Professor W A Landman


Terug na lys van publikasies

NAVORSINGSMETODOLOGIE VIR NIE-FORMELE ONDERWYS:
MANNEKRAG-OPLEIDING:
DIE WERKSITUASIE AS TEIKENGROEP VIR NAVORSINGSMETODES


1.  INLEIDEND

Indien daar aangetoon kan word dat nie-formele onderwys in 'n besondere verhouding staan tot die werksituasie waarin die tipe onderwys kan geskied asook met die werksituasie waarin sekere leerders uiteindelik opgeneem sal word, sal die sin en noodsaaklikheid van 'n analise van werksituasies gedemonstreer kan word. Dit sal verder beteken dat die volgende saak besondere moontlikhede inhou: analise van die werksituasie as navorsingsmetode ten einde daartoe in staat te wees om op wetenskaplik-verantwoorde wyse vir nie-formele onderwys te kurrikuleer, dus om nie-formele onderwysgerigte kurrikulum-navorsing te doen.

Analise van 'n werksituasie, het as hoofkomponent die werksontleding (job analysis) wat 'n 'n sistematiese studie is van spesifieke take en handelinge wat vir 'n bepaalde werk vereis word (Gouws, Louw, Meyer, Plug, 1979:332).

2.  NIE-FORMELE ONDERWYS (NFO) EN DIE WERKSITUASIE

In hierdie paragraaf gaan dit om verwysings in literatuur wat handel oor nie-formele onderwys ten einde vas te stel of die verwysings daarin na die werksituasie kan dien as regverdiging vir 'n ondersoek na die navorsingsmetodologiese betekenis van werkontledings en die implikasies daarvan vir kurrikulumnavorsing.

2.1  Witskrif oor onderwysvoorsiening in die Republiek van Suid-Afrika (1983)

Die Regering neem kennis daarvan dat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) deur die Onderwystaakgroep versoek is om navorsing te doen oor 'n aantal aspekte waaronder "werkinskakeling, werkervaring of praktiese werk gedurende die sewende, agtste en negende jaar van leerplig" (p 25).

Ten einde sinvolle inskakeling in en ervaring van die werksituasie te verseker moet dit geskied in die lig van spesifieke beroepsvereistes. Wat die relevante beroepsvereistes is, kan skerp bepaal word deur die aanwending van werkontledings op so 'n wyse dat dit in diens gestel kan word van effektiewe kurrikulering. Die gaping tussen beroepsvereistes en die geskooldheid van die leerder deur formele onderwys, kan as leerbehoefte raakgesien word. Kurrikulumontwikkeling in nie-formele onderwys kan gebaseer wees op geïdentifiseerde leerbehoeftes.

2.2  Van der Stoep, F: Nie-formele onderwys (NFO) (Van der Stoep, 1984:138, 141, 98)

Daardie aspek van nie-formele onderwys wat te make het met werkgeoriënteerde doelwitte heg besondere waarde aan die verwerwing van vaardighede en die uitbreiding van tegniese kennis ten aansien van 'n besondere beroep. Die direkte betrokkenheid van leerders ten aansien van die inhoud en organisasie van leerhandelinge in die praktiese werksituasie is noodsaaklik. Een wyse om hierdie direkte betrokkenheid te organiseer is om dit te doen in terme van werkontledings wat kan dien as riglyne vir kurrikulumnavorsers.

Die werkontleding wat navorsingsmetodologies aangewend kan word met die oog op wetenskaplike kurrikulering vir nie-formele onderwys kan dan as sinvolle aktiwiteit aangedui word.

2.3  Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (Wijnbeek, 1984:47, 49)

Nie-formele onderwys is taak- of vaardigheidsgerig, duidelik omlynde en funksionele leerbehoeftes word geïdentifiseer en die kurrikulum is praktykgerig. Bekwaamheidsgerigte onderwys vereis kurrikula wat gerig is op die behoeftes van die werker.

