
sisteem gepraat.
En tog, ten spyte van suksesse, kom die onderwysstelsel in hierdie land na
agt jaar steeds nie op koers nie. Waarom is dit so?
Ek gaan van die vertrekpunt uit dat sekere uiters belangrike sake wat aandag
moes kry, dit nie gekry het nie, en dat ander belangrike sake wat aanvanklik
goed afgeskop het, tans besig is om te taan, met negatiewe gevolge. In
hierdie verband, verwys ek graag na enkele sake wat die Witskrif in
vooruitsig gestel het, wat nie gerealiseer het nie, en wat koersaanduidend
sou kon gewees het. Ek sal daarop sinspeel dat enkele belangrike prioriteite
verwaarloos is, en dat in afwesigheid van hierdie prioriteite talle ander dinge
wat sinvol sou kon gebeur het, tans besig is om roerloos op die water te
dobber. Ek sal ook enkele opmerkings oor die beperking van staatsmag oor
die onderwys maak.
Die vier sake wat of glad nie aandag gekry het nie, of wat te laat aandag
gekry het, is die volgende:
- 'n Handves vir Onderwys en Opleiding
- Nasionale Instituut vir Kurrikulum-ontwikkeling (NIKO)
- Nasionale Raad vir Onderwysers-opleiding (NROO)
- Nasionale Oop Onderwysagentskap (NOOA)
ENKELE SAKE WAT DEUR DIE WITSKRIF BEHANDEL IS EN AS PRIORITEITE
BESKOU MOES WORD
'n Handves vir Onderwys en Opleiding
Die dokument beredeneer telkens die ideologiese posisie waarvandaan die
nuwe politieke owerhede vertrek, en hierdie posisie het oor die jare in alle
waarskynlikheid aan ons almal oorbekend geraak. Dit word derhalwe nie hier
herhaal nie. Een van die probleme met die Witskrif is dat alle
onderwysaange-leenthede deur 'n politieke bril betrag word, en hierdie
probleem is steeds met ons - die meeste van die onderwys se aktuele
vraagstukke word steeds deur die owerheid bloot uit die politieke oogpunt
aangespreek. Binne daardie konteks erken die dokument egter die diversiteit
wat in die land bestaan, asook die problematiek om verskeie tradisies,
vertrekpunte en verwagtinge te versoen. Daar word dan onder andere in
vooruitsig gestel dat 'n Handves vir Onderwys en Opleiding opgestel moet
word.
Die Ministerie van Onderwys sal binnekort 'n verteenwoordigende
groep Suid-Afrikaners uitnooi om 'n Konsephandves vir Onderwys en
Opleiding op te stel. Hierdie konsep sal die grondslag vorm vir landwye
oorlegpleging waaruit 'n hersiene teks ontwikkel en ooreenkoms
onderhandel sal word. Die Handves vir Onderwys en Opleiding word in
die vooruitsig gestel as 'n plegtige verdrag op sy eie manier so
belangrik vir vrede en vordering in ons land as die Grondwetlike
Beginsels waarop die nuwe Grondwet gebasseer sal wees.(1)
Hierdie stelling erken 'n werklikheid wat hom al by verskeie kere reeds
uitgespeel het in die praktyk - en dit is dat as daar nie 'n stel grondreëls is
waarvolgens bepaalde sake in die onderwys in 'n multitalige, multikulturele
land bedryf moet word nie, kan vrede en vordering in die gedrang kom. Die
name van bepaalde skole wat in die middel tot laat negentigerjare inderdaad
die fokus van geweld en ontstuimigheid was, is aan ons almal bekend. Die
realiteit egter is dat daar steeds punte in die land bestaan waar die
moontlikheid tot konflik miskien verminder het, maar waar dit beslis nie
verdwyn het nie.
Die Witskrif het by Hoofstuk 7 onder andere 'n uiteensetting gegee van die
onderwysowerhede se destydse siening van sekere uiters belangrike
grondwetlike beginsels, beginsels wat in die finale grondwet ook tot hulle reg
gekom het. Dit is seker nie onbillik om te verwag dat hierdie beginsels
breedvoerig in 'n Handves vir die Onderwys beredeneer moet word nie, veral
met in agneming daarvan dat hulle aan die wortel van die problematiek van
ons onderwys lê.
Die volgende sake verdien seker tog verdere aandag op 'n prinsipiële basis.
