Tweede Willem Landman-gedenklesing
van die ATKV-tak, Centurion: 31 Mei 2001
Johan Beckmann
Departement Onderwysbestuur, Universiteit van Pretoria en Interuniversitêre
Sentrum vir Onderwysreg en Onderwysbeleid
DIE VERHOUDING TUSSEN OUER EN ONDERWYSER:
VERANDERINGS, UITDAGINGS EN GELEENTHEDE
(Deel Twee)
HOE HET DIE VERHOUDING TUSSEN OUER EN ONDERWYSER VERANDER?
Nou dat ek enkele van my persoonlike indrukke van aspekte van die persoon en
werk van prof Landman en die waarde daarvan vir die saak waaroor ek vandag
wil praat met u gedeel het, wil ek kortliks stilstaan by die verandering
(transformasie) van die verhouding tussen ouer en onderwyser.
Die verhouding het dramaties verander oor die afgelope ses of sewe jaar. Dit
is verstommend dat die verandering klaarblyklik vir sommige mense 'n groot
geheim gebly het. (Miskien sou prof Landman gesê het dat sulke mense met
essensieblindheid geslaan is.) Wat is enkele van die wesenlike veranderinge
wat plaasgevind het?
Die wetlike raamwerk waardeur die verhouding tussen ouer en onderwyser
beskryf en begrens word, het dramaties verander. Enkele voorbeelde daarvan
is dat:
- onderwysers in openbare skole nou ouers van alle taal- en rassegroepe moet bedien en dat
onderwysers en ouers nie noodwendig dieselfde kultuur (taal, gebruike, godsdiens, taal,
waardes, ingesteldhede) deel nie
- wetgewing in plek is om die samestelling van die personeelkorps wat in die onderwys diens
lewer demografies meer verteenwoordigend te maak
- die bevoegdhede wat ouers gehad het rakende die aanstelling van onderwysers ingrypend
verander het. In sommige gemeenskappe het hulle aanvanklik na 1994 baie meer
seggenskap as voorheen gekry (die sogenaamde histories-benadeelde gemeenskape) terwyl
ander gemeenskappe gekla het oor 'n afskaling van hulle bevoegdhede. In elk geval is die
magte en bevoegdhede van ouers (soos verteenwoordig deur beheerliggame) midde in 'n
spel tussen die kragte van sentralisering en desentralisering geplaas en het ons nog nie die
einde van die stryd gesien nie
- waar 'n vennootskap voorheen eintlik 'n ideaal was waarby onderwysers ouers sou wou
betrek, dit nou 'n wetlike verpligting volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet is. Dit bring
etlike verpligtinge mee vir ouers soos om skoolgeld te betaal (art 39) en toe te sien dat die
leerders vir wie hulle verantwoordelik is skool bywoon (artikel 3). Dit stel hulle bloot aan
regsoptrede indien hulle nie die skoolgeld waarvoor hulle verantwoordelik is, betaal nie.
Dit is belangrik om daarop te let dat die aard van vennootskappe kan verskil. Daar is
vennootskappe waarin die vennote met mekaar saamwerk soos broers met mekaar
saamwerk in 'n gesindheid wat sou pas by die beskrywing in Psalm 132:
  Hoe goed, hoe mooi is dit
  As broers eensgesind saamwoon.
  Dit is soos reukolie
  wat van die kop af in die baard afloop,
  die baard van Aäron,
  af tot by die soom van sy klere.
  Dit is soos die dou van die Hermonberg
  wat op die berge by Sion val.
In ander vennootskappe is daar eerder sprake van mense wat gedwonge voel om saam te
werk. Ek dink dat daar in die toekoms veranderinge in die kwaliteit en aard van die
onderwyser-ouerverhouding kan kom. Verder wil ek die standpunt stel dat so 'n
vennootskap baie belangrik is en dat die kwaliteit van onderwys wat verskaf word in 'n groot
mate daarvan afhang
- die waarde en die toepassing van die in loco parentis-beginsel aansienlik verander het.
