Vierde W A Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion:
29 Mei 2003
Christina Landman
Navorsingsinstituut vir
Teologie en Religie, UNISA
"GODSDIENS IN NIE 'N LOSMAAKDING NIE"
Post-feminisme en godsdienstige opvoeding
Terug na Gedenklesings
"Godsdiens is nie 'n losmaakding ding nie"
Ek wil jou 'n ding vertel, sê 'n swart dominee in Atteridgeville my nou die dag.
Vertel my die ding, sê ek. Die regering doen nie reg om godsdiens uit die skole te
skop nie, sê hy. Hoeso? vra ek. Godsdiens is die lewe, sê hy. Godsdiens loop saam
met grootword. Dis orals. Ons kan dit nie buitekant die skool loop skuif nie. En ook
nog, al ons kursusse, alles wat ons leer, dit loop saam met ons Christenskap.
Godsdiens is nie 'n losmaakding nie, sê hy.
Menere en me'e, as daar nou een ding is wat ons reënboognasie aan mekaar bind, dan
is dit juis dit: Godsdiens is nie vir ons 'n losmaakding nie. Die regering het dit die
afgelope tyd goed agtergekom: mense in Suid-Afrika gaan nie toelaat dat godsdiens
losgemaak word van opvoeding nie. Dit was 'n slegte politieke skuif van die regering,
om godsdiens en opvoeding te skei. Hulle het per ongeluk gewys hoe uit voeling hulle
met mense op grondvlak is. En hulle probeer nou vinnig remedieer.
Terwyl ons nou weet dat dit polities 'n slegte stap is om godsdiens van onderwys los
te maak omdat mense op grondvlak dit nie wil hê nie, moet ons nou tog wel vra of
ons nie op grondvlak moet begin om dit te doen nie. Kortom, die vraag wat ons moet
vra, is dit: Is dit goed of sleg dat ons godsdiens vasmaak aan onderwys? En daarop
sou ek sê dat ons in die verlede godsdiens vasgemaak het aan dinge wat sleg was vir
kinders - maar dat die tyd nou juis ryp en reg is om goeie waardes aan godsdiens te
koppel, juis nou dat die reënboognasie soos een man gesê het hulle wil nie godsdiens
van onderwys losmaak nie.
Godsdienstige opvoeding "soos een man"
Het ek gesê "soos een man"? Want dit is dalk net wat fout is met godsdienstige
opvoeding - dat dit nog vasklou aan tradisionele waardes oor geslagsrolle, en dit as
goddelik verkondig.
So, vanaand wil ek graag twee vrae vra. Die een is wat mense dan so skrikmaak van
feminisme dat hulle dit nie aan godsdiens wil vasmaak nie. En die ander is wat
feminisme dan wel kan bydra tot godsdienstige opvoeding dat dit werklik 'n
waardige plek op skool kan inneem. Want op die oomblik voel mense soos ek
ambivalent oor die plek van godsdienstige opvoeding op skool. Aan die een kant wil
'n mens dit graag daar hê, maar aan die ander kant is 'n mens verleë oor die waardes
wat daardeur verkondig word, en die skade wat dit inderdaad aan kinders, seuns en
dogters, aanrig.
Die eerste vraag gaan dan oor die vennootskap tussen feminisme en godsdiens
en die vrese wat dit by gelowiges kweek
As ek nou terugdink na die tye toe ek 'n skoolmeisie was (en elke dag net hier met
hierdie straat hierlangsaan met my fiets skool toe gery het), kan ek nou sien dat
sekere van die waardes wat godsdienstige opvoeding oor meisie-wees aan my
oorgedra het, my ontsettend beskadig het. Een leeftyd is amper te min om dit reg
te stel. As ons daardie tyd 'n gesonde vorm van feminisme gehad het, het my en die
ander meisies in my klas (waarvan net twee uiteindelik professionele beroepe
beoefen het) dalk heel anders gelyk.
Toe ek 30 jaar gelede matriek geskryf het (1973), het die moderne feminisme eers
ontstaan, en toe nie eers in Suid-Afrika nie. Feminisme het van die begin af gesê
dat vroue drie dinge moet laat gebeur voordat hulle vry sou wees:
- Vroue moet stereotipes oor vrouewees omvergooi, en hulleself in die
openbaar kan definieer, met ander woorde politieke mag kry.