- Die reg op basiese onderwys
Daar word in Hoofstuk 7 van die Witskrif soos volg met hierdie begrip
omgegaan:
Die reg op basiese onderwys ... is op alle persone van toepassing, dit
wil sê, op alle kinders, jeugdiges en volwassenes. Basiese onderwys is
dus iets waarop elke persoon wetlik aanspraak kan maak. Vir kinders
sou die reg bevredig word deur die beskikbaarheid van skoolfasiliteite
wat voldoende is om elke kind in staat te stel om 'n basiese
onderwysprogram van aanvaarbare gehalte te begin en te voltooi. Vir
jeugdiges en volwassenes sal die beskikbaarheid van basiese
onderwys nie noodwendig in die vorm van skole wees nie maar in die
vorm van onderwys- en opleidingspro-gramme wat vir hulle persoonlike
omstandighede en ouderdom geskik is.(2)
Een van die implikasies van hierdie paragraaf is dat persone terugwerkende
aanspraak op bepaalde regte blykbaar mag maak. Hierdie verskynsel kom
op talle plekke nou in ons samelewing na vore, en op 'n stadium sal daar in
alle waarskynlikheid prinsipiëel gedebatteer moet word oor die mate waartoe
'n regering - enige regering - hom bereid verklaar om in te staan vir die doen
en late van sy voorganger. Verskeie syfers word rondom ongeletterdheid in
hierdie land aangehaal. In 'n resente rondte is die bewering gemaak dat 25%
van alle jeugdiges nog nie die binnekant van 'n skool gesien het nie, en dat
tot 50% van alle plattelandse inwoners ongeletterd is, die syfer onder
vrouens synde selfs hoër.
Daar is nie bewyse dat die owerheid beduidend beweeg het in die rigting van
die beskikbaarstelling vir die programme vir jeugdiges en volwassenes wat
aanvanklik in vooruitsig gestel is nie.
'n Tweede saak is die hele kwessie van die maksimum ouderdom waarop
jeugdiges hulle steeds in die skool mag bevind. Alhoewel elke provinsie in
teorie nou 'n ouderdomskaal ingestel het waarvolgens die maksimum
ouderdomme van leerders gedetermineer kan word, is dit 'n werklikheid dat
daar steeds talle jong persone in skole is, baie van hulle self reeds ouers,
wat nie werklik daar tuishoort nie en vir wie alternatiewe reëlings waarskynlik
meer sinvol sou wees. Die aanspreek van 'n saak soos hierdie deur middel
van 'n Handves skyn ooglopend nodig te wees.
- Die reg op gelyke toegang tot onderwysinrigtings
Die owerheid spreek hom in Hoofstuk 7 oor hierdie onderwerp soos volg uit:
Die toepassing van 'n gelyke en nie-diskriminerende toelatingsbeleid
kan egter nie vertolk word om te bedoel dat enige onderwysinrigting
verplig is om elke persoon wat aansoek doen, toe te laat nie. Die
regulering van toelating tot onderwysinrigtings moet toelaatbaar wees
ooreenkomstig die beperkings-bepaling van die Grondwet ... Hierdie
dokument is nie die plek om grondwetlik toelaatbare uitsonderings op
die reg op gelykheid van toegang te spesifiseer nie. Dit sal by regulasie
omskryf moet word. Beperkende faktore sou egter insluit die fisiese
kapasiteit van die inrigting ooreenkomstig die toepaslike norme, die
geskiktheid van die onderwysprogram vir die aansoeker se behoeftes,
die aansoeker se geslag in die geval van enkelgeslagskole, en die reg
om die bepaalde aard van 'n inrigting gebaseer op gemeenskaplike taal,
kultuur of godsdiens te behou ... (3)
Hierdie stelling klink op die oor af beredeneerd, gebalanseerd en grotendeels
aanvaarbaar. Die onderwysowerhede het ongelukkig 'n baie ander siening in
die praktyk, en dikwels kom skole onder groot druk om persone toe te laat,
ongeag die bepalings van hierdie paragraaf. Norme wat die fisiese kapasiteit
van skole bepaal, ontbreek steeds; sake soos die geskiktheid van die
programme vir die aansoeker om toelating word dikwels deur die
onderwysowerheid as van minder belang afgemaak, en argumente gegrond
op die verwagte uitwerking van onbeperkte toelating op die uiteindelike etos
van die skool word in 'n beduidende aantal gevalle met minagting deur
departementele amptenare. Hierdie is een van die areas waarop 'n mens
sou verwag het dat daar 'n steekhoudende benadering en 'n absoluut
duidelike beleid sou gekom het. Dit is egter nie die geval nie. Ook hier sou
'n Handves 'n beduidende bydrae kon lewer.