Werkontledings beoog onder andere om leerbehoeftes in terme van taak- en vaardigheidsvereistes aan die lig te bring en kan dus dien as sinvolle instrument om navorsingsmetodologies aan te wend in diens van kurrikulumnavorsing.

Nie-formele onderwys wat gerig is op onderwysaktiwiteite wat uitgevoer word buite die raamwerk van die formele onderwyssisteem om te konsentreer op die leerbehoeftes van besondere subgroepe, gaan primêr om die identifisering van leerbehoeftes en die verwydering daarvan deur effektiewe kurrikulering en daaruit voortvloeiende opleidingsprogramme, albei aangeleenthede wat steun op kurrikulumnavorsing.

Uit die voorgaande betoog kan nou die afleiding gemaak word dat werkontledings (as moontlike navorsingsmetode) 'n sinvolle aktiwiteit mag wees. Aangesien dit egter gaan om nie-formele onderwys, sal die aangeleentheid van werkontleding vanuit 'n besondere perspektief bestudeer moet word, die leerbehoefte-perspektief. Dit word gedoen ten einde 'n navorsingsmetode te voorsien vir kurrikulumontwikkeling en die ontwerp van opleidingsprogramme vir leerbehoefte-fundering.

As aanloop tot die aanwending van die leerbehoefte-perspektief, sal daar ten einde toereikende begryping te bevorder eers aandag gegee moet word aan die struktuur en betekenis van werkontledings. Tydens die uitleg van wat werkontledings behels, sal daar ook aandag gegee moet word aan die betekenis van werkontledings vir kurrikulumnavorsing. Die volgende moontlikhede kan ondersoek word ten aansien van gapings tussen 'n leerder se geskooldheid in die formele onderwys-stelsel en werkvereistes:

  • die nie-formele onderwys respektiewelik opleidingsprogramme wat nodig is om dié gaping te oorbrug (Nie-formele onderwyskurrikulumnavorsing).

  • kurrikulumnavorsing wat nodig is om formele onderwys so te kurrikuleer dat daardie gaping so klein as moontlik sal wees. Dit kan impliseer dat loopbaangerigtheid en die aanleer van beroepsvaardighede ingebou moet word in formele onderwys-kurrikula. Op hierdie wyse dien formele onderwys dan die saak van mannekragopleiding.

3.  LEERBEHOEFTE-BEPALING EN KURRIKULUMNAVORSING

Kurrikula (met die veronderstelde sillabusse) is 'n weergawe van die geselekteerde inhoud ten aansien van 'n bepaalde vak en is dikwels ook 'n aanduiding van welke leerervarings leerders by betrokke moet raak. Werkontledings is 'n weergawe van die inhoud van 'n bepaalde werk asook van die uitkoms van die leerervarings van diegene wat in staat is tot doeltreffende werkverrigting.

Tussen sillabusinhoud en werkinhoud en sillabus-leerervarings en werkdoeltreffendheid (as gestelde leerervaring) kan daar 'n beduidende gaping wees (en is daar meesal 'n aanvaarbare gaping). Dit is hierdie beduidende gaping waaraan die naam leerbehoefte gegee kan word. Die leerder het behoefte (selfs nood) daaraan dat dié gaping deur leer oorbrug moet word.

Verder: die ideaal kan wees dat die leergaping deur sinvolle kurrikulering (wat die uitkoms is van kurrikulumnavorsing) so klein as moontlik gemaak (en gehou) moet word. Dié stelling beteken dat die leergaping 'n vrugbare bodem vir kurrikulumnavorsing sal wees.

Die beduidende leergaping wat in die voorgaande betoog verskyn het, kan geoperasionaliseer word op die volgende wyse: vergelyking van sillabusinhoud en leerervarings met werkinhoud en verwagte geleerde ervaring. Uit hierdie vergelyking vloei dan voort:

  • identifisering van leerbehoeftes

  • kurrikulumnavorsing met die oog op kurrikulumontwikkeling

Die geïdentifiseerde leerbehoeftes vorm die basis van en motivering vir nie-formele onderwys-opleidingsprogramme asook vir kurrikulumontwerp van nie-formele onderwys (kurrikula vir voldoening aan leervoorwaardes met die oog op doeltreffende arbeidsbeoefening en vir kompenseringsonderwys vir doeltreffende inskakeling by formele onderwys). Beide kurrikulumontwikkeling en kurrikulumontwerp is aangeleenthede vir kurrikulumnavorsing.