As skoolmeisies is ons lewens heeltemal beheer deur stereotipes, en ons was
baie afhanklik van seuns se goedkeuring vir ons geluk. Ons wou soos Twiggy
lyk. Ons het met sykouse om die kop geslaap om reguit hare te hê, en ons
liggame gehaat omdat ons nie so maer soos sy was nie. Ons het regtig geen
beheer gehad oor die stereotipes wat ons beheer het nie. Ons het geen
politieke mag gehad nie. Dit het tot geweldige depressie by meisies gelei,
omdat meisies wat nie mooi en maer was nie, en nie kêrels gekry het nie, nie
menswaardig was nie. En op een of ander manier het ons die idee gekry, die
stereotipes waaraan ons moes voldoen, het hulle goddelike oorsprong by die
kerk gehad.
- Tweedens het die feministe gesê dat vroue sosiale mag moet hê. Dit is, hulle
moet toegang tot verhoudings hê, en gelyke mag daarbinne.
As skoolmeisies het ons, weer eens, geen sosiale mag gehad nie. Ons kon nie
verhoudings aanknoop nie, en dit was ook jou trots dat 'n seun by jou aanlê.
En dis skande as jy uitgevang word om in die geheim op iemand verlief te
wees. Ons het sulke groot skoolhoedens in daardie dae gedra, so groot jy
kon pampoen daarin plant - net, pampoen het natuurlik jou hare laat krul. Die
skoolhoed het vir ons meisies 'n groot nut gehad. As jy jou oog op 'n ou gehad
het, het jy gesorg dat jou hoed voor sy huis afwaai, dan kon jy dit
langsamerhand loop optel sodat jy hom te siene kry, en hy hopelik vir jou. My
hoed het gereeld hier onder in Burgerlaan afgewaai, maar die outjie wat daar
gewoon het, het nooit besef hoe die wind waai nie. So, ons het nie die sosiale
mag gehad om 'n verhouding openlik aan te kweek nie. Ons moes wag tot dit
met ons gebeur. En vandag nog het vroue nie daardie mag nie. Waar daar in
ons samelewing 100 vroue is vir elke 70 mans, met 'n derde van vroue wat dan
nie toegang het tot verhoudings nie, is daar groot eensaamheid onder en ook
groot kompetisie tussen vroue. Ek sien dikwels onder my pasiënte hoe hulle
covert power gebruik om hulle emosionele behoeftes onder die aandag van
hulle maat te kry - omdat hulle nie toegang het tot direkte mag nie. Dit
gebeur veral wanneer hy begin om liefde van haar te weerhou om een of
ander rede, en sy dan probeer om hierdie liefde terug te wen deur
stereotipiese gedrag wat by 'n goeie vrou hoort. En soos ons weet, het die
kerk nog nooit gelyke mag in verhoudings voorgestel nie, maar die patriargale
gesin ondersteun. Uiteindelik wou die kerk dan ook nie verantwoordelikheid
vat vir die geweld wat uit die misbruik van patriargale mag voorkom nie, soos
huishoudelike geweld en huweliksverkragting. Ek moet vir u sê dat ek in my
beperkte pastorale praktyk ten minste twee maal 'n week hoor dat 'n vrou
vertel: ek het nou eers agtergekom my man verkrag my dogter uit my vorige
huwelik; of: my man verkrag my seun uit my vorige huwelik. Ek moet vir u
vertel dat die vrou dan pille drink en nie meer wil lewe nie, omdat sy nêrens
het om met hierdie verskriklike wete te gaan nie. Die kerk, sê sy self, sal
haar nie help nie. En onthou net, verkragting is vandag nie net meer
verkragting nie, dit gaan met HIV gepaard. En dis ook nie 'n subekonomiese
ding nie - dit gebeur hier onder ons.
- Derdens sê die feministe dat vroue ekonomiese mag moet hê.
Dit het ons meisies natuurlik gladnie besef ons moet nastreef nie. Jy het
gewoon geglo daar is nie vir jou 'n finansiële toekoms buite 'n huwelik nie. En
daarom het jy jou vaardighede gebruik om 'n huwelik te verseker eerder as
'n beroep. En alhoewel daar in die Bybel vroue was wat ekonomies
onafhanklik was, soos Lidia, het ons die idee gehad dat vroue se ekonomiese
afhanklikheid ook 'n Bybelse voorskrif was, en is dit as iets romanties deur
godsdienstige opvoeding aan ons voorgehou.