- Die reg op onderrig in die taal van jou keuse
Die aandrang op die reg op onderrig in die taal van jou keuse was 'n intense
debatspunt by Codesa en daarna. Daar was 'n verskeidenheid redes
hiervoor, maar twee belangrikes kan weer onderstreep word. Een was dat
daar deelnemers was wat nooit weer in 'n situasie wou kom waar 'n
onderrigmedium op hulle afgedwing word nie - hier kan verwys word na
persone wat in 1976 teen Afrikaans gedemonstreer het - en 'n tweede rede
was dat ander deelnemers, en by uitstek diegene wat die Afrikaanse belang
probeer bevorder het, nie wou hê dat die Afrikaanse taal in die proses skade
kry nie.
Die eerste Witskrif het dié saak derhalwe soos volg verwoord:
Die reg op onderrig in die taal van jou keuse sou klaarblyklik, ten
minste in die geval van jong kinders, namens die kind deur die ouers of
voog uitgeoefen word. Hierdie artikel beskerm die keuse van
moedertaalonderrig, of van enige ander gekose taal van onderrig, met
dien verstande dat die keuse redelikerwys uitvoerbaar is vir die
betrokke onderwysinrigting. Hierdie [bepaling] hou regstreeks verband
met die uitoefening van die reg op gelyke toegang ... en dus op die
toelatingsbeleid van [die onderwysowerhede en die betrokke inrigtings]
... Voorkeur vir 'n bepaalde taalmedium van onderrig kan nie 'n rede
wees om toelating te weier nie, mits daar aan die voorwaarde van 'n
redelike uitvoerbaarheid voldoen kan word. Waar 'n alternatiewe
inrigting wat onderrig in die gewensde taal aanbied, sonder te veel
ontbering vir die aansoeker beskikbaar is, kan so 'n weiering egter nie
as onbillik beskou word nie. (4)
Weer eens, sou 'n mens kon konstateer dat hierdie 'n uiters redelike posisie
is. Maar daar het nooit werklike raadpleging hierna plaasgevind op 'n wyse
wat die hele land se verskeie groeperinge sou inbind nie, en die gevolg
hiervan was 'n interim-taalbeleid van die owerhede wat in die praktyk amper
meer geskend is as wat dit deur die onderwysowerhede geïmplementeer is.
Dit was in 1995 die geval, en is nou nog die geval - die onlangse hofsaak wat
die beheerliggaam van die Hoërskool F H Odendaal teen die Departement
van Onderwys in Gauteng aanhangig gemaak het, en wat buite die hof geskik
is, het juis oor minagting van bepalings soos hierdie in die Witskrif, wetlike
bepalings en die interimtaalbeleid van die Minister van Onderwys gegaan.
Die vraag kan met reg gevra word of die onderwysowerhede die afgelope
sewe tot agt jaar konstruktief gebruik het in 'n poging om die taal-in-onderwyskwessie aangespreek te kry. So 'n Handves sou miskien in hierdie
geval 'n bydrae kon lewer het.
- Ouerreg
Struktureel is die Witskrif soms effens anders as wat 'n mens dit self sou
gedoen het, want verskeie regte word nie samehangend bespreek nie. In die
vyfde hoofstuk kom bepaalde regte ook aan die beurt.
Een van die uiters belangrike beginsels wat deur die Witskrif gestel word,
gaan oor ouerreg. Daar moes deur verskeie rolspelers rondom hierdie
beginsel besondere insette gelewer word om dit in die Witskrif ingesluit te
kry, want een van die land se onderwysvakbonde onder ander instansies is in
wese daarteen gekant. Die Witskrif lees soos volg:
Ouers ... het die reg om deur die staatsowerhede geraadpleeg te word
oor die vorm wat onderwys moet aanneem en om deel te neem aan die
beheer daarvan. Ouers het 'n onvervreembare reg op keuse van die
vorm van onderwys wat vir hulle kinders die beste is, veral in die vroeë
jare van skoolonderwys, ongeag of dit deur die Staat voorsien word,
onderhewig aan redelike waarborge wat by wet vereis kan word. Die
ouer se reg om te kies omvat die keuse van die taal en die kulturele of
godsdienstige grondslag van die kind se onderwys, met inagneming
van die regte van ander en die groeiende kind se reg om te kies.(5)
Die beginsel wat hier gestel word, het verskeie komponente.
- Die eerste komponent wat waarneembaar is, is dat ouers die reg het
om deur die staatsowerhede geraadpleeg te word oor die vorm wat die
onderwys aanneem. Dit is nie werklik duidelik wat die term "vorm" sou
beteken nie, maar daar kan aanvaar word dat dit onder andere
verband hou met die struktuur, inhoud en bedryf van die
onderwysstelsel. Die geskiedenis van owerheidsraad-pleging van
georganiseerde ouers in die land toon gebreke in hierdie verband.
Daar kan byvoorbeeld verwys word na die beduidende veranderinge
wat aan pre-primêre onderwys in die Gauteng provinsie aangebring is,
sonder dat ouerorganisasies doeltreffend of volledig geraadpleeg is.