Die fenomenoloog sal verder soos volg wil handel met die komponente van die geïdentifiseerde leergaping: onderwerping daarvan aan die fenomenologiese denkstappe sodat die essensiële raakgesien kan word en dan geskei kan word van die nie-essensiële. Die volgende fenomenologiese vrae kan gevra word:

  • Kan 'n bepaalde komponent maar geïgnoreer (weggedink, weggehandel) word aangesien die regstelling (implementering) daarvan geen verskil sal maak aan die leerder wat as werker moet optree nie?

  • Hoe is dit gesteld met die uitwissing van die gaping tussen leerder-wees en werker-wees indien die kontradiksie van 'n bepaalde komponent verwerklik sal word?

  • Dien die regstelling van 'n bepaalde komponent werklik tot uitwissing (of vernouing) van die leergaping?

  • Kan die komponente ten aansien waarvan hierdie vrae gevra is en 'n foutiewe antwoord verkry is, werklik as die essensiële helder verskyn indien dit geskei word van die nie-essensiële (dus komponente ten opsigte waarvan negatief geantwoord is)?

Die kurrikulumdeskundige sal nou die geïdentifiseerde gaping tussen skoolse leeruitkomste (formele onderwys-geskooldheid) en verwagte werkdoeltreffendheid as vertrekpunt vir kurrikulumnavorsing moet onderneem. Eers moet daar egter vasgestel word of werkontledings hulle hoegenaamd leen vir dit wat in die pas afgelope betoog gestel is.

4.  WERKONTLEDINGS, NIE-FORMELE ONDERWYS EN KURRIKULUMNAVORSING

4.1  Siegel, L en Lane, I M: "Job analysis and occupational classification" (1982: hoofstuk 4)

Werkontledings is opsommings van inligting oor take wat uitgevoer moet word om 'n besondere werk te verrig en ook die werkkonteks (fisiese en sosiale werkomgewing). Werkanalises kan 'n besondere bydrae maak tot die ontwerp van kurrikula vir beroepsgeoriënteerde opleidingsprogramme.

Hierdie stelling van Siegel en Lane dui daarop dat werkontledings betekenisvolle komponente kan wees van 'n kurrikulum-navorsingsprogram. Werkontledings kan navorsingmetodologies aangewend word in die daarstelling van effektiewe opleidingsprogramme.

Siegel en Lane stel dit dat die items van 'n werkontleding kan dien as afhanklike veranderlikes vir verdere navorsing. Hieruit kan moontlik die afleiding gemaak word dat die mate en aard van die geskooldheid (as uitkoms vir formele onderwys) kan dien as onafhanklike veranderlikes. Geskooldheid is 'n veranderlike wat gevarieer kan word en daarom sal die verskil daarvan met werkvereistes telkens anders wees. Dit is hierdie verskil wat 'n gaping reflekteer en wat as 'n leerbehoefte geïdentifiseer kan word. Geïdentifiseerde leerbehoeftes dien op hulle beurt weer as aanleiding tot kurrikulumnavorsing met die oog op kurrikulumontwikkeling vir nie-formele onderwys.