Vandag is vroue se ekonomiese bemagtiging natuurlik 'n teer saak. Navorsing
het gewys dat mans nie meer vir hulle vroue wil sorg nie, ook nie in 'n huwelik
nie, en dat sy moet werk om vir haarself te sorg en die gesin se skuld te help
afbetaal - maar dat 'n man terselfdertyd baie bedreig voel wanneer sy vrou
meer as hy begin verdien, en dat hy haar dan seksueel begin verwerp.
"Feminist Standpoint Theory"
Aan die begin, dit is nou so 30 jaar gelede, het feminisme maniere gehad waarop sy
hierdie drie ideale - van vrouse sosiale, politieke en ekonomiese bemagtiging - wou
laat realiseer. Aanvanklik het feminisme gesê dit moet bereik word deur
- te beklemtoon dat vroue essensieel goed en vaardig is (wat ons in vaktaal
maar "essensialisme" noem). In die ou tyd is beklemtoon dat vroue se siele
te suiwer is vir die politiek, dat dit romanties is om vir 'n verhouding
uitgekies te word en dit nie self te kies nie, en dat dit lelik vir 'n vrou is om
ambisieus te wees en haar eie geld te verdien. Essensialisme het aangetoon
dat vroue nie essensieel swak en afhanklik is nie, maar in staat is om vir
hulleself te sorg en vir hulleself te praat.
- Die tweede manier waarop feminisme vroue aanvanklik wou bemagtig, was om
te sê dat vroue 'n epistemologiese voordeel het op vrouesake. Dit beteken
dat vroue beter weet oor sake wat vroue raak, en dus alleen daaroor mag
praat.
Ons noem hierdie "harde" posisie in feminisme Feminist Standpoint Theory. En dit
is ook die posisie wat die meeste mense vandag ken as feminisme, en waarvoor hulle
bang is. Ek meen, die idee dat vroue dalk van nature sterk is, is genoeg om enige
man tot ewige impotensie te doem.
Post-feminisme
Vandag is daar egter min feminisme wat nog van die essensiële vrou praat of dat
net vroue oor vrouesake mag praat. Dit was 'n baie belangrike fase in feminisme,
maar post-feminisme voel vandag baie anders. Hulle voel dat Feminist Standpoint
Theory net die slaggate van die patriargaat herhaal het en vroue in die plek van
mans as onderdrukkers geplaas het. Post-feminisme wil juis nie so binêr en
opposisioneel van geslagsrolle praat nie. Post-feminisme praat eerder oor:
- relatedness. Dis 'n begrip wat baie in eko-feminisme(1) gebruik word. Dis 'n
moeilike begrip om in Afrikaans te vertaal. Dis amper asof ons nooit
daaraan dink nie en daarom nie 'n woord daarvoor het nie. Ons kan dit amper
met verbondenheid vertaal. Relatedness is die flux en die energie en die
passie wat daar tussen mense, en tussen God en mense bestaan. Dit
transendeer geslag, en behels ook terselfdertyd geslagtelikheid.
- Post-feminisme praat ook baie oor mag as energie. Mag is nie vir hulle
oorheersing, en dat vroue nou oor mans moet heers om hulle terug te kry nie.
Mag is die energie wat relatedness, hierdie verbondenheid wat ons met
mekaar het, laat werk.
As post-feminisme se waardes dan verhoudings en vennootskap en die uitruil van
energie tussen mense, en tussen mense en God is, dan hoef ons tog nie daarvoor
bang te wees nie. Dit kan die samelewing net goed doen om dit deur
godsdiensonderrig te doen.
Die tweede vraag is wat feminisme dan kan bydra tot godsdienstige opvoeding:
Godsdiens is nie 'n losmaakding nie - maar durf ons dit vasmaak aan (post-)feminisme? is die vraag wat ons nou hier moet vra. In die verlede het feministe
nie dikwels oor kinders gepraat en geskryf nie, omdat dit vir hulle deel uitgemaak
het van 'n voorstedelike lewenswyse wat baie van hulle verwerp het. Feministe het
ook dikwels lesbiese lewenstyle gehandhaaf omdat dit vir hulle die enigste manier
was om hulle los te maak van mans se goedkeuring. Wetgewing in die meeste lande
was en is nog steeds onsimpatiek om lesbiese paartjies toe te laat om kinders aan
te neem.