Selfs nadat 'n hofsaak teen die onderwys-owerhede aanhangig
gemaak en uitspraak ten gunste van die ouers gelewer is, het die
provinsiale owerheid steeds die raadplegingsbeginsel verontagsaam,
en moes 'n tweede hofgeding aanhangig gemaak word. Handelinge
van hierdie aard strek nie tot eer van die onderwysowerheid nie. Daar
kan verwys word na die invoering van die nuwe kurrikulum. Daar kan
met reg gekonstateer word dat die meerderheid van die ouers in
hierdie land nie daaroor gekonsulteer is nie. Daar is talle elemente
van die bedryf van die onderwys waaroor ouers nie werklik
geraadpleeg word nie - 'n voorbeeld hiervan is die onlangse
eensydige aanpassing van die datums van skoolvakansies in Gauteng
om voorsiening te maak vir die wêreldkongres oor volhoubare
ontwikkeling, om slegs 'n enkele voorbeeld te noem.
- 'n Tweede komponent is dat ouers die reg het, volgens die Witskrif,
om deel te neem aan die beheer van die onderwys. Daar word
aanvaar dat hierdie deelname op die plaaslike, op die provinsiale en
op die nasionale vlak moet geskied. Op die plaaslike vlak het
sommige skole beheerliggame, alhoewel nie alle skole nie, en die
owerheid het oor die afgelope jare wetsaanpassings aangebring om te
verseker dat die meerderheid lede van 'n skool se beheerliggaam
ouers is. Maar wat met die een hand gegee is, word met die ander
hand weggeneem - oor die afgelope sewe jaar is die bevoegd-hede
van beheerliggame beduidend geërodeer, deur middel van
wetswysigings, deur middel van regulasies, en deur middel van
departementele beleide wat ouergemeenskappe toenemend aan
bande lê. 'n Enkele voorbeeld hiervan is een van die bestaande
wysigings wat voorgestel word aan die Wet op Indiensneming van
Opvoeders, wat in effek sou meebring dat ouers nie meer 'n
aanbevelings-bevoegdheid ten opsigte van die aanstelling van
beginneronderwysers het nie, wat ook meebring dat die
Departementshoof in effek kan begin om die onderwysers wat hy of sy
wil, by skole aan te stel, sonder om ouers se sieninge, behoeftes en
eise in aanmerking te neem(6). Bo en behalwe betrokkenheid op die
plaaslike vlak, sou verwag kon word dat ouers ook op provinsiale vlak
betrek sou word. Sommige provinsies het wél provinsiale
onderwysrade waarby ouers betrek word. Ander het dit egter nie, wat
meebring dat beduidende ouerinspraak in die vorm van die onderwys
in daardie provinsies nie moontlik is nie. Miskien is een van die
grootste versuime aan die kant van die owerheid op nasionale vlak die
feit dat die nasionale onderwysadviesraad wat deur die Minister van
Onderwys volgens wet ingestel moet word, nog nooit gekonsulteer is
nie(7).
- 'n Derde element waarna verwys kan word is die stelling dat "die ouer
se reg om te kies omvat die keuse van die taal en die kulturele of
godsdienstige grondslag van die kind se onderwys". Dit is 'n
werklikheid dat twee-derdes van alle skole wat in 1994 enkelmedium
Afrikaanse skole was, nou of parallelmedium of dubbelmedium skole
is, en dit is nie noodwendig so dat die ouers by hierdie skole gekies
het dat hulle kinders in Afrikaans en Engels gelyktydig onderrig word
nie : talle ouers is van mening dat hierdie reëling op hulle afforseer is.
Daar kan met reg gekonstateer word dat die onderwysowerhede nog
nooit werklik ontleed het wat hulle met die begrip "kulturele of
godsdienstige grondslag van die onderwys" bedoel nie, en daar kan
weer eens sonder om onbillik te wees, gekonstateer word dat baie
ouers van mening is dat die kulturele en godsdienstige grondslag van
die onderwys wat hulle wil hê, geleidelik besig is om met 'n breë
humanistiese grondslag vervang te word - 'n basis wat hulle nie wil hê
nie.
In die lig van hierdie vier uiters belangrike sake, is die vraag wat ontstaan 'n
logiese een - het daar so 'n Handves tot stand gekom? Die antwoord hierop
is soos baie ander antwoorde in ons land - dit is beide "nee" en "ja".
Die antwoord is in die eerste plek negatief, omdat daar nie 'n dokument soos
die voorgestelde "Handves" bestaan nie. Soos reeds gesê, was daar ook
nog nooit weer 'n proses van raadpleging op voetsoolvlak deur die
onderwysowerhede nie. Ons het dus beslis nie 'n dokument wat, om die
Witskrif self aan te haal, die grondslag vorm vir landwye oorlegpleging
waaruit 'n hersiene teks ontwikkel en ooreenkoms onderhandel sal
word nie.
