Professor W A Landman


Terug na titels van publikasies

Terug na Tuisblad

AANWENDING VAN DIE EIE ERVARING IN 'N NAVORSINGSVERSLAG
(WERKSTUK, SKRIPSIE, VERHANDELING, PROEFSKRIF)

W A Landman
Instituut vir Opvoedkundige Navorsing
Universiteit van Suid-Afrika

INLEIDEND

Baie nagraadse studente in die opvoedkunde beskik oor waardevolle ervaring. Dié ervaring kan betekenisvol daartoe bydra om navorsing te verryk. So kan daar byvoorbeeld op grond van die eie ervaring vrae ontstaan. Wanneer dié vrae geformuleer, saamgevoeg en georden word, kan 'n probleemstelling ontstaan. Die eie ervaring kan ook aangewend word om die uitsprake wat deskundiges maak te toets (verifieer). Op die wyse sal 'n mens nie in 'n valsheid verval soos die volgende nie: "Omdat A ('n outoriteit) so gesê het, is dit waar". Verder kan die eie ervaring ook gebruik word vir probleemoplossing. Uit 'n artikel wat bestudeer word kan byvoorbeeld blyk dat die skrywer erken dat hy nie daartoe in staat is om sekere vrae te beantwoord nie. Iemand met ervaring kan moontlik oor 'n antwoord wat deur ervaring voortgebring is, beskik. Dit is ook noodsaaklik dat aanbevelings wat voortspruit uit navorsing wat onderneem is aan iemand se ervaring getoets moet word.

Uit die voorgaande paragraaf kan daar afgelei word dat die ervaring wetenskaplik betekenisvol kan wees. Dit beteken beslis nie dat die ervare persoon sy ervaring op onwetenskaplike wyse mag aanbied nie. Die kanse is groot dat navorsers op dun ys beweeg wanneer die eie ervaring aangebied word onder aanlope soos:

Die ervaring het my geleer dat .....

In die lig van die ervaring wat ek gehad het, staan die saak so .....

Soos my eie ervaring bewys het .....

Dit is vanselfsprekend dat ..... omdat ek dit persoonlik ervaar het.

Sonder vrees vir teenspraak kan ek op grond van my eie ervaring sê ...

Niemand wat dieselfde ervaring as ek gehad het, sal die volgende stelling in twyfel kan trek nie .....

Vir enige ervare mens sal die volgende stelling duidelik wees .....

Daardie opvatting is waar omdat mense met onderwyservaring sê dis waar.

ERVARING EN BELANGSTELLING

Dit gebeur dikwels dat daar belangstelling bestaan vir 'n saak waarvan daar op die een of ander wyse ervaring opgedoen is. Die onderwerp (probleem) wat in die ervaringswêreld van 'n nagraadse student voorgekom het, spoor hom/haar aan tot persoonlike inspanning en tot entoesiastiese deelname. Verdere winste van die belangstellende (vanweë ervaring) student is aktiewe selfbetrokkenheid by die navorsing vir 'n werkopdrag of navorsingsverslag (M/D) wat gepaard kan gaan met inisiatief, produktiewe kritiese denke, skerp navorsingsingesteldheid en aanvaarding van volle verantwoordelikheid vir die kwaliteit van die navorsingsverloop. Dit beteken dat die student 'n tema vir sy/haar werkopdrag/skripsie/verhandeling/proefskrif moet kies waarvoor daar ervaring bestaan en vanweë ervaring, belangstelling.

In die lig van die voorgaande stellinge sal dit sinvol wees om 'n prosedure te ontwerp wat aangewend kan word om die student se persoonlike tersaaklike ervaring op wetenskaplik verantwoorde wyse te mobiliseer en te organiseer. Dit is die doel van hierdie studiestuk om so 'n prosedure te beskryf.

Die gevaar bestaan dat die student sy eie ervaring as waarheid kan verklaar en sodoende ongegrond wetenskaplike status daaraan gee. Om werklik wetenskaplike status te hê, sal die student sy eie ervaring duidelik in die lig moet stel, dus verantwoordelik verwoord en dan oorgaan tot 'n sistematiese analise en evaluering daarvan.

Met die neerskryf (verwoording) van die eie ervaring sal die student vooraf moet weet dat hy die volgende gaan doen:

1. Hy gaan homself openbaar aangesien die beskrywing van sy ervaring eintlik 'n selfbeskrywing is. Die student stel hom dan daarop in om ter wille van sy selfbeeld 'n beskrywing te gee waarvan die kwaliteit en tersaaklikheid nie bevraagteken kan word nie.