Die verhouding tussen ouer en onderwyser word eintlik nie meer gedefinieer na aanleiding
van die onderwyser se posisie as aanvullende ouer of as opvoeder in die plek van die ouer
nie maar deur die regte wat beide ouer en onderwyser kragtens wetgewing het. So
byvoorbeeld kan die ouer nie meer die onderwyser toestemming gee om lyfstraf op sy kind
toe te pas nie (omdat dit artikel 10 van die Suid-Afrikaanse Skolewet sal oortree), werk
onderwysers wetlik gesproke ooreenkomstig ure waarop daar in kollektiewe bedinging
besluit is en is dit moontlik dat die Wet op Toegang tot Inligting die onderwyser dalk kan
verplig om inligting wat vroeër as professioneel en vertroulik hanteer kan word, aan die ouer
beskikbaar te stel.
Dit lyk duidelik dat die verhouding tussen ouer en onderwyser vandag nie
noodwendig eenvoudig en gemaklik is nie. Hoe gekompliseerd dit kan wees, sal
ek nou probeer aandui met verwysing na hoe die begrip ouer verander het en
steeds besig is om te verander.
Ouers
Ek dink dat as prof Landman ongeveer tien jaar gelede oor hierdie onderwerp
moes praat, hy onder andere sou gevra het: Wat is die wesenlike van ouer-wees
wat vir hierdie gesprek belangrik is en wat of wie is die of 'n ouer?
Laat my toe om die vraag van enkele jare gelede aan die hand van die inligting
wat die verskynsel ouer vandag oor homself openbaar, te probeer beantwoord:
- Die beeld van die gesin waarin daar twee ouers en een of meer kinders is, is nie meer
noodwendig van toepassing nie. Daar is selfs kringe in Suid-Afrika waar dit onvanpas kan
wees om te sê dat mens lid is van 'n sogenaamde kerngesin waarvan die lede 'n HIV
negatiewe status het. As ons (dit wil sê ouers en onderwysers) dus van "ouers" praat, moet
ons versigtig wees dat ons nie (in die woorde van Morrow soos aangehaal deur O'Connell)
ons gevange laat hou deur 'n foto of 'n beeld wat nie werklikheidsgetrou is nie. Dit is myns
insiens een van die mees direkte uitdagings van ons tyd om onsself te bevry van die beeld
van ouers en gesinne wat ons gevange hou en ons verhinder om toepaslik hulp te verleen
aan die kind (leerder) ongeag die gesin waarin hy of sy hom of haar bevind. Dit wil nie sê
dat daar iets verkeerd is met die idee van die kerngesin nie al wat gesê word is dat die
kerngesin nie al gesinstipe is wat bestaan nie en dat daar met alle tipes of strukture rekening
gehou moet word.
In die paragrawe hieronder sal ek poog om aan te toon hoedat ander tipes en strukture in
wetgewing waarmee daar rekening gehou moet word, gereflekteer word.
- Die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 definieer 'n ouer as:
(a) die ouer of voog van 'n leerder; (b) die persoon met wettige aanspraak op sorg vir 'n
leerder; of (c) die persoon wat onderneem om die verpligtinge van 'n ouer of voog of
persoon met 'n wettige aanspraak op sorg vir 'n leerder na te kom.
- In die aanhef van die Wet op Gesinsgeweld van 1998 word onder andere die volgende
motivering vir die promulgering van die Wet gestel:
- gesinsgeweld is 'n ernstige sosiale euwel is
- daar is 'n hoë voorkoms van gesinsgeweld in die Suid-Afrikaanse samelewing is
- die slagoffers van gesinsgeweld is onder die mees kwesbare lede van die samelewing
- gesinsgeweld neem vele vorme aan
- gesinsgeweld kan in 'n wye spektrum van gesinsverhoudings gepleeg word; en
- die bestaande regshulp wat aan die slagoffers van gesinsgeweld beskikbaar is, is as
ondoeltreffend bewys.