Maar daardie tye is verby, en post-feministe is vandag ouers, meestal in
heterogene verhoudings - en hulle skryf baie oor die godsdienstige opvoeding van
dogters, juis omdat godsdiens so 'n sterk invloed op kinders se denkbeelde en
gedrag het.
Een so 'n ontwikkeling is "Girlfriend theology"(2) waar ouer en jonger vroue (sê tussen
dertien en vyftig) 'n groep vorm en mekaar godsdienstig opvoed in hulle teologiese
ervarings. Adolessente meisies en volwasse vroue praat saam oor God, en die teoloë
tussen hulle deel met die ander denke, en denke word tussen mekaar gereflekteer.
Hulle vertel vir mekaar van hulle godsdienstige reis met God, die natuur, die
teologie, die tradisie, die kerk. As sulks beskou hulle hulle lewensverhale as heilige
tekste, wat getuig van godsdienstige belewenisse en die ervaring van die nabyheid
en die teerheid van God.
'n Agenda vir godsdienstige opvoeding
Wanneer ons dan kyk na die agendas wat post-feminisme vir godsdienstige
opvoeding stel, dan staan die vertel van stories voorop. Wanneer ons van stories
praat, verstaan ons nie daaronder versinsels nie maar verhale, in hierdie geval
godsdienstige ego-verhale (oftewel sacred stories).
Ek wil nou graag sewe dinge noem wat post-feminisme op godsdienstige opvoeding
se agenda wil plaas,(3) en ek kies sewe nie omdat dit alles verteenwoordig wat post-feministe aan te bied het nie, maar omdat sewe vir ons godsdienstige mense mos 'n
vriendelike getal is, en omdat die son ook netnou gaan opkom.
Met godsdienstige opvoeding bedoel ek godsdiensonderrig op skool, tuisonderrig
deur die ouers, asook godsdiensonderrig deur kerke, waarna ons nog steeds as
Sondagskool verwys.
Ek wil by hierdie sewe punte ook vinnig verwys na wat ons plaaslike vroue-teoloë
doen om hierdie ideale vir godsdienstige opvoeding te realiseer, en dan miskien ook
op die tragiese wys en dit is dat ons nie die samewerking van die Afrikaanse kerke
(en skole) daarvoor het nie.
- Stories.  Die eerste is dan stories. Saam met die hervertel van die stories
van vroue uit die Bybel, is die hervertel van meisies se verhale waarin hulle
godsdienstige ervarings sentraal staan, baie belangrik in godsdienstige
opvoeding. Vroueteoloë laat nou dikwels boeke die lig sien waarin die stories
van vroue uit die Bybel (as vennote, nie as groter-as-die-lewe ystervroue nie)
oorvertel word, saam met verhale van ons voormoeders, en verhale van
onsself. In September vanjaar verskyn 'n kommentaar op die Bybel, getitel
Lewenstylbybel vir vroue waarin baie onbekende vroue uit die Bybel se
verhale oorvertel word - en so vertel word dat dit vir ons ervaring toeganklik
is, en ook nie mans so aan die neus pluk dat hulle ore toeslaan nie. Hierdie
publikasies sal seker nooit die pienk boekies met die dagstukkies waarin vir
vroue oor vroulike ellende gewroeg word, vervang nie, maar dis 'n begin.
- Post-feministe voel ook ernstig daaroor dat kinders nie opgelei moet word
met die idee dat 'n mens net deur intellektuele kennis tot God en
godsdienstige ervaring kan kom nie, maar ook deur verbondenheid, gevoel, en
dans.
- Post-feministe voel ook dat godsdienstige opvoeding kinders moet wys maak
om aan die lewe deel te neem. Dit sluit opvoeding oor liggaamlikheid in -
netsoos Hooglied in die Bybel 'n boek was waarmee kinders deur die
godsdienstige leier wys gemaak is (wysheid verkry het) hoe om fisiese genot
in 'n verhouding te smaak en te skep. Hier het ons nog plaaslik baie werk om
te doen, dit is nou oor eros in godsdienstige opvoeding.