2. Hy gee in sy ervaringsbeskrywing 'n weergawe van sy persoonlike wêreld vanuit sy persoonlike standpunt. Sy beskrywing moet derhalwe in die eerste persoon wees sodat

(a) hy voortdurend sal weet dat dit persoonlike uitinge is wat neergeskryf word.

(b) hy by die herlees van sy beskrywing telkens kan vra of dit werklik sy eie ervaring is wat neergeskryf is, of dit die allerbeste wyse van neerskryf is en of die treffendste en tersaaklikste voorbeelde van die eie ervaring geselekteer is vir beskrywing.

3. Hy sal in sy beskrywing aandag gee aan die interpretasie van gebeurtenisse waarby hy betrokke was. Sy eie betrokkenheid moet duidelik beskryf word en dit moet duidelik wees waar beskrywing van die student se werklike ervaring ophou en waar sy interpretasie daarvan begin. Om die student hiermee te help sal dit raadsaam wees om gebruik te maak van opskrifte soos 'Beskrywing van eie ervaring' en 'Interpretasie van eie ervaring'. Laasgenoemde opskrif kan soms uitgebrei word na: 'Eie interpretasie van my ervaring' en 'Kollegas se interpretasie van my ervaring'.

4. Die student se beskrywing van sy eie ervaring is openbaring van betekenisse wat hy ervaar en beleef het. Dit beteken dat hy klem sal laat val op betekenisvolle momente in sy ervaring en dat hy ook sal interpreteer in terme van betekenis. Dit beteken dat hy slegs betekenisvolle ervarings sal beskryf en ook sal sê wat dit beteken. Hy sal byvoorbeeld 'n vraag soos die volgende moet beantwoord: Wat beteken hierdie besondere ervaring vir die oplossing van die probleem waaroor my navorsing gaan?

5. Hy sal die beskrywing van sy ervaring en die interpretasie van die betekenis daarvan, voortdurend krities moet evlaueer.

PROGRAM VIR DIE NEERSKRYF EN ONTLEDING VAN DIE EIE ERVARING

EERSTE STAP:

Neem die navorsingsonderwerp (werkstukopdrag, skripsie, verhandeling-, proefskrif-tema) en skryf neer aspekte daarvan wat ervaar is.

Byvoorbeeld:

Tema: Leerling-voorkeure en -belangstelling se invloed op kurrikulering.

Ervaringsaspekte:

(i) Onderrig van spysverteringsappe.

(ii) Ekologie

TWEEDE STAP:

Skryf die DRIE duidelikste (treffendste, skerpste, mees betekenisvolle) eie ervaringe neer.

Ervaring 1: (Byvoorbeeld)

Elke leerling het 'n tabel waarop die spysverteringsappe verskyn voor hom/haar. Terwyl ek die terme in die tabel verduidelik en die werking van die sappe met mekaar vergelyk, merk ek op

(i) gebrek aan belangstelling wat blyk uit slaperige voorkoms en 'n rondvroetel met die biologie-handboek.

(ii) gebrekkige en onentoesiastiese deelname aan die bespreking.

(iii)swak en min antwoorde toe daar gekontroleer is of die leerlinge begryp

het, dui op swak leerlingdeelname.

Ervaring 2: (Byvoorbeeld)

Elke leerling word voorsien van 'n biologie werkkaart wat oor 'n bepaalde ekologiese probleem handel.

Terwyl ek die samestelling en vereistes van die werkkaart verduidelik, merk ek op:

(i) sterk belangstelling wat blyk uit 'n op-en-wakker voorkoms van die leerlinge.

(ii) leerlinge se entoesiasme is sodanig dat hulle dadelik wil begin met die voltooiing van die werkkaart.

(iii)leerlinge begin met mekaar gedagtes te wissel en vrae van my kant af

word met die verwagte kwaliteit beantwoord. 'n Wil-deelneem word opgemerk.

Ervaring 3:

Met die biologie-eksamens vergelyk ek die gemiddelde punte wat behaal is met die spysverteringsvraag en die ekologie-vraag.

Ek merk op:

(i) 'n betekenisvolle beter prestasie met die ekologie-vraag as met die sap-vraag.

(ii) dat leerlinge ten aansien van die ekologie-vraag beslis addisionele leeswerk gedoen het. Hieruit kan afgelei word dat daar belangstelling in en entoesiasme vir ekologiese vraagstukke bestaan en 'n gewilligheid om deel te neem aan die oplossing daarvan.