Maar daar is ook 'n gekwalifiseerde "ja", in dié opsig dat die Minister van
Onderwys in 2000 'n groep persone bymekaar gemaak het om 'n dokument
saam te stel wat 'n nuwe stel waardes vir die onderwys propageer. Hierdie
dokument het in 2001 die lig gesien(8).
Hierdie dokument is beslis nie in die openbaar by wyse van raadpleging gedebatteer
nie, en daar was (en is) geen tekens daarvan dat landwye raadpleging plaasvind nie,
of dat 'n hersiene teks onderhandel word of sal word nie. Daar sou waarskynlik debat
gevoer kon word oor die mate waartoe die groep wat die dokument opgestel het
"verteenwoordigend" was, en wie se definisie van verteenwoordigendheid
gevolg is. Die afwesigheid van prinsipiële denkers oor die onderwys in die
taakspan kan ook as 'n baie ernstige leemte gesien word.
Hierdie dokument, wat ses waardes vir die onderwyssisteem in Suid-Afrika
beredeneer, word deur sommige gemeenskappe as omstrede beskou, terwyl
dit my persoonlike siening is dat van die sogenaamde waardes vir die
stelsel eerder as gewenste kenmerke van die stelsel getipeer sou kon
word.
Die gevolgtrekking waartoe 'n mens geraak is dat die owerheid beslis nie aan
die voorneme in die eerste Witskrif uitvoering gegee het nie. Hierdie sou ook
as 'n ernstige versuim beskou kon word, in dié opsig dat baie van die
daaglikse administratiewe handelinge in die onderwysstelsel in 'n tipe van
prinsipiële limbo plaasvind, wat nie vir die vordering in die stelsel bevorderlik
is nie. Die gevaar vir konfrontasie oor sekere prinsipiële sake het nie in ons
land verdwyn nie, en daar berus op die owerheid 'n dure plig om hierdie saak
aan te spreek.
Nasionale Instituut vir Kurrikulum-ontwikkeling (NIKO)
Daar is reeds gekonstateer dat daar tans tien onderwysdepartemente in die
land is - een op die nasionale vlak, en een in elk van die nege provinsies. Dit
is ook waar dat die baie losse beheerstrukture in die owerheidsektor tans vir
indiwidue wat baie geesdrif of harde ideologiese sieninge het, ruim
geleentheid ook gee om hulle eie persoonlike sieninge as beleid te probeer
propageer.
Oor die afgelope agt jaar is verskeie benaderings tot die kurrikulum gevolg,
die mees bekende waarvan die verskyning van Kurrikulum 2005 was, wat in
minister Bengu se tyd afgekondig is. Sedertdien was daar 'n sogenaamde
verstewigings- en verfyningsoefening gewees, wat baie verwarring
veroorsaak het, maar wat waarskynlik sommige van die erger leemtes in die
Kurrikulum 2005-produk probeer aanspreek.
Een van die felste stukke kritiek wat die nuwe onderwysburokrate teenoor die
voormaliges gehad het, was dat die kurrikulum binne die departement, of in-huis, ontwikkel is. Hierdie opmerking was nie in alle opsigte heeltemal korrek
nie, maar kom ons laat dit daar. Voortspruitend uit hierdie kritiek, het die
Witskrif dan die volgende hieroor gesê onder andere:
Aansienlike belangstelling in die konsep van 'n Nasionale Instituut vir
Kurrikulumontwikkeling (NIKO) is uitgespreek. In die lig van die
vordering wat gemaak is met die daarstelling van nuwe Nasionale
Kurrikulumkomitees en 'n verteen-woordigende Koördinerings-komitee
vir die Skoolkurrikulum, sal die Departement van Onderwys die
KOMHOD en die vernaamste belanghebbendes en rolspelers in
onderwys en opleiding uitnooi om deel te neem in 'n studie van
alternatiewe vorme wat so 'n instituut kan aanneem, en die maniere
waarop dit kan funksioner. Die Departement stel voor dat die NIKO-studie die verhouding tussen kurrikulum, [assesserings]- en
onderwyser[opleidings]prosesse op alle gebiede en in alle fases van
onderwys en opleiding, met inbegrip van studie in die vroeë kinderjare,
onderwyson-dersteuningsdienste en spesiale opvoedkundige
behoeftes, moet dek. (9)
Die werklikheid is dat, indien so 'n studie ooit gedoen is, die vrug daarvan nie
deursigtig hanteer is nie. Die ongelukkige werklikheid van 2002 is dat daar
nog steeds klowe bestaan tussen die kurrikulum, die assesseringspraktyk en
die opleiding van onderwysers. Die onderwysowerheid het 'n gulde
geleentheid gehad om 'n steekhoudende stelsel van kurrikulumontwikkeling
in plek te plaas, en dit wil voorkom asof hierdie geleentheid nog nie benut is
nie.
