Professor W A Landman


Terug na lys van publikasies

KURRIKULUM : PEDAGOGIESE EVALUERING
DEEL 2

5. DOELWITEVALUERING EN DIE PEDAGOGIESE VERLOOPSTRUKTURE

In sy doelwitverwerkliking beweeg die onderwyser normaalweg vanaf pedagogiese omgang tot periodieke verlating en weer terug. Hierdie beweging is 'n moontlikheidsvoorwaarde vir doelwitverwerkliking.

Wanneer die gestelde doelwitte verwerklik word, het dit 'n besondere effek: dit bevorder die opvoedingsverloop. In hierdie verband is die volgende sinne wat die sleutelbegrippe bevat wat in die vorige paragraaf vermeld is, betekenisvol:

  • Beide die onderwyser en die kind weet dat hulle op dieselfde tye en in dieselfde plek met mekaar kan kommunikeer met die oog op kennisverwerwing, kennisaanvaarding, ensovoorts (omgang).

  • Vanweë 'n van aangesig-tot-aangesig verhouding word dit moontlik vir die onderwyser en leerlinge om sinvolle woorde met mekaar te spreek ten aansien van kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts (ontmoeting).

  • Beide onderwyser en die leerlinge aanvaar aanspreeklikheid vir dit wat gebeur en behoort te gebeur ten aansien van kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts (engagement).

  • Die kind word gehelp om weg te beweeg van die onbehoorlike (ten aansien van kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts) in die rigting van die behoorlike (ten aansien van kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts) wat in die plek daarvan moet kom (ingryping).

  • Die onderwyser betuig waardering teenoor die kind wanneer hy die behoorlike ten aansien van kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts gekies het en daarvolgens handel (instemming).

6.  LEWENSOPVATLIKE PERSPEKTIEF

Wanneer daar gevra word of die doelwit-sleutelbegrippe wat in paragraaf 9 getabuleer is, sinvol ingevoeg sal kan word in 'n beskrywing van lewensopvatlikheid en dus kan bydra tot die bevordering van 'n lewensopvatlike perspektief op die gekurrikuleerde opvoedende onderwys, kan die volgende beskrywing betekenisvol wees:

    Dat die lewensopvatting 'n onwegdinkbare en onweghandelbare wesenskenmerke van opvoedende lewe is is duidelik. Dat die skool onbetwyfelbaar as noodwendige plek vir die verwerkliking van lewensopvatlik verlewendigde opvoedende onderwys met kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts as doelwitte is, is eweneens duidelik.

    Vir dit wat so pas gestel is om praktykbetekenis te kry, het die skool besondere middele nodig. Daar bestaan verskeie van hierdie middele, maar opvoedkundiges sal dit met mekaar eens wees dat die middel wat die prominentste op die voorgrond staan, die LES is wat kristalliseer uit kurrikulêr geselekteerde onderwysinhoude.

    Dit is vanselfsprekend dat 'n LES indien dit as besondere opvoedingsmiddel moet kwalifiseer, aan sekere vereistes sal moet voldoen. Aangesien in die skool in die lig van lewensopvatlik verlewendigde doelwitte soos kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts onderrig en geleer word, is dit logies dat 'n sinvolle wyse om te bepaal aan welke vereistes 'n SKOOLLES behoort te voldoen, sal wees om vanuit 'n bepaalde lewensopvatting na die skoolles te kyk.

    Die doel van die opvoedingsbemoeienis is om die kind deur al sy aktiwiteite soos byvoorbeeld kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts na God te lei. Alle ontsluiting is in laaste instansie op God gefokus. Deur God se genade in Jesus Christus kan die enigste ware en uiteindelike doel met opvoeding bereik word. Die onderwysdoel is dan in sy diepste wese Christussentries.

    Egte Christelikheid verg 'n aktuele instelling teenoor vrae van die tyd en van die gegewe omstandighede. Daar moet krities en verantwoordelik nagedink word oor vraagstukke, ook die vraagstukke wat verband hou met kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts. In hierdie verband word die onderwyser se gesag gehoorsaam indien by die ordinansies van God eerbiedig. Probleemstelling (stel van sinvolle vrae) word voltrek in die lig van God-eerbiediging.

    Die kind moet feite, beginsels, waardes en waarhede aanvaar omdat dit God in Sy skepping aan die mens openbaar, en hy het dit alles nodig om God deur sy arbeid to dien. Hierdie sake moet opgespoor word en gehoorsaam in 'n mens se roeping gebruik word. Die Christen verwelkom nuwe kennis (vergelyk kennisverwerwing, ensovoorts), take en waarhede wat by alles altyd in Bybelse perspektief beskou.

    Die mens moet in alles wat sy hand vind om te doen 'n roeping van God sien. Alles wat gegee is nooi uit tot roepingsvervullende aksie soos onder andere kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts. Aktiwiteite betrek op die individu met die oog op sosiale inskakeling tot eer van God, moet bevorder word. Geroepenheid tot 'n aktiewe omgaan met dit wat deur God geskenk is, lei tot 'n opneem van verantwoordelikheid daarvoor.

    Daar moet vasgestel word of opdragte ten aansien van kennisverwerwing, kennisaanwending, ensovoorts behoorlik uitgevoer is. Dit is so veral indien sinvolle opdragte gesien word as deur God opgelegde take. Elke mens het 'n van God opgelegde taak. Hy moet self handel op sy lewensweg en die volwassenes wat hom begelei na behoorlike Christelike volwassenheid moet voortdurend saam met hom beoordeel of hy sinvol arbei.

    Ook ten aansien van die kurrikulêre doelwitte kennisverwerwing, kennisuitbreiding, kommunikasie, gedying van moontlikhede, wek van belangstelling en vaardigheids-verwerwing, sal die Christen-onderwyser wat outentiek opvoedend onderrig het, weet dat hy 'n sinvolle bydrae gemaak het tot 'n beantwoording van dié sinvraag wat beide by en die leerlinge wat aan hom toevertrou was, uiteindelik sal moet beantwoord: "Wat het jy gemaak met My eer wat Ek aan jou toevertrou het?"

    SUMMARY

    Pedagogic evaluation of a curriculum requires that attention be given to the following key concepts:

    • evaluated aims
    • didactic considerations (guide-lines).

    This can be done in the following way:

    An existing curriculum is taken and the references therein to these key concepts are evaluated. This evaluation can be done as follows:

    Aims:  The corresponding pedagogic aim structure of each aim in the curriculum can be indicated, and after this the meaning of the relationship can be explained.

    Didactic guide-lines:  The corresponding pedagogic activity structure of each didactic guide-line mentioned can be shown, and thereafter the meaning of the relationship can be explained.

    The syllabus which in this article is used as an example of pedagogic evaluation is the syllabus for General Science: Junior Secondary Phase, 1984.