Die Wet beskryf 'n gesinsverhouding soos volg:
'n verhouding tussen 'n klaer en 'n respondent op enige van die volgende wyses:
- Hulle is of was met mekaar getroud, met inbegrip van 'n huwelik ingevolge enige wet,
gebruik of godsdiens;
- hulle (ongeag of hulle van dieselfde of teenoorgestelde geslag is) woon saam of het
saamgewoon in 'n verhouding wat die aard van 'n huwelik het, alhoewel hulle nie met
mekaar getroud is of was nie of nie in staat is om met mekaar te trou nie;
- hulle is die ouers van 'n kind of is persone wat ouerlike verantwoordelikhede ten
opsigte van daardie kind het of gehad het (ongeag of dit op dieselfde tydstip is of was);
- hulle is familielede wat aan mekaar verwant is uit hoofde van bloedverwantskap,
aanverwantskap of aanneming;
- hulle is of was in 'n verlowings-, uitgaan- of gebruiklike verhouding, met inbegrip van 'n
werklike of veronderstelde romantiese, intieme of seksuele verhouding van enige
tydsduur; of
- hulle deel of het dieselfde woning gedeel;..
Die Wet definieer gesinsgeweld as:
- fisiese mishandeling;
- seksuele mishandeling;
- emosionele, verbale en sielkundige mishandeling;
- ekonomiese mishandeling;
- intimidasie;
- teistering;
- agtervolging;
- beskadiging van eiendom;
- betreding van die klaer se woning sonder toestemming, waar die partye nie
dieselfde woning deel nie; of
- enige ander oorheersende of mishandelende gedrag teenoor 'n klaer
Ekonomiese mishandeling sluit in:
- die onredelike weerhouding van ekonomiese of finansiële bronne waarop 'n
klaer regtens geregtig is of wat die klaer uit noodsaak benodig, met inbegrip van
huishoudelike noodsaaklikhede vir die klaer, en verband terugbetalings of
betaling van huur ten opsigte van die gedeelde woning; of
- die onredelike vervreemding van huishoudelike besittings of ander eiendom waarin die
klaer 'n belang het;
Emosionele, verbale en sielkundige mishandeling beteken:
'n patroon van verkleinerende of vernederende optrede teenoor 'n klaer, met inbegrip
van:
- herhaaldelike beledigings, bespotting of uitskellery;
- herhaaldelike dreigemente om emosionele leed te veroorsaak; of
- die herhaaldelike tentoonstelling van obsessionele besitlikheid of jaloesie, wat van so
'n aard is dat dit ernstig inbreuk maak op die klaer se privaatheid, vryheid,
integriteit of sekuriteit;
Fisiese mishandeling beteken:
enige handeling of dreigement van fisiese geweld teenoor 'n klaer;
- Artikel 28(1)(b) van die Grondwet van 1996 gee aan elke kind die reg op:
gesinsorg of ouerlike sorg, of op gepaste alternatiewe sorg wanneer die kind uit die
gesinsomgewing weggeneem word;
(Sommige skrywers soos Robinson meen dat die feit dat daar eers na gesinsorg
en dan na ouerlike sorg verwys word, nie toevallg is nie en op 'n diepgaande
skuif in die samelewing en in die denke van die howe oor die verhouding tussen
ouer en kind dui. Ek kan my nie oor die denke van die howe uitspreek nie maar
die implikasies van so 'n moontlike skuif is beslis 'n saak waaroor nagedink
moet word.)
Uit die bostaande verwysings na die bogenoemde drie wette moet afgelei word
dat die beeld van die liefdevolle kerngesin met 'n vader en moeder as ouers
van een of meer goed-versorgde kinders na die mening van die wetgewer op
grond van die heersende situasie in Suid-Afrika aangevul moet word met die
beeld van:
- Mense wat in 'n gesinsverhouding (nie noodwendig as man en vrou nie) met mekaar
betrokke is
- Gesinsorg, ouerlike sorg of alternatiewe sorg omdat dit soms nodig is dat die kind uit die
gesinsomgewing weggeneem moet word
- Kinders wat op verskeie maniere mishandel word (fisies, ekonomies en emosioneel) en
teenoor wie gesinsgeweld gepleeg word op 'n skaal wat wetlike tussenkoms of
intervensie noodsaak
- Kinders wat van voogde of mense met wettige aansprake op sorg vir hulle afhanklik is of
selfs afhanklik is van mense wat vir die doeleindes van die Wet (die Skolewet) as ouers
beskou word onder andere net omdat hulle onderneem om die kinders skool toe te stuur
en skoolgelde te betaal
om 'n volledige prentjie te kry van wie in Suid-Afrika vandag 'n ouer is.