Waar die kurrikulum die kern van die onderwys is, maak dit tog sin dat die
beste moontlike afleweringswyses nagevors sal word. Ek sê nie dat daar 'n
NIKO moet wees nie - trouens, daar is waarskynlik redelike argumente
daarteen. Maar wat wel betreur kan word is dat die owerheid volgens alle
beskikbare inligting nog nie aan sy voorneme uitvoering gegee het om
verskeie modelle te laat ondersoek nie. Dit is betreurenswaardig.
Nasionale Raad vir Onderwysers-opleiding (NROO)
Die onderwysowerheid het sedert 1994 geen sigbare beplanning gedoen
rondom die voorsiening van onderwysers nie. Die meeste van die land se
onderwyskolleges is gesluit, en die wat nie gesluit is nie, is in ander
instellings van hoër onderwys geïnkorporeer, met 'n gepaardgaande verlies
aan opleidingskapasiteit. Die meeste van die provinsiale onderwys-owerhede maak geen voorsiening of vir die werwing van onderwysstudente of
vir die verskaffing van beurse aan aspirantonderwysers nie, en die paar
provinsies wat beurse wél sou kon toeken, maak die saak nie rugbaar nie.
Die owerhede het baie gedoen wat in effek die werkslewe van die
onderwyser al hoe moeiliker en al hoe minder aantreklik maak, terwyl die
plaaslike en buitelandse ekonomieë se suigkrag vir hoëvlak mensekrag talle
onderwysers na ander beroepe en ander lande gelok het. Besondere hoë
vlakke van MIV- en Vigsinfeksie word onder onderwysers bespeur, en die
onderwysowerhede self begin aandui dat daar na verwagting op 'n krisis
afgestuur word. Hierdie is 'n besondere treurige rekord, veral in die lig van
die owerheid se eie standpunt, wat soos volg lees:
Die Ministerie beskou onderwyser-opvoeding (lees
onderwysersopleiding - skrywer) ... as een van die sentrale pilare van 'n
nasionale strategie vir die ontwikkeling van menslike hulpbronne ... (10)
En tog het die Witskrif hierdie saak anders in vooruitsig gestel.
... Die wenslikheid van 'n statutêre Nasionale Raad vir Onderwyser-opvoeding (lees onderwysersopleiding - skrywer) (NROO), wat alle hoër
onderwysinrigtings en ander belanghebbendes op hierdie gebied met
inbegrip van onderwyskolleges, die onderwysprofessie en die
provinsiale onderwysdepartemente verteen-woordig, sal steeds
ondersoek word in die lig van ervaring en sodanige advies as wat die
Nasionale Kommissie oor Hoër Onderwys kan lewer. (11)
Die Nasionale Kommissie oor Hoër Onderwys het mettertyd padgegee vir die
Raad op Hoër Onderwys (Council for Higher Education - CHE) en geen
vordering is op hierdie terrein gemaak nie.
Die georganiseerde onderwysprofessie in Suid-Afrika waarsku al die
afgelope ses jaar dat daar op die terrein van onderwyservoorsiening
beduidende probleme voorlê, en versoek en selfs smeek dat hierdie sake
aangespreek moet word. Hierdie vertoë het op dowe ore geval, soms te
midde van smalende kritiek. Indien die owerheid oorgegaan het na die
stigting van so 'n Raad sou vordering dalk gemaak kon gewees het. Soos
wat sake tans staan, ontstaan die vraag of ons nie reeds hoë standaarde van
onder-wysersopleiding sien hoogty vier het nie, en of die toekoms nie
beduidende afwatering van kwalifikasie- en bedrewenheidsvlakke inhou nie.
Nasionale Oop Onderwysagentskap (NOOA)
Een van die planke in die ANC se verkiesingsplatform was dat ongelet-terdheidsvlakke in die breë samelewing aangespreek sou word; dat
beduidende stappe gedoen sou word om oordraagbarheid van kwalifikasies
en erkenning van vorige leer en -ondervinding te bewerkstellig.