Dit is nie die taak van navorsers in die nie-formele onderwyssektor om werkontledings te doen nie, maar om kennis te neem van bestaande werkontledings en om dan die kurrikulum-implikasies daarvan aan die lig te bring. Siegel en Lane wys daarop dat sekere aktiwiteite en funksies wat gebruik word in die bekende Dictionary of Occupational Titles* deel uitmaak van funksionele werkontledings. Die vraag wat ontstaan is: moet hierdie aktiwiteite en funksies nie kurrikulêr weerspieël word nie, sodat die gaping tussen geskooldheid (formele onderwys) en werkvereistes vernou kan word nie? Die kurrikulumnavorser sal met die hulp van die navorsingsprosedures wat tot sy beskikking is aandag moet gee aan:

  • die mate waarin beroepsaktiwiteite weerspieël word in alle formele onderwys-kurrikula en hoe dit versterk kan word. Op die wyse kan die loopbaangerigtheid van alle skoolvakke (formele onderwys) verhoog word;

  • die kurrikulêre oorbrugging wat noodsaaklik is om, wat hierdie aktiwiteite betref, die gaping tussen formele onderwys en werkvereistes te vernou. Voortvloeiende hieruit sal ook die organisering van nie-formele onderwys-opleidingsprogramme wees.

Die aktiwiteite en funksies waarvan daar in die voorgaande sprake is, word soos volg aangedui in die Dictionary of Occupational Titles:

Summary of activities and functions used in the Dictionary of Occupational Titles

DATA
PEOPLE
THINGS
  1. Synthesizing
  2. Coordinating
  3. Analyzing
  4. Compiling
  5. Computing
  6. Copying
  7. Comparing
  1. Mentoring
  2. Negotiating
  3. Instructing
  4. Supervising
  5. Diverting
  6. Persuading
  7. Speaking, signaling
  8. Serving
  9. Helping, taking instructions
  1. Setting-up
  2. Precision work
  3. Operating, controlling
  4. Driving, operating
  5. Manipulating
  6. Tending
  7. Feeding, offbearing
  8. Handling

Source : Dictionary of Occupational Titles. 4th ed (Washington, D C : U S Government Printing Office, 1977:p xviii.

Hierdie aktiwiteite en funksies hou vir die kurrikulumnavorser 'n besondere moontlikheid in en dit kan aangewend word as kriteria vir kurrikulumevaluering.

4.2  Muchinsky, P M : "Job Analysis" (1983: hoofstuk 3)

'n Werkontleding is 'n prosedure wat nuttig is vir die identifisering van die kriteria of werkverrigting-dimensies van 'n bepaalde werk. 'n Werkontleding vertoon kriteria vir effektiewe werkverrigting.

In die lig van hierdie definisie van Muchinsky sal 'n leerbehoefte gedefinieer kan word as die gaping (leemte) wat daar bestaan tussen kriteria vir effektiewe werkverrigting en leerreste (uitkoms van wat die leerder in formele onderwys geleer het). Leemte-identifikasie is 'n besondere kurrikulêre aktiwiteit en die leemtes waarvan daar hier sprake is, kan op tweërlei wyse verminder of selfs uitgewis word:

  • Navorsingsondersteunde kurrikulumontwikkeling

  • Nie-formele onderwys.

Kriteria vir effektiewe werkverrigting kan in 'n navorsingsprogram aangewend word as kriteria vir kurrikulumevaluering met die oog op kurrikulumontwikkeling.

Verskillende navorsers het reeds aangetoon dat werkontledings praktiese instrumente is vir toepassing in kurrikulumontwikkeling, beroepsoriëntering en opleiding (Banks, Jackson, Stafford, Warr, 1983:57-66). Dit is veral die geval met werkontledings wat voldoen aan wetlike (geregtelike) eise (Thompson, 1982:865-874).

4.3  McCormick, E T & Ilgen, D R: "Jobs and job analysis" (1980: hoofstuk 4)

Werkontledings bevat die versameling en analise van enige werkgeoriënteerde inligting. Dit is die proses waardeur inligting oor werk bekom kan word. McCormick en Ilgen wys verder daarop dat daar geen plaasvervanger is vir beskikbare relevante inligting nie. Relevante inligting aangaande werk en die betrokke individue dra betekenisvol by tot die doen van korrekte beslissings. Een besondere beslissing wat deur dié skrywers aangedui word, is beslissings aangaande die beplanning van kurrikula.