Hoe 'n groot verandering en uitdaging die bogenoemde afleidings vir
skoolbesture (onderwysers) wat gesonde verhoudings met die ouers wil bou,
blyk uit moontlikhede soos die volgende:
- Die broer of suster van kinders in 'n informele nedersetting tree as ouer op
- Die werkgewer van 'n vader tree as ouer op
- 'n Welsynsorganisasie tree as ouer van 'n straatkind op
Dat prof Landman bewus van die leemtes van die tradisionele beeld van die
kerngesin is, blyk onder andere daaruit dat een van sy doktorale studente
ondersoek ingestel het na die rol van grootouers in die opvoeding van leerders.
Bostaande is genoeg bewys van verskuiwings in opvattings oor wat ouers is en
bied baie uitdagings aan opvoeders wat die rol van aanvullende ouer moet
vertolk en volgens wet verplig is om 'n bepaalde verhouding met die ouer van
die leerder (ongeag hoe sodanige ouer ook al lyk), te handhaaf onder andere
deur met die regte en pligte van sodanige ouer rekening te hou.
ONDERWYSERS EN SKOLE
Voordat ek enkele gevolgtrekkings met u deel, wil ek 'n laaste Landman-vraag
met u deel, naamlik wat is die wesenlike eienskappe van onderwysers vandag?
Is dit nog wat dit altyd was? Geld dieselfde aannames van vroeër nog?
Ek gaan enkele antwoorde waag wel wetende dat daar uitsonderings op elke
stelling kan en waarskynlik sal wees en terwyl ek u daaraan herinner dat ek
probeer om in die algemeen oor die onderwyser in die Suid-Afrika te praat en
nie oor 'n spesifieke groep of groepe met wie u goed bekend mag wees nie.
Hoe dit ook al sy, die uitdagings en realiteite wat onder oë gehou moet word,
sluit die volgende in:
- Daar is ongeveer 380 000 opvoeders in die land.
- 'n Baie klein minderheid van hulle is Afrikaanssprekend.
- Tot 25% van hulle kan as ondergekwalifiseerd beskou word (met ander woorde as mense
wat minder as twee jaar opleiding na matriek het).
- Daar word tans baie minder onderwysers opgelei as wat ons nodig het om net voorsiening
te maak vir die natuurlike slytasie deur uittrede, bedankings, ensovoorts. Oor die hele land
in alle onderwysersopleidingsinrigtings is daar volgens sommige bronne tans net ongeveer
1700 eerstejaar onderwysstudente.
- Baie opvoeders sien hulself nie meer as professionele persone nie maar as deel van die
massa werkers wie se optrede deur arbeidsverhoudings en veral deur hulle regte gerig word.
Vir hulle is daar gewoonlik weinig sprake van hulle pligte.
- Artikel 195 van die Grondwet bepaal dat die samestelling van die werkerskorps die
demografie van die land moet weerspieël.
- Die onderwys is ook onderhewig aan die bepalings van die Wet op Billike Diensbetrekkinge.
- Daar is aanduidings dat die owerheid die bevoegdhede van ouers rakende die aanstelling
van opvoederpersoneel geleidelik verminder.
- Die staat voorsien onderwysers vir Suid-Afrika en nie noodwendig vir elke gemeenskap nie.
Gemeenskappe wat besondere eienskappe van onderwysers verlang, sal self pogings moet
aanwend om te verseker dat hulle 'n genoegsame toevloei van sodanige onderwysers het.
- Die instellings wat Afrikaanse onderwysers kan oplei, het dramaties verminder. Daar is druk
(ook uit Afrikaanse geledere) om die getal inrigtings verder te verminder. U het tog seker
die onlangse debat oor Afrikaans as taal aan hoër onderwysinstellings gevolg.