Die saak is soos volg deur die Witskrif aangespreek:
Die Ministerie van Onderwys is gretig om die ontwikkeling van 'n oop
onderwysbenadering aan te moedig aangesien dit die waardes en
beginsels van die nasionale onderwys-en opleidingsbeleid
onderliggend aan hierdie dokument (d.w.s. die Witskrif) weerspieël en
toepassing vind in alle studiekontekste. Om hierdie rede beoog die
Minister om die nuttigste struktuur en missies vir 'n Nasionale Oop
Onderwysagentskap (NOOA) te ondersoek. Dit word beoog as 'n klein,
buigsame en responsiewe professionele agentskap, met die missie om
oop onderwysbeginsels te bevorder waar ookal dit die doeltreffendste
is. NOOA sal navorsing en ontwikkeling oor oop onderwys onderneem,
help om 'n netwerk van openbare en privaat oop onderwysinrigtings en
-praktisyns op te bou, en hulle pogings om oop onderwysbeginsels en
doeltreffende praktyk om te skakel, fasiliteer. Die NOOA- en NIKO-konsepte moet in noue verwantskap met mekaar ontwikkel word. (12)
Hierdie was 'n boodskap van hoop en vernuwing vir die land se miljoene
ongeletterde persone, asook vir persone wie se ondervinding en ervaring, al
was dit beduidend, nie wesenlik vir hulle in die samelewing kon laat vorder
nie. Maar, en baie belangriker, dit was 'n aanduiding dat die land sou
wegbreek van sy beheptheid met formele onderwysinrigtings, formele
kwalifikasies en alles wat daarmee saamgaan, insluitende die siening van 'n
sertifikaat of 'n diploma as die sleutel tot 'n beter lewe en die bedrog wat die
bekoming daarvan soms ook behels.
Op hierdie terrein is daar tot op hede nie beduidende vordering gemaak nie,
met die gevolg dat daar steeds in die land 'n siening heers dat die formele
die gewensde is, dat daar steeds met jaloesie gekyk word nie diegene wat
formele geleenthede benut, en dat daar steeds wanhoop onder talle van die
land se mense seëvier.
Dit is weer eens noodsaaklik dat die onderwysowerheid hierdie voorneme
herbesoek met die oog op die bring van verligting en hoop vir miljoene wat dit
langs geen ander weg sal kan verkry nie.
Die beperking van oordadige magsuitoefening deur die staat en
inmenging waar dit nie tuishoort nie
Die laaste saak waarna ek wil verwys, het te make met die beperking van
oordadige magsuitoefening deur die staat en inmenging waar dit nie tuishoort
nie.
Die owerhede self het in 1995 soos volg geskryf:
Die beginsel van demokratiese beheer ... vereis van onderwysowerhede
op alle vlakke 'n verbintenis om alle betrokke inligting met groepe
belanghebbendes te deel en om hulle werklik as vennote te behandel.
Dt is die enigste gewaarborgde wyse om ... die mag van
owerheidsadministrasie om in te gryp waar hy nie moet nie, in te kort.(13)
Voorbeelde van waar die onderwys-administrasie ingegryp het waar hy nie
moet nie, of nie nodig gehad het om dit te doen nie, is sake soos
voorskriftelikheid rondom skolesport; voorskriftelikheid rondom die
beoefening van kultuur; die van stapel stuur van forensiese oudits op talle
terreine waar dit nie geregverdig was of is nie; pogings om in te meng met die
wyse waarop beheerliggame bepaalde sake hanteer; die opstel van al hoe
enger voorskrifte rondom 'n verskeidenheid van sake wat in alle
waarskynlikheid nie die terrein van die skool is nie.
Dit is 'n werklikheid dat die Staat oor die afgelope sewe tot agt jare baie van
die sake wat in die samelewing nie reggemaak kan word nie, op die skole
aflaai. So is dit dat daar breedvoeriger voorskrifte is as ooit rondom die
hantering van maatskaplike kwessies soos geweld, menseregte, veiligheid,
beperking van verslawende stowwe, bende-aktiwiteite en dergelike meer,
alles waarvan nie nodig sou wees as die breër samelewing genormaliseer
kon word, en wat helaas in elk geval redelik min beteken omdat die leerling
uit 'n ontwrigte samelewing kom en na skoolure hom of haar weer eens
aldaar bevind.
Daar is 'n sosiologiese beginsel waarvan ons nooit moet vergeet nie, en dit is dat
die skool nooit die samelewing kan transformeer nie : hy kan slegs volg waar die
breë samelewing reeds heen lei. En die growwer inmenging van die staat, waar dit
ten doel het om die skool as transformasie-agent te laat dien, sal in die langer duur
nie kan slaag nie, want die skool bly steeds 'n ondoeltreffende entiteit om as
stormram te gebruik.
ENKELE GEVOLGTREKKINGS EN AFSLUITING
Die nuwe regering het in 1994 talle probleemareas in die samelewing
beërwe, waarvan die onderwys een was. Elemente van die
onderwysproblematiek sou struktureel in die jare daarop aangespreek kon
word. Ander het dieperliggende besinning benodig.