- Taal speel 'n belangrike rol in godsdienstige opvoeding, omdat taal mense kon
stitueer, oftewel, "skep". Wanneer 'n eensydige geslagtelikheid, soos
byvoorbeeld manlikheid, "geskep" word deur taal wat in liedereboeke of
liturgieë gebruik word, dan skep hierdie godsdienstige taal geslagsrolle
waaraan die verbruikers van die taal moet voldoen.
- 'n Mens kan egter nie net oppervlakte-strukture soos taal verander en dink
dis genoeg nie. Jy moet die diepte-diskoerse, die konsepte en idees wat ons
lewens bepaal, verander. Daarom moet ons ten diepste diskoerse oor mag en
hiërargieë en ons verhoudings tot mekaar aanspreek. En in Afrikaans het ons
'n groot agterstand in dié verband. Dertig jaar gelede (toe ek matriek
geskryf en toe universiteit toe is om teologie te studeer) is boeke vir
Afrikaanse jongmeisies deur die kerk voorgeskryf met titels soos
Doudruppels, Die Jongedogter en haar liefdeslewe, Liefliker as pêrels, en
Skoner as diamante. Uit Mev Gabrielle Malan se Die Jongedogter en haar
liefdeslewe (1974) kom die volgende kosbare stukkie: "Die vrou is uit een van
die man sy ribbebene gemaak. Die ribbebeen is onder die arm en dit
veronderstel weer dat die vrou deur haar man beskerm moet word." En
later: "As al die vroue goed was, sou daar nie so 'n ding soos 'n slegte man
gewees het nie." En later in een van die kerk se amptelike blaaie: "God het
die man geskep om krag en sterkte uit te beeld, maar toe Hy die vrou
geskape het, het hy gedink aan teerheid, sagmoedigheid en stil vertroue.
Haar mooiste versiering is 'n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is
voor God. Maar nee, ons is soms so eiesinnig en opstandig! Ons wil staan op
ons punte en veg vir ons regte."
Dis hierdie tipe diskoerse wat die godsdienstige post-feministe sê verskuif
moet word. Sekerlik is dit tog 'n meisie se godsdiens wat haar die verskil kan
leer tussen kreatiewe selfliefde, en selfsugtigheid. Ook hier moet ons
plaaslike vroue-teoloë nog berge versit as ons 'n nuwe diskoers aan die gang
wil sit.
- Baie is al gedoen, oorsee en ter plaatse, om in ander taal en beelde oor God
te praat - en ook oor vroue. Dis 'n afdeling op sy eie. Ek wil hier net verwys
na 'n boek wat ek onlangs gelees het deur Elizabeth Gray met die titel
Sunday School Manifesto waarin sy kreatiewe metodes voorstel om op 'n .
speelse, vierende manier op Sondagskoolvlak hierdie waardes waaroor ons
praat aan kinders oordra. Die boek is al in 1994 in Europa en Amerika
gepubliseer. Dis tien jaar gelede. Ek sou sê dat ons op hierdie gebied selfs
langer as 10 jaar agter hierdie lande is.
- Godsdienstige opvoeding moet kinders ook opvoed om groter sosiale en
globale kwessies te kan hanteer. Wêreldvrede is, soos julle almal weet, 'n
godsdienstige aangeleentheid. En huishoudelike vrede, natuurlik, ook een.
Veiligheid teen fisiese, emosionele en verbale geweld is godsdienstige
vaardighede wat 'n kind vandag aan moedersknie saam met die Bybel moet
inkry.
Tina se verhaal
Verlede Woensdag by die hospitaal waar ek as 'n studente-berader werk, vertel 'n
vrou my hoe sy cope. Hoe kan ek dit vir u opsom, 'n gesprek so vol diepte en geloof.
Het ek maar 'n bandopnemer by my gehad.
Ek vertrou op God, want God slaap nie, ook nie wanneer ek geslaan word nie.
As ek nie in God se beskerming geglo het nie, het ek nie weer opgestaan nie.