- Die werkdruk op onderwysers neem steeds toe. Dit is haas onmoontlik om kwaliteit
onderwys te bly voorsien tensy daar op nuwe maniere hulp aan onderwysers voorsien word -
ook deur ouers, ook in die klaskamer.
- Dit raak al moeiliker om onderwysers te werf.
- Daar is voorsiening vir professionele beheer oor onderwysers maar die strukture sukkel om
aan die gang kom. Optrede deur die owerheid teen wangedrag is nie die orde van die dag
nie.
- Die beeld van die ou meester (die professionele opvoeder wat net die beste belange van
die kind op die hart het) is nie noodwendig van al 380 000 opvoeders waar nie. In 'n
ontstellende verslag van die Human Rights Watch (Maart 2001) word onder andere gestel:
I:
- South African girls too often encounter violence in their schools. South African girls continue
to be raped, sexually abused, sexually harassed, and assaulted at school by male
classmates and teachers.
- For many South African girls, violence and abuse are an inevitable part of the school
environment. Although girls in South Africa have better access to school than many of their
counterparts in other sub-Saharan African states, they are confronted with levels of sexual
violence and sexual harassment in schools that impede their access to education on equal
terms with male students.
- Violence against women in South African society generally is widely recognized to have
reached levels among the highest in the world.
GEVOLGTREKKINGS
- Die verhouding tussen ouer en onderwyser het en is besig om dramaties te verander. Meer
dramatiese veranderings kan waarskynlik verwag word soos die nuwe bedeling en ideale
van die owerheid al verder ontplooi en die gemeenskap al meer bewus word van die
bestaan van 'n nuwe geslag onderwysers en ouers.
- Diversiteit in die samestelling van die ouer- en die onderwyserskorpse van spesifieke skole
sal al hoe meer realiteite word. Diversiteit sal nie vanself vir en in elke skool 'n bate word
nie maar sal noukeurig bestuur moet word om seker te maak dat kinders se regte en
belange nie nadelig deur die veranderings rakende die samestelling van ouer- en
onderwyserskorpse geraak word nie en om te verseker dat behoorlike norme steeds in skole
aan kinders voorgeleef word. Vennootskappe sal nie noodwendig almal meer die
gesindheid van broederlike eensgesindheid vertoon nie. Diegene wat in sodanige
vennootskappe betrokke is, sal hulle ook eenvoudig moet laat werk ter wille van die
opvoeding van die kinders en die welsyn van die land. Dit lyk vir my na 'n gegewe
onvermydelikheid.
'n Sosiale kontrak (wetlike werkooreenkoms) tussen ouers en opvoeders kan 'n nuttige rol
speel al hou dit gevare in.
- Die ouergemeenskap sal meer as ooit 'n rol moet speel om te verseker dat skole aan hulle
kinders die onderwys bied wat hulle regtig verlang.
- Ouergemeenskappe sal moet help sorg dat genoeg onderwysers opgelei word vir
dienslewering aan skole.
- Die breër gemeenskap en sy organisasies het net soveel belang by die skoolstelsel as die
ouergemeenskap en sal hulle aktief moet bystaan.
- Die nuwe generasie ouers sowel as die nuwe generasie onderwysers sal bemagtig moet
word met betrekking tot 'n opvoedkundig-aanvaarbare verhouding met mekaar en rakende
die rol wat hulle in die opvoeding van die kind behoort te speel.
- Die verhouding tussen ouer en onderwyser kan maklik tot nadeel van die leerders en die
hele land heeltemal skeefloop.
SLOT
Dit is waarskynlik so dat 'n bespreking van die uitdagings, geleenthede en
realiteite kan lei tot 'n gevoel dat die uitdagings oorweldigend is. Wanneer
mens nie meer die geleenthede raaksien nie maar slegs probleme, is dit goed
om weer na Willem Landman se verantwoording van sy werk te kyk en te onthou
dat daar Een is wat net 'n woord gespreek het en daardeur alles in aansyn
geroep het. Daardie selfde Een kan en wil ook vandag vir ons wys hoe om
ouer-onderwyser-verhoudinge so te reël dat ons nie eendag sal hoef weg te
kruip wanneer Hy vra: Wat het julle met my eer gedoen nie?
Terug na Deel Een
|