In 'n sekere sin het hierdie voordrag probeer vra tot watter mate die mooi
ideale van die Witskrif kan realiseer sonder steekhoudende ondersoek,
debatvoering en oplossingsoeke vir die meer kardinale probleme wat
onderliggend is - sake soos uiteenlopende tale, kulture en godsdienste; sake
soos uiteenlopende verwagtinge en eise van die verskeie gemeenskappe in
hierdie land; sake soos die noodsaaklikheid om beduidende inspraak op alle
vlakke van die onderwys aan alle belanghebbendes te gee.
Erkenning moet gegee word vir dit wat op die stelsels- en strukturele vlakke
deur die owerhede aangedurf en bereik is.
Maar die werklikheid is dat die talle onderliggende probleme nog steeds met
ons is. Die eerste Witskrif het 'n verskeidenheid van strukture en
beginsel-vertrekpunte gestel, 'n aantal waarvan tot nou toe nie tot hulle reg gekom het
nie.
Totdat hulle wél tot hulle reg kom en sinvol aangespreek word, moet ons
gevolgtrekking wees dat elemente van die eerste Witskrif steeds
wensdenkery is, en wensdenkery sal bly totdat daar direkte en konsekwente
maniere gevind word om die problematiek aan te spreek en op te los.
Hierdie referaat het begin deur hulde te bring aan professor Willem
Landman. Dit sluit ook daarmee af. Totdat ons weer onderwyswysgere van
die kaliber van profesor Landman kan betrek om ons met die fundamentele
beredeneiring van die vertrekpunte van die onderwysstelsel te help, en totdat
ons die bestaande basisberedenering van die huidige politieke benadering
kan ontkoppel, is ons kanse op steekhoudende en blywende oplossings maar
skraal.
Ons salueer professor Landman, en ons spreek die vertroue uit dat die tyd
manne en vroue sal oplewer wie hulle bydrae tot die aanspreek van die
fundamentele in ons onderwysproblematiek, soos syne, beduidend sal wees.
GESELEKTEERDE BRONNE
RSA (1995) Kennisgewing No 197 van 1995 in Staatskoerant Vol 357 No 16313 :
15 Maart : Kaapstad. Witskrif oor Onderwys en Opleiding. Pretoria
: Staatsdrukker
RSA (1996) National Education Policy Act, 1996, Act No 27 of 1996. Pretoria :
Staatsdrukker
RSA (2000) Values, Education and Democracy. Report of the Working Group on
Values in Education.
http://www.gov.za/reports/2000/education.htm
RSA (2002) Staatskoerant Vol 442 No 23327 : 11 April : Pretoria. Education
Laws Amendment Bill, 2002 and Higher Education Amendment
Bill, 2002 : Call for comment. Pretoria : Staatsdrukker
NOTAS
Witskrif oor Onderwys en Opleiding, 357:16313, 15 Maart 1995. 3:25, bladsy 20.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding, 357:16313, 15 Maart 1995. 7.11, bladsy 40.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding, 357:16313, 15 Maart 1995. 7.19-20, bladsy 41.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding, 357:16313, 15 Maart 1995. 7:27-28, bladsy 42.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding. 357:16313, 15 Maart 1995. 4:3, bladsy 21.
Die voorgestelde wysiging verskyn in Staatskoerant 23327, Vol 442, bladsy 9-10. Die voorgestelde wysiging is tans in
die openbare domein vir kommentaar en dit mag wees dat dit nie sal slaag nie. Wat egter belangrik is, is die denkproses
en houding jeens ouerreg wat deur die voorgestelde wysiging openbaar word. Die rede hiervoor soos deur die
verduidelikende nota's weergee, is dat ouergemeenskappe tans bepaalde doelwitte van die onderwysowerhede na
bewering verydel.
Sien die Wet op die Nasionale Onderwysbeleid, 1996, Wet 27 van 1996, by artikel 11.
RSA, Departement van Onderwys, 2000. Values, Education and Democracy. Report of the Working Group on Values in
Education. Report submitted by Prof Wilmot James et al. http://www.gov.za/reports/2000/education.htm.
Witskrif oor Onderwys en Oplelding. 357:16313, 15 Maart 1995. 5:21, bladsy 27-28
Witskrif oor Onderwys en Opleiding, 357:16313, 15 Maart 1995. 5:40, bladsy 30.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding, 357:16313, 15 Maart 1995. 5.41, bladsy 30.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding. 357:16313, 15 Maart 1995. 5:26, bladsy 28.
Witskrif oor Onderwys en Opleiding. 357:16313, 15 Maart 1995. 4:11, bladsy 22.
|