Ervaring 4:

Aan die einde van die skooljaar het ek 'n vraelys aan elke leerling gegee vir voltooiing. Die vraelys het bestaan uit die inhoudsopgawe van die biologie-handboek, met die volgende beoordelingskaal langs elke item:

4 - hou besonder baie van

3 - hou baie van

2 - hou nie van

1 - hou niks van

Die uitslag was soos volg vir

(a) Spysverteringsappe

4 - 0%

3 - 10%

2 - 40%

1 - 50%

(b) Ekologiese temas

4 - 50%

3 - 40%

2 - 10%

1 - 0%

Eie interpretasie:

Die meeste st. 8 leerlinge hou betekenisvol meer van ekologie as van spysverteringsappe. (Terwyl die st. 8 seun veral daarop ingestel is om homself vaak te eet en dan daarna honger te slaap).

DERDE STAP:

Tree in gesprek met kollegas en met erkende deskundiges ten einde

(i) die eie interpretasie te toets (d.w.s. te verifieer)

(ii) soortgelyke ervarings met leerling-voorkeure en -belangstelling te verneem.

VIERDE STAP:

Neem DRIE stellings (gedagtes, uitsprake, idees) in die vertelling (beskrywing van eie ervaring) en doen die volgende:

Stap 1

Reduseer elke stelling tot een of twee sleutelwoorde en gee die woordeboekbetekenis en vakwoordeboekbetekenis indien begrippe (sleutelwoorde) gebruik word wat opheldering nodig het.

TABEL

Eerste ervaring

Sleutelwoord 1 Gebrek-aan-belangstelling

Sleutelwoord 2 Gebrekkige entoesiasme

Sleutelwoord 3 Swak leerlingdeelname

Tweede ervaring

Sleutelwoord 1 Sterk belangstelling

Sleutelwoord 2 Motiverende entoesiasme

Sleutelwoord 3 'n Wil-deelneem

Derde ervaring

Sleutelwoord 1 Beter prestasie

Sleutelwoord 2 Aansporende belangstelling

Sleutelwoord 3 Opwekkende entoesiasme

Vierde ervaring

Sleutelwoord 1 Voorkeur

Sleutelwoord 2 Afkeur

Sleutelwoord 3 Geen

Stap 2

Beantwoord die volgende vraag ten aansien van die tabel. Is die student tevrede dat al die sleutelwoorde

1. sy ervaring die beste beskryf? JA/NEE

2. nie weggelaat kan (mag) word in die beskrywing nie? JA/NEE

Let wel:

(a) JA by 1. en 2. beteken dat die sleutelwoorde essensies genoem mag word.

(b) NEE by 1. en 2. beteken dat die student weer van vooraf moet begin.

Stap 3

Die essensies (sleutelwoorde) is 'n weerspieëling van die sake uit die student se ervaring wat hy wil beklemtoon, dus wat hy as baie belangrik ag. Indien daar by die bestudering van die tabel ander sake is wat van belang is wat hy vergeet het of oorgesien het, skryf hy dit neer.

Stap 4

Bekyk die tabel weer eens krities en beantwoord die volgende vraag: Is die student seker dat daar geen verdraaiings (foutiewe voorstellings, verkeerde weergawes) in voorkom nie? JA/NEE.

Opmerking: Waar NEE geantwoord word moet die besondere weergawe (essensie, sleutelwoord) geskrap word. So kom die ware feite (waarheid ten aansien van die eie ervaring) aan die lig.

Stap 5

Is daar enige weersprekings in die voorgaande tabel? JA/NEE.

Opmerking: 'n NEE-antwoord beteken dat die wesenlike van die eie ervaring nou helder skyn.

Stap 6

Skryf die tema (of boodskap) wat spreek uit die voorgaande tabel neer: leerling-voorkeure en -belangstelling moet in aanmerking geneem word by kurrikulering.

Opmerking: Dit wat as 'n tema (boodskap) verskyn kan as die wesenlike van die eie ervaring beskou word.

VIERDE STAP

Stel nou die tema (boodskap) van die eie ervaring in hipotesevorm: Leerling-voorkeure en -belangstelling is kurrikulumdeterminante.

VYFDE STAP

Welke navorsingsprosedure(s) word opgeroep deur die hipotese wat so pas gestel is? Vraelys, onderhoude, literatuurstudie. (Literatuur wat bestudeer moet word is byvoorbeeld tydskrifartikels wat die volgende woorde in die betiteling bevat: kurrikulering en die sleutelwoorde wat in die tabel verskyn.

SESDE STAP

Skryf 'n verslag.

o-0-o