4.4  Orpen, C: "Job Analysis" (1979: hoofstuk 1)

Werkontledings voorsien kennis van die aard en vereistes van 'n bepaalde vorm van werk en van werksituasies. Werkontleding is 'n proses waardeur inligting aangaande take en omstandighede van 'n bepaalde werk versamel word. Dit moet 'n saamgestelde beeld gee van die essensies van 'n gegewe werk.

Van besondere belang vir die navorser is Orpen se uiteensetting van die inhoud van werkbeskrywings. Volgens hom moet 'n omvattende werkbeskrywing die volgende inligting bevat:

WORK PERFORMED

  1. What the worker does, including all his physical and mental responses in the work situation.

  2. How the worker does it, including a full description of all the tools and machinery used as well as the kinds of calculations and judgements made by the worker.

  3. Why the worker does it, covering the purpose of the job and the relationship of each task performed to this purpose.

SKILLS INVOLVED

  1. Level of responsibility, including details about the machines and equipment the worker has under his control, what personal contacts he develops and maintains and the variety and extent of relationships he has with other employees.

  2. Job knowledge, covering what the worker needs to know of equipment, materials, techniques and procedures.

  3. Experience and training, including amount of time spent on the same or similar jobs and level and kind of formal education, covering both academic and technical training.

CONDITIONS OF WORK

  1. Social context, including a full description of the interpersonal context within which the worker performs his duties, especially whether he works alone or with others and how closely he does so.

  2. Physical context, covering such things as conditions of illumination and ventilation in the workers' immediate environment, the dangers and hazards involved in what the worker does and the amount of space he is given.

  3. Job opportunities, including a detailed analysis of current and future pay, possibilities for promotion and opportunities for transfer.

  4. Relation to other jobs, covering such aspects as to whom the worker reports, how often and in what way, how much assistance he requires from others to fulfil the demands of the job and how much control he exercises over those who assist him.

Die navorser wat ingestel is op kurrikulumontwikkeling sal in so 'n werkbeskrywing soek na kriteria wat hy kan gebruik vir die evaluering van kurrikula (formele onderwys en nie-formele onderwys). Skerp kriteria vir kurrikulumevaluering is die inhoud van die werkbeskrywing en is veral waardevol vir leemte-identifisering waar 'n leemte raakgesien word as die verskil tussen leerreste (geskooldheid) van formele onderwys- en werkvereistes. Leemte-uitskakeling deur programme van nie-formele onderwys kom dan onder die soeklig. Kurrikulumontwikkeling sal vervolgens gerig wees op navorsing ten aansien van leemte-uitskakeling en sal in terme van leerbehoeftes verwoord kan word.

4.5  Landy, F J & Trumbo, D A: "Job Analysis" (1980: hoofstuk 4)

Landy en Trumbo onderskei tussen werkontleding, werk-evaluering en prestasiebeoordeling. Eersgenoemde twee maak stellings en afleidings oor 'n werk afgesien van die persoon wat die werk moet verrig. Werkontledings beskryf belangrike aspekte van die werk wat help met die onderskeiding van die een werk van die ander. Werk-evaluering heg geldwaarde aan 'n werk. Prestasiebeoordeling onderskei tussen werkers op grond van hulle relatiewe prestasie afgesien van die besondere werk wat hulle verrig.

Werkontleding soek na die elemente van werkverrigting en is 'n eerste stap tot kriterium-ontwikkeling. Dié elemente word kriteriaal aangewend om werkprestasie te beoordeel. Hierdie kriteria kan aangewend word

  • vir seleksie van personeel

  • as doelwitte vir opleidingsprogramme

  • kontrole van werkers.

Die navorser moet weet dat die doelwitte vir opleidingsprogramme verfyn kan word as dit raakgesien word as leerbehoeftes wat reggestel kan word deur nie-formele onderwys.