Baie keer. Wanneer ek self kwaad word, bid ek vir God se vrede. God is
vrede. Met God het ek pret. God se liefde is pret. Wanneer ek baie swaar
kry, lees ek die Saligsprekinge in die Bybel. Ek lees van saligheid, van
gelukkig wees, van skoonheid. Dan kan die dag maar kom. Dan kan more maar
kom. Ek gee baie vir ander mense om. Om na ander om te sien, vat jou pyn
weg. En mense sien na my om. Mans is my vriende, al het party van hulle my
al baie swaar laat kry.
'n Mens sou dink dat hierdie vrou 'n goeie "feministiese" godsdienstige opvoeding
gehad het om so oor God en mens en self te kan praat, om so oor skoonheid en
vrede en verhoudings te kan praat om te oorleef. Ongelukkig het 'n godsdienstige
opvoeding haar dit nie geleer nie, maar 'n verkragting op 15, 'n verdere verkragting
op 19, waaruit 'n kind gebore is wat nou 11 is. En toe trou sy met iemand by wie sy
twee kinders het, wat haar vreeslik sleg slaan, en verneuk. Sy is noual drie jaar
MIV positief, wat sy net by hom kon kry. En dit is nie die einde nie. Toe haar
11jarige dogter ook MIV positief getoets is, kom dit vir die eerste keer uit: haar
stiefpa verkrag haar al vandag sy sewe is. Hierdie vrou vind op 'n wonderbaarlike
manier troos uit haar godsdiens. As sy die dinge wat sy nou weet, reeds as dogter
deur die regte godsdienstige opvoeding geleer het, wie weet, het haar lewe dalk
heel anders gelyk. Nou leef ek die toekoms elke dag, sê sy, tot God my na sy huis
toe roep. En ek laat my kop in skaamte sak, want eerder leer ek, die teoloog, by
haar as sy by my.
Godsdiens is nie 'n losmaakding nie
Menere en me'e, godsdiens is nie 'n losmaakding nie. Nie in Afrika nie, en veral nie
onder Afrikaners nie. Om die waarheid te sê, hierdie saak maak van ons ware
Afrikane.
Boonop het studies gewys dat, waar godsdiensonderrig op skole onderdruk word,
godsdiens in die samelewing gegroei en opgeblom het. Ongelukkig is dit gewoonlik
'n vorm van fundamentalisme wat dan opskiet. En fundamentalisme hou nooit goeie
nuus vir vroue in nie, omdat dit terugkeer na die patriargaat as sou dit godgegewe
wees.
Godsdiens is aan die opbloei in Suid-Afrika. Kom ons sien toe dat dit blom met die
insigte van post-feminisme, sodat ons dogters én ons seuns 'n goeie menswaardige
toekoms met mekaar, met ons en met God kan hê.
Afsluiting
Toe ek in standerd 9 was, het my pa een aand in my kamer ingekom, en gesê: Ek dink
jy moet 'n predikant word. Hierdie woorde het die res van my lewe bepaal, al het ek
uiteindelik net 'n freelance-dominee geword. My pa het met sy 80ste verjaarsdag
my gekies om hierdie lesing te gee, en hy het ook die tema gekies, naamlik
feminisme en godsdienstige opvoeding. Dit spreek boekdele van hom, en die respek
wat hy vir alle mense het, veral dan ook vir vroue, en kinders - waar hy as
opvoedkundige sy lewe aan kinders gewy het.
Een ding het ek nie van my pa geërf nie, en dit is 'n voorliefde vir groot woorde. In
hulle tyd wou hulle Afrikaans respekteer deur dit ook in vaktaal te omskep. En dis
verstaanbaar dat dit so was, en 'n mens eer dit. Vandag is dit eerder ons trots om
Afrikaans toeganklik vir 'n openbaar gehoor te gebruik. En daarom kan ek nie
anders as om hom te eer deur op my toeganklikste te sê wat ek nou die dag my seun
vir 'n vriend hoor sê het nie: My ma is 'n bietjie weird, maar my oupa is cool, hoor.
Ivone Gebara, Longing for running water: Ecofeminism and liberation
(Minneapolis: Fortress Press, 1999), pp 101-107.
Dori Grinenko Baker, Girlfriend theology: God-talk across religious borders, in
Religious Education 95.3, Summer 2000, pp 320-339.
Sien Fern M Giltner, Women's issues in religious education (Birmigham,
Alabama: Religious Education Press, 1985).
|