4.6  McCormick, E J: "Job and Task Analysis" (1983: hoofstuk 15)

Werk-verwante inligting dien as basis vir beroepsoriëntering in opleidingsprogramme. 'n Bruikbare onderskeiding wat McCormick maak, is dié tussen taakbeskrywing en taakontleding. Taakbeskrywing bestaan uit stellinge aangaande vereistes wat nagekom moet word, terwyl taakontleding verwoord word in terme van gedraginge ten aansien van taakvereistes, met die klem op menslike prestasievereistes, vaardighede en kennis wat ontwikkel moet word. Taakbeskrywings spesifiseer verder die terminale (einde-van-kursus) prestasie van persone en dus die inhoud van opleidingsprogramme. Taakontleding daarenteen hou verband met gedraginge wat verband hou met leer, dus leervoorwaardes en aan leervoorwaardes moet voldoen word in opleidingsprogramme.

Een besondere leervoorwaarde (afgesien van leerwyses) is dat bepaal moet word aan welke leer daar 'n behoefte bestaan. Leerbehoefte-bepaling dien dan as grond vir

  • navorsing met die oog op kurrikulumontwikkeling

  • organisering van opleidingsprogramme.

McCormick stel dit onomwonde dat taakontledings ingestel is op die ontledings van gedraginge wat inherent is aan taakverrigting met die doel om opleidingsmetodes te ontwikkel. Belangrik hier is dat leerwyses en leermoontlikhede wat pas by 'n besondere taakverrigting geïdentifiseer moet word. In hierdie verband heg McCormick besondere waarde aan die volgende sewe-en-dertig menslike kenmerke wat ter sprake kom by taakverrigting:

"These thirty-seven abilities are: (1) Verbal comprehension; (2) Verbal expression; (3) Ideational fluency; (4) Originality; (5) Memorization; (6) Problem sensitivity; (7) Mathematical reasoning; (8) Number facility; (9) Deductive reasoning; (10) Inductive reasoning; (11) Information ordering; (12) Category flexibility; (13) Spatial orientation; (14) Visualization; (15) Speed of closure; (16) Flexibility of closure; (17) Selective attention; (18) Time sharing; (19) Perceptual speed; (20) Static strength; (21) Explosive strength; (22) Dynamic strength; (23) Stamina; (24) Extent flexibility; (25) Dynamic flexibility; (26) Gross body equilibrium; (27) Choice reaction time; (28) Reaction time; (29) Speed of limb movement; (30) Wrist-finger speed; (31) Gross body coordination; (32) Multi-limb coordination; (33) Finger dexterity; (34) Manual dexterity; (35) Arm-hand steadiness; (36) Rate control; (37) Control precision.

Die navorser wat gemoeid is met kurrikulumnavorsing met die oog op kurrikulumontwikkeling en die ontwerp van opleidingsprogramme, sal hierdie beskrywinge aanwend as kriteria vir kurrikulumevaluering veral vir die identifisering van tekortkominge in formele onderwys-kurrikula en van leerbehoeftes.

4.7  Nasionale opleidingsraad: Kompendium van opleiding (Naudé, 1984: hoofstuk 3)

Die Departement Mannekrag (RSA) het in Oktober 1984 'n verslag saamgestel en versprei met die titel "Kompendium van opleiding". Een aangeleentheid wat tereg besondere aandag geniet het, is werkontledings. Wat vir hierdie paragraaf van belang is, is die beskrywing van posvereistes op bladsye 22 tot 24. Op grond hiervan word oorgegaan tot die bepaling van opleidingsbehoeftes waarby die saak van persoonsontleding (bladsye 30-31) van besondere belang is vir die navorser wat die bespreekte beroepsvereistes en persoonlikheidseienskappe wil aanwend as kriteria vir die bepaling van

  • relevansie van kurrikula in formele onderwys

  • leerbehoeftes waarin nie-formele onderwys kan voorsien

  • kurrikulumontwikkeling wat gedoen moet word

  • opleidingsprogramme wat ontwerp moet word.

5.  NAVORSINGSMETODOLOGIESE BETEKENIS VAN WERKONTLEDINGS

Die voorgaande betoog se doel was om te probeer oortuig dat werkontledings navorsingmetodologies aangewend kan word. 'n Werkontleding kan gesien word as 'n besondere navorsingsmetode om onder andere die essensies van die volgende sake aan die lig te bring:

  1. Opleidingsdoelwitte

  2. Leemtes in formele onderwys-kurrikula

  3. Nie-formele onderwys-opleidingsprogramme

  4. Leerbehoefte-identifisering

  5. Kurrikulumontwikkeling.

6.  SLOTOPMERKINGS

Dieselfde sake wat eers van belang vir mannekragopleiding aangedui is, sal ook segswaarde hê vir navorsing ten aansien van heropleiding of omskakeling van opgeleides vir formele onderwys.

Uit die voorgaande bespreking van die navorsingsmetodologiese status van werkontledings is begrippe soos operasionalisering, formulering, beplanning, ontleding en evaluering gebruik. Om hierdie en aanverwante handelinge uit te voer, is dikwels intensiewe besprekings deur belangegroepe noodsaaklik.

SUMMARY

Non-formal education is in a particular way related to both the work situations in which such education takes place, and the work situations in which the learners will eventually be accommodated. This statement clearly demonstrates the necessity of the analysis of work situations. Used as a research method, the analysis of work situations could also present very useful possibilities for scientifically accountable curriculating for non-formal education, that is, doing research directed at non-formal education.

Analysis of a work situation has as main component a job analysis, which is a systematic study of the specific tasks and actions required by a particular occupation.

The following matters regarding the gaps between the level of training that a learner has reached in the formal education system and that required by the particular occupation could be investigated:

  • the training programmes which have to be presented by non-formal education to bridge this gap

  • the curriculum research needed to curriculate formal education in such a way that the gap will be as small as possible. This implies that career directedness and the learning of occupational skills should be incorporated in the formal teaching curricula. In this way formal education would support the aim of manpower training.

The curriculum expert will have to take as point of departure for curriculum research the identified gap between the results of school learning (formal educational training) and the expected occupational efficiency.

The researcher involved in curriculum research who has curriculum development and the designing of training programmes in mind could apply these descriptions as criteria for curriculum evaluation, with the particular purpose of identifying shortcomings in the formal educational curricula and learning needs.

VERWYSINGS

  1. BANKS, M H; JACKSON, P R; STAFFORD, E M; WARR, P B (1983):
    The job components inventory and the analysis of jobs requiring limited skill.
    Personnel Psychology, Vol 36, pp 57-66.

  2. GOUWS, L A; LOUW, D A; MEYER, W F; PLUG, C (1979):
    Psigologie-woordeboek. Johannesburg, McGraw-Hill.

  3. LANDY, F J & TRUMBO, D A (1980):
    Psychology of work behaviour. Illinois, Dorsey.

  4. McCORMICK, E J & ILGEN, D R (1980):
    Industrial psychology. New Jersey, Prentice-Hall.

  5. McCORMICK E J (1983):
    Job and task analysis. In: Dunnette, M D: Handbook of industrial and organizational psychology. John Wiley.

  6. MUCHINSKY, P M (1983):
    Psychology applied to work. Dorsey.

  7. NAUDE, S C M (Voorsitter)(1984):
    Kompendium van opleiding. Departement van Mannekrag, Nasionale Opleidingsraad.

  8. ORPEN, C (1979):
    The principles of personnel psychology. Kaapstad, Juta.

  9. SIEGEL, L & LANE, I M (1982):
    Personnel and organizational psychology. Illinois, Irwing.

  10. THOMPSON, D E (1982):
    Court standards for job analysis in test validation. Personnel Psychology, Vol 35, pp 865-874.

  11. VAN DER STOEP, F (1984):
    Non-formal Education. Pretoria, Codex Publishers.

  12. WIJNBEEK, M J (Voorsitter)(1984):
    Konsepverslag : Akkreditering in die RSA.

Kyk ook:

    BLOOMER, G (1985):
    Linking Schools and Industry: A Survey of current practice. Vol 27(2), pp 79-94.